Patriarge en Profete
Hoofstuk 71—Dawid se Sonde en Berou
(Hierdie hoofstuk berus op 2 Samuel 11;12) PeP 702.1
Die Bybel het min tot lof van mense te sê. Min ruimte word afgestaan om die deugde van selfs die beste mense wat ooit geleef het, te beskryf. Hierdie stilte is nie sonder doel nie; dit is nie sonder ‘n les nie. Al die goeie eienskappe wat mense besit, is ‘n gawe van God; hulle goeie dade word deur die genade van God, deur Christus verrig. Aangesien hulle alles aan God verskuldig is, behoort die eer vir alles wat hulle is of doen, aan Hom alleen; hulle is net instrumente in Sy hande. Maar meer as dit-soos al die lesse van Bybelgeskiedenis leer-is dit ‘n gevaarlike ding om mense te prys of te verhef; want as iemand sy totale afhanklikheid van God uit die oog verloor en op sy eie krag staatmaak, sal hy gewis tot ‘n val kom. Die mens voer ‘n stryd teen vyande wat sterker as hy is. “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” (Efesiërs 6:12). Dit is onmoontlik vir ons om die stryd in ons eie krag voort te sit; en alles wat die aandag van God weglei, alles wat tot selfverheffing of self-afhanklikheid lei, berei gewis die weg voor vir ons omverwerping. Die strekking van die Bybel is om wantroue in menslike krag in te boesem en om vertroue in Goddelike krag aan te moedig. PeP 702.2
Dit was die gees van selfvertroue en selfverheffing wat die weg vir Dawid se val voorberei het. Vleitaal en die subtiele aantrekkingskrag van mag en weelde, was nie sonder uitwerking op hom nie. Omgang met omliggende nasies het ook ‘n bose invloed op hom gehad. Volgens die heersende gebruike onder die Oosterse heersers is misdade wat die koning begaan het, wat nie van sy onderdane gedoog sou word nie, oor die hoof gesien; die koning was nie verplig om dieselfde selfbeheersing as sy onderdane uit te oefen nie. Al hierdie dinge het gedien om Dawid se sin vir die uiterste sondigheid van sonde te af te stomp. En in stede daarvan dat hy in nederigheid op die krag van Jehova vertrou het, het hy op sy eie wysheid en mag begin vertrou. Sodra die Satan die siel van God kan skei, die enigste kragbron, sal hy poog om die onheilige begeertes van die PeP 702.3
vleeslike natuur op te wek. Die werk van die vyand is nie oombliklik nie; dit word nie skielik en skrikwekkend aan die begin toegepas nie; dit is ‘n verborge ondermyning van die vestings van beginsels. Dit begin met oënskynlike geringe dinge-nalatigheid om aan God getrou te wees en volkome op Hom te vertrou en die neiging om die gebruike en gewoontes van die wêreld na te volg. PeP 703.1
Voordat die oorlog met die Ammoniete verby was, het Dawid die bevel van die leër aan Joab oorgelaat en na Jerusalem teruggekeer. Die Siriërs het hulself reeds aan Israel onderwerp en die algehele oorwinning oor die Ammoniete het geblyk ‘n voldonge feit te wees. Dawid was omsingel met die vrugte van sy oorwinning en die eer van sy wyse en bekwame heerskappy. Maar dit was nou, terwyl hy op sy gemak en onbedag was, dat die verleier die geleentheid aangegryp het om sy gedagtes in beslag te neem. Die feit dat God Dawid in so ‘n noue verbintenis met Homself aangeneem het en sulke groot guns teenoor hom openbaar het, moes vir hom die sterkste aansporing gewees het om sy karakter onbevlek te bewaak. Maar toe gemak en selfversekerdheid hom sy houvas op God laat gaan het, het Dawid aan Satan toegegee en die vlek van skuld op sy siel gebring. Hy, die Hemel-aangestelde leier van die nasie, wat deur God uitgekies is om Sy wet te handhaaf, het self die voorskrifte daarvan onder sy voete vertrap. Hy, wat ‘n skrik vir boosdoeners moes wees, het hulle hande deur sy eie daad versterk. PeP 703.2
