Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 28—Dae van Moeite en Beproewing*
Vir meer as drie jaar was Éfese die middelpunt van Paulus se arbeid. Hier is ‘n bloeiende gemeente opgerig en uit hierdie stad het die evangelie deur die hele provinsie Asië onder Jode sowel as Heidene versprei. DHDA 249.1
Die apostel het reeds vir ‘n geruime tyd ‘n ander sendingreis oorweeg. Hy het hom “...voorgeneem om deur Macedonië en Achaje te gaan en na Jerusalem te reis. Hy het gesê: Nadat ek daar gewees het, moet ek Rome ook sien.” Ooreenkomstig hierdie plan “...stuur hy twee van sy helpers, Timotheus en Erastus, na Macedonië...” maar omdat hy gevoel het die saak in Éfese het steeds sy teenwoordigheid vereis, het hy besluit om tot na Pinkster daar te bly. Daar het egter spoedig iets plaasgevind wat sy vertrek verhaas het. DHDA 249.2
Een keer per jaar is spesiale seremonies in Éfese ter ere van die godin Diana gehou. Dit het ‘n groot aantal mense uit alle dele van die provinsie gelok. Gedurende hierdie tyd is feeste met die grootste prag en praal gevier. DHDA 249.3
Hierdie gala-seisoen was ‘n moeilike tyd vir diegene wat pas tot die geloof gekom het. Die groep gelowiges wat in die skool van Tirannus byeengekom het, was ‘n wanklank in die feestelike koor en hulle is openlik bespot, verwyt en beledig. Paulus se arbeid het die heidense aanbidding ‘n sprekende knou toegedien en gevolglik was daar ‘n merkbare afname in die bywoning van die nasionale fees en in die geesdrif van die aanbidders. Die invloed van sy leringe het veel verder gestrek as net tot die werklike bekeerlinge tot die geloof. Baie wat nie die nuwe leer openlik aanvaar het nie, het tot so mate verlig geraak, dat hulle alle vertroue in hul heidense gode verloor het. DHDA 249.4
Daar was ook ‘n ander oorsaak vir ontevredenheid. ‘n Uitgebreide en winsgewende besigheid het in Éfese ontstaan deur die vervaardiging en verkoop van miniatuur tempels en beelde, geskoei op die patroon van die tempel en beeld van Diana. Diegene wat in hierdie bedryf betrokke was, het gevind dat hulle winste afneem en almal het saamgestem dat dit aan die onwelkome verandering as gevolg van Paulus se arbeid toe te skryf was. DHDA 250.1
Demetrius, ‘n vervaardiger van silwertempeltjies, het al die werkers van sy ambag byeengeroep en gesê: “Manne, julle weet dat ons welvaart uit hierdie verdienste is, en julle sien en hoor dat nie alleen in Éfese nie, maar byna in die hele Asië, hierdie Paulus ‘n aansienlike skare oorgehaal en afvallig gemaak het deur te sê dat dit geen gode is wat met hande gemaak word nie. Nou is daar nie alleen gevaar dat hierdie vak van ons in veragting kom nie, maar ook dat die tempel van die groot godin Diana as niks gereken word en dat haar majesteit wat die hele Asië, ja, die hele wêreld, vereer, ook tot niet sal gaan.” Hierdie woorde het die ontvlambare hartstogte van die volk opgewek. Hulle was “...met woede vervul en het geskreeu en gesê: Groot is die Diana van die Efesiërs!” DHDA 250.2
’n Verslag van hierdie toespraak is vinnig versprei. “Daarop raak die hele stad heeltemal in verwarring.” Daar is na Paulus gesoek, maar die apostel was nêrens te vind nie. Sy broeders wat ‘n aanduiding van die gevaar gekry het, het hom weg van die plek gehaas. Engele van God is gestuur om die apostel te bewaak; sy tyd om ‘n marteldood te sterf, het nog nie aangebreek nie. DHDA 250.3
Toe hulle die voorwerp van hulle toorn nie kon opspoor nie, het die gepeupel “...Gajus en Aristárchus ... wat reisgenote van Paulus was...” gegryp en na die skouburg gesleep. DHDA 250.4
Paulus se skuilplek was nie ver daarvandaan nie en hy het gou van die gevaar van sy geliefde broeders verneem. Hy het van sy eie veiligheid vergeet en wou dadelik na die skouburg gaan om die oproeriges toe te spreek. Maar “...die dissipels [het] hom dit nie toegelaat nie.” Gajus en Aristárchus was nie die prooi na wie die gepeupel gesoek het nie; geen ernstige onheil is vir hulle gevrees nie. Maar indien die apostel se bleek, besorgde gelaat daar gesien word, sou dit dadelik die ergste hartstogte van die gepeupel wek en daar sou nie die geringste menslike moontlikheid bestaan het om sy lewe te red nie. DHDA 251.1
Paulus was nog steeds gretig om die waarheid voor die skare te verdedig, maar hy is uiteindelik eindelik deur ‘n boodskap van waarskuwing van die skouburg af teruggehou. “Sommige van die owerstes van Asië wat sy vriende was, het ook na hom gestuur en hom gesmeek dat hy hom nie in die skouburg moes begeef nie.” DHDA 251.2
Die oproer in die skouburg het steeds toegeneem. “Hulle het dan aangehou skreeu, sommige dit en ander dat; want die vergadering was in die war en die meeste het nie geweet waarvoor hulle bymekaargekom het nie.” Die feit dat Paulus en sommige van sy metgeselle van Hebreeuse afkoms was, het die Jode angstig gemaak om dit duidelik te laat blyk dat hulle nie ondersteuners van hom en sy werk was nie. Hulle het dus een van hul eie geledere gebring om die saak voor die mense te stel. Die spreker wat hulle gekies het, was Alexander, ‘n kopersmid, van wie Paulus agterna gesê het dat hy hom baie kwaad aangedoen het. (Sien 2 Timotheus 4:14). Alexander was ‘n bekwame man en hy het al sy kragte ingespan om die woede van die gepeupel uitsluitlik op Paulus en sy medewerkers toe te spits. Maar toe die skare sien dat Alexander ‘n Jood was, het hulle hom eenkant toe gestoot terwyl almal “...omtrent twee uur lank skreeu: Groot is Diana van die Efesiërs!” DHDA 251.3
