Die Handelinge Van Die Apostels

31/59

Hoofstuk 30—Geroep om ‘n Hoër Maatstaf te Bereik*

In die hoop om die gemoedere van die gelowiges met die belangrikheid van ferm selfbeheersing, streng matigheid en onverpoosde ywer in diens van Christus te beïndruk, het Paulus in sy brief aan hulle ‘n treffende vergelyking tussen die Christelike oorlogvoering en die gevierde wedlope wat met vasgestelde tussenposes naby Korinthe gehou is getref. Van al die spele wat onder die Grieke en Romeine ingestel was, was die wedlope die oudste en mees gewaardeerde. Dit is deur konings, adellikes en staatsmanne bygewoon. Jong manne van rang en rykdom het daaraan deelgeneem en is deur geen moeite of dissipline gestuit in hulle poging om die prys te verwerf nie. DHDA 264.1

Die wedstryde is aan streng voorskrifte, sonder enige appel onderwerp. Diegene wat begeer het om hulle name as mededingers vir die prys in te skryf, moes eers streng voorbereidende opleiding ondergaan. Nadelige toegewing aan eetlus of enige ander bevrediging wat geestelike of fisiese krag sou belemmer, was streng verbode. Vir enige hoop op sukses in hierdie krag- en spoedmeting, moes die spiere sterk en soepel wees en die senuwees goed onder beheer. Elke beweging moes seker, elke stap vinnig en doelgerig wees; die fisiese krag moes die hoogste vlak bereik. DHDA 264.2

Soos die deelnemers aan die wedloop voor die wagtende menigte verskyn het, is hulle name aangekondig en die reëls van die wedloop duidelik uiteengesit. Dan het almal gelyk weggespring en die onafgebroke aandag van die toeskouers het hulle geïnspireer met ‘n vasberadenheid om te wen. Die beoordelaars het naby die eindpunt gesit, sodat hulle die wedloop van begin tot einde kon dophou en die prys aan die ware oorwinnaar kon oorhandig. Indien ‘n man eerste by die wenpaal aangekom het deur homself op ‘n ongeoorloofde wyse te bevoordeel, is die prys nie aan hom toegeken nie. DHDA 264.3

In hierdie wedstryde is groot risiko’s geneem. Sommige het nooit van die felle liggaamlike inspanning herstel nie. Dit het dikwels gebeur dat mans met ‘n bloeiende mond en neus op die baan neergeslaan het en soms sou ‘n mededinger selfs dood neergesak net voor hy die prys kon behaal. Maar die moontlikheid van ‘n lewenslange besering of dood was nie as ‘n te groot waagstuk beskou ter wille van die eer wat aan die suksesvolle deelnemer toegeken is nie. DHDA 265.1

Wanneer die wenner die wenpaal bereik het, is die lug met die applous van die groot menigte toeskouers deurdrenk en het die weerklank daarvan uit die omliggende heuwels en berge opgeklink. In volle aanskoue van al die toeskouers, het die beoordelaar die embleme van oorwinning aan hom oorhandig-’n lourierkrans en ‘n palmtak wat hy in sy regterhand moes dra. Sy lof is deur die hele land besing; sy ouers het in die eer gedeel en selfs die stad waar hy gewoon het, is in hoë aansien gehou omdat dit so ‘n voortreflike atleet opgelewer het. DHDA 265.2

Deur na hierdie wedlope as ‘n beeld van die Christelike oorlogvoering te verwys, het Paulus die klem op die voorbereiding wat nodig was vir die sukses van die deelnemers aan die wedloop, gelê-die voorafgaande dissipline, die streng dieet en die noodsaaklikheid van matigheid. Hy het verklaar: “Elkeen wat aan ‘n wedstryd deelneem, onthou hom in alles.” Die deelnemers aan die wedloop het hulself van elke genieting wat sou neig om die fisiese krag te verswak weerhou en deur streng en deurlopende dissipline, hulle spiere opgelei vir krag en uithouvermoë, sodat wanneer die dag van die wedloop sou aanbreek, hulle hul kragte tot die uiterste toe kon inspan. Hoeveel belangriker is dit dus dat die Christen, wie se ewige belange op die spel is, sy begeertes en passie aan die rede en die wil van God onderwerp! Hy moet nooit toelaat dat sy aandag deur vermaak, luukshede, of gemaksug afgelei word nie. Al sy gewoontes en passies moet onder die strengste dissipline gebring word. Die rede, deur die leerstelling van God se Woord en deur Sy Gees verlig, moet beheer oor die leisels behou. DHDA 265.3

