Patriarge en Profete

13/75

Hoofstuk 11—Die Oproep van Abraham

(Hierdie hoofstuk berus op Genesis 12). PeP 97.1

Na die verstrooiing van Babel het afgodery byna weer algemeen geword en die Here het die verharde oortreders eindelik aan hulle eie weë oorgelaat, terwyl Hy Abraham uit die geslag van Sem verkies het en hom die bewaarder van Sy wet gemaak het. Abraham het te midde van bygelowigheid en heidenisme grootgeword. Selfs die huishouding van sy vader wat nog die kennis van God bewaar het, het toegegee aan die verleidende invloede wat hulle omring het en hulle het “ander gode” as Jehova gedien. Maar die ware geloof sou nie uitsterf nie. God het altyd ‘n oorblyfsel bewaar om Hom te dien. Adam, Set, Henog, Metusalag, Noag en Sem, het die kosbare openbaringe van Sy wil, in ‘n ononderbroke lyn van eeu tot eeu bewaar. Tera se seun het hierdie heilige pand geërf. Die afgodediens het hom van alle kante gelok, maar tevergeefs. Getrou tussen die ontroues, onbesoedel deur die heersende afvalligheid, het hy onwankelbaar die aanbidding van die een ware God gehandhaaf. “Die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid.” (Psalm 145:18). Hy het Sy wil aan Abraham deurgegee en het aan hom duidelike kennis van die vereistes van Sy wet en van die verlossing wat deur Christus verkry sou word gegee. PeP 97.2

Aan Abraham is die belofte, wat besonder kosbaar vir die mense van daardie eeu was, gegee, van ‘n talryke nageslag en ‘n groot volk: “Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees.” En daarby is die versekering, kosbaarder bo alle ander, vir die erfgenaam van geloof gevoeg, dat die Verlosser van die wêreld uit sy geslagslyn sou kom: “In jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.” Maar, as eerste voorwaarde van vervuiling, moes sy geloof op die proef gestel word; ‘n offer is van hom geëis. PeP 97.3

Abraham het die boodskap van God ontvang: “Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys.” Sodat God hom kon bekwaam vir sy belangrike werk as bewaarder van die heilige orakels, moes Abraham van sy vorige verbintenisse geskei word. Die invloed PeP 97.4

van familie en vriende sou indruis teen die opleiding wat die Here aan Sy dienskneg wou gee. Noudat Abraham op ‘n spesiale wyse aan die hemel verbonde was, moes hy tussen vreemdelinge woon. Sy karakter moes uitsonderlik wees en van die hele wêreld verskil. Hy kon nie eers sy optrede op so ‘n wyse aan sy vriende verduidelik dat hulle dit kon verstaan nie. Geestelike dinge word geestelik onderskei en sy motiewe en optrede kon nie deur sy afgod gesinde familie begryp word nie. PeP 98.1

“Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom.” (Hebreërs 11:8). Abraham se onvoorwaardelike gehoorsaamheid is een van die merkwaardigste bewyse van geloof wat in die Bybel opgeteken staan. Vir hom was geloof “...'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” (vers 1). Hy het hom geheel en al op die Belofte van God verlaat en sonder die geringste uiterlike versekering dat dit vervul sou word, het hy sy huis en familie en geboorteland verlaat en, sonder om te weet waarheen, weggegaan om te volg waar God sou lei. “Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ‘n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte.” (Hebreërs 11:9). PeP 98.2

Dit was geen ligtelike toets waaraan Abraham onderwerp is nie, geen geringe opoffering wat van hom gevra is nie. Dit was sterk bande wat hom aan sy land, sy familie en sy huis gebind het. Maar het hy nie geaarsel om die roepstem te gehoorsaam nie. Hy het geen vrae aangaande die beloofde land gevra nie; of die grond vrugbaar en die klimaat gesond was nie; of dit ‘n aangename omgewing was en geleentheid sou bied om rykdom te bekom nie. God het gespreek en Sy dienskneg moes gehoorsaam; die gelukkigste plek op aarde was vir hom die plek waar God hom wou hê. PeP 98.3

