Patriarge en Profete
Hoofstuk 13—Die Toets van Geloof
(Hierdie hoofstuk berus op Genesis 16;17:18-20;21:1-14; 22:1-19) PeP 120.1
Abraham het die belofte dat hy ‘n seun sou hê onvoorwaardelik aanvaar, maar hy het nie op God gewag om Sy woord op Sy eie tyd te vervul nie. ‘n Vertraging is toegelaat om sy geloof in die mag van God te toets, maar hy het nie die proeftydperk geslaag nie. Omdat sy gedink het dat dit onmoontlik vir iemand van haar ouderdom was om ‘n kind te baar, het Sara ‘n plan voorgestel waardeur die plan van God, volgens haar mening verwesenlik kon word, naamlik dat Abraham een van haar slavinne as sekondêre vrou moes neem. Veelwywery het so algemeen geraak, dat dit nie meer as sonde beskou is nie, maar dit was geensins minder van ‘n oortreding van die wet van God nie en noodlottig vir die heiligheid en vrede van die gesinsverhouding. Abraham se huwelik met Hagar het kwaad tot gevolg gehad, nie net vir sy eie huisgesin nie, maar ook vir toekomstige geslagte. PeP 120.2
Gevlei deur die eer van haar nuwe stand as Abraham se vrou en met die verwagting dat sy die moeder sou word van die groot volk wat van hom sou afstam, het Hagar hoogmoedig en vermakerig geword en haar meesteres met minagting bejeën. Wedersydse jaloesie het die vrede van die voorheen gelukkige huisgesin versteur. Abraham is gedwing om na albei te luister en het tevergeefs gepoog om die vrede te herstel. Hoewel hy op Sara se ernstige aandrang met Hagar getrou het, het sy hom nou verwyt asof dit sy skuld was. Sy wou haar mededingster verban, maar Abraham het geweier om dit toe te laat, want Hagar sou die moeder van sy kind, die seun van die belofte, soos hy liefdevol gehoop het, word. Sy was egter Sara se slavin en hy het haar aan haar meesteres oorgelaat. Hagar se hoogmoed het haar nie toegelaat om die strengheid wat haar astrantheid uitgelok het, te aanvaar nie. “Toe het Saraï haar sleg behandel en sy het van haar af weggevlug.” PeP 120.3
Sy het na die woestyn toe gevlug en terwyl sy eensaam en vriendeloos by ‘n fontein gerus het, het daar ‘n engel van die Here in menslike gedaante aan haar verskyn. Hy het haar PeP 120.4
aangespreek as: “Hagar, slavin van Saraï”, om haar aan haar stand en haar plig te herinner en haar beveel: “Gaan terug na jou meesteres en verneder jou onder haar hande.” By die bestraffing het sy egter ook vertroosting ontvang: “Die Here het jou in jou ellende verhoor.” “Ek sal jou nageslag grootliks vermeerder, sodat dit vanweë die menigte nie getel kan word nie.” En as ‘n voortdurende herinnering aan Sy genade, het Hy haar gelas om haar kind Ismael, “God sal hoor,” te noem. PeP 121.1
Toe Abraham al byna honderd jaar oud was, is die belofte van ‘n seun aan hom herhaal, met die versekering dat die toekomstige erfgenaam Sara se kind sou wees. Maar Abraham het die belofte nog nie verstaan nie. Hy het onmiddellik aan Ismael gedink en aan die geloof vasgehou dat die genadige wil van God deur hom volvoer sou word. In sy liefde vir sy seun het hy uitgeroep: “Ag, mag Ismael lewe voor u aangesig!” Toe is die belofte, met woorde wat nie misverstaan kon word nie, herhaal: “Voorwaar, jou vrou Sara sal vir jou ‘n seun baar en jy moet hom Isak noem; en Ek sal my verbond met hom oprig.” Tog het God die gebed van die vader nie verontagsaam nie: “Wat Ismael aangaan...” het Hy gesê, “...het Ek jou verhoor. Kyk, Ek seën hom ... en Ek sal hom ‘n groot nasie maak. ” PeP 121.2
