Patriarge en Profete

23/75

Hoofstuk 21—Josef en Sy Broers

(Hierdie hoofstuk berus op Genesis 41:54-56;42 tot 50) PeP 198.1

Met die aanbreek van die oorvloedige jare het die voorbereiding vir die komende hongersnood begin. Onder Josef se toesig is groot voorraadskure op al die vernaamste plekke in die land opgerig en daar is ruim voorsiening gemaak vir die berging van die oorskot van die verwagte oes. Hierdie beleid is dwarsdeur die sewe oorvloedige jare voortgesit totdat daar nie meer bereken kon word hoeveel koring opgegaar was nie. PeP 198.2

Daarna het die sewe jaar van hongersnood, soos Josef voorspel het, aangebreek. “En daar was hongersnood in al die lande, maar in die hele Egipteland was daar brood. En toe die hele Egipteland honger gely en die volk na Farao geroep het om brood, sê Farao aan al die Egiptenaars: Gaan na Josef, doen wat hy julle sê. En die hongersnood was oor die hele oppervlakte van die aarde en Josef het alles waarin iets was, oopgemaak en aan die Egiptenaars verkoop.” PeP 198.3

Die hongersnood het tot in die land Kanaan gestrek en is ernstig ondervind in die deel van die land waar Jakob gewoon het. Toe hulle hoor dat die koning van Egipte groot voorrade opgehoop het, het tien van Jakob se seuns daarheen gereis om graan te koop. Toe hulle daar aankom, is hulle na die koning se adjunkhoof gestuur en saam met ander aansoekers het hulle hul opwagting by hom gemaak. En hulle het hulle “...voor hom met die aangesig na die aarde gebuig.” “Josef het sy broers herken, maar hulle het hom nie herken nie.” Die koning het sy Hebreeuse naam met ‘n Egiptiese naam vervang en daar was min ooreenkoms tussen die eerste minister van Egipte en die jongeling wat hulle aan die Ismaeliete verkoop het. Toe Josef sy broers voor hom sien neerbuig, het sy drome en die gebeurtenisse van die verlede helder in sy gedagtes opgekom. Sy geoefende oog het die groep deurgekyk en hy het gou besef dat Benjamin nie onder hulle was nie. Was hy ook die slagoffer van hierdie wrede manne se verraderlike wreedheid? Hy het hom voorgeneem om uit te vind. Hy het hulle streng aangespreek en gesê. “Julle is spioene, julle het gekom om te kyk waar die land oop is.” PeP 198.4

Hulle het geantwoord: “Nee, my heer, maar u dienaars het gekom om voedsel te koop. Ons is almal seuns van een man, ons is eerlike mense; u dienaars is geen spioene nie.” Hy wou graag weet of hulle steeds dieselfde hoogmoedige gees gehad het soos toe hy nog by hulle was en hy wou ook graag iets van sy ouerhuis te wete kom; maar hy het goed geweet hoe misleidend hulle antwoorde kon wees. Hy het die beskuldiging herhaal en hulle het geantwoord: “U dienaars is twaalf in getal; ons is broers, seuns van een man in die land Kanaan; en kyk, die jongste is nou by ons vader, maar die een is daar nie meer nie.” PeP 199.1

Die goewerneur wat gemaak het asof hy aan die waarheid van hulle storie twyfel en hulle nog vir spioene aansien, het verklaar dat hy hulle op die proef sou stel deur te eis dat hulle in Egipte bly en dat een van hulle teruggaan en hulle jongste broer saambring. Indien hulle nie ingewillig het nie, sou hulle as spioene behandel word. Maar Jakob se seuns kon hierdie reëling nie aanvaar nie, aangesien die tyd wat daardeur in beslag geneem sou word, sou veroorsaak dat hulle gesinne honger ly; en watter een van hulle was bereid om die reis alleen aan te pak en sy broers in die gevangenis agterlaat? Hoe kon hy sy vader onder sulke omstandighede ontmoet? Heel waarskynlik sou hulle gedood of as slawe aangehou word; en as hy Benjamin sou bring, kon hy moontlik ook in hulle lot deel. Hulle het besluit om te bly en saam te ly, eerder as om hulle vader verdere verdriet aan te doen deur die verlies van sy enigste oorblywende seun. Gevolglik is hulle in die gevangenis gewerp waar hulle drie dae lank gebly het. PeP 199.2

Gedurende die jare wat Josef van sy broers geskei was, het die karakter van Jakob se seuns verander. Hulle was voorheen afgunstig, onstuimig, bedrieglik, wreed en wraaksugtig; maar nou, nadat hulle deur teëspoed beproef was, was hulle onselfsugtig, getrou aan mekaar, toegewy aan hulle vader en, hoewel hulle reeds middeljarige manne was, onderworpe aan sy gesag. PeP 199.3

Die drie dae in die Egiptiese gevangenis was vir die broers dae van bitter berou terwyl hulle aan hulle sondes van die verlede gedink het. Heel waarskynlik sou hulle as spioene veroordeel word tensy hulle hul broer Benjamin kon bring en daar was min hoop dat hulle vader sou toelaat dat Benjamin PeP 199.4

hom verlaat. Op die derde dag het Josef die broers weer voor hom laat verskyn. Hy kon dit nie waag om hulle langer gevange te hou nie. PeP 200.1

