Patriarge en Profete

21/75

Hoofstuk 19—Die Terugkeer na Kanaan

(hierdie hoofstuk berus op Genesis 34;35;37) PeP 178.1

Jakob het die Jordaanrivier oorgesteek en “...behoue aangekom by die stad Sigem wat in die land Kanaan is.” (Genesis 33:18). So is die patriarg se gebede by Bet-El, dat God hom in vrede weer na sy eie land sou terugbring, verhoor. Hy het ‘n tyd lank in die dal van Sigem bly woon. Dit was hier waar Abraham meer as honderd jaar tevore sy eerste kamp opgeslaan het en sy eerste altaar in die Beloofde Land opgerig het. Hier het Jakob “...die stuk grond gekoop waar hy sy tent opgeslaan het, van die seuns van Hemor, die vader van Sigem, vir honderd geldstukke. Hier het hy ook ‘n altaar opgerig en dit genoem: Die God van Israel is God.” (Genesis 33:19,20). Soos Abraham, het Jakob langs sy tent ‘n altaar vir die Here opgerig en sy huisgenote soggens en saans vir die offerdiens byeengeroep. Dit was ook hier waar hy die put gegrawe het en waarheen Jacob se Verlosser sewentien eeue later gekom het om van die hitte van die middagson te rus en waar Hy Sy verwonderde toehoorders vertel het van daardie “...fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” (Johannes 4:14). PeP 178.2

Jakob en sy seuns se verblyf in Sigem het met geweld en bloedvergieting geëindig. Die een dogter van die gesin is tot skande en droefheid gebring, twee seuns was by ‘n moord betrokke en ‘n hele stad is oorgegee aan verwoesting en slagting om wraak te neem vir die gewetenlose daad van een onbesonne jeugdige. Die oorsaak wat aanleiding tot hierdie verskriklike gevolge gegee het, was die optrede van Jakob se dogter wat uitgegaan het “...om die dogters van die land te leer ken...” en sodoende met goddelose mense omgegaan het. Die een wat sy plesier by mense wat God nie vrees nie soek, plaas homself op Satan se grondgebied en stel homself aan sy versoekings bloot. PeP 178.3

Die verraderlike wreedheid van Simeon en Levi was nie sonder aanleiding nie; maar, in hulle optrede teenoor die Sigemiete het hulle ‘n gruwelike sonde gepleeg. Hulle het hul voorneme versigtig vir hulle vader geheim gehou en die tyding van hulle bedrog het Jakob met afgryse gevul. Siek in sy hart vir PeP 178.4

die bedrog en geweld van sy seuns, het hy net gesê: “Julle het my ontroer dat julle my gehaat gemaak het by die inwoners van die land ... terwyl ek ‘n klein klompie is. As hulle hul teen my versamel, sal hulle my verslaan en ek sal verdelg word, ek en my huis.” Maar sy ontsteltenis en weersin, in wat hy as hul bloedige daad beskou het, word geopenbaar in die woorde wat hy amper vyftig jaar later uitgespreek het, terwyl hy op sy sterfbed in Egipte gelê het: “Simeon en Levi is broers. Hulle wapens is werktuie van geweld. Laat my siel nie kom in hulle raad nie, laat my eer nie eens wees met hulle vergadering nie ... Vervloek is hulle toorn, want dit is heftig; en hulle grimmigheid, want dit is hard.” (Genesis 49:5-7). PeP 179.1

Vir Jakob het dit gevoel asof daar rede vir diepe vernedering was. Wreedheid en valsheid is in die karakter van sy seuns geopenbaar. Daar was valse gode in die laer en afgodery het tot ‘n sekere mate ‘n vastrapplek selfs in sy huishouding gekry. Indien die Here volgens verdienste met hulle sou handel, sou Hy hulle nie aan die wraak van die omliggende nasies oorlaat nie? PeP 179.2

