Patriarge en Profete

20/75

Hoofstuk 18—Die Nag van Worsteling

(Hierdie hoofstuk berus op Genesis 32 en 33) PeP 170.1

Hoewel Jakob Paddan-Aram op bevel van God verlaat het, het hy nie sonder baie bedenkinge, op die pad waarop hy twintig jaar tevore as vlugteling gereis het, teruggekeer nie. Hy kon die sonde van bedrog wat hy teenoor sy vader gepleeg het, nie vergeet nie. Hy het geweet dat sy lang ballingskap die regstreekse gevolg van daardie sonde was en hy het dit dag en nag oordink. Die verwyte van ‘n skuldige gewete het sy reis met hartseer gevul. Toe die heuwels van sy geboorteland voor hom opdoem, was die hart van die patriarg diep ontroer. Die volle verlede het helder voor sy gees opgekom. Met die herinnering aan sy sonde het hy ook aan God se guns teenoor hom en die beloftes van geestelike hulp en leiding gedink. PeP 170.2

Namate hy nader aan die einde van sy reis gekom het, het die gedagte aan Esau baie onheilspellende voorbodes by hom laat ontstaan. Nadat Jakob gevlug het, het Esau homself as alleen-erfgenaam van sy vader se besittings beskou. Die tyding dat Jakob terugkom, sou die vrees laat ontstaan dat hy kom om die erfnis op te eis. Esau was nou in staat om sy broer, indien hy wou, groot skade te berokken en hy kon oorgaan tot geweld teen hom, nie alleenlik as gevolg van sy begeerte na wraak nie, maar ook om sy onverhinderde besit van die rykdom wat hy vir so lank as sy eie beskou het, te beskerm. PeP 170.3

Opnuut het die Here aan Jakob ‘n teken van Sy beskerming gegee. Op sy reis van Gilead na die suide het dit geblyk asof twee groepe engele hom van agter en van voor insluit en saam met sy geselskap reis asof om hulle te beskerm. Jakob het die gesig onthou wat hy so lank tevore op Bet-El gesien het en hierdie bewys dat die boodskappers van God, wat aan hom hoop en bemoediging tydens sy vlug van Kanaan gebring het, oor sy terugtog sou waak, het verligting aan sy beswaarde gemoed gebring. En hy het gesê: “Dit is ‘n leër van God! En hy het die plek Mahanaïm genoem”-dit wil sê, twee leërs, of laers. PeP 170.4

Nogtans het Jakob gevoel dat hy iets moes doen om sy eie veiligheid te verseker. Daarom het hy boodskappers met ‘n versoenende groete-boodskap aan sy broer gestuur. Hy het die PeP 170.5

presiese woorde in hulle mond gelê wat hulle aan Esau moes oordra. Daar is reeds voor die geboorte van die twee broers voorspel dat die oudste die jongste sou dien en om te voorkom dat die herinnering daaraan verbittering veroorsaak, het Jakob sy diensknegte na “my heer, Esau” gestuur en in sy teenwoordigheid moes hulle na hulle heer verwys as “Jakob, u dienaar.” En om die vrees te weerlê, dat hy as behoeftige swerwer terugkeer om die erfenis van sy vader op te eis, was Jakob versigtig om in sy boodskap te sê: “Ek het beeste en esels, kleinvee en slawe en slavinne verwerf en my heer dit laat weet, sodat ek guns mag vind in u oë.” PeP 171.1

Maar die diensknegte het teruggekeer met die boodskap dat Esau met vierhonderd man op pad was na hom toe en daar was ook geen reaksie op sy boodskap nie. Dit het geblyk dat hy gekom het om wraak te neem. Vrees het die kamp oorval. Jakob het “...baie bevrees en benoud geword.” Hy kon nie teruggaan nie en was bevrees om vorentoe te beweeg. Sy geselskap was ongewapen en weerloos en was totaal onvoorbereid vir ‘n vyandige ontmoeting. Hy het hulle gevolglik in twee groepe verdeel, sodat indien die een groep aangeval word, die ander groep moontlik ‘n geleentheid sou hê om te ontvlug. Uit sy groot kuddes, het hy ruim geskenke met ‘n vriendelike boodskap aan Esau gestuur. Hy het alles in sy vermoë gedoen om te vergoed vir die onreg teenoor sy broer en om die dreigende gevaar af te weer en in nederigheid en boetvaardig het hy vir Die beskerming van God gebid. “U het my beveel: Gaan terug na jou land en na jou familie en Ek sal aan jou goed doen-ek is te gering vir al die gunste en al die trou wat U aan u kneg bewys het; want ek het met my staf oor hierdie Jordaan getrek en nou twee laers geword. Red my tog uit die hand van my broer, uit die hand van Esau, want ek is bang vir hom, dat hy sal kom en my doodslaan, die moeder saam met die kinders.” PeP 171.2

