Die Handelinge Van Die Apostels

28/59

Hoofstuk 27—Éfese*

Terwyl Apollos in Korinthe gepreek het, het Paulus sy belofte om na Éfese terug te keer, nagekom. Hy het ‘n kort besoek aan Jerusalem gebring en ‘n tydjie in Antiochië, waar hy vroeër gewerk het, vertoef. Vandaar het hy na Klein-Asië gereis en “...die land Galasië en Frigië deurgereis...” (Handelinge 18:23), waar hy die gemeentes wat hy self tot stand gebring het, besoek en die geloof van die gelowiges versterk het. DHDA 240.1

In die tyd van die apostels was die westelike gedeelte van Klein-Asië bekend as die Romeinse provinsie van Asië. Éfese, die hoofstad, was ‘n groot handelsentrum. Die hawe was vol skepe en die strate het gewemel van mense uit alle lande. Soos Korinthe, was dit ‘n belowende veld vir sendingwerk. DHDA 240.2

Die Jode wat nou na alle beskaafde lande verstrooi was, het oor die algemeen die koms van die Messias verwag. Terwyl Johannes die Doper gepreek het, het baie tydens die jaarlikse feeste in Jerusalem, na die oewers van die Jordaan gegaan om na hom te luister. Daar het hulle die aankondiging van Jesus as die Beloofde Een gehoor en het die tyding na alle dele van die wêreld geneem. So het die Voorsienigheid die weg vir die arbeid van die apostels berei. DHDA 240.3

Met sy aankoms in Éfese, het Paulus twaalf broers gevind wat, net soos Apollos, dissipels van Johannes die Doper was en soos hy, ‘n mate van kennis van die sending van Christus opgedoen het. Hulle het nie die vermoë van Apollos gehad nie, maar het met dieselfde opregtheid en geloof getrag om die kennis wat hulle ontvang het, na die buiteland te versprei. DHDA 240.4

Hierdie broers het niks van die sending van die Heilige Gees geweet nie. Op die vraag van Paulus of hulle die Heilige Gees ontvang het, het hulle geantwoord: “Ons het nie eens gehoor dat daar ‘n Heilige Gees is nie.” Toe vra Paulus: “Met watter doop is julle dan gedoop?” en hulle het geantwoord: “Met die doop van Johannes.” DHDA 241.1

Toe het die apostel die groot waarhede wat die grondslag van die Christen se hoop is, aan hulle voorgehou. Hy het hulle van Christus se lewe op aarde en van Sy wrede en skandelike dood vertel. Hy het hulle vertel hoe die Here van die lewe die bande van die graf gebreek en seëvierend oor die dood opgestaan het. Hy het die opdrag van die Verlosser aan Sy dissipels herhaal: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.” (Mattheus 28:18,19). Hy het hulle ook van Christus se belofte om die Trooster te stuur vertel, deur wie se krag magtige tekens en wonders sou geskied en hy het beskryf hoe heerlik hierdie belofte op die Pinksterdag vervul is. DHDA 241.2

Met diep belangstelling en dankbare, vreugdevolle verwondering, het die broeders na Paulus se woorde geluister. Deur geloof het hulle die wonderlike waarheid van die soenoffer van Christus aangegryp en Hom as hul Verlosser aangeneem. Hulle is toe in die Naam van Jesus gedoop en terwyl Paulus hulle “...die hande opgelê” het, het hulle ook die doop van die Heilige Gees, waardeur hulle in staat gestel is om die tale van ander nasies te praat en te profeteer, ontvang. So is hulle toegerus om as sendelinge in Éfese en omgewing te werk en ook om uit te gaan om die evangelie in Klein-Asië te verkondig. DHDA 241.3

Dit was deur ‘n nederige, leerbare gees te koester dat hierdie manne ‘n ervaring opgedoen wat hulle in staat gestel het om as werkers na die oesland uit te gaan. Hulle voorbeeld bied aan Christene ‘n waardevolle les. Daar is baie wat in die godsdienstige lewe min vordering maak, omdat hulle te selfvoldaan is om die posies van ‘n leerling in te neem. Hulle is tevrede met ‘n oppervlakkige kennis van God se Woord. Hulle wil nie hul geloof of optrede verander nie en wend dus geen poging aan om groter lig te verkry nie. DHDA 241.4

