Die Handelinge Van Die Apostels

30/59

Hoofstuk 29—'n Boodskap van Vermaning en Smeking*

Die eerste sendbrief aan die Korinthiërs is deur die apostel Paulus tydens die laaste deel van sy verblyf in Éfese geskryf. Hy het vir geen ander ‘n dieper belangstelling gehad of meer moeite gedoen as vir die gelowiges in Korinthe nie. Hy het ‘n anderhalfjaar lank onder hulle gewerk en het die gekruisigde en opgestane Verlosser as die enigste weg van verlossing aan hulle voorgehou en hulle aangespoor om onvoorwaardelik op die herskeppende krag van Sy genade te vertrou. Voordat hy diegene wat die Christelike belydenis afgelê het in die gemeenskap van die gelowiges opgeneem het, het Paulus gesorg dat hy hulle veral oor die voorregte en pligte van die Christengelowige ingelig het en hy het ernstig gepoog om hulle te help om getrou aan hul doopbeloftes te wees. DHDA 255.1

Paulus het ‘n fyn aanvoeling vir die konflik wat elke siel teen die magte van die bose wat voortdurend streef om te mislei en te verstrik moet voer gehad en hy het onvermoeid gewerk om diegene wat jonk in die geloof was, te versterk en te vestig. Hy het hulle gesmeek om ‘n volle oorgawe aan God te maak; want hy het geweet dat indien die siel nie daarin slaag om ten volle oor te gee nie, hy nie sy sonde versaak het nie, dat die begeertes en hartstogte nog steeds stry om die oorhand te kry en versoekings die gewete verwar. DHDA 255.2

Die oorgawe moet volkome wees. Elke swak, twyfelende, worstelende siel wat hom ten volle aan die Here oorgee, word regstreeks in verbinding met die magte wat hom in staat stel om te oorwin gebring. Die Hemel is na aan hom en in alle tye van beproewing en nood het hy die ondersteuning en hulp van die engele van barmhartigheid. DHDA 255.3

Die lede van die gemeente in Korinthe was deur afgodery en sensualiteit in sy mees aantreklikste vorm omring. Terwyl die apostel by hulle was, het daardie invloede min aantrekkingskrag vir hulle ingehou. Paulus se vaste geloof, sy vurige gebede en ernstige woorde van onderrig en bowenal sy godvrugtige lewe, het hulle gehelp om die self ter wille van Christus te verloën eerder as om die genot van die sonde te geniet. DHDA 256.1

Na die vertrek van Paulus, het daar egter ongunstige toestande ontstaan; onkruid wat deur die vyand gesaai is, het tussen die koring verskyn en eerlank het dit slegte vrugte begin voortbring. Dit was ‘n tyd van ernstige beproewing vir die kerk in Korinthe. Die apostel was nie meer by hulle om hulle ywer aan te spoor en hulle te help om in harmonie met die wil van God te leef nie en geleidelik het baie van hulle agtelosig en onverskillig begin raak en toegelaat dat hulle natuurlike smaak en neigings hulle beheer. Hy, wat hulle so dikwels tot hoë ideale van reinheid en opregtheid aangespoor het, was nie meer by hulle nie en menige wat tydens hulle bekering alle slegte gewoontes afgelê het, het na die aftakelende sondes van die heidendom teruggekeer. DHDA 256.2

Paulus het kortliks aan die gemeente geskryf en hulle vermaan “...om nie met...” lidmate “...om te gaan...” wat in sonde volhard nie; maar baie van die gelowiges het die betekenis van die apostel se woorde verdraai, oor sy woorde geredekawel en hulself verontskuldig om sy onderrig te verontagsaam. DHDA 256.3

Die kerk het ‘n brief aan Paulus gestuur om advies oor verskillende aangeleenthede te verkry, maar niks aangaande die gruwelike sondes wat onder hulle bestaan het is genoem nie. Die apostel was egter ernstig onder die invloed van die Heilige Gees gebring, dat die ware toestand van die kerk vir hom verberg was en dat hierdie brief ‘n poging was om uitsprake van hom te verkry wat die skrywers kon aanwend om hul eie doel te dien. DHDA 256.4

