Patriarge en Profete
Hoofstuk 15—Die Huwelik van Isak
(Hierdie hoofstuk berus op Genesis 24) PeP 145.1
Abraham het ‘n ou man geword en het verwag om binnekort te sterf; maar daar was nog een ding vir hom om te doen om die verwesenliking van die belofte aan sy nakomelinge te verseker. God het Isak aangestel om sy opvolger te wees as bewaarder van die wet van God en die vader van die uitverkore volk, maar hy was nog ongetroud. Die Kanaaniete was afgodedienaars en God het Sy volk belet om met hulle te trou, want Hy het geweet dat so ‘n huwelik tot afvalligheid sou lei. Die patriarg was bevrees vir die verderflike invloede wat sy seun omring het. Abraham se gebruiklike geloof in God en onderwerping aan Sy wil is in Isak se karakter weerspieël; maar die jongman se hartstogte was sterk en hy was sag en toegeeflik van geaardheid. Indien hy hom met iemand in die eg sou verbind wat God nie vrees nie, sou hy in gevaar verkeer om sy beginsels prys te gee om die vrede te bewaar. In Abraham se gedagtes was die keuse van ‘n vrou vir sy seun van groot belang; hy was angstig dat hy nie met iemand sou trou wat hom van God sou weglei nie. PeP 145.2
In antieke tye het die ouers gewoonlik die keuse van ‘n huweliksmaat vir hulle kinders gedoen en dit was die gebruik onder die aanbidders van God. Niemand is gedwing om met iemand te trou wat hy nie kon bemin nie, nogtans het die jeug hulle in hul liefdesake deur die oordeel van hulle godvresende ouers laat lei. Dit was gesien as ‘n oneer en selfs ‘n misdaad teenoor ouers om ‘n koers wat teenstrydig hiermee was te volg. PeP 145.3
Isak, wat op sy vader se wysheid en liefde vertrou het, was tevrede om die saak aan hom oor te laat en het ook geglo dat God Self die leiding sal gee in die keuse wat gemaak word. Die patriarg het teruggedink aan sy vader se familie in Mesopotamië. Hoewel hulle nie vry van afgodery was nie, het hulle die kennis en aanbidding van God gekoester. Isak moes Kanaan nie verlaat om na hulle toe te gaan nie, maar dit was moontlik dat tussen hulle, daar een sou wees wat bereid sou wees om haar ouerhuis te verlaat en met hom te verenig om die suiwere aanbidding van die lewende God te onderhou. Abraham het hierdie belangrike saak aan “...sy dienaar, die oudste van sy PeP 145.4
huis” opgedra, want hy was ‘n vroom man van jarelange ondervinding en gesonde oordeel en het hom reeds lank en getrou gedien. Hy het hierdie dienskneg ‘n plegtige eed voor die Here laat aflê dat hy nie onder die Kanaaniete vir Isak ‘n vrou sou neem nie, maar dat hy ‘n meisie uit die gesin van Nahor in Mesopotamië sou neem. Hy het hom beveel om Isak nie daarheen te neem nie. Indien daar geen jongmeisie gevind kon word wat gewillig sou wees om haar familie te verlaat nie, sou die dienskneg van sy eed vrygestel wees. Die patriarg het hom in hierdie moeilike en delikate onderneming bemoedig met die versekering dat God sy sending met welslae sou bekroon. Hy het gesê: “Die Here, die God van die hemel, wat my uit my vader se huis en uit my geboorteland weggeneem het, ... Hy sal Sy engel voor jou uit stuur.” PeP 146.1
Die dienskneg het sonder versuim vertrek. Hy het tien kamele vir die gebruik van sy eie geselskap en die bruidsgeselskap wat moontlik saam met hom sou terugkeer, geneem en ook, toegerus met geskenke vir die voorgenome bruid en haar vriendinne, het hy die lang reis tot anderkant Damaskus en verder tot by die vrugbare vlaktes wat aan die groot rivier van die Ooste grens, aangepak. Hy het in Haran “die stad van Nahor” aangekom en buite die mure by die waterput gaan wag waar die vroue van die plek saans kom water haal het. Dit was vir hom ‘n tyd van angstige oorweging. Daar sou belangrike gevolge wees, nie alleenlik vir sy meester se huishouding nie, maar ook vir die toekomstige geslagte, op die keuse wat hy gemaak het en hoe kon hy ‘n wyse keuse tussen totale vreemdelinge maak? Gedagtig aan die woorde van Abraham dat die Here Sy engel voor hom sou uitstuur, het hy ernstig gebid vir positiewe leiding. In sy heer se huisgesin was hy gewoond aan voortdurende welwillendheid en gasvryheid en nou het hy gevra dat ‘n daad van hoflikheid die maagd wat God gekies het moes uitwys. PeP 146.2
