Patriarge en Profete
Hoofstuk 12—Abraham in Kanaan
(Hierdie hoofstuk berus op Genesis 13 tot 15;17:1-16;18) PeP 105.1
Abraham was “baie ryk aan vee, aan silwer en goud” en het na Kanaan teruggekeer. Lot was nog by hom en hulle het weer op Bet-El aangekom en hulle tente by die altaar wat hulle voorheen daar gebou het opgeslaan. Hulle het spoedig ontdek dat vermeerdering van goedere ook vermeerdering van ellende meebring. Te midde van teëspoed en beproewings het hulle in vrede saamgeleef, maar nou het daar, in hulle voorspoed, die gevaar ontstaan dat daar onenigheid tussen hulle kon kom. Daar was nie genoeg weiding vir albei se kuddes nie en die eienaars moes dikwels geskille tussen hulle onderskeie veewagters besleg. Dit was duidelik dat hulle moes skei. Abraham was ouer as Lot en sy senior in verhoudings, rykdom en posisie; tog was hy eerste om planne om die vrede te bewaar voor te stel. Hoewel God die hele land aan hom gegee het, het hy met beskeidenheid van hierdie reg afgesien. PeP 105.2
Hy het gesê: “Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou en tussen my wagters en jou wagters nie; ons is mos broers. Lê die hele land nie voor jou oop nie? Skei jou tog van my af; gaan jy links, dan sal ek regs gaan en gaan jy regs, dan sal ek links gaan. ” PeP 105.3
Hierin is die onselfsugtige gees van Abraham weerspieël. Hoeveel ander, onder dieselfde omstandighede sou, ten koste van alles, aan hulle onderskeie regte en voorkeure vasgeklou het! Hoeveel huisgesinne is op hierdie wyse uitmekaar geskeur! Hoeveel gemeentes is verdeel sodat die saak van waarheid ‘n spreekwoord en ‘n skande onder die goddeloses geword het! Abraham het gesê: “Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou nie; ons is mos broers;” nie net in die vlees nie, maar as aanbidders van die ware God. Regdeur die wêreld is die kinders van God een gesin en dieselfde gees van liefde en versoening behoort in hulle te heers. “Wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning.” (Romeine 12:10); dit is die leer van ons Verlosser. Die kweek van ooreenkomstige hoflikheid, ‘n gewillige gees om aan ander te doen soos wat jy graag wil hê hulle aan jou moet PeP 105.4
doen, sal die helfte van die euwels van die lewe uitwis. Die gees van selfverheffing is die gees van Satan; maar die hart waarin die liefde van Christus gekoester word, sal daardie liefde wat nie sy eie belang soek nie, besit. Sulkes sal gehoorsaam aan die Goddelike vermaning wees: “Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s'n.” (Filippense 2 :4). PeP 106.1
Hoewel Lot sy voorspoed aan sy omgang met Abraham te danke gehad het, het hy geen dankbaarheid teenoor sy weldoener betoon nie. Beleefdheidshalwe moes hy die keuse aan Abraham oorgelaat het, maar in stede daarvan het hy met selfsug die voordele vir homself toegeëien. “Toe slaan Lot sy oë op en sien dat die hele Jordaanstreek oral volop water het; ... in die rigting van Soar soos die tuin van die Here, soos Egipteland.” Die vrugbaarste deel van die hele Palestina was in die Jordaanvallei, wat diegene wat dit aanskou het, herinner het aan die verlore Paradys en dit vergelyk het met die skoonheid en produktiwiteit van die Nyl-verrykte vlaktes, wat hulle so onlangs verlaat het. Daar was ook stede, ryk en aanskoulik, wat voordelige handel na hulle oorvol markte gelok het. Verblind deur die vooruitsigte van wêreldse wins, het Lot die morele en geestelike euwels wat hy daar sou teëkom nie raakgesien nie. Die bewoners van die vlakte was “...sleg en groot sondaars voor die Here;” maar hiervan was hy nie bewus nie, of, indien hy dit wel geweet het, het hy geen gewig daaraan verleen nie. Hy het “...vir hom die hele Jordaanstreek gekies en sy tente tot by Sodom opgeslaan.” Hoe min kon hy die skrikwekkende gevolge van daardie selfsugtige keuse voorsien! PeP 106.2
