Patriarge en Profete

19/75

Hoofstuk 17—Jakob se Vlug en Ballingskap

(Hierdie hoofstuk berus op Genesis 28 tot 31) PeP 159.1

Gedreig met die dood deur die woede van Esau, het Jakob sy vader se huis as vlugteling verlaat; maar hy het die vader se seën met hom saamgeneem. Isak het die verbondsbelofte opnuut aan hom bevestig en hy het hom beveel om, as erfgenaam daarvan, by die familie van sy moeder in Mesopotamië vir hom ‘n vrou te gaan soek. Maar dit was met ‘n diep bekommerde hart wat Jakob op sy eensame reis vertrek het. Met slegs ‘n staf in sy hand, moes hy honderde kilometers ver reis deur ‘n land wat deur wilde, rondloper bendes bewoon is. In sy berou en bedeesdheid, het hy verkies om mense te vermy, ingeval hy deur sy woedende broer opgespoor word. Hy het gevrees dat hy vir ewig die seën, wat God van voorneme was om aan hom te gee, verbeur het; en Satan was byderhand om versoekings oor hom te bring. PeP 159.2

Die tweede aand was hy al ver van sy vader se tente. Hy het gevoel dat hy ‘n verstoteling is en hy het geweet dat al hierdie moeilikheid oor hom gekom het deur sy eie verkeerde optrede. Donker wanhoop het sy siel omvou en hy kon dit nouliks waag om te bid. Maar hy was so uiters eensaam dat hy sy behoefte aan die beskerming van God, soos nooit tevore, ervaar het. Met trane en diepe nederigheid het hy sy sonde bely en gepleit vir ‘n teken dat hy nie heeltemal verlate was nie. Maar nog was daar geen verligting vir sy beswaarde gemoed nie. Hy het alle vertroue in homself verloor en gevrees dat die God van sy vaders hom verwerp het. PeP 159.3

Maar God het Jakob nie verlaat nie. Sy genade was steeds tot beskikking van Sy dwalende, wantrouige dienskneg. Die Here het met deernis, dit wat hy nodig gehad het, aan Jacob geopenbaar-'n Verlosser. Hy het gesondig, maar in sy hart was daar dankbaarheid toe hy ‘n manier sien waarop hy in die guns van God herstel kon word. PeP 159.4

Moeg na sy reis het die swerwer op die grond gaan lê en ‘n klip as kopkussing gebruik. In sy slaap het hy ‘n leer gesien, helder en skitterend waarvan die onderpunt op die aarde was terwyl die bopunt na die hemel gereik het. Engele het op en af PeP 159.5

op die leer beweeg; bokant die leer was die Here van heerlikheid en uit die hemele het Jakob Sy stem hoor sê: “Ek is die Here, die God van jou vader Abraham en die God van Isak.” Die land waarop hy as vlugteling en banneling gelê en slaap het, is aan hom en sy nageslagte belowe met die versekering: “In jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word.” Hierdie belofte is aan Abraham en aan Isak gegee en nou is dit aan Jakob hernu. Toe, met spesiale medelye vir sy huidige eensaamheid en ontsteltenis, is die volgende woorde van troos en bemoediging tot hom gespreek: “Kyk, Ek is met jou en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het.” PeP 160.1

Die Here was bewus van die bose invloede wat Jakob sou omring en van die gevare waaraan hy blootgestel sou word. In Sy genade het Hy aan die boetvaardige vlugteling ‘n blik op die toekoms gegee, sodat hy die Goddelike doel ten opsigte van homself kon verstaan en voorbereid sou wees om die versoekings wat gewis oor hom sou kom wanneer hy onder afgodedienaars en selfsugtige mense sou woon, te weerstaan. Die hoë peil wat hy moes handhaaf, sou altyd voor hom wees en die wete dat God Sy plan deur hom sou volbring, sou hom voortdurend aanspoor om getrou te bly. PeP 160.2

