Patriarge en Profete

22/75

Hoofstuk 20—Josef in Egipte

(Hierdie hoofstuk berus op Genesis 39 tot 41) PeP 188.1

Intussen was Josef saam met sy ontvoerders onderweg na Egipte. Terwyl die karavaan suidwaarts na die grense van Kanaan beweeg het, kon die seun in die verte die heuwels waar sy vader se tente staan sien. Hy het bitterlik geween oor die gedagte aan sy vader in sy eensaamheid en droefheid. Weer het die toneel by Dotan in sy gees opgekom. Hy het weer sy broers se toorn en hulle grimmige blikke op hom gesien. Die kwetsende, beledigende woorde waarmee sy smekinge beantwoord is, het nog ‘n keer in sy ore weerklink. Met ‘n bewende hart het hy die toekoms voor hom gesien. Wat ‘n verandering in sy toestand-van ‘n teer, gekoesterde seun tot ‘n veragte en hulpelose slaaf! Alleen en vriendeloos, wat sou sy lot in die vreemde land waarheen hy op pad was wees? ‘n Tyd lank het Josef homself aan onbeheerste droefheid en vrees oorgegee. PeP 188.2

Maar in die voorsienigheid van God sou selfs hierdie ondervinding vir hom tot seën wees. Hy het binne ‘n paar uur dinge geleer wat hy moontlik andersins nie in jare sou geleer het nie. Sy vader, so sterk en teer soos sy liefde was, het hom ‘n onreg aangedoen met sy partydigheid en toegeeflikheid. Hierdie onwyse voorkeur het sy broers se grimmigheid opgewek en hulle aangespoor tot die wrede daad wat hom van sy ouerhuis weggeneem het. Die uitwerking daarvan kon ook in sy eie karakter gesien word. Gebreke is aangemoedig wat nou reggestel sou word. Hy het selfgenoegsaam en veeleisend geword. Gewoond aan sy vader se versorging, was hy onvoorbereid om die probleme voor hom, in die bitter, onversorgde lewe van ‘n vreemdeling en ‘n slaaf wat op hom gewag het, die hoof te bied. PeP 188.3

Toe het hy aan die God van sy vader gedink. In sy kinderjare is hy geleer om Hom lief te hê en te vrees. Hy het dikwels in sy vader se tent geluister na die verhaal van die gesig wat Jakob gesien het toe hy van sy ouerhuis as banneling en vlugteling weggevlug het. Daar is aan hom vertel van die Here se beloftes aan Jakob en hoe dit vervul is-hoe, in die uur van nood, die PeP 188.4

engele van God gekom het om hom te leer, te vertroos en te beskerm. En hy het geleer van die liefde van God wat ‘n Verlosser vir die mensdom sou voorsien. Nou het al hierdie kosbare lesse hom helder voor die gees gestaan. Josef het geglo dat die God van sy vaders ook sy God sal wees. Hy het homself daar en dan volkome aan die Here oorgegee en gebid dat die Beskermer van Israel in die land van sy ballingskap met hom sal wees. PeP 189.1

Sy siel was met vreugde gevul deur sy hoë voorneme om homself getrou aan God te bewys-om onder alle omstandighede op te tree soos dit ‘n onderdaan van die Koning van die hemel betaam. Hy sou die Here met ‘n onverdeelde hart dien; hy sou die beproewinge van sy lot moediglik verduur en elke plig getrou uitvoer. Die ervarings van een dag het ‘n keerpunt in Josef se lewe gebring. Die verskriklike ramp het hom van ‘n verwende kind in ‘n bedagsame, dapper en selfversekerde man verander. PeP 189.2

