Patriarge en Profete

9/75

Hoofstuk 7—Die Sondvloed

(Hierdie hoofstuk berus op Genesis 6 en 7) PeP 63.1

In die dae van Noag het daar, as gevolg van Adam se oortreding en die moord wat Kain gepleeg het, ‘n dubbele vloek op die aarde gerus. Dit het egter geen merkbare verskil in die voorkoms van die natuur gemaak nie. Daar was sigbare tekens van verval, maar die aarde was nog steeds weelderig en wonderskoon in die gawes van God se voorsienigheid. Die heuwels was gekroon met majestueuse bome, wat die vrug belaaide takke van die wingerdstok ondersteun het. Die wyd uitgestrekte vlaktes was in pragtige groen gedos, soet met die geur van duisende blomme. Daar was ‘n groot verskeidenheid vrugte, amper onbeperk, op die aarde. Die bome het alle bome wat vandag bestaan ver oortref in grootte, prag en perfekte verhouding, waarvan die hout fyn van draad en uiters hard was, amper soos klip en byna net so duursaam. Daar was ‘n oorvloed van goud, silwer en edelgesteentes. PeP 63.2

Die mensdom het nog baie van sy oorspronklike krag behou. Slegs ‘n paar geslagte het verbygegaan sedert Adam toegang gehad het tot die boom wat die lewe sou verleng en die mens se bestaan is steeds in eeue gemeet. As daardie langslewende mense, met hulle rare begaafdheid om te beplan en uit te voer, hulleself aan die diens van God gewy het, sou hulle hul Skepper se Naam ‘n lof op aarde gemaak het en aan die doel beantwoord het waarvoor Hy hulle in die lewe geroep het. Maar hulle het dit nie gedoen nie. Daar was baie reuse, mense groot van gestalte en krag, bekend vir hulle wysheid en hulle vernuf om die mees kunstige en wonderlikste werke tot stand te bring; maar hulle sonde om vrye teuels aan ongeregtigheid te gee, was in verhouding met hulle bedrewenheid en verstandelike vermoëns. PeP 63.3

God het die antediluviane met baie kosbare gawes bedeel, maar hulle het Sy gunste misbruik om hulleself te verheerlik en dit in ‘n vervloeking verander omdat hulle die gawes hoër as die Gewer geag het. Hulle het die goud, die silwer, die edelgesteentes en die keurigste hout gebruik om vir hulself wonings te bou en daarna gestreef om mekaar te oortref met die versiering van hulle wonings met die mees vaardigste PeP 63.4

vakmanskap. Hulle enigste strewe was om die verlangens van hul eie trotse harte te bevredig en hulle het hul verlustig in tonele van plesier en boosheid. Met geen begeerte om die kennis van God te bewaar nie, het hulle spoedig Sy bestaan ontken. Hulle het die natuur in stede van die God van die natuur aanbid. Hulle het menslike genialiteit verheerlik, die werke van hulle eie hande aanbid en hulle kinders geleer om hulle voor gesnede beelde neer te buig. PeP 64.1

Op die groen velde en in die koelte van die sierlike bome het hulle altare vir hul afgode gebou. Uitgebreide immergroen bosse is aan afgodediens gewy. Tussen hierdie bosse was pragtige tuine, met lang kronkelende wandelpaaie, oorhang met vrugdraende bome van alle soorte, versier met beelde en toegerus met alles wat sinlike genot kon verskaf of die wellustige begeertes van die mense kon bevredig hulle te lok om deel te neem aan die aanbidding van afgode. PeP 64.2

Mense het alle kennis van God uit hulle gedagtes verban en die skeppings van hul eie verbeelding aanbid en as gevolg daarvan het hulle al meer ontaard. Die psalmdigter beskryf die effek op die aanbidder van die aanbidding van afgode. Hy sê: “Die wat hulle maak, sal net soos hulle word-elkeen wat op hulle vertrou” (Psalm 115:8). Dit is ‘n wet van die menslike verstand dat, deur te aanskou, word ons verander. Die mens sal niks hoër styg as sy eie begrippe van waarheid, reinheid en heiligheid nie. As die gedagtes nooit bo die vlak menslikheid verhef word nie, as dit nie deur geloof opgehef word om oor oneindige wysheid en liefde te besin nie, sal die mens voortdurend al laer en laer sink. Die aanbidders van valse gode het menslike hoedanighede en hartstogte aan hulle gode toegeskryf en gevolglik het die standaard van hul karakter verval tot dié van die sondige mensdom. As gevolg daarvan is hulle verontreinig. Die Here het gesien “...dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was ... Die aarde was verdorwe voor die aangesig van God en die aarde was vol geweld.” God het Sy gebooie as ‘n lewenswyse aan die mensdom gegee, maar Sy wet is oortree en elke denkbare sonde was die gevolg. Die boosheid van mense was openlik en uitdagend, PeP 64.3

geregtigheid is in die grond vertrap en die roepstem van die verdruktes het tot in die hemel gestyg. PeP 65.1