En nadat dit gedoen is, moet die Christen hom tot die uiterste inspan om die oorwinning te behaal. In die Korintiese spele het die deelnemers die laaste paar treë met pynlike inspanning afgelê om hulle spoed vol te hou. So sal die Christen ook, wanneer hy die eindpaal nader, met meer ywer en vasberadenheid voortspoed as aan die begin van sy wedloop. DHDA 266.1

Paulus stel die kontras tussen die verganklike verwelklike lourierkrans wat die oorwinnaar in die wedloop ontvang het en die kroon van onverganklike heerlikheid wat aan die oorwinnaar in die Christelike wedloop gegee sal word. Hy verklaar dat hulle dit doen “...om ‘n verwelklike krans te ontvang, maar ons ‘n onverwelklike.” Om ‘n verganklike prys te wen, het die Griekse naellopers hulle geen moeite of dissipline gespaar nie. Ons streef na ‘n prys wat oneindig meer waardevol is, naamlik die kroon van die ewige lewe. Hoeveel versigtiger behoort ons strewe te wees, hoeveel bereidwilliger behoort ons opoffering en selfverloëning te wees! DHDA 266.2

In die sendbrief aan die Hebreërs, word daar gewys op die opregtheid van hart wat die Christen se wedloop om die ewige lewe behoort te kenmerk: “Laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof.” (Hebreërs 12:1,2). Afguns, kwaadwilligheid, boosaardige agterdog en hebsug-dit is die laste wat die Christen moet aflê indien hy die wedloop om die ewige lewe met welslae wil hardloop. Elke gewoonte of gebruik wat tot sonde lei en oneer aan Christus bring, moet mee weggedoen word, ongeag die opoffering. Die seën van die hemel kan op geen mens rus wat die ewige beginsels van geregtigheid oortree nie. Een gekoesterde sonde is genoeg om ontaarding van die karakter te bewerkstellig en ander te mislei. DHDA 266.3

Die Heiland het gesê: “As jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om vermink die lewe in te gaan, as om twee hande te hê en in die hel te gaan in die onuitbluslike vuur, waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie. En as jou voet jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om kreupel die lewe in te gaan, as om twee voete te hê en in die hel gewerp te word in die onuitbluslike vuur.” (Markus 9:43-45.) As die voet of die hand afgekap moet word om die liggaam van die dood te verlos, of selfs die oog uitgepluk moet word, hoeveel te meer behoort die Christen dan nie te streef om die sonde wat die dood van die siel bring, af te lê nie! DHDA 267.1

Die deelnemers aan die antieke spele was nie seker van die oorwinning, selfs nadat hulle hulself aan selfverloëning en streng dissipline onderwerp het nie. Paulus vra: “Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie?” Hoe hard en ernstig die deelnemers ook al streef, die prys kan slegs aan een toegeken word. Net een hand kon die gesogte lourierkrans vasgryp. Sommige kon moontlik die uiterste poging inspan om die prys te wen, maar wanneer hulle die hand uitgesteek het om dit te ontvang, het ‘n ander die gesogte skat ‘n oomblik voor hulle weggeraap. DHDA 267.2

Dit is nie die geval in die Christelike oorlogvoering nie. Niemand wat aan die voorwaardes voldoen, sal aan die einde van die wedloop teleurgesteld wees nie. Niemand wat ernstig is en volhard, sal nie sukses behaal nie. Die wedloop is nie vir die vinniges en die stryd nie vir die sterkes nie. Die swakste heilige sowel as die sterkste kan die kroon van onverganklike heerlikheid dra. Almal wat hulle lewens deur die krag van Goddelike genade in ooreenstemming met die wil van Christus bring, kan wen. Die toepassing in die lewensomstandighede wat in die beginsels wat in God se woord neergelê word, word te dikwels as onbelangrik beskou; te gering om die aandag te verg. Maar met die oog op wat op die spel is, is niks wat sal help of verhinder gering nie. Elke daad werp sy gewig in die skaal wat die oorwinning of nederlaag in die lewe beslis. En die beloning wat aan diegene wat oorwin gegee word, sal in verhouding met die inspanning en erns waarmee hulle gestry het wees. DHDA 267.3

