Patriarge en Profete

16/75

Hoofstuk 14—Vernietiging van Sodom

(Hierdie hoofstuk berus op Genesis 19) PeP 130.1

Die mooiste stad in die Jordaanvallei was Sodom, geleë op ‘n vlakte wat soos “die tuin van die Here” in vrugbaarheid en prag was. Hier het die weelderige tropiese plantegroei gebloei. Dit was die tuiste van die palmboom, die olyf en die wynstok; en blomme het hulle geur regdeur die jaar versprei. Ryk oeste het die landerye bedek en kleinvee en kuddes het die omliggende heuwels oordek. Kuns en die handel het bygedra om die trotse stad te verryk. Die skatte van die Ooste het die paleise versier en die karavane van die woestyn het hulle kosbare voorrade gebring om aan die handelsmarkte te voorsien. Sonder om te hard te werk of arbei, kon daar in elke behoefte van die lewe voorsien word en die hele jaar het geblyk een groot feestelikheid te wees. PeP 130.2

Die oorvloed wat oral geheers het, het geboorte geskenk aan weelderigheid en trots. Ledigheid en rykdom verhard die hart wat nooit deur gebrek onderdruk is, of die las van verdriet ervaar het nie. Die liefde vir genot is deur welvaart en ledigheid bevorder en die mense het hulself oorgegee aan wellustige genot. “Kyk...” sê die profeet, “...dit was die ongeregtigheid van jou suster Sodom: In trotsheid, oorvloed van brood en sorgelose rus het sy en haar dogters geleef, maar sy het die hand van die arme en behoeftige nie versterk nie. En toe hulle hoogmoedig was en gruwelikheid voor my aangesig bedryf het, het Ek, toe Ek dit sien, hulle weggeruim.” (Esegiël 16:49,50). Daar is niks wat mense meer begeer as rykdom en ledigheid nie en tog het dit geboorte geskenk aan die sondes wat die verwoesting van die stede van die vlakte tot gevolg gehad het. Hulle nuttelose, ledige lewe het hulle ‘n prooi van Satan se versoekings gemaak en hulle het die beeld van God geskaad en satanies in stede van Godvresend geword. Ledigheid is die grootste vloek wat ‘n mens kan tref, want onsedelikheid en misdadigheid volg in die voetspore daarvan. Dit verswak die verstand, verwring die begrip en takel die siel af. Satan lê en wag, gereed om diegene wie se waaksaamheid verslap het en wie se ledigheid aan hom PeP 130.3

die geleentheid skenk om homself op ‘n aantreklike wyse by hulle in te dring, te vernietig. PeP 131.1

In Sodom was daar vrolikheid en losbandigheid, feestelikheid en dronkenskap. Vrye teuels is aan die veragtelikste en mees brutale hartstogte gegee. Die mense het God en Sy wet openlik getart en hulle in gewelddadigheid verlustig. PeP 131.2

Alhoewel hulle die voorbeeld van die antediluviaanse wêreld voor hulle gehad het en geweet het dat die wraak van God in hulle vernietiging geopenbaar was, het hulle dieselfde roete van boosheid gevolg. PeP 131.3

Toe Lot na Sodom verhuis het, was die sedelike agteruitgang nog nie universeel nie en God, in Sy genade, het toegelaat dat strale van lig deur die morele donkerte skyn. Toe Abraham die gevangenes van die Elamiete gered het, is die mense se aandag op die ware geloof gevestig. Abraham was geen vreemdeling vir die inwoners van Sodom nie en sy aanbidding van die onsienlike God was ‘n onderwerp van bespotting onder hulle, maar sy oorwinning oor veel sterker magte en sy edelmoedige ingesteldheid teenoor die gevangenes en die buit, het hulle bewondering afgedwing. Terwyl sy bekwaamheid en dapperheid geprys is, kon niemand wegkom van die oortuiging dat ‘n Goddelike Mag aan hom die oorwinning gegee het nie. En sy edel en onselfsugtige gees, so vreemd vir die selfsugtige inwoners van Sodom, was ‘n verdere bewys van die voortreflikheid van die geloof wat hy deur sy dapperheid en trou vereer het. PeP 131.4

Toe Melgisedek ‘n seën oor Abraham uitgespreek het, het hy Jehova erken as die bron van sy krag en die Outeur van die oorwinning. Hy het gesê: “Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde. En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het.” (Genesis 14:19, 20). Deur Sy voorsienigheid het God met daardie mense gespreek, maar die laaste ligstraal is, net soos die eerste, verwerp. PeP 131.5