Uiteindelik het hulle van blote uitputting opgehou en daar was ‘n verposing van stilte. Toe het die stadsklerk die skare se aandag getrek en uit hoofde van sy amp daarin geslaag om hulle toe te spreek. Hy het die mense op hul eie terrein ontmoet en daarop gewys dat daar geen rede vir die huidige oproer was nie. Hy het ‘n beroep op hul rede gedoen en gesê: “Efesiërs, watter mens is daar tog wat nie weet dat die stad van die Efesiërs die tempelbewaarder is van die groot godin Diana en van die beeld wat uit die hemel geval het nie? Terwyl dit dan nie weerspreek kan word nie, behoort julle rustig te wees en niks onbedags te doen nie. Want julle het hierdie manne gebring, wat geen tempelrowers is nie en ook nie julle godin laster nie. As Demetrius en sy ambagsmanne dan ‘n saak teen iemand het, die hofsittings word gehou en daar is regters: laat hulle mekaar aanklaag. Maar as julle nog iets anders verlang, dit sal in die wettige vergadering beslis word. Want ons loop gevaar om oor die oproer van vandag aangeklaag te word, aangesien daar geen grond is waarop ons sal kan rekenskap gee van hierdie oploop nie. En met hierdie woorde het hy die vergadering ontbind.” DHDA 251.4
In sy toespraak het Demetrius gesê dat hulle vak in veragting kon kom. Hierdie woorde het die werklike oorsaak van die oproer in Éfese openbaar en ook die oorsaak van baie van die vervolging wat die apostels in hulle werk agtervolg het. Demetrius en sy mede- ambagsmanne het besef dat die onderrig en verspreiding van die evangelie, hulle besigheid met die vervaardiging van beelde in gevaar gestel het. Die inkomste van hul heidense priesters en vakmanne was op die spel en om hierdie rede het hulle die bitterste teëstand teen Paulus opgesweep. DHDA 252.1
Die beslissing van die stadsklerk en van ander wat eerbare poste in die stad beklee het, het Paulus as onskuldig aan enige onwettige daad voor die mense verklaar. Dit was nog ‘n oorwinning vir die Christelike geloof oor dwaling en bygeloof. God het ‘n belangrike regter aangestel om Sy apostel te regverdig en die oproerige gepeupel te beteuel. Paulus se hart was met dankbaarheid jeens God gevul omdat sy lewe gespaar was en die Christelike geloof nie deur die oproer in Éfese in oneer gebring is nie. DHDA 252.2
“Nadat die oproer verby was, het Paulus die dissipels na hom geroep en gegroet en het vertrek om na Macedonië te reis.” Op hierdie reis is hy deur twee getroue broers uit Éfese vergesel, naamlik Tichikus en Trofimus. DHDA 253.1
Paulus se arbeid in Éfese was afgehandel. Sy bediening was ‘n tydperk van onophoudelike arbeid, baie beproewings en diepe sieleangs. Hy het die mense in die openbaar en van huis tot huis geleer en hulle met baie trane onderrig en gewaarsku. Die Jode het hom voortdurend teëgestaan en geen geleentheid laat verbygaan om die algemene gevoel teen hom op te sweep nie. DHDA 253.2
En terwyl hy aldus teen die opposisie geveg het, die evangelie met onvermoeide ywer voortgesit en die belange van ‘n kerk wat nog jonk in die geloof was bewaar het, het Paulus ‘n swaar sielelas vir al die gemeentes op die hart gedra. DHDA 253.3
Berigte van afvalligheid in sommige van die gemeentes wat hy gestig het, het hom diep bedroef. Hy het gevrees dat sy pogings ter wille van hulle miskien tevergeefs mag gewees het. Hy het baie slapelose nag in gebed en ernstige oorpeinsing deurgebring toe hy verneem het watter metodes aangewend is om sy werk te belemmer. Soos die geleentheid hom voorgedoen het en namate hulle toestand dit vereis het, het hy aan die gemeentes geskryf en hulle bestraf, van raad bedien, vermaan en bemoedig. In hierdie briewe wei die apostel nie uit oor sy eie beproewinge nie, maar daar was tog af en toe ‘n blik op sy arbeid en lyding vir die saak van Christus. Géseling en gevangenskap, koue en honger en dors, in gevare oor land en see, in die stad en in die woestyn, van sy eie landgenote, van die heidene en van valse broeders-dit het hy alles ter wille van die evangelie verduur. Hy is “uitgeskel ... belaster ... die afskraapsel van almal...” gemaak, “...verdruk ... vervolg...” in alles “...verdruk ... elke uur in gevaar ... oorgelewer in die dood om Jesus wil.” DHDA 253.4
Te midde van die voortdurende stroom van teëstand, die getier van vyande en versaking deur vriende, het die onverskrokke apostel byna moed verloor, maar hy het na Golgota teruggekyk en dan weer met nuwe ywer voortgebeur om die kennis van die Gekruisigde te versprei. Hy het slegs op die bloedbevlekte weg getrap wat Christus voor hom getrap het. Hy het geen ontslag uit die stryd verlang voordat hy sy wapenrusting aan die voete van sy Verlosser sou neerlê nie. DHDA 254.1