Patriarge en Profete

74/75

Hoofstuk 72—Die Rebellie van Absalom

(Hierdie hoofstuk berus op 2 Samuel 13 tot 19) PeP 713.1

“Die ooilam moet hy viervoudig teruggee,” was die woorde van Dawid toe hy onbewus die vonnis oor homself uitgespreek het, nadat hy geluister het na Natan, die profeet, se gelykenis; en hy sou volgens sy eie vonnis geoordeel word. Vier van sy seuns moes val en die verlies van elk sou die gevolg van die vader se sonde wees. PeP 713.2

Die skandelike misdaad van sy eersgeborene, Amnon, is deur Dawid toegelaat om ongestraf en sonder teregwysing oor te waai. Die wet het die doodvonnis oor die owerspeler uitgespreek en Amnon se onnatuurlike misdaad het hom dubbel skuldig gemaak. Maar Dawid, self-veroordeeld oor sy eie sonde, het gefaal om die oortreder voor die gereg te bring. Vir twee volle jare het Absalom, die natuurlike beskermer van sy suster wat so skandelik veronreg is, sy plan van wraak geheim gehou, maar slegs om op die ou einde meer doeltreffend terug te slaan. Tydens ‘n fees van die koning se seuns is die besope bloedskender, Amnon, op bevel van sy broer doodgemaak. PeP 713.3

'n Tweeledige vonnis is oor Dawid gevel. Hy het die vreeslike boodskap ontvang: “Absalom het al die seuns van die koning doodgeslaan en nie een van hulle het oorgebly nie. Toe staan die koning op en skeur sy klere en gaan lê op die grond, terwyl al sy dienaars met geskeurde klere daarby staan.” Die koning se seuns wat verskrik na Jerusalem teruggekeer het, het die waarheid aan hulle vader geopenbaar; net Amnon is doodgemaak; “...en hulle verhef hulle stem en ween. En ook die koning en al sy dienaars het geween met ‘n baie groot geween.” Maar Absalom het na Talmai, die koning van Gesur, die vader van sy moeder, gevlug. PeP 713.4

Soos die ander seuns van Dawid, is Amnon aan selfsugtige vergrype oorgelaat. Hy het elke begeerte van sy hart bevredig, ongeag die vereistes van God. Nieteenstaande sy groot sonde, was God lankmoedig teenoor hom. Vir twee jaar het hy die geleentheid gehad om hom te bekeer; maar hy het in sy sonde volhard en met sy skuld op hom, is hy deur die dood PeP 713.5

weggeneem om op die verskriklike tribunaal van die oordeel te wag. PeP 714.1

Dawid het sy plig versuim deur Amnon nie te straf nie en as gevolg van die ontrouheid van die koning en die vader en die onboetvaardigheid van die seun, het die Here sake hulle natuurlike gang laat gaan; Hy het Absalom nie teruggehou nie. Wanneer ouers of heersers nalaat om sonde te straf, sal God die saak in Sy eie hande neem. Hy sal deur Sy beperkende mag die agentskappe van boosheid tot ‘n mate weerhou, sodat ‘n reeks omstandighede sal ontstaan wat sonde met sonde sal straf. PeP 714.2

Die bose gevolge van Dawid se onregverdige toegeeflikheid teenoor Amnon is nog nie beëindig nie, want hier het Absalom se vervreemding van sy vader begin. Nadat hy na Gesur gevlug het, het Dawid gevoel dat sy seun se misdaad ‘n mate van straf vereis het en daarom het hy geweier hom toestemming te verleen om terug te keer. En dit het geneig om die onlosmaaklike euwels waarby die koning betrokke geraak het, te verhoog eerder as om dit verminder. Absalom, voortvarend, ambisieus en sonder beginsels en as gevolg van sy bannelingskap uitgesluit van deelname aan die sake van die koninkryk, het homself spoedig oorgegee aan gevaarlike gekonkel. PeP 714.3

Na twee jaar het Joab hom voorgeneem om ‘n versoening tussen vader en seun te bewerkstellig. En met hierdie oogmerk in gedagte, het hy die dienste van ‘n vrou uit Tekoah, bekend vir haar wysheid, bekom. In opdrag van Joab, het sy haar voorgedoen as ‘n weduwee wie se twee seuns haar enigste troos en ondersteuning was. Terwyl die twee in ‘n rusie betrokke was, het die een die ander gedood en nou het al die familielede daarop aangedring dat die oorlewende aan die bloed-wreker uitgelewer moes word. “So wil hulle dan...” het sy gesê, “...my vuurkool wat oorgebly het, uitdoof om vir my man geen naam of oorblyfsel op die aardbodem te laat bly nie.” Die koning se meegevoel is deur hierdie versoek opgewek en hy het die vrou verseker van koninklike beskerming vir haar seun. PeP 714.4

Nadat sy herhaaldelike beloftes van die koning verkry het dat hy die jongman sou beskerm, het sy by hom gepleit om tog verdraagsaam teenoor haar te wees, maar verklaar dat hy soos PeP 714.5

iemand wat skuldig was gepraat het, omdat hy nie sy eie banneling toegelaat het om weer terug te keer nie. “Want...” het sy gesê, “...ons moet eenmaal sterwe en soos water wees wat uitgegooi word op die grond, wat ‘n mens nie weer kan versamel nie; en God neem die lewe nie weg nie, maar Hy koester gedagtes om “n verstotene nie van Hom af te stoot nie” Hierdie deernisvolle en aangrypende uitbeelding van die liefde van God teenoor die sondaar-komende soos dit het van Joab, die hardvogtige soldaat-is ‘n treffende bewys van die bekendheid van die Israeliete met die groot waarhede van verlossing. Die koning, wat sy eie behoefte aan God se genade besef het, kon hierdie versoek nie weerstaan nie. Hy het Joab beveel: “Gaan dan heen, bring die jongman Absalom terug.” PeP 715.1