Sy vader en die huisgesinne by hom kon reeds as gevolg van ‘n gebrek aan voedsel ly. Hy het gesê: “Doen dit, dan sal julle lewe; ek vrees God! As julle eerlike mense is, laat een van julle broers gevange bly in die huis waar julle in bewaring is; maar gaan julle, bring die koring vir die honger van julle huisgesinne weg en bring julle jongste broer na my toe-dan sal julle woorde waar gemaak word en julle sal nie sterwe nie.” Hulle het hiermee ingestem hoewel hulle min hoop uitgespreek het dat hulle vader Benjamin sou laat kom. Josef het deur ‘n tolk met hulle gepraat en omdat hulle glad nie vermoed het dat die goewerneur hulle kon verstaan nie, het hulle in sy teenwoordigheid vrylik met mekaar gepraat. Hulle het hulleself verwyt oor die wyse waarop hulle Josef behandel het: “Voorwaar ons boet nou vanweë ons broer, omdat ons die benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons gesmeek het en ons nie geluister het nie-daarom kom hierdie benoudheid oor ons.” Ruben wat by Dotan van plan was om hom te verlos, het bygevoeg: “Het ek nie vir julle gesê nie, besondig julle nie aan die seun nie? Maar julle het nie geluister nie. Kyk, so word dan ook sy bloed geëis.” Josef wat dit alles aangehoor het, kon sy gevoelens nie langer onderdruk nie en hy het uitgegaan en geween. Toe hy terugkeer, het hy beveel dat Simeon voor hulle gebind en na die gevangenis teruggestuur moes word. Simeon was die aanhitser en het die voortou geneem het in die mishandeling van hulle broer en om hierdie rede het die keuse op hom geval. PeP 200.2

Voordat hy sy broers laat vertrek het, het Josef bevel gegee dat hulle van graan voorsien moet word en dat elke man se geld in die geheim bo in sy sak geplaas moes word. Proviand vir die diere op die terugreis is ook voorsien. Terwyl hulle op pad was, het een van die geselskap sy sak oopgemaak en was verbaas om die silwer muntstukke daarin te vind. Toe hy die ander daarvan vertel, was hulle ontsteld en bevrees en het aan mekaar gesê: “Wat het God ons nou aangedoen?” Moes hulle dit as ‘n blyk van die goedkeuring van die Here beskou, of het Hy dit toegelaat om hulle vir hulle sondes te straf en nog dieper PeP 200.3

in die moeilikheid te dompel? Hulle het erken dat God hulle sondes raakgesien het en dat Hy hulle nou daarvoor straf. PeP 201.1

Jakob het angstig uitgesien na die terugkeer van sy seuns en met hulle aankoms, het almal in die laer gretig om hulle saamgedrom terwyl hulle aan hul vader alles vertel wat met hulle gebeur het. Groot ontsteltenis en vrees het in elke hart ontstaan. Die optrede van die Egiptiese goewerneur het een of ander bose plan geïmpliseer en hulle vrese is bevestig toe hulle hul sakke oopmaak en elkeen sy geld daarin teruggevind. Met groot aandoening het die bejaarde vader uitgeroep: “Julle beroof my van my kinders. Josef is weg! En Simeon is weg! En Benjamin wil julle wegneem! Alles is teen my!” Ruben het geantwoord: “U kan my twee seuns doodmaak as ek hom nie na u terugbring nie.” Hierdie ondeurdagte woorde het Jakob nog nie gerusgestel nie. Hy het geantwoord: “My seun sal nie saam met julle aftrek nie, want sy broer is dood en hy het alleen oorgebly; en as ‘n ongeluk hom oorkom op die pad wat julle sal gaan, dan sal julle my grys hare met kommer in die doderyk laat afdaal.” PeP 201.2

Maar die droogte het aangehou en die voorraad graan wat hulle in Egipte gekoop het, was naderhand byna uitgeput. Jakob se seuns het geweet dit sou vergeefs wees om sonder Benjamin na Egipte terug te keer. Hulle het weinig hoop gekoester om hulle vader van besluit te laat verander en hulle het die uitslag in stilte afgewag. Die skaduwee van die dreigende hongersnood het al donkerder geword. Op die bekommerde gesigte van almal in die laer kon die ou man hulle behoefte sien. Eindelik het hy gesê: “Gaan koop vir ons weer ‘n bietjie voedsel.” PeP 201.3

Juda het geantwoord: “Die man het ons uitdruklik gewaarsku en gesê: Julle sal my aangesig nie sien as julle broer nie by julle is nie. As u ons broer saam met ons stuur, sal ons aftrek en vir u voedsel koop; maar as u hom nie stuur nie, sal ons nie aftrek nie; want die man het aan ons gesê: Julle sal my aangesig nie sien as julle broer nie by julle is nie.” Toe hy sien dat sy vader in sy voorneme begin wankel, voeg hy by: “Stuur die seun saam met my; dan sal ons klaarmaak en wegtrek, sodat ons kan lewe en nie sterwe nie-ons en ook u en ons kinders nie.” Verder het hy aangebied om vir sy broer borg te staan en vir ewig die skuld PeP 201.4

op hom te neem as hy Benjamin nie aan sy vader terugbesorg nie. PeP 202.1

Jakob kon nie langer sy toestemming weier nie en hy het sy seuns beveel om hulle vir die reis gereed te maak. Ook het hy hulle beveel om vir die goewerneur ‘n geskenk van die dinge wat die geteisterde land nog kon aanbied, saam te neem: “...bietjie balsem en bietjie heuning, speserye en gom, neute en amandels,” asook ‘n dubbele bedrag geld. “En neem julle broer, maak julle klaar en gaan terug na die man.” Toe die seuns gereed was om op hul twyfelagtige reis te vertrek, het die ou vader opgestaan, sy hande opgehef en gebid: “Mag God, die Almagtige, julle barmhartigheid verleen by die man, sodat hy julle ander broer en Benjamin saam met julle kan laat trek! En ek-as ek van my kinders beroof is, dan is ek beroof.” PeP 202.2

