Patriarge en Profete
Hoofstuk 73—Die Laaste Jare van Dawid
(Hierdie hoofstuk berus op 2 Samuel 24; 1 Koning 1;1 Kronieke 21;28;29) PeP 732.1
Die omverwerping van Absalom het nie onmiddellike vrede in die koninkryk gebring nie. So ‘n groot deel van die volk het in opstand gekom, dat Dawid nie na sy hoofstad sou terugkeer en sy gesag sou hervat sonder die uitnodiging van die stamme nie. In die verwarring wat gevolg het op die nederlaag van Absalom, was daar geen onmiddellike en beslissende optrede om die koning te herroep nie en toe die stam van Juda uiteindelik onderneem om Dawid terug te bring, is die jaloesie van die ander stamme opgewek en ‘n teenrewolusie het gevolg. Dit is egter vinnig beëindig en die vrede is weer in Israel herstel. PeP 732.2
Die geskiedenis van Dawid lewer een van die indrukwekkendste getuienisse wat ooit gegee is aangaande die gevare wat die siel bedreig as gevolg van mag en rykdom en wêreldse eer-daardie dinge wat die meeste deur mense begeer word. Daar is min wat ooit ‘n ervaring gehad het wat beter aangepas was om hulle vir so ‘n toets voor te berei. Dawid se vroeë lewe as ‘n herder met die lesse van nederigheid, geduldige arbeid en tere versorging van sy kuddes; die gemeenskap met die natuur in die eensaamheid van die berge wat sy genialiteit vir musiek en poësie en sy gedagtes na die Skepper gelei het; die langdurige dissipline van sy woestynlewe, waar moed, ywer, geduld en geloof in God uitgeoefen is, is deur die Here beskik as voorbereiding op die troon van Israel. Dawid het kosbare ervarings van die liefde van God geniet en is ryklik met Sy Gees bedeel. In die geskiedenis van Saul het hy die totale waardeloosheid van blote menslike wysheid gesien. En tog het die aardse sukses en eer die karakter van Dawid so verswak, dat hy herhaaldelik deur die versoeker oorwin is. PeP 732.3
Omgang met heidense volke het gelei tot ‘n begeerte het om hulle nasionale gebruike te volg en die ambisie vir wêreldse grootsheid aangesteek. Israel moes as die volk van Jehova geëer word; maar namate trots en selfvertroue toegeneem het, was die Israeliete nie meer tevrede met hierdie voorkeur nie. Hulle was eerder begaan oor hulle posisie onder ander nasies. PeP 732.4
Hierdie gesindheid kon nie anders as om versoeking uit te lok nie. Met die oog op die uitbreiding van sy oorwinnings oor vreemde nasies, het Dawid besluit om sy leër te vergroot deur almal wat in die regte ouderdomsgroep geval het, tot diensplig op te roep. Om dit te bewerkstellig, was dit nodig om ‘n volkstelling te neem. Dit was trots en ambisie wat hierdie optrede van die koning aangespoor het. Die volkstelling sou die kontras tussen die swakheid van die koninkryk toe Dawid die troon bestyg het en die krag en welvaart daarvan onder sy heerskappy toon. Dit sou nog verder daartoe neig om die reeds verhoogde grootheidswaan van die koning sowel as die volk te verhoog. Die Skrif sê: “Toe het Satan teen Israel opgetree en Dawid aangehits om Israel te tel.” Die welvaart van Israel onder Dawid was aan die seën van God te danke, nie aan die vermoë van haar koning of die krag van haar leërs. Maar die toename in die militêre hulpbronne van die koninkryk, sou by die omliggende nasies die indruk wek dat Israel se vertroue in haar leërs gesetel was en nie in die mag van Jehova nie. PeP 733.1