Te midde van die gevare van sy vroeëre lewe, kon Dawid met bewuste eerbaarheid sy saak aan God toevertrou. Die hand van die Here het hom veiling verby die tallose strikke wat vir sy voete gestel was, gelei. Maar nou, skuldig en onboetvaardig, het hy nie vir hulp en leiding van die Hemel gevra nie, maar gepoog om homself uit die gevare waarin sonde hom begeef het te wikkel. Batseba, wie se dodelike skoonheid ‘n strik vir die koning was, was die vrou van Uria die Hetiet, een van Dawid se mees dapperste en getrouste offisiere. Niemand kon die gevolge van die misdaad, indien dit sou bekend word, vooruitsien nie. Die wet van God het ‘n egbreker skuldig aan die dood verklaar en die trotse, onverskrokke soldaat wat so ‘n skandelike onreg PeP 703.3
aangedoen was, kon hom wreek deur die koning se lewe te neem, of die volk tot opstand op te sweep. PeP 704.1
Elke poging wat Dawid aangewend het om sy skuld te verberg, het misluk. Hy het homself in die mag van Satan verraai; gevaar het hom omring en skande, bitterder as die dood, het hom in die gesig gestaar. Daar was net een uitweg en in sy desperaatheid is hy hom gehaas om moord by owerspel te voeg. Satan, wat die vernietiging van Saul bewerkstellig het, het gepoog om Dawid ook tot ondergang te lei. Alhoewel die versoekings van mekaar verskil het, het beide tot die oortreding van God se wet gelei. Dawid het geredeneer dat indien Uria deur die hande van sy vyande op die slagveld sou sterf, die skuld van sy dood nie aan die koning toegeskryf kon word nie, Batseba sou dan vry wees om sy vrou te word, agterdog sou van hom afgewend word en die eer van die koning sou gehandhaaf word. PeP 704.2
Uria was die draer van sy eie doodsvonnis gemaak. ‘n Brief van die koning wat hy aan Joab moes aflewer, het gelui: “Sit Uria op die voorpunt van die hewigste geveg; trek julle dan agter hom terug, dat hy in die slag kan sneuwel.” Joab, wat reeds eenkeer skuldig was aan moedswillige moord, het nie geaarsel om die koning se bevel uit te voer nie en Uria het deur die swaard van die kinders van Ammon gesterf. PeP 704.3
Tot op hierdie stadium was Dawid se rekord as heerser soos min monarge ooit kon ewenaar. Daar is aangaande hom geskryf dat hy “...aan sy hele volk reg en geregtigheid gedoen...” het. (2 Samuel 8:15). Sy eerbaarheid het die vertroue en die getrouheid van die volk gewen. Maar namate hy van God afgewyk en hom aan die bose oorgegee het, het hy vir ‘n tyd die agent van Satan geword; tog het hy steeds die posisie en gesag wat God aan hom gegee het gehandhaaf en daarom het hy gehoorsaamheid, wat die siel van die een wat dit sou gehoorsaam in gevaar sou stel, geëis. En Joab wat sy trou eerder aan die koning as aan God gegee het, het die wet van God oortree omdat die koning dit beveel het. PeP 704.4
God het Dawid se gesag aan hom gegee, maar alleenlik om in harmonie met die Goddelike wet uit te voer. Toe hy ‘n bevel gee wat teenstrydig met die wet van God was, was dit ‘n sonde om te gehoorsaam. “Want daar is geen mag behalwe van God nie en die wat daar is, is deur God ingestel...” (Romeine 13:1), PeP 704.5
maar ons mag dit nie teenstrydig met die wet van God gehoorsaam nie. Die apostel Paulus skryf aan die Korinthiërs die beginsels voor waardeur ons geregeer moet word. Hy sê: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.” (1 Korinthiërs 11:1). PeP 705.1