Weer het hulle na Egipte gereis en voor Josef verskyn. Toe hy Benjamin, sy eie moeder se seun, sien, het sy gemoed vol geskiet. Hy het sy emosies egter onder beheer gehou en beveel dat hulle na sy huis geneem word en dat daar voorbereidings vir hulle getref word om saam met hom te eet. Toe hulle na die goewerneur se paleis ontbied word, was die broers baie verontrus omdat hulle gevrees het hulle sou gevra word om rekenskap te gee van die geld wat in hulle sakke gevind is. Hulle het gedink dit is met opset daarin gesit sodat daar rede sou wees om slawe van hulle te maak. In hulle verleentheid het hulle die opsigter van Josef se huis daaroor beraadslaag en hom van die omstandighede van hulle besoek aan Egipte vertel; en om hulle onskuld te bewys, het hulle hom in kennis gestel dat hulle die geld wat in hulle sakke was teruggebring het, asook geld om voedsel mee te koop. Verder het hulle gesê: “Ons weet nie wie ons geld in ons sakke gesteek het nie.” Die man het geantwoord: “Vrede vir julle! Moenie bang wees nie! Julle God en die God van julle vader het julle ‘n skat in jul sakke gegee. Julle geld het by my gekom.” Hulle was verlig en toe Simeon, wat uit die gevangenis vrygestel is, hom by hulle aansluit, het hulle besef dat God hulle waarlik begenadig het. PeP 202.3

Toe hulle weer die goewerneur ontmoet, het hulle hul geskenke aangebied en hulle nederig “...voor hom neergebuig na die aarde toe.” Weer is hy aan sy drome herinner en nadat hy sy gaste gegroet het, het hy haastig verneem: “Gaan dit PeP 202.4

goed met julle ou vader van wie julle gespreek het? Leef hy nog?” Hulle het geantwoord: “Dit gaan goed met u dienaar, ons vader; hy lewe nog,” en weer het hulle voor hom gebuig. Toe kyk hy na Benjamin en vra: “Is dit julle jongste broer van wie julle met my gespreek het?” “Mag God jou genadig wees, my seun!” Maar, oorweldig deur sy emosies, kon hy niks verder sê nie. Hy het “...in die kamer gegaan en daar geween.” PeP 203.1

Nadat hy sy gemoed kalmeer het, het hy teruggekeer en voortgegaan met die fees. Ooreenkomstig die kastewette is Egiptenare belet om saam met die volk van ‘n ander nasie te eet. Die seuns van Jakob moes dus by een tafel sit terwyl die goewerneur weens sy hoë rang alleen geëet en die Egiptenare ook afsonderlike tafels gehad het. Nadat almal gaan sit het, was die broers verbaas om te sien dat hulle in die presiese volgorde volgens hulle ouderdomme geplaas was. Josef het van die geregte van sy tafel “...aan hulle porsies uitgedeel van die ete wat voor hom staan...” maar aan Benjamin het hy vyf keer soveel soos die ander uitgedeel. Deur Benjamin op hierdie wyse voor te trek, wou hy vasstel of hulle hul jongste broer met dieselfde afguns en haat bejeën as wat hulle teenoor hom betoon het. Nog steeds onder die indruk dat Josef nie hulle taal kon verstaan nie, het die broers openlik onder mekaar gesels en so het hy ‘n goeie geleentheid gehad om hulle ware gevoelens te wete te kom. Hy wou hulle egter verder op die proef stel en voor hulle vertrek het hy beveel dat sy eie silwer drinkbeker in die jongste se sak versteek moes word. PeP 203.2

Verheug het hulle die terugreis aangepak. Simeon en Benjamin was saam met hulle, hulle pakdiere was met koring belaai en hulle het almal gevoel dat hulle veilig van die gevare, waarmee hulle skynbaar omring was, ontsnap het. Maar hulle het skaars die buitewyke van die stad bereik, toe die opsigter van Josef se huis hulle inhaal en bitsig navraag doen: “Waarom het julle kwaad vir goed vergelde? Is dit nie die ding waaruit my heer drink en waarmee hy altyd waarneem nie? Julle het verkeerd gehandel met wat julle gedoen het.” Hierdie beker was veronderstel om die mag te besit om aan te toon indien daar enige giftige inhoud daarin was. In daardie tyd is hierdie bekers as hoogs kosbaar as beskerming teen moord deur vergiftiging, beskou. PeP 203.3

In antwoord op die opsigter se beskuldiging het die reisigers geantwoord: “Waarom spreek my heer sulke woorde? Dit is ver van u dienaars om so iets te doen. Kyk, geld wat ons bo in ons sakke gevind het, het ons uit die land Kanaan aan u teruggebring-hoe sou ons dan silwer of goud uit die huis van u heer kan steel? Die een van u dienaars by wie dit gevind word, moet sterwe; en ons sal ook my heer se slawe wees.” PeP 204.1

Toe antwoord die opsigter: “Nou goed, laat dit wees soos julle gesê het. Die een by wie dit gevind word, is my slaaf. Maar julle sal vry wees.” Hulle het dadelik begin soek. “Daarop het hulle gou elkeen sy sak op die grond neergesit...” en die opsigter het elkeen deursoek. Hy het by Ruben begin, elkeen in volgorde, tot by die jongste. Die beker is in Benjamin se sak gevind. PeP 204.2

Die broers het hulle klere geskeur as teken van hulle algehele ellende en stadig na die stad teruggekeer. Volgens hulle eie belofte is Benjamin tot lewenslange slawerny gedoem. Hulle het die opsigter na die paleis gevolg en toe hulle die goewerneur nog steeds daar vind, het hulle hul voor hom neergebuig. “Wat is dit wat julle nou gedoen het?” het Josef gevra. “Weet julle nie dat ‘n man soos ek dit ongetwyfeld moet waarneem nie?” Dit was Josef se bedoeling om ‘n erkentenis van hulle sonde uit hulle te kry. Hy het nooit die krag van waarsêery beweer nie, maar was bereid om hulle te laat glo dat hy die geheime van hulle lewens kon lees. PeP 204.3

Juda het geantwoord: “Wat kan ons aan my heer sê? Wat kan ons spreek? En waarmee kan ons ons regverdig? God het die ongeregtigheid van u dienaars uitgevind. Kyk, ons is my heer se slawe, ons sowel as hy by wie die beker gevind is.” Josef het geantwoord: “Dit is ver van my om dit te doen; die man by wie die beker gevind is, dié sal my slaaf wees. Maar trek julle in vrede op na julle vader.” PeP 204.4