Nadat Lot van hom geskei het, het Abraham opnuut van die Here die belofte van die hele land ontvang. Kort daarna het hy na Hebron verhuis en sy tente onder die terpentynbome van Mamre opgeslaan; en daar het hy vir die Here ‘n altaar gebou. In die vars lug van die hoë vlaktes, te midde van hulle olyfboorde en wingerde, omring deur golwende graanlande en die uitgestrekte weivelde van die omliggende heuwels het hy gewoon, tevrede met die eenvoudige patriargale lewe en Lot oorgelaat aan die gevaarlike weelde van die dal van Sodom. PeP 106.3
Abraham is deur die naburige nasies as ‘n magtige vors en ‘n wyse en bekwame leier vereer. Hy het nie sy invloed vir sy bure verberg nie. Sy lewe en sy karakter wat so merkbaar van die PeP 106.4
afgodsdienaars verskil het, het ‘n groot invloed ten gunste van die ware geloof gehad. Sy trou aan God was onwankelbaar, terwyl sy minsaamheid en liefdadigheid vertroue en vriendskap ingeboesem het en sy ongekunstelde edelmoedigheid het respek en agting afgedwing. PeP 107.1
Hy het nie sy godsdiens bewaar asof dit ‘n kosbare kleinood was wat net deur die besitter geniet mag word nie. Ware godsdiens kan nie op hierdie manier bewaar word nie, want so ‘n gees is teenstrydig met die beginsels van die evangelie. Terwyl Christus in die hart woon, is dit onmoontlik om die lig van Sy teenwoordigheid te verberg, of vir daardie lig om te verflou. Inteendeel, dit sal helderder skyn namate die newels van selfsug en sonde wat die siel omvou, dag vir dag deur die helder strale van die Son van Geregtigheid verdryf word. PeP 107.2
Die kinders van God is Sy verteenwoordigers op aarde en dit is Sy wil dat hulle skynende ligte te midde van die morele duisternis van hierdie wêreld moet wees. Oral op die platteland, in dorpe en stede moet hulle Sy getuies wees, die kanale waardeur Hy aan ‘n ongelowige wêreld die kennis van Sy wil en die wonders van Sy genade sal openbaar. Dit is Sy plan dat almal wat deel in die groot verlossingsplan, sendelinge vir hom sal wees. Die vroomheid van die Christen is die maatstaf waaraan die wêreld die evangelie meet. Die beproewings wat hulle met lankmoedigheid verdra, seëninge wat hulle met dankbaarheid aanvaar, sagmoedigheid, liefdadigheid, genade en liefde wat te alle tye sigbaar is, is die ligte wat voor die wêreld uit die karakter straal, wat die kontras met die duisternis wat uit ‘n selfsugtige hart kom, openbaar. PeP 107.3
Abraham was ryk in geloof, edelmoedig in sy weldade, onfeilbaar in gehoorsaamheid en nederig in die eenvoud van sy pelgrimslewe. Abraham was ook ‘n wyse staatsman en ‘n dapper, bekwame krygsman. Ondanks die feit dat hy bekend was as die verkondiger van ‘n nuwe godsdiens, het drie koninklike broers, heersers van die Amoritiese vlaktes waar hy gewoon het, hulle vriendskap betoon deur hom te nooi om met hulle ‘n bondgenootskap te sluit om hulle veiligheid te verseker, want die land was vol geweld en verdrukking. Die geleentheid het hom spoedig voorgedoen dat hy gebruik van hierdie bondgenootskap sou maak. PeP 107.4
Veertien jaar tevore het Kedor-Laomer Kanaan ingeval en dit onderdanig aan hom gemaak. ‘n Aantal van die vorste het opstandig geword en die koning van Elam, met vier bondgenote, het die gebied weer binnegeval om hulle tot oorgawe te dwing. Vyf konings van Kanaan het hulle by hulle aangesluit en die aanvallers in die laagte van Siddim aangedurf, maar is verslaan. ‘n Groot gedeelte van die leër is vernietig en die wat ontvlug het, het na veiligheid gevlug en in die berge gaan skuil. Die oorwinnaars het die stede van die vlakte geplunder en het met ‘n groot buit en baie gevangenes, onder andere Lot en sy gesin, vertrek. PeP 108.1
Abraham, wat in vrede by die terpentynbome van Mamre gewoon het, het by een van die vlugtelinge die verhaal van die geveg en die ramp wat sy broerskind oorval het gehoor. Hy het geen wrok in sy hart oor Lot se ondankbaarheid gekoester nie. Al sy liefde vir hom het opgevlam en hy het hom voorgeneem om hom te red. Abraham het God heel eerste geraadpleeg en hom toe vir oorlog gereed gemaak. Uit sy eie laer het hy driehonderd-en-agtien opgeleide diensknegte, manne wat in die vrees van God, in die diens van hulle heer en in die krygskuns opgelei was, byeengeroep. Sy bondgenote, Mamre, Eskol en Aner, het met hulle manskappe by hom aangesluit