Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 31—Die Boodskap ter Harte Geneem*
Vanaf Éfese het Paulus op ‘n verdere sendingreis vertrek met die hoop om weer die tonele van sy voormalige werk in Europa te besoek. Terwyl hy ‘n wyle in Troas vertoef het “...om die evangelie van Christus te verkondig...” het hy sommige gevind wat gereed was om na sy boodskap te luister. Hy het agterna na sy werk op hierdie plek verwys as dat “...’n deur vir my in die Here geopen was.” Maar so suksesvol soos sy pogings in T roas was, kon hy nie lank daar vertoef nie “Die sorg vir al die gemeentes...” en veral die gemeente te Korinthe, het swaar op sy hart gerus. Hy het gehoop om Titus in Troas te ontmoet en van hom te leer hoe die woorde van raad en teregwysing wat aan die broeders in Korinthe gestuur is, ontvang is, maar hierin is hy teleurgestel. Oor hierdie ervaring het hy geskryf dat “...ek geen rus vir my gees gehad [het] nie, omdat ek my broeder Titus nie aangetref het nie.” Hy het dus uit Troas vertrek en na Macedonië oorgevaar waar hy Timotheus in Filippi ontmoet het. DHDA 276.1
Gedurende hierdie tyd van angstigheid oor die gemeente in Korinthe, het Paulus vir die beste gehoop; tog het daar soms gevoelens van diepe hartseer oor sy siel gespoel uit vrees dat sy raad en vermanings moontlik verkeerd opgeneem is. Later het hy geskryf: “In Macedonië ... het ons vlees geen rus gehad nie, maar ons is op allerhande maniere verdruk; van buite was daar aanvegtinge, van binne verskrikkinge. Maar Hy wat die nederiges troos, naamlik God, het ons getroos deur die koms van Titus.” DHDA 276.2
Hierdie getroue boodskapper het die goeie nuus gebring dat ‘n wonderbaarlike verandering onder die gelowiges in Korinthe plaasgevind het. Baie het die opdragte in Paulus se brief aanvaar en berou oor hul sondes gehad. Hulle lewens was nie meer ‘n smaad vir die Christendom nie, maar het ‘n kragtige invloed ten gunste van praktiese godsvrug uitgeoefen. DHDA 276.3
Vol vreugde het die apostel nog ‘n brief aan die gelowiges in Korinthe gestuur waarin hy die blydskap van sy hart uitgespreek het oor die goeie werk wat in hulle gedoen is. “Al het ek julle ook deur die brief bedroef gemaak, is ek nie jammer nie, al was ek ook jammer. ” Terwyl hy deur vrees geteister was dat sy woorde geminag sou word, was hy soms spyt dat hy so beslis en ernstig geskryf het. Maar hy het vervolg: “Nou is ek bly, nie omdat julle bedroef was nie, maar omdat julle bedroef was tot bekering, want julle was bedroef volgens die wil van God, sodat julle deur ons in niks skade gely het nie. Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding.” Die berou wat deur die invloed van Goddelike genade op die hart voortgebring word, sal lei tot belydenis en versaking van sonde. Dit was die vrugte wat die apostel verklaar het, wat in die lewens van die gelowiges in Korinthe gesien is. “Wat ‘n groot ywer het dit in julle gewerk, ja, verantwoording, verontwaardiging, vrees, verlange, ywer, bestraffing.” DHDA 277.1
Paulus het ‘n geruime tyd ‘n sielelas vir die gemeentes gehad-'n las wat so swaar was, dat hy dit skaars kon verduur. Valse leraars het gepoog om sy invloed onder die gelowiges te ondermyn en om hulle eie leerstellings in plaas van die waarheid van die evangelie af te dwing. Die verwarring en ontmoediging waarmee Paulus omring was, blyk uit die woorde: “...dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het.” DHDA 277.2