Hy het skaars klaar gebid of die antwoord het gekom. Tussen die vroue wat by die put bymekaar was, was een wat met haar hoflike maniere sy aandag getrek het. Toe sy van die put wegstap, gaan die vreemdeling haar tegemoet en vra vir ‘n slukkie water uit die kruik op haar skouer. Sy het vriendelik aan sy versoek voldoen en toe ook sommer aangebied om vir sy kamele water uit die put te trek, ‘n diens wat selfs vorstelike PeP 146.3
dogters vir hulle vaders se kuddes verrig het. So is die begeerde teken gegee. “Die dogter was baie mooi van aansien...” en haar geredelike beleefdheid het van ‘n sagte hart en aktiewe, energieke natuur getuig. Tot dusver het die Goddelike Hand hom gelei. Nadat hy haar vriendelikheid met duur geskenke beloon het, het die boodskapper na haar herkoms verneem en toe hy hoor dat sy die dogter van Betuel, Abraham se broerskind, was, “...buig die man hom neer en aanbid die Here.” PeP 147.1
Die man het om herberg in haar vader se huis gevra en in sy dankbetuiging het hy die feit van sy verbintenis met Abraham bekend gemaak. Toe sy tuiskom, het die meisie vertel wat gebeur het en haar broer, Laban, het hom dadelik gehaas om aan die vreemdeling en sy geselskap die gasvryheid van hulle huis te bied. PeP 147.2
Eliëser wou nie eet voordat hy vertel het waarom hy gekom het, hoe hy by die put gebid het en wat toe gebeur het nie. Toe sê hy: “As julle dan nou guns en trou aan my heer wil bewys, sê dit vir my; en so nie, sê dit vir my, dat ek regs of links kan gaan.” Die antwoord was: “Van die Here kom die saak; ons kan jou daar geen kwaad of goed van spreek nie. Daar staan Rebekka voor jou, neem haar en gaan heen, dat sy ‘n vrou kan wees vir die seun van jou heer, soos die Here gespreek het.” PeP 147.3
Nadat die gesin hulle toestemming gegee het, is Rebekka self gevra of sy gewillig was om so ver van haar ouerhuis te gaan om met die seun van Abraham te trou. Op grond van wat gebeur het, het sy geglo dat God haar gekies het om Isak se vrou te wees en sy het geantwoord: “Ek sal gaan.” PeP 147.4
Omdat hy in sy verbeelding kon sien hoe bly sy heer sou wees oor sy welslae, was die dienskneg haastig om te vertrek en toe dit oggend word, het hulle op die lang tog terug vertrek. Abraham het by Berséba gewoon en Isak, wat die kuddes in ‘n naburige streek opgepas het, het na sy vader se tent gekom om te wag op die koms van die dienskneg uit Haran. “En Isak het teen die aand uitgegaan om te peins in die veld. En toe hy sy oë opslaan, sien hy meteens kamele aankom. Rebekka het ook haar oë opgeslaan en Isak gesien. Toe het sy van die kameel afgegly en aan haar dienaar gesê: Watter man is dit wat ons tegemoetloop in die veld? En die dienaar antwoord: Dit is my PeP 147.5
heer. Toe neem sy die sluier en bedek haar. Daarop het die dienaar aan Isak alles vertel wat hy gedoen het. En Isak het haar in die tent van sy moeder Sara ingebring en Rebekka geneem en sy het sy vrou geword; en hy het haar liefgehad. So is Isak dan getroos na die dood van sy moeder. ” PeP 148.1
