Patriarge en Profete
Hoofstuk 9—Die Letterlike Week
Net soos die Sabbat het die week met die skepping ontstaan en is dit deur die Bybelse geskiedenis bewaar en aan ons oorgelewer. God het die eerste week self afgemeet as ‘n voorbeeld van al die daaropvolgende weke tot aan die einde van die tyd. Soos al die ander weke, het dit uit sewe letterlike dae bestaan. Ses dae is aan die skeppingswerk bestee; op die sewende dag het God gerus en toe het Hy daardie dag geseën en dit as rusdag vir die mens afgesonder. PeP 84.1
Toe Hy die wet op Sinai gegee het, het God die week en die feite waarop dit berus, erken. Nadat Hy beveel het: “Gedenk die Sabbatdag, dat jy dit heilig...” en uiteengesit het wat op die ses dae gedoen mag word en wat nie op die sewende dag gedoen mag word nie, het Hy die rede verstrek waarom die week op hierdie wyse gevier moet word en gewys op Sy eie voorbeeld: “Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die Sabbatdag geseën en dit geheilig.” (Exodus 20:8-11). Hierdie rede skyn baie gepas en dwingend te wees wanneer ons begryp dat die skeppingsdae letterlik was. Die eerste ses dae van die week word aan die mens gegee om sy werk te doen, omdat God dieselfde tydperk in die eerste week aan skeppingswerk bestee het. Op die sewende dag moet die mens sy werk staak ter herinnering aan die rus van die Skepper. PeP 84.2
Die veronderstelling dat die gebeurtenisse van die eerste week duisende derduisende jare in beslag geneem het, ondermyn egter die grondslag van die vierde gebod. Dit wil voorgee dat die Skepper mense beveel om ‘n week van letterlike dae te vier ter herinnering aan lang, onbepaalde tydperke. Dit strook nie met die wyse waarop Hy Sy skepsels behandel nie. Dit maak dit wat Hy baie eenvoudig gestel het, onbepaald en duister. Dit is ongeloof in die mees verraderlikste en dus gevaarlikste vorm; die ware aard daarvan word so vermom dat dit deur baie, wat beweer hulle glo die Bybel, geleer en geglo word. PeP 84.3
“Deur die Woord van die Here is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër.” “Want Hy het gespreek en dit was; Hy het gebied en dit staan.”(Psalm 33:6,9). Die Bybel erken geen lange eeue waartydens die aarde stadig uit chaos geëvolueer het nie. Van elke agtereenvolgende skeppingsdag verklaar die heilige Verslag dat dit net soos alle ander daaropvolgende dae uit aand en more bestaan het. Aan die einde van elke dag word die resultaat van die Skepper se werk beskryf. Hierdie verslag word aan die einde van die eerste week gegee: “Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is.” (Genesis 2 :4). Dit gee egter nie te kenne dat die skeppingsdae nie letterlike dae was nie. Elke dag was ‘n nuwe geboorte genoem omdat God daarop ‘n nuwe deel van Sy werk ontwikkel of tot stand gebring het. PeP 85.1
Geoloë beweer dat hulle uit die aarde self bewyse vind dat dit veel ouer is as wat die Mosaïese verhaal leer. Beendere van mense en diere, oorlogswapens, versteende bome ensovoorts, wat baie groter is as dié wat tans bestaan, of wat duisende jare lank bestaan het, is ontdek en hieruit word afgelei dat die aarde lank voor die tyd wat deur die skeppingsverhaal beskryf word bewoon is, deur ‘n geslag wat die teenswoordige aardbewoners ver oortref. Hierdie beweringe het daartoe aanleiding gegee dat talle belydende gelowiges in die Bybel die standpunt inneem dat die skeppingsdae lang onbepaalde tydperke was. PeP 85.2
Maar sonder die Bybelse geskiedenis kan geoloë niks bewys nie. Diegene wat met soveel selfvertroue oor hierdie ontdekkings uitwei, het geen betroubare begrip van die grootte van die mense, diere en bome wat voor die sondvloed bestaan het, of van die groot veranderinge wat destyds plaasgevind het nie. Oorblyfsels wat in die aarde gevind word, gee wel ‘n aanduiding van die toestande, wat in baie opsigte van die hedendaagse verskil het, maar slegs die geïnspireerde Boek kan ons leer van die tyd waartydens hierdie toestande geheers het. In die geskiedenis van die sondvloed het Inspirasie dinge verduidelik wat geologie alleen nooit kan deurvors nie. In die dae van Noag is mense, diere en bome begrawe wat baie groter was as dié wat tans bestaan en so is hulle bewaar as ‘n bewys vir latere geslagte dat die antediluviane in ‘n sondvloed omgekom het. God het bestem dat die ontdekking van hierdie dinge geloof in die geïnspireerde geskiedenis moes versterk; PeP 85.3
maar met hulle drogredenasies beland mense in dieselfde dwaling as die mense voor die sondvloed-die dinge wat God tot hulle voordeel aan hulle gegee het, word deur hulle in ‘n vloek verander deur die verkeerde gebruik daarvan. PeP 86.1
