Die Handelinge Van Die Apostels

25/59

Hoofstuk 24—Korinthe*

Gedurende die eerste eeu van die Christelike era was Korinthe een van die voorste stede, nie net van Griekeland nie, maar ook van die hele wêreld. Grieke, Jode en Romeine het saam met reisigers uit alle lande in sy strate, met gretige voornemens vir besigheid en plesier gewemel. Dit was ‘n groot handelsentrum binne maklike bereik van alle dele van die Romeinse Ryk en dit was, ‘n belangrike plek om gedenktekens vir God en Sy waarheid te vestig. DHDA 207.1

Onder die Jode wat hulle in Korinthe gevestig het, was Aquila en Priscilla, wat later onderskei is as ernstige werkers vir Christus. Nadat hy met die karakter van hierdie persone bekend geraak het, het Paulus “...by hulle gebly.” DHDA 207.2

Heel aan die begin van sy werk in hierdie besige deurpad vir reisigers, het Paulus aan alle kante ernstige hindernisse vir die vordering van sy werk gewaar. Die stad was byna heeltemal aan afgodediens oorgegee. Venus was die gunsteling godin en talle demoraliserende rituele en seremonies het met die aanbidding van Venus gepaardgegaan. Die Korinthiërs het selfs onder die heidene berug geraak as gevolg van hul growwe onsedelikheid. Dit het geblyk asof hulle min aandag geskenk het of omgegee het vir dinge buite die plesier en pret van die oomblik. DHDA 207.3

Met die prediking van die evangelie in Korinthe, het die apostel ‘n ander weg gevolg as wat sy arbeid in Athene gekenmerk het. Terwyl hy op laasgenoemde plek was, het hy gepoog om sy benadering by die aard van sy gehoor aan te pas; hy het logika met logika, wetenskap met wetenskap, filosofie met filosofie vergelyk. Toe hy oor die tyd wat hy op hierdie wyse bestee het nadink, het hy besef dat sy onderrig in Athene min vrugte opgelewer het en hy het besluit om anders in Korinthe te werk te gaan in sy pogings om die aandag van die sorgelose en onverskilliges se aandag te trek. Hy het besluit om uitgebreide argumente en besprekings te vermy en om onder die Korinthiërs “...niks anders ... te weet nie as Jesus Christus en Hom as gekruisigde.” Hy sou vir hulle preek, “...nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag.” (1 Korinthiërs 2:2,4). DHDA 207.4

Jesus, wie Paulus van voorneme was om voor die Grieke in Korinthe as Christus aan te bied, was ‘n Jood van nederige herkoms, wat grootgeword het in ‘n stad wat spreekwoordelik vir sy boosheid was. Hy is deur Sy eie volk verwerp en is uiteindelik as ‘n misdadiger gekruisig. Die Grieke het geglo dat dit nodig was dat die mensdom opgehef moes word, maar het die studie van filosofie en die wetenskap as die enigste wyse beskou waarop ware verheffing en eer bereik kon word. Kon Paulus hulle laat glo dat geloof in die mag van hierdie onbekende Jood elke mag van die wese sal opbou en veredel? DHDA 208.1

In die gedagtes van menigtes wat tans lewe, word die kruis van Golgota deur heilige herinneringe omring. Heilige verbintenisse word aan die tonele van die kruisiging geheg. Maar in Paulus se tyd is die kruis met gevoelens van afsku en afgryse bejeën. Om iemand wat aan die kruis gesterf het as die Verlosser van die wêreld voor te hou, sou natuurlik spot en teëstand uitlok. DHDA 208.2

Paulus het goed geweet hoe sy boodskap deur sowel Jood as Griek in Korinthe ontvang sou word. “Ons verkondig Christus wat gekruisig is... ” het hy erken, “...’n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke.” (1 Korinthiërs 1:23). Onder sy Joodse toehoorders was daar baie wat hulle oor die boodskap wat hy op die punt was om te verkondig, sou vererg. Volgens die Grieke sou sy woorde onsinnige dwaasheid wees. Hy sou as ‘n swakkeling beskou word om te probeer wys dat die kruis enige verband met die verheffing van die menseras of die redding van die mense kon hê. DHDA 208.3