Abraham het ag geslaan op die gevolge van ondertrouing tussen diegene wat God gevrees het en die wat Hom nie gevrees het nie, van Kain se tyd af tot in sy eie tyd. Hy was bewus van die gevolge van sy eie huwelik met Hagar en die huweliksbetrekkinge van Ismael en Lot. As gevolg van die gebrek aan geloof aan die kant van Abraham en Sara is Ismael gebore en so het die regverdige saad met die onregverdige vermeng geraak. Die goeie invloed van die vader op sy seun is deur die moeder se afgodiese familie en Ismael se huwelik met heidense vroue verydel. Die jaloesie van Hagar en dié van die vroue wat sy vir Ismael gekies het, het ‘n skans rondom sy gesin gebou, wat Abraham tevergeefs probeer oorkom het. PeP 148.2
Abraham se vroeëre leringe was nie sonder effek op Ismael nie, maar die invloed van sy vroue het daarin geslaag om afgodery in sy huishouding in te bring. Omdat hy van sy vader geskei was en verbitterd geraak het oor die twis en onenigheid in ‘n liefdelose huis sonder die vrees van God, is Ismael daartoe gedring om die lewe van ‘n plunderende woestyn hoof aan te voer met “...sy hand teen almal en almal se hand teen hom.” (Genesis 16:12). In sy latere lewe het hy hom bekeer van sy bose weë en tot die God van sy vader teruggekeer, maar die stempel van sy karakter wat op sy nakomeling afgedruk was, het gebly. Die magtige volk wat van hom afgestam het, was ‘n onstuimige, heidense volk, wat altyd ergernis en ellende vir die nageslag van Isak veroorsaak het. PeP 148.3
Lot se vrou was selfsugtig en ongodsdienstig en sy het haar invloed laat geld om Lot van Abraham te skei. As dit nie vir haar was nie, sou Lot nie in Sodom gebly het, waar hy sonder die raad van die wyse, godvresende patriarg moes klaarkom nie. Die invloed van sy vrou en die verbintenisse met daardie goddelose stad, sou hom van God afvallig gemaak het, as dit nie was vir die getroue onderrig wat hy vroeër van Abraham ontvang het nie. Lot se huwelik en sy besluit om Sodom sy tuiste PeP 148.4
te maak, was die eerste skakels in ‘n reeks gebeure, belaai met onheil vir die wêreld vir baie geslagte lank. PeP 149.1
Niemand wat God vrees, kan hom sonder gevaar met iemand in die huwelik verbind wat Hom nie vrees nie. “Sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het?” (Amos 3:3). Die geluk en voorspoed van die huwelik hang van die eensgesindheid van die betrokkenes af; maar tussen die gelowige en die ongelowige is daar ‘n radikale verskil van smaak, neigings en oogmerke. Hulle dien twee here tussen wie daar geen ooreenkoms kan wees nie. Al is ‘n mens se beginsels ook hoe rein en korrek, die invloed van ‘n ongelowige metgesel sal neig om hom weg te lei van God. PeP 149.2
Hy wat in die huwelik getree het terwyl hy onbekeerd was, word deur sy bekering, onder ‘n sterker verpligting geplaas om getrou aan sy metgesel te wees, hoe hulle ook mag verskil ten opsigte van godsdienstige geloof; tog moet die eise van God voorkeur geniet bo elke aardse verhouding, selfs al is beproewinge en vervolging die gevolg. Met ‘n gees van liefde en sagmoedigheid, mag dit ‘n invloed hê om die ongelowige oor te wen. Maar die huwelik van Christene met ongelowiges word in die Bybel verbied. Die Here se leiding is: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie.” (2 Korinthiërs 6:14,17,18). PeP 149.3
Isak was hoogs geëerd deur God om die erfgenaam van die beloftes waardeur die wêreld geseën sou word, gemaak te word; tog, toe hy veertig jaar oud was, het hy hom aan die oordeel van sy vader onderwerp en toegelaat dat hy sy ervare, godvresende dienskneg aanstel om vir hom ‘n vrou te kies. En die gevolg van daardie huwelik, soos in die Skrifte opgeteken, was daardie huwelik ‘n teer en pragtige voorbeeld van huislike geluk. “Isak het haar in die tent van sy moeder Sara ingebring en Rebekka geneem en sy het sy vrou geword; en hy het haar liefgehad. So is Isak dan getroos na die dood van sy moeder. ” PeP 149.4