Absalom is toegelaat om na Jerusalem terug te keer, maar hy was nie toegelaat om aan die hof te verskyn of sy vader te ontmoet nie. Dawid het die bose gevolge van sy toegeeflikheid aan sy kinders begin insien; en so lief soos wat hy hierdie mooi en begaafde seun van hom gehad het, het hy dit nodig geag om, as les beide vir Absalom en die volk, die afskuwelikheid van hierdie sonde te openbaar. Absalom het vir twee jaar in sy eie huis gewoon, maar is uit die hof verban. Sy suster het saam met hom gewoon en haar teenwoordigheid het die herinnering aan die onherstelbare onreg wat haar aangedoen is lewend gehou. Volgens die gewilde mening, was die prins ‘n held eerder as ‘n oortreder. En met hierdie voordeel, het hy homself daarop toegelê om die harte van die volk te wen. Sy persoonlike voorkoms het die bewondering van almal afgedwing. “En in die hele Israel was daar geen man so mooi soos Absalom, so geprys nie: van sy voetsool af tot sy hoofskedel toe was daar geen gebrek aan hom nie.” Dit was nie verstandig van die koning om ‘n man van Absalom se karakter, wat ambisieus, impulsief en passievol was, toe te laat om vir twee jaar te tob oor sogenaamde griewe nie. En Dawid se daad om hom toe te laat om na Jerusalem terug te keer, maar te weier dat hy in sy teenwoordigheid kom, het die simpatie van die volk teenoor hom opgewek. PeP 715.2

Dit het voorgekom asof Dawid verlam was deur die herinnering aan sy eie oortreding van die wet van God; hy was swak en besluiteloos, terwyl hy, voor sy sonde, moedig en PeP 715.3

vasbeslote was. Sy invloed oor die volk is verswak en al hierdie dinge het die sluwe planne van sy onnatuurlike seun begunstig. PeP 716.1

Deur die invloed van Joab is Absalom weer in die teenwoordigheid van sy vader toegelaat, maar hoewel daar ‘n uiterlike versoening was, het hy voortgegaan met sy ambisieuse planne. Hy het nou ‘n byna koninklike houding ingeneem, met waens en perde en vyftig man om voor hom uit te draf. En terwyl die koning al hoe meer verlang het na aftrede en afsondering, het Absalom met alle erns gepoog om gewildheid vir homself te werf. PeP 716.2

Die invloed van Dawid se lusteloosheid en wankelmoedigheid het na sy onderdane uitgebrei; nalatigheid en vertraging het die toepassing van die reg gekenmerk. Absalom het elke rede tot ontevredenheid behendig tot sy voordeel gebruik. Hierdie statige jong man het elke dag in die stadspoorte verskyn waar ‘n skare op hom gewag het om hulle griewe vir regstelling aan hom bloot te lê. Absalom het op gemeenskaplike voet met hulle verkeer, na hulle griewe geluister, medelye met hulle uitgespreek en sy spyt te kenne gegee oor die ondoeltreffendheid van die regering. Nadat hy die verhaal van ‘n man van Israel aangehoor het, sou Absalom antwoord: “Kyk, jou saak is goed en reg, maar van die koning se kant sal niemand jou gehoor gee nie.” Dan het hy bygevoeg: “Mag hulle my as regter in die land aanstel, dat elkeen wat ‘n geskil of regsaak het, na my kan kom; dan sal ék aan hom reg laat geskied. En elke keer as iemand naderkom om voor hom te buig, steek hy sy hand uit en gryp hom en soen hom.” PeP 716.3

Ontevredenheid met die regering is deur die jong prins se skimpe aangevuur en dit het vinnig uitgebrei. Almal het Absalom geloof. Oor die algemeen is hy as troonopvolger beskou; met trots het die volk gemeen hy is die hoë pos waardig en daar was ‘n algemene begeerte dat hy op die troon moes sit. “Op die manier het Absalom...die hart van die manne van Israel gesteel.” Die koning se liefde vir sy seun het hom egter tot so mate verblind dat hy niks agtergekom het nie. Dawid het maar aangeneem dat die vorstelike houding wat Absalom ingeslaan het, bedoel was om sy hof eer aan te doen, as ‘n bewys van sy vreugde oor die versoening. PeP 716.4

Toe die gemoedere van die volk ontvanklik was vir wat sou volg, het Absalom in die geheim gekeurde manne na al die stamme gestuur om maatreëls vir ‘n opstand te bespreek. En sy verraad is nou onder ‘n godsdienstige dekmantel bedek. ‘n Gelofte wat hy lank tevore gedurende sy ballingskap aan die Here gemaak het, moes in Hebron betaal word. Absalom het aan die koning gesê: “Laat my tog gaan en my gelofte wat ek aan die Here gedoen het, in Hebron betaal; want u dienaar het ‘n gelofte gedoen toe ek in Gesur in Aram gewoon het en gesê: As die Here my werklik in Jerusalem terugbring, sal ek die Here dien.” Die liefdevolle vader, getroos deur hierdie bewys van vroomheid in sy seun, het hom met sy seën ontslaan. Die sameswering het nou sy volheid bereik. Absalom se kroon daad van skynheiligheid was nie net bedoel om die koning te verblind nie, maar om die vertroue van die volk te verseker en hulle sodoende in opstand teen die koning wat God gekies het, te bring. PeP 717.1

Absalom het na Hebron vertrek, “...en uit Jerusalem het tweehonderd man ... saamgetrek wat genooi was en in hulle onskuld gegaan het sonder dat hulle van die hele saak iets geweet het.” Hierdie manne het saam met Absalom gegaan sonder om te besef dat hulle liefde vir die seun hulle na opstand teen die vader lei. In Hebron aangekom, het Absalom Agitofel, een van Dawid se vernaamste raadgewers, dadelik laat roep, ‘n man met ‘n hoë reputasie vir wysheid, wie se mening so veilig en wys was soos die van ‘n orakel. Agitofel het hom by die samesweerders aangesluit en sy steun het geblyk die saak van Absalom van sukses te verseker, wat baie invloedryke mense uit alle dele van die land na sy vaandel aangetrek het. Terwyl die trompet van verraad opgeklink het, het die prins se spioene deur die hele land die tyding versprei dat Absalom koning was en baie mense het by hom aangesluit. PeP 717.2