Maar vir Paulus was die kruis die enigste voorwerp van uiterste belang. Sedert hy in sy loopbaan as vervolger van die volgelinge van die gekruisigde Nasarener gestuit is, het hy nooit opgehou om in die kruis te roem nie. Hy het destyds ‘n openbaring van die oneindige liefde van God ontvang, soos in die dood van Christus geopenbaar; en ‘n wonderlike hervorming het in sy lewe plaasgevind, wat al sy planne en voornemens in harmonie met die hemel gebring het. Van daardie uur af was hy ‘n nuwe mens in Christus. Uit eie ondervinding het hy geweet dat wanneer ‘n sondaar eenmaal die liefde van die Vader, soos gesien in die soenoffer van Sy Seun, aanskou het en aan die Goddelike invloed toegegee het, daar ‘n hartsverandering plaasvind en dat Christus voortaan alles en in alles is. DHDA 209.1

Ten tye van sy bekering is Paulus met ‘n groot verlange besiel om sy medemens te help om Jesus van Nasaret as die Seun van die lewende God te sien, wat magtig is om te transformeer en te red. Voortaan is sy lewe geheel en al gewy aan ‘n poging om die liefde en krag van die Gekruisigde Een uit te beeld. Sy groot hart van medelye het alle klasse omsluit. Hy het verklaar: “Teenoor Grieke sowel as nie-Grieke, teenoor wyse sowel as onverstandige mense is ek ‘n skuldenaar.” (Romeine 1:14). Liefde vir die Here van heerlikheid wat hy so meedoënloos in die persoon van Sy heiliges vervolg het, was die dryfkrag vir sy optrede. Indien die ywer vir sy plig ooit verflou het, was een blik op die kruis en die verstommende liefde wat daar geopenbaar is, genoeg om die lendene van sy verstand te omgord en hom op die weg van selfverloëning vorentoe te laat beur. DHDA 209.2

Aanskou die apostel wat in die sinagoge in Korinthe preek, uit die geskrifte van Moses en al die profete redeneer en sy toehoorders tot by die koms van die beloofde Messias bring. Luister na sy verduideliking van die werk van die Verlosser as groot hoëpriester van die mensdom-die Een wat deur die offer van Sy eie lewe, eens en vir altyd versoening vir die sonde van almal sou doen en dan Sy bediening in die hemelse heiligdom sou opneem. Paulus het sy toehoorders laat verstaan dat die Messias na wie se koms hulle verlang het, reeds gekom het; dat Sy dood die teëbeeld van al die soenoffers was en dat Sy bediening in die hemelse heiligdom die groot werklikheid was wat sy skaduwee teruggewerp het en die bediening van die Joodse priesterskap duidelik gemaak het. DHDA 209.3

Paulus het aan die Jode “...betuig dat Jesus die Christus is.” Uit die Ou-Testamentiese Skrifte het hy volgens die profesieë en die algemene verwagting van die Jode bewys dat die Messias uit die geslag van Abraham en Dawid sou wees; daarna het hy die afkoms van Jesus vanaf die aartsvader Abraham, deur die koninklike psalmdigter nagespoor. Hy het die getuienis van die profete aangaande die karakter en werk van die beloofde Messias en Sy ontvangs en behandeling op aarde voorgelees; toe het hy daarop gewys dat al hierdie voorspellings in die lewe, bediening en dood van Jesus van Nasaret vervul is. DHDA 210.1