Een van die Satan se planne is om mense te oorreed om die fabels van ongeloof aan te neem, want sodoende kan hy die wet van God, wat op sigself baie duidelik is, verduister en mense in hulle opstand teen die regering van God aanmoedig. Sy pogings is veral teen die vierde gebod gerig, omdat dit so duidelik na die lewende God, die Skepper van die hemele en die aarde, wys. PeP 86.2
Daar word steeds voortdurende pogings aangewend om die skeppingswerk aan natuurlike oorsake toe te skryf en selfs belydende Christene aanvaar menslike redenasies in die plek van duidelike Skriftelike feite. Daar is baie mense wat die ondersoek van die profesieë teenstaan, veral dié van Daniël en Openbaring en verklaar dat hulle so duister is dat ons dit nie kan verstaan nie. Tog aanvaar hierdie selfde persone met gretigheid die bespiegelings van geoloë in teenstelling met die Mosaïese verhaal. Maar as die dinge wat God geopenbaar het dan so moeilik is om te verstaan, hoe inkonsekwent is dit om blote bespiegelinge aangaande die dinge wat Hy nie geopenbaar het nie te aanvaar! PeP 86.3
“Die verborge dinge is vir die Here onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid.” (Deuteronomium 29:29). Hoe God die skeppingswerk verrig het, het Hy nooit aan mense geopenbaar nie; menslike wetenskap kan nooit die verborgenhede van die Allerhoogste deurgrond nie. Sy skeppingsmag is net so onverstaanbaar soos Sy bestaan. PeP 86.4
God het toegelaat dat ‘n vloed van lig op die wêreld deur middel van beide die wetenskap en die kuns uitgestort word; maar wanneer beweerde wetenskaplikes hierdie onderwerpe uit ‘n bloot menslike oogpunt benader, sal hulle verseker tot die verkeerde gevolgtrekkings kom. Daar mag met onskuld oor dinge gespekuleer word wat nie in die Woord geopenbaar word nie, indien ons teorieë nie die feite wat in die Skrifte staan weerspreek nie; maar diegene wat die oorsake van die skepping buite die Bybel op blote wetenskaplike beginsels probeer bewys, vaar sonder kaart of kompas op ‘n onbekende see. PeP 86.5
Sonder leiding deur die Woord van God raak die grootste denkers in die war in hulle navorsing om die verhouding tussen die wetenskap en die openbaringe na te speur. Omdat die Skepper en Sy werke so ver bokant hulle begrip is dat hulle dit nie deur die natuurwette kan verduidelik nie, beskou hulle die Bybel as onbetroubaar. Diegene wat die betroubaarheid van die rekords van die Ou en die Nuwe Testament betwyfel, sal ook ‘n stap verder gelei word en aan die bestaan van God twyfel en dan, omdat hulle hul anker verloor het, sal hulle oorgelaat word om tussen die rotse van ongeloof rondgeslinger te word. PeP 87.1
Sulke mense het die eenvoud van die geloof verloor. Daar moet ‘n vaste geloof in die Gesag van God van God se heilige Woord wees. Die Bybel moet nie aan menslike begrippe van die wetenskap getoets word nie. Menslike kennis is ‘n onbetroubare gids. Twyfelaars wat die Bybel lees net om hare te kloof kan, omdat hulle ‘n wanbegrip van beide die wetenskap en die openbaring het, aanspraak maak dat die een die ander weerspreek; maar as dit reg verstaan word, is die twee in volkome harmonie. Moses het onder leiding van die Gees van God geskryf en ‘n korrekte teorie van die geologie, sal nooit op ontdekkings, wat nie met sy woorde versoen kan word, aanspraak maak nie. Alle waarheid, of dit in die natuur of in openbaring is, is konsekwent in alle manifestasies. PeP 87.2
In die Woord van God word baie vrae aangeroer waarop die skranderste geleerdes nie kan antwoord nie. Ons aandag word op hierdie onderwerpe gevestig om aan ons te toon hoeveel dinge daar in selfs die gewone dinge van die alledaagse lewe is wat ons beperkte verstand, met al sy gewaande wysheid, nooit ten volle kan verstaan nie. PeP 87.3
Tog dink wetenskaplikes dat hulle die wysheid van God kan deurgrond; dit wat Hy kan doen of gedoen het. Die idee word algemeen aanvaar dat God deur Sy eie wette aan bande gelê word. Mense ontken of ignoreer Sy bestaan, of dink hulle kan alles verduidelik, selfs die werking van Sy Gees op die mensehart; en hulle het geen eerbied meer vir Sy Naam of vrees vir Sy almag nie. Hulle glo nie in die bonatuurlike nie en verstaan nie God se wette of Sy oneindige mag om Sy wil deur hulle te laat geskied nie. Die term “wette van die natuur” soos algemeen gebruik word, beskryf die dinge wat mense in staat was om te PeP 87.4