Intussen is die waarskuwing in Jerusalem aan die koning oorgedra. Dawid het skielik wakker geskrik om te ontdek dat ‘n rebellie naby sy troon uitgebreek het. Sy eie seun, die seun wat hy liefgehad en vertrou het, het beplan om sy kroon oor te neem en ongetwyfeld ook sy lewe te neem. In sy groot gevaar het Dawid die neerslagtigheid wat so lank van hom besit geneem het verwerp en met die geesdrif van sy vroeëre jare het hy voorbereidings getref om hierdie ernstige noodgeval tegemoet PeP 717.3

te gaan. Absalom het sy magte by Hebron, slegs twee-en-dertig kilometers weg slaggereed gemaak. Die opstandelinge sou binnekort in die poorte van Jerusalem wees. PeP 718.1

Dawid het vanuit sy paleis op die hoofstad uitgekyk “...skoon deur sy verhewenheid, die vreugde van die hele aarde ... die stad van die groot Koning” (Psalm 48:3). Hy het gesidder by die gedagte om dit aan moord en verwoesting bloot te stel. Moes hy die onderdane wat nog aan sy troon getrou was, oproep om weerstand te bied en die hoofstad te verdedig? Moes hy toelaat dat Jerusalem ‘n bloedbad word? Sy besluit is geneem. Die gruwel van ‘n oorlog moes nie die uitverkore stad tref nie. Hy sou Jerusalem verlaat en dan sou hy die trou van sy volk toets, deur aan hulle die geleentheid te gee om hom te ondersteun. In hierdie groot krisis was dit sy verantwoordelikheid teenoor God en sy volk om die gesag wat die hemel in hom geïnvesteer het, te handhaaf. Hy sou die uitslag van die stryd aan God oorlaat. PeP 718.2

Verneder en bedroef het Dawid die poorte van Jerusalem verlaat-weggedryf van sy troon, sy paleis en die ark van God, deur die opstand van sy geliefde seun. Die volk het in ‘n lang droewige optog soos ‘n begrafnisstoet gevolg. Dawid se persoonlike lyfwag, bestaande uit die Kreti en Pleti en seshonderd Gittiete uit Gat onder die bevel van lttai het die koning vergesel. Maar met kenmerkende onselfsugtigheid kon Dawid nie toelaat dat hierdie vreemdelinge, wat sy beskerming gesoek het, by sy rampspoed betrek moes word nie. Hy het sy verbasing uitgespreek dat hulle gewillig sou wees om hierdie opoffering vir hom te maak. Toe sê die koning aan Ittai die Gittiet: “Waarvoor sou jy ook met ons saamgaan? Draai om en bly by die koning, want jy is ‘n uitlander en ook ‘n balling uit jou woonplek. Jy het gister gekom en vandag sou ek jou laat rondswerwe om met ons saam te trek terwyl ek wie weet waarheen gaan! Draai om en bring jou broers terug. Mag guns en trou met jou wees!” PeP 718.3

Ittai het geantwoord: “So waar as die Here leef en my heer die koning leef, voorwaar, op die plek waar my heer die koning sal wees vir dood of vir lewe, daar sal u dienaar sekerlik ook wees.” Hierdie manne is van heidenisme tot die aanbidding van Jehova bekeer en nou het hulle op ‘n edele wyse hulle trou aan God en aan die koning bewys. Met dankbare hart het Dawid PeP 718.4

hulle toewyding aan sy skynbaar sinkende saak bewys en almal het deur die spruit Kedron getrek op pad na die woestyn. PeP 719.1

Die optog het weer tot stilstand gekom. ‘n Geselskap in heilige gewaad het genader. “En kyk, Sadok was ook daar en al die Leviete by hom wat die verbondsark van God dra.” Dawid se volgelinge het dit as ‘n gelukkige voorteken beskou. Die teenwoordigheid van hierdie heilige simbool was vir hulle ‘n belofte van hulle verlossing en uiteindelike oorwinning. Dit sou die volk met moed besiel om hulle by die koning te skaar. Die afwesigheid daarvan uit Jerusalem sou die aanhangers van Absalom met vrees vervul. PeP 719.2

Toe hy die ark sien, is Dawid se hart vir ‘n oomblik met vreugde en hoop vervul. Maar ander gedagtes het spoedig by hom oorgeneem. As aangestelde heerser oor die erfdeel van God, het hy onder ‘n plegtige verantwoordelikheid gestaan. Nie eie belang nie, maar die heerlikheid van God en die welsyn van sy volk moes by die koning van Israel voorkeur geniet. God, wat tussen die gerubs gewoon het, het aangaande Jerusalem gesê: “Dit is my rusplek” (Psalm 132:14); en sonder Gesag van God het nóg priester nóg koning die reg gehad om die simbool van Sy teenwoordigheid daaruit te verwyder. En Dawid het geweet dat sy hart en sy lewe in harmonie met die gebooie van God moes wees, anders sou die ark ‘n oorsaak van rampspoed eerder as welslae wees. Sy groot sonde was voortdurend voor hom. Hy het in hierdie sameswering die regverdige oordeel van God herken. Die swaard wat nie van sy huis sou wyk nie, is uit sy skede gehaal. Hy het nie geweet wat die uitslag van die stryd sou wees nie. Dit was nie vir hom om die heilige insettinge, wat die wil van hul Goddelike Soewerein vergestalt het, wat die grondwet van die koninkryk en die grondslag van die welvaart daarvan was, te verwyder nie. PeP 719.3

Hy het Sadok beveel: “Bring die ark van God terug in die stad. As ek genade vind in die oë van die Here, sal Hy my terugbring en Hy sal my dit en sy woning laat sien. Maar as Hy so sê: Ek het in jou geen behae nie-hier is ek! Laat Hy met my doen soos goed is in sy oë.” PeP 719.4

Verder het Dawid bygevoeg: “U is tog siener? ‘n man wat deur God aangestel is om die volk te leer. Gaan in vrede na die stad terug en julle twee seuns, Ahimaas, jou seun en Jonatan, PeP 719.5

die seun van Abjatar, met julle saam. Kyk, ek vertoef by die woestyn driwwe totdat daar ‘n woord van julle kom om my in te lig.” In die stad kon die priesters vir hom goeie diens verrig deur die bewegings en doelstellings van die rebellie te wete te kom en dit in die geheim deur hulle twee seuns, Ahimaas en Jonatan, aan hom bekend te maak. PeP 720.1

