Patriarge en Profete
Hoofstuk 22—MOSES
(Hierdie hoofstuk berus op Exodus 1 tot 4) PeP 217.1
Ten einde hulleself gedurende die hongersnood van voedsel te voorsien, het die Egiptiese volk hulle vee en hulle grond aan die kroon verkoop en uiteindelik het hulle hulself as lewenslange diensknegte verbind. In sy wysheid het Josef egter voorsiening gemaak vir hulle bevryding; hy het hulle toegelaat om pagters van die koning te word en jaarliks een vyfde van die opbrengs van hulle grond aan hom af te staan. PeP 217.2
Maar hierdie voorwaardes het nie vir die kinders van Jakob gegeld nie. Uit hoofde van die diens wat Josef aan die Egiptiese volk bewys het, het hulle nie slegs ‘n deel van die land as vrye woonplek ontvang nie, maar hulle is ook van belastings vrygestel en solank die hongersnood voortgeduur het, is daar volop voedsel aan hulle voorsien. Die koning het openlik erken dat dit as gevolg van die genadige bemiddeling van die God van Josef was, dat Egipte oorvloed geniet het terwyl ander nasies broodgebrek gely het. Verder het hy besef dat sy koninkryk deur Josef se bestuursvernuf verryk geword het en uit dankbaarheid het hy Jakob se familie met koninklike guns omgewe. PeP 217.3
Na verloop van tyd het die groot man aan wie Egipte soveel verskuldig was en die geslag wat deur sy arbeid geseën is, na hulle grafte gegaan. “...Toe staan daar ‘n nuwe koning oor Egipte op wat niks van Josef geweet het nie.” Dit wil nie sê dat hy onkundig was aangaande Josef se diens aan sy volk nie, maar hy wou nie erkenning daaraan gee nie en sover dit moontlik was, wou hy hulle aan die vergetelheid oorgee. Hy het aan sy volk gesê: “Kyk, die volk van die kinders van Israel is meer en magtiger as ons. Kom, laat ons ‘n slim plan teen hulle beraam, sodat hulle nie kan vermeerder nie en as ons in oorlog geraak, hulle ook nie by ons vyande aansluit en teen ons veg en uit die land optrek nie.” PeP 217.4
Die Israeliete was reeds baie talryk. Hulle “...was vrugbaar en het baie geword en hulle het vermeerder en buitengewoon magtig geword, sodat die land vol was van hulle.” Onder Josef se pleegsorg en die guns van die koning wat gedurende daardie tyd regeer het, het hulle spoedig oor die land versprei. Maar PeP 217.5
hulle het hul afsonderlike volksidentiteit behou en het op die gebied van gebruike en Godsdiens niks met die Egiptenare in gemeen gehad nie; en hulle toenemende getalle het die koning en sy volk onrustig gemaak uit vrees dat hulle hul in ‘n oorlog by die vyande van Egipte sou aansluit. Maar beleid het hulle verbanning uit die land belet. Baie van hulle was bekwame en kundige ambagsmanne en hulle het baie tot die rykdom van die land bygedra; en die koning het sulke werksmense nodig gehad vir die oprigting van sy weelderige paleise en tempels. Gevolglik het hy hulle op gelyke voet gestel met die Egiptenare wat hulleself saam met hulle besittings aan die koninkryk verkoop het. Weldra is opsigters oor hulle aangestel en hulle slawerny het ‘n voldonge feit geword. Die Egiptenare het “...die kinders van Israel met hardheid laat dien en hulle lewe verbitter deur swaar werk met klei en bakstene en deur allerhande werk in die landerye-al die werk wat hulle met hardheid deur hulle laat verrig het.” “Maar hoe meer hulle verdruk is, hoe meer het hulle vermenigvuldig en hulle uitgebrei.” PeP 218.1
Die koning en sy raadslede het gehoop dat hulle die Israeliete deur harde arbeid sou onderdruk om sodoende hulle getalle te laat afneem en hulle onafhanklike gees te onderdruk. Toe hulle dit nie kon regkry nie, het hulle tot wreder maatreëls oorgegaan. Aan die vroue wie as gevolg van hulle werk die geleentheid gehad het om hierdie bevel uit te voer, is die opdrag gegee om al die manlike Hebreeuse kinders met geboorte dood te maak. Satan was die beweegrede vir hierdie bevel. Hy het geweet dat die Verlosser onder die Israeliete sou opstaan en deur die koning te beweeg om die kinders om die lewe te bring het hy gemeen om hierdie Goddelike plan te verydel. Maar die vroue het God gevrees en het nie hierdie wrede mandaat durf uitvoer nie. Die Here het hulle gedrag goedgekeur en hulle voorspoedig gemaak. Woedend omdat sy plan misluk het, het die koning die bevel meer dringend en breedvoeriger gemaak. Die hele volk is aangesê om sy weerlose slagoffers op te spoor en dood te maak. “Toe gee Farao aan sy hele volk bevel en sê: Al die seuns wat gebore word, moet julle in die Nyl werp, maar al die dogters kan julle laat lewe.” PeP 218.2