Die apostel het homself met ‘n man wat in ‘n wedloop hardloop en elke senuwee inspan om die prys te win vergelyk. “Ek hardloop dan...” sê hy, “...soos een wat nie onseker is nie; ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie. Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.” Paulus het homself aan ernstige opleiding onderwerp om nie onseker of lukraak in die Christelike wedloop te hardloop nie. Die woorde: “Ek kasty my liggaam...” beteken letterlik om die begeertes, drifte en drange streng in toom te hou. DHDA 268.1

Paulus het gevrees dat hy, nadat hy vir ander gepreek het, moontlik self verwerplik sou word. Hy het besef dat indien hy nie in sy lewe die beginsels uitvoer wat hy geglo en verkondig het nie, sy arbeid ten behoewe van ander hom niks sal baat nie. Sy gesprekke, sy invloed, sy weiering om aan selfbevrediging toe te gee, moes toon dat sy godsdiens nie bloot ‘n belydenis was nie, maar ‘n daaglikse, lewende verbintenis met God. Een doelwit het hy altyd voor oë gehou en ernstig nagestreef, naamlik om “...die geregtigheid wat uit God is deur die geloof...” (Filippense 3:9) te bereik. DHDA 268.2

Paulus het geweet dat sy stryd teen die bose nie in sy leeftyd sou eindig nie. Hy was altyd bewus van die noodsaaklikheid om homself streng te bewaak sodat aardse begeertes nie sy geestelike ywer sou oorkom nie. Met al sy krag het hy voortgegaan om teen sy natuurlike neigings te stry. Hy het gedurig die ideaal wat bereik moes word voor oë gehou en deur gewillige gehoorsaamheid aan die wet van God gestreef om hierdie ideaal te bereik. Sy woorde, sy gebruike, sy passies, alles was onder die beheer van die Gees van God gebring. DHDA 268.3

Dit was hierdie heelhartige doel, om die wedloop vir die ewige lewe te wen, wat Paulus graag in die lewens van die gelowiges in Korinthe geopenbaar wou sien. Hy het geweet dat hulle, om Christus se ideaal vir hulle te bereik, ‘n lewenstryd voor hulle gehad het waarvan daar geen verlossing was nie. Hy het by hulle gepleit om geregtigheid na te strewe, dag vir dag op soek na vroomheid en sedelike uitnemendheid. Hy het by hulle gepleit dat hulle elke las moes aflê en die doel van volmaaktheid in Christus moes najaag. DHDA 269.1

Paulus het die Korinthiërs op die ervaringe van die eertydse Israel gewys, op die seëninge waarmee hulle gehoorsaamheid beloon is en die oordele wat op hulle oortredings gevolg het. Hy het hulle herinner aan die wonderlike wyse waarop die Hebreërs bedags onder die beskerming van die wolkkolom en snags onder die beskerming van die vuurkolom uit Egipte gelei is. So is hulle veilig deur die Rooi See gelei terwyl die Egiptenare wat probeer het om dit op dieselfde wyse oor te steek almal verdrink het. Deur hierdie dade het God Israel as Sy kerk erken. Hulle het “...almal dieselfde geestelike spys geëet ... en almal dieselfde geestelike drank gedrink ... want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus.” Die Hebreërs het tydens al hul reise Christus as Leier gehad. Die rots wat geslaan was, het Christus getipeer, wat vir die oortredinge van die mense verwond sou word, sodat die stroom van verlossing na almal kon vloei. DHDA 269.2