Die geboorte van Isak, nadat hulle ‘n leeftyd vir die vervulling van hul drome gewag het, het die tente van Abraham en Sara met blydskap gevul. Vir Hagar was hierdie gebeurtenis egter die omverwerping van haar lank gekoesterde ambisie. Ismael, wat nou ‘n jongeling was, is deur almal in die laer as die erfgenaam van Abraham se rykdom en die seëninge wat aan sy nageslag beloof is, aanvaar. Nou is hy eensklaps ter syde gestel; en in hulle teleurstelling het moeder en seun Sara se kind gehaat. Die algemene vreugde het hulle jaloesie laat toeneem, totdat Ismael dit gewaag het om die erfgenaam van God openlik uit te tart. In Ismael se onstuimige geaardheid het Sara ‘n bron van voortdurende onmin gesien en sy het by Abraham aangedring dat Hagar en Ismael uit die laer verban word. Dit het die patriarg groot verleentheid besorg. Hoe kon hy Ismael, sy seun wat hy steeds baie liefgehad het, uit die kamp verban? In sy radeloosheid het hy om Goddelike wysheid gepleit. Deur ‘n heilige engel het die Here hom gelas om aan Sara se eise te voldoen; sy liefde vir Ismael, of vir Hagar, mag nie in die pad staan nie, want dit was al manier om die vrede en geluk van sy PeP 121.3
gesin te herstel. En die engel het hom die vertroostende belofte gegee dat hoewel Ismael weg van die huis van sy vader was, God hom nie sou verlaat nie. Sy lewe sou gespaar word en hy sou die vader van ‘n groot nasie word. Abraham het die engel se bevel gehoorsaam, maar nie sonder diepe smart nie. Die vader se hart was swaar van onuitgesproke droefheid toe hy Hagar en sy seun wegstuur. PeP 122.1
Die opdrag aan Abraham aangaande die heiligheid van die huwelik moes ‘n les vir alle eeue wees. Dit verkondig dat daar versigtig oor die regte en geluk van hierdie verhouding gewaak moet word, selfs as dit groot opoffering verg. Sara was Abraham se enigste ware vrou. Niemand anders was geregtig op ‘n aandeel van haar regte as vrou en moeder nie. Sy was onderdanig aan haar man en as gevolg van hierdie deug word sy in die Nuwe Testament as ‘n waardige voorbeeld gestel. Maar sy was nie gewillig dat Abraham ‘n ander naas haar moes liefhê nie en die Here het haar nie bestraf omdat sy geëis het dat haar mededingster verban word nie. Abraham en Sara het albei aan die krag van God getwyfel en hierdie fout het die huwelik met Hagar tot gevolg gehad. PeP 122.2
God het Abraham geroep om ‘n vader van die gelowiges te wees en sy lewe moes ‘n voorbeeld van geloof vir toekomstige geslagte wees. Maar sy geloof was egter nog nie volmaak nie. Hy het wantroue in God verraai toe hy die feit verberg het dat Sara sy vrou was en ook deur sy huwelik met Hagar. Sodat hy die hoogste standaard kon bereik, het God hom aan ‘n verdere toets onderwerp, die swaarste wat nog ooit van ‘n mens gevra is om te deurstaan. In ‘n naggesig is hy beveel om na die land Moria te gaan en sy seun op ‘n berg, wat aan hom uitgewys sou word, as brandoffer te bring. PeP 122.3
Abraham was honderd-en-twintig jaar oud toe hy hierdie bevel van God ontvang het. Hy was, selfs in sy generasie, as ‘n ou man beskou. In sy jonger jare was hy sterk om moeilikhede te verduur en dapper in gevaar, maar nou was die krag van sy jeug verby. Iemand in die lewenskrag van manlikheid mag dalk die moed hê om moeilikhede en ellende, wat in sy latere jare sy hart sal laat beswyk en sy voete na die graf toe laat struikel, die hoof te bied. Maar God het Sy laaste, grootste beproewing PeP 122.4
teruggehou totdat die las van jare swaar op hom gerus en hy verlang het om te rus van angs en moeite. PeP 123.1
Die patriarg het in Berséba, omring met voorspoed en eer gewoon. Hy was baie welgesteld en die heersers in die land het hom as magtige vors geëer. Duisende skape en beeste was oor die vlaktes wat buite sy laer gestrek het, versprei. Aan alle kante was die tente van sy volgelinge, die wonings van honderde getroue diensknegte. Die seun van die belofte het aan sy sy gegroei tot manlikheid. Dit het geblyk asof die hemel ‘n lewe van opoffering deur geduldige volharding en uitgestelde hoop met seën bekroon het. PeP 123.2