en saam het hulle die aanvallers agtervolg. Die Elamiete en hulle bondgenote het by Dan, aan die noordelike grens van Kanaan, laer opgeslaan. In die roes van hulle oorwinning en omdat hulle geen aanval van hulle oorwonne vyande verwag het nie, het hulle hul aan brassery oorgegee. Die patriarg het sy troepe verdeel sodat hulle die laer uit verskillende rigtings genader en in die nag daar aangekom het. Sy aanval was so hewig en onverwags dat hulle ‘n spoedige oorwinning behaal het. Die koning van Elam is gedood en sy vreesbevange troepe is verslaan. Lot en sy gesin en al die ander gevangenes en hulle besittings is gered en ‘n ryk buit het in die hande van die oorwinnaars geval. Aan Abraham, onder leiding van God, was die oorwinning toegeskryf. Die aanbidder van Jehova het die land nie net ‘n groot diens bewys nie, maar hy het ook bewys dat hy ‘n dapper man was. Daar is gesien dat geregtigheid nie lafhartigheid is nie en dat Abraham se godsdiens hom dapper gemaak het om die reg te handhaaf en die verdrukte te verdedig. Sy heldedaad het vir hom ‘n wydverspreide invloed onder die omliggende stamme verwerf. PeP 108.2
Op sy terugtog het die koning van Sodom met ‘n groot gevolg uitgekom om hulde aan die oorwinnaar te bring. Hy het gesê Abraham moet die buit hou, maar versoek dat die gevangenes vrygestel word. Volgens oorlogsgebruik, het die buit die oorwinnaars toegekom; maar Abraham het die ekspedisie nie onderneem met die oog op wins nie en hy het geweier om voordeel ten koste van die ongelukkiges te trek en net gestipuleer dat sy bondgenote die deel waarop hulle geregtig is moet ontvang. PeP 109.1
Daar is min mense wat onder soortgelyke omstandighede so edelmoedig soos Abraham sou gewees het. Min sou die versoeking weerstaan het om so ‘n groot buit te besit. Sy voorbeeld is ‘n bestraffing vir selfsug en inhaligheid. Abraham het rekening gehou met die eise van regverdigheid en menslikheid. Sy optrede illustreer die geïnspireerde grondbeginsel: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” (Levitikus 19:18). PeP 109.2
Hy het gesê: “Ek hef my hand op tot die Here, God, die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde, dat ek geen draad en geen skoenriem, ja, dat ek niks sal neem van alles wat uwe is nie, sodat u nie kan sê nie: Ek het Abram ryk gemaak...” Hy wou hulle geen aanleiding gee om te dink dat hy die oorlogvoering vir eie gewin onderneem het, of om sy voorspoed aan hulle gunste en gawes toe te skryf nie. God het beloof om Abraham te seën en aan Hom moes die eer gegee word. PeP 109.3
Nog iemand wat die seëvierende patriarg kom verwelkom het, was Melgisedek, die koning van Salem, wat brood en wyn gebring het om sy leër te verkwik. As “priester van God, die Allerhoogste,” het hy Abraham geseën en God gedank omdat Hy so ‘n groot verlossing deur Sy dienskneg bewerkstellig het en Abraham het aan hom “...die tiende van alles...” gegee. PeP 109.4
Abraham het met blydskap na sy tent en sy kuddes teruggekeer, maar verontrustende gedagtes het hom gekwel. Hy was ‘n vredeliewende man en het, sover moontlik, vyandskap en stryd vermy en het met afsku gedink aan die slagting wat hy aanskou het. Maar die nasies wat hy verslaan het, sou hulle inval op Kanaan ongetwyfeld herhaal en hulle sou hulle veral op hom wreek. Deur dus by die nasionale geskille betrokke te raak, was sy vreedsame bestaan op ‘n einde. Verder, het hy Kanaan PeP 109.5
nog nie in besit geneem nie en kon hy ook nie sy hoop plaas op ‘n erfgenaam aan wie die belofte vervul kon word nie. PeP 110.1
In ‘n naggesig het hy die Goddelike Stem weer gehoor. Die woorde van die Vors van vorste was: “Vrees nie, Abram, Ek is vir jou ‘n skild en jou loon is baie groot.” Maar sy gemoed was so ontmoedig deur voorbodes, dat hy nie die belofte soos voorheen met onvoorwaardelike vertroue kon aanvaar nie. Hy het gebid vir ‘n tasbare bewys dat dit vervul sou word. En hoe sou die verbondsbelofte vervul word, terwyl die geskenk van ‘n seun teruggehou word? Hy het gevra: “Here, wat sal U my gee, aangesien ek sonder kinders heengaan?” “So sal dan die bediende van my huis my erfgenaam wees.” Hy het hom voorgeneem om sy betroubare dienskneg, Eliëser, as seun en as erfgenaam van al sy besittings aan te neem. Maar aan hom is die versekering gegee dat ‘n kind van sy eie sy erfgenaam sou wees. Daarop is hy uit sy tent uitgelei en aangesê om op te kyk na die ontelbare sterre wat in die hemele skitter; en toe hy dit doen, hoor hy die woorde: “So sal jou nageslag wees.” “Abraham het in God geglo en dit is hom tot geregtigheid gereken.” (Romeine 4:3). PeP 110.2