Indien die volgelinge van Christus maar net ernstige soekers na wysheid sou wees, sou hulle na kosbare velde van waarheid gelei word, wat tot nog toe vir hulle totaal onbekend is. Wie homself ten volle aan God oorgee, sal deur die Goddelike hand gelei word. Hy mag miskien nederig en skynbaar onbegaafd wees; tog, as hy met ‘n liefdevolle, vertrouende hart elke aanwysing van God se wil gehoorsaam, sal sy kragte gesuiwer, veredel en bekragtig en sy begaafdhede vermeerder word. Namate hy die lesse van Goddelike wysheid waardeer, sal daar aan hom ‘n heilige opdrag toevertrou word; Hy sal in staat wees om sy lewe tot eer van God en tot seën van die wêreld te maak. “Die opening van U woorde gee lig; dit maak die eenvoudiges verstandig.” (Psalm 119:130). DHDA 242.1

Daar is deesdae baie wat net so onkundig is aangaande die werking van die Heilige Gees op die hart, soos wat die gelowiges in Éfese was; tog word geen waarheid meer duidelik in die Woord van God geleer nie. Profete en apostels het nadruk op hierdie onderwerp gelê. Christus vestig self ons aandag op die plantegroei as voorbeeld van die wyse waarop Sy Gees werk om die geestelike lewe te onderhou. Die sap van die wingerdstok wat van die wortel af opstyg, word na die takke versprei wat groei onderhou en bloeisels en vrugte voortbring. So is die lewegewende krag van die Heilige Gees, wat vanaf die Verlosser uitgaan, die siel deurdring, die motiewe en geneenthede vernuwe en selfs die gedagtes in gehoorsaamheid aan die wil van God onderwerp, wat die ontvanger in staat stel om die kosbare vrug van heilige dade te dra. DHDA 242.2

Die Outeur van hierdie geestelike lewe is onsigbaar en dit is buite die vermoë van die menslike filosofie om te verduidelik presies hoe daardie lewe oorgedra en onderhou word. Nogtans werk die Heilige Gees altyd in ooreenstemming met die geskrewe woord. Soos in die natuurlike, so ook in die geestelike wêreld. Die natuurlike lewe word oomblik vir oomblik deur Goddelike krag bewaar; nogtans word dit nie deur ‘n regstreekse wonderwerk onderhou nie, maar deur die gebruik van seëninge wat binne ons bereik geplaas word. So word die geestelike lewe deur die middele wat die Voorsienigheid voorsien het onderhou. As die volgeling van Christus “...tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus...” (Efesiërs 4:13) wil groei, moet hy die brood van die lewe eet en die water van verlossing drink. Hy moet waak en bid en werk en in alle opsigte let op die opdragte van God in Sy Woord. DHDA 242.3

Daar is vir ons nog ‘n verdere les in die ervaring van hierdie Joodse bekeerlinge. Toe hulle deur Johannes gedoop is, het hulle die sending van Jesus as die Een wat die sonde sou dra, nog nie ten volle begryp nie. Hulle het in ernstige dwalinge geglo. Maar met duideliker lig, het hulle Jesus met blydskap as hulle Verlosser aangeneem en met hierdie stap vorentoe, het daar ook ‘n verandering in hul verpligtinge gekom. Omdat hulle ‘n suiwerder geloof ontvang het, was daar ‘n ooreenstemmende verandering in hulle lewe. As teken van hierdie verandering en ter erkenning van hulle geloof in Christus, is hulle in die Naam van Jesus herdoop. DHDA 243.1

Soos sy gewoonte was, het Paulus sy werk in Éfese begin deur in die sinagoge van die Jode te preek. Hy het drie maande lank daar “...met hulle geredeneer en hulle probeer oortuig van die dinge wat die koninkryk van God aangaan.” Aanvanklik was hy gunstig ontvang, maar soos op ander plekke, is hy spoedig met geweld teëgestaan. “Sommige...” het hulle “...verhard...” en was “...ongehoorsaam” en het aangehou om van die Weg kwaad te spreek voor die menigte.” Toe hulle in hul verwerping van die evangelie volhard, het die apostel opgehou om in die sinagoge te preek. DHDA 243.2

Die Gees van God het in sy arbeid vir sy landgenote met en deur Paulus gewerk. Daar is voldoende bewyse gelewer om almal, wat eerlik begeer het om die waarheid te weet, te oortuig. Maar baie het toegelaat dat hulle deur vooroordeel en ongeloof beheer word en geweier om aan die mees afdoende bewyse toe te gee. Uit vrees dat die geloof van die gelowiges deur voortgesette omgang met hierdie teenstanders van die waarheid in gevaar sou verkeer, het Paulus hom van hulle geskei en die dissipels as ‘n spesifieke groep byeengebring en sy openbare onderrig in die skool van Tirannus, ‘n leermeester van onderskeiding, voortgesit. DHDA 244.1