Toe die priesters na Jerusalem terugkeer, het ‘n dieper skaduwee oor die vertrekkende skare geval. Hulle koning was ‘n vlugteling, hulle self was uitgeworpenes en verlate van die ark van God en die toekoms was duister met vrees en onheil. “En Dawid het die hoogte van die olywe opgeklim, terwyl hy aldeur loop en ween; en sy hoof was bedek en hy het kaalvoet geloop; en al die mense wat by hom was, hulle het elkeen sy hoof bedek en opgegaan en aldeur geween.” En iemand het aan Dawid gesê: “Agitofel is onder die samesweerders met Absalom saam.” Weer was Dawid gedwing om te besef dat hierdie rampe die gevolge van sy eie sonde was. Die oorloop van Agitofel, die bekwaamste en mees geslepe van die politieke leiers, was as gevolg van wraak oor die skande wat deur die onreg aan Batseba, sy kleindogter, oor die familie gebring is, aangevuur. PeP 720.2

En Dawid het aan die Here gesê: “O Here, verydel tog die raad van Agitofel.” Toe hy die spits van die berg bereik, het die koning in gebed neergebuig en die las van sy siel op God gewerp en nederig om Goddelike genade gepleit. Dit was asof sy gebed onmiddellik verhoor is. Husai, die Arkiet, ‘n wyse en bekwame raadgewer, wat homself as ‘n getroue vriend van Dawid bewys het, het nou met geskeurde klere en grond op sy hoof na Dawid toe gekom om sy lot by die van die onttroonde en voortvlugtende koning in te werp. Dawid het, asof deur Goddelike Ingewing, gesien dat hierdie man, getrou en opreg van hart, die een was wat nodig was om in belang van die koning in die raadsbeplanning in die hoofstad op te tree. Op versoek van Dawid het Husai na Jerusalem teruggekeer om sy dienste aan Absalom te bied en die slinkse raad van Agitofel te verydel. PeP 720.3

Deur hierdie ligstraal in die duisternis het die koning en sy volgelinge langs die oos-helling van die Olyfberg af hulle vlug voortgesit. Hulle het deur die rotsagtige woestyn, deur onbeboude klowe en langs steil, klipperige paaie na die Jordaan voortbeweeg. “En toe koning Dawid tot by Bahurim gekom het, PeP 720.4

kom daarvandaan juis ‘n man te voorskyn uit die geslag van die huis van Saul met die naam van Simeï, die seun van Gera; hy het uitgekom en gedurigdeur gevloek en Dawid en al die dienaars van die koning met klippe gegooi alhoewel al die mense en al die helde aan sy regter-en aan sy linkerkant was. En dit het Simeï gesê terwyl hy vloek: Weg, weg, jou bloedvergieter en jou deugniet! Die Here het al die bloed van die huis van Saul in wie se plek jy koning geword het, op jou laat neerkom; en die Here het die koningskap in die hand van jou seun Absalom gegee en hier is jy nou in jou ongeluk, omdat jy ‘n bloedvergieter is.” PeP 721.1

In die dae van Dawid se voorspoed het Simeï nie deur woord of daad laat blyk dat hy nie ‘n getroue onderdaan was nie. Maar noudat die koning in ellende verkeer het, het hierdie Benjaminiet sy ware karakter geopenbaar. Hy het Dawid op sy troon geëer, maar in sy vernedering het hy hom gevloek. Omdat hy gemeen en selfsugtig was, het hy ander deur dieselfde bril beskou en onder ingewing van Satan het hy sy haat op hom, wat deur God gekasty is, uitgestort. Die gees wat mense beweeg om oor iemand wat in ellende verkeer te triomfeer, te verneder of te treiter, is die gees van Satan. PeP 721.2

Simeï se beskuldigings teen Dawid was heeltemal ongegrond-lae kwaadaardige laster. Dawid het geen skuld aan enige kwaad teenoor Saul of sy huis gehad nie. Toe Saul heeltemal in sy mag oorgegee was en hy hom kon doodgemaak het, het hy net die slip van sy kleed afgesny en hy het homself verwyt dat hy selfs hierdie oneerbiedigheid aan die gesalfde van die Here getoon het. PeP 721.3

Treffende bewyse van Dawid se heilige agting vir die menslike lewe is, selfs terwyl hy soos ‘n roofdier gejag is, gelewer. Een dag, terwyl hy in die grot van Adullam weggekruip het, het sy gedagtes teruggegaan na die kommervrye lewe van sy seunsjare en hy het uitgeroep: “Wie sal vir my water gee om te drink uit die put van Betlehem wat by die poort is?” (2 Samuel 23:13-17). Betlehem was destyds in die hande van die Filistyne; maar drie helde van Dawid se groep het by die wagte verbygeglip en van die water van Bethlehem na hulle heer teruggebring. Dawid kon dit nie drink nie. Hy het gesê: “Dit is ver van my.” “Sou ek die bloed drink van die manne wat met PeP 721.4

lewensgevaar gegaan het?” En hy het die water eerbiedig as offer aan God uitgegiet. Dawid was ‘n man van oorlog; ‘n groot deel van sy lewe is te midde van tonele van geweld deurgebring; maar van almal wat so ‘n beproewing deurstaan het, is weinig werklik so min deur die verhardende, demoraliserende invloed daarvan beïnvloed soos Dawid. PeP 722.1

Dawid se neef, Abisaï, een van die dapperste van sy leërowerstes, kon Simeï se beledigende woorde nie meer duld nie. Hy het uitgeroep: “Waarom moet hierdie dooie hond my heer die koning vloek? Laat ek tog oorstap en sy kop afslaan.” Maar die koning het hom verbied. Hy het gesê: “Kyk, my seun ... soek my lewe: hoeveel te meer dan nou die Benjaminiet? Laat hom staan, dat hy vloek, want die Here het hom dit beveel. Miskien sal die Here my ellende aansien en sal die Here my goed vergelde vir die vloek wat my vandag tref.” PeP 722.2