In gelowige gehoorsaamheid het Abraham sy geboorteland verlaat-weggedraai van die grafte van sy vaders en die woonplek van sy familie. Hy het as vreemdeling in die land van sy erfenis gedwaal. Hy het lank vir die geboorte van die beloofde erfgenaam gewag. Op bevel van God het hy sy seun Ismael weggestuur. En noudat die kind wat hy so lank begeer het ‘n man geword het en dit geblyk het dat die patriarg die vervulling van sy verwagtinge kon sien, was ‘n beproewing, erger as alle ander voor hom. PeP 123.3
Die bevel was uitgespreek in woorde wat die vader se hart met foltering moes deurboor het: “Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak ... en offer hom daar as brandoffer.” Isak was die ligpunt van sy huisgesin, die troos vir sy oudag en bo alles die erfgenaam van die beloofde seën. Die verlies van so ‘n seun as gevolg van ‘n ongeluk of siekte, sou hartverskeurend vir die liefdevolle vader gewees het; dit sou sy gryskop met droefheid neergebuig het; maar is hy beveel om die bloed van daardie seun met sy eie hand te vergiet. Dit het vir hom na ‘n skrikwekkende onmoontlikheid gelyk. PeP 123.4
Satan het bygestaan en voorgestel dat hy mislei is, want die Wet van God beveel: “Jy mag nie doodslaan nie...” en God sou nie iets vereis wat Hy voorheen verbied het nie. Abraham het na buite gegaan en na die kalme helderheid van die wolkelose hemel opgekyk en die belofte wat amper vyftig jaar gelede gemaak is, dat sy saad so talryk soos die sterre sou wees, in herinnering geroep. As daardie belofte deur Isak vervul moes word, hoe kon hy gedood word? Abraham was geneig om te glo dat hy onder ‘n wanindruk verkeer. In sy twyfel en angs het hy PeP 123.5
op die aarde neergebuig en gebid soos nooit tevore, vir een of ander bevestiging van die bevel indien hy wel hierdie verskriklike plig moes uitvoer. Hy het onthou van die engele wat na hom gestuur is om God se voorneme om Sodom te vernietig aan hom te openbaar en wat aan hom die belofte van hierdie selfde seun, Isak, gebring het en hy het na die plek gegaan waar hy verskeie kere tevore die hemelse boodskappers ontmoet het, met die hoop om hulle weer raak te loop en verdere leiding te verkry; maar niemand het tot sy redding gekom nie. Dit was asof hy deur duisternis omsluit was; maar die bevel van God het steeds in sy ore geklink: “Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak...” Die bevel moes gehoorsaam word en hy kon nie waag om langer te talm nie. Die daglig het aangebreek en hy moes op sy reis vertrek. PeP 124.1
Hy is terug na sy tent waar Isak nog die onbekommerde slaap van jeug en onskuld geslaap het. Vir ‘n oomblik het die vader na die dierbare gesig van sy seun gekyk en toe bewend weggedraai. Hy het na Sara wat nog geslaap het gegaan. Moes hy haar wakker maak om haar seun vir die laaste keer te omhels? Moes hy haar van God se versoek vertel? Hy het verlang om sy hart teenoor haar uit te stort en die verskriklike verantwoordelikheid met haar te deel; maar hy is teruggehou deur die vrees dat sy hom moontlik sou verhinder. Isak was haar vreugde en trots; haar lewe was in hom opgeneem en die moederliefde mag dalk weier om die opoffering te maak. PeP 124.2
Eindelik het Abraham sy seun geroep en hom vertel van die bevel om op ‘n verafgeleë berg te gaan offer. Isak het dikwels saam met sy vader gaan aanbid by een van die verskeie altare wat sy omswerwinge gekenmerk het en die opdrag het hom nie verbaas nie. Die voorbereidsels vir die reis is spoedig afgehandel. Die hout is in gereedheid gebring en op ‘n esel gelaai en vergesel van twee diensknegte is hulle daar weg. PeP 124.3