Terwyl Jakob dus so onder sy moeilikhede gebuk gegaan het, het die Here hom beveel om na Bet-El in die suide te trek. Die gedagte aan hierdie plek het die patriarg nie net aan die gesig van die engele en aan God se beloftes van genade herinner nie, maar ook aan die gelofte wat hy daar afgelê het, dat die Here sy God sou wees. Hy het besluit dat sy huisgesin van die smet van afgodediens gereinig moet word voordat hy na daardie heilige plek afreis. Daarom het hy aan almal in die laer die opdrag gegee: “Verwyder die vreemde gode wat onder julle is en reinig julle en trek ander klere aan; en laat ons klaarmaak en optrek na Bet-El; en ek sal daar ‘n altaar bou vir die God wat my geantwoord het op die dag van my benoudheid en by my was op die weg wat ek gegaan het.” PeP 179.3

Diep ontroerd het Jakob die verhaal van sy eerste besoek aan Bet-El herhaal, hoe hy as eensame swerwer sy vader se tent verlaat het om vir sy lewe te vlug en hoe die Here in ‘n naggesig aan hom verskyn het. Terwyl hy die wonderbaarlike optrede van God teenoor hom in herinnering geroep het, het sy hart week geword, sy kinders aangeraak deur ‘n onderdanige mag; hy het die mees effektiewe metode gekies om hulle voor te berei om deel te wees van die aanbidding van God wanneer PeP 179.4

hulle by Bet-El sou aankom. “Toe gee hulle aan Jakob al die vreemde gode wat in hulle besit was en die ringe aan hulle ore en Jakob het dit begrawe onder die terpentynboom wat by Sigem is.” PeP 180.1

“n Skrik van God het oor al die inwoners van die land gekom sodat hulle geen poging aangewend het om die slagting by Sigem te wreek nie. Die reisigers het Bet-El onverhinderd bereik. Hier het die Here weer aan Jakob verskyn en die verbondsbelofte aan hom hernu. “En Jakob het ‘n gedenksteen opgerig op die plek waar Hy met hom gespreek het, ‘n gedenksteen van klip.” PeP 180.2

By Bet-El het Jakob geroepe gevoel om die verlies van iemand wat lank ‘n geëerde lid van sy vader se huishouding was, naamlik Debora, Rebekka se oppasster, wat saam met haar meesteres uit Mesopotamië na die land Kanaan gekom het, te betreur. Die teenwoordigheid van hierdie bejaarde vrou was vir hom ‘n dierbare band wat hom met sy vroeëre lewe verbind het, veral met die moeder wat hom so sterk en met soveel teerheid liefgehad het. Daar was soveel droefheid by Debora se begrafnis dat die eik waaronder sy begrawe is, die “eik van geween” genoem is. Dat die herinnering aan haar lewe van getroue diens en aan die rouklag oor hierdie huishouding se vriend waardig geag was om in die woord van God bewaar te word, moet nie ongemerk verbygaan nie. PeP 180.3

Die afstand tussen Bet-El en Hebron was slegs ‘n reis van twee dae, maar dit het vir Jakob groot droefheid meegebring in die dood van Ragel. Twee maal sewe jaar se diens het hy vir haar gelewer en sy liefde vir haar het die moeite lig gemaak. Hoe diep en blywend daardie liefde was, het jare daarna geblyk toe Jakob tydens ‘n besoek van Josef, terwyl die patriarg op sy sterfbed gelê het, op sy lewe teruggekyk en gesê het: “Toe ek van Paddan gekom het, het Ragel by my gesterwe in die land Kanaan, op die reis toe daar nog ‘n kort ent pad was om by Efrat te kom; en ek het haar daar begrawe langs die pad na Efrat.” (Genesis 48:7). In die familie-geskiedenis van sy lang en moeitevolle lewe, is slegs die verlies van Rachel in herinnering opgeroep. PeP 180.4

Voor haar dood het Ragel aan ‘n tweede seun die lewe geskenk. Met haar laaste asem het sy die kind Ben-Oni, “seun PeP 180.5

van my smarte,” genoem, maar sy vader het hom Benjamin, “seun van my regterhand,” of “my krag,” genoem. Daar waar Ragel gesterf het, is sy begrawe en ‘n gedenksteen ter herinnering aan haar is daar opgerig. PeP 181.1

Onderweg na Efrat het ‘n verdere donkere misdaad Jakob se gesin bevlek en veroorsaak dat Ruben, die eersgebore seun, die voorregte en eer van sy geboortereg moes verbeur. PeP 181.2

