Patriarge en Profete

12/75

Hoofstuk 10—Die Toring van Babel

(Hierdie hoofstuk berus op Genesis 9:25-27;11:1-9) PeP 90.1

Om die verlate aarde weer te bevolk nadat Hy dit so pas van sedelike verdorwenheid gereinig het, het God een gesin, die huishouding van Noag, bewaar, aan wie Hy gesê het: “Jou het Ek regverdig bevind voor my aangesig in hierdie geslag” (Genesis 7:1). Nogtans het daar weldra in Noag se drie seuns dieselfde groot verskille, soos voor die sondvloed ontstaan. In Sem, Gam en Jafet, wat die stigters van die mensdom was, was ‘n voorafskaduwing van die karakters van hulle nakomelinge. PeP 90.2

Noag, wat met Goddelike Ingewing gepraat het, het die geskiedenis van die drie groot volkstamme wat uit die drie stamvaders van die mensdom sou voortkom, voorspel. Deur die nasporing van die nageslag van Gam, deur die seun eerder as deur die vader, het hy verklaar: “Vervloek is Kanaan! ‘n Kneg van die knegte moet hy wees vir sy broers.” Gam se onnatuurlike misdaad het bewys dat kinderlike eerbied reeds lank tevore uit sy siel gewyk het en dit het die goddeloosheid en die gemeenheid van sy karakter ontbloot. Hierdie bose karaktertrekke het in Kanaan en sy nakomelinge bly voortbestaan, wie se voortdurende goddeloosheid die oordele van God oor hulle gebring het. PeP 90.3

Aan die anderkant, het die eerbied wat Sem en Jafet teenoor hulle vader getoon het en daardeur hulle erkenning van die Goddelike insettinge, aan hulle nakomelinge ‘n beter toekoms beloof. Aangaande die twee seuns het hy verklaar: “Geseënd is die Here, die God van Sem. Maar Kanaan moet sy dienskneg wees. Mag God aan Jafet ruimte verskaf en mag hy woon in die tente van Sem! Maar Kanaan moet sy dienskneg wees.” Die nageslag van Sem sou die uitverkore volk van God se verbond van die beloofde Verlosser wees. Jehova was die God van Sem. Van hom sou Abraham en die volk van Israel afstam, deur wie Christus sou kom. “Welgeluksalig is die volk wie se God die Here is!” (Psalm 144:15). En Jafet sal “...woon in die tente van Sem.” Die nakomelinge van Jafet sou op ‘n sonderlinge wyse deel in die seëninge van die evangelie. PeP 90.4

Die nakomelinge van Kanaan het tot die laagste vlakke van die heidendom verval. Hoewel die profetiese vloek hulle tot slawerny gedoem het, is daardie lot eeue lank teruggehou. God het hulle goddeloosheid en verdorwenheid verdra totdat hulle die perke van Sy verdraagsaamheid oorskrei het. Toe is hulle van hulle besittings ontneem en het hulle slawe van die nakomelinge Sem en Jafet geword. PeP 91.1

Noag se profesie was nie ‘n willekeurige veroordeling van toorn of verklaring van begunstiging nie. Dit het nie die lot of die karakter van sy seuns bepaal nie. Maar dit het aangedui wat die gevolge van die lewens rigting wat elkeen afsonderlik ingeslaan het en die karakters wat hulle ontwikkel het, sou wees. Dit was ‘n verklaring van die wil van God vir hulle en hulle nakomelinge, met die oog op hulle eie karakter en gedrag. In die reël erf kinders hulle ouers se neigings en volg hulle voorbeeld sodat die kinders die sondes van die vaders van geslag tot geslag oordra. So is die gemeenheid en oneerbiedigheid van Gam in sy nageslag herhaal, sodat daar ‘n vloek op baie geslagte daarna gerus het. “Een sondaar bederf baie goeie dinge.” (Prediker 9:18). PeP 91.2

Aan die anderkant, hoe ryklik is Sem beloon vir die eerbied wat hy aan sy vader betoon het; en wat ‘n glansryke linie van heilige manne kom daar onder sy nakomelinge voor! “Die Here ken die dae van die opregtes...” “...en sy nageslag is ‘n seën.” (Psalm 37:18,26). “Jy moet dan weet dat die Here jou God is, die getroue God wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom liefhet en Sy gebooie onderhou, in duisend geslagte.” (Deuteronomium 7:9). PeP 91.3