Die patriarg het egter nog steeds gevra dat ‘n sigbare teken aan hom gegee word om sy geloof te bevestig en om as bewys aan sy nageslag te dien dat God Sy genadige planne vir hulle sal uitvoer. Die Here het ingewillig om met Sy dienskneg ‘n verbond aan te gaan en het van dieselfde metodes, soos wat die gebruik tussen mense vir die bekragtiging van ‘n plegtige ooreenkoms was, gebruik gemaak. Op bevel van God het Abraham ‘n vers, ‘n bokooi en ‘n ram, elk drie jaar oud, geoffer. Die offerdiere is elk middeldeur verdeel en die twee dele is ‘n entjie van mekaar neergelê. Hierby het hy ‘n tortelduif en ‘n jong duif gevoeg, wat egter nie in twee verdeel is nie. Nadat hy dit gedoen het, het hy eerbiedig tussen die dele van die offer deurgeloop en ‘n plegtige eed afgelê om God altyd te gehoorsaam. Waaksaam en standvastig het hy by die karkasse gebly totdat die son ondergegaan het, om te sorg dat dit nie deur roofvoëls besoedel of opgevreet word nie. Teen sononder het ‘n diepe slaap hom oorval “...en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval.” En die stem van God is gehoor wat hom gebied het om nie onmiddellike besit van die Beloofde Land te verwag nie en hom vooruitgewys na die lyding van sy nageslag voor PeP 110.3
hulle vestiging in Kanaan. Die verlossingsplan deur die dood van Christus, die groot Soenoffer en Sy heerlike koms is aan hom geopenbaar. Abraham het ook die aarde, in sy Eden-skoonheid herstel gesien, soos dit in die uiteindelike en volledige vervulling van die belofte as ewige besitting aan hom gegee sal word. PeP 111.1
As belofte van hierdie verbond van God met die mensdom, het ‘n rokende oond en ‘n brandende fakkel, simbole van die Teenwoordigheid van God, tussen die verdeelde offerdiere deurgegaan en hulle geheel en al verteer. En weer het Abraham ‘n stem, wat die geskenk van die land van Kanaan aan sy nageslag bevestig, gehoor: “...van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier.” PeP 111.2
Nadat Abraham byna vyf-en-twintig jaar lank in Kanaan was, het die Here aan hom verskyn en gesê: “Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees.” Met groot ontsag het die patriarg op sy aangesig neergeval en die boodskap het voortgegaan: “Kyk, my verbond is met jou en jy sal die vader van ‘n menigte van nasies word.” As waarborg dat hierdie belofte vervul sou word, is sy naam, wat voorheen Abram was, na Abraham verander; dit beteken “vader van ‘n menigte.” Saraï se naam is na Sara, naamlik “vorstin” verander, want, het die stem van God gesê: “Sy sal tot nasies word; konings van volke sal uit haar voortkom.” PeP 111.3
Hiertydens is die ritueel vir die besnydenis aan Abraham gegee “...as ‘n seël van die geregtigheid van die geloof toe hy nog nie besny was nie.” (Romeine 4:11). Dit moes deur die patriarg en sy nakomelinge onderhou word as teken dat hulle aan die diens van die Here gewy en so van afgodsdienaars afgesonder was en dat God hulle as Sy besondere besitting aangeneem het. Deur hierdie ritueel het hulle beloof om van hulle kant af die voorwaardes van die verbond wat met Abraham gesluit is, te vervul. Hulle moes nie met heidene huwelike aangaan nie, want daardeur sou hulle hul eerbied vir God en vir Sy heilige wet verloor; hulle sou in versoeking kom om deel te neem aan die sondige praktyke van ander nasies en tot afgodediens verlei word. PeP 111.4
God het groot eer aan Abraham verleen. Engele van die hemel het soos vriend met vriend met hom gewandel en PeP 111.5