Alhoewel die volk van Israel trots was op hul nasionale aansien, het hulle nie Dawid se plan om die militêre diensplig so grootliks uit te brei, met guns bejeën nie. Die voorgestelde volkstelling het baie ontevredenheid veroorsaak en gevolglik was dit nodig om militêre offisiere in diens te neem in die plek van die priesters en amptenare, wat voorheen die sensus opgeneem het. Die doel met die onderneming was regstreeks in stryd met die beginsels van ‘n teokrasie. Selfs Joab, gewetenloos soos hy hom voorheen bewys het, het teëgepraat en gesê: “Mag die Here by sy volk honderd maal meer byvoeg as wat hulle is; hulle is tog almal, my heer koning, my heer se dienaars. Waarom verlang my heer dit? Waarom moet Israel skuldig word? Maar die woord van die koning het die oorhand oor Joab gehad en Joab het uitgetrek en die hele Israel deurgetrek en in Jerusalem aangekom.” Die telling was nog nie voltooi nie, of Dawid het ‘n skuldbesef gehad. Selfverwytend het hy aan die Here gesê: “Ek het swaar gesondig, dat ek hierdie ding gedoen het; maar vergeef tog nou die skuld van u kneg, want ek het my baie besondig.” Die volgende oggend het die profeet Gad die volgende boodskap aan Dawid gebring: “So spreek die Here: Kies vir jou óf drie jaar lank hongersnood, óf om drie maande lank om te kom vanweë jou teëstanders deurdat die swaard van jou vyande jou inhaal, of drie dae lank PeP 733.2
die swaard van die Here, naamlik pes in die land deurdat die engel van die Here verderf aanrig in die hele grondgebied van Israel; oorweeg dan nou...” het die profeet gesê, “...watter antwoord ek my Sender moet bring.” PeP 734.1
Die koning se antwoord was: “Ek is baie benoud; laat my tog in die hand van die Here val, want sy barmhartighede is baie groot, maar laat my in die hand van mense nie val nie.” PeP 734.2
Die land is deur die pes getref en sewentigduisend in Israel het omgekom. Die plaag het die hoofstad nog nie bereik nie “...toe Dawid sy oë opslaan, sien hy die Engel van die Here staan tussen die aarde en die hemel met sy ontblote swaard in sy hand oor Jerusalem uitgestrek. Daarop val Dawid en die oudstes, met rouklere bedek, op hulle aangesig. En Dawid sê tot God: Is dit nie ék wat beveel het om die volk te tel nie? Ja, dit is ek wat gesondig en baie verkeerd gehandel het; maar hierdie skape, wat het hulle gedoen? Here, my God, laat u hand tog teen my en my familie wees, maar nie as ‘n plaag teen u volk nie.” PeP 734.3
Die sensus opname het ontevredenheid onder die volk veroorsaak; en tog het hulle dieselfde sondes wat die optrede van Dawid aangespoor het gekoester. Terwyl die Here die oordeel oor Dawid deur die sonde van Absalom besoek het, het hy ook die sonde van Israel deur die dwaling van Dawid gestraf. PeP 734.4
Die vernietigende engel het sy optrede buite Jerusalem gestaak. Hy het op die berg Moria gestaan “...by die dorsvloer van Oman die Jebusiet.” In opdrag van die profeet het Dawid na die berg gegaan en daar ‘n altaar vir die Here opgerig “...en brandoffers en dankoffers gebring. Onderwyl hy die Here aanroep, het Hy hom met vuur uit die hemel op die brandofferaltaar geantwoord.” “En die Here het Hom oor die land ontferm en die plaag is van Israel afgewend.” PeP 734.5
Op die plek waar die altaar opgerig is, wat voortaan as heilige grond beskou sou word, is deur Oman as ‘n geskenk aan die koning gebied. Maar die koning het geweier om dit gratis te aanvaar. “Nee, maar ek wil dit vir seker koop vir die volle geld; want ek wil nie wat aan jou behoort, vir die Here neem, dat ek verniet ‘n brandoffer sou bring nie. En Dawid het vir die plek seshonderd sikkels goud in gewig aan Oman gegee.” Hierdie PeP 734.6
plek, wat gedenkwaardig was as die plek waar Abraham die altaar opgerig het om sy seun op te offer en nou deur hierdie groot verlossing geheilig is, is agterna gekies as die plek waar Salomo die tempel opgerig het. PeP 735.1
