Die Handelinge Van Die Apostels
Hoofstuk 26—Apollos in Korinthe*
Nadat Paulus Korinthe verlaat het, was Éfese sy volgende arbeidsveld. Hy was onderweg na Jerusalem om die naderende fees by te woon en dus was sy verblyf in Éfese noodgedwonge van korte duur. Hy het die Jode in die sinagoge toegespreek en die indruk op hulle was so gunstig dat hulle hom gesmeek het om sy arbeid onder hulle voort te sit. Sy beplande besoek aan Jerusalem het verhinder dat hy langer by hulle kon bly, maar hy het belowe om na hulle terug te keer, “...as God wil.” Aquila en Priscilla het hom daarheen vergesel en hy het hulle daar agtergelaat om die werk wat hy begin het voort te sit. DHDA 229.1
Dit was gedurende hierdie tyd dat “...’n sekere Jood met die naam van Apollos, wat in Alexandrië gebore is, ‘n welsprekende man...” in Éfese aangekom het. Hy het die prediking van Johannes die Doper gehoor en die doop van bekering ontvang en was ‘n lewende getuie dat die werk van daardie profeet nie tevergeefs was nie. Die Skrifverslag van Apollos is dat: “Hy het onderrig ontvang in die weg van die Here; en vurig van gees, het hy gespreek en die dinge aangaande die Here noukeurig geleer, alhoewel hy net van die doop van Johannes geweet het.” DHDA 229.2
Terwyl Apollos in Éfese was, het hy “...vrymoediglik in die sinagoge begin spreek.” Onder sy toehoorders was Aquila en Priscilla wat, toe hulle besef het dat hy nog nie die volle lig van die evangelie ontvang het nie, “...hom by hulle geneem en hom noukeuriger die weg van God uitgelê.” Deur middel van hulle onderrig, het hy ‘n duideliker begrip van die Skrifte verkry en een van die bekwaamste voorstanders van die Christelike geloof geword. DHDA 229.3
Apollos was begerig om verder na Achaje te gaan en die broeders in Éfese het “...aan die dissipels geskrywe om hom te ontvang...” as ‘n leraar wat in volle harmonie met die kerk van Christus was. Hy het na Korinthe gegaan waar hy in die openbaar en van huis tot huis “...die Jode kragtig ... deur die Skrifte bewys [het] dat Jesus die Christus is.” Paulus het die saad van waarheid geplant; Apollos het dit nou natgemaak. Die welslae wat Apollos met sy verkondiging van die evangelie behaal het, het aanleiding gegee dat sommige gelowiges die werk van Apollos bo dié van Paulus verhef het. Hierdie vergelyking van die mens met die mens, het ‘n gees van partydigheid in die kerk ingebring en dit het gedreig om die vooruitgang van die evangelie te belemmer. DHDA 230.1
Gedurende die anderhalf jaar wat Paulus in Korinthe deurgebring het, het hy die evangelie doelbewus eenvoudig aangebied. Hy het nie “...met voortreflikheid van woorde of van wysheid...” na die Korinthiërs gegaan nie, maar met vrees en bewing en “...in die betoning van gees en krag...” het hy “...die getuienis van God...” verkondig, sodat hulle “...geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God.” (1 Korinthiërs 2:1,4,5). DHDA 230.2
Paulus het noodwendig sy manier van onderrig by die toestand van die kerk aangepas. Later het hy aan hulle verduidelik: “Ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie.” (1 Korinthiërs 3:1,2). Baie van die gelowiges in Korinthe was stadig van begrip aangaande die lesse wat hy hulle wou leer. Hulle vordering in geestelike kennis was nie in verhouding met hulle voorregte en geleenthede nie. Terwyl hulle in hul Christelike ervaring al ver gevorderd moes gewees het en die dieper waarhede van die Woord moes begryp en uitgeleef het, het hulle steeds gestaan waar die dissipels gestaan het toe Christus aan hulle gesê het: “Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nie nou dra nie.” (Johannes 16:12). Afguns, wantroue en beskuldigings het die harte van baie van die gelowiges in Korinthe teen die volle werking van die Heilige Gees gesluit, wat “...alle dinge, ook die dieptes van God...” ondersoek. (1 Korinthiërs 2:10). Hoe wys hulle ook al in wêreldse kennis was, was hulle nog maar suiglinge in die kennis van Christus. DHDA 230.3