En nou het Sodom se laaste nag nader gekom. Die wolke van wraak het reeds oor die gedoemde stad saamgepak. Maar die mense het dit nie besef nie. Terwyl die engele van verderf PeP 131.6

nader gekom het, het mense van voorspoed en plesier gedroom. Die laaste dag was soos elke ander dag wat gekom en gegaan het. Die nag het op ‘n toneel van bekoring en sekuriteit neergedaal. ‘n Landskap van onoortreflike skoonheid het in die strale van die ondergaande son gebaai. Die koelte van die aand het die stadsbewoners na buite gelok en die plesier-soekende skare het heen en weer beweeg, versot op die plesier van die oomblik. PeP 132.1

In die skemeraand het twee vreemdelinge die stadspoort genader. Hulle was oënskynlik reisigers wat ingekom het om daar te oornag. Niemand kon in die nederige voetgangers die magtige gesante van die oordeel van God bespeur nie en min het die vrolike, sorgvrye skare gedroom dat hulle behandeling van die hemelse boodskappers daardie nag, die toppunt van die skuld wat die trotse stad sou verdoem, sou bereik. Maar daar was een man wat die vreemdelinge vriendelik behandel en na sy huis genooi het. Lot was onbewus van hulle ware aard, maar hoflikheid en gasvryheid was ‘n gewoonte by hom; dit was deel van sy godsdiens, lesse wat hy uit die voorbeeld van Abraham geleer het. Indien hy nie ‘n gees van hoflikheid gekweek het nie, sou hy moontlik oorgelaat gewees het om saam met die res van Sodom te vergaan. Menige huisgesinne het, deur hul deur vir ‘n vreemdeling te sluit, God se boodskapper uitgesluit, wat moontlik seën en hoop en vrede sou gebring het. PeP 132.2

Elke lewensdaad, hoe klein ook al, het sy uitwerking ten goede of ten kwade. Getrouheid of nalatigheid in wat skynbaar as die geringste plig beskou word, mag die deur vir die lewe se rykste seëninge, of sy grootste rampe open. Dit is die klein dingetjies wat die karakter toets. Dit is die beskeie optredes van daaglikse selfverloëning wat met ‘n blymoedige en gewillige hart gepaard gaan, wat God behaag. Ons moet nie slegs vir onsself leef nie, maar vir andere. En dit is net deur onbaatsugtigheid, deur ‘n liefdevolle, behulpsame gees te koester, dat ons ons lewe tot seën kan maak. Die klein bedagsaamhede, die klein, eenvoudige hoflikhede, dra veel by tot die somtotaal van lewensvreugde en die verwaarlosing hiervan, dra by tot ‘n groot deel van menslike ellende. PeP 132.3

Aangesien Lot geweet het aan watter mishandeling vreemdelinge in Sodom blootgestel was, het Lot hom daartoe verplig gevoel om hulle by hulle aankoms te beskerm deur hulle PeP 132.4

in sy eie huis te onthaal. Hy het by die stadspoort gesit toe die vreemdelinge aankom en toe hy hulle sien, staan hy op en buig hoflik en sê: “Kyk tog, my here, draai tog uit na die huis van u dienaar en bly die nag oor.” Hulle het gemaak asof hulle sy gasvryheid van die hand wys deur te sê: “Nee, ons sal op die plein vernag.” Hiermee het hulle ‘n tweeledige doel gehad, naamlik om Lot se opregtheid op die proef te stel en ook om die indruk te skep dat hulle niks van die gemeenheid van die inwoners van Sodom geweet het nie, asof hulle gedink het dit sou veilig wees om die nag op die plein deur te bring. Hulle antwoord het Lot net meer vasberade gemaak om hulle nie aan die genade van die gepeupel oor te laat nie. Hy het aangedring totdat hulle sy uitnodiging aangeneem en na sy huis gegaan het. PeP 133.1

Hy het gehoop om sy voorneme vir die leeglêers by die poort weg te steek, deur die vreemdelinge met ‘n ompad na sy huis te neem, maar hulle aarseling en getalm en sy aandrang het die aandag van die omstanders getrek en voordat hulle die nag tot rus kon kom, het ‘n wettelose skare sy huis omsingel. Daar was ‘n groot skare; van die jongste tot die oudste is deur die onsedelikste hartstogte aangevuur. Die vreemdelinge het Lot reeds ondervra oor die aard van die stedelinge en Lot het hulle gewaarsku om dit nie in die nag buite sy deur te waag nie, toe die gejou en geroep van die skare hoorbaar word. Die mense het geëis dat die manne na hulle toe uitgebring moes word. PeP 133.2