'n Verslag oor die uitvoer van sy bevel is aan Dawid gestuur, maar so versigtig bewoord, sodat dit nie Joab of die koning sou impliseer nie. Joab het die boodskapper opdrag gegee en gesê: “Net soos jy die hele beloop van die geveg aan die koning klaar vertel het-as dan die woede van die koning opkom ... dan moet jy sê: U dienaar Uria, die Hetiet, is ook dood! En die boodskapper het gegaan en aangekom en aan Dawid alles vertel wat Joab hom opgedra het.” Die koning se antwoord was: “So moet jy aan Joab sê: Laat hierdie saak nie so verkeerd wees in jou oë nie, want die swaard verteer die een sowel as die ander; veg net dapper teen die stad en verwoes dit. So moet jy hom moed inpraat. ” PeP 705.2
Batseba het die vasgestelde tyd oor haar man gerou en daarna, het “...Dawid gestuur en haar in sy huis opgeneem; en sy het sy vrou geword.” Hy wie se gewete en hoë sin vir eerbaarheid hom selfs in lewensgevaar nie wou toelaat om sy hand teen die gesalfde van die Here uit te steek nie, het so laag gedaal, dat hy een van sy getrouste en dapperste soldate ‘n onreg kon aandoen en hom vermoor en die hoop koester om die beloning van sy sonde ongehinderd te geniet. Helaas! Hoe het die glans van die fyn goud verdof! Hoe het die fynste goud verander! PeP 705.3
Satan het van die begin af aan mense die voordele van oortreding geskilder. So het hy engele verlei. So het hy Adam en Eva in die versoeking gebring om te sondig. En so lei hy steeds die menigtes weg van gehoorsaamheid aan God. Die weg van die oortreder skyn begeerlik te wees “...maar die einde daarvan is weë van die dood.” (Spreuke 14:12). Gelukkig is diegene wat, nadat hulle dit op hierdie weg gewaag het, geleer het hoe bitter die vrug van sonde is en betyds daarvan weggedraai het. In Sy genade het God Dawid nie oorgelaat om deur die bedrieglike belonings van sonde tot algehele ondergang verlei te word nie. PeP 705.4
Dit was ook ter wille van Israel, dat God moes ingryp. Na verloop van tyd het Dawid se sonde met Batseba bekend geword en die volk het agterdogtig begin word dat hy Uria se dood beplan het. Die Here is onteer. Hy het Dawid begunstig en verhef en Dawid se sonde was ‘n wanvoorstelling van die karakter van God en het skande oor Sy Naam gebring. Dit het geneig om die standaard van die godsdienstigheid van Israel te verlaag en in baie se gedagtes die verkeerdheid van sonde te laat afneem; terwyl diegene wat God nie liefgehad en gevrees het nie, in hulle oortreding aangemoedig is. PeP 706.1
Die profeet Natan is gelas om ‘n boodskap van teregwysing aan Dawid oor te dra. Die boodskap was verskriklik in die strengheid daarvan. Hierdie bestraffing kon aan min konings oorgedra word sonder die gevaar van ‘n besliste doodsvonnis. Natan het die Goddelike oordeel onverbiddelik gelewer, maar tog met sulke hemels-gebore wysheid, dat hy die koning se medelye gaande gemaak het, sy gewete opgewek het en hom die doodsvonnis oor homself uit sy eie mond laat uitspreek het. Die profeet het ‘n beroep op Dawid, die Goddelik-aangestelde beskermer van sy mense se regte gedoen, deur aan hom ‘n verhaal van ‘n onreg en onderdrukking wat om vergelding geroep het, te vertel. PeP 706.2