ontdek ten opsigte van die wette wat die fisiese wêreld beheer; maar hoe beperk en tog ver bokant die begrip van beperkte mense is hulle kennis en hoe uitgestrek is die veld waarop die Skepper, ooreenkomstig Sy eie wette, kan werk! PeP 88.1
Baie mense leer dat materie lewenskrag besit-dat sekere eienskappe aan materie toegeskryf word en dat dit dan toegelaat word om deur sy eie inherente krag te werk; en dat die werkinge van die natuur in harmonie met vasgestelde wette gelei word, waarmee God Self nie kan inmeng nie. Dit is valse wetenskap en word nie deur die Woord van God gesteun nie. Die natuur is ‘n slaaf van die Skepper. God hef nie Sy wette op of werk teenstrydig daarmee nie, maar Hy maak gedurig daarvan gebruik as Sy instrumente. Die natuur getuig van ‘n intelligensie, ‘n teenwoordigheid, ‘n dryfkrag, wat in en deur sy wette werk. In die natuur is daar die voortdurende werking van die Vader en die Seun. Christus sê: “My Vader werk tot nou toe en Ek werk ook.” (Johannes 5:17). PeP 88.2
In hulle lofsang wat in Nehemia opgeteken staan, het die Leviete gesing: “U is alleen die Here, U het die hemel, die hoogste hemel en al sy leërskare, gemaak, die aarde en alles wat daarop is, ... U hou dit alles in die lewe.” (Nehemia 9:6). Wat die skepping van hierdie aarde betref, het God Sy werk voltooi. Want “Hy het Sy werke van die grondlegging van die wêreld af volbring.” (Hebreërs 4:3). Maar Sy mag word steeds uitgeoefen in die instandhouding van die voorwerpe van Sy skepping. Dit is nie omdat die masjien wat eenkeer aan die werk gesit is, aanhou om op eie krag te werk, dat die pols klop en die een asemteug op die ander volg nie, maar elke asemteug, elke hartklop, is ‘n bewys van die allesoorheersende sorg van Hom in Wie ons ...”lewe en beweeg en is.” (Handelinge 17:28). Dit is nie uit eie krag dat die aarde sy milddadigheid jaar na jaar voortbring en voortgaan in sy omwenteling om die son nie. Die hand van God lei die planete en hou hulle in posisie in hulle ordelike mars deur die hemele. “Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie.” (Jesaja 40:26). Deur Sy krag groei die plante, kom die blare te voorskyn en ontluik die blomme. Hy laat “...op die berge gras uitspruit...” (Psalm 147:8) en dit is Hy wat die valleie vrugbaar maak. “Al die diere van die bos ... begeer hulle voedsel van PeP 88.3
God,” en elke skepsel, van die kleinste insek tot die mens, is daagliks van Sy voorsienigheid afhanklik. In die pragtige woorde van die psalmdigter: “Hulle almal wag op U ... U gee dit aan hulle, hulle tel dit op; U maak U hand oop, hulle word versadig met die goeie.” (Psalm 104:20,21,27,28). Sy woord beheer die elemente; Hy bedek die hemel met wolke en berei die reën vir die aarde. “Hy gee sneeu soos wol; Hy strooi ryp soos as.” (Psalm 147:16). “As Hy Sy stem laat hoor, is daar ‘n geruis van waters in die hemel; en Hy laat dampe opgaan van die einde van die aarde; Hy maak bliksems vir die reën en laat wind uitgaan uit sy voorraadskure.” (Jeremia 10:13). PeP 89.1
God is die Oorsprong van alles. Alle ware wetenskap is in harmonie met Sy werke; en alle ware onderrig lei tot gehoorsaamheid aan Sy gesag. Die wetenskap bring nuwe wondere aan die lig; dit sweef hoog en deursoek nuwe dieptes; maar dit bring niks uit die navorsing voort wat in stryd is met Goddelike openbaring nie. Onkunde mag probeer om valse begrippe van God te staaf deur beroepe op die wetenskap, maar die boek van die natuur en die geskrewe Woord werp lig op mekaar. Ons word dus gelei om die Skepper te aanbid en met intelligensie op Sy Woord te vertrou. PeP 89.2
Geen sterflike verstand kan die bestaan, die mag, die wysheid of die werke van die Oneindige Een ten volle begryp nie. Die gewyde skrywer sê: “Kan jy die dieptes van God peil? Of sal jy kan deurdring tot by die volmaaktheid van die Almagtige? Hoogtes van die hemel is dit-wat kan jy doen? Dieper as die doderyk wat kan jy weet? Langer as die aarde is die maat daarvan en breër as die see.” (Job 11:7-9). Die magtigste intellekte op aarde kan God nie deurgrond nie. Mense mag altyd navors, altyd leer en steeds strek die oneindigheid voor hulle uit. PeP 89.3
Steeds getuig die werke van die skepping van die almag en grootheid van God. “Die hemele vertel die eer van God en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.” (Psalm 19:2). Diegene wat die geskrewe woord as hulle raadgewer aanneem, sal ‘n hulpmiddel in die wetenskap vind om God te verstaan. “Want Sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in Sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik Sy ewige krag en Goddelikheid.” (Romeine 1:20). PeP 89.4