Wat ‘n kontras tussen die rigting wat Isak ingeslaan het en dit wat deur die jeug van ons tyd gevolg word, selfs tussen beweerde Christene! Jongmense voel alte dikwels dat dit hulle eie saak is aan wie hulle hul liefde gee, ‘n saak waaroor nie God of hulle ouers, enigsins beheer oor moet hê nie. Lank voordat hulle volwassenheid bereik het, meen hulle al dat hulle in staat is om self, sonder hulle ouers se bystand, ‘n keuse te maak. ‘n PeP 149.5
Paar jaar van die huwelikslewe is gewoonlik genoeg om hulle te laat besef dat hulle ‘n fout begaan het, maar dan is dit dikwels te laat om die noodlottige gevolge te keer. Want dieselfde gebrek aan wysheid en selfbeheersing wat hulle so haastig laat kies het, word toegelaat om die onheil te vererger, totdat die huweliksverhouding ‘n skawende juk word. So het baie reeds hulle geluk in hierdie lewe en hulle hoop op die lewe hierna, verongeluk. PeP 150.1
As daar een onderwerp is wat versigtig oorweeg moet word en waarvoor die raad van ouer en meer ervare mense gesoek moet word, is dit die onderwerp van die huwelik; as die Bybel ooit as raadsman nodig was, as die leiding van God ooit in gebed gesoek moet word, dan is dit voordat jy die stap neem wat twee mense lewenslank met mekaar verbind. PeP 150.2
Ouers moet nooit hulle verantwoordelikheid ten opsigte van die toekomstige geluk van hulle kinders uit die oog verloor nie. Isak se respek vir sy vader se oordeel, was die gevolg van die opvoeding wat hom geleer het om ‘n lewe van gehoorsaamheid te handhaaf. Terwyl Abraham van sy kinders verwag het om ouerlike gesag te respekteer, het sy daaglikse lewe getoon dat dit nie ‘n selfsugtige of willekeurige gesag was nie, maar was in liefde gegrond en het hulle welsyn en geluk in sig gehad. PeP 150.3
Vaders en moeders moet besef dat dit hulle plig is om die jongmense se liefde te rig, sodat hulle dit aan diegene gee wat geskikte metgeselle sal wees. Hulle moet besef dat dit hulle plig is, om deur hulle eie lering en voorbeeld en met behulp van die genade van God, hulle kinders se karakters in die vroegste jare so te vorm, dat hulle rein en edel sal wees en aangetrek sal word tot dit wat goed en reg is. Soort soek soort; soort waardeer soort. Laat die liefde vir waarheid, reinheid en deug reeds vroeg in die siel ingeplant word en die jongmense sal die geselskap van diegene soek wat dieselfde eienskappe besit. PeP 150.4
Ouers moet strewe, in hulle eie karakter en hul huislike lewe, om die liefde en liefdadigheid van die hemelse Vader uit te beeld. Laat die huisgesin vol sonskyn wees. Dit sal vir u kinders van veel meer waarde as plase of geld wees. Laat die liefde van die huisgesin in hulle harte voortleef sodat hulle aan hulle ouerhuise kan terugdink, naas die hemel, as ‘n plek van vrede en geluk. Die lede van die huisgesin het nie almal dieselfde PeP 150.5
karaktereienskappe nie en daar sal dikwels tye wees wanneer geduld en verdraagsaamheid beoefen moet word, maar deur liefde en selfbeheersing kan almal as ‘n hegte eenheid saamgebind word. PeP 151.1
Ware liefde is ‘n hoë en heilige beginsel, heeltemal anders in karakter as daardie liefde wat impulsief aangewakker word en wat skielik wegsterf wanneer dit beproef word. Dit is pligsgetrouheid in die ouerhuis wat die jeug voorberei vir huise van hul eie. Laat hulle hier selfverloëning toepas en vriendelikheid, hoflikheid en Christelike medelye uitoefen. Hierdie liefde sal warm in die hart bewaar word en iemand wat uit so ‘n huis uitgaan om aan die hoof van sy eie gesin te staan, sal weet hoe om die geluk van haar wat hy as lewensmaat gekies het, te bevorder. Dan sal die huwelik, in stede van die einde van liefde, slegs die begin daarvan wees. PeP 151.2