Omstreeks hierdie tyd het daar lede van die huisgesin van Chloë, ‘n gesiene Christengesin in Korinthe, na Éfese gekom. Paulus het hulle oor die toedrag van sake uitgevra en hulle het vir hom gesê dat die kerk ernstig verdeeld was. Die onenigheid wat tydens die besoek van Apollos geheers het, het sterk toegeneem. Valse leraars het die lede gelei om Paulus se onderrig te verag. Die leerstellings en verordeninge van die evangelie is verdraai. Hoogmoed, afgodery en sinsgenot het geleidelik onder diegene wat voorheen ywerig in die Christelike lewe was, toegeneem. DHDA 257.1

Toe hierdie prentjie vir hom geskilder is, het Paulus besef dat sy grootste vrese verwesenlik is. Maar dit het hom nie oorreed dat sy werk ‘n mislukking was nie. “Met benoudheid van hart...” en “...onder baie trane...” het hy God om raad gevra. Hy sou Korinthe graag dadelik wou besoek indien dit die verstandige weg sou wees om te volg. Maar hy het geweet dat die gelowiges in die huidige omstandighede nie by sy arbeid sou baat nie en daarom het hy Titus gestuur om die weg vir ‘n latere besoek van hom voor te berei. Toe het die apostel alle persoonlike gevoelens oor die optrede van diegene wat sulke vreemde perversiteit aan die dag gelê het ter syde gestel, sy siel op God gevestig gehou en een van sy verrykendste, leersaamste en kragtigste briewe aan die gemeente in Korinthe geskryf. DHDA 257.2

Met merkwaardige duidelikheid het hy die verskillende vrae wat deur die kerk geopper is beantwoord en algemene beginsels neergelê wat, indien dit gehoorsaam sou word, dit na ‘n hoër geestelike vlak sou lei. Hulle het in gevaar verkeer en hy kon die gedagte nie verduur dat hy op hierdie kritieke stadium nie daarin sou slaag om hul harte te bereik nie. Hy het hulle getrou oor die gevaar waarin hulle verkeer gewaarsku. Hy het hulle weer na Christus gewys en gepoog om die vuur van hul vroeëre toewyding opnuut te laat ontvlam. DHDA 257.3

Die apostel se groot liefde vir die gelowiges in Korinthe word in sy deernisvolle groet aan die gemeente geopenbaar. Hy het na hulle godsdienstige ervaring toe hulle van afgodediens na die aanbidding en diens van die ware God gedraai het verwys. Hy het hulle aan die gawes van die Heilige Gees wat hulle ontvang het herinner en aangedui dat dit hulle voorreg was om voortdurend vooruitgang in die Christelike lewe te maak, totdat hulle die reinheid en heiligheid van Christus sou bereik. Hy het geskryf: “Julle [is] in alle opsigte in Hom ryk gemaak ... in elke woord en alle kennis; soos die getuienis aangaande Christus bevestig is onder julle, sodat julle in geen enkele genadegawe agterstaan nie, terwyl julle wag op die openbaring van onse Here Jesus Christus, wat julle ook sal bevestig tot die einde toe, om in die dag van onse Here Jesus Christus onberispelik te wees.” DHDA 258.1

Paulus het duidelik oor die onenigheid wat in die gemeente in Korinthe ontstaan het gepraat en het die lidmate gemaan om die stryd te staak. Hy het geskryf: “Ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.” DHDA 258.2

Die apostel het die vrymoedigheid geneem om te meld hoe en deur wie hy ingelig is aangaande die verdeeldheid in die gemeente. “Dit is aan my deur die huisgenote van Chloë bekend gemaak aangaande julle, my broeders, dat daar twiste onder julle is.” DHDA 258.3

Paulus was ‘n geïnspireerde apostel. Die waarhede wat hy aan andere geleer het, het hy “...op grond van ‘n openbaring...” ontvang, tog het die Here nie te alle tye aan hom die toestand van Sy volk geopenbaar nie. In hierdie geval het diegene wat in die welvaart van die gemeente in Korinthe belanggestel en die onheil gesien insluip het, die saak aan die apostel voorgelê en op grond van die Goddelike openbaringe wat hy vroeër ontvang het, was hy voorbereid om die aard van hierdie ontwikkelings te beoordeel. Ondanks die feit dat die Here nie aan hom ‘n nuwe openbaring vir daardie besondere geleentheid gegee het nie, het diegene wat waarlik na lig gesoek het, sy boodskap as die mening van Christus aanvaar. Die Here het aan hom die probleme en gevare wat in die gemeentes sou ontstaan gewys en, namate hierdie onheil ontstaan het, het die apostel die betekenis daarvan besef. Hy is vir die beskerming van die kerk aangestel. Hy moes oor siele waak as iemand wat rekenskap aan God moet gee en was dit dus nie vanselfsprekend en reg dat hy sou ag slaan op die verslae aangaande wetteloosheid en verdeeldheid onder hulle nie? Verseker! En die vermaning wat hy aan hulle gestuur het, was net so seker onder die ingewing van die Gees van God geskryf soos elkeen van sy ander sendbriewe. DHDA 258.4