Dawid se gewete het bittere en vernederende waarhede aan hom geuiter. Terwyl sy getroue onderdane hulle verwonder het oor hierdie skielike ommekeer van lewensomstandighede, was dit vir die koning geen geheim nie. Hy het dikwels ‘n voorgevoel van ‘n tyd soos hierdie gehad. Hy was verwonderd dat God sy sondes vir so lank verduur en die verdiende straf vertraag het. En nou, in sy haastige en jammerlike vlug, sy voete kaal, sy koninklike klere met sak vervang, die eggo van die klaagliedere wat die heuwels wakker maak, het hy aan sy geliefde hoofstad gedink-die plek wat die toneel van sy sonde was-en terwyl hy die goedheid en lankmoedigheid van God onthou het, was hy nie geheel en al sonder hoop nie. Hy het gevoel dat die Here steeds in genade teenoor hom sou optree. PeP 722.3

Menige kwaaddoener het sy eie sonde probeer regverdig deur na die val van Dawid te verwys, maar hoe min is daar wat Dawid se berou en nederigheid openbaar. Hoe min sou die teregwysing en vergelding met die geduld en sterkte wat hy geopenbaar het, verdra het. Hy het sy sonde bely en jare lank gestreef om sy plig as ‘n getroue dienaar van God na te kom; hy het hom beywer om sy koninkryk op te bou en onder sy bewind het dit, soos nooit tevore nie, krag en voorspoed bereik. Hy het ‘n ryke voorraad boustowwe vir die oprigting van die huis van God versamel; en moes al die arbeid van sy lewe dan nou verydel word? Moes die gevolge van jare van toegewyde arbeid, die werk van kuns en toewyding en staatsmanskap in die hande PeP 722.4

van sy roekelose, verraderlike seun verval, wat nie die eer van God en die voorspoed van Israel in ag geneem het nie? Hoe natuurlik sou dit vir Dawid gewees het om in sy besoeking teen God te kla! PeP 723.1

Maar hy het die oorsaak van sy moeilikheid in sy eie sonde gesien. Die woorde van die profeet Miga adem die gees wat Dawid se hart besiel het uit. “Al sit ek in duisternis, die Here is ‘n lig vir my. Die toorn van die Here sal ek dra, want ek het teen Hom gesondig; totdat Hy my saak verdedig en my reg verskaf.” (Miga 7:8,9). En die Here het Dawid nie versaak nie. Hierdie hoofstuk uit sy geskiedenis, wanneer hy, onder die wreedste onreg en belediging, self nederig, onselfsugtig, vrygewig en onderdanig is, is een van die edelste in al sy wedervaringe. Die heerser oor Israel was nog nooit waarlik groter in die oë van die hemel, as in hierdie uur van sy diepste uiterlike vernedering nie. PeP 723.2

Indien God toegelaat het dat Dawid onbestraf in sonde voortgaan en die Goddelike voorskrifte oortree het, om in vrede en voorspoed op sy troon te bly, sou die twyfelaars en die ongelowiges die een of ander verskoning gehad het om die geskiedenis van Dawid as ‘n skandvlek op die godsdiens van die Bybel aan te haal. Maar deur die wedervaringe waardeur Hy Dawid laat gaan het, wys die Here dat Hy die sonde nie kan verdra of verskoon nie. En die geskiedenis van Dawid stel ons in staat om ook die groot uiteinde te sien wat God in Sy hantering van sonde beoog; dit stel ons in staat om selfs deur die donkerste oordele, die uitwerking van Sy doelstellings van genade en weldadigheid na te speur. Hy het Dawid straf laat ondergaan, maar Hy het hom nie vernietig nie; die vuuroond is om te suiwer, nie om te verteer nie. Die Here sê: “As hulle my insettinge ontheilig en my gebooie nie hou nie, dan sal Ek hulle oortreding met die roede besoek en met plae hulle ongeregtigheid. Maar my goedertierenheid sal Ek van hom nie wegneem en my trou nie verbreek nie.” (Psalm 89: 32-34). PeP 723.3

Kort nadat Dawid Jerusalem verlaat het, het Absalom en sy leër binnegekom en die vesting van Israel sonder enige weerstand in besit geneem. Husai was eerste om die nuwe monarg te groet en die prins was verbaas en ingenome dat die ou vriend en raadgewer van sy vader na hom toe oorgeloop het. Absalom was van sy sukses verseker. Tot dusver was sy planne PeP 723.4

voorspoedig en angstig om sy troon te versterk en die vertroue van die nasie te verseker, het hy Husai in sy hof verwelkom. PeP 724.1

Absalom is nou deur ‘n groot mag omring, maar dit het grootliks uit manne wat nie vir oorlog opgelei is nie bestaan. Tot dusver was hulle nie in konflik betrokke nie. Agitofel het goed geweet dat Dawid se situasie ver van hopeloos was. ‘n Groot deel van die nasie was steeds aan hom getrou; hy was omring deur beproefde krygers wat getrou aan hulle koning was en sy leër was onder die leiding van bekwame en ervare generaals. Agitofel het geweet dat daar na die eerste uitbarsting van entoesiasme oor die nuwe koning, ‘n reaksie sou volg. Indien die opstand op ‘n mislukking sou uitloop, sou Absalom moontlik ‘n versoening met sy vader kon bewerkstellig; dan sou Agitofel, as sy hoof raadgewer die grootste skuld vir die rebellie dra en die swaarste straf sou op hom val. Om Absalom te verhoed om op sy spore terug te gaan, het Agitofel hom aangeraai om ‘n daad voor die oë van die hele nasie te pleeg, wat versoening onmoontlik sou maak. Met lis uit die hel afkomstig, het hierdie sluwe en beginsellose staatsman Absalom aangeraai om die misdaad van bloedskande by die daad van rebellie te voeg. In die oë van die hele Israel moes hy vir homself die byvroue van sy vader, volgens die gewoonte van Oosterse nasies, neem en dus verklaar dat hy tot die troon van sy vader geslaag het. En Absalom het hierdie verfoeilike voorstel aanvaar. So is die woord wat God deur die profeet tot Dawid gespreek het vervul: “Kyk, Ek sal uit jou huis onheil oor jou verwek en jou vroue voor jou oë neem en aan jou naaste gee... Want jy het dit in die geheim gedoen, maar Ek sal hierdie ding doen voor die hele Israel en in die volle sonlig.” (2 Samuel 12:11,12). Dit wil nie sê dat God hierdie sondige dade van boosheid aangespoor het nie, maar as gevolg van Dawid se sonde het hy nie Sy mag uitgeoefen om dit te verhoed nie. PeP 724.2