Paulus het getoon dat Christus gekom het om eerstens verlossing aan die volk, wat na die koms van die Messias uitgesien het as die voleinding en heerlikheid van hulle nasionale bestaan, te bied. Maar daardie volk het Hom, wat aan hulle lewe sou geskenk het, verwerp en het ‘n ander leier gekies wie se bewind in die dood sou eindig. Hy het gepoog om die feit aan sy toehoorders tuis te bring, dat alleenlik berou die Joodse volk van die dreigende ondergang kon red. Hy het hul onkunde aangaande die betekenis van die Skrifte waarop hulle veral geroem het dat hulle dit ten volle verstaan, aan hulle geopenbaar. Hy het hulle wêreldgesindheid, hul strewe na posisie, titels en vertoon en hulle buitensporige selfsug bestraf. DHDA 210.2

In die krag van die Gees het Paulus van sy eie wonderlike bekering en ook van sy vertroue in die Ou- Testamentiese Skrifte wat so volledig in Jesus van Nasaret vervul is, getuig. Sy woorde is met plegtige erns geuiter en sy toehoorders kon nie anders as om te besef dat hy die gekruisigde en opgestane Verlosser met sy hele hart liefgehad het nie. Hulle het gesien dat sy gedagtes geheel en al op Christus gesentreer was en dat sy hele lewe aan sy Here gebonde was. Sy woorde was so indrukwekkend dat slegs diegene wat met die bitterste haat teenoor die Christelike geloof gevul was, onaangeraak kon bly. DHDA 211.1

Maar die Jode van Korinthe het hulle oë vir die bewyse wat die apostel so duidelik aan hulle voorgehou het gesluit en geweier om aan sy oproep gehoor te gee. Dieselfde gees wat hulle gelei het om Christus te verwerp, het hulle met toorn en woede teen Sy dienskneg vervul; en as God hom nie op ‘n besondere wyse beskerm het sodat hy die evangelieboodskap aan die Heidene kon oordra nie, sou hulle ‘n einde aan sy lewe gemaak het. DHDA 211.2

“Maar toe hulle aanhou om teëstand te bied en godslasterlike dinge te spreek, het hy sy klere uitgeskud en vir hulle gesê: Julle bloed is op julle hoof. Ek is rein. Van nou af sal ek na die heidene gaan. En hy het daarvandaan weggegaan en in die huis gekom van iemand met die naam van Justus, wat ‘n godvresende man was, wie se huis naasaan die sinagoge gestaan het.” DHDA 211.3

Silas en Timotheus het “...van Macedonië afgekom...” om Paulus te help en saam het hulle vir die Heidene gewerk. Paulus en sy metgeselle het aan die heidene sowel as aan die Jode, Christus as die Verlosser van die gevalle ras verkondig. Die boodskappers van die kruis het ingewikkelde, vergesogte redenasies vermy en oor die eienskappe van die Skepper van die heelal, uitgewei. Met hulle harte brandend met liefde vir God en Sy Seun, het hulle op die heidene ‘n beroep gedoen om die oneindige offer wat ten behoewe van die mens gebring is, te aanskou. Hulle het geweet dat indien diegene wat in die duisternis van heidenisme rondgetas het, die lig wat van die kruis van Golgota stroom kon aanskou, hulle na die Verlosser getrek sou word. Die Heiland het verklaar: “Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.” (Johannes 12:32). DHDA 211.4

Die evangeliewerkers in Korinthe het die verskriklike gevare wat die siele van diegene vir wie hulle gewerk het bedreig het, besef en dit was met ‘n besef van die verantwoordelikheid wat op hulle gerus het om die waarheid, soos in Jesus vervat, te verkondig. Hulle boodskap was helder, duidelik en beslis-’n geur van lewe tot lewe, of van dood tot dood. En nie net in hul woorde nie, maar ook in hul daaglikse lewe, is die evangelie geopenbaar. Engele het met hulle saamgewerk en die genade en krag van God is in die bekering van talle getoon. “Crispus, die hoof van die sinagoge, het met sy hele huisgesin in die Here geglo; en ook baie van die Korinthiërs het, toe hulle hom hoor, gelowig geword en is gedoop.” DHDA 212.1