In diepe ontsteltenis het Juda die goewerneur nou genader en uitgeroep: “Ag, my heer, mag u dienaar tog ‘n woord spreek voor die ore van my heer en laat u toorn nie teen u dienaar ontvlam nie, want u staan gelyk met Farao.” Met roerende welsprekendheid het hy sy vader se droefheid beskryf oor die verlies van Josef en hoe huiwerig hy was dat Benjamin hulle na Egipte vergesel, omdat hy die enigste oorblywende seun was PeP 204.5

van sy moeder, Ragel, vir wie Jakob so innig lief was. Toe sê hy: “As ek dan nou by u dienaar, my vader, kom en die seun nie by ons is nie terwyl sy siel innig aan hom verkleef is-sal hy sterwe as hy sien dat die seun daar nie is nie; en u dienaars sal die grys hare van u dienaar, ons vader, met kommer in die doderyk laat afdaal. Want u dienaar het die seun deur borgskap van my vader verkry deurdat hy gesê het: As ek hom nie na u bring nie, sal ek lewenslank teenoor my vader skuldig staan. Laat u dienaar dan nou tog in die plek van die seun my heer se slaaf bly en laat die seun saam met sy broers optrek. Want hoe kan ek na my vader optrek as die seun nie by my is nie? Mag ek maar net die ellende nie aansien wat my vader sal tref nie!” PeP 205.1

Josef was tevrede. Hy het die vrugte van ware berou in sy broers gesien. Toe hy Juda se edele aanbod hoor, gee hy bevel dat almal behalwe sy broers na buite moes gaan. Hy het hardop gehuil en uitgeroep: “Ek is Josef! Leef my vader nog?” PeP 205.2

Sy broers het bewegingloos en stom van vrees en verbasing bly staan. Die heerser van Egipteland was hulle broer Josef, die een wat hulle beny het en om die lewe wou bring en uiteindelik as slaaf verkoop het! Al die mishandeling wat hy van hulle moes verduur, het voor hulle opgedoem. Hulle het onthou hoe hulle sy drome verag en gepoog het om die vervulling daarvan te keer. Tog het hulle self tot die vervulling daarvan bygedra; en noudat hulle geheel en al in sy mag was, sou hy ongetwyfeld die mishandeling wat hy ondergaan het, wreek. PeP 205.3

Toe hy hulle verwarring sien, sê hy op goedhartige wyse: “Kom tog nader na my...” en toe hulle nader kom, vervolg hy: “Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het. Maar wees nou nie bedroef nie en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur.” Oortuig dat hulle reeds genoeg vir hulle wreedheid teenoor hom gely het, het hy op edelmoedige wyse gepoog om hulle vrese te verdryf en om die bitterheid van hulle selfverwyt te versag. PeP 205.4

“Daar was nou twee jaar hongersnood in die land...” het hy vervolg, “...en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie. Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing. Julle het my dan nou nie hierheen PeP 205.5

gestuur nie, maar God; en Hy het my ‘n raadsman van Farao gemaak en ‘n gebieder oor sy hele huis en ‘n regeerder in die hele Egipteland. Trek gou op na my vader en sê vir hom: So spreek u seun Josef: God het my ‘n gebieder oor die hele Egipteland gemaak. Kom af na my, moenie versuim nie! En u kan in die land Gosen woon en naby my wees, u en u kinders en u kindskinders en u kleinvee en u beeste en alles wat u besit. En ek sal u daar onderhou, want daar sal nog vyf jaar hongersnood wees; sodat u nie verarm nie, u en u huis en alles wat aan u behoort. En kyk, julle oë sien dit en die oë van my broer Benjamin, dat dit my mond is wat met julle spreek.” “Toe val hy sy broer Benjamin om die hals en ween; en ook Benjamin het aan sy hals geween. En hy het al sy broers gesoen en aan hulle hals geween; en daarna het sy broers met hom gespreek.” Nederig het hulle hulle sonde bely en hom om vergifnis gevra. Hulle het lank as gevolg van berou en angs gely en nou het hulle hulle verheug omdat hy nog leef. PeP 206.1

Die tyding van wat gebeur het, is spoedig aan die koning oorgedra en omdat hy sy dankbaarheid aan Josef wou bewys, het hy die goewerneur se uitnodiging aan die gesin bevestig en gesê: “Die beste van die hele Egipteland is julle sin.” Die broers is daarop ruim van proviand en waens voorsien en ook van alles wat nodig was om al die gesinne en hulle dienaars na Egipteland te bring. Aan Benjamin het Josef meer waardevolle geskenke gegee as aan die ander. En uit vrees dat hulle dalk langs die pad sou twis, gee hy hulle, toe hulle op die punt was om te vertrek, die opdrag: “Moenie vir mekaar kwaad word op die pad nie.” PeP 206.2

Jakob se seuns het met die blye boodskap na hulle vader teruggekeer: “Josef lewe nog-en dat hy regeerder is in die hele Egipteland.” Eers was die ou man oorstelp; hy kon nie glo wat hy gehoor het nie; maar toe hy die waens en die pakdiere sien wat Josef gestuur het en toe Benjamin weer by hom was, was hy oortuig en het hy in verrukking uitgeroep: “Dit is genoeg! My seun Josef lewe nog! Ek sal gaan en hom sien voordat ek sterwe.” PeP 206.3

Daar het vir die tien broers nog een vernederende daad oorgebly. Hulle het nou teenoor hulle vader die bedrog en wreedheid, wat vir soveel jare sy lewe en hulle lewens verbitter het, bely. Jakob het hulle nie van so ‘n lae sonde verdink nie, PeP 206.4

maar hy het besef dat alles deur die goeie oorwin is en hy het sy dwalende kinders vergewe en geseën. PeP 207.1

Die vader met sy seuns met hulle gesinne, hulle kleinvee en beeste en baie aanhangers, was spoedig onderweg na Egipte. Met blydskap in hulle harte het hulle voort gereis en toe hulle by Berséba aankom, het die patriarg dankoffers aan die Here geoffer en by die Here gepleit vir die versekering dat Hy saam met hulle sou gaan. In ‘n naggesig het die woord van die Here tot hom gekom: “Moenie bevrees wees om na Egipte af te trek nie, want Ek sal jou daar ‘n groot nasie maak. Ek sal saam met jou aftrek na Egipte en Ek sal jou gewis weer laat optrek.” PeP 207.2