In hierdie gesig is die verlossingsplan aan Jakob geopenbaar, nie ten volle nie, maar dié dele wat op daardie stadium vir hom noodsaaklik was. Die geheimsinnige leer wat hy in sy droom gesien het, was dieselfde as dié waarna Christus in Sy gesprek met Natanael verwys het. Hy het gesê: “Van, nou af sal julle die hemel geopend sien en die engele van God opklim en neerdaal op die Seun van die mens.” (Johannes 1:52). Tot op die tyd toe die mens teen die bewind van God in opstand gekom het, was daar vrye gemeenskap tussen God en die mens. Maar Adam en Eva se sonde het die aarde van die hemel geskei, sodat die mens nie met sy Skepper gemeenskap kon hê nie. Nogtans is die wêreld nie in verlate hopeloosheid gelaat nie. Die leer verteenwoordig Jesus, die aangewese Medium van kommunikasie. As Hy nie die kloof wat deur sonde veroorsaak is met Sy eie deugde oorbrug het nie, sou die dienende engele geen gemeenskap met die gevalle mens kon PeP 160.3

gehad het nie. Christus verbind die mens in sy swakheid en hulpeloosheid met die bron van oneindige krag. PeP 161.1

Dit is alles in die droom aan Jakob geopenbaar. Hoewel sy verstand onmiddellik ‘n deel van die openbaring verstaan het, was die groot en verborge waarhede daarvan ‘n lewenslange studie en het hy meer en meer verstaan. PeP 161.2

Jakob het in die diep stilte van die nag wakker geword. Die helder gedaantes van sy visie het verdwyn. Al wat hy nou kon sien, was die skemeragtige omlyning van die eensame heuwels en bokant hom die hemel met sy skitterende sterre. Maar hy het die plegtige bewustheid gehad dat God met hom was. ‘n Onsigbare teenwoordigheid het die eensaamheid gevul. “Waarlik...” het hy gesê, “...die Here is op hierdie plek en ek het dit nie geweet nie.” “Dit is hier niks anders as ‘n huis van God nie en dit is hier die poort van die hemel.” PeP 161.3

“Toe staan Jakob die more vroeg op en neem die klip wat hy onder sy hoof gesit het en rig dit as ‘n gedenksteen op; en hy het olie daaroor uitgegiet.” Ooreenkomstig die gebruik om belangrike gebeurtenisse te gedenk, het Jakob ‘n gedenksteen ter ere van die genade van God opgerig, sodat hy, so dikwels as wat hy daarlangs sou verbykom, op hierdie heilige plek sou vertoef om God te aanbid. En hy het die plek, “Bethel” of die “huis van God” genoem. Met innige dankbaarheid het hy die belofte herhaal dat die teenwoordigheid van God hom sou vergesel en toe het hy ‘n plegtige eed afgelê: “As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die Here my God wees. En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal ‘n huis van God wees en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan.” PeP 161.4

Jakob het nie hierdeur gepoog om voorwaardes aan God te stel nie. Die Here het reeds beloof om hom voorspoedig te maak en hierdie gelofte was die uitvloei van ‘n hart gevul met dankbaarheid vir die versekering van God se liefde en genade. Jakob het hom verplig gevoel om die aansprake van God op hom te erken en om die besondere blyke van Goddelike guns te beloon. Insgelyks moet ook elke seëning wat ons deur die genade van God ontvang, erken word. Die Christen behoort PeP 161.5

dikwels terug te kyk op sy lewe en met dankbaarheid die verlossings wat God vir hom bewerkstellig het in herinnering te roep; wat hom in beproewings bygestaan het; hoe Hy vir hom ‘n uitweg voorsien het toe alles donker en onmoontlik gelyk het; en hom verkwik het toe hy op die punt was om te beswyk. Hy behoort alles as ‘n bewys van die sorgsaamheid van hemelse engele te beskou. Met die oog op hierdie tallose seëninge, behoort hy dikwels met ‘n nederige, dankbare hart te vra: “Wat sal ek die Here vergeld vir al sy weldade aan my?” (Psalm 116:12). PeP 162.1

Ons tyd, ons talente en ons besittings behoort met heiligheid aan Hom, wat hierdie seëninge aan ons toevertrou het, gewy te word. Wanneer daar ‘n spesiale uitkoms vir ons was, of nuwe en onverwagse gunste aan ons toegestaan word, moet ons God se goedheid erken, nie net deur ons dankbetuiging in woorde nie, maar, soos Jacob, deur skenkings en offergawes aan Sy saak. Namate ons voortdurend seëninge van God ontvang, moet ons ook voortdurend gee. PeP 162.2