Terwyl hierdie dekreet van krag was, is daar vir Amram en Jogebed, toegewyde Israeliete uit die stam van Levi, ‘n seun gebore. Dit was ‘n “mooi” kind en omdat sy ouers geglo het dat PeP 218.3
die tyd van Israel se verlossing naby was en dat God ‘n verlosser vir Sy volk sou opwek, het hulle hul voorgeneem dat hul klein kindjie nie opgeoffer sou word nie. Hulle is deur geloof in God versterk, “...en hulle het nie die gebod van die koning gevrees nie.” (Hebreërs 11:23). PeP 219.1
Drie maande lank het die moeder daarin geslaag om die kind weg te steek. Toe sy daarna ontdek dat sy hom nie meer met veiligheid kon behou nie, het sy ‘n mandjie van biesies gemaak en dit met lymgrond en pik waterdig gemaak. Sy het die baba daarin gesit en dit tussen die riete aan die kant van die Nyl gaan versteek. Sy kon dit nie waag om self daaroor wag te hou nie, want dit kon die kind se lewe en haar eie ook in gevaar stel; maar sy suster, Mirjam, het in die nabyheid gebly, skynbaar ongeërg, maar het besorg op die uitkyk gebly om te sien wat van haar boetie sou word. Daar was ook ander wat wag gehou het. Die moeder se ernstige gebede het die kind aan die sorg van God toevertrou en onsigbare engele het ook oor sy nederige rusplek gewaak. Engele het Farao se dogter daarheen gelei. Sy was nuuskierig toe sy die mandjie opmerk en toe sy die pragtige kind daarin sien, het sy dadelik besef wat gebeur het. Die baba se trane het haar tot barmhartigheid beweeg en sy was dadelik met medelye gevul teenoor die onbekende moeder wat hierdie uitweg gekies het om haar kosbare klein kindjie se lewe te red. Sy het besluit om sy lewe te spaar; sy sou hom as haar eie aanneem. PeP 219.2
Mirjam het alles onopsigtelik dopgehou en toe sy sien dat die kind sagkens hanteer word, waag sy dit om nader te kom en sê toe uiteindelik: “Sal ek vir u ‘n pleegmoeder uit die Hebreeuse vroue gaan roep, dat sy vir u die seuntjie kan soog?” En die nodige toestemming is gegee. PeP 219.3
Die suster het die goeie tyding haastig na haar moeder geneem en onmiddellik saam met haar na Farao se dogter teruggekeer. Die prinses het gesê: “Neem hierdie seuntjie en soog hom vir my en ek sal jou loon gee.” PeP 219.4
God het die moeder se gebede verhoor en haar geloof is beloon. Met diepe dankbaarheid het sy nou haar veilige en gelukkige taak aanvaar. Sy het getrou van elke geleentheid gebruik gemaak om haar kind vir God op te voed. Sy was oortuig dat hy vir die een of ander belangrike taak bewaar gebly het en PeP 219.5
het geweet dat hy binnekort aan sy koninklike moeder oorhandig moes word en omring sou wees met invloede wat sou neig om hom van God weg te lok. Hierdie gedagte het haar beweeg om meer ywerig en versigtig in sy onderrig as met haar ander kinders te wees. Sy het gepoog om sy verstand met die vrees van God en ‘n voorliefde vir waarheid en geregtigheid te deurdrenk en het ernstig gebid dat hy teen elke verderflike invloed bewaar moes word. Sy het hom op die dwaasheid en sonde van afgodery gewys en sy het hom ook vroeg reeds geleer om te kniel en tot die lewende God te bid wat alleen in staat was om hom te hoor en uit alle benoudhede te red. PeP 220.1
Sy het solank sy kon, die seun by haar gehou, maar toe hy ongeveer twaalf jaar oud was, was sy verplig om hom af te staan. Uit sy nederige huisie is hy na die koninklike paleis, na die dogter van Farao, geneem “...en hy het haar seun geword.” Selfs daar het hy egter nie die indrukke van sy kinderjare verloor nie. Die lesse wat hy van sy moeder geleer het, kon nie vergeet word nie. Dit was vir hom ‘n skild teen die hoogmoed, die ongeloof en die sedeloosheid wat te midde van die weelde van die hof geheers het. PeP 220.2