Nog ‘n ander skaduwee sou oor die laaste jare van Dawid saampak. Hy het die ouderdom van sewentig bereik. Die ontberings en blootstellings van sy vroeë omswerwinge, sy vele oorloë, die sorge en swaarkry van sy latere jare, het die fontein van sy lewe uitgemergel. Hoewel sy verstand sy helderheid en sterkte behou het, het swakheid en ouderdom, met die begeerte vir afsondering, ‘n vinnige begrip van wat in die koninkryk gebeur verhoed en weer het ‘n opstand in die skaduwee van die troon gedreig. Weer het die vrug van Dawid se ouerlike toegeeflikheid sigbaar geword. Die een wat nou die troon wou oorneem, was “...baie mooi van gestalte”... wat voorkoms betref, maar beginselloos en onverskillig. In sy jongelingsjare het hy min teregwysing geken; want “...sy vader het hom sy lewe lank nie gekrenk deur te sê nie: Waarom maak jy so?” Hy het nou in opstand gekom teen die gesag van God wat Salomo as troonopvolger aangewys het. Beide in natuurlike gawes en godsdienstige karakter, was Salomo beter as sy ouer broer gekwalifiseerd om heerser van Israel te word; hoewel die keuse van God duidelik aangedui is, het dit Adonia egter nie aan ondersteuners ontbreek nie. Alhoewel Joab hom aan baie misdade skuldig gemaak het, was hy tot dusver lojaal aan die troon; maar hy het hom nou by die sameswering teen Salomo aangesluit en net so ook die priester van Abjatar. PeP 735.2
Die opstand was ryp om uit te breek; die samesweerders het net buite die stad in ‘n groot fees byeengekom om Adonia as koning aan te kondig, toe hulle planne deur die vinnige optrede van ‘n paar getroue persone in die wiele gery is, onder wie Sadok die priester, die profeet Natan en Batseba, die moeder van Salomo. Hulle het die toedrag van sake aan die koning verduidelik en hom daaraan herinner dat Salomo volgens die bevel van God die troonopvolger moes wees. Dawid het onmiddellik ten gunste van Salomo geabdikeer, wat dadelik gesalf en as koning aangekondig is. Die sameswering is verpletter. Die doodstraf is oor die hoofkarakters uitgeroep. Abjatar se lewe is gespaar uit respek vir sy amp en sy eertydse getrouheid aan Dawid; maar hy is die amp van hoëpriester PeP 735.3
ontneem, wat oorgegaan het op Sadok en sy nageslag. Joab en Adonia se lewens is tydelik gespaar, maar na die dood van Dawid het hulle die straf vir hul misdaad ontvang. Die voltrekking van die vonnis op Dawid se seun was die vervulling van die viervoudige oordeel wat getuig het van God se afsku in sy vader se sonde. PeP 736.1
Een van sy mees gekoesterde planne van die begin van die regering van Dawid, was om ‘n tempel vir die Here op te rig. Al was dit hom nie veroorloof om hierdie plan uit te voer nie, het hy nie minder ywer en erns daarvoor aan die dag gelê nie. Hy het ‘n oorvloed van die duursaamste materiaal voorsien; goud, silwer, oniksstene en klippe van verskillende kleure; marmer en die kosbaarste hout. En nou moes hierdie waardevolle skatte wat hy versamel het aan ander toegewy word; want ander hande moes die huis vir die ark, die simbool van God se teenwoordigheid, oprig. PeP 736.2
Aangesien sy einde nader gekom het, het die koning die vorste van Israel, met verteenwoordigers uit alle dele van die koninkryk geroep, om hierdie erfenis in vertroue te ontvang. Hy het begeer om sy sterwende opdrag aan hulle oor te dra en hulle samewerking en ondersteuning in die groot werk wat verrig moes word, te bevestig. Vanweë sy liggaamlike swakheid, is daar nie verwag dat hy persoonlik na hierdie oordrag sou omsien nie; maar die inspirasie van God het oor hom gekom en met meer as sy gewone ywer en krag, kon hy vir die laaste keer sy volk toespreek. Hy het hulle vertel van sy eie begeerte om die tempel op te rig en die opdrag van die Here dat die werk aan sy seun Salomo toegewy moes word. Die Goddelike versekering was: “Jou seun Salomo, hy sal my huis en my voorhowe bou, want Ek het hom vir My as ‘n seun verkies en Ek sal vir hom ‘n Vader wees. En Ek sal sy koningskap bevestig tot in ewigheid as hy getrou my gebooie en my verordeninge onderhou, soos vandag.” “Nou dan...” het Dawid gesê, “...voor die oë van die hele Israel, die vergadering van die Here en voor die ore van onse God: Onderhou en soek al die gebooie van die Here julle God, sodat julle hierdie goeie land kan besit en julle kinders na julle tot in ewigheid kan laat erwe.” PeP 736.3