Die apostel het geen melding van die valse leraars wat daarop uit was om die vrugte van sy arbeid te vernietig gemaak nie. As gevolg van die duisternis en die verdeeldheid in die kerk, het hy wyslik besluit om hulle nie verder met verwysing hierna te irriteer nie, uit vrees dat hy sommige heeltemal van die waarheid sou wegkeer. Hy het die aandag op sy eie werk onder hulle gevestig as dié van ‘n “...bekwame boumeester...” wat die fondasie gelê het waarop ander gebou het. Maar hy het homself nie daardeur verhef nie, want hy het verklaar: “Want ons is medewerkers van God.” Hy het op geen wysheid van sy eie aanspraak gemaak nie, maar erken dat Goddelike krag alleen hom in staat gestel het om die waarheid op ‘n wyse aan te bied wat vir God aanneemlik was. Met Christus verenig, die grootste Leermeester van almal, was Paulus in staat gestel om lesse van Goddelike wysheid, wat in die behoeftes van alle klasse voorsien het en te alle tye, orals en onder alle omstandighede van toepassing sou wees, oor te dra. DHDA 259.1

Onder die meer ernstige euwels wat onder die gelowiges in Korinthe ontstaan het, was die terugkeer na baie van die aftakelende gebruike van die heidendom. Een voormalige bekeerling het tot so mate afvallig geword dat sy losbandigheid selfs ‘n skending van die lae, sedelike maatstawe van die Heidense wêreld was. Die apostel het by die gemeente gepleit om tog “...dié slegte mens...” onder hulle uit te verwyder. “Weet julle nie...” het hy hulle vermaan, “...dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees-soos julle inderdaad ongesuurd is.” DHDA 260.1

Nog ‘n ernstige euwel wat in die kerk ontstaan het, was dat die broeders mekaar voor die hof gedaag het. Oorvloedige voorsiening is vir die oplossing van probleme onder gelowiges getref. Christus het self duidelike opdragte oor hoe sulke aangeleenthede beoordeel moes word gegee. “As jou broeder teen jou sondig...” het die Verlosser gesê, “...gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin; maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan. En as hy na julle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar. Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees. ” (Mattheus 18:15-18.) DHDA 260.2

Aan die Korintiese gelowiges wat hierdie duidelike raad uit die oog verloor het, het Paulus in geen onsekere terme van vermaning en teregwysing geskryf: “Durf iemand van julle...” het hy gevra, “...wat ‘n saak teen ‘n ander het, gaan reg soek voor die onregverdiges en nie voor die heiliges nie? Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge? As julle dan alledaagse regsake het, moet julle dié persone daaroor laat sit wat in die gemeente die minste geag word. Ek sê dit tot julle beskaming. Is daar dan nie eens een wyse onder julle, wat uitspraak sal kan doen tussen sy broeders nie? Maar gaan die een broeder met die ander na die regbank en dit voor ongelowiges? Dan is dit al werklik ‘n gebrek onder julle, dat julle regsake met mekaar het. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? ... Maar julle doen onreg en pleeg roof, en dit aan broeders. Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie?” DHDA 260.3