Agitofel was hoog aangeskrewe vir sy wysheid, maar hy het ver tekort geskiet aan die lig wat van God afkomstig is. “Die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here.” (Spreuke 9:10); en dit het Agitofel nie besit nie, anders sou hy nie die welslae van die opstand op bloedskande gegrond het nie. Mense met korrupte harte smee goddelooshede asof daar geen heersende Voorsienigheid bestaan om hulle planne te verydel nie; maar “Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met PeP 724.3

hulle.” (Psalm 2:4). Die Here sê: “Omdat hulle ... van my raad nie wou weet nie, al my teregwysinge verag het, daarom sal hulle eet van die vrug van hulle wandel en versadig word van hulle planne. Want hulle eie afkerigheid maak die eenvoudiges dood en hulle eie sorgeloosheid rig die dwase te gronde.” (Spreuke 1:29-32). PeP 725.1

Nadat hy in die plan vir sy eie beveiliging geslaag het, het Agitofel Absalom oor die noodsaaklikheid van onmiddellike optrede teenoor Dawid aangespoor. Hy het gesê: “Laat ek tog twaalfduisend man uitsoek en my klaarmaak en Dawid vannag agternajaag dat ek hom kan oorval, terwyl hy moeg en slap van hande is en hom verskrik; dan sal al die mense vlug wat by hom is en ek sal net die koning neerslaan. En ek sal die hele volk na u terugbring.” Hierdie plan is deur die koning se raadgewers goedgekeur. As dit uitgevoer was, sou Dawid sekerlik gedood gewees het, as die Here nie regstreeks ingetree het om hom te red nie. Maar ‘n hoër Wysheid as die van die befaamde Agitofel het die gebeure bestuur. “Die Here het dit beskik om die goeie raad van Agitofel te verydel, sodat die Here die onheil oor Absalom kon bring.” PeP 725.2

Husai is nie na die raadsitting ontbied nie en hy wou ook nie ongevraagd indring, ingeval hy agterdog teen hom sou opwek dat hy ‘n spioen is nie; maar nadat die vergadering uiteen is, het Absalom, wat ‘n hoë agting vir sy vader se raadgewer gehad het, die plan van Agitofel aan hom voorgelê. Husai het besef dat indien hierdie plan uitgevoer word, Dawid verlore sou wees. En hy het gesê: “Die raad wat Agitofel hierdie keer gegee het, is nie goed nie. Verder het Husai gesê: U weet dat u vader en sy manne helde is en bitter van siel soos ‘n beer wat van haar kleintjies beroof is in die veld; ook is u vader ‘n krygsman en hy sal nie by die volk vernag nie. Kyk, nou het hy hom weggesteek in een van die kuile of in een van die ander plekke.” Hy het geredeneer dat indien Absalom se magte Dawid agternasit, hulle die koning nie sou vang nie; en indien hulle ‘n nederlaag sou ly, dit hulle sou ontmoedig en Absalom se saak groot skade berokken. “Want...” het hy gesê, “...die hele Israel weet dat u vader ‘n held is en dat dapper manne by hom is.” En hy stel toe ‘n plan voor wat aantreklik vir ‘n selfvoldane en selfsugtige natuur is en wat daarvan hou om groot magsvertoon te lewer: “Ek raai aan: Laat die hele Israel van Dan tot Berséba, soos sand wat PeP 725.3

aan die seestrand is in menigte, voltallig by u versamel word; en u moet persoonlik in die stryd trek. En as ons by hom kom in een van die plekke waar hy hom bevind, dan val ons op hom neer soos dou op die aarde val, sodat daar van hom en van al die manne wat by hom is, selfs nie een oorbly nie. En as hy hom in ‘n stad terugtrek, moet die hele Israel toue aanbring na daardie stad en ons sal dit wegsleep na die spruit totdat daar selfs geen klippie meer te vinde is nie.” PeP 726.1

“Toe sê Absalom en al die manne van Israel: Die raad van Husai, die Arkiet is beter as die raad van Agitofel.” Maar daar was een wat nie mislei was nie; een wat duidelik die gevolge van hierdie dodelike fout van Absalom ingesien het. Agitofel het geweet dat die opstandelinge se saak verlore was. En hy het geweet dat, ongeag wat die lot van die prins was, daar geen hoop was vir die raadgewer wat sy grootste wandade aangehits het nie. Agitofel het Absalom tot rebellie aangespoor; hy het hom aangeraai om die gruwelikste boosheid te pleeg, om sy vader te onteer; hy het hom aangeraai om Dawid dood te maak en die plan vir die uitvoering daarvan aan die hand gedoen; hy het die laaste kans vir versoening met die koning vernietig; en nou het selfs Absalom ‘n ander bo hom verkies. Jaloers, vertoornd en desperaat het Agitofel “...na sy huis in sy stad gegaan en aan sy huis bevel gegee en homself verwurg. So het hy dan gesterwe.” Dit was die gevolge van die wysheid van iemand wat, ondanks al sy hoë bekwaamhede, geweier het om God sy Raadsman te maak. Die Satan lok mense met vleiende beloftes, maar uiteindelik sal elke siel ontdek dat die loon van die sonde die dood is. (Romeine 6:23). PeP 726.2

Husai, wat nie seker was dat die wispelturige koning sy raad sou volg nie, het geen tyd verloor om Dawid te gewaarsku om sonder verwyl oor die Jordaan te ontsnap nie. Aan die priesters wat die boodskap deur hulle seuns sou stuur, het Husai laat weet: PeP 726.3

“So en so het Agitofel Absalom en die oudstes van Israel aangeraai, maar so en so het ek aangeraai... Vernag nie by die woestyn driwwe nie, maar trek sekerlik deur; anders word die koning en al die mense wat by hom is, vernietig.” PeP 726.4

