Patriarge en Profete
Hoofstuk 8—Na die Sondvloed
(Hierdie hoofstuk berus op Genesis 7:20 tot 9:17). PeP 78.1
Die water het vyftien el bokant die hoogste berg gestyg. Dit het dikwels vir die familie binne in die ark gevoel asof hulle gaan omkom soos die boot vir vyf lange maande, aan die genade van wind en golf oorgelaat, rondgeslinger is. Dit was ‘n groot beproewing; maar Noag se geloof het nie gewankel nie, want hy het die versekering gehad dat die Goddelike Hand aan die stuur was. PeP 78.2
Soos die water begin sak het, Het die Here die ark na ‘n beskutte plek tussen ‘n groep berge wat deur Sy mag bewaar gebly het, laat dryf. Die berge was nie ver uitmekaar nie en die ark het in daardie veilige oord heen en weer gedryf en is nie meer op die grenslose oseaan rondgeslinger nie. Dit was ‘n groot verligting vir die moeë, stormgeteisterde ark bewoners. PeP 78.3
Noag en sy gesin het gretig uitgesien na die weg dreinering van die waters, want hulle het verlang om weer vaste grond onder hulle voete voel. Veertig dae nadat die bergspitse sigbaar geword het, het hulle ‘n kraai, ‘n voël met ‘n fyn reuksin, uitgestuur om uit te vind of die aarde al droog was. Toe hy niks anders as water kon vind nie, het die voël aanhoudend heen en weer van die ark af gevlieg. Sewe dae later het hulle ‘n duif uitgestuur en omdat die voël nêrens ‘n rusplek kon vind nie, het hy na die ark teruggekeer. Noag het sewe dae gewag en weer die duif uitgestuur. Toe hy in die aand met ‘n olyfblaar in sy snawel terugkom, was daar groot blydskap. Later het Noag “...die deksel van die ark weggeneem en uitgekyk en die aarde was droog.” Maar hy het steeds geduldig in die ark bly wag. Omdat hy op bevel van God in die ark ingegaan het, het hy op uitdruklike bevele gewag om uit te gaan. PeP 78.4
Uiteindelik het ‘n engel van die hemel neergedaal, die swaar deur oopgemaak en die patriarg beveel om saam met sy gesin uit te gaan en elke lewende wese saam met hulle te neem. Te midde van die vreugde van hulle vrylating het Noag nie vergeet van Hom wat hulle deur Sy genadige sorg gered het nie. Sy eerste daad nadat hy die ark verlaat het, was om ‘n altaar te bou waarop hy van elke soort rein dier en elke soort rein voël geoffer PeP 78.5
het om aan God sy dank te betuig vir die verlossing en om sy geloof in Christus as die groot Soenoffer te bevestig. Hierdie offer was vir die Here welgevallig en gevolglik is nie net die patriarg en sy gesin daardeur geseën nie, maar ook almal wat op die aarde sou woon. “Die Here het die lieflike geur geruik en die Here het in sy hart gesê: Ek sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie ... Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.” Dit moes vir alle toekomstige geslagte as les dien. Noag het ‘n verwoeste aarde betree, maar voordat hy vir hom ‘n huis gebou het, het hy ‘n altaar vir God opgerig. Sy kudde was klein en hy het dit teen geweldige koste gered, nogtans het hy met blymoedigheid ‘n deel daarvan aan die Here geoffer as erkenning dat alles aan Hom behoort. Insgelyks behoort dit ook ons eerste oorweging te wees om ons vrywillige offergawes aan die Here te gee. Elke bewys van Sy genade en liefde teenoor ons moet in dankbaarheid erken word deur dade van toewyding en gawes aan Sy saak. PeP 79.1
Sodat mense nie voortdurend as gevolg van saampakkende wolke en vallende reëndruppels vir nog ‘n sondvloed moes vrees nie, het die Here Noag met ‘n belofte bemoedig: “Ek rig my verbond met julle op ... dat daar geen Vloed meer sal wees om die aarde te verwoes nie ... My boog gee Ek in die wolke; dit sal ‘n teken wees van die verbond tussen My en die aarde. As Ek dan wolke oor die aarde bring en hierdie boog verskyn in die wolke ... sal Ek dit aansien om gedagtig te wees aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens.” PeP 79.2
Hoe groot is die genadige liefde van God en Sy barmhartigheid teenoor Sy dwalende skepsele, dat Hy die pragtige reënboog as teken van Sy verbond met die mensdom in die wolke sit! Die Here beloof dat wanneer Hy die boog sien, Hy aan Sy verbond sal dink. Dit wil nie impliseer dat Hy dit ooit sal vergeet nie, maar Hy spreek tot ons in ons eie taal sodat ons Hom beter kan verstaan. Dit was God se doel dat, wanneer die kinders van toekomstige generasies sou wou weet wat die betekenis van die lieflike boog aan die hemele is, hulle ouers die verhaal van die sondvloed moes herhaal en aan hulle vertel dat die Allerhoogste die boog gebuig en in die wolke gehang het as versekering dat die waters nooit weer die aarde sou oorstroom nie. So sou dit van geslag tot geslag vir die mensdom ‘n PeP 79.3