Maar nou was een oorsaak vir besorgdheid verwyder. Met die tyding van die aanvaarding van sy brief aan die Korinthiërs, het Paulus met vreugdevolle woorde gesê: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word. Want soos die lyde van Christus oorvloedig is in ons, so is ons troos ook oorvloedig deur Christus. Maar of ons verdruk word, dit is julle tot troos en redding; en dit laat sy werking blyk deurdat julle dieselfde lyding verduur wat ons ook ondergaan; en of ons getroos word, dit is julle tot troos en redding. En ons hoop vir julle is vas, omdat ons weet dat net soos julle deelgenote is aan die lyding , so ook aan die troos.” DHDA 277.3
Toe Paulus sy vreugde oor hul herlewing en groei in genade uitgespreek het, het hy die lof aan God vir hierdie transformasie van hart en lewe toegeskryf. “Maar God sy dank...” het hy uitgeroep, “...wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons versprei. Want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan.” Dit was die gebruik in daardie dae vir ‘n generaal wat oorwinnend uit ‘n oorlog teruggekeer het, om ‘n gevolg van krygsgevangenes saam met hom te bring. By sulke geleenthede is wierookdraers aangestel en wanneer die leër seëvierend tuisgekom het, was die geurige reuke vir die gevangenes wat bestem was om te sterf, ‘n reuk van die dood wat aangedui het dat die tyd vir hulle teregstelling naby was; maar vir die gevangenes wat guns van hul oorwinnaars ontvang het en wie se lewens gespaar sou word, was dit ‘n geur van die lewe, omdat dit vir hulle ‘n teken was dat hulle vryheid naby was. DHDA 278.1
Paulus was nou vol geloof en hoop. Hy het gevoel dat die Satan nie oor die werk van God in Korinthe sou seëvier nie en met woorde van lof het hy die dankbaarheid van sy hart betuig. Hy en sy medewerkers sou hulle oorwinning oor die vyande van Christus en die waarheid vier deur met nuwe ywer voort te gaan om die kennis van die Heiland uit te brei. Soos die wierook, moes die geur van die evangelie deur die hele wêreld versprei word. Vir diegene wat Christus sou aanneem, sou die boodskap ‘n geur van lewe tot die lewe wees; maar vir diegene wat in hulle ongeloof volhard het, sou dit ‘n reuk van die dood tot die dood wees. DHDA 278.2
Met ‘n besef van die oorweldigende omvang van die werk, het Paulus uitgeroep: “Wie is tot hierdie dinge bekwaam?” Wie is in staat om Christus op so ‘n wyse te verkondig dat Sy vyande geen regverdige rede sal hê om die boodskapper of die boodskap wat hy verkondig, te verag nie? Paulus het begeer om die gelowiges te beïndruk met die ernstige verantwoordelikheid van die bediening van die evangelie. Slegs getrouheid in die prediking van die woord, gepaard met ‘n rein, konsekwente lewe, kan die pogings van predikante vir God aanvaarbaar en vir siele heilsaam maak. Predikante van ons tyd, belas met die besef van die omvang van die werk, kan heel moontlik saam met die apostel uitroep: “Wie is tot hierdie dinge bekwaam?” DHDA 279.1
Daar was diegene wat Paulus weens die skrywe van sy eerste brief van selfverheffing beskuldig het. Die apostel het nou hierna verwys deur lede van die kerk te vra of hulle sy beweegredes as sulks beoordeel het. Hy het verneem: “Begin ons weer om onsself aan te beveel? Of het ons miskien, soos sommige, aanbevelingsbriewe nodig aan julle of van julle?” Gelowiges wat na ‘n nuwe plek verhuis het, het dikwels aanbevelingsbriewe van die kerk waarmee hulle vroeër verenig was, met hulle saamgeneem; maar die voorste werkers, die stigters van hierdie gemeentes, het geen aanbeveling van hierdie aard benodig nie. Die gelowiges in Korinthe, wat uit die aanbidding van afgode tot die geloof van die evangelie gelei is self, was die enigste aanbeveling wat Paulus nodig gehad het. Hulle aanvaarding van die waarheid en die hervorming wat in hulle lewens plaasgevind het, het sprekende getuienis van die getrouheid van sy arbeid en sy gesag om raad te gee, te bestraf en as leraar van Christus te vermaan, gelewer. DHDA 279.2