Hulle het nou die rivier Jabbok bereik en toe dit nag word, het hy sy familie oor die drif van die rivier gestuur, terwyl hy alleen agtergebly het. Hy het besluit om die nag in gebed deur te bring en het verlang om alleen met God te wees. God kon die hart van Esau versag. Die patriarg se enigste hoop was in Hom. PeP 171.3

Dit was ‘n eensame, bergagtige omgewing, die jagplek van wilde diere en die skuilplekke van rowers en moordenaars. Eensaam en onbeskerm, het Jakob in diepe ontsteltenis op die PeP 171.4

grond neergebuig. Dit was middernag. Alles wat vir hom dierbaar in die lewe was, was ver weg van hom, blootgestel aan gevaar en dood. Die bitterste van alles was die wete dat dit sy eie sonde was wat die onskuldiges aan gevaar blootgestel het. Met ernstige smekinge en trane het hy tot God gebid. Skielik het ‘n swaar hand op hom gerus. Hy het gedink dat dit ‘n vyand was wat sy lewe wou neem en hy het probeer hom homself uit die greep van sy aanvaller los te ruk. In die donker het die twee geworstel om mekaar te oormeester. Nie ‘n woord is geuiter nie, maar Jakob het al sy krag gebruik en nie vir ‘n oomblik verslap nie. Terwyl hy só besig was om vir sy lewe te veg, het die besef van sy sonde hom oorval; sy sonde het voor hom verrys om hom van God te skei. Maar in sy uiterste nood, het hy God se beloftes onthou en sy hele wese het opgegaan in smeking vir Sy genade. Die worsteling het tot dagbreek toe voortgeduur, toe die vreemdeling sy vinger op Jakob se heupbeen plaas en hy onmiddellik kreupel geword het. Die patriarg kon nou die aard van sy Opponent onderskei. Hy het geweet dat hy in stryd was met ‘n hemelse Boodskapper en dit was waarom sy amper bomenslike poging nie vir hom die oorwinning kon behaal nie. Dit was Christus, “die Verbondsengel” wat Homself aan Jakob geopenbaar het. Die patriarg was nou kreupel en het geweldige pyn ervaar, maar hy het nie sy houvas laat vaar nie. Boetvaardig en gebroke het hy aan die Engel vasgekleef “...hy het geween en Hom gesmeek...” (Hosea 12:5), pleitend vir ‘n seën. Hy moes die versekering verkry dat sy sonde vergewe is. Fisiese pyn was nie genoegsaam om sy aandag van sy doel weg te lei nie. Hy het al hoe meer vasberade geword, sy geloof meer opreg en volhardend tot op die laaste. Die Engel het probeer om Homself te bevry; Hy het aangedring: “Laat My gaan, want die dag het gebreek;” maar Jakob het geantwoord: “Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën.” As dit grootpraterige, aanmatigende selfvertroue was, sou Jakob oombliklik vernietig gewees het; maar syne was die sekerheid van iemand wat sy eie onwaardigheid bely, maar tog op die getrouheid van ‘n Verbondsgod vertrou. PeP 172.1

Jakob “...het met die Engel geworstel en die oorhand gekry.” (Hosea 12:5). Deur vernedering, berou en self-oorgawe het hierdie sondige, dwalende sterfling die oorhand oor die Majesteit van die hemel gekry. Hy het sy bewende greep aan PeP 172.2

die beloftes van God vasgemaak en die hart van Oneindige Liefde kon nie wegdraai van die sondaar se smeekbede nie. PeP 173.1

Die verkeerde optrede wat aanleiding gegee het tot Jakob se sonde om die eersgeboortereg deur bedrog te bekom, is nou duidelik aan hom uitgewys. Hy het nie op God se beloftes vertrou nie, maar sy eie pogings aangewend om dít wat God in Sy eie tyd en op Sy eie manier sou volbring het, te bewerkstellig. As bewys dat hy vergifnis ontvang het, is sy naam verander van dit wat ‘n herinnering aan sy sonde was, na een wat sy oorwinning in herinnering geroep het. Die Engel het gesê: “Jy sal nie meer Jakob [onderkruiper] genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin.” PeP 173.2

Jakob het die seëning ontvang waarna sy siel verlang het. Sy sonde as onderkruiper en bedrieër was vergewe. Die krisis in sy lewe was verby. Twyfel, radeloosheid en selfverwyt het sy bestaan versuur, maar alles het nou verander; en die vrede van versoening met God was soet. Jakob was nie meer bang om sy broer te ontmoet nie. God wat sy sonde vergewe het, kon die hart van Esau beweeg om sy vernedering en sy berou te aanvaar. PeP 173.3

