Patriarge en Profete

71/75

Hoofstuk 69—Dawid op die Troon Geplaas

(Hierdie hoofstuk berus op 2 Samuel 2 tot 5:5) PeP 682.1

Die dood van Saul het die gevare wat van Dawid ‘n banneling gemaak het verwyder. Die weg was nou vir hom oop om na sy eie land terug te keer. Toe die dae van roubeklag oor Saul en Jonatan verby was, “...het Dawid die Here geraadpleeg en gesê: Sal ek optrek in een van die stede van Juda? En die Here het hom geantwoord: Trek op. Toe sê Dawid: Waarheen moet ek optrek? En Hy antwoord: Na Hebron.” PeP 682.2

Hebron was twee-en-dertig kilometers noord van Berséba en ongeveer halfpad tussen daardie stad en die toekomstige terrein van Jerusalem. Dit is oorspronklik Kirjat-Arba, die stad van Arba, die vader van Enak genoem. Later is dit Mamre genoem en daar was die begraafplaas van die patriarge, naamlik die “spelonk van Magpéla.” Hebron was voorheen in die besit van Kaleb en nou was dit die hoofstad van Juda. Dit lê in ‘n vallei en word deur vrugbare heuwels en lande omring. Die mooiste wingerde van Palestina was aan sy grense en daar was ook talle olyfboorde en ander vrugtebome. PeP 682.3

Dawid en sy volgelinge het hulle dadelik gereed gemaak om die opdrag wat hulle van God ontvang het te gehoorsaam. Die seshonderd gewapende manne met hulle vrouens, kinders en kuddes was spoedig onderweg na Hebron. Toe die geselskap die stad binnekom, was die manne van Juda gereed om Dawid as die toekomstige koning van Israel te verwelkom. Daar is dadelik reëlings vir sy kroning getref. “Daarna het die manne van Juda gekom en Dawid daar as koning oor die huis van Juda gesalf.” Maar geen poging is aangewend om sy gesag met geweld op die ander stamme af te dwing nie. PeP 682.4

Een van die eerste dade van die nuut-bekroonde monarg, was om sy tere agting vir die nagedagtenis van Saul en Jonathan uit te druk. Toe hy van die dapper daad van die manne van Jabes in Gilead hoor, wat die liggame van die gevalle leiers gehaal en eerbaar begrawe het, het Dawid ‘n afvaardiging na Jabes gestuur met die boodskap: “Mag julle geseënd wees deur die Here, dat julle hierdie guns bewys het aan julle heer, aan Saul en hom begrawe het. Mag die Here julle dan nou guns en PeP 682.5

trou bewys en ek self bewys ook hierdie goedheid aan julle.” En hy het sy toetrede tot die troon van Juda aangekondig en die lojaliteit van hulle wat hulself so trou van hart bewys het, gewen. PeP 683.1

Die Filistyne het nie die optrede van Juda om Dawid koning te maak teengestaan nie. Hulle het gedurende sy ballingskap met hom bevriend geraak om die koninkryk van Saul te teister en te verswak en het nou die hoop gekoester dat as gevolg van hulle vorige goedhartigheid teenoor Dawid, die uitbreiding van sy gesag, op die ou einde tot hulle voordeel sou strek. Maar Dawid se bewind sou nie vry van probleme wees nie. Met sy kroning het die duistere rekord van sameswering en rebellie begin. Dawid het nie op ‘n verraaier se troon gesit nie; God het hom gekies om koning van Israel te wees en daar was geen rede vir wantroue of teenstand nie. Maar skaars is sy gesag deur die mense van Juda erken, of, deur die invloed van Abner, is Isboset, die seun van Saul, tot koning verklaar en op die troon van Israel geplaas. PeP 683.2

Isboset was egter ‘n swak en onbevoegde verteenwoordiger van die huis van Saul, terwyl Dawid uitnemend bekwaam was om die verantwoordelikhede van die koninkryk te dra. Abner, die hoofagent om Isboset tot koning te verhoog, was die opperbevelvoerder van Saul se leër en die mees hooggeplaaste man in Israel. Abner het geweet dat Dawid deur die Here op die troon van Israel aangestel is, maar nadat hy hom vir so lank gejag en agtervolg het, was hy nou nie gewillig dat die seun van Isaï die koninkryk, waaroor Saul geheers het, moes opvolg nie. PeP 683.3