“Daar was twee manne in ‘n sekere stad...” het hy gesê, “..die een was ryk en die ander arm. Die ryke het ‘n groot menigte kleinvee en beeste gehad, maar die arme het glad niks gehad nie, behalwe een klein ooilammetjie wat hy gekoop en in die lewe gehou het en wat by hom en saam met sy kinders grootgeword het; dit het van sy stukkie brood geëet en uit sy beker gedrink en in sy skoot geslaap en dit was vir hom soos ‘n dogter. En toe daar besoek kom by die ryk man, het hy ontsien om van sy kleinvee of beeste te neem om vir die reisiger wat by hom gekom het, iets te berei; daarom het hy die ooilam van die arm man geneem en dit berei vir die man wat by hom gekom het.” PeP 706.3
Dit het die woede van die koning laat ontvlam en hy het uitgeroep: “So waar as die Here leef, die man wat dit gedoen het, moet sterwe! En die ooilam moet hy viervoudig teruggee, omdat hy hierdie ding gedoen het en geen ontferming geken het nie.” (2 Samuel 12:5,6). PeP 706.4
Natan het die koning in die oë gekyk, sy regterhand omhoog gelig en plegtig verklaar: “U is die man!” Toe vervolg hy: “Waarom het jy die woord van die Here verag deur te doen wat verkeerd is in sy oë?” Die skuldiges kan probeer, soos Dawid gedoen het, om hulle misdade vir mense te verberg; hulle kan probeer om die bose daad vir ewig vir die menslike oog of kennis weg te steek; maar “...alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.” (Hebreërs 4:13). “Daar is niks bedek wat nie ontdek sal word nie en verborge wat nie bekend sal word nie.” (Mattheus 10:26). PeP 707.1
Natan het verklaar: “So sê die Here, die God van Israel: Ek het jou as koning gesalf oor Israel en Ek het jou gered uit die hand van Saul... Waarom het jy die woord van die Here verag deur te doen wat verkeerd is in sy oë? Uria, die Hetiet, het jy met die swaard verslaan en sy vrou het jy vir jou as vrou geneem, nadat jy hom deur die swaard van die kinders van Ammon vermoor het. En nou sal die swaard vir ewig van jou huis nie wyk nie... Kyk, Ek sal uit jou huis onheil oor jou verwek en jou vroue voor jou oë neem en aan jou naaste gee ... Want jy het dit in die geheim gedoen, maar Ek sal hierdie ding doen voor die hele Israel en in die volle sonlig.” PeP 707.2
Die profeet se bestraffing het die hart van Dawid aangeraak; sy gewete is opgewek; sy skuld het in al sy grootheid voor hom verskyn. Sy siel het in berou voor God neergebuig. Met bewende lippe het hy gesê: “Ek het gesondig teen die Here!” Al die kwaad wat ander aangedoen word, word vanaf die verwonde na God weerkaats. Dawid het ‘n gruwelike sonde teenoor Uria en Batseba gepleeg en hy was terdeë bewus daarvan. Maar sy sonde teen God was oneindig groter. PeP 707.3
Hoewel daar niemand in die ganse Israel gevind kon word om die doodvonnis op die gesalfde van die Here te voltrek nie, het Dawid gebewe uit vrees dat, hy in sy skuldigheid en sonder vergifnis, spoedig deur die oordeel van God kon sterf. Maar die profeet het die boodskap aan hom gebring: “So het die Here dan ook u sonde vergewe: U sal nie sterf nie.” Tog moes geregtigheid geskied. Die doodvonnis is van Dawid op die kind van sy sonde oorgedra. So het die koning, terwyl die lyding en dood van sy kind, as deel van sy straf, vir hom veel bitterder was as wat sy eie dood sou gewees het, geleentheid vir berou gehad. Die profeet het gesê: “Omdat u die vyande van die Here PeP 707.4
deur hierdie saak aanleiding gegee het om grootliks te laster, sal die kind wat vir u gebore is, ook sekerlik sterwe.” PeP 708.1