Eindelik het Jakob aan die einde van sy reis gekom, “...by sy vader Isak ... in Mamre, dit is Hebron, waar Abraham as vreemdeling vertoef het en ook Isak.” Hier het hy gedurende die laaste jare van sy vader se lewe gewoon. Vir Isak, wat swak en blind was, was die minsame sorg van die seun wat so lank afwesig was, ‘n groot troos gedurende die jare van sy eensaamheid en rou. PeP 181.3

Jakob en Esau het mekaar by hulle vader se sterfbed ontmoet. Daar was ‘n tyd toe die oudste broer na hierdie gebeurtenis uitgesien het as ‘n geleentheid om hom te wreek, maar sy gevoelens het ‘n groot verandering ondergaan. En Jakob wat tevrede was met die geestelike seëninge van die eersgeboortereg het die erfnis van sy vader se rykdom, die enigste erfporsie waaraan Esau waarde geheg het, aan hom afgestaan. Hulle was nie langer deur jaloesie of haat van mekaar vervreemd nie, maar het tog van mekaar geskei en Esau het na die berg Seïr gegaan. God, wat ryk aan seëninge is het, benewens die hemelse voordele waarna hy gesoek het, ook aan Jakob aardse rykdom gegee. Die twee broers se besittings “...was te groot om saam te woon en die land van hulle vreemdelingskap kon hulle nie dra vanweë hulle vee nie.” Hierdie skeiding was ooreenkomstig die Goddelike doel aangaande Jakob. Omdat die broers so groot verskil het ten opsigte van godsdienstige geloof, was dit beter vir hulle om afsonderlik te woon. PeP 181.4

Esau en Jakob het dieselfde onderrig in die kennis van God ontvang en albei was vry om in Sy insettinge te wandel en Sy guns te ontvang; maar hulle het nie albei gekies om dit te doen nie. Die twee broers het verskillende weë ingeslaan en hulle paaie sou voortaan al wyer uitmekaar gaan. PeP 181.5

Dit was geen arbitrêre keuse van God dat Esau uit die seëninge van die verlossing uitgesluit is nie. Die gawes van Sy genade deur Christus, is vir almal beskikbaar. Daar is geen uitverkiesing behalwe ons eie wat ons tot die dood veroordeel nie. In Sy Woord het God die voorwaardes gestel waardeur elke siel tot die ewige lewe uitverkies sal word, naamlik gehoorsaamheid aan Sy gebooie deur geloof in Christus. God het ‘n karakter uitverkies wat in harmonie met Sy wet is en elkeen wat die standaard van Sy vereistes bereik, sal toegang tot die koninkryk van heerlikheid verkry. Christus het self gesê: “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie” (Johannes 3:36). “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die Wil doen van my Vader wat in die hemele is.” (Mattheus 7:21). En in Openbaring verklaar Hy: “Salig is die wat Sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad.” (Openbaring 22:14). Wat betref die mens se uiteindelike verlossing, is dit die enigste uitverkiesing waarvan die Bybel spreek. PeP 182.1

Elke siel wat sy eie saligheid met vrees en bewing uitwerk, word uitverkies. Hy wat die wapenrusting aantrek en die goeie stryd van die geloof te stry, word uitverkies. Hy wat waak en bid, wat die Skrifte ondersoek en van versoeking af wegvlug, word uitverkies. Hy wat voortdurend gelowig is en elke woord wat uit die mond van die Here uitgaan gehoorsaam, word uitverkies. Die bepalings van verlossing is aan almal vrylik beskikbaar; die gevolge van die verlossing is vir diegene wat die voorwaardes nagekom het. PeP 182.2