Sy aan sy het die vader en die seun in stilte voort gereis. Die patriarg wat oor sy swaar geheim nagedink het, het nie ‘n hart vir woorde gehad nie. Sy gedagtes was by die trotse, liefdevolle moeder en die dag wanneer hy alleen na haar sou terugkeer. Hy het goed geweet dat ‘n mes haar hart sou deurdring wanneer die lewe van haar seun geneem is. PeP 124.4
Daardie dag, die langste wat Abraham ooit beleef het, het traag tot ‘n einde gekom. Terwyl sy seun en die jongmanne geslaap het, het hy die nag in gebed deurgebring, steeds met die hoop dat ‘n hemelse boodskapper sou kom sê dat hy genoegsaam beproef was, sodat die jongeling ongedeerd na sy moeder kon terugkeer. Maar daar was geen vertroosting vir sy gefolterde gemoed nie. Nog ‘n lang dag, nog ‘n nag van verootmoediging en gebed en gedurig het die bevel wat hom kinderloos sou maak in sy ore geklink. Satan was byderhand om twyfel en ongeloof in sy ore te fluister, maar Abraham het hom daarteen verset. Toe hulle op die punt was om die reis vir die derde dag te begin, het die patriarg, terwyl hy noordwaarts kyk, die beloofde sein, ‘n wolk van heerlikheid wat oor Berg Moria gehang het, gesien en hy het geweet dat die Stem wat met hom gespreek het, van die hemel af gekom het. PeP 125.1
Selfs nou het hy nie teen God gemurmureer nie, maar sy siel versterk deur aan die bewyse van die goedheid en trou van die Here te dink. Hierdie seun was onverwags gegee; en het Hy, wat die kosbare geskenk gegee het, nie die reg gehad om wat aan Hom behoort terug te neem nie? Toe het geloof die belofte herhaal: “Deur Isak sal daar vir jou ‘n nageslag genoem word...” -'n nageslag so talloos soos die sandkorrels op die strand. Isak was die kind van ‘n wonderwerk en kon die Krag wat aan hom die lewe geskenk het, dan nie die lewe in hom herstel nie? Abraham het by die sigbare verbygekyk en aan die Goddelike Woord vasgegryp: “...want hy het gereken dat God mag het om hom selfs uit die dode op te wek.” (Hebreërs 11:18). PeP 125.2
Maar niemand, behalwe God, het besef hoe groot die offer van die vader was, om sy seun aan die dood oor te gee nie; Abraham wou hê niemand behalwe God moes die afskeidstoneel aanskou nie. Hy het die diensknegte beveel om agter te bly en het bygevoeg: “Ek en die seun wil daarheen gaan om te aanbid en sal dan na julle terugkom.” Die hout is op Isak, die een wat geoffer moes word, gelê. Die vader het die mes en die vuur geneem en saam het hulle na die kruin van die berg opgeklim en die seun het heimlik gewonder waar hulle so ver van die krale en kuddes ‘n offerlam sou kry. Uiteindelik het hy sy vader aangespreek: “My vader...,” “...hier is die vuur en die hout, maar waar is die lam vir ‘n brandoffer?” O wat ‘n beproewing! Hoe het die liefkosende woorde “my vader” Abraham se hart PeP 125.3
deurboor! Nie nou nie-hy kon hom nie nou al vertel nie. Daarom het hy geantwoord: “God sal vir Homself die lam vir ‘n brandoffer voorsien, my seun.” PeP 126.1
Op die aangewese plek het hulle die altaar gebou en die hout daarop gelê. Toe, met ‘n bewende stem, het Abraham die Goddelike boodskap aan sy seun ontvou. Verskrik en verbaas het Isak sy lotsbestemming aangehoor, maar hy het geen weerstand gebied nie. Hy kon sy lot maklik ontvlug het, as hy wou; die bedroefde, ou man, uitgeput na die worsteling van die verskriklike drie dae, sou nie die besluit van die energieke jong man kon teengaan nie. Maar Isak is van kindsbeen af geleer om onmiddellik te vertrou en te gehoorsaam en namate die plan van God aan hom verduidelik is, het hy gewilliglik ingestem. Hy het in Abraham se geloof gedeel en hy het dit as ‘n eer beskou dat hy gevra is om sy lewe as offer aan God te gee. Tederlik het hy gepoog om sy vader se droefheid te versag en die senuweeagtige hande te versterk om hom aan die altaar vas te bind. PeP 126.2