gepraat. Toe die bestemde uur vir die oordeel oor Sodom aangebreek het, is dit nie van hom weerhou nie en hy het as voorspraak vir sondaars by God ingetree. Sy onderhoud met die engele is ook ‘n uitstekende voorbeeld van gasvryheid. PeP 112.1
Terwyl die patriarg op ‘n warm somersdag voor sy tent gesit en oor die landskap voor hom getuur het, het hy in die verte drie reisigers sien aankom. Voordat hulle by sy tent aangekom het, het die vreemdelinge stilgestaan asof hulle beraadslaag het oor watter pad hulle verder sou volg. Sonder om te wag dat hulle om ‘n guns vra, het Abraham vinnig opgestaan en toe dit voorkom asof hulle ‘n ander rigting wou inslaan, het hy hom agter hulle aan gehaas en met die grootste hoflikheid by hulle aangedring dat hulle hom moet eer deur in sy woning verversings te geniet. Met sy eie hande het hy water gebring sodat hulle die stof van hulle voete kon afwas. Hy het self hulle voedsel gekies en terwyl hulle in die koelte gesit het, is ‘n maal vir hulle voorberei en hy het eerbiedig bygestaan terwyl hulle sy gasvryheid geniet het. God het hierdie daad van beleefdheid belangrik genoeg geag om dit in Sy Woord aan te teken; en duisend jaar later het ‘n besielde apostel daarna verwys: “Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet engele as gaste geherberg.” (Hebreërs 13:2). PeP 112.2
Abraham het in die vreemdelinge slegs drie vermoeide reisigers gesien, sonder enige idee dat daar Een was wat hy, sonder om te sondig, kon aanbid het. Maar toe is die ware aard van die hemelse boodskappers aan hom geopenbaar. Hoewel hulle as gesante van wraak op pad was, het hulle egter eers met Abraham, die geloofsman, van seëninge gepraat. Alhoewel God streng is om sonde op te merk en oortreding te straf, verlustig Hy Hom nie in die wraak nie. Die werk van verdelging is vir Hom, wat oneindige liefde is, ‘n “vreemde werk.” PeP 112.3
“Die verborgenheid van die Here is vir die wat Hom vrees.” (Psalm 25:14). Abraham het die Here geëer en die Here het hom vereer deur met hom te beraadslaag en het Sy doelwitte aan hom geopenbaar. “Sal Ek vir Abraham verberg wat Ek gaan doen?” het die Here gesê. “Die geroep oor Sodom en Gomorra is waarlik groot en hulle sonde is waarlik baie swaar. Ek wil neerdaal en sien of hulle werklik gehandel het soos die geroep PeP 112.4
oor hulle is wat by My gekom het; en so nie, Ek wil dit weet.” Die Here het die maat van Sodom se skuld goed geken; maar Hy het soos ‘n mens gepraat sodat die regverdigheid van Sy optrede verstaan kon word. Voordat Hy die oordeel oor die oortreders sou bring, sou Hy self gaan om ondersoek na hulle gedrag in te stel; indien hulle die perke van Die genade van God nie oorskrei het nie, sou Hy steeds aan hulle ruimte vir bekering skenk. PeP 113.1
Twee van die hemelse boodskappers het vertrek en Abraham alleen met Hom, wat hy nou as die Seun van God herken het, agtergelaat. En die geloofsman het vir die inwoners van Sodom gepleit. Hy het hulle een keer met sy swaard gered, nou het hy hulle deur gebed probeer red. Lot en sy huishouding het nog daar gewoon en dieselfde onbaatsugtige liefde wat Abraham toe beweeg het om hulle van die Elamiete te red, het nou gepoog om hulle, indien dit die wil van God was, teen die storm van die Oordeel van God te red. PeP 113.2
Met diepe ontsag en nederigheid het hy gepleit: “Ek het dit gewaag om met die Here te spreek alhoewel ek stof en as is.” Daar was geen selfvertroue, geen roem oor sy eiegeregtigheid nie. Hy het nie die guns op grond van sy gehoorsaamheid of die opoffering wat hy gemaak het om die wil van God te doen geëis nie. Hy wat self ‘n sondaar was het vir sondaars gepleit. Dit is die gees wat almal moet hê wat tot God nader. Maar Abraham het die vertroue van ‘n kind wat by sy vader pleit, gemanifesteer. Hy het na aan die hemelse Boodskapper gekom en vuriglik sy versoek gerig. Ofskoon Lot ‘n inwoner van Sodom geword het, het hy hom nie aan die sonde van die Sodomiete skuldig gemaak nie. Abraham het gereken dat daar in daardie oorbevolkte stad ander aanbidders van die ware God moes wees. Daarom het hy gepleit: “Laat dit ver van U wees om so iets te doen: om die regverdige saam met die goddelose om te bring ... Laat dit ver van U wees! Sal die Regter van die ganse aarde geen reg doen nie?” Abraham het nie net een keer gepleit nie, maar talle kere. Namate daar aan sy versoeke voldoen is, het hy al vrymoediger geraak en aangehou totdat hy die versekering verkry het dat, indien daar slegs tien regverdige mense daarin gevind kon word, sou die stad gespaar word. PeP 113.3