Omdat hy geweet het hoe maklik hulle by sy huis kon inbreek indien hulle tot geweld aangehits word, het Lot uitgegaan om met die mense te probeer redeneer. “My broers,” het hy gesê, “moet tog nie kwaad doen nie.” Hy het hulle “broers” genoem in die sin dat hulle sy bure is en gehoop om hulle tot bedaring te bring en skaam te maak oor hulle slegte voornemens. Maar sy woorde was soos olie op die vlamme. Hulle woede het soos die dreuning van ‘n storm opgeklink. Hulle het geskimp dat Lot hom as regter oor hulle wou aanstel en gedreig om hom erger te behandel as wat hulle plan met sy gaste was. Hulle het hom bestorm en sou hom uitmekaar verskeur het as die engele van God hom nie gered het nie. Die hemelse boodskappers het “...hulle hand uitgesteek en Lot by hulle in die huis gebring en die deur toegesluit.” Die gebeure daarna, het die aard van die gaste wat hy onthaal het, geopenbaar. “Toe slaan hulle die manne wat by die ingang van die huis was, klein en groot, met PeP 133.3

blindheid, sodat hulle tevergeefs na die ingang gesoek het.” As hulle nie met ‘n dubbele blindheid geslaan was deur hulle aan die hardheid van hulle harte oor te gee nie, sou die besoeking van God hulle laat vrees het en sou hulle hul kwade bedoelings laat vaar het. Op daardie laaste nag het hulle nie groter sondes gepleeg as voorheen nie, maar die genade wat hulle so lank versmaai het, het uiteindelik opgehou om by hulle te pleit. Die Sodomiete het die perke van Goddelike verdraagsaamheid, “...die verborge grenslyn tussen God se verdraagsaamheid en Sy toorn...” oorskrei. Die vuur van Sy wraak was op die punt om in die laagte van Sodom te ontvlam. PeP 134.1

Die engele het die doel van hulle besoek aan Lot bekend gemaak: “Ons gaan hierdie plek verwoes, omdat die geroep oor hulle groot is voor die aangesig van die Here en die Here het ons gestuur om dit te verwoes.” Die vreemdelinge wat Lot gepoog het om te beskerm, het nou beloof om hom te beskerm en om ook al die lede van sy gesin, wat saam met hom uit die goddelose stad sou vlug, te red. Die gepeupel het hulleself uitgeput en het vertrek en Lot het uitgegaan om sy kinders te waarsku. Hy het die woorde van die engele herhaal: “Maak julle klaar, gaan uit hierdie plek uit, want die Here gaan die stad verwoes.” Maar in hulle oë was hy soos iemand wat gekskeer. Hulle het gelag oor wat hulle sy bygelowige vrees genoem het. Sy dogters het hulle deur hul eggenote laat beïnvloed. Hulle was veilig waar hulle was. Hulle kon geen teken van gevaar sien nie. Alles was net soos voorheen. Hulle het baie besittings gehad en kon nie glo dat die pragtige Sodom verwoes sou word nie. PeP 134.2

Lot is bedroef terug na sy huis om van sy mislukte poging te vertel. Toe beveel die engele hom om op te staan en sy vrou en die twee dogters wat nog by hom ingewoon het, te neem en die stad te verlaat. Maar Lot het steeds getalm. Hoewel hy hom elke dag bekommer het oor die dade van geweld wat hy moes aanskou, het hy geen ware begrip gehad van die verval en gruwelike boosheid wat in daardie veragtelike stad bedryf is nie. Hy het nie die groot noodsaaklikheid vir God se oordele om ‘n einde aan sonde te maak, besef nie. Sommige van sy kinders het aan Sodom vasgeklou en sy vrou het geweier om sonder hulle te vertrek. Die gedagte dat hy hulle, wat vir hom die dierbaarste op aarde was moes agterlaat, was vir hom te veel. Dit was moeilik om sy weelderige huis en al die rykdom wat hy PeP 134.3

versamel het, te versaak en as brandarm swerweling weg te gaan. Verdwaas deur verdriet was hy traag om weg te gaan. Sonder die engele van God, sou hulle in die vernietiging van Sodom omgekom het. Die hemelse boodskappers het hom en sy vrou en sy dogters aan die hand geneem en hulle uit die stad uitgelei. PeP 135.1