Toe hy in Egipte aankom, is Josef aan Potifar, kaptein van die koning se lyfwag, verkoop in wie se diens hy daarna vir tien jaar was. Hier is hy aan buitengewone versoekings blootgestel. Hy het hom te midde van afgodery bevind. Die aanbidding van valse gode is met prag en praal van konings omring en ondersteun deur die rykdom en kultuur van die mees beskaafste nasie van daardie tyd. Maar Josef het sy eenvoud en getrouheid aan God gehandhaaf. Die skouspel en klanke van verdorwenheid was rondom hom, maar hy was soos iemand wat nie sien en nie hoor nie. Hy het sy gedagtes nie toegelaat om op verbode onderwerpe te talm nie. Die begeerte om die guns van die Egiptenare te wen, kon hom nie oorreed om sy beginsels te verbloem nie. Indien hy dit probeer doen het, sou hy deur versoeking oorrompel gewees het; maar hy was nie skaam vir die godsdiens van sy vaders nie en het geen poging aangewend om die feit, dat hy ‘n aanbidder van Jehova was, weg te steek nie. PeP 189.3

“En die Here was met Josef, sodat hy ‘n voorspoedige man was ... En sy heer het gesien dat die Here met hom was en dat die Here alles wat hy doen, in sy hand voorspoedig maak.” Potifar se vertroue in Josef het daagliks toegeneem en eindelik het hy hom tot opsiener, met volle beheer oor al sy besittings, bevorder. “En hy het alles wat syne was aan Josef oorgelaat, PeP 189.4

sodat hy met sy hulp van niks kennis geneem het nie as net van die brood wat hy geëet het.” PeP 190.1

Die merkbare voorspoed, wat alles wat onder Josef se sorg geplaas is, vergesel het, was nie die gevolg van ‘n regstreekse wonderwerk nie; maar sy bedrewenheid, sorgsaamheid en ywer was met Goddelike seën bekroon. Josef het sy welslae aan die guns van God toegeskryf en selfs sy afgodiese heer het aanvaar dat dit die geheim van sy ongeëwenaarde voorspoed was. Sonder standvastige, goed-gerigte pogings van sy kant, sou hy nooit sukses behaal het nie. God is deur die getrouheid van Sy dienskneg verheerlik. Dit was Sy doel dat die gelowige in God in reinheid en opregtheid, ‘n skerp kontras met die aanbidders van afgode moes toon, sodat die lig van hemelse genade, te midde van die donkerte van afgodery mag skyn. Josef se sagmoedigheid en trou het die hart van die hoofkaptein verower, wat hom as ‘n seun eerder as ‘n slaaf begin aanneem het. Die jongeling is met hooggeplaastes en met geleerdes in kontak gebring en het ‘n kennis van die wetenskap, tale en staatkunde opgedoen, opleiding wat nodig was vir die toekomstige eerste minister van Egipte. PeP 190.2

Maar Josef se geloof en eerbaarheid sou deur hewige beproewings getoets word. Sy heer se vrou het probeer om die jongman te verlei om die wet van God te oortree. Tot dusver was hy onbesmet deur die korrupsie wat in daardie heidense land geseëvier het; maar hierdie versoeking, so skielik, so sterk, so verleidelik, hoe moes dit hanteer word? Josef het goed geweet wat die gevolge van weerstand sou wees. Aan die een kant was geheimhouding, guns en belonings; aan die ander kant skande, gevangenisstraf en moontlik die dood. Sy hele toekoms het van die besluit van die oomblik afgehang. Sou sy beginsels seëvier? Sou Josef nog aan God getrou bly? Met onuitspreeklike angs het die engele die toneel aanskou. PeP 190.3

Josef se antwoord getuig van die krag van godsdienstige beginsels. Hy het geweier om die vertroue van sy aardse heer te misbruik en, wat die gevolge ook mag wees, sou hy getrou bly aan sy Heer in die hemel. Onder die ondersoekende oog van God en heilige engele, veroorloof menige hulself vryhede waaraan hulle hul nie in die teenwoordigheid van hulle medemense skuldig sou maak nie, maar Josef se eerste PeP 190.4

gedagte was aan God. Hy het gesê: “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?” PeP 191.1