Die versekering: “Moenie bevrees wees om na Egipte af te trek nie, want Ek sal jou daar ‘n groot nasie maak,” was betekenisvol. Aan Abraham is beloof dat sy nageslag so talryk soos die sterre sou wees, maar tot nog toe het die uitverkore volk stadig aangewas. En die land van Kanaan het geen veld vir die ontwikkeling van so ‘n nasie, soos voorspel, gebied nie. Dit was in die besit van magtige heidense volke wat eers na die vierde geslag uitgedryf sou word. Indien die nakomelinge van Israel daar ‘n talryke volk sou word, sou hulle óf die bewoners van die land moes uitdryf, óf tussen hulle moes versprei. Volgens die Goddelike Voorsienigheid kon hulle eersgenoemde nie doen nie; en indien hulle met die Kanaaniete sou vermeng, het hulle gevaar geloop om tot afgodery verlei te word. Egipte het egter toestande gebied wat gunstig was vir die vervulling van die Goddelike doel. ‘n Gedeelte van die land wat baie water gehad het en vrugbaar was, was onbewoon en het elke geleentheid aangebied vir hulle om vinnig aan te was. En die teenstand wat hulle in Egipte weens hulle nering sou moet verduur-want elke herder was “vir die Egiptenaars ‘n gruwel”-sou hulle in staat stel om ‘n afsonderlike en aparte volk te bly en sou dus dien om hulle uit te sluit van deelname aan die afgodery van Egipte. PeP 207.3

In Egipte aangekom, het die geselskap reguit na die land Gosen gegaan. Josef het in sy staatsrytuig met vorstelike geleide, daarheen gegaan. Die glorie waarmee hy omring is en die waardigheid van sy betrekking was vergete; daar was net een gedagte in sy gemoed, net een verlange het hom met ekstase gevul. Toe hy die reisigers sien aankom, kon hy die verlangende liefde wat hy vir soveel jare onderdruk het, nie PeP 207.4

langer in bedwing hou nie. Hy het van sy rytuig afgespring en sy vader tegemoet gehaas om hom te verwelkom. Hy het “...om sy hals geval en lank aan sy hals geween. En Israel sê vir Josef: Nou kan ek sterwe nadat ek jou aangesig gesien het, dat jy nog leef!” PeP 208.1

Josef het vyf van sy broers geneem om hulle aan Farao voor te stel, sodat hulle die toekenning van land vir hulle toekomstige tuiste, van hom kon ontvang. Uit dankbaarheid teenoor sy eerste minister sou die koning hulle in hoë staatsposte aangestel het, maar getrou aan sy aanbidding van Jehova het Josef gepoog om sy broers teen die versoekings te vrywaar waaraan hulle in ‘n heidense paleis blootgestel sou word; daarom het hy hulle aangeraai om die koning eerlik te vertel wat hulle nering was as hy hulle daaroor uitvra. Jakob se seuns het hierdie raad gevolg en was versigtig om by te voeg dat hulle gekom het om as vreemdelinge in die land te vertoef, nie as blywende inwoners nie en sodoende die reg voorbehou om te vertrek indien hulle dit sou verkies. Getrou aan sy aanbod het Farao hulle in die land Gosen “die beste van Egipteland,” ‘n woonplek gegee. PeP 208.2

Kort na hulle aankoms het Josef ook sy vader aan die koning voorgestel. Die patriarg was nie tuis in koninklike paleise nie, maar te midde van die skoonheid van die natuur het hy met ‘n magtiger Koning gemeenskap gehou; en nou, met bewuste waardigheid sy hande opgehef en Farao geseën. PeP 208.3

Toe hy Josef die eerste keer groet, het Jakob gepraat asof hy, na hierdie vreugdevolle einde van sy langdurige bekommernis en verdriet, gereed was om te sterf. Maar hy sou nog sewentien jaar lank in vreedsame aftrede in Gosen voortleef. Hierdie jare was gelukkig in teenstelling met dié wat hulle voorafgegaan het. Hy het in sy seuns die bewys van ware bekering gesien; hy het sy familie gesien, omring met al die toestande wat nodig was vir die ontwikkeling van ‘n groot nasie; en sy geloof het die sekere belofte van hulle toekomstige vestiging in Kanaan aangegryp. Hy was self omring met elke teken van liefde en guns wat die eerste minister van Egipte aan hom kon bewys; en gelukkig in die gemeenskap van sy lang verlore seun, het hy sagkens en met vrede na sy graf beweeg. PeP 208.4

Toe hy die dood voel nader, het hy Josef laat roep. Nog altyd vashoudend aan die belofte van God, dat sy nakomelinge die land Kanaan sou besit, het hy gesê: “Begrawe my tog nie in Egipte nie. Wanneer ek met my vaders ontslaap het, bring my dan weg uit Egipte en begrawe my in hulle graf.” Josef het beloof om dit te doen, maar Jakob was nie tevrede nie; hy het hom ‘n plegtige eed laat aflê dat hy hom by sy vaders in die spelonk van Magpela sou neerlê. PeP 209.1

“n Ander belangrike saak het ook aandag vereis; Josef se seuns moes amptelik onder die kinders van Israel opgeneem word. Toe Josef sy vader vir die laaste keer gaan besoek het, het hy sy twee seuns, Efraim en Manasse, saamgebring. Aan moederskant was hierdie twee seuns aan die hoogste priesterorde in Egipte verwant en hulle vader se amp het vir hulle paaie na rykdom en aansien oopgemaak indien hulle sou verkies om Egiptenaars te word. Dit was egter Josef se begeerte dat hulle met hulle eie mense moes verenig. Hy het sy geloof in die verbondsbelofte bewys deur namens sy seuns afstand te doen van die hoogste eer wat die Egiptiese hof hulle kon aanbied, vir ‘n plek tussen die veragte herderstamme aan wie die orakels van God toevertrou was. PeP 209.2