Hoe verreikend was die gevolge van daardie een Hebreeuse vrou se invloed en sy was ‘n banneling en ‘n slavin! Moses se hele toekomstige lewe, die groot sending wat hy as leier van Israel vervul het, getuig van die belangrikheid van ‘n Christen moeder se werk. Geen ander werk kan hierteen opweeg nie. In ‘n baie groot mate hou die moeder die lotsbestemming van haar kinders in haar hande. Sy is met die ontwikkeling van hulle verstandelike vermoëns en hulle karakters gemoeid, nie net vir die tydelike nie, maar vir die ewigheid. Sy saai saad wat sal ontkiem en wat vrugte ten goede of ten kwade sal voortbring. Sy word nie geroep om ‘n mooi vorm op ‘n doek aan te bring of om dit uit marmer te beitel nie, maar wel om die beeld van God op ‘n mensesiel af te druk. Veral in hul vroeëre jare is dit haar verantwoordelikheid om die karakters van haar kinders te vorm. Die indrukke wat dan op hulle ontwikkelende verstande gemaak word, sal lewenslank by hulle bly. Ouers moet die onderwys en die opleiding van hulle kinders rig terwyl hulle nog baie jonk is, ten einde Christene van hulle te maak. Hulle word nie in ons PeP 220.3
sorg geplaas vir opleiding as erfgename van ‘n aardse ryk nie, maar as konings van God wat deur eindelose eeue sal regeer. PeP 221.1
Elke moeder moet besef dat haar oomblikke van onskatbare waarde is; haar werk sal op die plegtige dag van afrekening beproef word. Dan sal daar gevind word dat baie van die mislukkings en misdade van manne en vroue die gevolg was van die onkunde en nalatigheid van diegene wat hulle kindervoete op die regte weg moes gelei het. Dan sal ontdek word dat talle wat die wêreld met die lig van genialiteit, waarheid en heiligheid gedien het, die beginsels waaruit hulle invloed en sukses ontstaan het, aan ‘n biddende Christen-moeder te danke het. PeP 221.2
Aan die hof van Farao het Moses die beste siviele en militêre opleiding ontvang. Die koning het besluit dat sy aangenome kleinseun die troonopvolger sou wees en die jongeling is vir hierdie hoë pos opgelei. “En Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en was magtig in woorde en dade.” (Handelinge 7:22). Sy begaafdheid as militêre leier het vir hom die guns van die weermag van Egipte gewen en hy is in die algemeen as ‘n uitsonderlike karakter beskou. Die Satan se doel was verydel. Juis die dekreet wat die Hebreeuse kinders tot die dood veroordeel het, is deur God omvergegooi en aangewend om die toekomstige leier van Sy volk op te lei. PeP 221.3
Die oudstes van Israel is deur engele ingelig dat die tyd van hulle verlossing naby was en dat Moses die man sou wees wat God sou aanstel om hierdie werk te volbring. Engele het Moses ook meegedeel dat Jehova hom gekies het om Sy volk se slawerny te verbreek. Omdat hy gedink het hulle sou hulle vryheid deur wapengeweld verkry, het hy verwag om ‘n Hebreeuse leër teen die leërmagte van Egipte aan te voer en met dit in gedagte, het hy gewaak teen sy toegeneentheid, sodat hy nie as gevolg van sy liefde vir sy pleegmoeder of vir Farao, verhoed sou wees om die wil van God te doen nie. PeP 221.4
Ooreenkomstig die wette van Egipte moes almal wat op die troon van die Farao’s sit ‘n lid van die priesterkaste word; en gevolglik moes Moses, as waarskynlike troonopvolger, in al die misterie van die volksgodsdiens ingewy word. Hierdie plig is aan die priesters opgedra. Maar hoewel hy ‘n ywerige en onvermoeide leerling was, kon hulle hom nie oorreed om in die PeP 221.5
aanbidding van die valse gode te deel nie. Daar is gedreig dat hy die kroon sou verbeur en hy is gewaarsku dat die vorstin hom as seun sou onteien indien hy die godsdiens van die Hebreërs nie versaak nie. Maar hy was onwrikbaar in sy voorneme om niemand behalwe die een God, die Skepper van die hemel en die aarde, te aanbid nie. Hy het met die priesters en die aanbidders geredekawel en hulle gewys op die dwaasheid van hulle bygelowige aanbidding van redelose voorwerpe. Niemand kon sy argumente weerlê of hom in sy voorneme laat verander nie. Voorlopig was sy vasberadenheid geduld, aangesien hy so ‘n hoë pos beklee het en so hoog by die koning en die volk aangeskrewe was. PeP 222.1
“Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word, omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ‘n tyd lank die genot van die sonde te hê en die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning.” (Hebreërs 11:24-26). Moses was toegerus om voorrang onder die grotes van die aarde in te neem, om uit te blink in die howe van die glorierykste koninkryk en om die septer van sy gesag te swaai. Sy intellektuele grootsheid onderskei hom bo die beroemde manne van alle eeue. As geskiedskrywer, digter, filosoof, aanvoerder van leërs en wetgewer staan hy sonder weerga. Tog, met die wêreld aan sy voete, het hy die geestelike krag gehad om die vleiende vooruitsigte van rykdom, grootsheid en roem van die hand te wys “...omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ‘n tyd lank die genot van die sonde te hê.” PeP 222.2
Moses is opgelei aangaande die loon wat uiteindelik aan die nederige, gehoorsame diensknegte van God gegee sal word en daarom het wêreldse gewin in vergelyking daarmee geen waarde vir hom gehad nie. Die pragtige paleis van Farao en die koning se troon is as lokmiddels gebruik, maar Moses het geweet dat daar in die deftige howe sondige genot was wat mense van God laat vergeet. Hy het verby die luisterryke paleis gekyk, verby die koningskroon, na die hoë eer wat aan die heiliges van die Allerhoogste geskenk sal word in ‘n koninkryk wat nie met sonde besmet is nie. In geloof het hy die onverwelklike kroon gesien wat die Koning van die hemel op die PeP 222.3
hoof van die oorwinnaar sal sit. Hierdie geloof het hom in staat gestel om die hoog aangeskrewenes van die aarde te vermy en hom aan te sluit by die nederige, arm, veragte volk wat verkies het om God te gehoorsaam eerder as om die sonde te dien. PeP 223.1
Moses het in die hof gebly totdat hy veertig jaar oud was. Dikwels het hy aan die ellendige toestand van sy volk gedink en hy het sy broeders in hulle knegskap besoek en hulle bemoedig met die versekering dat God hulle verlossing sou bewerkstellig. Menigmaal het hy met weersin die verdrukking en onregverdigheid aanskou waaronder hulle gely het en dan het hy gebrand om die onreg te wreek. Op ‘n dag, terwyl hy so gewandel het, het hy gesien hoe ‘n Egiptenaar ‘n Israeliet slaan; hy het tussenbeide getree en die Egiptenaar doodgeslaan. Behalwe die Israeliet was daar geen getuie van die daad nie en Moses het die lyk in die sand begrawe. Hy het homself nou bewys as hy ‘n voorstander van sy volk en hy het gehoop om hulle in opstand te sien kom om hulle vryheid te herwin. “Hy het gedink dat sy broers sou verstaan dat God hulle deur sy hand redding sou gee; maar hulle het dit nie verstaan nie.” (Handelinge 7:25). Hulle was nog nie gereed vir vryheid nie. Die volgende dag het Moses twee Hebreërs met mekaar sien veg, een van hulle duidelik verkeerd. Moses het die oortreder bestraf, wat onmiddellik daarop gereageer het deur die bestraffer se reg om tussenbeide te tree te ontken en het hom van misdaad beskuldig: “Wie het jou as owerste en regter oor ons aangestel? Dink jy om my dood te slaan soos jy die Egiptenaar omgebring het?” PeP 223.2
Die saak het spoedig onder die Egiptenaars rugbaar geword en ‘n grootliks oordrewe weergawe het Farao se ore bereik. Die koning is onder die indruk gebring dat hierdie daad veelbetekenend was; dat Moses van plan was om sy volk in opstand teen die Egiptenare aan te voer, om die regering omver te werp en om self op die troon te sit; ook dat die koninkryk in gevaar sou wees solank hy leef. Die koning het dadelik besluit dat hy moes sterf, maar Moses het bewus geword dat hy in gevaar verkeer en het na Arabië gevlug. PeP 223.3
Die Here het sy skrede gelei sodat hy by Jetro, die vors en priester van Midian en ‘n aanbidder van die ware God, herberg gevind het. Mettertyd is Moses met een van Jetro se dogters PeP 223.4
getroud en daar het hy veertig jaar lank in diens van sy skoonvader as skaapwagter gebly. PeP 224.1