Terwyl Jakob met die Engel geworstel het, is ‘n ander hemelse boodskapper na Esau gestuur. In ‘n droom het Esau sy broer gesien wat reeds twintig jaar lank ‘n banneling van sy vader se huis was; hy het sy droefheid, met die ontdekking dat sy moeder dood is, gesien; hy het hom gesien, omring met die engele van God. Esau het sy krygsmanne van die droom vertel en hulle beveel om Jakob geen kwaad aan te doen nie, want die God van sy vader was met hom. PeP 173.4

Eindelik het die twee geselskappe mekaar genader, die woestyn hoof aan die spits van sy krygsmanne en Jakob met sy vroue en kinders, vergesel van herders en diensmeisies en gevolg deur ‘n groot trop kleinvee en beeste. Leunend op sy staf het die patriarg vorentoe beweeg om die groep soldate tegemoet te gaan. Hy was bleek en gestremd as gevolg van sy onlangse stryd en het langsaam en pynlik beweeg en elke paar tree tot stilstand gekom; maar sy aangesig het gestraal van vreugde en vrede. PeP 173.5

Toe Esau die kreupele sien, hardloop hy “...hom tegemoet en omhels hom en val hom om die hals en soen hom; en hulle het geween.” Selfs die harte van Esau se geharde soldate wat die toneel aanskou het, was die ontroer. Al het hy hulle van sy droom vertel, kon hulle nie die verandering wat oor hulle aanvoerder gekom het, verstaan nie. Hoewel hulle die patriarg se gebrek gesien het, het hulle min besef gehad dat sy swakheid sy sterkte geword het nie. PeP 174.1

Gedurende die angsvolle nag by die Jabbok, toe dit geskyn het asof vernietiging hom in die gesig staar, het Jakob geleer hoe nietig die hulp van mense is en hoe ongegrond alle vertroue in menslike krag is. Hy het besef dat sy enigste hulp van Hom, teen wie hy so swaar gesondig het, moet kom. Hulpeloos en onwaardig het hy vir God se belofte van genade teenoor die boetvaardige sondaar gepleit. Daardie belofte was sy versekering dat God hom sou vergewe en aanneem. Hemel en aarde sou verbygaan eerdat dat daardie woord sou faal; en dit is wat hom deur daardie verskriklike stryd onderskraag het. PeP 174.2

Jakob se ervaring gedurende daardie nag van worsteling en angs verteenwoordig die beproewings wat die volk van God onmiddellik voor die wederkoms van Christus sal moet ondergaan. Die profeet Jeremia, wat in ‘n heilige visie vooruitgesien het na die huidige tyd waarin ons lewe, het gesê: “Ons het ‘n stem van verskrikking gehoor; daar is vrees en geen vrede nie! Waarom is alle aangesigte in bleekheid verander? Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word.” (Jeremia 30:5-7). PeP 174.3

Sodra Christus Sy werk as Middelaar vir die mens staak, sal hierdie tyd van benoudheid begin. Dan sal die saak van elke siel besleg wees en sal daar geen versoeningsbloed wees om van sonde te reinig nie. Wanneer Christus Sy posisie as Bemiddelaar vir die mens neerlê, word die plegtige aankondiging gemaak: “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word en laat die heilige nog heiliger word” (Openbaring 22:11). Dan word die terughoudende Gees van God van die aarde onttrek. Soos Jakob deur sy kwaadwillige broer met die dood gedreig is, so sal die volk van God in gevaar van die goddeloses wat daarna strewe om hulle PeP 174.4

te vernietig, verkeer. En soos die patriarg die hele nag lank om verlossing uit die hand van Esau geworstel het, so sal die regverdiges dag en nag tot God roep om verlossing van die vyande wat hulle omring. PeP 175.1

Die Satan het Jakob voor die engele van God aangekla en aanspraak gemaak op die reg om hom, as gevolg van sy sonde teen Esau, te vernietig; hy het Esau beweeg om teen hom op te trek; en gedurende die patriarg se lang nag van worsteling, het die Satan gepoog om ‘n skuldgevoel op hom af te dwing om hom te ontmoedig en om sy greep op God te breek. Toe Jakob die Engel in sy benoudheid vasgegryp en met trane gesmeek het, het die hemelse Boodskapper, ten einde sy geloof te beproef, hom ook aan sy sonde herinner en van hom probeer loskom. Jakob het hom egter nie laat wegwys nie. Hy het geleer dat God genadig is en hom op daardie genade verlaat. Hy het terugverwys na sy boetvaardigheid en om verlossing gepleit. Terwyl hy sy lewe in oënskou geneem het, was hy feitlik tot wanhoop gedryf, maar hy het aan die Engel vasgehou en met ernstige, hartverskeurende geween gepleit totdat sy gebed verhoor is. PeP 175.2