Veelwywery is reeds vroeg, teenstrydig met die aanvanklike bepalings van God, aangehang. Die Here het aan Adam net een vrou gegee en sy bevel in hierdie verband neergelê. Maar na die sondeval het die mense verkies om hul eie sondige begeertes te volg; en as gevolg daarvan het misdadigheid en ellende spoedig toegeneem. Nie die huwelik of eiendomsreg is gerespekteer nie. Enigiemand wat sy naaste se vrou of besittings begeer het, het dit met geweld geneem en die mense het hulle in hul dade van geweld verlustig. Hulle het genot gevind in die vernietiging van die lewe van diere; en die gebruik van vleis vir voedsel het hulle meer wreedaardig en bloeddorstig gemaak, totdat hulle ook die lewe van ‘n mens met weersinswekkende onverskilligheid bejeën het. PeP 65.2

Die wêreld was in sy kinderskoene, maar die ongeregtigheid het so ernstig toegeneem, dat God dit nie langer kon verduur nie en Hy het gesê: “Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg.” Hy het verklaar dat Sy Gees Hom nie altyd met die skuldige mensdom sou bemoei nie. As hulle nie ophou om die wêreld en sy ryke skatte met hul sondes te besoedel nie, sou Hy hulle uit Sy skepping verdelg en die dinge waarin Hy ‘n behae gevind het om hulle te seën, verwoes; Hy sou die diere van die veld en die plantegroei wat so ‘n oorvloed van voedsel voorsien het vernietig en die mooi aarde in een groot toneel van verwoesting omskep. PeP 65.3

Te midde van die heersende korrupsie, het Metusalag, Noag en talle ander, gearbei om die kennis van die ware God lewendig te hou en die vloedgolf van sedeloosheid te keer. Honderd-en-twintig jaar voor die Vloed het die Here, deur ‘n heilige engel, Sy plan aangekondig en hom beveel om ‘n ark te bou. Terwyl hy die ark gebou het, moes hy verkondig dat God ‘n watervloed oor die aarde sou bring om die goddeloses te verdelg. Diegene wat sy boodskap sou glo en hulle deur bekering en hervorming vir daardie gebeurtenis sou voorberei, sou vergifnis ontvang en gered word. Henog het aan sy kinders herhaal wat God aan hom aangaande die Vloed bekend gemaak het en Metusalag en sy seuns wat nog geleef het om Noag te hoor preek, het hom met die bou van die ark bygestaan. PeP 65.4

God het die presiese afmetings van die ark, met uitdruklike aanwysings ten opsigte van die oprigting daarvan in elke besonderheid, aan Noag gegee. Geen menslike verstand kon ‘n struktuur wat so sterk en duursaam was self uitgedink het nie. God was die ontwerper en Noag was die meesterbouer. Dit is soos die romp van ‘n skip gebou sodat dit op die water kon dryf, maar in sommige opsigte was dit meer soos ‘n huis. Dit was drie verdiepings hoog met net een deur aan die sykant. Die lig is van bo af ingelaat en die verskillende vertrekke is so gerangskik dat elkeen verlig was. Die materiaal wat in die oprigting van die ark gebruik is, was van sipres-of goferhout wat honderde jare lank sou duur sonder om te verrot. Die bou van hierdie ontsaglike struktuur was ‘n langsame en moeisame taak. Omdat die bome so groot en die hout so hard was, het dit veel meer werk, as wat tans die geval sou wees, geverg om die hout voor te berei, selfs met die groter krag waaroor die mense op daardie stadium beskik het. Alles wat ‘n mens kon doen om die werk perfek af te handel, is gedoen, maar die ark kon steeds nie vanself die storm wat oor die aarde sou kom, oorleef nie. Slegs God alleen kon Sy diensknegte op die onstuimige waters bewaar. PeP 66.1