Die haat waarmee die Jode die apostels bejeën het, het nou meer intens geword. Die bekering en doop van Crispus, het die effek gehad om hierdie hardnekkige teëstanders te vertoorn eerder as te oortuig. Hulle kon geen argumente aanvoer om Paulus se prediking te weerlê nie en by gebrek aan sulke weerlegging het hulle hul tot bedrog en kwaadwillige aanvalle gewend. Hulle het die evangelie en die Naam van Jesus gelaster. In hul blinde woede was geen woorde te bitter en geen listigheid te laag vir hulle om aan te wend nie. Hulle kon nie ontken dat Christus wonderwerke verrig het nie; maar hulle het verklaar dat Hy dit in die mag van die Satan verrig het; en hulle het blatant beweer dat die wonderbaarlike werke wat Paulus verrig het, deur dieselfde mag verrig is. DHDA 212.2

Alhoewel Paulus ‘n mate van sukses in Korinthe behaal het, het die goddeloosheid wat hy in daardie korrupte stad aanskou en gehoor het, hom byna ontmoedig. Die verdorwenheid wat hy onder die Heidene opgemerk het en die minagting en beledigings wat hy van die Jode moes verduur, het groot sieleangs by hom veroorsaak. Hy het die wysheid om ‘n kerk uit die materiaal wat hy daar gevind het te probeer opbou, betwyfel. DHDA 212.3

Terwyl hy van plan was om die stad vir ‘n meer belowende veld te verlaat en ernstig gestreef het om te verstaan wat sy plig is, het die Here in ‘n gesig aan hom verskyn en gesê: “Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie; want Ek is met jou en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad.” Paulus het verstaan dat dit ‘n opdrag van die Here was om in Korinthe te bly en ‘n waarborg dat die Here die saad wat gesaai is, sou vermeerder. Versterk en bemoedig het hy met ywer en deursettingsvermoë met sy werk voortgegaan. DHDA 213.1

Die apostel se pogings was nie tot openbare toesprake beperk nie; daar was baie wat nie op hierdie wyse bereik kon word nie. Hy het heelwat tyd aan huis-tot-huis-arbeid bestee en sodoende van die intieme gemeenskap met die huiskring gebruik gemaak. Hy het siekes en bedroefdes besoek, geteisterdes vertroos en verdruktes opgehef. En in alles wat hy gesê en gedoen het, het hy die Naam van Jesus groot gemaak. So het hy “...in swakheid en in vrees en in veel bewing...” gewerk (1 Korinthiërs 2:3). Hy was bevrees dat sy lering moontlik die menslike eerder as die Goddelike stempel sou openbaar. DHDA 213.2

Agterna het Paulus verklaar: “Tog spreek ons wysheid onder die volwassenes, maar ‘n wysheid nie van hierdie wêreld, of van hierdie wêreld se heersers, wat vergaan nie. Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid, wat niemand van die heersers van hierdie wêreld geken het nie-want as hulle dit geken het, sou hulle die Here van die heerlikheid nie gekruisig het nie-maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God.” DHDA 213.3

“Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.” (1 Korinthiërs 2:6-13). DHDA 214.1

Paulus het besef dat sy genoegsaamheid nie in homself was nie, maar in die teenwoordigheid van die Heilige Gees, wie se genadige invloed sy hart gevul en elke gedagte aan Christus onderwerp het. Hy het van homself gesê hy dra “...die doding van die Here Jesus [gedurig] in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word.” (2 Korinthiërs 4:10). In die leer van die apostel was Christus die sentrale Figuur. Hy het verklaar: “Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my. ” (Galasiërs 2:20). Die eie ek was verborge; Christus is geopenbaar en verhoog. DHDA 214.2

Paulus was ‘n welsprekende spreker. Voor sy bekering het hy dikwels probeer om sy toehoorders met ‘n vlaag van welsprekendheid te beïndruk. Maar nou het hy dit alles ter syde gestel. In plaas daarvan om hom in poëtiese beskrywings en oordrewe voorstellings, wat die sintuie behaag en die verbeelding voed, maar nie die daaglikse ervaring raak nie, te verlustig, het Paulus gepoog om in eenvoudige taal die waarhede wat van uiterste belang is, in die harte tuis te bring. Oordrewe aanbiedings kan ‘n gevoel van ekstase veroorsaak, maar waarhede wat op hierdie wyse aangebied word, verskaf nie veel voedsel om die gelowige vir die lewenstryd te versterk nie. Die onmiddellike behoeftes, die huidige beproewinge van worstelende siele-al hierdie dinge moet met gesonde, praktiese onderrig in die grondbeginsels van die Christendom voorsien word. DHDA 214.3