Indien ons ‘n voortdurende bewustheid sou hê van die wete dat God alles wat ons doen en sê sien en hoor en dat Hy ‘n getroue rekord van ons woorde en dade hou, waarvoor ons verantwoording sal moet doen, sal ons sonde vrees. Jongmense moet altyd onthou dat, waar hulle hul ook bevind en wat hulle ook doen, hulle in die teenwoordigheid van God verkeer. Geen deel van ons gedrag word oor die hoof gesien nie. Ons kan nie ons weë vir die Allerhoogste verberg nie. Mensgemaakte wette, hoewel soms streng, word dikwels onopgemerk oortree en bly dus ongestraf. Maar nie so met die wet van God nie. Die donkerste middernag is geen bedekking vir die skuldige nie. Hy mag dink hy is alleen, maar daar is ‘n onsigbare getuie. Selfs die motiewe van sy hart is oop vir Goddelike inspeksie. Elke daad, elke woord, elke gedagte word duidelik waargeneem asof daar net een persoon in die hele wêreld is en die aandag van die hemel op hom gevestig is. PeP 191.2

Josef het vir sy eerbaarheid gely, want sy verleidster het haarself op hom gewreek deur hom valslik van ‘n vuil misdaad te beskuldig en het veroorsaak dat hy in die gevangenis gewerp is. Indien Potifar sy vrou se beskuldiging teen Josef geglo het, sou die jong Hebreër met sy lewe daarvoor geboet het; maar die ingetoënheid en opregtheid wat ononderbroke in sy optrede bewys is, was bewys van sy onskuld; nogtans was hy, om die eer van sy heer se huis te beskerm, aan skande en slawerny oorgelewer. PeP 191.3

In die begin het die bewaarders streng teenoor Josef opgetree. Die psalmdigter sê: “Hulle het sy voete in boeie geknel, hy self het in die ysters gekom, tot op die tyd dat sy woord uitgekom het, die woord van die Here hom beproef verklaar het.” (Psalm 105:18,19). Maar selfs in die donkerte van die kerker het Josef se ware karakter uitgestraal. Hy het aan sy geloof en sy geduld vasgehou; sy jare van getroue diens is op wreedaardige wyse vergoed, tog het dit hom nie stuurs en wantrouig gemaak nie. Hy het die vrede wat van bewuste onskuld afstam ervaar en het sy saak aan God toevertrou. Hy het nie oor sy onreg getob nie, maar sy droefheid in sy pogings om die leed van ander te verlig, vergeet. Selfs in die gevangenis het hy werk vir sy hande gevind. God was besig om hom in die PeP 191.4

skool van ellende voor te berei vir groter bruikbaarheid en hy het hom nie teen die nodige dissipline verset nie. In die gevangenis waar hy die gevolge van onderdrukking, tirannie en misdaad aanskou het, het hy lesse van geregtigheid, meegevoel en genade geleer, wat hom voorberei het om met wysheid en deernis, gesag uit te oefen. PeP 192.1

Josef het geleidelik die vertroue van die bewaarder van die gevangenis gewen en is uiteindelik in beheer van al die gevangenes aangestel. Dit was as gevolg van sy rol in die gevangenis-die eerbaarheid van sy daaglikse lewe en sy medelye met diegene wat in die moeilikheid en in nood was-wat die weg berei het vir sy toekomstige vooruitgang en eer. Elke ligstraal wat ons op ander werp, word op onsself terug weerkaats. Elke vriendelike en simpatieke woord wat teenoor bedroefdes geuiter word, elke daad om verligting aan die verdruktes te bring en elke geskenk aan die behoeftiges sal, indien ons deur die regte motiewe gelei is, seëninge vir die gewer tot gevolg hê. PeP 192.2

Die koning se hoofbakker en sy skinker is as gevolg van ‘n oortreding in die gevangenis gewerp en hulle is onder Josef se sorg geplaas. Toe hy een oggend opmerk dat hulle baie treurig was, het hy vriendelik verneem wat die oorsaak was en toe vertel hulle aan hom dat elk ‘n merkwaardige droom gehad het, en angstig was om die betekenis te weet. “Is uitlegging nie ‘n saak van God nie?” het Josef gesê. “Vertel my tog.” Toe elk sy droom aan hom vertel, het Josef die betekenis daarvan uitgelê: Oor drie dae sou die skinker in sy pos herstel word en soos voorheen die beker in Farao se hand gee, maar die hoofbakker sou op bevel van die koning gedood word. In beide gevalle het die voorvalle plaasgevind soos voorspel is. PeP 192.3

