Patriarge en Profete

18/75

Hoofstuk 16—Jakob en Esau

(Hierdie hoofstuk berus op Genesis 25:19-34:27) PeP 152.1

Jakob en Esau, Isak se tweelingseuns, toon ‘n merkwaardige verskil in hulle karakters sowel as in hulle lewens. Hierdie verskil is voor hulle geboorte deur die engel van God voorspel. Toe hy in antwoord op Rebekka se ontstelde gebed, verklaar het dat twee seuns aan haar geskenk gaan word, het hy hulle toekomstige geskiedenis aan haar geopenbaar; dat elkeen die hoof van a magtige nasie sal word, maar dat een magtiger as die ander sou wees en dat die jongste voorrang sou geniet. PeP 152.2

Esau het selfvergenoeg grootgeword en al sy belangstellings was net op die huidige ingestel. Ongeduldig om ingeperk te word, het hy hom verlustig in die wilde vryheid van die jag en het vroeg die lewe van ‘n jagter aangeneem. Nogtans was hy sy vader se gunsteling. Die stil, vredeliewende herder is aangetrek deur die waaghalsigheid en lewenslus van sy oudste seun wat sonder vrees oor berge en deur woestyne geswerf en teruggekeer het met wildsvleis vir sy vader en opwindende verhale van sy avontuurlike lewe. Jakob daarenteen, was nadenkend, ywerig en sorgsaam en het meer oor die toekoms as aan die hede gedink. Hy was tevrede om tuis te bly, om toesig oor die vee te hou en die grond te bewerk. Sy moeder het sy geduldige volharding, spaarsamigheid en vêrsiendheid waardeer. Sy liefde was diep gewortel en sterk en sy minsame, volgehoue bedagsaamheid het veel meer tot haar geluk bygedra as die uitbundige en seldsame weldade van Esau. Rebekka het Jakob meer liefgehad. PeP 152.3

Die beloftes wat aan Abraham gegee en aan sy seun bevestig is, was vir Isak en Rebekka die belangrikste voorwerp van hulle begeertes en hoop. Jakob en Esau was bekend met hierdie beloftes. Hulle is geleer om die eersgeboortereg as uiters belangrik te beskou, want dit het nie net die bemaking van wêreldse rykdom behels nie, maar ook van geestelike voorrang. Die een wat dit ontvang, sou die gesinspriester wees en uit sy geslagslyn sou die Verlosser van die wêreld kom. Daarenteen, het daar swaar verpligtinge op die besitter van die geboortereg gerus. Hy wat hierdie seëning sou erf, moes sy lewe aan die PeP 152.4

diens van God wy. Soos Abraham moes hy gehoorsaam aan die Vereistes van God wees. In sy huwelik, in sy gesinsverhoudings, in die openbare lewe, moes hy die wil van God raadpleeg. PeP 153.1

Isak het sy seuns van hierdie voorregte en voorwaardes vertel en hulle duidelik laat verstaan dat die geboortereg Esau, as die oudste, toegekom het. Maar Esau het geen voorliefde vir toegewydheid, of neiging tot ‘n godsdienstige lewe gehad nie. Die vereistes waaraan die besitter van die geboortereg moes voldoen, was vir hom ‘n onwelkome, ja, selfs haatlike beperking. Die wet van God, wat die voorwaarde van die Goddelike verbond met Abraham was, was deur Esau as ‘n juk van slawerny beskou. Omdat hy op selfbevrediging ingestel was, het hy niks meer begeer as die vryheid om te doen soos hy wou nie. Vir hom het geluk bestaan uit mag en rykdom, feeste en brassery. Hy het hom verlustig in die onbeteuelde vryheid van sy wilde swerwerslewe. Rebekka het die woorde van die engel onthou en sy het die karakters van haar twee seuns met beter insig as haar man verstaan. Sy was daarvan oortuig dat die erfnis van die Belofte van God vir Jakob bedoel was. Sy het Isak aan die engel se woorde herinner, maar die vader het sy oudste seun liefgehad en was onwrikbaar in sy doel. PeP 153.2