Paulus se pogings in Korinthe was nie vrugteloos nie. Baie het van die aanbidding van afgode afgesien om die lewende God te dien en ‘n groot gemeente is onder die vaandel van Christus ingeskryf. Sommige is onder die mees losbandigste van die Heidene uitgered en het toonbeelde van die genade van God en die effektiwiteit van die bloed van Christus om van sonde te reinig geword. DHDA 215.1

Die toenemende sukses wat Paulus met die verkondiging van Christus behaal het, het die ongelowige Jode tot meer vasberade teëstand opgewek. Hulle het “...eenparig teen Paulus opgestaan en hom voor die regterstoel...” van Gallio, wat destyds die goewerneur van Achaje was, gebring. Hulle het verwag dat die owerhede hulle, soos met vorige geleenthede, aan hulle kant sou skaar; en met luide, kwaai stemme het hulle hul klagtes teen die apostel voorgelê en gesê: “Hierdie man haal die mense oor om God op onwettige wyse te vereer.” DHDA 215.2

Die Joodse godsdiens was onder die beskerming van die Romeinse owerheid en Paulus se beskuldigers het gedink dat indien hulle hom op ‘n klag van oortreding van die wette van hul godsdiens skuldig kon bevind, hy waarskynlik aan hulle oorhandig sou word vir verhoor en vonnisoplegging. Hulle het gehoop om op hierdie wyse sy dood te bewerkstellig. Maar Gallio was ‘n man van integriteit en hy het geweier om die slagoffer van jaloerse, arglistige Jode te word. Omdat hy ‘n hekel aan hulle skynheiligheid en selfregverdiging gehad het, het hy geen ag op die aanklag geslaan nie. Toe Paulus gereed was om homself te verdedig, het Gallio gesê dis onnodig. Toe wend hy hom tot die kwaadwillige beskuldigers en sê: “As daar nou enige oortreding of kwaadwillige skelmstuk was, dan sou ek rede hê om julle te verdra, o Jode; maar as dit ‘n geskil is oor ‘n woord en oor name en oor ‘n wet wat vir julle geld, moet julle toesien, want daaroor wil ek geen regter wees nie. En hy het hulle van die regterstoel verdryf.” DHDA 215.3

Beide Jode en Grieke het gretig op Gallio se besluit gewag; en sy onmiddellike afwysing van die saak, as ‘n saak wat geen invloed op die openbare belange gehad het nie, was die teken vir die Jode om verslae en woedend te onttrek. Die besliste optrede van die prokonsul het die oë van die luidrugtige skare wat die Jode ondersteun het, geopen. Vir die eerste keer gedurende Paulus se arbeid in Europa was die gepeupel aan sy kant; voor die prokonsul se oë en sonder enige inmenging van sy kant, het hulle die mees prominente beskuldigers van die apostel gewelddadig aangerand. “Al die Grieke het Sosthenes, die hoof van die sinagoge, gegryp en hom voor die regterstoel geslaan; en Gallio het hom aan niks van hierdie dinge gesteur nie.” So het die Christendom ‘n kennelike oorwinning behaal. DHDA 216.1

Daarna het Paulus “...nog verskeie dae...” daar gebly. Indien die apostel destyds gedwing was om Korinthe te verlaat, sou die bekeerlinge tot die geloof in Jesus in ‘n gevaarlike posisie verkeer het. Die Jode sou gepoog het om die voordeel wat hulle behaal het op te volg, met selfs die uitwissing van die Christendom in daardie omgewing. DHDA 216.2