Toe die kind getref is, het Dawid met vas en diepe ootmoed vir sy lewe gepleit. Hy het sy koninklike kleed uitgetrek, sy kroon opsy gesit en nag na nag met ‘n gebroke hart op die grond gelê en smeek vir die onskuldige kind wat vir sy skuld moes ly. “Daarop kom die oudstes van sy huis na hom en wou hom van die grond laat opstaan, maar hy wou nie.” Dikwels wanneer oordele oor persone of stede uitgespreek is, het vernedering en berou die oordeel ter syde gestel en die Ewige Genadige het boodskappers van vrede gestuur. Aangemoedig deur hierdie gedagte, het Dawid met sy smeekgebede volgehou vir solank as wat die kind geleef het. Toe hy verneem dat die kind dood is, het hy hom stilweg aan die besluit van God onderwerp. Die eerste slag van die vergelding wat hy self as regverdig verklaar het, het geval; maar Dawid het op die genade van God vertrou en was nie sonder vertroosting nie. PeP 708.2
Baie mense wat die geskiedenis van die val van Dawid gelees het, het gevra: “Waarom word hierdie verhaal openbaar gemaak? Waarom het God dit goed geag om hierdie sondige daad van een wat deur die Hemel so hoog vereer is, openbaar te maak?” Toe die profeet Dawid bestraf het, het hy aangaande sy sonde gesê dat hy “...die vyande van die Here deur hierdie saak aanleiding gegee het om grootliks te laster.” Deur die daaropvolgende eeue het ongelowiges na hierdie donker vlek in Dawid se karakter gewys en triomfantlik en met veragting uitgeroep: “Dit is die man na die hart van God!” So is godsdiens gesmaad; God en Sy Woord is belaster; siele het in ongeloof verhard en talle het hulle onder ‘n dekmantel van vroomheid in die sonde volhard. PeP 708.3
Maar die geskiedenis van Dawid keur sonde nie goed nie. Dit was terwyl hy volgens die raadsbesluite van God gewandel het dat hy ‘n man na God se hart genoem is. Toe hy gesondig het, het dit nie meer vir hom gegeld nie, totdat hy met berou na die Here teruggekeer het. Die Woord van God verklaar duidelik: “Die ding wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here.” (2 Samuel 11:27). En deur die profeet het die Here aan Dawid gesê: “Waarom het jy die woord van die Here verag deur te doen wat verkeerd is in sy oë?... En nou sal die swaard vir PeP 708.4
ewig van jou huis nie wyk nie, omrede dat jy My verag het.” Hoewel Dawid berou oor sy sonde gehad het en deur die Here vergewe en aanvaar is, het hy die verderflike oes van die saad wat hy self gesaai het, gemaai. Die oordele oor hom en oor sy huis getuig van die afskuwelikheid van die sonde vir God. PeP 709.1
Tot dusver het die voorsienigheid van God Dawid teen al die sameswerings van sy vyande beskerm en was regstreeks uitgeoefen om Saul te weerhou. Maar Dawid se oortreding het sy verhouding met God verander. Die Here kon sonde op geen wyse goedkeur nie. Hy kon nie Sy mag uitoefen om Dawid teen die gevolge van sy sonde te beskerm, soos hy hom teen die vyandigheid van Saul beskerm het nie PeP 709.2
Daar was ‘n groot verandering in Dawid self. Hy was gebroke van gees deur die bewustheid van sy sonde en die verreikende gevolge daarvan. Hy het vernederd in die oë van sy onderdane gevoel. Sy invloed is verswak. Tot dusver is sy voorspoed aan sy pligsgetroue gehoorsaamheid aan die gebooie van God toegeskryf. Maar sy onderdane, wat nou van sy sonde bewus was, sou nou met meer vrymoedigheid tot sonde gelei word. Sy gesag oor sy eie huisgesin, sy aanspraak op die respek en gehoorsaamheid van sy seuns, is verswak. Sy skuldgevoel het hom laat swyg wanneer hy sonde moes veroordeel; dit het sy arm in die toepassing van die reg in sy eie huisgesin verswak. Sy bose voorbeeld het ‘n invloed op sy seuns gehad en God sou nie ingryp om die gevolge te verhoed nie. Hy sou sake hulle natuurlike gang laat gaan en daardeur is Dawid ernstig gestraf. PeP 709.3