Deur die Egiptenaar dood te slaan, het Moses dieselfde fout begaan as dié wat sy vaders so dikwels begaan het deur self die werk wat God beloof het om te doen, te probeer doen. God was nie van plan om Sy volk, soos Moses gedink het, deur middel van ‘n oorlog te red nie, maar deur Sy eie mag, sodat die heerlikheid Hom alleen sou toekom. Tog is selfs hierdie onbesonne daad deur God gebruik om Sy doel te bereik. Moses was nog nie gereed vir sy groot taak nie. Hy moes eers dieselfde les van geloof leer wat Abraham en Jakob geleer het, om nie op menslike krag en wysheid nie, maar op die krag van God staat te maak vir die vervulling van Sy beloftes. En daar was ander lesse wat Moses in die eensaamheid van die berge moes leer. In die skool van selfverloëning en ontbering moes hy leer om geduld en selfbeheersing te beoefen. Voordat hy met wysheid kon regeer, moes hy eers leer om te gehoorsaam. Sy eie hart moes eers ten volle in harmonie met God wees voordat hy Sy wil aan Israel kon bekend maak. Uit eie ondervinding moes hy leer om vaderlike sorg oor almal wat sy hulp nodig sou kry, uit te oefen. PeP 224.2
Die mens sou daardie lang tydperk van arbeid en onbekendheid as ‘n verkwisting van tyd uitgeskakel het. Maar Oneindige Wysheid het hom, wat die leier van sy volk sou word, geroep om veertig jaar as nederige skaapwagter deur te bring. Die gewoontes van versorging, van selfverloëning en tere besorgdheid vir sy kudde wat hy so sou ontwikkel, sou hom voorberei om ‘n deernisvolle, lankmoedige herder van Israel te word. Geen voordeel van menslike opleiding of kultuur kon die plek van hierdie ondervinding inneem nie. PeP 224.3
Moses het baie dinge aangeleer wat hy eers moes afleer. Die invloede wat hom in Egipte omring het, die liefde van sy pleegmoeder, sy eie posisie as kleinseun van die koning, die algemene losbandigheid, die verfyndheid, die listigheid en mistiek van ‘n valse godsdiens, die luisterrykheid van afgodediens, die plegtige grootsheid van argitektuur en beeldhouwerk, het alles ‘n diep indruk op sy ontwikkelende gemoed gemaak en het tot ‘n sekere mate, sy gewoontes en karakter gevorm. Tyd, verandering van omgewing en PeP 224.4
gemeenskap met God kon hierdie indrukke verwyder. Dit sou vir Moses self ‘n stryd van lewe wees om dwalinge af te sweer en die waarheid aan te neem, maar God sou hom help wanneer die stryd te erg vir menslike krag word. PeP 225.1
In almal wat uitverkies was om vir God ‘n werk te verrig, kan die menslike element bespeur word. Tog was hulle nie mense met stereotipe gewoontes en karakter wat tevrede was om te bly soos hulle is nie. Hulle het opreg verlang om wysheid van God te verkry en te leer om vir Hom te werk. Die apostel sê: “As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt en dit sal aan hom gegee word.” (Jakobus 1:5). Maar God sal aan geen mens wat tevrede is om in duisternis te bly, Goddelike Lig skenk nie. Ten einde hulp van God te ontvang, moet ‘n mens sy swakheid en tekortkominge besef; hy moet sy eie gedagtes instel op die groot verandering wat in hom moet plaasvind; hy moet tot ernstige en volhardende gebed en strewe opgewek word. Verkeerde gebruike en gewoontes moet afgeskud word; en dit is alleenlik deur vasberade pogings om hierdie foute reg te stel en te voldoen aan die regte beginsels, wat die oorwinning behaal kan word. Vele bereik nooit die posisie wat hulle kan inneem nie, omdat hulle wag dat God vir hulle die dinge doen wat Hy hulle self in staat gestel het om te doen. Almal wat vir ‘n nuttige betrekking geskik wil wees, moet deur strawwe verstandelike en sedelike dissipline daarvoor opgelei word en God sal hulle help deur menslike krag met Die krag van God te verenig. PeP 225.2
Deur die verskansing van die berge omsluit, was Moses alleen met God. Die manjifieke tempels van Egipte met hulle bygeloof en valsheid, het nie langer ‘n indruk op hom gemaak nie. In die plegtige grootsheid van die ewige gebergtes het hy die majesteit van die Allerhoogste aanskou en die teenstelling het hom laat besef hoe magteloos en onbeduidend die gode van Egipte was. Op alles was die Skepper se Naam geskryf. Dit was asof Moses in Sy teenwoordigheid gestaan het en deur Sy krag oorskadu was. Hier is sy hoogmoed en selfvoldaanheid uitgewis. In die strenge eenvoud van sy lewe in die woestyn het die gevolge van die gemak en die weelde van Egipte verdwyn. Moses het geduldig, eerbiedig en nederig geword, “...baie PeP 225.3
sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem...” (Numeri 12: ) maar tog sterk in sy geloof in die magtige God van Jakob. PeP 226.1