Dawid het uit eie ervaring geleer hoe moeilik die weg is van hom wat van God af wegdwaal. Hy het die veroordeling van die verbreking van God se wet ervaar en die vrug van oortreding PeP 736.4
gepluk; daarom het hy van ganser hart verlang dat Israel se leiers aan God getrou moes wees en dat Salomo die wet van God moes gehoorsaam en die sondes wat sy vader se gesag verswak en sy lewe verbitter en God oneer aangedoen het, moes vermy. Dawid het geweet dat dit nederigheid van hart, ‘n voortdurende vertroue in God en onophoudelike waaksaamheid sou verg om die versoekings, wat Salamo sekerlik in sy verhewe posisie sou teëkom, te weerstaan; want sulke prominente karakters is die teiken vir Satan se pyle. Toe wend Dawid hom tot sy seun wat reeds as troonopvolger erken was en hy sê: “En jy, my seun Salomo, ken die God van jou vader en dien Hom met ‘n volkome hart en met ‘n gewillige siel, want die Here deursoek al die harte en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind; maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verstoot. Kyk nou, die Here het jou verkies om ‘n huis vir ‘n heiligdom te bou; wees sterk en voer dit uit.” PeP 737.1
Dawid het Salomo noukeurige opdragte gegee oor die bou van die tempel, met patrone vir elke deel en al die instrumente van diens, soos dit deur Goddelike Ingewing aan hom geopenbaar was. Salomo was nog jonk en het teruggedeins vir die gewigtige verantwoordelikhede vir die oprigting van die tempel en die regering van God wat op hom sou rus. Dawid het aan sy seun gesê: “Wees sterk en vol moed en voer dit uit; vrees nie en wees nie verskrik nie, want die Here God, my God, sal met jou wees; Hy sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie.” PeP 737.2
Dawid het weer ‘n beroep op die vergadering gedoen: “My seun Salomo, die een wat God verkies het, is jonk en teer en die werk is groot, want nie vir ‘n mens is die paleis nie, maar vir die Here God.” Hy het gesê: “Uit al my krag het ek gereed gelê vir die huis van my God.” Daarna het hy voortgegaan en al die boumateriaal wat hy versamel het opgenoem. Meer as dit, het hy gesê: “Omdat ek behae het in die huis van my God, besit ek persoonlik goud en silwer; dit gee ek aan die huis van my God bo en behalwe alles wat ek vir die huis van die heiligdom in gereedheid gebring het: drieduisend talente goud, uit goud van Ofir en seweduisend talente gelouterde silwer om daarmee die mure van die geboue oor te trek.” Verder het hy die vergadering PeP 737.3
gevra: “Wie bied hom dan vandag gewillig aan om sy hand te vul vir ‘n offer aan die Here?” PeP 738.1
Daar was onmiddellike reaksie van die vergadering: “Toe het vrywillig gegee: die familie owerstes en die stamowerstes van Israel en die owerstes oor duisend en oor honderd en ook die owerstes oor die diens van die koning. En hulle het gegee vir die diens van die huis van God: aan goud vyfduisend talente en tienduisend darieke; en aan silwer tienduisend talente; en aan koper agtienduisend talente; en aan yster honderdduisend talente. En by wie edelgesteentes gevind is, hulle het dit gegee vir die skat van die huis van die Here ... En die volk was bly oor hulle gewilligheid, want met ‘n volkome hart het hulle vrywillig aan die Here gegee en ook koning Dawid was baie bly.” PeP 738.2
“En Dawid het die Here geloof voor die oë van die hele vergadering en Dawid het gesê: U sy geloofd, Here, God van ons vader Israel van ewigheid tot ewigheid. Aan U, Here, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op aarde; aan U, Here, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles. En die rykdom en die eer kom van U en U heers oor alles; en in u hand is krag en mag en in u hand is dit om alles groot en sterk te maak. En nou, onse God, ons loof U en ons prys u heerlike Naam. Want wie is ek tog en wat is my volk, dat ons in staat sou wees om sulke vrywillige gawes te