Jakob het gesê: “Van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan.” Sal ons wat die volle lig en voorregte van die evangelie geniet, tevrede wees om aan God minder te gee as hulle wat in die vroeëre, minder bevoorregte bedeling geleef het? Nee, word ons verpligtinge nie dienooreenkomstig meer, namate die seëninge wat ons ontvang vermeerder nie? Maar hoe gering is die skatting; hoe vergeefs die poging om volgens die maatstaf van wiskunde, tyd, geld en liefde te vergoed vir sulke onberekenbare liefde en ‘n gawe van sulke onbegryplike waarde! Tiendes vir Christus! Ag hoe skamel die beloninkie, ‘n skandelike vergoeding vir iets wat so baie gekos het! Van die kruis van Golgota af roep Christus om onvoorwaardelike toewyding. Alles wat ons het, alles wat ons is, behoort aan God gewy te word. PeP 162.3

Met ‘n nuwe en blywende geloof in die beloftes van God en verseker van die teenwoordigheid en beskerming van hemelse engele, het Jakob sy reis “...na die land van die kinders van die Ooste...” voortgesit (Genesis 29:1). Maar hoe anders was sy aankoms as dié van Abraham se dienskneg byna honderd jaar tevore! Die dienskneg het met ‘n gevolg op kamele en met kosbare geskenke van goud en silwer daar aangekom; die seun PeP 162.4

was ‘n eensame, seervoet reisiger met ‘n staf as sy enigste besitting. Soos Abraham se dienskneg het Jakob by ‘n put vertoef en daar het hy Ragel, Laban se jongste dogter, ontmoet. Hierdie keer was dit Jakob wat ‘n diens gelewer het; hy het die klip van die put weggerol en vir die vee water gegee. Toe hy sy verwantskap bekend maak, is hy in Laban se huis verwelkom. Hoewel hy sonder besittings en alleen daar aangekom het, het hy binne ‘n paar weke die waarde van sy ywer en vaardigheid bewys en die familie het aangedring dat hy by hulle moes bly. Hulle het ooreengekom dat hy sewe jaar lank moes werk om Ragel as vrou te kry. PeP 163.1

Dit was destyds die gewoonte dat die bruidegom voor die bekragtiging van die huwelik, volgens sy vermoë, ‘n bedrag geld of ‘n vasgestelde hoeveelheid goedere aan die bruid se vader moes gee as betaling vir sy vrou. Dit is as ‘n beskerming van die huweliksband beskou. Vaders het dit nie veilig geag om hulle dogters aan manne toe te vertrou wat geen voorsiening gemaak het vir die onderhoud van hulle gesinne nie. As hulle nie vlytig en bedrywig genoeg was om sake te bestuur en vee of lande te bekom nie, is daar gevrees dat hulle lewe ‘n mislukking sou wees. Maar daar is ook voorsiening gemaak om diegene wat nie vir ‘n vrou kon betaal nie, op die proef te stel. Hulle is toegelaat om vir die vader van die dogter te werk en die dienstyd is bepaal volgens die waarde van die vereiste bruidskat. Indien die minnaar sy diens getrou verrig en sy waarde ook in ander opsigte bewys het, het hy die dogter as vrou gekry en gewoonlik is die bruidskat wat die vader ontvang het, tydens die huwelik aan haar gegee. In die geval van beide Lea en Ragel het Laban egter die skat wat hulle toegekom het, op ‘n selfsugtige wyse vir homself toegeëien. Toe hulle op die punt was om Mesopotamië te verlaat, het hulle hierna verwys met die woorde: “Hy het ons verkoop en die geld wat deur ons verkry is, geheel en al deurgebring.” PeP 163.2

Hierdie antieke gewoonte, hoewel soms misbruik soos in die geval van Laban, het tog goeie gevolge gehad. Wanneer daar van die minnaar diens vereis was voordat hy die bruid kon kry, is ‘n haastige troue voorkom en daar was ook die geleentheid om die egtheid van sy liefde op die proef te stel en om vas te stel hoe goed hy in staat was om ‘n gesin te onderhou. In ons tyd ontstaan daar baie onheil deur ‘n teenoorgestelde koers te PeP 163.3

volg. Dit is baie keer die geval dat persone voor die huwelik min geleentheid kry om mekaar se gewoontes en ingesteldheid te leer ken en sover dit die daaglikse lewe betref, is hulle feitlik vreemdelinge vir mekaar wanneer hulle in die eg verbind word. Baie ontdek te laat dat hulle nie by mekaar aanpas nie en lewenslange ellende is die gevolg van hulle verbintenis. Dikwels moet die vrou en die kinders gebrek ly as gevolg van die luiheid en onbekwaamheid of die kwaadwillige gewoontes van die vader van die gesin. Indien die karakter van die minnaar eers volgens die ou gewoonte op die proef gestel was, kon baie ongeluk en verdriet voorkom gewees het. PeP 164.1