Hier het die engele hulle verlaat en na Sodom teruggekeer om hulle vernietigingswerk te verrig. ‘n Ander, Hy by wie Abraham gepleit het, het Lot genader. In al die stede van die vlaktes is nie eens tien regverdige mense gevind nie, maar in antwoord op die patriarg se gebed, is die een man wat God gevrees het, uit die vernietiging weggeraap. Met skokkende nadruk het die bevel gekom: “Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie en moenie êrens in die Jordaanstreek bly staan nie. Vlug na die gebergte, dat jy nie omkom nie!” Aarseling of vertraging sou nou noodlottig wees. Om nog een verlangende blik op die gedoemde stad te werp, om nog een oomblik met spyt om so ‘n mooi huis te verlaat, te vertoef, sou hulle lewens gekos het. Die storm van Oordeel van God is net teruggehou sodat hierdie arme vlugtelinge kon wegkom. PeP 135.2

Maar Lot, verward en verskrik, het gesmeek dat hy nie die bevel kon uitvoer nie, vir ingeval een of ander kwaad hom sou tref sodat hy sterf. As gevolg van sy verblyf in daardie bose stad, te midde van ongeloof, het sy geloof verswak. Die Vors van die hemel was aan sy sy en tog het hy om sy lewe gepleit asof God, wat reeds soveel sorg en liefde aan hom betoon het, hom nie sou bewaar nie. Hy moes homself volkome aan die boodskapper van God toevertrou het en sy wil en lewe sonder enige twyfel of vrae in die Here se hande oorgegee het. Maar soos soveel ander, het hy probeer om sy eie planne te beraam. “Kyk tog, hierdie stad is naby om daarheen te vlug-is dit nie klein nie?-dat ek kan lewe!” Die stad waarna hier verwys word was Bela wat later Soar genoem is. Dit was net ‘n paar kilometer van Sodom af en was net so korrup en tot verwoesting gedoem. Maar Lot het versoek dat dit gespaar mag word en aangedring dat dit ‘n geringe versoek was; en sy versoek is toegestaan. Die Here het hom verseker: “Ek neem jou ook in hierdie saak in guns aan, sodat Ek die stad waarvan jy gespreek het, nie sal omkeer nie.” O, hoe groot die genade van God teenoor Sy dwalende skepsele! PeP 135.3

Opnuut is hulle plegtig beveel om hulle te haas, want die woede van die storm sou vir slegs ‘n kort rukkie uitgestel word. Maar een van die vlugtelinge het dit gewaag om ‘n terugblik op die gedoemde stad te werp en sy het ‘n gedenkteken van God se oordeel geword. Indien Lot nie getalm het om die waarskuwing van die engele te gehoorsaam nie, maar in alle erns na die berge gevlug het sonder ‘n woord van smeking of protes, sou sy vrou ook ontvlug het. Die invloed van sy voorbeeld sou haar gered het van die sonde wat haar lot beslis het. Maar sy aarseling en vertraging het veroorsaak dat sy die waarskuwing van God ligtelik opgeneem het. Ofskoon sy fisies op die vlakte was, het haar hart nog aan Sodom bly kleef en sy het saam met die stad omgekom. Sy het in opstand teen God gekom omdat Sy oordele haar besittings en haar kinders vernietig het. Alhoewel God haar begenadig het deur haar uit die goddelose stad uit te roep, het sy gevoel dat daar streng teenoor haar opgetree is, omdat sy die rykdom wat oor soveel jare versamel is, in die stad moes agterlaat om vernietig te word. In stede van met dankbaarheid die verlossing te aanvaar, het sy met vermetelheid teruggekyk om die lewe van hulle wat die waarskuwing van God verwerp het, te begeer. Haar sonde het bewys dat sy onwaardig was om te lewe, vir die behoud waarvan sy so min dankbaarheid betoon het. PeP 136.1