Die koning se skinker het die diepste dankbaarheid teenoor Josef betoon, beide vir die bemoedigende uitleg van sy droom en ook vir die vriendelike aandag en dade wat Josef teenoor hom bewys het; en op sy beurt het laasgenoemde op ‘n roerende wyse na sy eie onregverdige gevangenisskap verwys en hom versoek dat sy saak voor die koning gebring mag word. Hy het gesê: “Hou my tog net in gedagte as dit met jou goed gaan en bewys my tog ‘n guns en maak melding van my by Farao en bring my uit hierdie huis uit; want ek is gesteel, ja gesteel, uit die land van die Hebreërs en ek het hier ook niks gedoen dat hulle PeP 192.4

my in die gevangenis gesit het nie.” Die skinker se droom is in elke besonderheid vervul, maar toe hy in die guns van die koning herstel was, het hy nie weer aan sy weldoener gedink nie. Vir nog twee jaar was Josef ‘n gevangene. Die hoop wat in sy hart opgevlam het, is geleidelik weer geblus en saam met al sy ander beproewinge is ook die pyn van ondankbaarheid bygevoeg. PeP 193.1

Maar ‘n Goddelike Hand was gereed om die tronkdeure te open. Die koning van Egipte het in een nag twee drome gehad waarvan beide blykbaar na dieselfde voorval verwys het en wat die voorbode van een of ander ramp was. Hy kon nie die betekenis daarvan vasstel nie, maar dit het hom steeds verontrus. Die towenaars en die wyse manne van sy ryk kon dit nie uitlê nie. Die koning se radeloosheid en ontsteltenis het toegeneem en vrees het deur sy paleis versprei. Hierdie algemene ontsteltenis het die skinker herinner aan die omstandighede van sy eie droom; hiermee saam het hy van Josef onthou en hy het ‘n flits van berou vir sy vergeetagtigheid en ondankbaarheid gehad. Hy het die koning dadelik ingelig aangaande sy eie droom en dié van die hoofbakker wat deur ‘n Hebreeuse gevangene uitgelê is en hoe die voorspellings vervul was. PeP 193.2

Dit was vir Farao ‘n vernedering om weg te draai van die towenaars en wyse manne van sy eie koninkryk om ‘n vreemdeling en ‘n slaaf te raadpleeg, maar hy was gereed om die nederigste diens te aanvaar as dit sy bekommerde gemoed tot rus kon bring. Josef is dadelik ontbied. Hy het sy gevangenisklere uitgetrek en hom geskeer, want sy hare het gedurende sy skande en opsluiting lank geword. Daarna is hy voor die koning gebring. PeP 193.3

“Toe sê Farao vir Josef: Ek het ‘n droom gehad en daar is niemand wat dit kan uitlê nie; maar ek het van jou hoor verklaar dat jy ‘n droom net hoef te hoor om dit uit te lê. En Josef het Farao geantwoord en gesê: Niks vir my nie! God sal Farao ‘n gunstige antwoord gee.” Josef se antwoord aan die koning het getuig van sy nederigheid en sy geloof in God. Met beskeidenheid het hy ontken dat die eer vir voortreflike wysheid hom toekom. “Niks vir my nie!” Net God kan hierdie geheimenisse uitlê. PeP 193.4

Daarna het Farao sy drome begin beskryf: “Kyk, ek het in my droom gestaan op die wal van die Nyl en sewe koeie het uit die Nyl uit opgekom wat vet van vleis en mooi van uiterlik was en hulle het gaan wei in die rietgras. En kyk, na hulle kom daar nog sewe koeie op, skraal en baie lelik van uiterlik en maer van vleis; ek het soos hulle so lelik in die ganse Egipteland nie gesien nie. En die maer en lelike koeie het die sewe eerste vet koeie opgeëet: die het in hulle maag ingegaan, maar ‘n mens kon nie merk dat hulle in hul maag ingegaan het nie; want hulle aansien was lelik soos in die begin. Toe het ek wakker geword. Daarna het ek in my droom gesien en kyk, sewe vol en mooi are skiet op aan een steel. En na hulle spruit daar sewe are uit wat dor, maer en deur die oostewind verskroei was; en die sewe maer are het die sewe mooi are verslind. En ek het dit aan die towenaars meegedeel, maar niemand kon my inligting gee nie.” PeP 194.1