Sewe jaar van getroue diens het Jakob in ruil vir Ragel gegee en die diensjare was vir hom “...soos ‘n paar dae, omdat hy haar liefgehad het.” Maar die selfsugtige, inhalige Laban, wat hierdie waardevolle helper graag wou behou, het ‘n wrede bedrog teenoor hom gepleeg deur Lea met Ragel om te ruil. Omdat Lea medepligtig was aan die bedrog, kon Jakob dit nie oor sy hart kry om haar te bemin nie. Sy verontwaardigde bestraffing van Laban het tot gevolg gehad dat Laban aangebied het dat hy Ragel kon kry, vir nog sewe jaar se diens aan hom. Maar die vader het daarop aangedring dat Lea nie verwerp moes word nie omdat dit die familie in die skande sou steek. Dit het Jakob in ‘n baie pynlike en moeilike verleentheid gebring. Eindelik het hy besluit om Lea te behou en ook met Ragel te trou. Ragel was altyd sy mees geliefde; maar sy voorkeur vir haar het afguns en jaloesie veroorsaak en sy lewe is deur die mededinging van die suster-vroue versuur. PeP 164.2

Twintig jaar lank het Jakob in Mesopotamië in diens van Laban gearbei, wat die verwantskap veronagsaam het en slegs daarop uit was om vir homself al die voordele van hulle verwantskap te verseker. Veertien jaar van arbeid het hy vir sy twee dogters geëis en gedurende die oorblywende tydperk is Jakob se loon tien keer gewysig. Nogtans het Jakob hom vlytig en getrou gedien. Sy woorde aan Laban tydens hulle laaste ontmoeting was ‘n duidelike beskrywing van sy onvermoeide ywer wat hy aan die belange van sy veeleisende werkgewer bestee het. “Twintig jaar was ek nou by u. U skaap-en bokooie het geen misdrag gehad nie en die ramme van u kleinvee het ek nie geëet nie. Wat die wilde diere verskeur het, het ek nie na u gebring nie: ek moes dit vergoed; van my hand het u dit geëis, PeP 164.3

of dit al bedags gesteel is of snags gesteel is. Ek was ‘n man wat bedags deur die hitte verteer is en snags deur die koue en my slaap het gevlug van my oë.” PeP 165.1

Die was nodig vir die herders om dag en nag oor hulle kuddes te waak. Hulle is bedreig deur rowers en deur wilde diere, wat talryk en onverskrokke was en groot verwoesting onder die kuddes wat nie getrou bewaak is nie, aangerig het. Jakob het baie handlangers gehad wat hom bygestaan het met die versorging van Laban se groot kuddes, maar hy is persoonlik vir almal verantwoordelik gehou. Sommige tye van die jaar was dit noodsaaklik dat hy self voortdurend by die kuddes moes wees om te sorg dat hulle nie in die droë tyd van dors omkom en in die koudste maande verkluim nie. Jakob was die hoofherder; die herders in sy diens was die onder-herders. As daar skape ontbreek, moes die hoofherder die skade dra en hy het die diensknegte aan wie hy die sorg van die kudde toevertrou het, tot streng verantwoording geroep as hulle nie in ‘n goeie toestand was nie. PeP 165.2

Die herder se lewe van ywer en sorgsaamheid en sy sagsinnige deernis vir die hulpelose diere wat aan sy sorg toevertrou is, is deur geïnspireerde outeurs aangewend om sommige van die mees kosbare waarhede van die evangelie te illustreer. Christus, in Sy verhouding met Sy volk, word vergelyk met dié van ‘n herder. Na die sondeval het Hy gesien dat Sy skape gedoem was om in die duistere weë van die sonde te sterf. Om hierdie dwalendes te red, het Hy die eer en heerlikheid van Sy Vader se huis verlaat. Hy sê: “Die wat verlore is, sal Ek soek en wat weggedryf is, sal Ek terugbring en wat gewond is, sal Ek verbind en die siekes sal Ek versterk.” “Ek sal my skape red, sodat hulle nie meer ‘n prooi sal wees nie.” “En die wilde diere van die land sal hulle nie opeet nie.” (Esegiël 34:16,22,28). Sy stem roep hulle onder Sy beskutting in: “...“n skaduwee bedags teen die hitte en vir ‘n skuilplek en toevlug teen die stortbui en die reën.” (Jesaja 4:6). Hy sorg onvermoeid vir die kudde. Hy versterk die swakkes, verlig die lyding, vergader die lammers in Sy arms en dra hulle aan Sy boesem. Sy skape het Hom lief. “Hulle sal ‘n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie.” (Johannes 10:5). PeP 165.3