“n Tyd lank het Noag se nakomelinge tussen die berge, waar die ark tot rus gekom het, gewoon. Namate hulle vermenigvuldig het, het afvalligheid verdeeldheid veroorsaak. Diegene wat geneig was om hulle Skepper te vergeet en al die beperkinge van Sy wet af te skud, het ‘n voortdurende ergernis ervaar deur die leer en die voorbeeld van hulle godvresende bure en mettertyd het hulle besluit om hulle van die aanbidders van God te skei. Dienooreenkomstig het hulle na die vlakte van Sinear, aan die oewers van die Eufraatrivier, gereis. Hulle is bekoor deur die skoonheid van die omgewing en die vrugbaarheid van die grond en het besluit om hulle op daardie vlakte te vestig. PeP 91.4

Hier het hulle besluit om ‘n stad te bou en ‘n toring, so geweldig hoog, dat dit die wonder van die wêreld sou wees. Hierdie onderneming was bedoel om te voorkom dat die mense hulle in verspreide kolonies sou vestig. God het die mense beveel om hulle oor die aarde te versprei en om dit te vul en te onderwerp, maar hierdie Babel-bouers het hulle voorgeneem om hulle gemeenskap in een verenigde gemeenskap te behou en ‘n koninkryk te stig wat uiteindelik oor die hele aarde sou regeer. Dan sou hulle stad die metropool van ‘n universele ryk word; sy glorie sou die bewondering en aanbidding van die hele wêreld afdwing en sy stigters sou beroemd word. Die pragtige toring wat tot in die hemele sou opgaan, is bedoel om as gedenkteken van die mag en wysheid van sy bouers te dien en hulle roem tot in die laaste geslag te laat voortduur. PeP 92.1

Die bewoners van die vlakte van Sinear het nie die verbond van God geglo dat Hy nie weer ‘n sondvloed oor die aarde sou bring nie. Baie van hulle het die bestaan van God ontken en die sondvloed aan natuurlike oorsake toegeskryf. Ander het in ‘n Opperwese geglo en het aanvaar dat Hy die antediluviaanse wêreld vernietig het; en soos Kain het hulle harte teen God in opstand gekom. Een van hulle doelwitte met die oprigting van hierdie toring was om hulle eie veiligheid te verseker ingeval daar weer ‘n oorstroming sou kom. Deur die struktuur baie hoër as wat die waters van die sondvloed gestyg het te maak, het hulle gemeen hulle kon buite gevaar bly. En soos hulle in staat sou wees om tot by die wolke op te klim, het hulle gehoop om die oorsaak van die vloed vas te stel. Die hele onderneming was beraam om die ontwikkelaars nog meer hoogmoediger te maak en die gedagtes van toekomstige geslagte, van God na afgodery weg te draai. PeP 92.2

Toe die toring gedeeltelik voltooi was, is ‘n deel daarvan as woonplek vir die bouers betrek; ander eenhede, pragtig gemeubileerd en versier, is aan hulle afgode gewy. Die mense was verheug oor hulle sukses en het lof aan die afgode van silwer en goud gebring en hulleself teen die Heerser van die hemel en die aarde verset. PeP 92.3

Skielik is die werk, wat so voorspoedig gevorder het, gestaak. Engele is gestuur om die planne van die bouers te verydel. Die toring het reeds ‘n groot hoogte bereik en dit was PeP 92.4