Dit was Paulus se werk om die bekeerlinge in Korinthe in die eerste beginsels, die alfabet, van die Christelike geloof te onderrig. Hy was verplig om hulle as mense wat onkundig was aangaande die werking van die krag van God op die mensehart te onderrig. Destyds was hulle nie in staat om die verborgenhede van verlossing te begryp nie, want “...die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” (vers 14). Paulus het gepoog om die saad wat ander moes bevogtig, te saai. Diegene wat hom opgevolg het, moes die werk vanaf die punt waar hy opgehou het voortsit en op die regte tyd geestelike lig en kennis gee namate die kerk in staat was om dit te verdra. DHDA 231.1
Toe die apostel sy werk in Korinthe opgeneem het, het hy besef dat hy die groot waarhede wat hy wou leer baie versigtig moes bekendstel. Hy het geweet dat daar onder sy toehoorders, trotse aanhangers van menslike teorieë en voorstanders van valse stelsels van aanbidding sou wees, wat met blinde oë rondgetas het in die hoop dat hulle in die boek van die natuur teorieë sou vind wat die werklikheid van die geestelike en onsterflike lewe, soos in die Skrifte geopenbaar, sou weerspreek. Hy het ook geweet dat kritici sou poog om die Christelike vertolking van die geopenbaarde woord te betwis en dat skeptici die evangelie van Christus met spot en veragting sou bejeën. DHDA 231.2
In sy poging om siele na die voet van die kruis te lei, het Paulus dit nie gewaag om diegene wat losbandig was, regstreeks te bestraf of om aan te toon hoe gruwelik hulle sonde in die oë van ‘n heilige God was nie. Hy het eerder die ware doel van die lewe aan hulle voorgehou en probeer om die lesse van die Goddelike Leermeester op hul gemoed af te druk, wat hulle, indien dit aanvaar word, uit wêreldgesindheid en sonde tot reinheid en geregtigheid sou ophef. Hy het veral oor praktiese godsvrug en die heiligheid wat diegene moet bereik wat waardig vir ‘n plek in die koninkryk van God geag sal word, uitgewei. Hy het verlang om te sien dat die lig van die evangelie van Christus die duisternis van hulle gemoed sal deurdring, sodat hulle kan sien hoe aanstootlik hulle onsedelike gebruike in die oë van God is. Daarom was die las van sy onderrig onder hulle Christus en Hom as gekruisigde. Hy het getrag om hulle daarop te wys dat hul ernstigste studie en grootste vreugde, die heerlike waarheid van verlossing deur berou teenoor God en geloof in die Here Jesus Christus moes wees. DHDA 231.3
Die filosoof wyk van die lig van die verlossing af omdat dit sy trotse teorieë beskaam; die wêreldling weier om dit te aanvaar, omdat dit hom van sy aardse afgode sal skei. Paulus het besef dat mense die karakter van Christus moes verstaan voordat hulle Hom kon liefhê, of die kruis met die oog van geloof kon aanskou. Hier moet die studie, wat die wetenskap en die lied van die verlostes tot in alle ewigheid sal wees, begin. In die lig van die kruis alleen kan die ware waarde van die menslike siel bereken word. DHDA 232.1
Die louterende invloed van die genade van God verander die natuurlike ingesteldheid van die mens. Die hemel sal nie vir die vleesgesindes begeerlik wees nie; hulle natuurlike, ongeheiligde harte sou geensins aangetrokke tot daardie rein, heilige plek wees nie en indien dit vir hulle moontlik was om in te gaan, sou hulle niks gemoedelik daar vind nie. Die geneigdhede wat die natuurlike hart beheer, moet deur die genade van Christus onderwerp word voordat die gevalle mens geskik is om die hemel binne te gaan en die gemeenskap van rein, heilige engele te geniet. Wanneer die mens aan sonde sterf en tot ‘n nuwe lewe in Christus opgewek word, word sy hart met Goddelike liefde vervul; sy begrip word geheilig; hy drink uit die onuitputlike bron van vreugde en kennis en die lig van ‘n ewige dag skyn op sy weg, want die Lig van die lewe is voortdurend by hom. DHDA 232.2