“Deur die geloof het Noag, toe hy ‘n Goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en ‘n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is.” (Hebreërs 11:7). Terwyl Noag sy waarskuwende boodskap aan die wêreld verkondig het, het sy werke van sy opregtheid getuig. So is sy geloof vervolmaak en duidelik gemaak. Hy het aan die wêreld ‘n voorbeeld van wat dit is om absoluut te glo wat God sê, gegee. Hy het alles wat hy besit het in die ark belê. Toe hy daardie geweldige groot skip op droë grond begin bou, het menigtes vanuit alle rigtings gekom om die vreemde gesig te aanskou en om die ernstige, aangrypende woorde van hierdie sonderlinge prediker te hoor. Elke hamerslag aan die ark was ‘n getuienis vir die mense. PeP 66.2

Eers het dit geblyk asof baie mense die waarskuwing aanneem, maar hulle het nie met ware berou hulle tot God bekeer nie. Hulle was onwillig om van hulle sondes af te sien. Gedurende die tyd voor die koms van die Vloed is hulle geloof op die proef gestel en het hulle die toets nie deurstaan nie. Hulle PeP 66.3

is deur die heersende ongeloof meegesleur en het saam met hulle vorige metgeselle, die plegtige boodskap verwerp. Sommige was diep oortuig en sou ag geslaan het op die woorde van waarskuwing, maar daar was so baie van hulle wat gespot en gelag het, dat hulle in dieselfde gees gedeel en die genadige uitnodigings versmaai het en spoedig onder die vermetelste en mees uittartende spotters was; want niemand is so roekeloos en gaan tot sulke lengtes in sondigheid, soos diegene wat eenmaal die lig gehad het, maar die oortuigende Gees weerstaan het nie. PeP 67.1

Die mense van daardie geslag was nie almal in die volle sin van die woord, afgodsdienaars nie. Baie van hulle het beweer dat hulle God aanbid. Hulle het beweer dat hulle afgodsbeelde voorstellings van die Godheid was en dat die mense daardeur ‘n duideliker konsep van die Goddelike Wese sou kry. Hierdie klas het die voortou geneem in die verwerping van Noag se prediking. Soos hulle gepoog het om God deur materiële voorwerpe voor te stel, is hulle verstand verblind vir Sy majesteit en mag; hulle het nie meer ‘n besef gehad van die heiligheid van Sy karakter of die heilige, onveranderlikheid van Sy vereistes nie. Namate sonde meer algemeen geword het, het dit minder en minder sondig voorgekom en hulle het uiteindelik verklaar dat die Wet van God nie meer geldig was nie; dat dit teenstrydig was met die aard van God om oortreding te straf; en hulle het ontken dat Sy oordele oor die aarde sou kom. As die mense van daardie generasie die Wet van God gehoorsaam het, sou hulle die stem van God in die waarskuwing van Sy dienskneg herken het; maar hulle het geestelik so verblind geraak omdat hulle die lig verwerp het, dat hulle waarlik geglo het Noag se boodskap is ‘n misleiding. PeP 67.2

Die oorgrote meerderheid het nie aan die kant van reg gestaan nie. Die wêreld het die regverdigheid en die wette van God teengestaan en Noag is as ‘n fanatikus afgemaak. Toe die Satan Eva versoek het om aan God ongehoorsaam te wees, het hy aan haar gesê: “Julle sal gewis nie sterwe nie.” (Genesis 3:4). Beroemde manne, wêrelds, geëerd en wyse manne, het hom nagepraat. “Die dreigemente van God...” het hulle gesê, “...is bedoel om mense te intimideer en sal nooit uitgevoer word nie. Julle hoef nie bang te wees nie. Die God wat die wêreld gemaak het, sal dit nooit vernietig nie en Hy sal die mense wat Hy gemaak het, nooit straf nie. Wees gerus; moenie bang wees nie. PeP 67.3

Noag is ‘n wilde fanatikus.” Die wêreld het die draak gesteek met die dwaasheid van die misleide ou man. In stede daarvan dat hulle hul harte voor God verootmoedig het, het hulle in hul ongehoorsaamheid en goddeloosheid volhard asof God nie deur Sy dienskneg tot hulle gespreek het nie. PeP 68.1