Dit is die ervaring wat die volk van God, in hulle laaste stryd teen die magte van boosheid, sal beleef. God sal hulle geloof, hulle volharding, hulle vertroue in Sy vermoë om hulle te red, toets. Satan sal poog om hulle met vrees te vul met die gedagte dat hulle geval hopeloos is; dat hulle sonde te groot is om vergewe te word. Hulle sal ‘n diepe besef hê van hulle tekortkominge en wanneer hulle aan hul lewe terugdink, sal hulle moedeloos word. Maar wanneer hulle aan Sy groot genade dink en onthou dat hulle opreg boetvaardig was, sal hulle aanspraak maak op Sy beloftes deur Christus, aan hulpelose, boetvaardige sondaars. Hulle geloof sal nie kwyn omdat hulle gebede nie onmiddellik verhoor word nie. Hulle sal die krag van God vasgryp soos Jakob die engel vasgegryp het en die taal van hulle siele sal wees: “Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën.” PeP 175.3

As Jakob nie reeds berou gehad het oor die sonde waardeur hy die geboortereg met bedrog verkry het nie, kon God nie sy gebed verhoor het en genadiglik sy lewe gespaar het nie. Ook so, in die tyd van benoudheid, as die volk van God onbelyde PeP 175.4

sondes het wat voor hulle opdoem terwyl hulle deur vrees en smart gepynig word, sal hulle oorweldig word; wanhoop sal hulle geloof oormeester en hulle sal nie die vertroue hê om te pleit dat God hulle moet verlos nie. Maar terwyl hulle ‘n diepe besef van hul onwaardigheid het, sal hulle geen verborge sondes hê om openbaar te maak nie. Hulle sondes sal deur die versoenende bloed van Christus uitgedelg wees en hulle sal dit nie in herinnering kan roep nie. PeP 176.1

Satan maak baie mense wys dat God hulle ontrouheid in die kleinere dingetjies van die lewe oor die hoof sal sien; maar die Here wys in Sy optrede teenoor Jakob dat Hy boosheid nooit kan goedkeur of verdra nie. Almal wat hulle sondes probeer goedpraat of verberg en toelaat dat hulle onbelyde en onvergewe sondes op die boeke van die hemel bly, sal deur die Satan oorwin word. Hoe meer verhewe hul beroep is en hoe meer eerbaar die posisie wat hulle beklee, hoe ernstiger is hulle optrede en hoe sekerder is die oorwinning van die groot teëstander. PeP 176.2

Nogtans is die geskiedenis van Jakob ‘n versekering dat God nie diegene wat tot sonde verlei is en met ware berou na Hom teruggekeer het, sal verwerp nie. Dit was deur self-oorgawe en vertrouende geloof wat Jakob dít, wat hy gefaal het om in eie krag, deur konflik, te verkry, vermag het. So het God Sy dienaar geleer dat Die krag van God alleen aan hom daardie seëning kan gee waarna hy gesmag het. So sal dit wees met diegene wat in die laaste dae leef. Wanneer gevare hulle omring en wanhoop die siel oorstelp, moet hulle alleenlik op die meriete van die versoening steun. Ons kan niks uit ons eie doen nie. In al ons hulpelose onwaardigheid moet ons vertrou op die verdienste van die gekruisigde en verrese Verlosser. Niemand sal ooit vergaan terwyl hulle dit doen nie. Ons lang, swart opname van oortredings is voor die oë van die Oneindige. Die lys is volledig; geeneen van ons oortredings is vergete nie. Maar Hy wat die versugtinge van Sy diensknegte van ouds gehoor het, sal die gebed van geloof verhoor en ons oortredings vergewe. Hy het belowe en Hy sal Sy woord gestand doen. PeP 176.3

Jakob het oorwin omdat hy volhard het en vasberade was. Sy ondervinding getuig van die krag van deurdringende gebed. Dit is nou die tyd dat ons die les van oorwinnende gebed, van onwrikbare geloof moet leer. Die grootste oorwinnings vir die PeP 176.4

kerk van Christus of die individuele Christen, is nie dié wat deur talent of geleerdheid, deur rykdom of guns van mense verkry word nie. Dit is daardie oorwinnings wat in die gehoorsaal van God behaal word, wanneer ernstige, worstelende geloof die magtige Arm van krag aangryp. PeP 177.1

Diegene wat onwillig is om elke sonde af te lê en in alle erns na die seëning van God te soek, sal dit nie verkry nie. Maar elkeen wat die beloftes van God, soos Jakob aangryp en net so ernstig en volhardend is soos wat hy was, sal oorwin soos hy oorwin het. “Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen.” (Lukas 18:7,8). PeP 177.2