Paulus het die broeders in Korinthe as sy getuigskrif beskou. “Julle...” het hy gesê, “...is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense; omdat julle duidelik ‘n brief van Christus is deur ons diens berei, geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die vleestafels van die hart.” DHDA 280.1
Die bekering van sondaars en hulle heiligmaking deur die waarheid, is die sterkste bewys wat ‘n predikant kan hê dat God hom tot die bediening geroep het. Die getuienis van sy apostelskap is op die harte van die bekeerlinge geskryf en word deur hul hernieude lewes getuig. Christus word innerlik gevorm, die hoop van heerlikheid. ‘n Predikant word grootliks deur hierdie seëls op sy bediening versterk. DHDA 280.2
Die predikante van Christus behoort vandag dieselfde getuienis, as wat deur die gemeente in Korinthe as gevolg van Paulus se arbeid voortgebring is, te lewer. Maar hoewel daar in hierdie tyd baie predikers is, is daar ‘n groot gebrek aan bekwame, heilige predikante-manne wat vervul is met die liefde wat in die hart van Christus gewoon het. Hoogmoed, selfvertroue, liefde vir die wêreld, foutvinderigheid, bitterheid, afguns, is die vrugte van baie mense wat die geloof van Christus bely. Hul lewe, in skerp kontras met die lewe van die Verlosser, lewer dikwels hartseer getuienis van die aard van die werk van die bediening waaronder hulle tot bekering gekom het. DHDA 280.3
’n Mens kan geen groter eer ontvang as om deur God aanvaar te word as ‘n bekwame bedienaar van die evangelie nie. Maar diegene wat die Here met krag en sukses in Sy werk seën, roem nie. Hulle erken hulle algehele afhanklikheid van Hom en besef dat hulle uit hul eie oor geen krag beskik nie. Soos Paulus sê hulle: “Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God, wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe testament... ” DHDA 280.4
’n Ware prediker doen die werk van die Meester. Hy is bewus van die belangrikheid van sy werk en besef dat hy dieselfde verhouding met die kerk en die wêreld moet onderhou soos wat Christus onderhou het. Hy werk onvermoeid om sondaars na ‘n edeler, hoër lewe te lei, sodat hulle die beloning van ‘n oorwinnaar kan ontvang. Sy lippe is deur ‘n lewende kool van die altaar aangeraak en Hy verhef Jesus as die enigste hoop vir die sondaar. Diegene wat hom hoor, weet dat hy met vurige, effektiewe gebed nader aan God gekom het. Die Heilige Gees het op hom gerus, sy siel het die lewensbelangrike, hemelse vuur gevoel en hy is in staat om geestelike dinge met geestelike dinge te vergelyk. Mag om die vestings van die Satan af te breek word aan hom gegee. Harte word deur sy aanbieding van die liefde van God gebreek en baie word gelei om te verneem: “Wat moet ek doen om gered te word?” DHDA 281.1
“Daarom, aangesien ons hierdie bediening het volgens die barmhartigheid wat ons ontvang het, gee ons nie moed op nie. Maar ons het van die heimlike dinge wat skandelik is, afstand gedoen en ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons ons by elke menslike gewete voor God aan. Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie. Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here, en onsself as julle diensknegte om Jesus wil. Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn-dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.” DHDA 281.2