Noag het egter soos ‘n rots in die storm vasgestaan. Omgewe met bespotting en veragting, het hy homself onderskei in heilige eerbaarheid en onwankelbare getrouheid. Sy woorde was vol krag, want dit was die stem van God aan die mens deur Sy dienskneg. Sy verbintenis met God het hom, in die krag van Goddelike Mag, versterk terwyl sy ernstige stem honderd-en-twintig jaar lank tot die ore van daardie geslag gespreek het oor gebeurtenisse wat, uit ‘n menslike oogpunt beskou, onmoontlik was. PeP 68.2

Die wêreld voor die Vloed het geredeneer dat die natuurwette reeds vir honderde jare vasgestel is. Die seisoene het mekaar steeds opgevolg. Tot op hede het dit nog nooit gereën nie; die aarde is deur ‘n mis of dou bevogtig. Riviere het nog nooit hulle perke oorskrei nie, maar het hulle waters veilig na die see gevoer. Vasgestelde orde het die waters weerhou om hulle walle te oorstroom. Maar hierdie redenaars het nie die Hand bespeur van Hom wat die waters gekeer het nie, en wat gesê het: “Tot hiertoe mag jy kom en nie verder nie” (Job 38:11). PeP 68.3

Met verloop van tyd, sonder enige merkbare veranderinge in die natuur, het sommige mense, wie se harte soms van vrees gebewe het, gerus begin raak. Hulle het, soos vele tans, geredeneer dat die natuur bo die God van die natuur is en dat die natuurwette so stewig vasstaan, dat selfs God hulle nooit kan verander nie. Hulle het geredeneer dat indien die boodskap van Noag waar was, die natuur van koers af sou wees; derhalwe het die wêreld daardie boodskap as ‘n misleiding, as ‘n groot bedrog, beskou. Hulle het hulle minagting vir die boodskap van God getoon deur presies te doen wat hulle gedoen het voordat die waarskuwing gegee is. Hulle het voortgegaan met hulle feestelikhede en swelgpartye; hulle het geëet en gedrink, geplant en gebou en hulle planne, met die oog op toekomstige vooruitgang, beraam; en hulle het hulself nog meer te buite gegaan in goddeloosheid en verontagsaming van die vereistes van God en getoon dat hulle die Oneindige nie vrees nie. Hulle PeP 68.4

het aangevoer dat indien daar enige waarheid in Noag se waarskuwing steek, sou die manne van aansien, die wyses, die skranderes, die grotes, wel bekend met die saak sou wees. PeP 69.1

As die antediluviane die waarskuwing geglo en hulle van hul boosheid bekeer het, sou die Here Sy toorn afgewend het, net soos Hy later met Nineve gedoen het. Maar deur hulle hardkoppige weerstand teen die bestraffings van hul gewetes en die waarskuwings van God se profeet, het daardie generasie die beker van hulle ongeregtigheid gevul en ryp geword vir verdelging. PeP 69.2

Hulle genadetyd was byna verstreke. Noag het die opdrag wat hy van God ontvang het, getrou uitgevoer. Die ark was in elke opsig voltooi soos God beveel het en daar was ruim voorrade voedsel vir mens en dier. En nou het die dienskneg van God sy laaste ernstige beroep op die mense gedoen. Met ‘n brandende begeerte, wat nie in woorde uitgespreek kan word nie, het hy hulle gesmeek om veiligheid te soek terwyl dit nog te vinde was. Weer het hulle sy woorde verwerp en hulle stemme verhef in ‘n geskerts en bespotting. PeP 69.3

Skielik het ‘n stilte die spottende skare oorval. Diere van elke beskrywing, die wreedste asook die mees saggeaarde, het uit berg en bos te voorskyn gekom en stilweg hulle pad na die ark toe gevind. ‘n Geluid soos dié van ‘n sterk wind is gehoor en kyk, ‘n groot aantal voëls wat die lug verdonker het, het uit alle windrigtings aangevlieg gekom en in volmaakte orde die ark binnegegaan. Diere het die bevel van God gehoorsaam terwyl mense ongehoorsaam was. Onder leiding van heilige engele het hulle “...twee-twee na Noag in die ark gegaan...” en van die rein diere het sewe paar van elk ingegaan. Die wêreld het in verwondering, sommige met vrees, toegekyk. Filosowe is gevra om die sonderlinge verskynsel te verduidelik, maar tevergeefs. Dit was ‘n verborgenheid wat hulle nie kon peil nie. Maar die mense was so verhard deur hulle hardnekkige verwerping van lig, dat selfs hierdie toneel slegs ‘n tydelike indruk op hulle gelaat het. Terwyl hierdie gedoemde geslag die son in al sy luister en die aarde, omgeef in sy byna Edenagtige skoonheid, aanskou het, het hulle hul opwellende vrees met uitbundige vrolikheid verban en as gevolg van hulle dade van geweld, was dit asof hulle die reeds ontwaakte toorn van God oor hulleself uitlok. PeP 69.4