Liefde vir sterwende sondaars het Abraham tot gebed geïnspireer. Hoewel hy die sondes van daardie verdorwe stad gehaat het, het hy nogtans begeer dat die sondaars gered moes word. Sy diepe belangstelling vir Sodom is ‘n toonbeeld van hoe bekommerd ons oor onboetvaardiges moet wees. Ons moet haat vir die sonde koester, maar deernis en liefde teenoor die sondaar betoon. Ons is omring met sondaars wat net so ‘n hopelose en vreeslike lot tegemoetgaan soos Sodom. Elke dag sluit die genadetyd vir sommige van hulle. Elke uur is daar sondaars wat buite die bereik van genade beweeg. En waar is die stemme wat waarsku en smeek dat die sondaar sy skrikwekkende lot moet ontvlug? Waar is die uitgestrekte hande wat hom van die dood moet wegruk? Waar is diegene wat nederig, gelowig en volhardend by God vir hom moet pleit? PeP 114.1
Die gees van Abraham was die gees van Christus. Die Seun van God is self die groot Bemiddelaar vir die sondaar. Hy wat self die losprys betaal het, ken die waarde van die mensesiel. Met ‘n haat vir boosheid soos wat net in ‘n vlekkelose rein natuur kan bestaan, het Christus ‘n liefde aan die sondaar openbaar wat slegs uit oneindige goedheid spruit. In die smartlike lyding van die kruisiging, het Hy Homself belas met die afskuwelike gewig van die sondes van die hele wêreld en het Hy gebid vir Sy kwaadsprekers en moordenaars: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” PeP 114.2
Van Abraham staan daar geskryf dat hy “...“n vriend van God genoem is”, “...die vader van almal wat glo.” (Jakobus 2:23; Romeine 4:11). Van hierdie getroue patriarg het God getuig dat: “Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het.” En weer: “Ek het hom verkies dat hy aan sy kinders en sy huis na hom bevel sou gee dat hulle die weg van die Here moet hou om geregtigheid en reg te doen; sodat die Here oor Abraham kan bring wat Hy oor hom gespreek het.” Dit was ‘n groot eer waartoe Abraham geroep is, om as die vader van die volk aangestel te word, wat honderde jare lank vir die wêreld die bewaarders en behoeders van die waarheid van God was; die volk deur wie die ganse aarde geseën sou word in die koms van die beloofde Messias. Maar Hy wat die patriarg geroep het, het hom ook waardig geag. Dit is God wat spreek. Hy wat die gedagtes van ver af verstaan en mense na waarde skat, het gesê: “Ek het hom verkies.” PeP 114.3
Abraham sou nie om selfsugtige redes die waarheid verraai nie. Hy sou die wet onderhou, regverdig en met geregtigheid optree. En hy sou nie alleen self die Here gevrees het nie, maar sou ook godsdiens in sy huis kweek. Hy sou sy gesin in geregtigheid onderrig. Die wet van God sou die heerskappy in sy huishouding voer. PeP 115.1
Abraham se huishouding het uit meer as ‘n duisend siele bestaan. Diegene wat deur sy leringe gelei is om die enigste God te aanbid, het ‘n tuiste in sy laer gevind; en hier, soos in ‘n skool, het hulle onderrig ontvang wat hulle sou voorberei om verteenwoordigers van die ware geloof te wees. Gevolglik het daar ‘n groot verantwoordelikheid op hom gerus. Hy het die hoofde van gesinne opgelei en sy bestuursmetodes sou weer in die huisgesinne waar hulle die leiding moes gee, oorgedra word. PeP 115.2