Eindelik is die laaste liefdeswoorde gespreek, die laaste trane gestort en die laaste omhelsing gegee. Die vader lig die mes om sy seun te slag en skielik word sy arm teruggehou. ‘n Engel van God roep uit die hemel tot die patriarg: “Abraham, Abraham!” en hy antwoord haastig: “Hier is ek!” En weer kom die stem uit die hemel: “Moenie jou hand na die seun uitsteek nie en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.” PeP 126.3
Toe sien Abraham “...“n ram wat agter in die bos met sy horings vasgeraak het.” Haastig het hy die nuwe offer gebring “...en dit as brandoffer in die plek van sy seun...” aangebied. In sy vreugde en dankbaarheid het Abraham aan die heilige plek ‘n nuwe naam gegee: “Jehova-jire” “Die Here sal voorsien.” PeP 126.4
Op die berg Moria het God weer Sy verbond hernu en met ‘n plegtige eed die seën aan Abraham se saad deur al die toekomstige nageslagte bevestig: “Ek sweer by Myself, spreek die Here, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poorte PeP 126.5
van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.” PeP 127.1
Abraham se groot geloofsdaad staan soos ‘n ligbaken wat die weg van al God se diensknegte in die daaropvolgende eeue verlig. Abraham het nie probeer om homself te verskoon van die wil van God nie. Gedurende daardie drie dae het hy genoeg tyd gehad om te dink en om aan God te twyfel, indien hy daartoe geneig was. Hy kon geredeneer het dat die aanslag op sy seun se lewe aanleiding sou gee dat mense hom vir ‘n moordenaar, ‘n tweede Kain, sou aansien; dat dit sou veroorsaak dat sy onderrig verwerp en verag word en so sy mag om goed aan sy medemens te doen, sou vernietig. Hy kon aangevoer het dat sy ouderdom hom van gehoorsaamheid behoort vry te stel. Maar die patriarg het nie agter enige van hierdie verskonings geskuil nie. Abraham was ‘n mens; sy hartstogte en geneenthede was soos ons s'n; maar hy het nie gevra hoe die belofte vervul sou word indien Isak sterf nie. Hy het nie gebly om met sy bloeiende hart te redeneer nie. Hy het geweet dat God reg en regverdig in al Sy vereistes is en hy het die bevel tot op die letter gehoorsaam. PeP 127.2
“Abraham het God geglo en dit is hom tot geregtigheid gereken en hy is ‘n vriend van God genoem.” (Jakobus 2:23). En Paulus verklaar: “Die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham” (Galasiërs 3:7). Maar Abraham se geloof is deur sy werke geopenbaar. “Is Abraham, ons vader, nie uit die werke geregverdig toe hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het nie? Sien jy dat die geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome geword het uit die werke?” (Jakobus 2:21,22). Daar is baie mense wat die verhouding tussen geloof en werke nie verstaan nie. Hulle sê: “Glo net in Christus en jy is veilig. Jy hoef nie die wet te hou nie.” Maar egte geloof word in gehoorsaamheid geopenbaar. Christus het aan die ongelowige Jode gesê: “As julle die kinders van Abraham was, sou julle die werke van Abraham doen.” (Johannes 8:39). En aangaande die vader van die gelowiges het God self verklaar dat: “Abraham na My stem geluister en My ordeninge, My gebooie, My insettinge en My wette onderhou het.” (Genesis 26:5). Die apostel Jakobus sê: “Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.” (Jakobus 2:17). En Johannes wat so breedvoerig op die PeP 127.3
liefde ingaan, vertel ons: “Dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar.” (Johannes 5:3). PeP 128.1
Deur middel van tipe en belofte, het God “...vooraf aan Abraham die evangelie verkondig.” (Galasiërs 3:8). En die geloof van die patriarg was op die Verlosser wat sou kom gevestig. Aan die Jode het Christus gesê: “Abraham, julle vader, het hom verheug dat hy my dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly.” (Johannes 8:56). Die ram wat in Isak se plek geoffer was, het die Seun van God, wat in ons plek geoffer is, verteenwoordig. Toe die mens, as gevolg van sy oortreding van die wet van God tot die dood veroordeel is, het die Vader Sy Seun aanskou en aan die sondaar gesê: “Leef; Ek het ‘n losser gevind.” PeP 128.2