Paulus het gesien dat “...’n groot en kragtige deur...” voor hom oopgaan, alhoewel daar nog “...baie teëstanders...” was. (1 Korinthiërs 16:9). Éfese was nie net die mees luisterryke stad in Asië nie, maar ook die mees verdorwe. Bygeloof en sensuele plesier het oor die stad se wemelende bevolking geheers. Misdadigers van elke graad het in die skadu van die tempels skuiling gevind en die laagste ondeugde het gefloreer. DHDA 244.2

Éfese was ‘n gewilde sentrum vir die aanbidding van Diana. Die roem van die manjifieke tempel van “...Diana van die Efesiërs”... het deur die hele Asië en die wêreld heen gestrek. Die weergalose prag daarvan het dit nie net die trots van die stad nie, maar ook van die land gemaak. Die afgod in die tempel het volgens oorlewering, uit die lug daarin geval. Daarop was simboliese tekens waaraan groot mag toegeskryf is. Die Efesiërs het boeke geskryf om die betekenis en gebruik van daardie simbole te verduidelik. DHDA 244.3

Onder diegene wat hierdie duur boeke noukeurig bestudeer het, was die talle towenaars wat ‘n kragtige invloed op die gemoedere van die bygelowige aanbidders van die beeld in die tempel uitgeoefen het. DHDA 244.4

Die apostel Paulus het, in sy arbeid in Éfese, spesiale tekens van Goddelike guns ontvang. Die krag van God het sy pogings vergesel en baie mense is van hul fisiese siektes genees. “God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen, sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle gewyk en die bose geeste van hulle uitgegaan het.” Hierdie manifestasies van bonatuurlike krag was kragtiger as enigiets wat ooit voorheen in Éfese gesien is en dit was van so aard dat dit nie deur die vernuf van ‘n goëlaar of die toorkuns van ‘n towenaar nageboots kon word nie. Omdat hierdie wonderwerke in die Naam van Jesus van Nasaret plaasgevind het, het die mense die geleentheid gehad om te sien dat die God van die hemel veel magtiger was as die towenaars wat aanbidders van die godin Diana was. So het die Here Sy dienskneg verhoog, selfs voor die afgodedienaars, onmeetbaar bo die magtigste en gewildste towenaars. DHDA 244.5

Maar die Een aan wie al die geeste van die bose onderworpe is en wat aan Sy dienaars gesag oor hulle gee, was gereed om nog groter skande en nederlaag oor diegene wat Sy heilige Naam verag en ontheilig het te bring. Towery is deur die Mosaïese wet, op straf van die dood belet, maar van tyd tot tyd is dit in die geheim deur die afvallige Jode bedryf. Ten tye van Paulus se besoek aan Éfese, was daar in die stad “...sommige van die rondtrekkende Jode, duiwelbesweerders...” wat, terwyl hulle die wonderwerke wat hy verrig het aanskou het, dit op hulle geneem het “...om die Naam van die Here Jesus te noem oor die wat bose geeste gehad het ... Sekere sewe seuns van Skeva, ‘n Joodse owerpriester...” ‘n man wat deur ‘n demoon beset is gevind en hom aangespreek: “Ons besweer julle by die Jesus wat Paulus verkondig!” Maar, “...die bose gees het geantwoord en gesê: Jesus ken ek en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle? Toe spring die man in wie die bose gees was, op hulle en oormeester en oorweldig hulle, sodat hulle naak en gewond uit daardie huis gevlug het.” DHDA 245.1

Aldus is onmiskenbare bewys gelewer van die heiligheid van die Naam van Christus en die gevaar wat diegene, wat sonder geloof in die Goddelikheid van die Verlosser se sending, hulle daarop sou beroep . “Vrees het op hulle almal geval, en die Naam van die Here Jesus is groot gemaak.” DHDA 246.1