Paulus het getrag om die gemoed van sy broeders in Korinthe diep te beïndruk met die feit dat hy en die predikers wat saam met hom gewerk het, slegs mense was wat deur God beveel is om die waarheid te verkondig, dat hulle almal met dieselfde werk besig was en dat hulle ewe veel van God afhanklik was vir die sukses van hulle arbeid. Die bespreking wat in die kerk ontstaan het oor die relatiewe verdienste van verskillende predikers, was nie in die orde van God nie, maar was die gevolg van die koestering van die eienskappe van die natuurlike hart. “As die een sê: Ek is van Paulus; en die ander: Ek van Apollos-is julle nie vleeslik nie? Wie is Paulus dan en wie Apollos anders as dienaars deur wie julle gelowig geword het? En dit soos die Here aan elkeen gegee het. Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei. So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei. ” (1 Korinthiërs 3:4-7). DHDA 233.1
Dit was Paulus wat die eerste keer die evangelie in Korinthe verkondig en die kerk daar gestig het. Dit was die werk wat die Here aan hom opgedra het. Later, onder die leiding van God, is ander werkers ingebring om hulle plek te vul. Die saad wat gesaai is, moes benat word en Apollos moes dit doen. Hy het Paulus in hierdie werk opgevolg om verdere onderrig te gee en om die saad wat reeds gesaai is, te help ontwikkel. Hy het die harte van die mense gewen, maar dit was God wat die saad laat groei het. Dit is nie menslike krag nie, maar Goddelike krag wat die transformasie van karakter bewerkstellig. Diegene wat plant en natmaak, veroorsaak nie dat die saad groei nie; hulle werk onder God as Sy aangewese werktuie en werk saam met Hom in Sy werk. Die eer en heerlikheid wat met sukses gepaardgaan, behoort aan die Meesterwerker. DHDA 233.2
Die diensknegte van God besit nie almal dieselfde gawes nie, maar hulle is almal Sy werksmense. Elkeen moet by die Groot Leermeester leer en dan moet hy met ander kommunikeer wat hy geleer het. God het aan elkeen van Sy boodskappers ‘n persoonlike taak toevertrou. Daar is ‘n verskeidenheid van gawes, maar al die werkers moet in harmonie, onder die beheer van die heiligmakende invloed van die krag van God saamwerk. Namate hulle die evangelie van die verlossing verkondig, sal baie deur die krag van God oortuig word en tot inkeer kom. Die menslike instrument word met Christus in God verberg en Christus kom as uitnemender as tienduisend te voorskyn en die Een, geheel en al lieflik. DHDA 234.1
“Maar hy wat plant en hy wat natmaak, is een, maar elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang. Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle.” (1 Korinthiërs 3:8,9). In hierdie skrifgedeelte vergelyk die apostel die kerk met ‘n bewerkte akker waarin die landbouers werk om die wingerdstokke wat die Here geplant het, te versorg; en ook met ‘n gebou wat ‘n heilige tempel vir God moet word. God is die Meesterwerker en Hy het aan elke mens sy werk aangewys. Almal moet onder Sy toesig werk en Hom toelaat om vir en deur Sy werkers te werk. Hy gee aan hulle takt en vaardigheid en indien hulle gehoor aan Sy opdragte gee, bekroon Hy hulle pogings met sukses. DHDA 234.2
Die dienaars van God moet saamwerk en op ‘n vriendelike, hoflike wyse verenig word en mekaar “...voorgaan in eerbetoning.” (Romeine 12:10). Daar moet geen onvriendelike kritiek wees nie en geen afkraking van iemand anders se werk nie; en daar moet geen afsonderlike partye wees nie. Elke mens aan wie die Here ‘n boodskap toevertrou het, het sy spesifieke taak. Elkeen het ‘n eie persoonlikheid wat hy nie in iemand anders moet laat wegsink nie. Tog moet elkeen in harmonie met sy broers saamwerk. In hul diens moet God se werkers in wese een wees. Niemand mag homself as maatstaf opstel, oneerbiedig van sy medewerkers praat of hulle as minderwaardig behandel nie. Onder God moet elkeen sy aangewese werk doen, gerespekteer, geliefd en aangemoedig deur die ander werkers. Saam moet hulle die werk voltooi. DHDA 234.3