Esau het die seëninge van die verbond verag. Hy het meer waarde aan die tydelike as aan die geestelike geheg en dit wat hy begeer het, het hy verkry. Dit was as gevolg van sy eie, besliste keuse dat hy van die volk van God geskei is. Jakob het die erfnis van geloof gekies. Hy het dit deur lis, verraad en valsheid bekom; maar God het sy sonde toegelaat om die regstelling teweeg te bring. Nogtans het Jakob nooit deur die bittere jare van sy latere ervaring, afgewyk van sy doel of afstand van sy keuse gedoen nie. Hy het geleer dat deur op menslike vaardigheid en vernuf staat te maak om die seëning te verkry, hy teen God geveg het. Uit daardie nag van worsteling PeP 182.3

langs die Jabbok, het Jakob as ‘n ander man te voorskyn getree. Sy selfvertroue is ontwortel. Van toe af is die vroeëre geslepenheid nie weer gesien nie. In die plek van slinksheid en misleiding, is sy lewe gekenmerk deur eenvoud en waarheid. Hy het die les van eenvoudige vertroue op die Almagtige Arm geleer en te midde van beproewinge en ellende, het hy hom in nederige onderwerping aan die wil van God neergebuig. Die laer elemente van sy karakter is in die vuuroond verteer, die ware goud is gelouter, totdat die geloof van Abraham en Isak onverdof in Jakob geskyn het. PeP 183.1

Jakob se sonde en die gebeurtenisse wat daarop gevolg het, het gewis ‘n invloed ten kwade gehad-'n invloed waarvan die wrange vrugte in die karakters en lewens van sy seuns geopenbaar is. Soos hierdie seuns tot manlikheid gegroei het, het hulle ernstige tekortkominge ontwikkel. Die gevolge van veelwywery is in die huisgesin gemanifesteer. Hierdie vreeslike euwel laat selfs die bronne van liefde opdroog en die invloed daarvan verswak die mees heiligste bande. Die jaloesie van die verskeie moeders het die gesinsverhouding vergal, die kinders het twisgierig en ongeduldig onder beheer grootgeword en die vader se lewe is deur bekommernis en droefheid versuur. PeP 183.2

Daar was egter een, met ‘n wyd-verskillende geaardheid, naamlik die ouer seun van Ragel, Josef, wie se rare persoonlike skoonheid uit ‘n innerlike skoonheid van gedagte en hart gereflekteer het. Rein, aktief en vreugdevol, het die seun ook getuig van morele erns en fermheid. Hy het gehoor gegee aan sy vader se onderrig en het God graag gehoorsaam. Die hoedanighede van sagmoedigheid, getrouheid en eerlikheid, wat hom later in Egipte onderskei het, was reeds in sy lewe gemanifesteer. Omdat sy moeder dood was, het hy hom nog meer tot sy vader aangetrokke gevoel en Jakob se liefde was opgeneem in hierdie kind van sy ouderdom. Hy “...het Josef meer liefgehad as al sy seuns.” PeP 183.3

Selfs daardie liefde sou egter ‘n oorsaak van moeilikheid en droefheid word. Jakob het onwys opgetree en sy voorkeur vir Josef duidelik laat blyk en dit het die jaloesie van sy ander seuns opgewek. Josef het die bose optrede van sy broers aanskou en hy was baie bekommerd; hy het gepoog om hulle sagkens daaroor te bestraf, maar dit het hulle haat en wrok net PeP 183.4

aangevuur. Hy kon dit nie verdra dat hulle teen God sondig nie en hy het die saak aan sy vader voorgelê in die hoop dat sy gesag hulle tot hervorming mag lei. PeP 184.1

Jakob het versigtig te werk gegaan om nie hulle gramskap aan te wakker deur hardvogtigheid of strengheid nie. Met ‘n diepe emosie het hy sy besorgdheid vir sy kinders uitgespreek; en gepleit dat hulle ontsag vir sy grys hare moet hê en nie skande op sy naam moes bring nie en bo alles, dat hulle God nie oneer moes aandoen deur sulke minagting van Sy verordeninge nie. Die jongmanne het geblyk berouvol te wees, maar hulle het slegs hulle ware gevoelens, wat meer bitterheid as gevolg van hulle blootstelling tot gevolg gehad het, onderdruk. PeP 184.2

Die vader se onoordeelkundige geskenk aan Josef van ‘n duur kleed of mantel, soos wat gewoonlik slegs deur mense van aansien gedra word, was vir hulle ‘n verdere blyk van sy partydigheid en het die suspisie by hulle laat ontstaan dat hy van voorneme was om sy ouer kinders oor die hoof te sien en die geboortereg aan die seun van Ragel te skenk. Hulle kwaadwilligheid het verder toegeneem toe Josef hulle op ‘n dag van ‘n droom wat hy gehad het vertel het. Hy het gesê: “Kyk, ons was besig om gerwe te bind op die land toe meteens my gerf gaan staan en ook regop bly staan, terwyl julle gerwe daar rondom kom en hulle voor my gerf neerbuig.” PeP 184.3