Satan poog voortdurend om wantroue, vervreemding en haat onder God se volk te saai. Ons sal dikwels in die versoeking kom om te dink dat daar op ons regte inbreuk gemaak word, selfs wanneer daar geen werklike rede vir sulke gevoelens is nie. Diegene wie se liefde vir hulself sterker as hul liefde vir Christus en Sy saak is, sal voorkeur aan hul eie belange skenk en hulle toevlug tot feitlik enige hulpmiddel neem om dit te bewaak en te onderhou. Selfs baie wat pligsgetroue Christene blyk te wees, word deur trots en eiewaarde verhinder om persoonlik na diegene wat hulle van onreg verdink te gaan, sodat hulle in die gees van Christus met mekaar kan praat en saam vir mekaar kan bid. Wanneer hulle dink dat hulle deur een van hulle broeders te na gekom is, sal sommige selfs na die gereg gaan in plaas daarvan om die Heiland se reëls te volg. DHDA 261.1

Christene behoort hulle nie op burgerlike regbanke te beroep om geskille wat tussen kerklidmate mag ontstaan te besleg nie. Sulke geskille behoort ooreenkomstig Christus se opdragte onder mekaar, of deur die gemeente, besleg te word, Al het daar ook onreg plaasgevind, sal die volgeling van die sagmoedige en nederige Jesus eerder toelaat dat hy bedrieg word as om die sondes van sy broeders in die gemeente voor die wêreld te ontbloot. DHDA 261.2

Regsgedinge tussen broers is ‘n smaad vir die saak van waarheid. Christene wat met mekaar na die gereg gaan, stel die kerk aan die bespotting van sy vyande bloot en laat die magte van die duisternis seëvier. Hulle kruisig Christus opnuut en stel Hom in die skande. Deur die gesag van die kerk te ignoreer, toon hulle minagting vir God wat aan die kerk haar gesag gegee het. DHDA 262.1

In hierdie brief aan die Korinthiërs het Paulus gepoog om die mag van Christus aan hulle om hulle van die bose te weerhou te toon. Hy het geweet dat indien hulle aan die voorwaardes sou voldoen, hulle sterk in die krag van die Almagtige sou wees. As ‘n manier om hulle te help om van die slawerny van die sonde weg te breek en om die heiligheid in die vrees van die Here te vervolmaak, het Paulus by hulle aangedring op die aansprake van Hom, aan wie hulle tydens hul bekering, hul lewe gewy het. Die apostel het verklaar: “Julle behoort aan Christus ... Weet julle nie ... dat julle nie aan julleself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” DHDA 262.2

Terwyl Paulus oor hoë intellektuele gawes beskik het, het sy lewe die krag van ‘n seldsamer wysheid geopenbaar, wat aan hom vlugheid van begrip en ‘n deernisvolle hart gegee het en hom in noue kontak met ander gebring het en wat hom in staat gestel het om hulle beter geaardheid na vore te bring en hulle te besiel om na ‘n hoër lewe te streef. Sy hart was met ‘n ernstige liefde vir die gelowiges in Korinthe gevul. Hy het verlang om te sien dat hulle ‘n innerlike vroomheid openbaar wat hulle teen versoeking sou versterk. Hy het geweet dat die sinagoge van Satan elke keer die Christelike weg sou teëwerk en dat hulle elke dag in konflik sou verkeer. Hulle sou teen die listige benadering van die vyand moes waak, om hul ou gewoontes en natuurlike neigings terug te dwing en altyd waaksaam in gebed te wees. Paulus het geweet dat ‘n hoër Christelike ervaring slegs deur baie gebede en voortdurende waaksaamheid bereik kon word en hy het gepoog om dit in hulle gedagtes te vestig. Maar hy het ook geweet dat hulle in die gekruisigde Christus genoeg krag ontvang het om die siel te bekeer en Goddelik aangepas is om hulle in staat te stel om alle versoekings te weerstaan. Met geloof in God as hulle wapenrusting en met Sy Woord as wapen teen oorlogvoering, sou hulle van innerlike krag voorsien word wat hulle in staat sou stel om die aanvalle van die vyand af te weer. DHDA 262.3

Die gelowiges in Korinthe het ‘n dieper ervaring in die dinge van God nodig gehad. Hulle het nie ten volle geweet wat dit beteken om Sy heerlikheid te aanskou en om ‘n verandering van karakter te ondergaan nie. Hulle het maar slegs die eerste strale van die vroeë daeraad van daardie heerlikheid gesien. Paulus se begeerte vir hulle was dat hulle met al die volheid van God vervul sou word, om Hom, wie se opgang so seker soos die daeraad is, te leer ken, totdat hulle die volle middaguur van ‘n volmaakte evangeliegeloof bereik. DHDA 263.1