Die Handelinge Van Die Apostels

26/59

Hoofstuk 25—Die Briewe aan die Thessalonicense*

Die koms van Silas en Timotheus uit Macedonië tydens Paulus se verblyf in Korinthe, het die apostel grootliks bemoedig. Hulle het aan hom ‘n “...goeie tyding...” van “...geloof en liefde...” van diegene wat die waarheid tydens die eerste besoek van die evangelieboodskappers aan Thessalonika, aangeneem het gebring. Paulus se hart het met deernis na hierdie gelowiges uitgegaan wat, te midde van beproewing en teëspoed, aan God getrou gebly het. Hy het verlang om hulle persoonlik te besoek, maar omdat dit nie op daardie stadium moontlik was nie, het hy aan hulle geskryf. DHDA 217.1

In hierdie brief aan die gemeente in Thessalonika, spreek die apostel sy dank aan God uit vir die vreugdevolle tyding van hulle toename in die geloof. “Daarom, broeders...” het hy geskryf, “...is ons in al ons verdrukking en nood vertroos oor julle deur jul geloof. Want nou leef ons, as julle vasstaan in die Here. Want watter dank kan ons God vergelde oor julle vir al die blydskap waarmee ons om julle ontwil ons verbly voor onse God, terwyl ons nag en dag baie ernstig bid om julle aangesig te sien en te voltooi wat aan julle geloof ontbreek?” DHDA 217.2

“Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink in ons gebede en onophoudelik in gedagte hou die werk van julle geloof en die arbeid van julle liefde en die lydsaamheid van julle hoop op onse Here Jesus Christus, voor onse God en Vader.” DHDA 217.3

Baie van die gelowiges in Thessalonika het hulle “...van die afgode bekeer ... om die lewende en waaragtige God te dien.” Hulle het “...die woord in baie verdrukking ontvang...” en hulle harte was vol van “...die blydskap van die Heilige Gees.” Die apostel het verklaar dat hulle in hulle troue navolging van die Here, “...voorbeelde geword het vir al die gelowiges in Macedonië en Achaje.” Hierdie woorde van lof was nie sonder verdienste nie, “...want van julle uit...” het hy geskryf, “...het die woord van die Here weerklink nie alleen in Macedonië en Achaje nie, maar ook op elke plek het julle geloof in God uitgegaan.” DHDA 217.4

Die gelowiges in Thessalonika was ware sendelinge. Hulle harte het met ywer vir hul Verlosser, wat hulle van “...die toekomstige toorn...” verlos het, gebrand. Deur die genade van Christus het daar ‘n wonderbare transformasie in hulle lewens plaasgevind en die woord van die Here, soos deur hulle gespreek, het met krag gepaard gegaan. Harte is deur die waarhede wat deur hulle verkondig is verower en siele is tot die getal gelowiges toegevoeg. DHDA 218.1

In hierdie eerste sendbrief het Paulus na die wyse waarop hy onder die Thessalonicense gewerk het verwys. Hy het verklaar dat hy nie probeer het om bekeerlinge deur middel van misleiding of bedrog te wen nie. “Soos ons deur God waardig geag is dat die evangelie aan ons toevertrou sou word, so spreek ons, nie om mense te behaag nie, maar God wat ons harte beproef. Want ons het, soos julle weet, ons nooit met vleitaal opgehou of met bedekte hebsug nie. God is getuie. Ook het ons nie eer van mense, of van julle of van ander, gesoek nie, al kon ons as apostels van Christus met gesag optree. Maar ons was vriendelik onder julle soos ‘n pleegmoeder haar kinders koester. Terwyl ons so na julle verlang het, was dit vir ons aangenaam om aan julle nie alleen die evangelie van God mee te deel nie, maar ook ons eie lewe, omdat julle vir ons dierbaar geword het.” DHDA 218.2

“Julle is getuies en God...” het die apostel vervolg, “...hoe heilig en regverdig en onberispelik ons ons gedra het teenoor julle wat glo, hoe ons, soos julle weet, net soos ‘n vader sy kinders, elkeen van julle vermaan en bemoedig het en betuig het dat julle waardiglik moet wandel voor God wat julle tot sy koninkryk en heerlikheid roep.” DHDA 218.3

“Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo ... Want wie anders as julle is ons hoop of blydskap of kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by Sy wederkoms? Want julle is ons eer en blydskap.” DHDA 219.1

In sy eerste sendbrief aan die gelowiges in Thessalonika het Paulus gepoog om hulle aangaande die ware toestand van die dode te onderrig. Hy het van die afgestorwenes as slapendes gepraat-’n toestand van bewusteloosheid. “Broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring ... Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.” DHDA 219.2

Die Thessalonicense het die gedagte dat Christus sou kom om die getroues wat in die lewe was te verander en hulle na Homself te neem gretiglik aanvaar. Hulle het versigtig oor die lewens van hulle vriende gewaak, sodat hulle nie sou sterf en die seën waarna hulle uitgesien het om met die koms van die Here te ontvang, verloor nie. Maar die een na die ander is hul geliefdes van hulle weggeneem en die Thessalonicense het met smart vir die laaste keer die aangesigte van hulle ontslapenes aanskou en het skaars durf hoop om hulle in ‘n toekomstige lewe weer te ontmoet. DHDA 219.3

Toe hulle Paulus se brief oopmaak en dit lees, het die woorde wat die ware toestand van die dode openbaar, vreugde en vertroosting vir die kerk gebring. Paulus het getoon dat diegene wat nog in die lewe is wanneer Christus kom, hulle Here nie voor diegene wat in Jesus ontslaap het, sou ontmoet nie. Die stem van die aartsengel en die basuin van God sal die slapendes bereik en diegene wat in Christus gesterf het, sal eers opstaan, voordat die lewendes met onsterflikheid aangeraak word. “Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.” DHDA 220.1

Die hoop en vreugde wat hierdie versekering aan die jong kerk in Thessalonika gebring het, kan skaars deur ons begryp word. Hulle het die brief wat hulle vader in die evangelie aan hulle gestuur het geglo en gekoester en hulle harte het in liefde na hom uitgegaan. Hy het hulle vantevore van hierdie dinge vertel; maar op daardie stadium het hulle gestreef om leerstellings wat vir hulle nuut en vreemd voorgekom het, te begryp en dit is nie verbasend dat die stukrag van sommige punte nie ‘n duidelike indruk op hulle gemoed gemaak het nie. Maar hulle was op soek na die waarheid en Paulus se brief het aan hulle nuwe hoop en krag gegee en ‘n sterker vertroue in en ‘n dieper geneentheid vir die Een wat deur Sy dood, lewe en onsterflikheid aan die lig gebring het. DHDA 220.2

Hulle het hulle nou in die wete dat hulle gelowige vriende uit die graf opgewek sou word om vir ewig in die koninkryk van God te leef, verheug. Die duisternis wat die rusplek van die dode omhul het, is verdryf. ‘n Nuwe glansrykheid het die Christelike geloof bekroon en hulle het ‘n nuwe heerlikheid in die lewe, dood en opstanding van Christus gesien. DHDA 220.3

“Dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring...” het Paulus geskryf. Baie vertolk hierdie gedeelte as dat die slapendes saam met Christus uit die hemel gebring sal word; maar Paulus het bedoel dat, net soos Christus uit die dood opgewek is, God die slapende heiliges uit hul grafte sal roep en saam met Hom na die hemel sal neem. Kosbare vertroosting! Heerlike hoop! Nie net vir die kerk in Thessalonika nie, maar vir alle Christene waar hulle hul ook al mag bevind. DHDA 221.1

Terwyl Paulus in Thessalonika gewerk het, het hy die tekens van die tye so volledig behandel en gewys watter gebeure voor die openbaring van die Seun van die mens in die wolke van die hemel sou plaasvind, dat hy dit nie nodig geag het om breedvoerig oor hierdie onderwerp uit te wei nie. Hy het egter met nadruk na sy vorige leerstellings verwys. “Maar oor die tye en geleenthede...” het hy gesê, “...het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie; want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ‘n dief in die nag. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid-dan oorval ‘n skielike verderf hulle.” DHDA 221.2