Die omstandighede waarin Abner hom bevind het, het gedien om sy ware karakter te ontwikkel en het getoon dat hy ambisieus en beginselloos was. Hy was nou verwant aan Saul en is deur die gees van die koning beïnvloed om die man wat God gekies het om oor Israel te regeer, te verag. Sy haat het toegeneem na die snedige bestraffing wat Dawid hom toegedien het nadat die waterkruik en die spies van Saul afgeneem was terwyl hy in die kamp geslaap het. Hy het onthou hoe Dawid, ten aanhore van die koning en die volk van Israel uitgeroep het: “Jy is tog ‘n man en wie is soos jy in Israel? Waarom het jy dan nie by jou heer die koning wag gehou nie? ... Hierdie ding is nie goed wat jy gedoen het nie! So waar as die Here leef, voorwaar, julle verdien die dood, omdat julle nie wag gehou het oor julle PeP 683.4

heer, oor die gesalfde van die Here nie.” Hierdie teregwysing het aan sy siel geknaag en hy het hom voorgeneem om wraak te neem deur verdeeldheid in Israel te veroorsaak sodat hyself verhef kon word. Hy het die verteenwoordiger van die oorlede koning gebruik om sy eie eersugtige planne te bevorder. Hy het geweet dat die volk Jonatan liefgehad het. Sy nagedagtenis is gekoester en die leër het Saul se eerste geslaagde veldtogte nie vergeet nie. Met vasbeslotenheid wat ‘n beter saak waardig sou wees, het hierdie opstandige leier voortgegaan om sy planne uit te voer. PeP 684.1

Mahanaïm, oorkant die Jordaanrivier, is as die koninklike woning gekies omdat dit die grootste veiligheid teen ‘n aanval van óf Dawid, óf die Filistyne gebied het. Hier het die kroning van Isboset plaasgevind. Sy heerskappy is eers deur die stamme oos van die Jordaan aanvaar en het uiteindelik oor die hele Israel, behalwe Juda uitgebrei. Vir twee jaar lank het Saul se seun hierdie eer in die afgeleë hoofstad geniet. Maar Abner, ingestel daarop om sy mag oor die hele Israel uit te brei, het vir aggressiewe oorlogvoering voorberei: “En daar was ‘n lang oorlog tussen die huis van Saul en die huis van Dawid en Dawid het altyd sterker geword, maar die huis van Saul altyd swakker.” PeP 684.2

Uiteindelik is die troon wat op haat en eersug gegrond was, deur verraad omvergegooi. Abner het woedend vir die swak en onbekwame Isboset geword en het na Dawid toe oorgeloop met die aanbod om al die stamme van Israel na hom toe oor te bring. Sy voorstelle is deur die koning aanvaar en hy is eervol ontslaan om sy doel te bereik. Maar die gunstige ontvangs van so ‘n dapper en beroemde kryger het die jaloesie van Joab, die opperbevelvoerder van Dawid se leër, aangewakker. Daar was ‘n bloedige vete tussen Abner en Joab, omdat eersgenoemde Asahel, Joab se broer, in die gevegte tussen Israel en Juda doodgemaak het. Nou het Joab ‘n geleentheid gesien om sy broer se dood te wreek en van ‘n voorgenome mededinger ontslae te raak en het Abner voorgelê en hom vermoor. PeP 684.3

Toe Dawid van hierdie verraderlike aanranding hoor, het hy uitgeroep: “Ek en my koninkryk is voor die Here vir ewig onskuldig aan die bloed van Abner, die seun van Ner. Mag dit losbreek op die hoof van Joab en op sy hele familie.” In die lig van die onrustige toestand in die koninkryk en die mag en posisie van die moordenaars-want Joab se broer, Abisaï, het PeP 684.4

met hom saamgewerk-kon Dawid nie die misdaad met geregtelike vergelding straf nie, maar hy het sy afkeur van die bloedige daad in die openbaar gemanifesteer. Abner is met openbare eerbetoon begrawe. Die leër, met Joab aan die hoof, was verplig om met geskeurde klere en sakke aan die roudiens deel te neem. Die koning het sy droefheid betoon deur op die dag van die begrafnis te vas; hy het as hoof-roubeklaer agter die stoet geloop; en by die graf het hy ‘n treurdig aangehef wat ‘n skerp bestraffing vir die moordenaars was. “Die koning het ‘n klaaglied oor Abner aangehef en gesê: PeP 685.1

“Moes Abner sterwe soos “n dwaas sterwe? PeP 685.2

Jou hande was nie gebind PeP 685.3

en jou voete nie aangeraak met koper kettings nie. PeP 685.4

Soos ‘n mens voor kwaaddoeners val, PeP 685.5

het jy geval. ” PeP 685.6

Dawid se groothartige erkenning van iemand wat sy bitterste vyand was, het die vertroue en bewondering van die ganse Israel gewin. “En die hele volk het dit opgemerk en dit was goed in hulle oë: soos alles wat die koning gedoen het, was dit goed in die oë van die hele volk. En die hele volk en die hele Israel het dieselfde dag gemerk dat dit nie van die koning gekom het om Abner, die seun van Ner, dood te maak nie.” In die privaat kring van sy betroubare raadgewers en volgelinge, het die koning die misdaad bespreek en omdat hy sy eie onvermoë om die moordenaars volgens verdienste te straf erken het, het hy hulle aan die oordeel van God oorgelaat: “Weet julle nie dat vandag ‘n vors en ‘n groot man in Israel geval het nie? Maar ek is vandag swak, alhoewel ek as koning gesalf is, terwyl hierdie manne, die seuns van Seruja, harder is as ek. Mag die Here die kwaaddoener vergelde na sy boosheid!” PeP 685.7