Met afgunstige woede het sy broers uitgeroep: “Wil jy miskien oor ons regeer? of wil jy miskien oor ons heers?” PeP 184.4

Kort daarna het hy weer ‘n droom met dieselfde betekenis gehad en dit ook aan hulle vertel: “Kyk, ... die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig.” Hierdie droom is so geredelik soos die eerste vertolk. Sy vader, wat teenwoordig was, het hom bestraf: “Wat is dit vir ‘n droom wat jy gehad het? Moet ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig?” Nieteenstaande die skynbare strengheid van sy woorde, het Jakob geglo dat die Here die toekoms aan Josef geopenbaar het. PeP 184.5

Toe die jongeling voor sy broers staan, sy mooi aangesig met die Gees van Ingewing verlig, kon hulle nie hulle bewondering terughou nie; maar hulle het verkies om nie hulle bose weë af te PeP 184.6

lê nie en het die reinheid wat hulle sondes bestraf het, gehaat. Die gees van Kain het in hulle harte opgevlam. PeP 185.1

Dit was vir die broers nodig om van plek tot plek te trek om vir hulle kuddes weiding te soek en dikwels was hulle vir maande aaneen weg van huis. Na die gebeurtenisse wat so pas afgespeel het, het hulle na die plek wat hulle vader by Sigem gekoop het, gegaan. Daar het ‘n geruime tyd verloop sonder enige tyding van hulle en die vader het begin vrees vir hulle veiligheid as gevolg van hul vorige wreedheid teenoor die Sigemiete. Daarom het hy Josef gestuur om hulle te soek en hom te kom inlig aangaande hulle welstand. As Jakob bewus was van die ware gevoelens van sy seuns teenoor Josef, sou hy hom nie alleen saam met hulle vertrou het nie; maar dít het hulle sorgvuldig vir hom weggesteek. PeP 185.2

Met ‘n vreugdevolle hart het Josef sy vader verlaat sonder dat die ou man of die jongeling kon droom van wat sou gebeur voordat hulle mekaar weer sou ontmoet nie. Toe Josef na sy lang en eensame reis by Sigem aankom, was sy broers en hulle vee nie daar te vinde nie. Toe hy na hulle verneem, is hy na Dotan verwys. Hy het reeds meer as tagtig kilometers ver gereis en moes nou nog ‘n verdere vyf-en-twintig aflê, maar hy het deurgedruk en van sy eie moegheid vergeet in sy begeerte om sy vader se bekommernis te verlig en sy broers te ontmoet, wie, ten spyte van hulle onvriendelikheid, hy steeds liefgehad het. PeP 185.3

Sy broers het hom sien aankom; maar geen gedagte aan die lang reis wat hy afgelê het om hulle te ontmoet, sy moegheid en honger en sy aanspraak op hulle gasvryheid en broederlike liefde het enigsins die bitterheid van hulle haat versag nie. Toe hulle die kleed, die teken van hulle vader se liefde sien, was hulle rasend van woede. “Daar kom daardie dromer aan!” het hulle spottend uitgeroep. Afguns en die wraaksug wat hulle so lank in die geheim gekoester het, het hulle nou oorheers. “Kom dan nou...” het hulle gesê, “...laat ons hom doodmaak en in een van die putte gooi en sê: ‘n Wilde dier het hom opgeëet. Dan sal ons sien wat van sy drome word.” PeP 185.4

As dit nie vir Ruben was nie, sou hulle hul plan deurgevoer het. Hy het nie kans gesien om aandadig te wees aan die moord van sy broer nie en het voorgestel dat hulle hom lewendig in een van die putte gooi en hom daar laat om te vergaan; maar heimlik PeP 185.5

homself voorgeneem om hom te red en aan sy vader terug te besorg. Nadat hy almal oorreed het om by sy plan in te val, het Ruben die geselskap verlaat omdat hy bevrees was dat hy dalk beheer oor sy gevoelens sou verloor en sy ware voorneme ontdek sou word. PeP 186.1