Ondanks die guns wat God aan die Hebreërs betoon het, het die oordele van God, as gevolg van hulle verlange na die weelde wat hulle in Egipte agtergelaat het en as gevolg van hulle sonde en opstand, oor hulle gekom. Die apostel het die gelowiges in Korinthe vermaan om gehoor aan die lesse in die ervarings van Israel te gee. Hy het verklaar: “Hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie.” Hy het getoon hoe liefde vir gemak en plesier die weg vir sondes, wat die besliste wraak van God ontketen het, voorberei het. Dit was toe die kinders van Israel gaan sit het om te eet en te drink en opgestaan het om te speel, dat hulle van die vrees van God wat hulle ervaar het terwyl hulle na die afkondiging van die wet geluister het, vergeet het; en toe hulle ‘n goue kalf gemaak het om God voor te stel en dit aanbid het. En dit was nadat hulle ‘n wellustige fees ten opsigte van die aanbidding van Baal-Peor geniet het, dat baie van die Hebreërs weens losbandigheid omgekom het. Die toorn van God was ontketen en op Sy bevel is “...drie-en-twintigduisend”... op een dag deur die plaag gedood. DHDA 270.1

Die apostel het die Korinthiërs gemaan: “Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” Indien hulle sou grootpraat en selfvoldaan raak en nalaat om te waak en te bid, sou hulle in ernstige sonde verval en die toorn van God vir hulle op die hals haal. Tog wou Paulus nie hê dat hulle aan vertwyfeling of mismoedigheid moes toegee nie. Hy het hulle die versekering gegee: “God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.” DHDA 270.2

Paulus het sy broers aangespoor om hulself af te vra watter invloed hulle woorde en dade op ander sou hê en om niks te doen, hoe onskuldig ook al, wat afgodery mag goedkeur of die gewete van diegene wat dalk swak in die geloof is, sou aanstoot gee nie. “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God. Wees geen oorsaak van struikeling vir Jode of Grieke of vir die gemeente van God nie.” DHDA 270.3

Die apostel se woorde van waarskuwing aan die gemeente in Korinthe is op alle tye van toepassing en is veral vir ons tyd aangepas. Met afgodery bedoel hy nie net die aanbidding van afgode nie, maar ook selfbevrediging, gemaksug, bevrediging van begeertes en hartstogte. ‘n Blote belydenis van geloof in Christus, ‘n spoggerige kennis van die waarheid, maak nie van ‘n mens ‘n Christen nie. ‘n Godsdiens wat slegs probeer om die oog, die oor en die smaak te bevredig, of wat selfbevrediging goedkeur, is nie die godsdiens van Christus nie. DHDA 271.1

Deur die kerk met die menslike liggaam te vergelyk, illustreer die apostel gepas die noue en harmonieuse verhouding wat tussen al die lede van die kerk van Christus behoort te bestaan. Hy het geskryf: “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge. Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie. As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie-behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie-behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al gehoor was, waar sou die reuk wees? Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het. As almal een lid was, waar sou die liggaam wees? Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam. En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie. ... Maar God het die liggaam saamgestel en aan die misdeelde lid oorvloediger eer gegee, sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra. En as een lid ly, ly al die lede saam en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik.” DHDA 271.2

En dan, in woorde wat vanaf daardie dag tot op hede vir mans en vroue ‘n bron van inspirasie en bemoediging was, het Paulus die belangrikheid van die liefde uiteengesit wat deur die volgeling van Christus gekoester moet word: “Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simbaal geword. En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie. En al sou ek al my goed uitdeel en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie.” DHDA 272.1

Dit maak nie saak hoe hoog die belydenis is nie, hy wie se hart nie met liefde vir God en sy medemense gevul is nie, is nie ‘n ware dissipel van Christus nie. Al besit hy groot geloof en al het hy die vermoë om wonderwerke te verrig, is sy geloof sonder liefde steeds waardeloos. Hy lê miskien groot vrygewigheid aan die dag, maar indien hy uit ‘n ander beweegrede as opregte liefde al sy goed skenk om die armes te voed, sou die daad hom nie tot guns by God aanbeveel nie. In sy ywer kan hy selfs ‘n marteldood sterf, maar as dit nie deur liefde aangedryf word nie, sal hy deur God as ‘n misleide entoesias of ‘n ambisieuse huigelaar beskou word. DHDA 272.2

“Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie.” Die suiwerste vreugde spruit uit die diepste vernedering. Die sterkste en edelste karakters is op die grondslag van geduld, liefde en onderdanigheid aan die wil van God gebou. DHDA 272.3

Die liefde “...handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie.” Christelike liefde Christus plaas die gunstigste uitleg op die motiewe en dade van ander. Dit openbaar nie hulle foute onnodiglik nie; dit luister nie graag na ongunstige verslae nie, maar probeer eerder om die goeie eienskappe van ander in die gedagte op te roep. “En nou bly geloof, hoop, liefde-hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.” DHDA 272.4

Omdat die sedelike peil onder die gelowiges in Korinthe verlaag is, was daar diegene wat van die fundamentele kenmerke van hulle geloof afstand gedoen het. Sommige het sover gegaan om die leer van die opstanding te ontken. Paulus het hierdie dwaalleer met ‘n baie duidelike getuienis aangaande die onmiskenbare bewyse van die opstanding van Christus weerlê. Hy het verklaar dat Christus, na Sy dood, “...op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte; en dat Hy aan Cefas verskyn het; daarna aan die twaalf. Daarna het Hy verskyn aan oor die vyfhonderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het. Daarna het Hy verskyn aan Jakobus; daarna aan al die apostels; en laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene.” DHDA 273.1

Met oortuigende krag het die apostel die groot waarheid aangaande die opstanding uiteengesit. “As daar geen opstanding van die dode is nie...” het hy geredeneer, “...dan is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof; en dan word ons valse getuies van God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die dode nie opgewek word nie. Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense. Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.” DHDA 273.2

Die apostel het die gedagtes van die gelowiges in Korinthe vooruit geneem na die triomf van die opstandingsmore wanneer die slapende heiliges opgewek sal word en voortaan vir ewig by hulle Here sal lewe. “Kyk...” verklaar die apostel, “...ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is, en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning. Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? ... God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.” DHDA 274.1

Heerlik is die oorwinning wat op die gelowiges wag. Die apostel, wat die moontlikhede voor die Korintiese gelowiges gerealiseer het, het gepoog om hulle uit die selfsug en sinlike te verhef en die lewe met die hoop op onsterflikheid te verheerlik. Hy het gepleit: “Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.” DHDA 274.2

So het die apostel op die mees vasberade en indrukwekkendste wyse probeer om die valse en gevaarlike begrippe en praktyke wat in die gemeente in Korinthe geheers het, reg te stel. Hy het duidelik, maar tog met liefde vir hulle siele, gepraat. In sy waarskuwings en teregwysings het lig van die troon van God op hulle geskyn om die verborge sondes wat hulle lewens besoedel het, te openbaar. Hoe sou dit ontvang word? DHDA 274.3

Nadat die brief versend is, het Paulus gevrees dat dit wat hy geskryf het, diegene wat hy wou bevoordeel miskien te diep sou verwond. Hy het ernstig gevrees vir ‘n verdere vervreemding en het soms verlang om sy woorde te herroep. Diegene wat, soos die apostel, ‘n verantwoordelikheid vir geliefde gemeentes of instellings het, sal sy depressie en selfverwyt die beste verstaan. Die diensknegte van God wat die las vir Sy werk in hierdie tyd dra, het ‘n besef van dieselfde ervaring in hulle arbeid, konflik en angstige besorgdheid, wat die lot van die groot apostel was. Belas deur die verdeeldheid in die kerk en met ondankbaarheid en verraad beloon deur sommige na wie hy vir medelye en bystand opgesien het en met die besef van die gevaar van die gemeentes wat ongeregtigheid koester, was hy gedring om ‘n noukeurige en deursigtige getuienis in teregwysing van sonde te lewer, terwyl hy terselfdertyd gebuk gegaan het onder die vrees dat hy miskien te kras opgetree het. Met angstige besorgdheid het hy gewag op ‘n tyding oor die ontvangs van sy boodskap. DHDA 274.4