In die ou tyd was die vader tegelykertyd die heerser en die priester van sy eie gesin en hy het gesag oor sy kinders gevoer selfs nadat hulle hul eie gesinne gehad het. Sy afstammelinge is geleer om na hom op te sien as hulle hoof in beide godsdienstige en sekulêre sake. Abraham het daarna gestrewe om hierdie partriargale stelsel voort te sit, aangesien dit geneig was om die kennis van God te bewaar. Dit was noodsaaklik om die lede van die huisgesin saam te bind om ‘n skans te bou teen die afgodery wat so algemeen en so diep gewortel geraak het. Abraham het alles in sy vermoë gedoen om te verhinder dat die inwoners van sy kamp met die heidene omgaan en hulle afgodery aanskou, want hy het geweet dat bekendheid met die bose hulle beginsels ongemerk sou aftakel. Die grootste sorg is geneem om elke vorm van valse godsdiens te verwerp en die verstand te beïndruk met die majesteit en heerlikheid van die lewende God as die ware voorwerp van aanbidding. PeP 115.3
Dit was ‘n wyse reëling wat God self ingestel het, om Sy volk sover moontlik van omgang met die heidene weg te hou, sodat hulle as volk alleen gewoon het en nie onder die nasies gereken is nie. Hy het Abraham van sy afgodiese familie geskei sodat die patriarg sy gesin, afgesonder van die verleidende invloede wat hulle in Mesopotamië sou omring het, kon oplei en opvoed en sodat die ware geloof in al sy reinheid van geslag tot geslag deur sy nakomelinge bewaar kon word. PeP 115.4
Abraham se liefde vir sy kinders en sy huishouding, het hom gelei om oor hulle godsdienstige geloof te waak en aan hulle ‘n kennis van die Goddelike insettinge, as die rykste erfnis wat hy aan hulle en deur hulle aan die wêreld, kon nalaat, oor te dra. Almal is geleer dat hulle onder die regering van die God van die hemel staan. Daar moes geen verdrukking aan die kant van die ouers en geen ongehoorsaamheid aan die kant van die kinders wees nie. Die wet van God het elkeen se pligte duidelik omskryf en slegs gehoorsaamheid daaraan kon geluk en voorspoed verseker. PeP 116.1
Sy eie voorbeeld, die stille invloed van sy daaglikse lewe, was ‘n voortdurende les. Die onwankelbare eerbaarheid, die liefdadigheid en onbaatsugtige hoflikheid, wat die bewondering van konings afgedwing het, is in die huis gehandhaaf. Daar was ‘n geurigheid aan die lewe, ‘n adellikheid, ‘n lieflikheid van karakter wat teenoor almal getuig het dat hy met die Hemel verbind was. Hy het nie die siel van sy nederigste dienskneg verwaarloos nie. In sy huishouding was daar nie een wet vir die heer en ‘n ander vir die dienskneg nie; ‘n koninklike weg vir die welgestelde en ‘n ander vir die behoeftige nie. Almal is met regverdigheid en medelye behandel, soos mede-erfgename van die genade van lewe. PeP 116.2
Hy sal sy huishouding beheer. Daar sou geen sondige nalatigheid om die bose neigings van sy kinders in toom te hou, geen swak, onverstandige toegewing aan voortrekkery en geen verslapping in die uitvoer van sy pligte deur misplaaste liefde, wees nie. Abraham sou nie slegs die regte onderrig gee nie, maar hy sou die gesag van regverdige en regmatige wette handhaaf. PeP 116.3
Hoe min is daar in ons tyd wat hierdie voorbeeld volg! By te veel ouers bestaan daar ‘n blinde en selfsugtige sentimentaliteit wat vir liefde deurgaan, wat gemanifesteer word deur kinders met hulle onrype oordeel en onbeteuelde hartstogte, aan hulle eie wil oor te laat. Dit is ‘n absolute mishandeling van die jeug en ‘n groot onreg aan die wêreld. Die toegeeflikheid van die ouers veroorsaak wanorde in huisgesinne en in die gemeenskap. Dit versterk die begeerte in die jeug om hulle eie hartstogte te volg in stede daarvan dat hulle hul aan die vereistes van God onderwerp. Gevolglik word hulle groot met ‘n hart wat teësinnig PeP 116.4
is om die wil van God te doen en daardeur dra hulle hul ongodsdienstige, weerspannige gees oor op hulle kinders en op hulle kindskinders. Soos Abraham behoort ouers die gesag oor hulle huishouding te voer. Laat gehoorsaamheid aan ouerlike gesag as eerste stap tot gehoorsaamheid aan die gesag van God, geleer word. PeP 117.1
Minagting vir die wet van God, selfs deur godsdienstige leiers, is die oorsaak van ‘n groot euwel. Die wydverspreide leringe dat die mens nie meer verplig is om die insettinge van God te gehoorsaam nie, het dieselfde uitwerking as afgodery op die sedes van mense. Mense wat daarna strewe om die gesag van God se heilige wet te minag, slaan direk op die grondslag van die beheer van gesinne en die staat. Godsdienstige ouers wat nie in Sy insettinge wandel nie, voer nie gesag oor hulle huishouding uit om in die weg van die Here te wandel nie. Die wet van God word nie die reël van die lewe gemaak nie. Die kinders, wanneer hulle hul eie huisgesinne het, voel onder geen verpligting om aan hul kinders iets te leer wat hulle nooit self geleer het nie. Daarom is daar soveel ongelowige gesinne en daarom is die verdorwenheid so diep en so wydverspreid. PeP 117.2