getuienis van die liefde van God wees en sy vertroue in God versterk. PeP 80.1
In die hemel, omring die gedaante van ‘n reënboog die troon en oorkoepel die hoof van Christus. Die profeet sê: “Soos die gedaante van die boog wat in die wolk is op ‘n reëndag, so het die glans rondom [die troon] gelyk. So het die verskyning van die heerlikheid van die Here gelyk.” (Esegiël 1:28). Die openbaarder verklaar: “Daar staan ‘n troon in die hemel en Een sit op die troon ... En rondom die troon was ‘n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos ‘n smarag” (Openbaring 4:2,3). Wanneer ‘n mens as gevolg van sy buitensporige goddeloosheid die oordele van God verdien, doen die Verlosser voorspraak vir hom by die Vader en Hy wys na die boog in die wolke en na die reënboog rondom die troon en bokant Sy eie hoof as ‘n teken van die genade van God teenoor die boetvaardige sondaar. PeP 80.2
Met die versekering wat Hy in verband met die sondvloed aan Noag gegee het, het God self een van die kosbaarste beloftes van Sy genade daaraan gekoppel: “Soos Ek gesweer het dat die waters van Noag nie meer oor die aarde sou gaan nie, so het Ek gesweer dat Ek nie op jou toornig sal wees of jou sal dreig nie. Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou nie wyk nie en my vredesverbond nie wankel nie, sê die Here, jou Ontfermer.” (Jesaja 54:9,10). PeP 80.3
Toe Noag die sterk roofdiere saam met hom uit die ark sien kom, het hy gevrees dat hulle sy klein gesin, wat uit agt persone bestaan, om die lewe sou bring. Maar die Here het ‘n engel met ‘n gerusstellende boodskap na Sy dienskneg gestuur: “Die vrees en die skrik vir julle sal wees oor al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel: alles wat op die aarde beweeg en al die visse van die see. Hulle is in julle hand oorgegee. Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees. Net soos die groen plante, gee Ek dit alles aan julle.” Voor daardie tyd het die Here nie aan die mens verlof gegee om dierevoedsel te gebruik nie; dit was Sy plan dat die mensdom net van die opbrengs van die aarde sou leef; maar noudat elke groenigheid vernietig was, het Hy aan hulle verlof gegee om van die vleis van die rein diere wat in die ark bewaar was, te eet. PeP 80.4
Die hele oppervlak van die aarde is as gevolg van die sondvloed verander. ‘n Derde skrikwekkende vloek het as PeP 80.5
gevolg van sonde daarop gerus. Toe die water begin sak, was die heuwels en berge omring met ‘n uitgestrekte, troebel see. Orals is die liggame van dooie mense en diere gestrooi. Die Here wou nie toelaat dat hulle daar lê en ontbind om die lug te besoedel nie en daarom het Hy van die aarde een groot begraafplaas gemaak. ‘n Geweldige wind wat bestem was om die waters op te droog het gewaai en die waters so onstuimig gemaak dat dit in sommige gevalle bergtoppe weggeruk en bome en rotse en grond bo-op die dooie liggame neergewerp het. Op dieselfde wyse is die silwer en die goud, die keurige hout en die edelgesteentes wat die wêreld voor die sondvloed verryk en versier het en waarvan die mense afgode gemaak het, vir die soekende oë van die mensdom verberg. Die geweld van die water het grond en rotse bo-oor hierdie skatte opgestapel en in sommige gevalle selfs berge oor hulle laat verrys. God het gesien dat, hoe meer hy sondige mense verryk en voorspoedig maak, hoe meer korrup sou hulle in hul weë voor Hom raak. Die skatte waarvoor hulle die milde Gewer moes verheerlik is aanbid, terwyl God onteer en verag is. PeP 81.1
Die aarde was ‘n onbeskryflike toneel van verwarring en verwoesting. Die berge wat voorheen so perfek simmetries was, was gebroke en onreëlmatig. Klippe, rotslyste en skurwe rotse was nou orals op die oppervlak van die aarde gestrooi. Op baie plekke het berge en heuwels verdwyn met geen aanduiding van waar hulle voorheen gestaan het nie; en die vlaktes het in bergreekse verander. Hierdie veranderinge was in sommige plekke meer merkbaar as in ander. Waar die aarde se rykste skatte van goud, silwer en edelgesteentes eers was, is die ergste tekens van die vloek gesien. En in lande wat voorheen onbewoon was en waar die minste misdaad was, het die vloek meer ligtelik getref. PeP 81.2