God het Noag beveel: “Gaan in die ark, jy en jou hele huisgesin, want jou het Ek regverdig bevind voor my aangesig in hierdie geslag.” Noag se waarskuwings is wel deur die wêreld verwerp, maar sy invloed en sy voorbeeld was vir sy huisgesin ‘n seën. As beloning vir sy getrouheid en eerbaarheid, het God al die lede van sy gesin saam met hom gered. Wat ‘n aanmoediging vir ouerlike getrouheid! PeP 70.1

Genade het nie meer vir die skuldige geslag gepleit nie. Die diere van die veld en die voëls van die hemele het in die skuilplek ingegaan. Noag en sy gesin was in die ark “...en die Here het agter hom toegesluit.” ‘n Flits van verblindende lig is gesien en ‘n wolk van heerlikheid, helderder as die weerlig het van die hemel neergedaal en oor die ingang van die ark gehang. Die massiewe deur, wat vir diegene wat daarbinne was onmoontlik was om toe te maak, is stadig deur ‘n onsigbare hand toegeswaai. Noag is ingesluit en die verwerpers van God se genade is uitgesluit. Die seël van die Hemel was op daardie deur; God het dit gesluit en slegs God kon dit oopmaak. So sal die deur van genade gesluit word wanneer Christus Sy werk as Bemiddelaar staak, voordat Hy met die wolke van die hemel kom. Dan sal Die genade van God nie langer die goddeloses terughou nie en Satan volle beheer oor diegene wat die genade verwerp het, uitoefen. Hulle sal probeer om die volk van God te vernietig, maar net soos Noag in die ark toegesluit was, so sal die regverdiges deur die krag van God beskerm word. PeP 70.2

Sewe dae nadat Noag en sy gesin in die ark ingegaan het, was daar nog geen teken van die komende storm nie. Gedurende hierdie tydperk is hulle geloof getoets. Vir die wêreld daarbuite was dit ‘n tyd van triomf. Die skynbare vertraging het hulle oortuig dat Noag se boodskap ‘n misleiding was en dat daar nooit ‘n vloed sou wees nie. Nieteenstaande die plegtige tonele wat hulle aanskou het-die voëls en diere se toetrede tot die ark en engel van God wat die deur sluit-het hulle steeds voortgegaan met hul pret en gefuif en hulle het selfs die spot gedryf met hierdie sonderlinge openbarings van God se mag. Hulle het in skares rondom die ark saamgedrom en die spot gedryf met diegene binne die ark met uitdagende geweld soos hulle nooit voorheen durf waag het nie. PeP 70.3

Maar op die agtste dag het donker wolke aan die hemele saamgepak. Dit het begin donder en die weerlig het geblits. Spoedig het groot reëndruppels begin val. Nooit vantevore het die wêreld so iets aanskou nie en mense se harte het van vrees gebewe. Elkeen het homself heimlik afgevra: “Kan dit wees dat Noag miskien gelyk gehad het en dat die wêreld tot verdelging gedoem is?” Die hemel het donkerder en donkerder geword en die reën het al vinniger geval. Die diere het vreesbevange rondgemaal en dit was asof die wanklanke van hulle krete hul eie lotsbestemming en die lot van die mensdom bekla. Toe “...is al die fonteine van die groot watervloed oopgebreek en die sluise van die hemel is geopen.” Dit het gelyk asof strome water in magtige buie uit die wolke neerstort. Riviere het oor hulle walle gebreek en die valleie oorstroom. Strale water het met onbeskryflike geweld uit die aarde gebars en massiewe rotse is honderde voet in die lug gewerp en hierdie rotse, in hulle val het diep in die grond ingegrawe. PeP 71.1

Die mense het eers aanskou hoe die werk van hulle hande vernietig word. Hulle manjifieke geboue en die lieflike tuine en bosse waarin hulle hul afgode geplaas het, is deur weerlig uit die hemel verwoes en die puin is wyd en syd verstrooi. Die altare waarop menslike offers gebring was, is afgebreek en die aanbidders is gedwing om voor die mag van die lewende God te sidder en om te besef dat dit hulle verdorwenheid en afgodery was wat hulle vernietiging op hulle laat neerkom het. PeP 71.2