Josef het geantwoord: “Die droom van Farao is een en dieselfde. Wat God van plan is om te doen, het Hy aan Farao te kenne gegee.” Daar sal sewe jaar van oorvloed wees. Veld en tuin sal meer oorvloedig lewer as ooit tevore. En hierdie tydperk sal opgevolg word met sewe jaar van hongersnood. “En van die oorvloed sal in die land niks gemerk word weens die hongersnood wat daarna sal wees nie; want dit sal baie swaar wees.” Die herhaling van die droom was ‘n bewys dat dit gewis en spoedig sou geskied. Toe sê hy: “Laat Farao dan nou uitkyk na ‘n verstandige en wyse man en hom aanstel oor Egipteland. Farao moet so maak en opsigters oor die land aanstel en in die sewe jare van oorvloed die vyfde deel hef van die opbrings van Egipteland. En hulle moet al die voedsel van hierdie goeie jare wat kom, versamel en onder leiding van Farao koring ophoop as voedsel in die stede en dit wegbêre. So sal dan die voedsel ‘n voorraad wees vir die land vir die sewe jare van hongersnood.” PeP 194.2

Die uitleg was so aanneemlik en konsekwent en die beleid wat aanbeveel is was so deeglik en skerpsinnig dat die noukeurigheid daarvan nie betwyfel kon word nie. Maar wie kon met die uitvoer van die plan vertrou word? Die behoud van die volk het van die wysheid van hierdie keuse afgehang. Die koning was bekommerd. ‘n Tyd lank het hy die aanstelling oorweeg. Deur die skinker het die koning verneem van die wysheid en omsigtigheid wat Josef in sy bestuur van die gevangenis aan die dag gelê het; dit was duidelik dat hy PeP 194.3

voortreflike bestuursvernuf aan die dag gelê het. Vol selfverwyt het die skinker besluit om vir sy vorige ondankbaarheid te vergoed met die grootste lof vir sy weldoener en verdere navrae het die koning van die korrektheid van sy woorde oortuig. Josef was die enigste persoon in die hele koninkryk wat die wysheid gehad het om die gevaar wat die land bedreig het uit te wys en die nodige voorbereiding daarvoor; en die koning was oortuig dat hy die beste gekwalifiseerd was om die planne wat deur hom aanbeveel is, uit te voer. Dit was duidelik dat ‘n Goddelike Mag saam met hom was en daar was niemand onder die koning se offisiere wat so goed gekwalifiseerd was om die sake van die land tydens hierdie krisis te bestuur nie. Die feit dat hy ‘n Hebreër en ‘n slaaf was, het min geweeg teen sy ooglopende wysheid en gesonde oordeel. Farao het aan sy raadsmanne gesê: “Kan ons wel iemand vind soos hierdie man in wie die Gees van God is?” PeP 195.1

Daar is besluit om hom aan te stel en tot Josef se verbasing is die aankondiging gedoen: “Aangesien God dit alles aan jou bekend gemaak het, is daar niemand verstandig en wys soos jy nie. Jy moet oor my huis wees en na jou bevel moet my hele volk hulle skik; alleen deur die troon sal ek groter wees as jy.” Verder het die koning hom met die ordetekens van sy amp beklee: “Toe trek Farao sy seëlring van sy hand af en sit dit aan die hand van Josef; en hy het hom fyn linneklere laat aantrek en die goue ketting om sy hals gehang en hom laat ry op sy tweede rytuig; en hulle het voor hom uitgeroep: Pas op!” PeP 195.2