Jakob het van sy moeder verneem van die Goddelike aanmaning dat die geboortereg hom moes toekom en hy was gevul met ‘n onuitspreeklike begeerte vir die voorregte wat daarmee gepaardgaan. Dit was nie sy vader se rykdom wat hy begeer het nie; die geestelike geboortereg was die voorwerp van sy verlange. Om soos die regverdige Abraham met God in gemeenskap te verkeer, om die soenoffer vir sy gesin aan te bied, om die voorsaat van die uitverkore volk en van die beloofde Messias te wees en om die onverganklike besittings te erf wat in die seëninge van die verbond bevat word; dit was die voorregte en eerbewyse wat hy die meeste begeer het. Sy gedagtes het voortdurend na die toekoms gestrek en het daarna gestreef om die onsigbare seëninge te begryp. PeP 153.3

Met heimlike verlange het hy na alles geluister wat sy vader aangaande die geestelike geboortereg vertel het; hy het alles wat sy moeder hom vertel het, versigtig gekoester. Die onderwerp het sy gedagtes dag en nag in beslag geneem, totdat dit die absorberende belang van sy lewe geword het. Maar PeP 153.4

hoewel hy die ewige seëninge van meer waarde as die tydelike geag het, het Jakob geen beproefde kennis gehad van die God wat hy eerbiedig het nie. Sy hart was nog nie deur die genade van God hernu nie. Hy het geglo dat die beloftes aangaande hom nie vervul kon word solank Esau die regte van die eersgeborene besit het nie en hy het gedurig ‘n plan probeer beraam waardeur hy die seën waaraan sy broer so min waarde geheg het, maar wat vir hom so kosbaar was, kon verkry. PeP 154.1

Toe Esau op ‘n dag swak en uitgeput van die jag tuis kom en van die kos vra wat Jakob besig was om voor te berei, het laasgenoemde, wat net aan een ding kon dink, die geleentheid aangegryp en aangebied om sy broer se honger te stil in ruil vir die geboortereg. “Kyk, ek gaan sterwe...,” het die onbesonne, selfsugtige jagter uitgeroep “...en wat baat die eersgeboortereg my dan?” En vir ‘n pot lensies het hy sy eersgeboortereg afgestaan en die ooreenkoms met ‘n eed bekragtig. ‘n Kort tydperk op die meeste, sou hom van voedsel in sy vader se tente voorsien het, maar om die begeerte van die oomblik te bevredig, het hy die heerlike erfnis wat God self aan sy vaders beloof het, verkwansel. Sy volle aandag was op die huidige ingestel. Hy was gewillig om die hemelse vir die aardse op te offer, om die goeie van die toekoms vir ‘n oomblik se genot te verruil. PeP 154.2

“So het Esau dan sy eersgeboortereg verag.” Deur daarvan ontslae te raak was vir hom ‘n verligting. Nou het niks meer in sy pad gestaan nie; hy kon doen wat hy wou. Hoeveel verkoop steeds hulle geboortereg, van ‘n erfenis wat suiwer en onbesmet en ewig in die hemele bewaar is, vir hierdie wilde plesier en sogenaamde vryheid? PeP 154.3

Steeds onderworpe aan slegs die uiterlike en aardse aantreklikhede, het Esau vit hom twee vrouens uit die dogters van Het geneem. Hulle was aanbidders van valse gode en hulle afgodery het Isak en Rebekka diep bedroef gemaak. Esau het een van die voorwaardes van die verbond, wat die uitverkore volk belet om met heidene te ondertrou, oortree; nogtans was Isak steeds vasberade om die eersgeboortereg aan hom te gee. Rebekka se redenasies, Jakob se sterk begeerte om die seëninge te ontvang en Esau se onverskilligheid teenoor die verantwoordelikhede het geen effek op die vader gehad om van plan te verander nie. PeP 154.4