Hierdie beginsels word breedvoerig in Paulus se eerste brief aan die kerk in Korinthe bespreek. Die apostel verwys na die “...dienaars van Christus... ” as “...bedienaars van die verborgenhede van God... ” en aangaande hulle werk, verklaar hy: “En verder word van die bedienaars vereis dat hulle getrou bevind moet word. Maar vir my beteken dit baie min of ek deur julle of deur ‘n menslike regbank beoordeel word; ja, ek beoordeel myself nie eens nie, want ek is my van geen ding bewus nie. Daardeur is ek egter nie geregverdig nie; maar Hy wat my beoordeel, is die Here. Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Here kom nie, wat die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak; en dan sal elkeen lof van God ontvang. ” (1 Korinthiërs 4:1-5). DHDA 235.1
Dit word aan geen mens gegee om tussen die verskillende dienaars van God te oordeel nie. Die Here alleen is die beoordelaar van die mens se werk en Hy sal aan elkeen sy regverdige beloning gee. DHDA 235.2
Die apostel het voortgegaan en het direk na die vergelykings wat tussen sy arbeid en dié van Apollos getref is, verwys: “Hierdie dinge, broeders, het ek op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie. Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?” (Verse 6,7). DHDA 235.3
Paulus het die gevare en ontberinge wat hy en sy medewerkers geduldig in hulle diens vir Christus verduur het, duidelik aan die kerk voorgehou: “Tot op hierdie uur ly ons honger en dors, is ons naak en word geslaan en swerwe ons rond en swoeg ons deur met ons eie hande te werk. Word ons uitgeskel, ons seën; word ons vervolg, ons verdra dit; word ons belaster, ons troos; soos uitvaagsels van die wêreld het ons geword, die afskraapsel van almal tot nou toe. Ek skrywe hierdie dinge nie om julle te beskaam nie, maar ek vermaan julle as my geliefde kinders. Want al sou julle tienduisend tugmeesters in Christus hê, dan het julle tog nie baie vaders nie; want in Christus Jesus het ek julle vader geword deur die evangelie.” (Verse 11-15). DHDA 236.1
Hy wat evangeliewerkers as Sy ambassadeurs uitstuur, word onteer wanneer daar onder die toehoorders so ‘n sterk gehegtheid aan ‘n geliefkoosde prediker openbaar word, dat daar ‘n onwilligheid is om die arbeid van ‘n ander leraar te aanvaar. Die Here stuur nie altyd die hulp aan Sy volk volgens hulle keuse nie, maar soos wat hulle benodig; want mense is kortsigtig en kan nie altyd onderskei wat tot hul eie beswil is nie. Dit gebeur selde dat een predikant al die nodige bevoegdhede besit wat noodsaaklik is om al die vereistes van die Christelike geloof in ‘n gemeente te vervolmaak; daarom stuur God dikwels ander predikers aan hulle, wat elkeen oor sekere bevoegdhede beskik waarin die ander gebrekkig was. DHDA 236.2
Die gemeente behoort hierdie diensknegte van Christus met dank te aanvaar net soos hulle die Meester self sou aanvaar. Hulle moet streef om al die voordele moontlik uit die onderrig wat elke predikant hulle uit die Woord van God gee, te put. Die waarhede wat die diensknegte van God bring, moet met sagmoedigheid en nederigheid waardeer word, maar geen leraar mag verafgod word nie. DHDA 236.3
Deur die genade van Christus word die dienaars van God tot boodskappers van lig en seën gemaak. Soos hulle deur ernstige, volhardende gebed met die Heilige Gees bedeel word en uitgaan met ‘n las om siele te red en hulle harte vol ywer is om die triomf van die kruis te versprei, sal hulle die vrug van hulle arbeid sien. Indien hulle vasberade weier om menslike wysheid aan die dag te lê en hulself te verhef, sal hulle ‘n werk verrig wat die aanslae van die Satan sal weerstaan. Baie siele sal uit die duisternis na die lig keer en talle gemeentes sal gestig word. Mense sal nie tot die menslike instrumente bekeer word nie, maar tot Christus. Die self sal op die agtergrond gehou word; net Jesus, die Man van Golgota, sal te voorskyn kom. DHDA 236.4