“Hy het hom aangestel as heer oor sy huis en as heerser oor al sy goed; om sy vorste te bind na sy begeerte en aan sy oudstes moes hy wysheid leer.” (Psalm 105:21,22). Uit die kerker is Josef tot heerser oor die hele Egipte verhoog. Dit was ‘n hoogs geëerde posisie, maar omgewe met moeilikhede en gevaar. ‘n Mens kan nie op ‘n verhewe hoogte staan sonder gevaar nie. Net soos die storm die nederige blommetjie van die vallei ongedeerd laat terwyl dit die statige boom op die bergkruin ontwortel, so kan diegene wat hulle eerbaarheid in ‘n nederige lewe gehandhaaf het, soms deur die versoekings wat wêreldse sukses en eer oorval, tot in die kuil neergetrek word. Maar Josef se karakter het die toets van sowel teëspoed as voorspoed deurstaan. Dieselfde getrouheid wat hy aan God in die paleis van Farao openbaar het, is in die tronksel geopenbaar. Hy was steeds ‘n vreemdeling in ‘n heidense land, geskei van sy familie PeP 195.3

en van die aanbidders van God; maar hy het vas geglo dat die hand van God sy skrede rig en met voortdurende vertroue op God het hy die pligte van sy amp getrou nagekom. Deur Josef is die aandag van Farao en die vername manne van Egipte na die ware God gelei; en hoewel hulle steeds volgehou het met hulle afgodediens, het hulle geleer om die beginsels wat in die lewe en karakter van die aanbidder van Jehova geopenbaar is, te respekteer. PeP 196.1

Hoe was dit vir Josef moontlik om so ‘n rekord van standvastigheid, opregtheid en wysheid op te bou? In sy vroeëre jare het hy eerder op plig as op geneigdheid staatgemaak; en die eerbaarheid, die eenvoudige vertroue, die edel geaardheid van die jongeling, het later in die dade van die man vrug gedra. ‘n Suiwer en eenvoudige lewenswyse het bygedra tot die ontwikkeling van beide fisiese en intellektuele vermoëns. Sy werke en die bepeinsing van die groot waarhede wat aan die erfgename van geloof toevertrou word, het sy geestelike natuur verhef en veredel en sy verstand verruim en versterk soos geen ander studie kon gedoen het nie. Getroue toewyding aan sy plig in alle omstandighede, van die nederigste tot die mees verhewe, het alle kragte vir die hoogste diens opgelei. Hy wat ooreenkomstig die wil van die Skepper leef, verseker vir homself die mees opregte en edelste ontwikkeling karakter. “Die vrees van die Here is wysheid; en om van die kwaad af te wyk, is verstand.” (Job 28:28). PeP 196.2

Daar is min wat die invloed van die klein dingetjies van die lewe op die ontwikkeling van die karakter besef. Niks waarmee ons te doen kry, is werklik gering nie. Die verskillende omstandighede waarmee ons daagliks te doen kry, is bedoel om ons getrouheid op die proef te stel en om ons te kwalifiseer vir groter vertroue. Deur beginselvastheid in die transaksies van die daaglikse lewe, word die verstand gewoond gemaak om die eise van plig bo dié van plesier en geneigdheid te stel. Die verstand wat só gedissiplineer is sal nie tussen reg en verkeerd huiwer soos ‘n riet wat in die wind waai nie; hulle is pligsgetrou omdat hulle gewoontes van eerlikheid en waarheid aangekweek het. Deur getrouheid in die geringste, verkry hulle krag om getrou in gewigtiger sake te wees. PeP 196.3

“n Opregte karakter is van groter waarde as die goud van Ofir. Daarsonder kan niemand opgang tot eerbare hoogtes PeP 196.4

maak nie. Maar ‘n karakter word nie oorgeërf nie. Dit kan nie gekoop word nie. Sedelike voortreflikheid en goeie verstandelike hoedanighede word nie per ongeluk verkry nie. Die mees kosbaarste gawes is waardeloos tensy hulle ontwikkel word. Die vorming van ‘n edel karakter is die werk van ‘n leeftyd en moet die gevolg wees van vlytige en volhardende inspanning. God gee die geleenthede; sukses hang af van die gebruik wat ons daarvan maak. PeP 197.1