Baie word steeds soos Abraham beproef. Hulle hoor nie Sy stem duidelik uit die hemele tot hulle spreek nie, maar Hy roep hulle deur die leringe van Sy Woord en die gebeure van Sy voorsienigheid. Daar mag van hulle verwag word dat hulle ‘n loopbaan wat rykdom en aansien beloof moet laat vaar; dat hulle aangename en voordelige verhoudings moet laat vaar en van PeP 98.4

hulle familie moet skei om ‘n weg te bewandel wat blyk net ‘n weg van selfverloëning, lyding en opoffering te wees. God het ‘n werk vir hulle om te doen; maar ‘n lewe van gemaksug en die invloed van vriende en familie sal die ontwikkeling van daardie selfde eienskappe wat noodsaaklik is vir die vervulling daarvan, verhinder. Hy roep hulle weg van menslike invloede en hulp en lei hulle om ‘n behoefte aan Sy hulp te ervaar en alleenlik van Hom afhanklik te wees, sodat Hy Homself aan hulle kan openbaar. Wie is gereed om van gekoesterde planne en bekende verhoudings af te sien wanneer die stem van die Voorsienigheid roep? Wie is gereed om nuwe pligte te aanvaar en nuwe velde te betree en God se werk met ‘n ferm en gewillige hart te doen en om Christus se onthalwe sy verliese as wins te beskou? Hy wat dit doen, het die geloof van Abraham en sal saam met hom deel in daardie “...alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid...” waarmee “...die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg nie.” (2 Korinthiërs 4:17; Romeine 8:18). PeP 99.1

Die oproep van die hemel het eerste tot Abraham gekom terwyl hy in “Ur van die Chaldeërs” gewoon het en gehoorsaam daaraan het hy na Haran verhuis. Tot dusver het sy vader se familie hom vergesel, want tesame met hulle afgodery, het hulle die ware God aanbid. Daar het Abraham gebly tot met die dood van Tera. Maar by die graf van sy vader het die Goddelike Roepstem hom beveel om verder te trek. Sy broer Nahor en hulle huishouding het aan hulle huis en hulle afgode vasgehou. Benewens Sara, Abraham se vrou, het net Lot, die seun van Haran wat lank reeds dood was, die pelgrimslewe van die patriarg verkies. Tog was dit ‘n groot geselskap wat uit Mesopotamië vertrek het. Abraham het reeds groot kuddes, wat die rykdom van die Ooste was, besit en hy het ‘n groot aantal diensknegte en aanhangers gehad. Hy het die land van sy vaders verlaat om nooit weer terug te keer nie en het alles, “...hulle besittings wat hulle bymekaargemaak en die slawe wat hulle in Haran verwerf het...” saamgeneem. Onder hulle was daar baie wat hulle deur uitnemender beweegredes as diens en eiebelang laat lei het. Gedurende hulle verblyf te Haran het sowel Sara as Abraham ander tot die aanbidding en diens van die ware God gelei. Hierdie mense het by die patriarg se huishouding aangesluit en het hom na die beloofde land PeP 99.2

vergesel. “En hulle het uitgetrek om na die land Kanaan te gaan en in die land Kanaan gekom.” PeP 100.1

Die eerste plek waar hulle vertoef het, was Sigem. Onder die terpentynbome van More in ‘n uitgestrekte grasryke vallei met olyfbosse en stromende fonteine, tussen die berg Ebal aan die een kant en Gerisim aan die ander kant, het Abraham sy kamp opgeslaan. Dit was ‘n mooi en aanvallige land waarna die patriarg gekom het-“...'n land van waterstrome, fonteine en onderaardse riviere wat in die laagtes en op die berge uitkom; ‘n land van koring en gars en wingerdstokke en vye bome en granate; ‘n land van olieryke olyfbome en heuning.” (Deuteronomium 8:7,8). Maar vir die aanbidder van Jehova het daar ‘n donker skaduwee oor die bosryke berge en vrugbare vlaktes gelê. “Die Kanaaniete was toe in die land.” Abraham het die einddoel van sy hoop bereik, om ‘n land te vind wat deur ‘n vreemde ras bewoon word en deurtrek is met afgodery. In die bosse is altare vir afgode opgerig en menslike offers is op naburige hoogtes geoffer. Hoewel hy aan die Belofte van God vasgehou het, was dit nie sonder verontrustende voorgevoelens wat hy sy tent opgeslaan het nie. “Daarop verskyn die Here aan Abram en sê: aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee.” Sy geloof is versterk deur die versekering dat die Teenwoordigheid van God met hom was en dat hy nie aan die genade van die goddeloses oorgelaat was nie. “Toe bou hy daar ‘n altaar vir die Here wat aan hom verskyn het.” Steeds ‘n swerwer, het hy spoedig na ‘n plek naby Bet-El verhuis en ook daar het hy ‘n altaar gebou en die Naam van die Here aangeroep. PeP 100.2