Die jongmanne was onder suspisie en is agtervolg, maar hulle het tog daarin geslaag om hul gevaarlike missie uit te voer. PeP 726.5

Dawid, wat na die inspanning en droefheid van daardie eerste dag van sy vlug uitgeput was, het die boodskap ontvang dat hy daardie nag nog oor die Jordaan moes trek omdat sy seun hom om die lewe wou bring. PeP 727.1

Wat moes die gemoedstoestand van die vader en koning, wat so wreed veronreg is, in hierdie verskriklike gevaar nie wees nie? ‘n Magtige, dapper man, ‘n man van oorlog, ‘n koning wie se woord wet was, deur sy eie seun, wie hy liefgehad en verwen het en onwetend vertrou het verraai, onreg aangedoen is en verlaat is deur onderdane wat aan hom verbind was met die sterkste bande van eer en trou? Met watter woorde het Dawid die gevoelens van sy siel uitgestort? In die uur van sy donkerste beproewing was Dawid se hart steeds op God gevestig en hy het gesing: PeP 727.2

“Here, hoe het my teëstanders vermenigvuldig! PeP 727.3

Baie staan teen my op. PeP 727.4

Baie sê van my: PeP 727.5

Daar is geen heil vir hom by God nie. PeP 727.6

Maar U, Here, is “n skild wat my beskut, PeP 727.7

my eer en die Een wat my hoof ophef. PeP 727.8

Luid roep ek die Here aan, PeP 727.9

en Hy verhoor my van sy heilige berg. PeP 727.10

Ek het gaan lê en aan die slaap mag raak; PeP 727.11

ek het wakker geword, want die Here ondersteun my. PeP 727.12

Ek sal nie vrees vir tienduisende van mense PeP 727.13

wat rondom teen my gereed staan nie ... PeP 727.14

Die heil behoort aan die Here; PeP 727.15

laat u seën wees oor u volk!” PeP 727.16

(Psalm3:2-9) PeP 727.17

Dawid en sy hele geselskap-krygers en staatsmanne, ou mans en jeugdiges, die vrouens en klein kindertjies-het in die donkerte van die nag die diep en snel-vloeiende rivier oorgesteek. “Teen dat dit die more lig geword het, het selfs nie een ontbreek wat nie die Jordaan deurgetrek het nie.” PeP 727.18

Dawid en sy magte het na Mahanaim teruggetrek, wat die koninklike setel van Isboset was. Dit was ‘n sterk vesting omring deur ‘n bergagtige distrik wat gunstig vir toevlug in geval van oorlog was. Die land was goed toegerus en die mense was PeP 727.19

vriendelik teenoor die saak van Dawid. Hier het baie aanhangers by hom aangesluit, terwyl welgestelde stamlede oorvloedige gawes van voorsiening en ander benodigdhede voorsien het. PeP 728.1

Husai se raad het sy doel bereik en aan Dawid die geleentheid gegee om te ontvlug; maar die oorhaastige en impulsiewe prins kon nie lank teruggehou word nie en hy het weldra vertrek om sy vader te agtervolg. En Absalom het deur die Jordaan getrek, “...hy en al die manne van Israel saam met hom.” Absalom het Amasa, die seun van Dawid se suster Abigail, as opperbevelvoerder oor sy leër aangestel. Sy leër was groot maar ongedissiplineerd en swak voorberei om teen die beproefde krygsmanne van sy vader te veg. PeP 728.2

Dawid het sy magte in drie afdelings onder bevel van Joab, Abisaï en Ittai die Gittiet verdeel. Dit was sy doel om sy leër self in die veldslag te lei; maar die offisiere van die leër, die raadgewers en die volk het heftig daarteen betoog. Hulle het gesê: “U mag nie uittrek nie, want as ons miskien vlug, sal hulle nie op ons ag gee nie; ja, al sterwe die helfte van ons, hulle sal nie op ons ag gee nie, want u is soos tienduisend van ons. Dit is dan nou beter dat u ons van die stad uit te hulp kom. Toe sê die koning vir hulle: Wat goed is in julle oë, sal ek doen.” (2 Samuel 18:3,4. PeP 728.3

Van die stadsmuur af kon die lang geledere van die rebelle leër duidelik gesien word. Die samesweerders is vergesel van ‘n groot leër, in vergelyking met Dawid se mag, wat maar ‘n handvol teen hulle was. Maar terwyl die koning die leërs in slagorde teenoor mekaar aanskou het, was sy eerste gedagte nie op die kroon en die koninkryk gevestig nie, ook nie op sy eie lewe wat van die uitkoms van die geveg afgehang het nie. Die vader se hart was vol liefde en deernis vir sy opstandige seun. Toe die leër by die stadspoort uitmarsjeer, het Dawid sy krygsmanne aangemoedig om uit te gaan met die vertroue dat die God van Israel hulle die oorwinning sou gee. Maar selfs hierin kon hy sy liefde vir Absalom nie onderdruk nie. Toe Joab aan die hoof van die eerste afdeling by die koning verbymarsjeer, het die oorwinnaar van ‘n honderd slagvelde sy trotse hoof gebuig om die laaste boodskap wat sy koning met bewende stem gefluister het, aan te hoor: “Saggies met die jongman, met Absalom.” En Abisaï en Ittai het dieselfde opdrag PeP 728.4

ontvang: “Saggies met die jongman, met Absalom.” Maar die koning se besorgdheid wat die indruk geskep het dat Absalom vir hom van meer waarde as die koninkryk was, hoër selfs as die onderdane wat aan sy troon getrou was het die krygsmanne se verontwaardiging teenoor die onnatuurlike seun nog meer laat toeneem. PeP 729.1