Dit was om Abraham se verstand met die werklikheid van die evangelie te beïndruk, asook om sy geloof te toets, dat God hom beveel het om sy seun te offer. Die foltering wat hy gedurende die donker dae van sy verskriklike beproewing verduur het, is toegelaat sodat hy, uit eie ervaring, iets van die grootheid van die offer deur die oneindige God vir die mens se verlossing kon leer. Geen ander beproewing kon vir Abraham soveel sielefoltering veroorsaak het as om sy seun te offer nie. God het Sy Seun aan ‘n dood van foltering en skande oorgegee. Die engele wat die vernedering en sielsangs van die Seun van God aanskou het, is nie toegelaat om tussenbeide te tree, soos in die geval van Isak nie. Daar was geen stem om uit te roep: “Dit is genoeg!” nie. Om die gevalle mensdom te red, het die Koning van die heerlikheid Sy lewe opgeoffer. Watter sterker blyk van die oneindige ontferming en liefde van God kan gegee word? “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Romeine 8:32). PeP 128.3
Die opoffering wat van Abraham vereis is, was nie net tot sy eie voordeel nie, ook nie alleenlik tot die voordeel van die daaropvolgende geslagte nie; maar dit was ook tot lering van die sondelose intelligensies van die hemel en ander wêrelde. Die gebied waar die stryd tussen Christus en die Satan plaasvind-die slagveld waarop die verlossingsplan beslis word-is vir die heelal ‘n lesboek. Omdat Abraham gebrek aan geloof in die beloftes van God aan die dag gelê het, het Satan hom by PeP 128.4
die engele en by God aangekla dat hy nie die voorwaardes van die verbond nagekom het nie en die seëninge daarvan nie waardig was nie. God het begeer om die getrouheid van Sy dienskneg voor die ganse hemel te bewys, om te demonstreer dat niks minder as volkome gehoorsaamheid aanvaarbaar is nie en om meer volledig die verlossingsplan aan hulle te openbaar. PeP 129.1
Hemelse wesens was getuies van die toneel toe die geloof van Abraham en die onderwerping van Isak op die proef gestel is. Die toets was baie strawwer as waaraan Adam onderhewig was. Gehoorsaamheid aan die verbod wat op stamouers geplaas is, het geen lyding geverg nie, maar die bevel wat aan Abraham gegee is, het die smartlikste opoffering geëis. Die ganse hemel het Abraham se onwankelbare gehoorsaamheid met verbasing en bewondering aanskou. Die ganse hemel het sy trou toegejuig. Satan se aanklagte is as vals bewys. God het aan Sy dienskneg gesê: “Nou weet Ek dat jy God vrees ondanks die Satan se aanklag en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.” Die verbond wat God in die teenwoordigheid van die hemelse wesens deur ‘n eed met Abraham gesluit het, het getuig dat gehoorsaamheid beloon word. PeP 129.2
Selfs die engele het die verborgenheid van die verlossing moeilik begryp; om te verstaan hoekom die Bevelvoerder van die hemel, die Seun van God, vir die skuldige mensdom moes sterf. Toe Abraham die bevel ontvang om sy seun te offer, is die belangstelling van alle hemelse wesens opgewek. Met intense erns het hulle elke stap in die vervulling van die bevel aanskou. Toe Isak vra: “Waar is die lam vir ‘n brandoffer?” en Abraham antwoord: “God sal vir Homself die lam vir ‘n brandoffer voorsien;” en toe Abraham gekeer is toe hy die hand aan sy seun se lewe wou slaan en die ram wat God voorsien het in Isak se plek geoffer is, toe gaan daar ‘n lig oor die verborgenheid van die verlossing op, sodat selfs die engele ‘n beter begrip van die wonderlike voorsiening wat God gemaak het vir die verlossing van die mensdom gehad het. (l Petrus 1:12). PeP 129.3