Daar is deesdae baie in die wêreld wat hulle oë vir die bewyse wat Christus gegee het om mense aangaande Sy koms te waarsku, sluit. Hulle probeer om al hulle angs te stil terwyl die tekens van die einde terselfdertyd vinnig in vervulling gaan en die wêreld voortsnel na die tyd wanneer die Seun van die mens in die wolke van die hemel geopenbaar sal word. Paulus leer dat dit sonde is om onverskillig teenoor die tekens wat die wederkoms van Christus voorafgaan te wees. Diegene wat hulle aan hierdie soort nalatigheid skuldig maak, noem hy kinders van die nag en van die duisternis. Hy bemoedig diegene wat nugter en waaksaam is met hierdie woorde: “Maar julle broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ‘n dief sou oorval nie. Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie. Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.” DHDA 221.3

Die leer van die apostel op hierdie punt, is veral belangrik vir die kerk in ons tyd. Vir diegene wat so na aan die groot eindgebeure leef, behoort die woorde van Paulus veelseggend te wees: “Laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan en as helm die hoop op die saligheid. Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe.” DHDA 222.1

Die waaksame Christen is ‘n werksame Christen wat ywerig streef om alles in sy vermoë tot bevordering van die evangelie te doen. Namate sy liefde vir sy Verlosser toeneem, neem ook sy liefde vir sy medemense toe. Hy het ernstige beproewinge, net soos sy Meester gehad het, maar hy laat nie toe dat swaarkry sy gemoed versuur of sy gemoedsrus vernietig nie. Hy weet dat beproewing, indien dit goed verdra word, hom sal verfyn en suiwer en hom in nouer gemeenskap met Christus sal bring. Diegene wat in die lyding van Christus deel, sal ook aan Sy vertroosting deel hê en uiteindelik deel in Sy heerlikheid. DHDA 222.2

Paulus het sy brief aan die Thessalonicense voortgesit: “Ons vra julle, broeders, erken die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is en julle vermaan; en bewys hulle in liefde die hoogste agting ter wille van hulle werk. Hou vrede onder mekaar.” DHDA 222.3

Die gelowiges in Thessalonika het groot las gehad van mense wat met fanatiese idees en leerstellings onder hulle ingekom het. Sommige was “...onordelik...” en het nie gewerk nie, maar was “...bemoeisiek.” Die kerk was behoorlik georganiseer en amptenare is aangestel om as predikante en diakens op te tree. Maar daar was sommige wat eiesinnig en voortvarend was en geweier het om ondergeskik aan diegene wat gesagsposisies in die kerk beklee het, te wees. Hulle het nie net op die reg van eie oordeel aanspraak gemaak nie, maar om ook om hul eie sienswyse in die openbaar aan die kerk op te dring. In die lig hiervan het Paulus die aandag van die Thessalonicense gevestig op die respek en eerbied wat diegene toekom wat gekies is om gesagsposisies in die kerk te beklee. DHDA 222.4

In sy angstigheid dat die gelowiges in Thessalonika in die vrees van God moet wandel, het die apostel by hulle gepleit om praktiese godsvrug in die daaglikse lewe te openbaar. “Verder dan, broeders, vra en vermaan ons julle in die Here Jesus...” het hy geskryf, “...dat julle, soos julle van ons geleer het hoe julle moet wandel en God behaag, nog oorvloediger mag wees. Want julle weet watter bevele ons julle deur die Here Jesus gegee het. Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery ... Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking.” DHDA 223.1

Die apostel was van mening dat hy in ‘n groot mate verantwoordelik vir die geestelike welsyn van diegene wat deur sy arbeid bekeer is, was. Sy begeerte vir hulle was dat hulle sou toeneem in die kennis van die enigste ware God en Jesus Christus wat Hy gestuur het. Hy het dikwels in sy bediening met klein groepies saamgekom, manne en vroue wat Jesus liefgehad het en hy het saam met hulle gekniel en gebid dat God hulle moes leer hoe om ‘n lewende band met Hom te behou. Dikwels het hy hulle geraadpleeg oor die beste metodes om die lig van die evangeliewaarheid met ander te deel. En dikwels wanneer hy van diegene vir wie hy so gewerk het geskei was, het hy by God gepleit om hulle van kwaad te weerhou en hulle te help om ernstige, aktiewe sendelinge te wees. DHDA 223.2