Soos die geweld van die storm toegeneem het, is bome, geboue, rotse en grond in alle rigtings geslinger. Die vrees van mens en dier was onbeskryflik. Die gejammer van die mense wat die gesag van God verag het, is bo die geloei van die storm gehoor. Selfs Satan, wat gedwing was om te midde van die strydende elemente te bly, het vir sy eie voortbestaan gevrees. Met groot genoeë het hy hierdie sterk generasie beheer en het begeer dat hulle moes leef om met hulle gruwels aan te hou en hulle opstand teen die Heerser van die hemel voort te sit. Nou het hy God verwens en van onreg en wreedheid beskuldig. Soos die Satan, het baie van die mense teen God gelaster en indien dit vir hulle moontlik was, sou hulle Hom van Sy troon van mag afgeruk het. Ander was rasend van vrees en het hulle hande in die rigting van die ark uitgestrek en gesmeek om ingelaat te word. Maar hulle smekinge was tevergeefs. Eindelik is hulle PeP 71.3

gewete aangekla om te besef dat daar ‘n God is wat in die hemele regeer. Hulle het Hom in alle erns aangeroep, maar Sy oor was doof vir hulle roepstem. In daardie vreeslike uur het hulle besef dat die oortreding van God se wet hulle ondergang veroorsaak het. Nogtans, terwyl hulle uit vrees vir straf hulle sonde bely het, het hulle geen ware berou en geen afsku vir sonde ervaar nie. Indien die oordeel afgestel was, sou hulle teruggekeer het na hulle uittarting van die Hemel. Net so sal, wanneer die oordele van God oor die aarde kom voordat dit met vuur verdelg word, die onboetvaardiges ook presies weet waar en wat hulle sonde is, naamlik dat hulle Sy heilige wet verag het. Nogtans sal hulle geen groter opregte berou hê as die sondaars van die antieke wêreld nie. PeP 72.1

Sommige het in hulle wanhoop by die ark probeer inbreek, maar hulle pogings kon niks teen die stewige struktuur uitrig nie. Sommige het daaraan vasgeklou totdat die malende waters hulle meegesleur het, of totdat hulle deur botsings met rotse en bome afgestamp is. Die massiewe ark het in elke vesel gesidder toe dit deur die genadelose wind rondgeruk en van die een golf na die ander geslinger is. Die krete van die diere binne in die ark het hulle angs en pyn uitgeroep. Maar te midde van die strydende elemente is dit veilig bewaar. Magtige engele het opdrag ontvang om dit te bewaar. PeP 72.2

Die diere wat aan die storm blootgestel is, het na die mense toe gestorm asof hulle hulp by hulle gesoek het. Sommige mense het hulle kinders en hulself aan sterk diere vasgebind in die wete dat hulle taai was om te oorleef en tot op die hoogste pieke sou klim om die stygende waters te ontkom. Ander het hulle aan die toppe van die hoogste bome bo-op die heuwels of berge vasgebind; maar die bome is ontwortel en saam met hulle lading lewende wesens in die siedende branders gewerp. Een vir een plek van moontlike veiligheid is weggevoer. Namate die water hoë en hoër gestyg het, het die mense in die hoogste berge veiligheid gesoek. Dikwels het mens en dier saam geworstel vir ‘n staanplek totdat albei weggevoer is. PeP 72.3

Van die hoogste bergtoppe af het mense op ‘n strandlose oseaan neergekyk. Die plegtige waarskuwings van die dienskneg van God was nie langer ‘n onderwerp van spot en veragting nie. Hoe het daardie gedoemde sondaars nie verlang PeP 72.4

na die geleenthede wat hulle voorheen versmaai het nie! Hoe het hulle nie gepleit vir een uur se uitstel, vir nog ‘n geleentheid van genade, nog een oproep uit die mond van Noag nie! Maar die soet stem van genade is nie meer deur hulle gehoor nie. Liefde, nie minder as geregtigheid nie, het vereis dat God se oordele ‘n einde aan sonde moet maak. Die wraakgierige waters het die laaste skuilplek oorstroom en die veragters van God het in die donker dieptes omgekom. PeP 73.1