Abraham, “...die vriend van God...” het vir ons ‘n waardige voorbeeld gestel. Sy lewe was ‘n lewe van gebed. Waar hy ook sy tent opgeslaan het, het hy ‘n altaar daar naby opgerig wat almal in sy laer na die oggend-en aandoffer ontbied het. Wanneer sy tent verwyder is, het die altaar daar gebly. In die daaropvolgende jare was daar sommige onder die swerwende Kanaaniete wat onderrig van Abraham ontvang het; en wanneer een van hierdie mense by daardie altaar gekom het, het hy geweet wie voor hom daar was; en wanneer hy sy tent opgeslaan het, het hy die altaar herstel en die lewende God daar aanbid. PeP 100.3

Abraham het verder suidwaarts gereis en daar is sy geloof weereens getoets. Die hemel het sy reën weerhou, die waterstrome in die valleie het opgehou vloei en die gras op die vlaktes het verdroog. Daar was geen weiding vir die kuddes nie en hongersnood het die hele laer bedreig. Het die patriarg nie nou aan die leiding van God getwyfel nie? Het hy nie met verlange teruggekyk na die oorvloed van die Chaldese vlaktes nie? Almal het Abraham gretig dopgehou om te sien wat hy sou doen wanneer moeilikheid op moeilikheid hom oorval. Solank as wat sy vertroue onwankelbaar gebly het, het hulle gevoel dat daar hoop is; hulle het die versekering gehad dat God sy vriend was en dat Hy hom steeds gelei het. PeP 101.1

Abraham kon nie die leiding van die Voorsienigheid verduidelik nie. Sy verwagtinge is nog nie volbring nie, maar hy het vasgehou aan die belofte: “Ek sal ... jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees.” Met ernstige gebed het hy oorweeg hoe om die lewens van sy mense en van sy kuddes te red, maar hy sou nie toelaat dat omstandighede sy geloof in God se Woord laat wankel nie. Om van die hongersnood te ontkom, het hy na Egipte gegaan. Hy het Kanaan nie laat vaar of in sy uiterste nood teruggekeer na die land van die Chaldeërs waar hy vandaan gekom het en waar volop brood was nie; maar hy het ‘n tydelike toevlugsoord so ná as moontlik aan die Beloofde Land gesoek met die bedoeling om binnekort terug te keer na die plek waar God hom geplaas het. PeP 101.2

Die Here het, in Sy voorsienigheid, hierdie beproewing oor Abraham gebring om hom lesse van onderwerping, geduld en geloof te leer, lesse wat op rekord geplaas sou word tot voordeel van almal wat later geroep sou word om beproewing te verduur. God lei Sy kinders langs weë wat vir hulle onbekend is, maar Hy vergeet of verlaat niemand wat sy vertroue in Hom stel nie. Hy het toegelaat dat ellende oor Job kom, maar Hy het hom nie verlaat nie. Hy het toegelaat dat die geliefde Johannes na Patmos verban word, maar die Seun van God het hom daar ontmoet en hy het ‘n visie, gevul met tonele van onsterflike heerlikheid, aanskou. God laat toe dat Sy mense beproef word, sodat hulle self deur hulle standvastigheid en gehoorsaamheid geestelik verryk mag word en dat hulle voorbeeld vir ander ‘n bron van krag sal wees. “Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede PeP 101.3

en nie van onheil nie.” (Jeremia 29:11). Dieselfde beproewings wat ons geloof die meeste teister en dit laat voorkom asof God ons verlaat het, is bedoel om ons nader aan Christus te bring, sodat ons ons laste by Sy voete kan neerlê en die vrede wat Hy ons in ruil daarvoor sal gee kan ervaar. PeP 102.1

God het Sy volk nog altyd in die smeltkroes van verdrukking beproef. Dit is in die hitte van die oond dat die onsuiwerhede van die ware goud, die Christelike karakter, geskei word. Jesus hou Sy oog op die toets; Hy weet wat nodig is om die edelmetaal te suiwer sodat dit die glans van Sy liefde kan weerspieël. Dit is deur diepe, swaar beproewings dat God Sy diensknegte dissiplineer. Hy sien dat sommige vermoëns het wat vir die bevordering van Sy werk gebruik kan word en Hy stel daardie persone op die proef; in Sy voorsienigheid laat Hy omstandighede oor hulle kom wat hulle karakter beproef en die gebreke en swakhede waarvan hulle self nie bewus is nie aan die lig kom. Hy gee aan hulle die geleentheid om hierdie gebreke reg te stel sodat hulle geskik sal wees vir Sy diens. Hy maak hulle bewus van hul eie swakhede en leer hulle om op Hom te steun, want Hy is hulle enigste hulp en beskerming. So word Sy doel bereik. Hulle word onderrig, opgelei en gedissiplineer en voorberei om die groot doel, ten behoewe waarvan hulle hierdie gawes ontvang het, te vervul. Wanneer God hulle oproep tot optrede, is hulle gereed en dan kan hemelse engele met hulle verenig om die werk op aarde verrig. PeP 102.2