Abner was opreg in sy aanbiedinge en vertoë aan Dawid, maar sy motiewe was laag en selfsugtig. Hy het deurgaans die koning van God se aanstelling teengestaan, met die verwagting om eer vir homself te bekom. Dit was gegriefdheid, gekrenkte trots en passie wat daartoe gelei het dat hy die saak wat hy vir so lank gedien het, laat vaar het; en deur oor te loop na Dawid toe, het hy gehoop om die hoogste ere posisie in sy diens te bekom. As hy in sy doel geslaag het, sou sy talente, sy ambisie, sy groot invloed en sy gebrek aan godsaligheid, die troon van PeP 685.8

Dawid en die vrede en voorspoed van die volk in gevaar gestel het. PeP 686.1

“Toe die seun van Saul hoor dat Abner in Hebron gesterf het, het sy hande slap geword en die hele Israel was verskrik.” Dit was duidelik dat hy die koninkryk nie lank sou behou nie. Weldra het ‘n ander verraderlike daad die ondergang van die kwynende mag voleindig. Isboset is skandelik deur twee van sy leërowerstes vermoor, wat hom onthoof het en met sy hoof na die koning van Juda gehaas het in die hoop om sy guns te bekom. PeP 686.2

Hulle het voor Dawid verskyn met die bloedige bewysstuk van hulle misdaad en gesê: “Hier is die hoof van Isboset, die seun van Saul, u vyand wat u lewe gesoek het; maar die Here het aan my heer die koning vandag wraak gegee op Saul en sy nageslag.” Maar Dawid, wie se troon deur God gevestig is en wie God van sy teëstanders verlos het, het nie begeer om sy mag met verraad te bevestig nie. Hy het hierdie moordenaars ingelig oor die lot van die man wat gespog het dat hy Saul vermoor het. Toe sê hy verder: “Hoeveel te meer sal ek dan nou nie, as goddelose mense ‘n regverdige man in sy huis op sy bed vermoor, sy bloed van julle hand eis en julle van die aarde verdelg nie. Toe het Dawid sy jong manne bevel gegee en dié het hulle gedood ... maar die hoof van Isboset het hulle geneem en dit begrawe in die graf van Abner in Hebron.” PeP 686.3

Na die dood van Isboset, was daar ‘n algemene begeerte onder die leiers van Israel dat Dawid oor al die stamme koning moes word. “Toe kom al die stamme van Israel na Dawid in Hebron en hulle spreek en sê: Hier is ons, u been en u vlees is ons!” Hulle het gesê: U het “...Israel uit-en ingelei; en die Here het aan u gesê: Jy moet my volk Israel oppas en jy moet ‘n vors wees oor Israel. So het dan al die oudstes van Israel na die koning in Hebron gekom; en koning Dawid het met hulle ‘n verbond in Hebron gesluit voor die aangesig van die Here.” So is daar, deur die voorsienigheid van God, die weg vir hom geopen om die troon te bestyg. Hy het geen persoonlike ambisie gehad om te bevredig nie, want hy het nie na die eer gesoek wat hom te beurt geval het nie. PeP 686.4

Meer as agtduisend van die nageslag van Aaron en die Leviete het Dawid bedien. Die verandering in die mense se PeP 686.5

meningspeilings was opvallend en deurslaggewend. Die rewolusie was stil en waardig, wat gepas het by die groot werk wat hulle gedoen het. Bykans ‘n halfmiljoen siele, voormalige onderdane van Saul, het by Hebron en die omgewing saamgekom. Die heuwels en valleie het van die mense gewemel. Die uur vir die kroning is bepaal; die man wat uit Saul se hof verban was, wat na die berge en heuwels en spelonke van die aarde gevlug het om sy lewe te bewaar, was op die punt om die hoogste eer te ontvang wat deur sy medemens aan ‘n mens toegeken kan word. Priesters en oudstes in hulle heilige ampsgewaad, amptenare en soldate, met glinsterende spies en helm en vreemdelinge van lang afstande af, het gestaan om te getuig van die kroning van die uitverkore koning. Dawid was bekleed met die koninklike kleed. Die heilige olie is deur die hoëpriester op sy voorhoof geplaas, want die salwing destyds deur Samuel was ‘n profesie van wat met die inhuldiging van die koning sou plaasvind. Die tyd het aangebreek en Dawid, is met groot plegtigheid in sy amp as God se verteenwoordiger bevestig. Die septer is in sy hand geplaas; die verbond van sy regverdige soewereiniteit is opgeteken en die volk het hulle beloftes van lojaliteit gegee. Die kroon is op sy hoof geplaas en die kroningsplegtigheid was verby. Israel het ‘n koning gehad wat deur God aangestel was. Hy wat geduldig vir die Here gewag het, het die belofte van God vervul gesien. “En Dawid het gedurigdeur groter geword en die Here, die God van die leërskare, was met hom.” (2 Samuel 5:10). PeP 687.1