Die jare het verbygesnel totdat Isak, wat oud en blind was en verwag het om binnekort te sterf, besluit het om nie langer uit te stel nie, maar sy oudste seun dadelik te seën. Maar omdat hy bewus was van Rebekka en Jakob se teenstand, het hy besluit om die plegtigheid in die geheim af te handel. Volgens die gewoonte om ‘n feestelikheid van sulke geleenthede te maak, het die patriarg Esau beveel: “Gaan uit in die veld en jag vir my ‘n stuk wild en maak vir my lekker ete klaar ... sodat my siel jou kan seën voordat ek sterwe.” PeP 155.1

Rebekka het vermoed wat gaande was. Sy was seker dit was teenstrydig met die geopenbaarde wil van God. Isak was in gevaar om die Goddelike misnoeë op hom te laat neerkom en om sy jonger seun van die posisie waartoe God hom geroep het, te ontneem. Sy het tevergeefs met Isak oor die saak geredeneer en het besluit om haar eie strategie toe te pas. PeP 155.2

Esau was skaars weg om sy opdrag uit te voer, of Rebekka het aan die werk gespring om haar eie plan te verwesenlik. Sy het Jakob vertel wat gebeur het en het die dringendheid van onmiddellike optrede beklemtoon om te voorkom dat die seën finaal en onherroeplik aan Esau geskenk word. Verder het sy haar seun verseker dat indien hy haar opdragte volg, hy dit sou verkry, soos God beloof het. Jakob het nie geredelik tot haar voorgestelde plan ingestem nie. Die gedagte dat hy sy vader sou bedrieg, het hom diep ontstel. Hy was oortuig dat hierdie sonde eerder ‘n vloek as ‘n seën sou bring. Maar sy besware is doodgepraat en hy het sy moeder se plan uitgevoer. Hy was nie van plan om prontuit te ‘n leuen te vertel nie, maar toe hy eers in sy vader se teenwoordigheid was, het hy gevoel dat hy reeds te ver gegaan het om hom te onttrek en so het hy die begeerde seën deur bedrog ontvang. PeP 155.3

Jakob en Rebekka het in hulle voorneme geslaag, maar hulle bedrog het vir hulle net moeite en verdriet besorg. God het verklaar dat Jakob die geboortereg sou erf en Hy sou Sy woord in Sy eie tyd gestand gedoen het, as hulle net in geloof gewag het dat Hy vir hulle moes werk. Maar net soos soveel hedendaagse belydende kinders van God, was hulle onwillig om sake in Sy hande oor te laat. Rebekka het bitter berou gehad oor die verkeerde raad wat sy aan haar seun gegee het; daardeur is hy van haar geskei en sy het hom nooit weer gesien PeP 155.4

nie. Van die oomblik af toe hy die geboortereg ontvang het, was Jakob terneergedruk met selfverwyt. Hy het teen sy vader, sy broer, sy eie siel en teen sy God gesondig. Binne een kort uur het hy ‘n daad gepleeg waaroor hy lewenslange berou sou hê. Die toneel het hom in sy na-jare lewendig voor die gees gestaan toe die bose gedrag van sy eie seuns hom gekwel het. PeP 156.1

Jakob het skaars sy vader se tent verlaat toe Esau daar inkom. Hoewel hy sy geboortereg verkoop en die oordrag met ‘n eed bevestig het, was hy nou vasberade om die seëninge te kry, ondanks sy broer se aanspraak daarop. Tesame met die geestelike, was die tydelike geboortereg daaraan gekoppel, wat aan hom die hoofskap van die familie en besit van ‘n dubbele porsie van sy vader se rykdom sou besorg. Hierdie was die seëninge wat hy kon waardeer. Hy het gesê: “Laat my vader hom oprig en eet van die wildsvleis van sy seun, sodat u siel my kan seën.” PeP 156.2