skenk? Want dit kom alles van U en uit U hand het ons dit aan U gegee. Want ons is vreemdelinge en bywoners voor U aangesig soos al ons vaders; ons dae op die aarde is soos ‘n skaduwee en daar is geen verwagting nie. Here onse God, hierdie ganse rykdom wat ons berei het om vir U, vir U heilige Naam, ‘n huis te bou dit kom uit U hand en dit behoort alles aan U. En ek weet, my God, dat U die hart toets en behae het in opregtheid; ek het in die opregtheid van my hart al hierdie dinge vrywillig gegee; en nou het ek met blydskap gesien hoe U volk, hier aanwesig, vrywillig aan U gegee het.” PeP 738.3
“Here, God van Abraham, Isak en Israel, ons vaders, bewaar dit vir ewig, so ‘n gesindheid in die gedagtes van die hart van U volk en rig hulle hart tot U; en gee aan my seun Salomo ‘n volkome hart om U gebooie, U getuienisse en U insettinge te hou en om alles te doen en om die paleis te bou wat ek voorberei PeP 738.4
het. Daarna het Dawid aan die hele vergadering gesê: Loof nou die Here julle God. Toe het die hele vergadering die Here, die God van hulle vaders, geloof; en hulle het gebuig en voor die Here en voor die koning neergeval.” PeP 739.1
Met die diepste belange het die koning die ryke, duursame materiaal versamel vir die oprigting en versiering van die tempel. Hy het die glorieryke lofliedere gekomponeer wat in die toekoms deur die howe moes eggo. Nou is sy hart in God verbly omdat die owerste van die vaders en die vorste van Israel so ruimhartig op sy beroep gereageer en hulleself aangebied het vir die belangrike werk wat vir hulle voorgelê het. En terwyl hulle hulle dienste aangebied het, was hulle van voorneme om meer te doen. Hulle het die offergawes vergroot deur van hulle eie besittings in die skatkis te stort. Dawid was terdeë bewus van sy eie onwaardigheid in die versameling van die materiaal vir die huis van God en die uitdrukking van lojaliteit in die vinnige reaksie van die edeles van sy koninkryk, omdat hulle met gewillige harte hul skatte aan Jehova gewy en hulself aan Sy diens gewy het, het hom met vreugde gevul. Maar dit was God alleen wat hierdie ingesteldheid aan Sy mense oorgedra het. Hy en nie die mens nie, moes verheerlik word. Dit is Hy wat die rykdom van die aarde aan die mense voorsien het en Sy Gees het hulle gewillig gemaak om hulle kosbaarhede vir die tempel te bring. Dit het alles van die Here gekom; as Sy liefde die harte van die mense nie beweeg het nie, sou die koning se pogings tevergeefs gewees het en die tempel sou nooit opgerig gewees het nie. PeP 739.2
Alles wat die mens uit die oorvloed van God ontvang, behoort steeds aan God. Wat God ook al van die waardevolle en mooi dinge van die aarde geskenk het, word in die hande van die mens geplaas om hom te toets-om die diepte van hul liefde vir Hom en hul waardering vir Sy guns te peil. Of dit die skatte van rykdom, of van intellek is, dit moet as ‘n gewillige offergawe aan die voete van Jesus gelê word; terwyl die gewer intussen soos Dawid sê: “Dit kom alles van U en uit U hand het ons dit aan U gegee.” PeP 739.3
Toe hy die dood voel nader kom, was die las op Dawid se hart steeds vir Salomo en die koninkryk van Israel, wie se voorspoed so grootliks van die getrouheid van sy koning PeP 739.4
afhanklik was. “En toe...het hy sy seun Salomo bevel gegee en gesê: Ek gaan heen op die weg van die hele aarde: wees dan sterk en word ‘n man; en onderhou die ordening van die Here jou God deur te wandel in sy weë, deur sy insettinge, sy gebooie en sy verordeninge en sy getuienisse te onderhou ... sodat jy voorspoedig kan uitvoer alles wat jy doen en alles waartoe jy jou begewe; sodat die Here sy woord mag vervul wat Hy oor my gespreek het, naamlik: As jou seuns ag gee op hulle weg deur voor my aangesig getrou te wandel met hulle hele hart en met hulle hele siel, dan sal daar nie vir jou ‘n man op die troon van Israel ontbreek nie.” (1 Konings 2:1-4). PeP 740.1