Ons moet waak daarteen om ligtelik te handel met die voorsiening wat God vir ons verlossing gemaak het. Daar is Christene wat sê: “Ek wil nie gered word tensy my eggenote en kinders saam met my gered word nie.” Hulle voel dat die hemel nie vir hulle hemel sal wees sonder die teenwoordigheid van diegene wat vir hulle so dierbaar is nie. Maar het diegene wat hierdie gevoel koester, die regte begrip van hulle eie verhouding met God, met die oog op Sy groot liefdadigheid en genade teenoor hulle? Het hulle vergeet dat hulle met die sterkste bande van liefde, eer en getrouheid gebind is aan die diens van hulle Skepper en Verlosser? Die aanbod van genade word aan almal gebied; sal ons ook wegdraai omdat ons vriende die pleitende liefde van die Verlosser verwerp? Die verlossing van die siel is kosbaar. Christus het ‘n onberekenbare prys vir ons verlossing betaal en niemand wat die waarde van hierdie groot opoffering of die waarde van ‘n siel besef, sal die aangebode genade van God verwerp omdat ander verkies om dit te doen nie. Juis die feit dat ander Sy regverdige eise versmaai, behoort ons tot PeP 136.2

groter ywer aan te spoor, sodat ons God self kan vereer en almal wat onder ons invloed kom, kan beïnvloed om Sy liefde aan te neem. PeP 137.1

“Die son het oor die aarde opgegaan toe Lot in Soar aankom.” Die helder strale van die oggend het geblyk net voorspoed en vrede te verkondig oor die stede van die vlakte. Daar het lewe in die strate begin kom; mense het in hulle verskeie rigtings gegaan, ingestel op die sake of plesier van die dag. Lot se skoonseuns het gelag oor die vrese en waarskuwings van die swaksinnige ou man. So skielik en onverwags soos ‘n donderslag uit ‘n onbewolkte lug het die storm losgebars. Die Here het swael en vuur uit die hemel oor die stede van die vrugbare vlakte laat neerkom; sy paleise, tempels, duur wonings, tuine en wingerde en die vrolike, plesier-soekende skare wat die boodskappers van die hemel net die vorige aand beledig het, is almal verteer. Die rook van die verwoestende brand het soos die rook van ‘n groot smeltkroes opgestyg. En die skone dal van Siddim het ‘n woesteny geword, ‘n plek wat nooit weer opgebou of bewoon sou word nie; ‘n getuienis aan alle geslagte van die beslistheid van God se oordele oor die oortreding. PeP 137.2

Die vlamme wat die stede van die vlakte verteer het, straal steeds, ook in ons tyd, hul waarskuwende gloed uit. Dit leer ons die verskriklike en plegtige les dat, hoewel God lankmoedig jeens die sondaar is, daar perke is wat niemand in sy sonde mag oorskrei nie. Wanneer hierdie perke bereik word, word die aanbod van genade teruggetrek en die voltrekking van die oordeel begin. PeP 137.3

Die Verlosser van die wêreld verkondig dat daar groter sondes is as die sondes waaroor Sodom en Gomorra vernietig is. Diegene wat die evangelie-uitnodiging wat sondaars tot bekering roep hoor en dit verontagsaam, is meer skuldig voor God as die bewoners van die laagte van Siddim. En nog groter is die sonde van diegene wat beweer dat hulle God ken en Sy gebooie gehoorsaam, maar wat Christus in hulle karakter en in hulle daaglikse wandel, verloën. In die lig van die Verlosser se waarskuwing is die lot van Sodom ‘n plegtige vermaning, nie slegs vir diegene wat aan sonde skuldig is nie, maar ook vir almal wat die lig en die voorregte van die Hemel minag. PeP 137.4

Aan die gemeente in Éfese het die waaragtige Getuie gesê: “Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Openbaring 2:4,5). Die Verlosser sien uit na ‘n reaksie op Sy aanbod van liefde en vergifnis, met meer deernis as wat die hart van ‘n aardse ouer beweeg om sy dwarstrekkerige, lydende seun te vergewe. Hy roep na die afgedwaalde: “Keer terug na My en Ek wil na julle terugkeer.” (Maleagi 3:7). Maar as die een wat dwaal hardnekkig weier om gehoor te gee aan die Stem wat hom met ontfermende, tere liefde roep, sal hy eindelik in duisternis gelaat word. Die hart wat vir lank die genade van God geminag het, word verhard deur sonde en is nie langer vatbaar vir die invloed van die genade van God nie. Skrikwekkend is die onheil van die siel van wie die pleitende Verlosser eindelik sal verklaar: hy “...is gekoppel aan die afgode: laat hom staan!” (Hosea 4:17). In die oordeelsdag sal dit vir die stede van die vlakte verdraagsamer wees as vir hulle wat die liefde van Christus geken het en nogtans weggedraai het om die genietinge van ‘n sondige wêreld te kies. PeP 138.1