Een van die sterkste bewyse van ware bekering is liefde tot God en die mens. Diegene wat Jesus as hulle Verlosser aanneem, het ‘n innige, opregte liefde vir ander met dieselfde kosbare geloof. So was dit met die gelowiges in Thessalonika gesteld. “Oor die broederliefde”... het die apostel geskryf, “...het julle nie nodig dat ons julle skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê; en julle doen dit ook aan al die broeders in die hele Macedonië; maar ons vermaan julle, broeders, om oorvloediger te wees en julle eer daarin te stel om rustig te lewe en julle eie sake te behartig en met julle eie hande te werk, soos ons julle beveel het, sodat julle welvoeglik kan wandel teenoor die wat buite is, en aan niks behoefte mag hê nie.” DHDA 223.3

“Mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in liefde vir mekaar en vir almal, soos ons ook teenoor julle is, sodat Hy julle harte kan versterk om onberispelik te wees in heiligheid voor onse God en Vader by die wederkoms van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges.” DHDA 224.1

“Ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal. Sorg dat niemand ‘n ander kwaad vir kwaad vergeld nie; maar jaag altyd na wat goed is, teenoor mekaar sowel as teenoor almal. Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.” DHDA 224.2

Die apostel het die Thessalonicense gewaarsku om nie die gawe van profesie te minag nie en met die woorde: “Blus die Gees nie uit nie. Verag die profesieë nie. Beproef alle dinge; behou die goeie... ” het hy hulle vermaan om noukeurig tussen die ware en die valse te onderskei. Hy het hulle versoek: “Onthou julle van elke vorm van kwaad;...” en hy sluit sy brief af met die bede dat God hulle geheel en al mag heilig sodat hulle “...gees en siel en liggaam ... onberispelik bewaar...” mag word “...by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou.” En dan voeg hy by: “Hy sal dit ook doen.” DHDA 224.3

Die opdrag wat Paulus in sy eerste sendbrief aan die Thessalonicense aangaande die wederkoms van Christus gegee het, was in perfekte harmonie met sy vorige lering. Nogtans het sommige van die broeders in Thessalonika sy woorde misverstaan. Hulle het verstaan dat hy die hoop uitgespreek het dat hy self sou leef om die wederkoms van die Verlosser te sien. Hierdie oortuiging het slegs gedien om hul entoesiasme en opgewondenheid te verhoog. Diegene wat voorheen hulle verantwoordelikhede en pligte versuim het, het nou meer volhard om hul verkeerde sienswyses af te dwing. DHDA 225.1

In sy tweede brief het Paulus gepoog om die wanbegrip aangaande sy lering reg te stel en om sy ware posisie aan hulle voor te lê. Hy het weer sy vertroue in hulle integriteit uitgespreek en sy dankbaarheid betuig dat hul geloof sterk was en hul liefde vir mekaar en vir die saak van hulle Meester oorvloedig was. Hy het aan hulle gesê dat hy hulle aan ander gemeentes voorgehou het as ‘n voorbeeld van geduldige, volhardende geloof wat vervolging en verdrukking moedig weerstaan en hy het hulle gedagtes vooruit gevoer na die wederkoms van Christus wanneer die volk van God van al hulle sorge en ellende sal rus. DHDA 225.2

Hy het geskryf dat hulle self “...in die gemeentes van God oor julle roem vanweë jul volharding en geloof onder al julle vervolginge en die verdrukkinge wat julle verduur ... en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie. Hulle sal as straf ondergaan ‘n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte ... Daarom bid ons ook altyd vir julle dat onse God julle die roeping waardig mag ag en dat Hy alle welgevalle aan wat goed is en alle werk van die geloof met krag volkome mag maak, sodat die Naam van onse Here Jesus Christus in julle verheerlik kan word en julle in Hom, ooreenkomstig die genade van onse God en die Here Jesus Christus.” DHDA 225.3

Maar voor die wederkoms van Christus, sou belangrike ontwikkelinge in die godsdienstige wêreld, soos in die profesieë voorspel, plaasvind. Die apostel het verklaar: “Ons vra julle ... om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie-deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees-asof die dag van Christus al daar is. Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.” DHDA 226.1