Soos die jare verbygegaan het en hy met sy kuddes op eensame plekke rondgedwaal het en oor die onderdrukking van sy volk gepeins het, het hy onthou hoe God met sy voorvaders gehandel het en die beloftes wat die erfdeel van die uitverkore volk was en sy gebede vir Israel het dag en nag opgegaan. Hemelse engele het hulle lig om hom laat skyn. Hier, onder die inspirasie van die Heilige Gees, het hy die boek van Genesis geskryf. Die lange jare wat hy in die eensaamheid van die woestyn deurgebring het, was ‘n ryke seën, nie net vir Moses en sy volk nie, maar ook vir die wêreld in al die daaropvolgende eeue. PeP 226.2
“En in daardie lang tyd het die koning van Egipte gesterwe. En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God. En God het hulle gekerm gehoor en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob. En God het die kinders van Israel aangesien en God het hulle geken.” Die tyd vir die verlossing van Israel het aangebreek. Maar God se doel sou volbring word op ‘n wyse wat minagting oor menslike hoogmoed sou stort. Die verlosser sou as nederige skaapwagter met slegs ‘n staf in sy hand uitgaan; maar God sou daardie staf die simbool van Sy mag maak. Terwyl Moses sy kudde eendag naby Horeb, “die berg van God,” laat wei het, sien hy ‘n bos brand; die takke, blare en stam was alles aan die brand, maar is skynbaar nie verteer nie. Hy het nader gegaan om die wonderbare verskynsel te aanskou en toe roep ‘n stem uit die vlamme hom op sy naam. Met bewende lippe het hy geantwoord: “Hier is ek.” Hy is gewaarsku om nie oneerbiedig nader te kom nie: “Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond ... Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.” Dit was Hy wat Hom in vervloë eeue as die Verbondsengel aan die vadere geopenbaar het. “Toe het Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om God aan te sien.” PeP 226.3
Nederigheid en eerbied moet kenmerkend wees van die houding van almal wat in die teenwoordigheid van God kom. In die Naam van Jesus kan ons met vrymoedigheid voor Hom kom, PeP 226.4
maar ons moet Hom nie met verwaandheid nader asof Hy op dieselfde vlak as ons verkeer nie. Daar is mense wat die groot, almagtige en heilige God wat in ontoeganklike lig woon, aanspreek asof hulle met ‘n gelyke of selfs met ‘n mindere spreek. Daar is mense wat hulle in Sy huis gedra soos hulle dit nie in die oudiënsiesaal van ‘n aardse heerser sou waag nie. Sulke mense moet in gedagte hou dat hulle voor die oë van Hom wat deur serafs aanbid word is en voor wie engele hulle aangesigte verberg. God moet grootliks eerbiedig word; almal wat waarlik bewus van Sy teenwoordigheid is, sal nederig voor Hom neerkniel en soos Jakob, wat die gesig van God gesien het, sal hulle uitroep: “Hoe vreeslik is hierdie plek! Dit is hier niks anders as ‘n huis van God nie en dit is hier die poort van die hemel.” PeP 227.1
Terwyl Moses met eerbiedige ontsag voor God gewag het, het die stem verder gepraat: “Ek het duidelik gesien die ellende van my volk wat in Egipte is; en Ek het hulle jammerklagte oor hulle drywers gehoor, ja, Ek ken hulle smarte. Daarom het Ek neergedaal om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos en hulle te laat optrek uit daardie land na ‘n goeie en wye land, na ‘n land wat oorloop van melk en heuning.... Gaan dan nou heen, dat Ek jou na Farao kan stuur; en lei my volk, die kinders van Israel, uit Egipte uit.” PeP 227.2
Verbaas en verskrik oor die bevel het Moses teruggetrek met die woorde: “Wie is ek, dat ek na Farao sou gaan en dat ek die kinders van Israel uit Egipte sou lei?” Die antwoord was: “Ek sal met jou wees en dit sal vir jou ‘n teken wees dat Ek jou gestuur het: As jy die volk uit Egipte gelei het, sal julle op hierdie berg God dien.” PeP 227.3
Moses het aan die moeilikhede wat voorlê gedink, aan die blindheid, onkunde en ongeloof van sy volk, waarvan baie amper geen kennis meer van God gehad nie. Hy het geantwoord: “Maar as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur en hulle my vra: Hoe is sy naam? Wat moet ek hulle antwoord?” Die antwoord was: PeP 227.4