Jy wat die aanbiedinge van genade minag, dink aan die somtotaal wat teen jou tel in die boeke van die hemel, want daar word rekord gehou van die goddelooshede van nasies en families, en individue. God is lankmoedig terwyl die rekening oploop en oproepe tot bekering, asook aanbiedinge van vergifnis mag gegee word; maar die tyd sal aanbreek wanneer die rekening vol is; wanneer die siel se besluit geneem is; wanneer, deur sy eie keuse, die mens se lot verseël sal wees. Dan word die teken vir die voltrekking van die vonnis gegee. PeP 138.2

Daar is rede tot kommer oor die toestand van die hedendaagse godsdienstige wêreld. God se genade word ligtelike opgeneem. Die menigtes maak die wet van God kragteloos “...deur leringe te leer wat gebooie van mense is.” (Mattheus 15:9). Ongeloof heers in baie van die kerke van ons land; nie ongeloof in die breedste sin van die woord, ‘n openlike ontkenning van die Bybel nie, maar ‘n ongeloof wat geklee is met die gewaad van Christelikheid, terwyl dit die Bybel as openbaring van God ondermyn. Ernstige toewyding en lewensbelangrike vroomheid het plek gemaak vir ‘n leë PeP 138.3

vormgodsdiens. Gevolglik heers daar afvalligheid en sinlikheid. Jesus het verklaar: “Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot ... net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word.” (Lukas 17:28-30). Die daaglikse rekord van verbygaande gebeure getuig van die vervulling van Sy woorde. Die wêreld is vinnig besig om ryp te word vir vernietiging. Binnekort sal die oordele van God uitgestort word en sonde en sondaars sal verdelg word. PeP 139.1

Ons Verlosser het gesê: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ‘n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.” (Lukas 17:34-36). PeP 139.2

Voor die vernietiging van Sodom het God aan Lot ‘n boodskap gestuur: “Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie en moenie êrens in die Jordaanstreek bly staan nie. Vlug na die gebergte dat jy nie omkom nie!” Dieselfde waarskuwende boodskap is deur die dissipels van Christus gehoor voor die verwoesting van Jerusalem: “Wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug.” (Lukas 21:20,21). Hulle moes nie vertoef om iets uit hulle besittings te red nie, maar moes die meeste van die geleentheid maak om te ontvlug. PeP 139.3

Daar was ‘n uittrede, ‘n besliste skeiding van die goddelose, ‘n vlug vir lewe. So was dit in die dae van Noag; so met Lot; so met die dissipels voor die verwoesting van Jerusalem; en so sal dit in die laaste dae wees. Die Stem van God word weer gehoor in ‘n boodskap van waarskuwing, wat sy volk gebied om hulself af te sonder van die heersende goddeloosheid. PeP 139.4

Die toestand van korrupsie en afvalligheid wat in die laaste dae in die godsdienstige wêreld sal bestaan, is aan die profeet Johannes geopenbaar in die gesig oor Babilon “...die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde.” (Openbaring 17:18). Voordat dit verwoes word, sal daar uit die hemel ‘n roepstem gehoor word: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van PeP 139.5

haar plae ontvang nie.” (Openbaring 18:4). Soos in die dae van Noag en van Lot moet daar ‘n kenmerkende skeiding tussen sonde en sondaars wees. Daar kan geen kompromie tussen God en die wêreld wees nie, geen terugdraai om aardse skatte te beveilig nie. “JuIle kan nie God én Mammon dien nie.” (Mattheus 6:24). PeP 140.1

Net soos die bewoners van die laagte van Siddim, droom die mense van voorspoed en vrede. “Vlug vir jou lewe!” is die waarskuwing van die engele van God; maar ander stemme word gehoor wat sê: “Moenie op loop gaan nie; daar is geen rede vir ontsteltenis nie.” Die menigtes skreeu: “Vrede en veiligheid,” terwyl die Hemel verklaar dat ‘n haastige verderf die oortreder sal oorval. Op die nag voor hulle verwoesting het die stede van die vlakte hulle aan losbandige vermaak oorgegee en hulle het met die vrese en waarskuwings van die gesant van God gespot; maar daardie spotters het in die vlamme omgekom; daardie selfde nag is die genadedeur vir ewig teen die goddelose, sorgelose bewoners van Sodom gesluit. God sal Hom nie altyd laat bespot nie; Hy laat Hom nie altyd minag nie. “Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ‘n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg.” (Jesaja 13:9). Die oorgrote meerderheid sal die genade van God verwerp en sal deur haastige, onherroeplike ondergang oorval word. Maar die wat aan die waarskuwing gehoor gee, sal “...in die skuilplek van die Allerhoogste sit” en “...in die skaduwee van die Almagtige vernag.” Sy waarheid sal hulle skild en pantser wees. Vir hulle is die belofte: “Met lengte van dae sal Ek hom versadig en Ek sal hom my heil laat sien.” (Psalm 91:1,4,16). PeP 140.2