Tydens sy verblyf in Egipte het Abraham getuienis gelewer dat hy nie vry was van menslike swakheid en onvolmaaktheid nie. Deur die feit te verdoesel dat Sara sy vrou was, het hy sy wantroue in die Goddelike versorging verraai, ‘n tekort aan daardie verhewe geloof en moed wat so dikwels en edelmoedig in sy lewe uitgebeeld was. Sara was mooi van aansien en hy het nie daaraan getwyfel dat die blas Egiptenare die beeldskone vreemdeling sou begeer en nie sou aarsel om haar eggenoot te dood om haar te besit nie. Hy het geredeneer dat hy hom nie aan ‘n onwaarheid skuldig maak deur te beweer dat Sara sy suster was nie, want sy was die dogter van sy vader alhoewel nie van sy moeder nie. Maar hierdie verdoeseling van hulle ware verhouding, was bedrog. Geen afwyking van streng eerbaarheid is vir God aanvaarbaar nie. Deur Abraham se wantroue is Sara aan groot gevaar blootgestel. Die koning van Egipte wat ingelig PeP 102.3

is aangaande haar skoonheid, het haar na sy paleis laat bring met die doel om haar as vrou te neem. Maar die Here, in Sy groot genade, het Sara beskerm deur die koningsgesin met plae te tref. Op hierdie wyse het die koning die waarheid van die saak ontdek en, verontwaardig oor die bedrog wat teenoor hom gepleeg is, het hy Abraham bestraf en sy vrou aan hom teruggegee met die woorde: “Wat het jy my nou aangedoen? ... Waarom het jy gesê: Sy is my suster sodat ek haar vir my as vrou geneem het? Daar is jou vrou dan nou; neem haar en gaan weg.” PeP 103.1

Die koning het groot guns aan Abraham bewys; selfs onder hierdie omstandighede het Farao nie toegelaat dat iemand hom of sy geselskap benadeel nie, maar hy het ‘n wag aangestel om hulle veilig uit sy gebied te begelei. In daardie tyd is wette gemaak wat die Egiptenare belet het om met vreemde herders om te gaan en saam met hulle te eet of te drink. In die wegstuur van Abraham, was Farao goedhartig en vrygewig, maar hy het hom gebied om Egipte te verlaat, want hy kon dit nie waag om hom langer te laat bly nie. Hy was op die punt om hom onwetend ‘n groot onreg aan te doen, maar God het tussenbeide getree en verhoed dat die monarg so ‘n groot sonde begaan. Farao het in hierdie vreemdeling ‘n man gesien wat deur God geëer word en hy was bang om iemand, wat so duidelik deur God begunstig is, in sy koninkryk te hê. Indien Abraham in Egipte gebly het, sou sy toenemende rykdom en eer die afguns of die gierigheid van die Egiptenare opgewek het en iemand kon hom dalk leed aandoen, waarvoor die koning verantwoordelik gehou sou word en wat weer oordele oor die koningshuis kon bring. PeP 103.2

Die waarskuwing wat aan Farao gegee is, het Abraham ook in sy latere omgang met heidense volke beskerm, want die saak kon nie geheim gehou word nie en dit het bekend geword dat die God wat Abraham aanbid, Sy dienskneg sou beskerm en dat Hy enige leed wat hom aangedoen word, sou wreek. Dis ‘n gevaarlike ding om een van die kinders van die Koning van die hemel leed aan te doen. Die psalmdigter verwys na hierdie hoofstuk in Abraham se ervaring wanneer hy, aangaande die uitverkorenes, sê dat God “...konings om hulle ontwil gestraf...” en gesê het: “Raak my gesalfdes nie aan nie en doen my profete geen kwaad nie.” (Psalm 105:14,15). PeP 103.3

Daar is ‘n interessante ooreenkoms tussen Abraham se ondervinding in Egipte en dié van sy nageslag eeue later. Albei het as gevolg van ‘n hongersnood na Egipte gegaan en albei het as vreemdelinge daar vertoef. Deur die manifestasie van Goddelike oordele om hulle onthalwe, het die Egiptenare hulle gevrees en, verryk deur die geskenke van die heidene, het hulle met baie besittings weggegaan. PeP 104.1