Diegene wat tans vir Christus werk, kan dieselfde kenmerkende voortreflikhede openbaar as diegene wat die evangelie in die dae van die apostels verkondig het. God is net so bereid om tans krag aan Sy dienaars te skenk, soos wat Hy was om aan Paulus en Apollos, Silas en Timotheus, Petrus, Jakobus en Johannes te skenk. DHDA 237.1
In die dae van die apostels, was daar sommige misleide siele wat beweer het dat hulle in Christus glo, maar tog geweier het om respek aan Sy ambassadeurs te betoon. Hulle het verklaar dat hulle geen menslike leermeester gevolg het nie, maar dat hulle regstreeks deur Christus onderrig is, sonder die hulp van die bedienaars van die evangelie. Hulle was onafhanklik van gees en onwillig om hulle aan die stem van die kerk te onderwerp. Sulke mense het in ernstige gevaar verkeer om mislei te word. DHDA 237.2
God het, as Sy aangestelde helpers, manne met verskillende talente in die gemeente geplaas, sodat deur die gesamentlike wysheid van baie, die wil van die Gees uitgevoer kon word. Manne wat in ooreenstemming met hulle eie sterk karaktertrekke optree en weier om in dieselfde juk met ander, wat lang ondervinding in die werk van God gehad het saam te trek, sal deur selfvertroue verblind word en nie in staat wees om tussen waarheid en valsheid te onderskei nie. Dis nie veilig vir sulke mense om as leiers van die gemeente gekies te word nie; want hulle sal hul eie oordeel en planne volg, sonder om die oordeel van hulle broers in ag te neem. Dit is baie maklik vir die vyand om deur diegene te werk wat, hoewel hulle self met elke stap raad nodig het, die bewaring van siele in hulle eie krag onderneem, sonder dat hulle die nederigheid van Christus geleer het. DHDA 237.3
Indrukke alleen is nie ‘n veilige gids vir diens nie. Die vyand oorreed mense dikwels om te glo dat dit God is wat hulle lei, terwyl hulle in werklikheid slegs menslike impulse volg. Maar as ons versigtig waak en ons broers raadpleeg, sal ons ‘n begrip van die wil van die Here kry; want die belofte is: “Hy sal die ootmoediges lei in die reg en die ootmoediges sy weg leer.” (Psalm 25:9). DHDA 238.1
In die vroeë Christelike kerk, was daar sommige wat geweier het om Paulus of Apollos te erken, maar volgehou het dat Petrus hulle leier was. Hulle het daarop aangedring dat Petrus die intiemste met Christus was terwyl Hy op die aarde was, terwyl Paulus ‘n vervolger van die gelowiges was. Hulle sienings en gevoelens was met vooroordeel verbind. Hulle het nie die ruimhartigheid, die vrygewigheid en die teerheid wat openbaar dat Christus in hul hart woon betoon nie. DHDA 238.2
Daar was ‘n gevaar dat hierdie gees van partydigheid, ‘n groot onheil vir die Christelike kerk kon meebring en Paulus het opdrag van die Here ontvang om woorde van ernstige vermaning en beswaar daarteen te spreek. Van diegene wat gesê het: “Ek is van Paulus en ek van Apollos en ek van Cefas en ek van Christus...” het die apostel verneem: “Is Christus verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig? Of is julle in die naam van Paulus gedoop?” Hy het gepleit: “Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle; of dit Paulus is of Apollos of Cefas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge-alles behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.” (1 Korinthiërs 1:12,13;3:21-23). DHDA 238.3
Paulus en Apollos was in perfekte harmonie. Laasgenoemde was teleurgesteld en bedroef oor die onenigheid in die kerk in Korinthe; hy het geen voordeel uit die voorkeur wat aan hom bewys is getrek nie, dit nie aangemoedig nie, maar die toneel van geskil vinnig verlaat. Toe Paulus hom daarna aangespoor het om Korinthe weer te besoek, het hy geweier en eers lank daarna, nadat die kerk daar in ‘n beter geestelike toestand verkeer het, weer daar gewerk. DHDA 239.1