Jakob het gesê: “Jou twee seuns wat vir jou in Egipteland gebore is voordat ek in Egipte na jou gekom het, is myne. Efraim en Manasse sal myne wees net soos Ruben en Simeon.” Hy sou hulle as sy eie aanneem en hulle sou die hoofde van afsonderlike stamme word. Een van die voorregte van die geboortereg wat Ruben verbeur het, sou dus op Josef val, naamlik ‘n dubbele deel in Israel. PeP 209.3

Jakob se oë was verswak as gevolg van ouderdom en hy was nie bewus van die teenwoordigheid van die jong manne nie; maar nou, toe hy die buitelyne van hulle vorms sien, vra hy: “Wie is dit?” En toe Josef hom vertel, sê hy: “Bring hulle tog by my, dat ek hulle kan seën.” Toe hulle nader kom, het die patriarg hulle omhels en gesoen en toe lê hy sy hande plegtig op hulle hoofde om hulle te seën en hy bid: “Die God voor wie se aangesig my vaders Abraham en Isak gewandel het, die God wat my as Herder my lewe lank gelei het tot vandag toe, die Engel wat my uit elke teëspoed verlos het mag Hy die seuns seën.” Daar was nou geen gees van selfvertroue, geen steun op menslike krag of op lis nie. God het hom bewaar en onderhou. PeP 209.4

Daar was geen klagte oor die moeilike dae van die verlede nie. Die beproewinge en verdriet daarvan was nie meer beskou as dinge wat “teen” hom was nie. Hy het net Sy genade en liefdevolle goedertierenheid wat hom deur sy pelgrimsreise vergesel het in herinnering geroep. PeP 210.1

Nadat hy die seën uitgespreek het, het hy aan sy seun die versekering gegee en ook aan die toekomstige geslagte, deur die lang jare van slawerny en verdriet wat sou kom, ‘n getuienis van sy geloof: “Kyk, ek gaan sterwe, maar God sal met julle wees en Hy sal julle terug laat gaan na die land van julle vaders.” PeP 210.2

Aan die einde was al Jakob se seuns saam om sy sterfbed vergader. En Jakob het sy seuns geroep en aan hulle gesê: “Versamel en hoor, seuns van Jakob en luister na Israel, julle vader!” “...dat ek julle kan verkondig wat julle aan die einde van die dae sal wedervaar.” Dikwels en met besorgdheid het hy aan hulle toekoms gedink en hy het probeer om hom die toekomstige geskiedenis van die verskeie stamme voor te stel. Nou, terwyl sy kinders gewag het om die laaste seën te ontvang, het die Gees van Inspirasie oor hom gekom en in ‘n profetiese gesig het die toekoms van sy nakomelinge voor hom ontvou. Een na die ander is sy seuns se name genoem; die karakter van elk is beskryf en die toekomstige geskiedenis van elke stam is kortliks voorspel. PeP 210.3

“Ruben, jy is my eersgeborene, PeP 210.4

my krag en die eersteling van my sterkte; PeP 210.5

die vernaamste in hoogheid en die vernaamste in mag!” PeP 210.6

So het die vader die plek aangedui wat die posisie van Ruben, as eersgebore seun moes gewees het; maar sy gruwelike sonde te Edar het hom onwaardig gemaak vir die seën van die eersgeboortereg. Jakob het vervolg: PeP 210.7

“Opbruising soos van waters, PeP 210.8

jy sal die vernaamste nie wees nie.” PeP 210.9

Die priesterskap is aan Levi toegeken, die koningskap en die belofte van die Messias aan Juda en die dubbele porsie van die erfenis aan Josef. Die stam van Ruben het nooit roem in Israel bereik nie; dit was nooit so talryk soos Juda, Josef of Dan PeP 210.10

nie en was een van die eerste stamme wat in ballingskap weggevoer is. PeP 211.1

Naas Ruben het Simeon en Levi volgens ouderdom gevolg. Hulle het saamgespan in hulle wrede verraderlikheid teenoor die Sigemiete en was ook die skuldigste aan die verkoop van Josef. Aangaande hulle is verklaar: PeP 211.2

“Ek sal hulle verdeel in Jakob, PeP 211.3

en hulle verstrooi in Israel.” PeP 211.4

Toe Israel net voor hulle intrek in Kanaan getel is, was Simeon die kleinste stam. In sy laaste seën het Moses geen melding van Simeon gemaak nie. Met die vestiging in Kanaan, het hierdie stam net ‘n klein gedeelte van Juda se aandeel ontvang en hierdie families, wat later magtig geword het, het hulle buite die grense van die Heilige Land gevestig. Levi het ook geen erfdeel ontvang nie, behalwe agt-en-veertig stede wat in verskillende dele van die land geleë was. Wat hierdie stam egter betref, hulle trou aan Jehova toe die ander stamme afvallig geword het, het vir hulle die aanstelling tot die heilige diens van die heiligdom verwerf en so is die vloek in ‘n seën verander. PeP 211.5

Die kroon van die seëninge van die geboortereg is op Juda oorgedra. Die betekenis van die naam, wat lof beteken, is in die profetiese geskiedenis van die stam ontvou. PeP 211.6

“Juda, jy is dit! Jou sal jou broers loof. PeP 211.7

Jou hand sal op die nek van jou vyande wees; PeP 211.8

voor jou sal die seuns van jou vader hulle neerbuig. PeP 211.9

Juda is “n jong leeu; PeP 211.10

van die roof af het jy opgeklim, my seun. PeP 211.11

Hy buig hom, hy gaan lê soos “n leeu PeP 211.12

en soos “n leeu en wie sal hom opjaag? PeP 211.13

Die septer sal van Juda nie wyk nie, PeP 211.14

nog die veldheerstaf tussen sy voete uit PeP 211.15

totdat Silo kom; PeP 211.16

en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.” PeP 211.17

Die leeu, die koning van die woud, is ‘n paslike simbool van hierdie stam uit wie Dawid gekom het en ná hom die Seun van PeP 211.18