Christus sê: “Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. Maar die huurling en hy wat nie ‘n herder is nie, van wie die skape nie die eiendom is nie, sien die wolf kom en laat die skape staan en vlug en die wolf vang hulle en jaag die skape uitmekaar. En die huurling vlug, omdat hy ‘n huurling is en niks vir die skape omgee nie. Ek is die goeie herder en Ek ken my eie en word deur my eie geken.” (Verse 11-14). PeP 166.1

Christus, die Opperherder, het die sorg van Sy kudde aan Sy leraars as onder-herders opgedra en Hy beveel hulle om dieselfde belangstelling te toon as wat Hy gemanifesteer het en om die heilige verantwoordelikheid van die taak wat Hy hulle opgelê het, aan die dag te lê. Hy het hulle plegtig beveel om getrou te wees, om die kudde te laat wei, om die swakkes te versterk, om die wat verflou het op te rig en om hulle teen verskeurende wolwe te beskerm. PeP 166.2

Christus het Sy eie lewe afgelê om Sy skape te red en Hy wys Sy herders na die liefde wat vir hulle ‘n voorbeeld moet wees. Maar “...die huurling van wie die skape nie die eiendom is nie...,” het geen ware belangstelling in die kudde nie. Hy werk slegs vir vergoeding en is net oor homself besorg. Hy is op sy eie wins ingestel in stede van die belange van sy opdrag en in tye van gevaar sal hy vlug en sy kudde aan hulleself oorlaat. PeP 166.3

Die apostel Petrus vermaan die onder-herders: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde” (1 Petrus 5:2,3). Paulus sê: “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie” (Handelinge 20:28,29). PeP 166.4

Almal wat die sorg en laste van ‘n getroue herder as ‘n onwelkome las beskou, word deur die apostel bestraf: “Nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid.” (1 Petrus 5:2). Die Opperherder sal sulke ontroue diensknegte gewilliglik ontslaan. Die kerk van Christus is met Sy bloed gekoop en elke herder moet besef dat die skape onder sy sorg ‘n oneindige opoffering gekos het. Hy behoort PeP 166.5

elkeen van hulle as van onskatbare waarde te beskou en moet onvermoeid werk om hulle in ‘n gesonde, florerende toestand te hou. Die herder wat met die gees van Christus besiel is, sal Sy voorbeeld van selfverloëning naboots en gedurig arbei om die welsyn van sy kudde te bevorder; en die kudde sal onder sy sorg voorspoedig wees. PeP 167.1

Almal sal noukeurig moet rekenskap van hulle bediening gee. Van elke herder sal die Meester eis: “Waar is die kudde wat aan jou gegee is, jou pragtige trop kleinvee?” (Jeremia 13:20). Hy wat getrou bevind word, sal ryklik beloon word. “Wanneer die Opperherder verskyn...,” so sê die apostel, “...sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang.” (1 Petrus 5:4). PeP 167.2

Toe Jakob moeg geword het om Laban te dien en na Kanaan wou terugkeer, het hy aan sy skoonvader gesê: “Laat my trek dat ek na my woonplek en my land kan gaan. Gee my vroue en my kinders waarvoor ek u gedien het, dat ek kan gaan; want u weet self hoe ek u gedien het.” Maar Laban het aangedring dat hy moes bly en het gesê: “Ek het waargeneem dat die Here my om jou ontwil geseën het.” Hy het gesien dat sy rykdom onder die sorg van sy skoonseun toegeneem het. PeP 167.3

Jakob het gesê: “Min was dit wat u voor my koms gehad het en dit het sterk vermeerder.” Maar met verloop van tyd het Laban afgunstig geword omdat Jakob voorspoediger was as hy. Jakob het “...buitengewoon uitgebrei en baie kleinvee en slavinne en slawe en kamele en esels gehad.” Laban se seuns het gedeel in hulle vader se afguns en van hulle kwaadwillige gesprekke het Jakob se ore bereik. Hy “...het alles geneem wat ons vader s'n was; en uit wat ons vader s'n was, het hy al hierdie rykdom verwerf. Jakob het ook meteens aan die aangesig van Laban gesien dat hy nie meer vir hom was soos gister en eergister nie.” PeP 167.4