Die veldslag was in ‘n bos naby die Jordaan, waar die groot getal van die leër van Absalom vir hom slegs tot nadeel gestrek het. Tussen die ruigtes en die moerasse van die bos het hierdie ongedissiplineerde manne verward en onregeerbaar geword. “En die manskappe van Israel is daar voor die dienaars van Dawid verslaan en die neerlaag was die dag daar groot, twintigduisend.” Toe Absalom sien dat die dag verlore was, het hy gevlug, maar sy hoof is tussen twee takke van ‘n wydverspreide boom vasgevang, sy muil het onder hom uitbeweeg en hy het hulpeloos daar gehang, ‘n prooi vir sy vyande. In hierdie toestand het ‘n soldaat op hom afgekom wat, uit vrees vir die koning se misnoeë, sy lewe gespaar het, maar aan Joab gerapporteer wat hy gesien het. Joab het hom deur geen gewetenswroeging laat terughou nie. Hy het met Absalom bevriend geraak, het twee keer sy versoening met Dawid bewerkstellig en sy vertroue is skaamteloos verraai. As dit nie was vir die voordele wat Absalom deur die bemiddeling van Joab ontvang het nie, sou hierdie rebellie met al sy gruwels nooit plaasgevind het nie. Nou was dit in Joab se mag om op een slag die oorsaak van al hierdie euwels te vernietig. “En hy het drie spiese in sy hand geneem en dié in die hart van Absalom gesteek... Toe het hulle Absalom geneem en hom in die bos in ‘n groot kuil gegooi en ‘n baie groot hoop klippe bo-op hom gestapel.” PeP 729.2

So het die aanhitsers van rebellie in Israel omgekom. Agitofel het die hand aan sy eie lewe geslaan. Die vorstelike Absalom, op wie se glorieryke prag die trots van die hele Israel was, is in die fleur van sy lewe afgesny en sy dooie liggaam is in ‘n kuil met ‘n groot hoop klippe toegepak as ‘n teken van ewigdurende skande. Gedurende sy leeftyd het Absalom in die dal van die konings vir hom ‘n pragtige gedenksteen opgerig, maar die enigste gedenkteken op sy graf was daardie hoop klippe in die woestyn. PeP 729.3

Nadat die leier van die rebellie gedood is, het Joab die leër met die klank van die ramshoring sy manskappe herroep sodat hulle die vlugtelinge nie meer agtervolg het nie en dadelik boodskappers gestuur om die tyding aan die koning te bring. PeP 730.1

Die wag op die stadsmuur, wat uitgekyk het in die rigting van die slagveld, het een man alleen sien aangehardloop kom. Kort daarna het ‘n ander een in sig gekom. Toe die eerste nader kom, sê die wag aan die koning: “Ek sien die gang van die eerste is soos die gang van Ahimaas die seun van Sadok. Toe sê die koning: Hy is ‘n goeie man en hy kom met ‘n goeie boodskap. En Ahimaas het uitgeroep en aan die koning gesê: Vrede! En hy het hom voor die koning gebuig met sy aangesig na die aarde en gesê: Geloofd sy die Here u God, wat die manne oorgelewer het wat hulle hand teen my heer die koning opgetel het.” Op die koning se gretige vraag: “Gaan dit goed met die jongman, met Absalom?” het Ahimaas ontwykend geantwoord. PeP 730.2

Die tweede boodskapper het aangekom en geroep: “My heer die koning moet die blye boodskap ontvang dat die Here aan u vandag reg verskaf het teenoor almal wat teen u opgestaan het.” Weer het die absorberende vraag oor die lippe van die vader gekom: “Gaan dit goed met die jongman, met Absalom?” Omdat hy die slegte tyding nie langer van die koning kon verberg nie, het die boodskapper geantwoord: “Mag dit met die vyande van my heer die koning en met almal wat teen u opstaan om kwaad te doen, gaan soos met die jongman!” Dit was genoeg. Dawid het niks meer gevra nie, maar met geboë hoof het hy “...opgeklim na die bovertrek van die poort en geween; en hy het rondgeloop en só gesê: My seun Absalom, my seun, my seun Absalom! Ag, as ek self maar in jou plek gesterf het! Absalom, my seun, my seun!” PeP 730.3

Die seëvierende leër het teruggekeer van die veld en die stad genader, terwyl die geluid van hulle triomfantelike uitroepe deur die heuwels weerklink het. Maar toe hulle die stadspoort binnegaan, het hulle uitroepe stil geraak; hulle het hulle baniere laat sak en met neergeslane oog voortbeweeg asof hulle ‘n nederlaag gely het in stede van ‘n oorwinning behaal het. Want die koning het nie gewag om hulle te verwelkom nie, maar uit die vertrek bokant die poort het sy jammerklag opgeklink: “My PeP 730.4

seun Absalom, my seun, my seun Absalom! Ag, as ek self maar in jou plek gesterf het! Absalom, my seun, my seun!” PeP 731.1

“Daardie dag het die oorwinning vir die hele volk ‘n roubedryf geword, omdat die volk die dag hoor sê het: Die koning is bedroef oor sy seun. Daarom het die volk die dag stilletjies die stad ingekom, net soos mense wat skaam is, wegsluip as hulle in die geveg gevlug het.” PeP 731.2

Joab was met verontwaardiging gevul! God het aan hulle rede vir triomf en blydskap gegee; die grootste opstand wat nog ooit in Israel bekend was, is onderdruk; en tog is hierdie groot oorwinning tot rou gebring oor hom wie se misdaad die bloed van duisende dapper manne gekos het. Die ruwe, kortaf leërowerste het tot in die teenwoordigheid van die koning deurgedring en met vrymoedigheid gesê: “U het vandag die aangesig van al u dienaars beskaamd gemaak, wat vandag u lewe en die lewe van u seuns en dogters...gered het, deur lief te hê diegene wat u haat en te haat diegene wat u liefhet; want u gee vandag te kenne dat owerstes en onderdane vir u niks is nie, want ek merk vandag dat, as Absalom lewendig en ons almal vandag dood was, dit dan in u oë reg sou gewees het. Staan dan nou op, gaan uit en spreek na die hart van u dienaars, want ek sweer by die Here-as u nie uitgaan nie, sal sekerlik vannag geen man by u bly nie; en dit sal vir u ‘n groter onheil wees as al die onheile wat u oorgekom het van u jeug af tot nou toe.” PeP 731.3

Hewig en selfs wreed, soos die bestraffing van die hartverskeurde koning ook was, was Dawid nie gegrief nie. Toe hy besef dat sy generaal reg gehad het, het hy na die afgegaan na die poort en met woorde van moed en lof sy dapper soldate begroet soos hulle by hom verby gemarsjeer het. PeP 731.4