Dawid, Silo, die ware “Leeu van die stam van Juda,” voor wie al die magte sal neerbuig en aan wie die volke hulde sal bewys. PeP 212.1

Vir die meeste van sy kinders het Jakob ‘n voorspoedige toekoms voorspel. Uiteindelik het hy by die naam van Josef uitgekom en die vader se gemoed het vol geskiet toe hy die seën uitspreek oor “...die hoofskedel van die uitverkorene onder sy broers”: PeP 212.2

“Josef is “n jong vrugteboom, PeP 212.3

“n jong vrugteboom by “n fontein; PeP 212.4

sy takke klim oor die muur. PeP 212.5

Die boogskutters het hom wel geprikkel PeP 212.6

en hom beskiet en hom bestry, PeP 212.7

maar sy boog het sterk gebly, PeP 212.8

en die arms van sy hande was buigsaam, PeP 212.9

deur die hande van die Magtige God van Jakob PeP 212.10

(daarvandaan waar die Herder, die Steen van Israel is); PeP 212.11

van die God van jou vader, wat jou help; PeP 212.12

en met die hulp van die Almagtige, wat jou seën met die PeP 212.13

seëninge van die hemel daarbo, PeP 212.14

met seëninge van die watervloed wat daaronder lê, PeP 212.15

met seëninge van borste en moederskoot; PeP 212.16

Die seëninge wat jou vader ontvang het, PeP 212.17

oortref die seëninge van die ewige berge, PeP 212.18

die kostelike gawes van die ewige heuwels. PeP 212.19

Dit sal wees op die hoof van Josef PeP 212.20

en op die hoofskedel van die PeP 212.21

uitverkorene onder sy broers.” PeP 212.22

Jakob was altyd ‘n man van diepe en vurige liefde; sy liefde vir sy seuns was sterk en teer en sy sterwende getuienis aan hulle was nie die uitinge van partydigheid of wrewel nie. Hy het hulle almal vergewe en hy het hulle tot op die laaste liefgehad. Sy vaderlike teerheid sou slegs uitdrukking vind in woorde van bemoediging en hoop; maar die krag van God het op hom gerus en onder die invloed van Ingewing is hy gedwing om die waarheid te praat, al was dit ook hoe pynlik. PeP 212.23

Nadat hy die laaste seën uitgespreek het, het Jakob die bevel aangaande sy teraardebestelling herhaal: “Ek word versamel by my volk. Begrawe my by my vaders ... in die PeP 212.24

spelonk wat op die stuk grond van Magpela is.” “Daar het hulle Abraham begrawe en Sara, sy vrou; daar het hulle Isak begrawe en Rebekka, sy vrou; en daar het ek Lea begrawe.” So was sy laaste daad dan ook om sy vertroue in God se belofte te openbaar. PeP 213.1

Jakob se laaste jare het ‘n aand van rustigheid en kalmte, na ‘n moeitevolle en uitputtende dag, gebring. Donker wolke het sy pad oordek, maar sy son het helder ondergegaan en die glans van die hemel het sy afskeidsure verlig. Die Skrifwoord sê: “Teen die aand sal dit lig word.” (Sagaria 14:7). “Let op die vrome en kyk na die opregte, want daar is ‘n toekoms vir die man van vrede.” (Psalm 37:37). PeP 213.2

Jakob het gesondig en hy het diep gely. Hy het baie jare van geswoeg, moeite en verdriet verduur sedert die dag toe hy, as gevolg van sy groot sonde, van sy vader se tente af moes wegvlug. ‘n Hawelose vlugteling, geskei van sy moeder wat hy nooit weer gesien het nie; gemeen bedrieg nadat hy sewe jaar lank vir sy beminde gearbei het; twintig jaar in diens van sy hebsugtige en vergrypende bloedverwant; wat sy rykdom sien aanwas het en sy seuns rondom hom, maar min vreugde in die omstrede en verdeelde huishouding gevind het; ontsteld as gevolg van sy dogter se skande en haar broers se wraak; die dood van Ragel; die onnatuurlike misdaad van Ruben; Juda se sonde as gevolg van die wrede bedrog en kwaadwilligheid teenoor Josef-hoe lank en donker was die lys van onheil wat voor hom oopgesprei was! Keer op keer het hy die wrange vrugte van daardie eerste verkeerde daad gepluk: Weer en weer het hy gesien hoe sy seuns die sondes waaraan hy self skuldig was, herhaal. Maar, so bitter as wat die dissipline was, het dit die doel bereik. Die kastyding, al was dit hewig, het “...'n vredevolle vrug van geregtigheid” gelewer. (Hebreërs 12:11). PeP 213.3

Goddelike Ingewing teken getrou die gebreke van goeie manne op, diegene wat deur die guns van God uitgesonder was; trouens hulle gebreke word meer volledig as hulle deugde uitgelig. Dit was ‘n onderwerp van verwondering vir baie en het aan die ongelowiges geleentheid verskaf om met die Bybel te spot. Dit is egter een van die sterkste bewyse van die geloofwaardigheid van die Bybel, dat feite nie toegesmeer word nie en ook word die sonde van sy hooffigure nie onderdruk nie. PeP 213.4

Mense se verstand is so ingestel op vooroordeel, dat dit nie vir die menslike geskiedenis moontlik is om heeltemal onpartydig te wees nie. As die Bybel deur ongeïnspireerde skrywers geskryf was, sou dit die karakter van sy geëerde manne in ‘n meer gunstiger lig gestel het. Maar, soos dit is, het ons ‘n getroue rekord van hulle wedervaringe. PeP 214.1