Geweldig woude is tydens die Vloed begrawe. Hulle het sedertdien in steenkool verander sodat daar tans groot steenkool-neerslae is, wat groot hoeveelhede olie voortgebring het. Die steenkool en die olie raak dikwels aan die brand en veroorsaak groot vure onder die oppervlakte van die aarde. Die rotse word warm, kalksteen word gebrand en ystererts smelt. Die uitwerking van die water op die kalk verhoog die hitte hewiglik en veroorsaak aardbewings, vulkane en brandende uitvloeisels. Wanneer die vuur en die water met rotslae en erts PeP 81.3
in aanraking kom, is daar groot ondergrondse ontploffings wat soos gedempte donderslae klink. Die lug is warm en verstikkend. Vulkaniese uitbarstings volg; en dikwels, omdat hulle nie volkome in staat is om die warm elemente vry te laat nie, is daar hewige skuddings. Die aarde vibreer en golf soos die branders van die see, groot skeure verskyn en soms word stede, dorpe en brandende berge daarin opgeslurp. Hierdie wonderbare manifestasies sal meer dikwels en met meer intensiteit toeneem kort voor die wederkoms van Christus en die einde van die wêreld, as tekens van die naderende vernietiging van die aarde. PeP 82.1
Die dieptes van die aarde is die Here se arsenaal waaruit die wapens vir die verwoesting van die antieke wêreld geneem is. Water het uit die aarde opgespuit om saam met die water uit die hemel die vernietigingswerk te verrig. Sedert die sondvloed het God sowel vuur as water gebruik om uiters goddelose stede te vernietig. Hierdie oordele word gestuur sodat diegene wat die wet van God met minagting bejeën en Sy gesag vertrap, voor Sy mag kan bewe en Sy regverdige soewereiniteit kan erken. Soos die mense aanskou het hoe brandende berge, vuur en vlamme en strome gesmelte erts uitstort wat riviere opdroog, digbevolkte stede verwoes en orals puin en verwoesting saai, is die dapperste harte met vrees gevul en ongelowiges en lasteraars is gedwing om die oneindige mag van God te erken. PeP 82.2
Met verwysing na tonele soos hierdie, het die profete van ouds gesê: “Ag, as U maar die hemele wou skeur, wou neerdaal, dat die berge wankel voor u aangesig soos vuur die houtjies aan die brand steek, vuur die water laat opborrel om u Naam aan u teëstanders bekend te maak, sodat nasies voor u aangesig kan bewe wanneer U vreeslike dinge doen waar ons nie op gehoop het nie-as U maar wou neerdaal, sodat die berge wankel voor u aangesig” (Jesaja 64:1-3). “Sy weg is in warrelwind en in storm en wolke is die stof van sy voete. Hy dreig die see en maak dit droog en laat al die riviere opdroog” (Nahum 1:3,4). PeP 82.3
Geweldiger openbaringe van die almag van God as wat die wêreld nog ooit aanskou het, sal tydens die wederkoms van Christus plaasvind. “Die berge bewe voor Hom en die heuwels smelt weg; en die aarde rys op voor sy aangesig, ja, die wêreld en almal wat daarin woon. Wie sal standhou voor sy PeP 82.4
grimmigheid? En wie sal bestand wees teen die gloed van sy toorn?”(Nahum 1:5,6). “Buig u hemele, Here en daal neer; raak die berge aan, dat hulle rook! Slinger bliksems en verstrooi hulle; stuur u pyle uit en verwar hulle!” (Psalm 144:5,6). PeP 83.1
“Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp.” (Handelinge 2:19). “En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale en daar het ‘n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie-so ‘n geweldige groot aardbewing.” “En alle eilande het gevlug en berge is daar nie gevind nie; en groot hael, omtrent ‘n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval.” (Openbaring 16:18,20,21). PeP 83.2
Wanneer bliksems uit die hemel met die vuur van die aarde meng, sal die berge soos ‘n oond brand en skrikwekkende strome lawa uitstort wat tuine en landerye, dorpies en stede oorweldig. Siedende gesmelte massas materie sal in die riviere gewerp word en die waters sal kook en groot rotse met onbeskryflike geweld daaruit ruk om hulle brokstukke oor die land te strooi. Riviere sal opdroog. Die aarde sal skud en orals sal daar skrikwekkende aardbewings en uitbarstings wees. PeP 83.3
So sal God die goddeloses van die aarde af verdelg. Maar die regverdiges sal te midde van hierdie omwentelinge bewaar word net soos Noag in die ark bewaar is. God sal hulle toevlug wees en onder Sy vleuels sal hulle skuil. Die psalmdigter sê: “Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak. Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie.” (Psalm 91:9,10). “Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent.” (Psalm 27:5). “Omdat hy My liefhet, spreek God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken. ” (Psalm 91:14). PeP 83.4