Lot het slegs vir ‘n kort tydperk in Soar gewoon. Daar het die goddeloosheid, net soos in Sodom, geheers en hy het gevrees om daar te bly, vir ingeval die stad ook verwoes word. Kort daarna is Soar verwoes soos wat God beplan het. Lot het na die berge gevlug en in ‘n grot gaan woon, ontneem van alles waarvoor hy sy huisgesin aan die invloede van ‘n bose stad blootgestel het. Maar die vloek van Sodom het hom selfs hier agtervolg. Die sondige gedrag van sy dogters was die gevolg van die bose verbintenisse met daardie veragtelike plek. Die morele korrupsie was so diep in hulle karakters ingewortel dat hulle nie kwaad van goed kon onderskei nie. Lot se enigste PeP 140.3

nakomelinge, die Moabiete en Ammoniete, was veragtelike, afgodiese stamme, rebelle teen God en bittere vyande van Sy volk. PeP 141.1

Hoe groot was die kontras tussen die lewe van Abraham en dié van Lot! Daar was ‘n tyd toe hulle metgeselle was wat by een altaar aanbid en sy aan sy in hulle pelgrimstente gewoon het; maar hoe wyd was hulle nou van mekaar verwyder! Lot het Sodom vir sy plesier en voorspoed gekies. Deur Abraham se altaar en die daaglikse offer aan die lewende God te verlaat, het hy toegelaat dat sy kinders met ‘n korrupte en afgodiese volk meng; tog het hy die vrees van God in sy hart bewaar, want in die Skrifte word hy verklaar as “n “regverdige” man; sy regverdige siel was gekwel deur die veragtelike gesprekke wat hy daagliks moes aanhoor en oor die geweld en misdadigheid wat hy magteloos was om te keer. Hy is eindelik gered soos “...“n brandhout wat uit die vuur geruk is” (Sagaria 3:2), maar tog was hy gestroop van sy besittings; van sy vrou en kinders beroof; woonagtig in grotte soos die wilde diere; eerloos op sy ouderdom; en hy het nie aan die wêreld ‘n nageslag van regverdige mense gelaat nie, maar twee afgodiese nasies, in stryd met God en met Sy volk, totdat hulle beker van ongeregtigheid gevul was en hulle vir verwoesting bestem is. Hoe verskriklik was die gevolge wat op een dwase stap gevolg het! PeP 141.2

Die wyse man het gesê: “Vermoei jou nie om ryk te word nie, laat staan jou slimheid.” “Wie onregverdige wins maak, bring sy huis in beroering; maar hy wat geskenke haat, sal lewe.” (Spreuke 23:4;15:27). En die apostel Paulus verklaar: “Die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang.” (1 Timotheus 6:9). PeP 141.3

Toe Lot na Sodom getrek het, was dit wel met die voorneme om van sonde af weg te bly en om sy huis na hom te beveel. Maar hy het hopeloos misluk. Die verderflike invloede rondom hom het ‘n uitwerking op sy geloof gehad en sy kinders se verbintenis met die inwoners van Sodom het sy belange tot ‘n mate met hulle s'n verbind. Die gevolge is voor ons. PeP 141.4

Baie begaan steeds dieselfde fout. Wanneer hulle ‘n woning uitsoek, skenk hulle meer aandag aan die tydelike voordele wat PeP 141.5

hulle daaruit kan put, as aan die morele en sosiale invloede wat hulle en hulle gesinne sal omring. Hulle kies ‘n mooi, vrugbare land of verhuis na ‘n florerende stad, met die hoop om groter voorspoed vir hulself te verseker; maar hulle kinders word omring met versoekings en menigmaal vorm hulle verbintenisse wat ongunstig vir die ontwikkeling van godvrugtigheid en ‘n voorbeeldige karakter is. Die atmosfeer van lakse moraliteit, of ongeloof, van onverskilligheid ten opsigte van godsdienstige sake, het ‘n neiging om die invloed van die ouers teen te werk. Voorbeelde van rebellie teen ouerlike gesag en die gesag van God staar hulle voortdurend in die gesig; baie vorm verbintenisse met ongelowiges en skaar hulle by die vyande van God. PeP 142.1