Bewend van verbasing en ontsteltenis, het die blinde ou vader verneem van die bedrog wat teen hom gepleeg is. Die hoop wat hy so lank en so inniglik gekoester het was verydel en hy het die teleurstelling van sy oudste seun, terdeë gevoel. Tog het die oortuiging deur hom geflits dat dit die voorsienigheid van God was wat sy plan verydel en die ding, wat hy wou probeer voorkom, tot stand gebring het. Hy het hom die woorde herinner wat die engel tot Rebekka gespreek het en ondanks die sonde waaraan Jakob hom skuldig gemaak het, het hy tog erken dat hy die geskikste persoon was om God se plan uit te voer. Terwyl hy die seënwoorde uitgespreek het, het hy gevoel dat die Gees van Ingewing hom besiel; en noudat hy van al die omstandighede bewus was, het hy die seën bekragtig wat hy onwetend oor Jakob uitgespreek het: “Ek het hom geseën, ook sal hy geseënd bly.” PeP 156.3

Esau het die seëning ligtelik opgeneem toe dit geblyk het dat dit binne sy bereik was, maar noudat dit vir ewig van hom weggeneem is, het hy begeer om dit te besit. Al die krag van sy impulsiewe, hartstogtelike natuur, is aangevuur en sy verdriet en woede was skrikwekkend. Bitterlik het hy uitgeroep: “Seën my ook, my vader!” “Het u vir my geen seën oorgehou nie?” Maar die belofte wat gegee was, kon nie herroep word nie. Hy kon die geboortereg wat hy so onverskillig verkwansel het, nie PeP 156.4

herwin nie. “Vir een spysgereg” vir ‘n kortstondige toegewing aan die belustigheid wat hy nooit in bedwang kon hou nie, het Esau sy erfnis verkoop; maar toe hy sy dwaasheid besef, was dit te laat om sy seën te herwin. “Hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer.” (Hebreërs 12:16,17). As gevolg van sy bekering, was Esau egter nie uitgesluit van die voorreg om God se guns te soek nie, maar daar was geen manier waarop hy sy geboortereg kon terugkry nie. Sy berou het nie sy oorsprong in ‘n oortuiging van sonde gehad nie; hy het nie begeer om met God versoen te word nie. Hy was bedroef oor die gevolge van sy sonde, maar nie oor die sonde self nie. PeP 157.1

As gevolg van sy onverskilligheid teenoor die Goddelike seëninge en vereistes, word Esau in die Skrifte ““n onheilige” genoem (vers 16). Hy verteenwoordig diegene wat die verlossing, wat deur Christus vir hulle gekoop is, ligtelik opneem en bereid is om hulle nalatenskap van die hemel, op te offer. Menige leef vir die hede met geen gedagte aan die toekoms nie. Soos Esau roep hulle uit: “Laat ons dan eet en drink, want more sterf ons!” (1 Korinthiërs 15:32). Hulle word deur hulle neigings beheers en eerder as om selfbeheersing toe te pas, sien hulle af van die belangrikste oorwegings. Indien hulle moet kies tussen die bevrediging van hulle verderflike begeertes en die hemelse seëninge wat net aan diegene beloof word wat selfverloënend en godvresend is, dan seëvier die eise van die begeertes en God en die hemel word letterlik verag. Hoeveel is daar, selfs onder belydende Christene, wat vasklou aan toegewings wat skadelik vir hulle gesondheid is en die sensitiwiteit van die siel verlam. Wanneer hulle op hulle plig gewys word om hulle van alle besoedeling van die vlees en die gees te reinig, om heiligheid in die vrees van God te vervolmaak, neem hulle aanstoot. Hulle besef dat hulle nie hierdie skadelike genietinge kan voortsit en nog verseker van die hemel kan wees nie en hulle besluit dat aangesien die weg na die ewige lewe so bekrompe is, hulle liewer nie langer daarop wil wandel nie. PeP 157.2

Menige verruil hulle eersgeboortereg vir sinsgenot. Gesondheid word versaak, die verstandelike vermoëns word verswak en die hemel word verbeur; dit alles vir bloot tydelike genot-'n bevrediging van die begeertes wat beide verswakkend en aftakelend van karakter is. Net soos Esau die dwaasheid van PeP 157.3

sy haastige ruilery te laat ontdek het om die verlies daarvan te herwin, so sal dit, op die dag van die Here, met diegene gaan wat hulle nalatenskap tot die hemel vir selfsugtige bevrediging verkwansel het. PeP 158.1