“EK IS WAT EK IS.” “So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur.” PeP 227.5
Moses is beveel om eers die oudstes van Israel bymekaar te roep, die edelste en regverdigste onder hulle wat lank oor hulle slawerny getreur het en om die boodskap van God met die belofte van verlossing aan hulle oor te dra. Dan moes hy saam met die oudstes na die koning gaan en aan hom sê: PeP 228.1
“Die Here, die God van die Hebreërs, het ons ontmoet; laat ons dan nou tog drie dagreise ver die woestyn intrek en aan die Here, onse God, offer.” PeP 228.2
Moses is vooraf gewaarsku dat Farao hierdie versoek om Israel te laat gaan, sou weier. Maar God se dienskneg moes nie moedeloos word nie; want God sou van hierdie geleentheid gebruik maak om Sy krag aan die Egiptenare en aan Sy volk te toon. “En Ek sal my hand uitstrek en Egipte met al my wonders teister wat Ek daarin sal doen; en daarna sal hy julle laat trek.” PeP 228.3
Aanwysings is ook gegee aangaande die voorsiening wat hulle vir die reis moes tref. Die Here het gesê: “En as julle dan trek, moet julle nie met leë hande trek nie, maar elke vrou moet van haar buurvrou en van haar wat in haar huis vertoef, silwer-en goue voorwerpe en klere eis.” Die Egiptenare het ryk geword deur die harde arbeid wat hulle so onregverdig van die Israeliete geverg het en wanneer laasgenoemde op die reis na hulle nuwe woonplek sou vertrek, was dit niks meer as reg dat hulle die loon vir hulle jare van arbeid moes eis nie. Hulle moes waardevolle artikels vra wat maklik vervoer kon word en God sou daarvoor sorg dat die Egiptenare hulle begunstig. Die magtige wonderwerke wat ter wille van hulle bevryding verrig sou word, sou hulle verdrukkers met skrik vervul, sodat die versoeke van die slawe toegestaan sou word. PeP 228.4
Moses het moeilikhede wat vir hom onoorkomelik geblyk het, voor hom gesien. Watter bewys kon hy aan sy volk gee dat God hom werklik gestuur het? Hy het gesê: “Maar as hulle my nie glo en na my stem nie luister nie, maar sê: Die Here het nie aan jou verskyn nie?” Toe is bewyse wat ‘n beroep op sy sintuie gemaak het, aan hom gegee. Hy is beveel om sy staf op die grond neer te gooi. Hy het dit gedoen en “...dit het ‘n slang geword; en Moses het daarvoor gevlug.” Toe is hy beveel om dit op te tel en in sy hand het dit weer ‘n staf geword. Hy is beveel om sy hand in sy boesem te steek. Hy het gehoorsaam en “...toe hy dit uittrek, was sy hand melaats, soos sneeu!” Toe hy aangesê is PeP 228.5
om dit weer in sy boesem te steek, het hy dit gedoen en toe hy dit uittrek, was dit gesond soos die ander. Die Here het Moses verseker dat deur hierdie tekens, sy eie volk asook Farao, oortuig behoort te wees dat Een, magtiger as die koning van Egipte, Hom aan hulle geopenbaar het. PeP 229.1
Maar die dienskneg van God was steeds oorweldig deur die gedagte aan die vreemde en wonderlike werk wat op hom gewag het. In sy benoudheid en vrees het hy nou sy spraakgebrek as verskoning gebruik: “Ag, Here, ek is nie ‘n man van woorde nie-van gister of van eergister of vandat U met u kneg gespreek het nie; want ek is swaar van mond en swaar van tong.” Hy was reeds so lank van die Egiptenare af weg dat hy hulle taal nie meer so goed geken, of geredelik kon praat soos toe hy onder hulle gewoon het nie. PeP 229.2
Die Here het geantwoord: “Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie?” Daarby is nog ‘n versekering van Goddelike hulp gevoeg: “Gaan dan nou heen en Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê.” Maar Moses het weer gepleit dat ‘n meer bekwame persoon gestuur moes word. Eers het hierdie verskonings uit nederigheid en beskeidenheid voortgevloei; maar nadat die Here beloof het om die moeilikhede uit die weg te ruim en dit met welslae te bekroon, was enige verdere terugdeinsing en klagtes oor sy onbevoegdheid ‘n bewys dat hy God nie vertrou het nie. Dit het getuig van ‘n vrees dat God nie in staat was om hom bevoeg te maak vir die werk waartoe Hy hom geroep het nie, of dat Hy ‘n fout in die keuse van die man begaan het. PeP 229.3