“Deur die woord van God ... die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het. Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.” (2 Petrus 3:5-7). Daar is nog “n storm aan die kom. Die aarde sal weer deur die verwoestende toorn van God vernietig word en dan sal sonde en sondaars saam verdelg word. PeP 73.2

Dieselfde sondes wat om wraak oor die antediluviane geroep het, bestaan vandag nog. Die vrees van God is uit die hart van die mens verban en Sy wet word met onverskilligheid en minagting bejeën. Die intense wêreldsheid van daardie generasie word deur die hedendaagse generasie geëwenaar. Christus het gesê: “Net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.” (Mattheus 24:38,39). God het die antediluviane nie veroordeel omdat hulle geëet en gedrink het nie; Hy het aan hulle ‘n oorvloed van die vrugte van die aarde gegee om in hulle fisiese behoeftes te voorsien. Hulle sonde was dat hulle die gawes sonder dankbaarheid teenoor die Gewer gebruik het en hulleself afgetakel het deur aan onbeheerste verlustiging oor te gee. PeP 73.3

Dit was hulle geoorloof om te trou. God het die huwelik ingestel; dit was een van die eerste dinge wat Hy ingestel het. Hy het spesifieke bepalings aangaande hierdie instelling neergelê en het dit met heiligheid en skoonheid beklee; maar hierdie voorskrifte het vergete geraak; die huwelik is misbruik om die hartstogte te bevredig. PeP 73.4

Dieselfde toestand heers vandag. Dit wat op sigself wettig is, word tot die uiterste gevoer. Daar word toegegee aan onbeheerste belustigheid. Beweerde navolgers van Christus eet en drink deesdae saam met die dronkaards terwyl hulle name as geëerde lidmate van die gemeente opgeteken staan. Oormatigheid verstomp die morele en geestelike vermoëns en berei die weg voor om toe te gee aan die verlaagde passies. Menigtes bevind hulleself onder geen morele verpligting om die sensuele begeertes in bedwang te hou nie en word slawe van wellus. Mense leef vir sinsgenot; slegs vir hierdie wêreld en hierdie lewe. Oordaad deurtrek alle kringe van die samelewing. Eerbaarheid word opgeoffer vir weelde en vertoon. Diegene wat rykdom najaag, verdraai die reg en verdruk die armes en “slawe en mensesiele” word steeds gekoop en verkoop. Bedrog en omkopery en diefstal duur ongestraf tussen die hoë en lae kringe voort. Die Koerante en tydskrifte wemel van berigte van moord-misdaad so koelbloedig en sonder oorsaak, dat dit blyk asof elke instink van menslikheid uitgedoof is. En hierdie gruweldade het so algemeen geword dat hulle byna geen kommentaar of verbasing meer ontlok het nie. Die nasies is met ‘n gees van anargie deurtrek en die uitbarstings wat van tyd tot tyd die afgryse van die wêreld ontlok het, is maar net aanduidinge van die onderdrukte opwellings van losbandigheid en wetteloosheid wat, nadat dit buite beheer is, die wêreld sal vul met ellende en verwoesting. Die beskrywing wat Inspirasie ons van die antediluviaanse wêreld gegee het, verteenwoordig waarlik die toestand waarheen die hedendaagse samelewing op pad is. Selfs tans, in die huidige eeu en in beweerde Christenlande, word daar daagliks misdade, wat net so swart en skrikwekkend is soos waarvoor die antieke wêreld vernietig is, gepleeg. PeP 74.1

Voor die sondvloed het die Here Noag gestuur om die wêreld te waarsku, sodat die mense hulle kon bekeer en so die dreigende verdelging kon ontvlug. Namate die tyd van Christus se wederkoms nader kom, stuur die Here weer Sy diensknegte uit met ‘n waarskuwing vir die wêreld om hulle vir daardie groot gebeurtenis voor te berei. Menigtes het die wet van God oortree en nou roep Hy hulle, in genade, om die heilige voorskrifte te gehoorsaam. Aan almal wat hulle deur geloof in Christus van hulle sondes bekeer, word vergifnis gebied. Maar baie voel PeP 74.2

egter dat dit ‘n te groot opoffering verg om van hulle sondes afstand te doen. Omdat hulle lewenswandel nie met die suiwere beginsels van die sedelike regering van God ooreenstem nie, verwerp hulle Sy waarskuwings en loën hulle die gesag van Sy wet. PeP 75.1