Jakob sou lank tevore sy slinkse bloedverwant verlaat het, maar hy was bevrees dat hy Esau dalk sou ontmoet. Nou het hy egter besef dat Laban se seuns vir hom ‘n bedreiging was, want hulle het sy rykdom as hul eie beskou en kon dalk probeer om dit met geweld af te neem. Hy was radeloos en ontsteld en het nie geweet waarheen nie. Maar gedagtig aan die belofte te Bet-El het hy by die Here gaan raad soek. Sy gebed is in ‘n droom PeP 167.5

beantwoord: “Gaan terug na die land van jou vaders en na jou familie; en Ek sal met jou wees.” PeP 168.1

Laban se afwesigheid het die geleentheid verskaf om te vertrek. Die kleinvee en beeste is haastig versamel en vooruit gestuur en toe het hy met sy vroue en kinders en diensknegte die Eufraat oorgesteek en in die rigting van Gilead, aan die grens van Kanaan, weggetrek. Na drie dae het Laban verneem dat hulle gevlug het en hy het hulle agternagesit en op die sewende dag van hulle reis het hy die geselskap ingehaal. Hy was woedend en het hom voorgeneem om hulle te dwing om terug te keer en hy het nie daaraan getwyfel dat hy dit kon doen nie, want sy mag was sterker as hulle s'n. Die vlugtelinge het inderdaad in groot gevaar verkeer. PeP 168.2

Dat hy sy vyandige voorneme nie uitgevoer het nie, was te danke aan die feit dat God self ingetree het om Sy dienskneg te beskerm. “Dit is in my mag om julle skade aan te doen...,” het Laban gesê, “...maar die God van julle vader het verlede nag met my gespreek en gesê: Pas nou op om met Jakob geen goed of kwaad te spreek nie,” met ander woorde, hy moet hom nie probeer dwing om terug te keer nie en hy moet hom ook nie met mooi woorde en vleitaal probeer teruglok nie. PeP 168.3

Laban het sy dogters se bruidskat nooit aan hulle gegee nie en hy het Jakob altyd geslepe en hardvogtig behandel; maar met kenmerkende geveinsdheid het hy Jakob nou oor sy geheime vertrek verwyt, omdat die vader nie die geleentheid gehad het om ‘n afskeidsfees te hou en sy dogters en hulle kinders te groet nie. PeP 168.4

In antwoord daarop het Jakob Laban op sy selfsugtige, inhalige beleid gewys en ‘n beroep op hom gedoen om van sy eie getrouheid en eerlikheid te getuig. Jakob het gesê: “As die God van my vader, die God van Abraham en die Vrees van Isak, nie aan my kant was nie ja, dan sou u my met leë hande weggestuur het. God het my ellende en die moeitevolle arbeid van my hande aangesien en verlede nag geoordeel.” PeP 168.5

Laban kon hierdie feite nie weerlê nie en het ‘n vredesverbond voorgestel. Jakob het ingestem en ‘n hoop klippe is opgerig as ‘n teken van die ooreenkoms. Laban het die gedenksteen Mispa, “wagtoring” genoem en gesê: “Mag die PeP 168.6

Here wag hou tussen my en jou as ons mekaar nie meer sien nie.” PeP 169.1

“Verder sê Laban vir Jakob: Daar is die hoop klippe en daar is die gedenksteen wat ek tussen my en jou opgerig het-hierdie hoop klippe is getuie en die gedenksteen is getuie dat ék na jou kant toe hierdie hoop nie sal verbytrek nie en dat jy na my kant toe hierdie hoop en hierdie gedenksteen nie sal verbytrek met slegte bedoelinge nie. Die God van Abraham en die God van Nahor, die God van hulle vader, sal regter tussen ons wees. En Jakob het gesweer by die Vrees van sy vader Isak.” Om die verbond te bevestig het die betrokkenes ‘n fees gehou. Daardie nag het hulle in vriendskaplike gemeenskap deurgebring en toe die dag breek, het Laban en sy geselskap vertrek. Na hierdie skeiding was daar geen verdere spoor van enige gemeenskap tussen die nakomelinge van Abraham met die bewoners van Mesopotamië nie. PeP 169.2