So het die apostel die genade en barmhartigheid van God vergroot, soos getoon in die heilige vertroue wat aan hom as dienaar van Christus gewy is. Deur die oorvloedige barmhartigheid van God is hy en sy broers in moeilikhede, verdrukking en gevare onderhou. Hulle het nie hul geloof en lering geskoei om by die begeertes van hul toehoorders aan te pas nie en ook geen waarheid wat noodsaaklik vir verlossing is verswyg om hulle leer meer aantreklik te maak nie. Hulle het die waarheid met eenvoud en helderheid aangebied en gebid vir die oortuiging en bekering van siele. En hulle het gepoog om hulle gedrag in ooreenstemming met hulle lering te bring, sodat die waarheid wat aangebied word, tot die gewete van elke mens aanbeveel sou word. DHDA 282.1
Die apostel het voortgegaan: “Ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.” God kon Sy waarheid deur sondelose engele verkondig het, maar dit was nie Sy plan nie. Hy kies mense wat swak is, as werktuie in die uitwerking van Sy planne. Die kosbare skat word in erdekruike geplaas. Sy seëninge moet deur mense aan die wêreld gebring word. Deur hulle moet Sy heerlikheid in die duisternis van sonde skyn. In liefdevolle bediening moet hulle sondaars en behoeftiges ontmoet en na die kruis lei. En in al hulle werksaamhede moet hulle die heerlikheid, die eer en die lof aan Hom, wat bo alles en almal is, toeskryf. DHDA 282.2
Met verwysing na sy eie ervaring, het Paulus getoon dat hy nie deur selfsugtige motiewe die diens van Christus gekies het nie, want sy weg is deur beproewing en versoeking geteister. Hy het geskryf: “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie. Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word.” DHDA 282.3
Paulus het sy broers daaraan herinner dat hy en sy medewerkers in Christus, voortdurend as boodskappers van Christus in gevaar verkeer het. Die ontberinge wat hulle moes verduur, het hulle krag uitgeput. “Want altyd word ons wat lewe...” het hy geskryf, “...oorgelewer in die dood om Jesus wil, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike vlees openbaar kan word. So werk die dood dan in ons, maar die lewe in julle.” Omdat hierdie bedienaars van Christus liggaamlik gely het, het hulle aan Sy dood gelykvormig geword. Maar dit wat die dood in hulle bewerkstellig het, het geestelike lewe en gesondheid vir die Korinthiërs gebring, wat deur geloof in die waarheid die ewige lewe deelagtig geword het. In die lig hiervan moes die volgelinge van Jesus versigtig wees om nie die laste en beproewinge van die arbeiders te verhoog deur nalatigheid en vervreemding nie. “En omdat ons dieselfde Gees van die geloof het...” het Paulus voortgegaan, “...soos geskrywe is: Ek het geglo, daarom het ek gespreek-glo ons ook, daarom spreek ons ook.” Ten volle oortuig van die werklikheid van die waarheid wat aan hom toevertrou is, kon niks Paulus oorreed om die Woord van God op ‘n bedrieglike wyse te hanteer of die oortuigings van sy siel te verberg nie. Hy sou nie rykdom, eer of plesier bekom deur aan die menings van die wêreld te voldoen nie. Alhoewel hy voortdurend, as gevolg van die geloof wat hy aan die Korinthiërs verkondig het, in gevaar van martelaarskap verkeer het, was hy nie geïntimideer nie, want hy het geweet dat Hy wat gesterf en weer opgestaan het, hom uit die graf sou opwek en hom aan die Vader sou voorstel. DHDA 283.1
Hy het gesê: “Dit is alles om julle ontwil, sodat die genade, wat groter geword het deur so baie mense, die danksegging oorvloedig kan maak tot die heerlikheid van God.” Die apostels het die evangelie nie verkondig om hulself te verhef nie. Dit was met die hoop om siele te red dat hulle hul lewens aan hierdie werk gewy het. En dit was hierdie hoop wat hulle daarvan weerhou het om hul pogings nie weens dreigende gevare of werklike lyding te staak nie. DHDA 283.2