Eers wanneer ouers self met volmaakte harte in die wet van die Here wandel, sal hulle bereid wees om hulle kinders na hulle te beveel. ‘n Hervorming op hierdie gebied is noodsaaklik-'n diepgaande en omvattende hervorming. Ouers het nodig om te hervorm; predikante het nodig om te hervorm; hulle benodig God in hulle huisgesinne. Indien hulle ‘n verandering in die toedrag van sake verlang, moet hulle Sy Woord in hulle huisgesinne inbring om hulle Raadsman te wees. Hulle moet hulle kinders leer dat dit die stem van God is wat tot hulle spreek en dat hulle dit sorgvuldig moet gehoorsaam. Hulle moet die kinders geduldig onderrig, met vriendelikheid en onvermoeid leer hoe om te leef om God te behaag. Die kinders van so ‘n huisgesin is voorbereid om teen die drogredenasies van ongeloof te staan te kom. Hulle het die Bybel as grondslag van hulle geloof aangeneem en hulle het ‘n fondament wat nie deur die stygende vloed van skeptisisme kan verbrokkel nie. PeP 117.3
In te veel huisgesinne word gebed verwaarloos. Ouers meen dat hulle geen tyd vir oggend-en aandgodsdiens het nie. Hulle het nie ‘n paar oomblikke om af te staan om dank aan God te PeP 117.4
bring vir Sy oorvloedige seëninge nie; vir die lieflike sonskyn en die reënbuie wat die plante laat groei; en vir die beskerming van heilige engele nie. Hulle het geen tyd om vir Goddelike hulp en leiding en die blywende teenwoordigheid van Jesus in die huisgesin te vra nie. Hulle gaan soos die os en die perd werk toe sonder om aan God of aan die hemel te dink. Hulle het siele wat so kosbaar is dat die Seun van God, eerder as om toe te laat dat hulle hopeloos verlore gaan, Sy lewe gegee het om hulle los te koop; maar hulle waardeer Sy oneindige liefde weinig meer as die redelose diere wat vergaan. PeP 118.1
Soos die patriarge van ouds, behoort diegene wat beweer dat hulle God liefhet, oral waar hulle hul tent opslaan, ‘n altaar vir die Here te bou. As daar ooit ‘n tyd was wat elke huis ‘n huis van gebed moet wees, dan is dit nou. Vaders en moeders moet hul harte dikwels met nederigheid en smeking vir hulself en vir hulle kinders, tot God ophef. Laat die vader as priester van die huis die oggend-en aandoffer op die altaar van God lê terwyl die vrou en die kinders hulle saam met hom in lof en danksegging verenig. By so ‘n gesin vertoef Jesus graag. PeP 118.2
Vanuit elke Christelike huisgesin behoort ‘n Heilige lig te skyn. Liefde behoort uit elke daad te straal. Dit behoort in die huislike omgang met mekaar, in bedagsame vriendelikheid en in sagte, onbaatsugtige hoflikheid gesien te word. Daar is huise waar hierdie beginsel geld-huise waar God aanbid word en waar ware liefde heers. Uit hierdie huise gaan die oggend-en aandgebede as welriekende wierook op na God en Sy seëninge daal soos die moredou op die bidders neer. PeP 118.3
“n Goed geordende Christelike huisgesin is ‘n kragtige beweegrede vir die werklikheid van Christelike godsdiens, ‘n beweegrede wat die ongelowige nie kan weerlê nie. Almal kan sien dat daar in die gesin ‘n invloed aan die werk is wat die kinders affekteer en dat die God van Abraham met hulle is. Indien die huise van beweerde Christene ‘n ware godsdienstige voorkoms gehad het, sou hulle ‘n geweldige invloed ten goede uitgeoefen het. Hulle sou inderdaad “...die lig van die wêreld...” wees. Die God van die hemel spreek tot elke getroue ouer met die woorde wat tot Abraham gerig is: “Ek het hom verkies, dat hy aan sy kinders en sy huis ná hom bevel sou gee dat hulle die weg van die Here moet hou om geregtigheid en reg te doen; PeP 118.4
sodat die Here oor Abraham kan bring wat Hy oor hom gespreek het. ” PeP 119.1