“n Hele jaar na sy val, het Dawid oënskynlik in veiligheid gewoon; daar was geen uiterlike bewyse van God se misnoeë nie. Maar die Goddelike vonnis het oor sy hoof gehang. Die dag van vergelding het hom spoedig en meedoënloos ingehaal en geen berou kon die smart en die skande wat sy hele aardse lewe sou verduister, verhoed nie. Diegene wat, deur op die voorbeeld van Dawid te wys, die skuld van hul eie sondes probeer verminder, moet uit hierdie Bybel verslag leer dat die weg van oortreding bittere gevolge het. Alhoewel hulle, soos Dawid, sou wegdraai van hul bose weë, sal die gevolge van sonde, selfs in hierdie lewe, bitter en moeilik wees om te verduur. PeP 709.4
Dit was God se bedoeling dat die geskiedenis van die val van Dawid as waarskuwing sou dien, dat selfs diegene wat Hy ryklik PeP 709.5
geseën en bevoordeel het, nie veilig moet voel en hulle waaksaamheid en gebed verwaarloos nie. En so is dit aan diegene, wat in nederigheid probeer het om die les te leer wat God hulle wou leer, bewys. Van geslag tot geslag het duisende hieruit hul eie gevaar teen die mag van die versoeker besef. Die val van Dawid, wie so hoog deur die Here vereer is, het ‘n wantroue in die self verwek. Hulle het gevoel dat net deur geloof in God, Hy hulle in Sy krag kon bewaar. In die wete dat hulle krag en veiligheid in Hom was, was hulle bevrees om die eerste tree op Satan se grond te gee. PeP 710.1
Nog voordat die Goddelike vonnis oor Dawid uitgespreek is, het hy al die vrugte van sy oortreding begin pluk. Sy gewete het hom geen gemoedsrus gegee nie. Die geestelike pyn wat hy verduur het, word in die twee-en-dertigste psalm beskryf. Hy sê: PeP 710.2
“Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, PeP 710.3
wie se sonde bedek is. PeP 710.4
Welgeluksalig is die mens aan wie die Here PeP 710.5
die ongeregtigheid nie toereken nie, PeP 710.6
en in wie se gees geen bedrog is nie. PeP 710.7
Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer PeP 710.8
in my gebrul die hele dag; PeP 710.9
want u hand was dag en nag swaar op my; PeP 710.10
my murg het verander soos deur somergloed. ” PeP 710.11
(Psalm 32:1-4) PeP 710.12
En in die een-en-vyftigste psalm spreek Dawid sy berou uit nadat die boodskap van bestraffing na hom van God gekom het: PeP 710.13
“Wees my genadig, O God, na u goedertierenheid; PeP 710.14
delg my oortredinge uit PeP 710.15
na die grootheid van u barmhartigheid. PeP 710.16
Was my heeltemal van my ongeregtigheid PeP 710.17
en reinig my van my sonde. PeP 710.18
Want ek ken my oortredinge PeP 710.19
en my sonde is altyddeur voor my... PeP 710.20
Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; PeP 710.21
was my, dat ek witter kan wees as sneeu. PeP 710.22
Laat my vreugde en blydskap hoor; PeP 710.23
laat die gebeente juig wat U verbrysel het. PeP 710.24
Verberg u aangesig vir my sondes PeP 711.1
en delg uit al my ongeregtighede. PeP 711.2
Skep vir my “n rein hart, O God, PeP 711.3
en gee opnuut in die binneste van my “n vaste gees. PeP 711.4
Verwerp my nie van u aangesig nie PeP 711.5
en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. PeP 711.6
Gee my weer die vreugde van u heil, PeP 711.7
en ondersteun my deur “n gewillige gees. PeP 711.8
Ek wil die oortreders u weë leer, PeP 711.9
dat die sondaars hulle tot U kan bekeer. PeP 711.10
Red my van bloedskuld, O God, God van my heil! PeP 711.11
Laat my tong u geregtigheid uitjubel.” PeP 711.12
(Psalm 51:3-16) PeP 711.13