“Daarom...” het Paulus verklaar, “...gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe.” Paulus was bewus van die mag van die vyand; maar alhoewel sy fisiese krag afgeneem het, het hy tog die evangelie van Christus getrou en onwrikbaar verkondig. Geklee in die volle wapenrusting van God, het hierdie held van die kruis die stryd voortgesit. Sy opgewekte stem het verklaar dat hy ‘n oorwinnaar in die stryd was. Met sy blik op die beloning van die gelowiges gerig, het hy seëvierend uitgeroep: “Ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.” DHDA 284.1
Baie ernstig en hartroerend was die beroep van die apostel dat sy Korintiese broeders opnuut die ongeëwenaarde liefde van hul Verlosser moet aanskou. Hy het geskryf: “Julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur Sy armoede ryk kan word. ” Julle ken die hoogte waarvandaan Hy neergebuig en die diepte van vernedering waartoe Hy neergedaal het. Nadat Hy eenmaal die weg van selfverloëning en opoffering betree het, het Hy nie afgewyk totdat Hy Sy lewe gegee het nie. Daar was vir Hom geen rus tussen die troon en die kruis nie. DHDA 284.2
Paulus het punt vir punt breedvoerig bespreek, sodat diegene wat sy sendbrief sou lees die wonderbare vernedering van die Verlosser om hulle ontwil ten volle kon begryp. Die apostel het Christus voorgestel soos Hy was toe Hy aan God gelyk was en saam met Hom die aanbidding van die engele ontvang het en Sy weg gevolg het totdat Hy die laagste dieptes van vernedering bereik het. Paulus was daarvan oortuig dat indien hulle daartoe gelei kon word om die verstommende offer wat die Majesteit van die hemel gebring het te begryp, alle selfsug uit hulle lewens verban sou wees. Hy het daarop gewys hoe die Seun van God Sy heerlikheid neergelê het, Homself vrywilliglik aan die toestande van die menslike natuur onderwerp het en Homself as dienskneg verneder het en gehoorsaam geword het tot die dood, “...ja, die dood van die kruis..” (Filippense 2:8), sodat Hy die gevalle mensdom van ondergang tot die hoop en vreugde van die hemel kon ophef. DHDA 284.3
Wanneer ons die Goddelike karakter in die lig van die kruis bestudeer, sien ons barmhartigheid, teerheid en vergifnis, vermeng met regverdigheid. Ons sien in die middel van die troon, Een wat in Sy hande en voete en in Sy sy die merke van die lyding wat Hy verduur het om die mensdom met God te versoen. Ons sien ‘n Ewige Vader wat in ontoeganklike lig woon, maar wat ons nogtans, deur die verdienste van Sy Seun, vir Homself aanneem. Die wolk van wraak wat ons slegs met ellende en wanhoop bedreig het, openbaar in die lig wat vanaf die kruis weerspieël word, die handskrif van God: Leef, sondaar, leef! Julle gelowige, boetvaardige siele, leef! Ek het die losprys betaal. DHDA 285.1
In die bepeinsing van Christus, vertoef ons op die oewer van ‘n onmeetlike liefde. Ons probeer om van hierdie liefde te vertel, maar dit ontbreek ons aan woorde. Ons oorweeg Sy lewe op aarde, Sy opoffering vir ons, Sy werk in die hemel as ons Voorspraak en aan die wonings wat Hy gaan berei het vir diegene wat Hom liefhet en ons kan net uitroep: O, die hoogte en die diepte van die liefde van Christus! “Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes ... Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word!” (1 Johannes 4:10;3:1). DHDA 285.2
In elke ware dissipel brand hierdie liefde soos ‘n heilige vuur op die altaar van die hart. Dit was op die aarde dat die liefde van God vir die mens deur Christus geopenbaar is. Dit is op aarde dat Sy kinders hierdie liefde deur hul onbesproke lewens moet weerspieël. Sodoende sal sondaars na die kruis gelei word om die Lam van God te aanskou. DHDA 286.1