Paulus se woorde moes nie verkeerd vertolk word nie. Daar moes nie geleer word dat hy, deur spesiale openbaring, die Thessalonicense gewaarsku het aangaande die onmiddellike koms van Christus nie. So ‘n bewering sou verwarring van geloof veroorsaak, want teleurstelling gee dikwels aanleiding tot ongeloof. Die apostel het die broeders derhalwe gewaarsku om nie so ‘n boodskap as komende van hom te ontvang nie en hy die feit beklemtoon dat die pouslike mag wat so duidelik deur die profeet Daniël beskryf word, nog moes opstaan om teen God se volk oorlog te voer. Totdat hierdie mag sy dodelike en godslasterlike werk verrig het, sou dit tevergeefs vir die kerk wees om uit te kyk vir die koms van hul Here. “Onthou julle nie...” het Paulus verneem, “...dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie?” DHDA 226.2

Die beproewings wat oor die ware kerk sou kom was skrikwekkend. Selfs in die tyd toe die apostel geskryf het, was die “...verborgenheid van die ongeregtigheid...” al aan die werk. Die ontwikkelinge van die toekoms sou plaasvind “...volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan.” DHDA 226.3

Besonder plegtig is die uitspraak van die apostel aangaande diegene wat sou weier om “...die liefde tot die waarheid...” aan te neem. “Daarom...” het hy verklaar, “...sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.” Mense kan nie die waarskuwings wat God in Sy genade aan hulle stuur, ongestraf verwerp nie. Aan diegene wat volhard om van Sy waarskuwings weg te draai, onttrek God Sy Gees en Hy laat hulle aan die misleiding wat hulle liefhet oor. DHDA 227.1

So het Paulus die verderflike werk van daardie bose mag wat gedurende lang eeue van duisternis en vervolging voor die wederkoms van Christus sou voortduur, uiteengesit. Die gelowiges in Thessalonicense het op onmiddellike bevryding gehoop; nou is hulle vermaan om die werk voor hulle moedig en in die vrees van God op te neem. Die apostel het hulle vermaan om nie hul pligte te versuim of hulself aan ledige afwagting oor te gee nie. Na hulle gloeiende verwagtinge van onmiddellike bevryding, het die daaglikse lewe en die opposisie wat hulle sou teëkom dubbel somber voorgekom. Daarom het hy hulle aangespoor om standvastig in die geloof te wees. DHDA 227.2

“Staan vas en hou julle aan die voorskrifte wat julle geleer is of deur ‘n woord of deur ‘n brief van ons. En mag onse Here Jesus Christus self en onse God en Vader, wat ons liefgehad het en ‘n ewige troos en goeie hoop in genade gegee het, julle harte vertroos en julle versterk in alle goeie woorde en werke! ... Die Here is getrou; Hy sal julle versterk en bewaar van die Bose. En ons vertrou aangaande julle in die Here dat julle doen en ook sal doen wat ons julle beveel. Mag die Here julle harte rig tot die liefde van God en die lydsaamheid van Christus!” DHDA 227.3

Die werk van die gelowiges is deur God aan hulle gegee. Deur hul getroue nakoming van die waarheid, moes hulle die lig wat hulle ontvang het ook met ander deel. Die apostel het hulle beveel om nie moeg te word om goed te doen nie en hy het hulle op sy eie voorbeeld van ywer in tydelike aangeleenthede gewys, terwyl hy nog met onvermoeide ywer in die saak van Christus gewerk het. Hy het diegene wat hulle aan traagheid en doellose opwinding oorgegee het bestraf en hulle beveel “...om rustig te werk en hulle eie brood te eet.” Hy het ook aan die kerk die opdrag gegee om elkeen wat volhard om die instruksies van die dienaars van God te verontagsaam, van hul gemeenskap af te skei. Tog het hy hulle vermaan: “Beskou hom nie as ‘n vyand nie, maar vermaan hom as ‘n broeder.” DHDA 228.1

Paulus het hierdie brief ook met ‘n gebed afgesluit, dat die vrede van God en die genade van die Here Jesus Christus, te midde van die moeite en beproewing van die lewe, hulle mag vertroos en ondersteun. DHDA 228.2