Josef het nader gekom, sonder enige suspisie van gevaar en bly dat die einde van sy soektog bereik is; maar in stede van die verwagte verwelkoming, was hy verskrik deur die woedende en wraakgierige blikke wat op hom gewerp was. Hy is gevang en sy kleed is van hom afgestroop. Beledigings en dreigemente het hulle dodelike doel verraai. Sy pleidooie het op dowe ore geval. Hy was totaal en al in die mag van hierdie woedende manne. Hulle het hom met geweld na ‘n diep put gesleep en daarin gegooi en nadat hulle seker gemaak het dat dit nie vir hom moontlik was om te ontsnap nie, het hulle hom gelaat om van honger om te kom en “...daarna het hulle gaan sit om brood te eet.” PeP 186.2

Sommige van hulle was egter nie op hulle gemak nie; hulle het nie die verwagte genoegdoening van hulle wraak ervaar nie. Eerlank het hulle ‘n reisgeselskap sien aankom. Dit was ‘n karavaan van Ismaeliete van oorkant die Jordaan onderweg na Egipte met speserye en ander handelsware was. Juda het toe voorgestel dat hulle hul broer aan hierdie heidense handelaars verkoop eerder as om hom te laat omkom. Terwyl hulle hom effektief uit die weg sou ruim, sou hulle nie skuldig wees aan sy bloedvergieting nie, “...want...” het Juda gesê, “...hy is ons broer, ons vlees.” Almal het ingestem en Josef is vinnig uit die put getrek. PeP 186.3

Toe Josef die handelaars sien, het die verskriklike waarheid hom getref. Om ‘n slaaf te word, was ‘n lot veel erger as die dood. In angsvolle vrees het hy by een na die ander broer gepleit, maar tevergeefs. Sommige was met jammerte gevul, maar vrees vir bespotting het hulle stilgemaak; almal het besef dat hulle reeds te ver gegaan het om kop uit te trek. As hulle Josef spaar, sou hy hulle sonder twyfel aan sy vader gaan verklik het, wat nie hulle wreedheid teenoor sy gunsteling seun oor die hoof sou sien nie. Hulle het hulle harte teen sy smekinge gestaal en hom in die hande van die heidense handelaars oorhandig. Die karavaan het vertrek en was spoedig buite sig. PeP 186.4

Ruben het na die put teruggekeer, maar Josef was nie daar nie. Verskrik en selfverwytend het hy sy klere geskeur, na sy broers gegaan en uitgeroep: “Die seun is nie daar nie! En ek, waar moet ek heen?” Toe hy verneem wat werklik van Josef geword het en dat dit nou onmoontlik sou wees om hom terug te kry, het Ruben hom laat oorreed om met die ander saam te werk in hulle poging om hul skuld te bedek. Hulle het ‘n boklam geslag en Josef se kleed in die bloed geweek en dit na hulle vader geneem en hom vertel dat hulle dit in die veld gevind het en bevrees was dat dit Josef s'n was. “Kyk tog goed...” het hulle gesê, “...of dit die rok van u seun is of nie.” Hulle het wel met vrees na hierdie ontmoeting opgesien, maar hulle was nie voorbereid op die hartverskeurende smart, die algehele oorgawe aan verdriet wat hulle moes aanskou nie. “Die rok van my seun!” het Jakob gesê. ““n Wilde dier het hom opgeëet. Verskeur, verskeur is Josef.” Tevergeefs het sy seuns en dogters hom probeer troos. Hy het sy klere geskeur ... en ‘n roukleed om sy heupe aangetrek ... en oor sy seun gerou, baie dae lank.” Sy droefheid het ook nie met die verloop van tyd verminder nie. “Treurende sal ek na my seun in die doderyk afdaal,” het hy wanhopig uitgeroep. Verskrik oor wat hulle gedoen het en tog bevrees vir hulle vader se verwyte, het die jongmanne steeds die kennis van hulle skuld, wat nou ook selfs in hulle oë baie groot was, in hulle harte verberg. PeP 187.1