In hierdie gewyde lied wat geskryf is om in die openbare volksvergaderings, ten aanhore van die howelinge, priesters en regters, vorste en krygsmanne, gesing te word en wat die kennis van sy val tot met die laaste geslag sou bewaar, het die koning van Israel sy sonde, sy berou en sy hoop op vergifnis deur die genade van God, vertel. In stede daarvan om te probeer om sy sonde te verberg, het hy begeer dat ander deur die droewige geskiedenis van sy val moes leer. PeP 711.14
Dawid se berou was opreg en diep. Daar was geen poging om sy misdaad goed te praat nie. Geen begeerte om die dreigende oordele te ontkom het sy gebede geïnspireer nie. Maar hy het die omvang van sy sonde teen God ingesien; hy het die besoedeling van sy siel gesien; hy het sy sonde verafsku. Hy het nie net om vergifnis gebid nie, maar om reinheid van hart. Dawid het die stryd nie wanhopig gewonne gegee nie. In die beloftes van God aan boetvaardige sondaars, het hy die bewys van sy vergifnis en aanvaarding gesien. PeP 711.15
“Want U het geen lus in slagoffer nie, PeP 711.16
anders sou ek dit gee; PeP 711.17
in brandoffer het U geen behae nie. PeP 711.18
Die offers van God is “n gebroke gees; PeP 711.19
“n gebroke en verslae hart sal U, O God, nie verag nie!” PeP 711.20
(Psalm 51:18,19) PeP 711.21
Alhoewel Dawid geval het, het die Here hom opgehef. Hy was nou meer in harmonie met God en het meer medelye met PeP 711.22
sy medemens as voor sy val gehad. In die vreugde van sy vrylating het hy gesing: PeP 712.1
“My sonde het ek U bekend gemaak PeP 712.2
en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. PeP 712.3
Ek het gesê: Ek wil aan die Here my oortredinge bely; PeP 712.4
en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe ... PeP 712.5
U is “n skuilplek vir my; U bewaar my vir benoudheid; PeP 712.6
U omring my met vrolike gesange van bevryding. ” PeP 712.7
(Psalm 32:5-7) PeP 712.8
Baie het gemurmureer oor wat hulle die onregverdigheid van God genoem het, omdat Hy Dawid gespaar het terwyl sy sonde so groot was, nadat Hy Saul verwerp het weens sondes wat skynbaar veel geringer was. Maar Dawid het homself verneder en hy het sy sonde bely, terwyl Saul die bestraffing verag en sy hart in onboetvaardigheid verhard het. PeP 712.9
Hierdie gedeelte uit die geskiedenis van Dawid is van groot betekenis vir die boetvaardige sondaar. Dit is een van die mees dwingendste illustrasies wat aan ons gegee is aangaande die stryd en versoekings van die mensdom en van opregte berou teenoor God en geloof van ons Here Jesus Christus. Deur al die eeue heen was dit ‘n bron van bemoediging vir siele wat, nadat hulle in die sonde verval het, onder die las van hulle skuld geworstel het. Duisende van God se kinders wat tot sonde verlei is, het, toe hulle op die punt was om moed op te gee, onthou hoe Dawid se opregte berou en belydenis vir God aanneemlik was, ondanks die feit dat hy vir sy oortreding moes ly; en hulle het ook moed geskep om hulle te bekeer en om weer te probeer om in die weë van God se gebooie te wandel. PeP 712.10
Wie ook, onder die teregwysing van God, hul siel verneder met belydenis en berou, soos Dawid, kan seker wees dat daar hoop vir hom is. Wie ook God se beloftes in geloof aanvaar, sal vergifnis ontvang. Die Here sal nooit ‘n waarlik boetvaardige siel verwerp nie. Hy het belowe: “Hulle moet my beskutting aangryp, vrede met My maak, vrede met My maak” (Jesaja 27:5). “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.” (Jesaja 55:7). PeP 712.11