Van die groot bevolking van die aarde voor die sondvloed het net agt siele die woord van God deur Noag geglo en gehoorsaam. Honderd-en-twintig jaar lank het die prediker van geregtigheid die wêreld teen die dreigende vernietiging gewaarsku, maar sy boodskap is verwerp en verag. So sal dit ook tans wees. Voordat die Wetgewer kom om die ongehoorsames te straf, word die oortreders vermaan om hulle te bekeer en tot hulle eerste trou terug te keer, maar vir die meerderheid sal hierdie waarskuwing tevergeefs wees. Die apostel Petrus sê: “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van Sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.” (2 Petrus 3:3,4). Hoor ons nie ‘n herhaling van hierdie einste woorde, nie slegs van die openlike goddeloses nie, maar van baie wat op die kansel staan, nie? Hulle roep uit: “Daar is geen rede vir vrees nie! Voordat Christus kom, sal die ganse wêreld tot inkeer kom en geregtigheid sal duisend jaar lank regeer. Vrede, vrede! alles bly soos dit van die begin van die skepping was. Julle moet julle nie deur die prediking van hierdie doemprofete op loop laat jaag nie.” Maar hierdie leerstelling oor die millennium stem nie ooreen met die leringe van Christus en Sy apostels nie. Jesus het die betekenisvolle vraag gestel: “As die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Lukas 18:8). En soos ons gesien het, verklaar Hy dat die toestand van die wêreld soos in die dae van Noag sal wees. Paulus waarsku ons dat ons ‘n toename van goddeloosheid moet verwag namate die einde nader kom. “Die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang.” (1 Timotheus 4:1). Hy waarsku ons verder “...dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.” (2 Timotheus 3:1). En hy noem ‘n ontstellende lys sondes wat ons onder diegene sal aantref wat ‘n gedaante van godsaligheid het. PeP 75.2

Soos hulle genadetyd sy einde genader het, het die bewoners van die antediluviane hulle aan opwindende vermaak en feestelikhede oorgegee. Diegene wat invloed en gesag gehad het, was daarop uit om die mense se gedagtes met vrolikheid en plesier besig te hou, sodat hulle nie moontlik deur die laaste plegtige waarskuwing beïnvloed sou word nie. Sien ons nie ‘n herhaling daarvan in ons dag nie? Terwyl die diensknegte van God die boodskap verkondig dat die einde van alle dinge ophande is, hou die wêreld hom met vermaak en ‘n gesug na plesier besig. Daar is ‘n voortdurende kringloop van opwinding wat onverskilligheid teenoor God veroorsaak en die mense verhoed om beïndruk te word deur die waarhede wat hulle enigste redding teen die komende verdelging kan wees. PeP 76.1

In die dae van Noag het die filosowe verklaar dat dit nie moontlik is vir die wêreld om deur water verdelg te word nie; so is daar tans ook wetenskaplikes wat probeer om te bewys dat die wêreld nie deur vuur verdelg kan word nie-dat dit teenstrydig met die natuurwette sou wees. Maar die God van die natuur, die Maker en Heerser van die wette, kan die werke van Sy hande gebruik om Sy eie doeleindes te bereik. PeP 76.2

Nadat die groot en wyse manne selfvoldaan bewys het dat dit onmoontlik vir die wêreld was om deur water verdelg te word en nadat die mense gerusgestel was, nadat almal Noag se profesie as ‘n misleiding afgemaak het en hom vir ‘n fanatikus aangesien het, het God se tyd aangebreek. “Die fonteine van die groot watervloed...” is “...oopgebreek en die sluise van die hemel is geopen...” en die spotters het in die waters van die sondvloed omgekom. Ondanks al hulle geroemde filosowe het die mense te laat ontdek dat hulle wysheid dwaasheid was, dat die Wetgewer groter is as die wette van die natuur en dat die Almagtige nie die middele ontbreek om Sy doel te verwesenlik nie. “Soos dit gebeur het in die dae van Noag...” “...net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word.” (Lukas 17:26,30). “Die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.” (2 Petrus 3:10). Wanneer die drogredenasies van filosowe die vrees vir God se oordele verban het; wanneer godsdiensleraars lang eeue van vrede en voorspoed verkondig en die wêreld verdiep is in sy kringloop van PeP 76.3

sake en plesier, plant en bou, feesvier en gekskeerdery, verwerping van die waarskuwings van God en spot dryf met Sy boodskappers-dan sal ‘n skielike verderf hulle oorval en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie. (1 Thessalonicense 5:3). PeP 77.1