Feite wat voorheen verswyg was, is nou aan die lig gebring. In die aanvaarding van die Christendom, het sommige van die gelowiges nie ten volle afstand van hul bygelowe gedoen nie. Hulle het tot ‘n sekere mate steeds voortgegaan met die beoefening van toorkuns. “Baie van die wat gelowig geword het...” was nou van hulle dwaling oortuig en “...het belydenis kom doen en hulle dade bekend gemaak.” Die goeie werk het selfs na sommige van die towenaars uitgebrei “...en verskeie van die wat met towery omgegaan het, het die boeke bymekaargebring en voor almal verbrand; en hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit vyftigduisend silwerstukke was. So het die woord van die Here met krag gegroei en sterk geword.” DHDA 246.2

Deur hulle boeke oor die toorkuns te verbrand, het die bekeerlinge in Éfese getoon dat hierdie dinge waarin hulle voorheen behae gevind het, hulle nou verafsku het. Dit was veral met en deur hulle toorkuns dat hulle God aanstoot gegee en hulle siele in gevaar gestel het; en dit was teen towery dat hulle nou hul verontwaardiging getoon het. So het hulle bewys van ware bekering gelewer. DHDA 246.3

Hierdie verhandelinge oor waarsêery bevat reëls en formules vir gemeenskap met bose geeste. Dit was die voorskrifte vir die aanbidding van Satan-aanwysings om sy hulp in te win en inligting van hom te verkry. As hulle hierdie boeke behou het, sou die dissipels hulle aan versoekings blootgestel het; deur dit te verkoop sou hulle versoeking in die pad van ander geplaas het. Hulle het die koninkryk van duisternis verloën en het nie geskroom om die mag daarvan te vernietig nie. So het die waarheid oor die vooroordeel van mense en hulle liefde vir geld geseëvier. DHDA 246.4

Deur hierdie manifestasie van die mag van Christus, is ‘n magtige oorwinning vir die Christelike geloof in die einste vesting van bygeloof behaal. Die invloed van wat plaasgevind het, was meer verreikend as wat selfs Paulus besef het. Die nuus is wyd en syd uit Éfese versprei en stukrag is aan die saak van Christus gegee. Lank nadat die apostel self sy loopbaan beëindig het, het hierdie tonele steeds in die geheue van mense voortgeleef en was dit ‘n middel om bekeerlinge vir die evangelie te wen. DHDA 247.1

Daar word gunstiglik aanvaar dat heidense bygelowe voor die beskawing van die twintigste eeu gewyk het. Maar die Woord van God en die streng getuienis van die feite verklaar dat towery in hierdie eeue steeds beoefen word net soos in die dae van die antieke towenaars. Die antieke stelsel van towery is in werklikheid dieselfde as wat tans as moderne spiritisme bekendstaan. Satan vind toegang tot die gemoedere van duisende deur homself onder die dekmantel van afgestorwe vriende aan te bied. Die Skrif verklaar: “Die dooies weet glad niks nie.” (Prediker 9:5). Hulle gedagtes, hulle liefde, hulle haat, het alles vergaan. Die dooies hou nie gemeenskap met die lewendes nie. Maar getrou aan sy vroeë lis, maak die Satan van hierdie misleiding gebruik om beheer oor die verstand te verkry. DHDA 247.2

Deur spiritisme kommunikeer baie siekes, bedroefdes en nuuskieriges met bose geeste. Almal wat dit waag, bevind hulle op gevaarlike terrein. Die Woord van waarheid verklaar hoe God hulle beskou. In die ou tyd het Hy ‘n streng oordeel oor ‘n koning wat by ‘n heidense orakel gaan raad soek het uitgespreek: “Gaan julle, omdat daar glad geen God in Israel is nie, om Baal-Sebub, die god van Ekron, te raadpleeg? Daarom dan, so sê die Here: van die bed waar jy op geklim het, sal jy nie afkom nie, want jy sal sekerlik sterwe. ” (2 Konings 1:3,4). DHDA 247.3

Die towenaars van die heidense tyd het hulle eweknie in die spiritistiese mediums, heldersiendes en die waarsêers van vandag. Die mistieke stemme wat by Endor en in Éfese gespreek het, mislei steeds die mensekinders deur hulle leuenagtige woorde. Sou die sluier voor ons oë gelig word, sou ons die bose engele sien wat al hulle lis inspan om te mislei en te vernietig. Oral waar ‘n invloed uitgeoefen word om mense van God te laat vergeet, daar oefen Satan sy towerkrag uit. Wanneer mense aan sy invloed toegee, word die verstand benewel en die siel besoedel voordat hulle dit besef. Die volk van God behoort ag te slaan op die vermaning van die apostel aan die gemeente in Éfese: “Hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer.” (Efesiërs 5:11). DHDA 248.1