Daarna is Moses na Aaron, sy ouer broer, gestuur wat daagliks die taal van die Egiptenare gepraat het en dit vlot gepraat het. Die Here het hom meegedeel dat Aaron op pad was om hom te ontmoet. Die volgende woorde van die Here was ‘n ondubbelsinnige bevel: PeP 229.4
“Jy moet dan met hom spreek en die woorde in sy mond lê. En Ek sal met jou mond en sy mond wees en julle leer wat julle moet doen. En hy moet vir jou met die volk spreek en dan sal hy vir jou ‘n mond wees en jy vir hom ‘n god wees. Neem dan hierdie staf in jou hand waarmee jy die tekens moet doen.” Hy kon hom PeP 229.5
nie verder verset nie, want alle gronde vir verskonings is uit die weg geruim. PeP 230.1
Toe Moses die Bevel van God ontvang, het hy geen selfvertroue gehad nie en hy was swaar van spraak en terughoudend. Hy was oorweldig deur ‘n gevoel dat hy onbekwaam was om as mondstuk vir God teenoor Israel op te tree. Maar nadat hy die werk aanvaar het, het hy dit heelhartig aangepak en sy vertroue in God gestel. Die grootsheid van sy sending het die hoogste vermoë van sy verstand in werking gestel. God het sy geredelike gehoorsaamheid geseën en hy het welsprekend, hoopvol en selfversekerd geword, goed toegerus vir die grootste werk wat ooit aan ‘n mens opgedra is. Dit is ‘n voorbeeld van wat God doen om die karakter van diegene wat op Hom vertrou en hulself onvoorwaardelik aan Sy bevele oorgee, te versterk. PeP 230.2
“n Mens sal krag en doeltreffendheid verkry indien hy die verantwoordelikhede wat God op hom plaas aanvaar en met sy hele siel daarna strewe om dit reg te doen. Hoe nederig sy posisie, of beperk sy vermoë, sal daardie mens wat op Die krag van God vertrou en daarna strewe om sy werk getrou uit te voer, ware grootheid verwerf. As Moses op sy eie krag en wysheid staatgemaak het en die groot opdrag gretiglik aanvaar het, sou hy sy totale onbevoegdheid vir so ‘n taak bewys het. Die feit dat ‘n mens van sy eie swakheid bewus is, is ‘n bewys dat hy die volle omvang van die werk wat aan hom toevertrou is besef en dat hy God sy Raadgewer en sterkte sal maak. PeP 230.3
Moses het na sy skoonvader teruggekeer en sy begeerte om sy broeders in Egipte te gaan besoek uitgespreek. Jetro het sy toestemming verleen met die seëning: “Gaan in vrede.” Met sy vrou en sy kinders het Moses op die reis vertrek. Hy het dit nie gewaag om die doel van sy sending bekend te maak nie, ingeval hulle nie toegelaat sou word om hom te vergesel nie. Voordat hy egter in Egipte aangekom het, het hy dit gerade geag om hulle, vir hulle eie veiligheid, na hul woning in Midian terug te stuur. PeP 230.4
'n Heimlike vrees vir Farao en die Egiptenare, wie se gramskap veertig jaar vroeër teen hom opgevlam het, het Moses nog meer teësinnig gemaak om na Egipte terug te gaan; PeP 230.5
maar nadat hy vertrek het om die bevel van God uit te voer, het die Here aan hom geopenbaar dat sy vyande dood was. PeP 231.1
Op die reis van Midian het Moses ook ‘n skokkende en skrikwekkende waarskuwing van die misnoeë van die Here ontvang. ‘n Engel het dreigend aan hom verskyn asof hy hom onmiddellik wou vernietig. Daar was geen verduideliking nie, maar Moses het onthou dat hy een van die vereistes van God nie nagekom het nie; hy het aan die oorreding van sy vrou toegegee en nagelaat om sy jongste seun te besny. Hy het nie aan die voorwaarde voldoen waardeur sy kind kon aanspraak maak op die seëninge van God se verbond met die Israeliete nie; en sulke nalatigheid aan die kant van hulle gekose leier, kon nie anders as om die krag van die Goddelike verordeninge op die volk te verswak nie. Uit vrees dat haar man gedood sou word, het Sippora self die ritueel uitgevoer en daarna het die engel Moses toegelaat om sy reis voort te sit. In sy sending na Farao sou Moses in lewensgevaar verkeer; sy lewe kon net deur die beskerming van heilige engele bewaar word. Maar terwyl hy ‘n bekende plig verwaarloos het, was hy nie veilig nie; want hy kon nie deur die engele van God beskerm word nie. PeP 231.2
In die tyd van benoudheid, kort voor die wederkoms van Christus sal die regverdiges deur die bediening van heilige engele beskerm word; maar daar sal geen veiligheid wees vir oortreders van God se wet nie. Engele sal dan nie diegene wat die Goddelike voorskrifte verontagsaam kan beskerm nie. PeP 231.3