Wanneer ons ‘n woning uitsoek, is dit God se wil dat ons eerstens die morele en godsdienstige invloede waarmee ons omring sal word, in aanmerking moet neem. Ons kan in moeilike situasies beland, want baie kan nie hulle omgewing na willekeur uitsoek nie; en wanneer plig ons roep, sal God ons, as ons met geloof in die genade van Christus waak en bid, in staat stel om onbevlek te bly staan. Maar ons moet onsself nie onnodiglik aan invloede wat ongunstig vir die ontwikkeling van ‘n Christelike karakter is blootstel nie. Wanneer ons ons vrywilliglik in ‘n omgewing van wêreldgesindheid en ongeloof vestig, mishaag ons God en verdryf ons die engele uit ons huise. PeP 142.2

Diegene wat vir hulle kinders, ten koste van hulle ewige belange, wêreldse rykdom en aansien verwerf, sal eindelik ontdek dat hierdie voordele ‘n verskriklike verlies is. Soos Lot, sien baie hoe hulle kinders tot niet gaan en kan skaars hul eie siele red. Hulle lewenstaak is verlore; hulle lewe is ‘n droewige mislukking. Indien hulle ware wysheid aan die dag gelê het, sou hulle kinders moontlik minder wêreldse voorspoed gehad het, maar hulle sou hul aanspraak op die onverganklike erfnis verseker het. PeP 142.3

Die erfnis wat God aan Sy volk beloof het, is nie in hierdie wêreld nie. Abraham het geen grond besit nie, “...selfs nie ‘n voetbreed nie.” (Handelinge 7:5). Hy was baie vermoënd en het dit tot eer van God en tot voordeel van sy medemense aangewend; maar hy het hierdie wêreld nie as sy tuisland beskou nie. Die Here het hom geroep om sy afgodiese PeP 142.4

landgenote te verlaat, met die belofte dat hy die land Kanaan as ewige besitting sou erf; tog het nie hy, nóg sy seun, nóg sy kleinseun, dit ontvang nie. Toe Abraham ‘n graf gesoek het om sy dode te begrawe, moes hy dit van die Kanaaniete koop. Sy enigste besitting in die Beloofde Land was die graf wat uit die rots in die spelonk van Magpela gekap was. PeP 143.1

Maar die woord van God het nie gefaal nie; dit is ook nie verwesenlik toe die Joodse volk Kanaan betrek het nie. “Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad.” (Galasiërs 3:16). Abraham moes self in die erfnis deel. Die vervulling van God se beloftes mag geblyk het lank uitgestel te, wees, want “...een dag is by die Here soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.” (2 Petrus 3:8); dit mag miskien geblyk het asof dit talm; maar op die bestemde tyd sou dit sekerlik kom “...en nie versuim nie.” (Habakuk 2:3). Die geskenk aan Abraham en sy saad het nie slegs Kanaan ingesluit nie, maar die hele aarde. So sê die apostel: “Die belofte dat hy ‘n erfgenaam van die wêreld sou wees, het Abraham of sy nageslag nie deur die wet verkry nie, maar deur die geregtigheid van die geloof.” (Romeine 4:13). En die Bybel leer duidelik dat die beloftes wat aan Abraham gemaak is, deur Christus vervul sal word. Almal wat aan Christus behoort, is “...die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename...” erfgename van “...'n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis...” naamlik die aarde nadat dit van die vloek van die sonde bevry is. (Galasiërs 3:29; 1 Petrus 1:4). Want “...die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel [word] gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste...” en “Die ootmoediges sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.” (Daniël 7:27; Psalm 37:11). PeP 143.2

God het Abraham hierdie onverganklike erfnis laat sien en met hierdie hoop was hy tevrede. “Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ‘n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.” (Hebreërs 11:9,10). PeP 143.3

Aangaande die nakomelinge van Abraham staan daar geskryf: “In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die PeP 143.4

beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet en bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.” (vers 13). Ons moet hier as vreemdelinge en bywoners leef as ons ‘n beter land, “...dit is ‘n hemelse...” wil beërwe. (vers 16). Die kinders van Abraham sal dieselfde stad verwag as hy, een “...waarvan God die boumeester en oprigter is.” PeP 144.1