Die laaste opgetekende woorde van Dawid is ‘n lied-'n lied van vertroue, van die hoogste beginsels en onverganklike geloof: PeP 740.2
“Dawid spreek, die seun van Isaï, PeP 740.3
en die man wat hoog geplaas was, spreek, PeP 740.4
die gesalfde van die God van Jakob PeP 740.5
en die lieflike in die sange van Israel: PeP 740.6
Die Gees van die Here spreek in my... PeP 740.7
“n Heerser oor mense, “n regverdige, PeP 740.8
“n heerser in die vrees van God, PeP 740.9
is soos die mórelig by sonsopgang. PeP 740.10
“n more sonder wolke PeP 740.11
as deur die glans na die reën PeP 740.12
grasspruitjies uit die aarde uitkom. PeP 740.13
Want is my huis nie so by God nie? PeP 740.14
Want Hy het “n ewige verbond vir my daargestel PeP 740.15
wat in alles gereël en verseker is; PeP 740.16
want al my heil en alle welgevalle, ja, PeP 740.17
sal Hy dit nie laat uitspruit nie?” PeP 740.18
(2 Samuel 23:1 -5) PeP 740.19
Dawid se sondeval was groot, maar sy berou was diep, sy liefde was vurig en sy geloof sterk. Veel is hom vergewe en daarom het hy baie liefgehad. (Lukas 7:48). PeP 740.20
Dawid se psalms beskryf al sy ervarings, van die dieptes van bewuste skuldgevoelens en selfveroordeling, tot die verhewe geloof en die mees verhewe gemeenskap met God. Die verslag van sy lewe verklaar dat sonde slegs skande en smart bring, maar dat God se liefde en genade tot die diepste dieptes kan reik, dat geloof die berouvolle siel sal verhef om in die PeP 740.21
aanneming van die seuns van God te deel. Van al die beloftes wat Sy Woord bevat, is dit een van die sterkste getuienisse oor die getrouheid, die geregtigheid en die verbondsgenade van God. PeP 741.1
Die mens vlug ook “...soos ‘n skaduwee en hou nie stand nie...” “...maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.” “Die goedertierenheid van die Here is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees en sy geregtigheid vir kinds-kinders, vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen.” (Job 14:2; Jesaja 40:8; Psalm 103:17,18). PeP 741.2
Alles wat God doen, sal vir ewig bestaan. (Prediker 3:14). PeP 741.3
Heerlik is die beloftes wat aan Dawid en sy huis gegee is, beloftes wat uitsien na die ewige eeue en hul volle vervulling in Christus vind. Die Here het verklaar: PeP 741.4
“Ek het ‘n verbond gesluit ... met ‘n eed aan Dawid, my kneg, belowe ... met wie my hand bestendig sal wees; ook sal my arm hom versterk ... My trou en my goedertierenheid sal met hom wees en deur my Naam sal sy horing verhef word. En Ek sal sy hand lê op die see en sy regterhand op die riviere. Hy is dit wat My sal noem: U is my Vader, my God en die rots van my heil! Ja, Ek sal hom ‘n eersgeborene maak, die hoogste onder die konings van die aarde. Vir ewig sal Ek my goedertierenheid vir hom bewaar en my verbond bly vir hom vas.” (Psalm 89:4-29). PeP 741.5
“Ek sal sy nageslag vir ewig laat duur PeP 741.6
en sy troon soos die dae van die hemel.” PeP 741.7
(Psalm 89:30) PeP 741.8
“Hy sal aan die ellendiges van die volk reg verskaf, PeP 741.9
die kinders van die behoeftige verlos PeP 741.10
en die verdrukker verbrysel. PeP 741.11
Hulle sal u vrees solank as die son skyn PeP 741.12
en solank as die maan daar is, van geslag tot geslag... PeP 741.13
In sy dae sal die regverdige bloei PeP 741.14
en volheid van vrede, totdat die maan nie meer is nie. PeP 741.15
En hy sal heers van see tot see PeP 741.16
en van die Rivier tot by die eindes van die aarde.” PeP 741.17
“Mag sy naam vir ewig wees; PeP 741.18
mag sy naam uitspruit solank as die son daar is! PeP 742.1
En mag al die nasies in hom geseën word, PeP 742.2
hom gelukkig prys!” PeP 742.3
(Psalm72:4-8,17) PeP 742.4
“Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.” “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.” (Jesaja 9:5; Lukas 1:32,33). PeP 742.5