nie meer moontlik vir die werkslui wat bo gewerk het, om hulle bevele direk aan die arbeiders op die grond te gee nie; daarom is manne op sekere afstande van mekaar geplaas sodat elkeen opdragte kon ontvang en deurgee aan die volgende een onder hom, vir bestellings vir boumateriaal wat benodig word of ander opdragte aangaande die werk. Soos die boodskappe van die een na die ander oorgedra is, is hulle taal verwar, sodat onnodige boumateriaal aangevra is en die opdragte wat deurgegee is dikwels die teenoorgestelde was van wat aanvanklik gegee is. Verwarring en ontsteltenis het gevolg. Alle werk is gestaak. Daar kon geen verdere eensgesindheid of samewerking meer wees nie. Die bouers kon nie die vreemde misverstande tussen hulle begryp nie en in hulle woede en teleurstelling het hulle mekaar verwyt. Hulle bondgenootskap het in stryd en bloedvergieting geëindig. Weerlig vanaf die hemel, as bewys van God se ontevredenheid, het die boonste gedeelte van die toring vernietig en op die grond gewerp. Mense is gedwing om te besef dat daar ‘n God is wat in die hemele regeer. PeP 93.1

Tot op hierdie stadium, het alle mense dieselfde taal gepraat; nou het diegene wat mekaar kon verstaan groepies gevorm; sommige het in een rigting weggetrek en ander in ‘n ander rigting. “So het die Here hulle dan daarvandaan oor die hele aarde verstrooi. ” Deur hierdie verspreiding is die aarde bevolk en so het God Sy doel, deur dieselfde middel waarmee mense dit wou voorkom, bereik. PeP 93.2

Maar wat ‘n verlies vir diegene wat hulle teen God verset het! Sy plan was dat, soos die mense uitgaan om in verskillende dele van die wêreld nasies te stig, hulle die kennis van Sy wil met hulle moes saamdra, sodat die lig van die waarheid onverdof oor toekomstige geslagte sou skyn. Noag, die getroue prediker van geregtigheid, het driehonderd-en-vyftig jaar ná die sondvloed geleef; Sem het vyfhonderd jaar geleef; dus het hulle afstammelinge die geleentheid gehad om kennis van die vereistes van God en die geskiedenis van Sy handelinge met hulle voorvaders op te doen. Maar hulle was onwillig om na hierdie onverteerbare waarhede te luister; hulle het geen begeerte gehad om God in erkentenis te hou nie en as gevolg PeP 93.3

van die verwarring van tale, is hulle tot ‘n groot mate uitgesluit van omgang met diegene wat lig aan hulle kon gegee het. PeP 94.1

Die Babel-bouers het toegegee aan die gees van murmurering teen God. In stede van met dankbaarheid Sy genade teenoor Adam en Sy genadige verbond met Noag te onthou, het hulle gekla oor Sy strengheid om die eerste egpaar uit Eden te verban en die wêreld met ‘n sondvloed te vernietig. Maar terwyl hulle God aangekla het dat Hy na willekeur handel en streng is, het hulle die oorheersing deur die wreedste tiranne gedwee aanvaar. Satan het gepoog om die soenoffers, wat ‘n voorafskaduwing van die dood van Christus was, veragtelik te maak; en aangesien die mense se verstand deur afgodery verduister was, het hy hulle gelei om die offers na te maak en hulle eie kinders op die altare van afgode te offer. Namate mense verder van God afgewyk het, is die Goddelike hoedanighede-regverdigheid, reinheid en liefde-met onderdrukking, geweld en wreedheid vervang. PeP 94.2

Die mense van Babel het hulle voorgeneem om ‘n regering te vestig wat onafhanklik van God sou wees. Daar was egter sommiges tussen hulle wat God gevrees het, maar wat deur die voorwendsels van die goddeloses mislei is en by hulle planne betrek is. Ter wille van hierdie getroues het die Here Sy oordele uitgestel en aan die mense die geleentheid gegee om hulle ware karakter te openbaar. Soos dit ontwikkel het, het die seuns van God gearbei om hulle weg te draai van hulle doel; maar die mense was volkome verenig in hulle Hemeltergende onderneming. Indien hulle onverhinderd voortgegaan het, sou hulle die wêreld opnuut weer gedemoraliseer het. Hulle bondgenootskap was op rebellie gegrond, ‘n koninkryk wat vir selfverheerliking gestig is, maar waarin God geen seggenskap of eer sou hê nie. Indien hierdie bondgenootskap toegelaat was, sou ‘n mag geheers het wat alle geregtigheid van die aarde verban het en daarmee saam vrede, geluk en veiligheid. In die plek van die Goddelike instellings wat “...heilig en regverdig en goed...” is (Romeine 7:12), het die mensdom probeer om wette in te stel wat die voornemens van hulle eie selfsugtige en wrede harte sou bevredig. PeP 94.3