Mense wat deur God begunstig was en aan wie Hy groot verantwoordelikhede toevertrou het, het soms voor die versoeking geswig en gesondig, net soos ons deesdae ook maar worstel, wankel en dikwels in die sonde verval. Hulle lewens, met al hulle foute en dwaashede, is oop voor ons, beide om ons aan te moedig en te waarsku. Indien hulle as foutloos aan ons voorgestel was, sou ons met ons sondige geaardheid, dalk gewanhoop het oor ons eie foute en mislukkings. Maar wanneer ons sien hoe ander deur dieselfde ontmoedigings as ons geworstel het, waar hulle onder dieselfde versoekings as ons geswig het en tog weer moed geskep en deur die genade van God oorwin het, word ons aangemoedig in ons strewe na geregtigheid. Soos hulle, hoewel hulle dikwels teruggeval het, maar weer die grond herwin het en deur God geseën is, kan ons ook in die krag van Jesus oorwinnaars word. Daarenteen kan hulle lewensverhaal vir ons as waarskuwing dien. Dit bewys dat God geensins die skuldiges sal kwytskeld nie. Hy sien die sonde van Sy mees begunstigdes raak en Hy hanteer dit met groter strengheid as diegene wat minder lig en verantwoordelikhede het. PeP 214.2

Nadat Jakob begrawe is, was Josef se broers opnuut bevrees. Ondanks sy welwillendheid teenoor hulle het die bewustheid van hulle misdaad hulle wantrouig en agterdogtig gemaak. Dit mag wees dat hy sy wraak uit agting vir hulle vader uitgestel het en dat hy nou die uitgestelde straf vir hulle misdaad sal voltrek. Hulle het dit nie gewaag om persoonlik na hom toe te gaan nie, maar het ‘n boodskap gestuur: “U vader het voor sy dood bevel gegee met hierdie woorde: So moet julle vir Josef sê: Ag, vergewe tog die oortreding van jou broers en hulle sonde, want hulle het jou kwaad aangedoen. Maar nou, vergewe tog die oortreding van ons wat die God van u vader dien.” Die boodskap het Josef tot trane beweeg en aangemoedig daardeur, het sy broers voor hom kom neerval met die woorde: “Kyk, ons is u slawe.” Josef se liefde vir sy PeP 214.3

broers was diep en onselfsugtig en hy was diep seergemaak deur die gedagte dat hulle hom van wraaksug verdink het. Hy het geantwoord: “Moenie bevrees wees nie; want is ek in die plek van God? Want julle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou. Wees dan nie nou bevrees nie: ek sal julle en julle kinders onderhou.” PeP 215.1

Die lewe van Christus word in die lewe van Josef uitgebeeld. Dit was afguns wat Josef se broers aangespoor het om hom as slaaf te verkoop; hulle wou verhoed dat hy belangriker as hulle word. En toe hy na Egipte geneem is, was hulle gerusgestel met die gedagte dat hulle geen verdere las van sy drome sou hê nie, dat hulle die vervulling daarvan onmoontlik gemaak het. Maar God het juis hulle daad gebruik om die gebeurtenis wat hulle probeer verhinder het, te bewerkstellig. Eweneens was die Joodse priesters en owerstes jaloers op Christus en het hulle gevrees dat Hy die aandag van die volk van hulle sou wegtrek. Hulle het Hom gedood om te voorkom dat Hy koning word, maar juis hierdeur is Sy Koningskap teweeggebring. PeP 215.2

Deur sy gevangeskap in Egipte het Josef die verlosser van sy vader se nageslag geword; maar hierdie feit het sy broers se skuld geensins verminder nie. So het Christus vanweë Sy kruisiging deur Sy vyande die Verlosser van die mensdom, die Saligmaker van die gevalle geslag, die Heerser van die hele wêreld geword; maar die misdaad van Sy moordenaars was net so gruwelik asof die voorsienigheid van God nie die gebeurtenisse tot Sy eie eer en tot heil van die mensdom beheer het nie. PeP 215.3

Op dieselfde wyse as wat Josef deur sy eie broers aan die heidene verkoop is, is Christus deur een van Sy dissipels aan Sy bitterste vyande verkoop. Josef is valslik beskuldig en as gevolg van sy eerbaarheid in die gevangenis gestop; Christus is verag en verwerp omdat Sy regverdige, selfverloënende lewe ‘n bestraffing van sonde was; en hoewel Hy aan geen misdaad skuldig was nie, is Hy op grond van valse getuienis veroordeel. Verder verteenwoordig Josef se geduld en sagmoedigheid onder onregverdigheid en verdrukking, asook sy gewilligheid om te vergewe en sy edele welwillendheid teenoor sy onnatuurlike broers, die Verlosser se geduldige PeP 215.4

lyding onder die kwaadwilligheid en mishandeling van bose mense en Sy vergifnis van, nie net Sy moordenaars nie, maar ook van almal wat hulle sondes teenoor Hom bely en om Sy vergifnis vra. PeP 216.1

Josef het sy vader met vier-en-vyftig jaar oorleef. Hy het gelewe en “...van Efraim kinders gesien van die derde geslag. Ook die kinders van Magie, die seun van Manasse, is op Josef se knieë gebore.” Hy het sy volk sien aanwas en voorspoedig word en deur al daardie jare was sy geloof dat God Israel na die Beloofde Land sou terugvoer onwankelbaar. PeP 216.2

Toe hy sien dat sy einde naby is, het hy sy familie na hom toe geroep. Ondanks hy in die land van die Farao’s hoog vereer is, was Egipte vir hom net die plek van sy ballingskap. Sy laaste daad was om te toon dat sy lot by Israel ingewerp was. Sy laaste woorde was: “God sal gewis op julle ag gee en julle uit hierdie land laat optrek na die land wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het.” En hy het die kinders van Israel ‘n plegtige eed laat aflê dat hulle sy gebeente saam met hulle na die land Kanaan sou neem. “En Josef het gesterwe, honderd-en-tien jaar oud. En hulle het hom gebalsem en hy is in ‘n kis gesit in Egipte.” En gedurende die eeue van moeite wat gevolg het, het daardie kis, ‘n herinnering aan Josef se sterwenswoorde, aan Israel getuig dat hulle vreemdelinge in Egipte was en dit het hulle aangemoedig om hulle hoop op die Beloofde Land gevestig te hou, want die tyd van hulle verlossing sou gewis aanbreek. PeP 216.3