Hulle wat die Here gevrees het, het tot Hom geroep om in te gryp.” Toe daal die Here neer om die stad en die toring te besien PeP 94.4

waaraan die mensekinders gebou het.” Uit genade aan die wêreld het Hy die plan van die toring-bouers verydel en die gedenkteken van hulle vermetelheid omvergewerp. In genade het Hy hulle spraak verwar en so die doel van hulle opstand gekortwiek. God is lankmoedig teenoor die mensdom se perversiteit en Hy gee aan hulle genoeg geleentheid vir bekering; maar Hy bemerk al hulle planne om hulle teen die gesag van Sy regverdige en heilige wet te verset. Van tyd tot tyd is die onsigbare Hand wat die septer van heerskappy hou, uitgestrek om boosheid te beteuel. Daar word op onmiskenbare wyse bewys gelewer dat die Skepper van die heelal, die Een, oneindig in wysheid, liefde en waarheid, die Opperheerser van hemel en aarde is en dat niemand Sy mag ongestraf kan uitdaag nie. PeP 95.1

Die voornemens van die Babel-bouers het op skande en skade uitgeloop. Die gedenkteken van hulle hoogmoed het die aandenking van hulle dwaasheid geword. Tog bewandel mense voortdurend dieselfde weg; hulle vertrou op die self en versmaai die wet van God. Dit is dieselfde beginsel wat Satan in die hemel probeer deurvoer het; dieselfde gees wat Kain besiel het toe hy sy offer gebring het. PeP 95.2

Daar is toring bouers in ons tyd. Ongelowiges berus hulle teorieë op die vermeende gevolgtrekkings van die wetenskap en hulle verwerp die openbaarde Woord van God. Hulle matig hulself aan om ‘n oordeel oor die morele heerskappy van God uit te spreek; hulle verag Sy wet en roem op die genoegsaamheid van menslike rede. “Omdat die oordeel oor ‘n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen.” (Prediker 8:11). PeP 95.3

In die beweerde Christelike wêreld draai baie weg van die duidelike leringe van die Bybel en bou op ‘n geloof van menslike spekulasies en aangename fabels en verwys na hulle toring as ‘n wyse om na die hemel op te klim. Mense hang met bewondering aan welsprekende lippe wat leer dat die oortreder nie sal sterf nie, dat saligheid sonder gehoorsaamheid aan God se wet verkrygbaar is. Indien die beweerde volgelinge van Christus die maatstaf van God wou aanneem, sal dit hulle verenig; maar vir solank as menslike wysheid bo Sy heilige Woord verhef word, sal daar verdeeldheid en onenigheid wees. PeP 95.4

Die bestaande verwarring van botsende gelowe en sektes word met reg “Babilon” genoem wat die profesie van (Openbaring 14:8;18:2) van toepassing maak op die wêreld-liefhebbende kerke van die laaste dae. PeP 96.1

Baie strewe daarna om met rykdom en gesag ‘n hemel vir hulleself te probeer maak. “Hulle spot en spreek in boosheid verdrukking; hulle spreek uit die hoogte...” (Psalm 73:8), vertrap menseregte en verontagsaam die Gesag van God. Die trotsaards mag vir ‘n tyd groot gesag uitoefen en mag sukses in al hulle ondernemings behaal; maar uiteindelik sal hulle slegs teleurstelling en ellende ervaar. PeP 96.2

Die tyd vir God se ondersoek, is voor die deur. Die Allerhoogste sal neerdaal om te sien wat die mensekinders gebou het. Sy Soewereiniteit sal geopenbaar word en die werke van menslike hoogmoed sal afgetakel word. “Die Here kyk van die hemel af; Hy sien al die mensekinders. Uit sy woonplek aanskou Hy al die bewoners van die aarde.” “Die Here vernietig die raad van die nasies, Hy verydel die gedagtes van die volke. Die raad van die Here bestaan vir ewig, die gedagtes van sy hart van geslag tot geslag.” (Psalm 33:13,14,10,11). PeP 96.3