Patriarge en Profete

70/75

Hoofstuk 68—Dawid te Siklag

(Hierdie hoofstuk berus op 1 Samuel 29;30; 2 Samuel 1) PeP 674.1

Dawid en sy manskappe het nie deelgeneem aan die stryd tussen Saul en die Filistyne nie, al het hulle saam met die Filistyne na die slagveld opgetrek. Toe die twee leërs hulle slaggereed maak, het die seun van Isaï hom in ‘n groot verleentheid bevind. Daar is van hom verwag dat hy vir die Filistyne sou veg. Indien hy gedurende die geveg uit sy aangewese pos sou dros, sou hy nie net as ‘n lafaard gebrandmerk word nie, maar ook ondankbaarheid bewys en verraad pleeg teenoor Agis wat hom beskerm en vertrou het. So ‘n daad sou ‘n skandvlek op sy naam bring en dit sou hom aan die woede van gevaarliker vyande as Saul blootstel. Nogtans kon hy vir geen oomblik instem om teen Israel te veg nie. As hy dit gedoen het, sou hy ‘n verraaier van sy land geword het-die vyand van God en Sy volk. Dit sou hom vir ewig die troon van Israel ontneem en indien Saul in die geveg sou sneuwel, sou Dawid vir sy dood verantwoordelik gehou word. PeP 674.2

Dit het Dawid laat voel asof hy sy pad byster was. Dit sou veel beter gewees het om toevlug tot die sterk vestings van God in die berge te neem as by die geswore vyande van Jehova en Sy volk. Maar die Here het in Sy groot barmhartigheid nie hierdie dwaling van Sy dienskneg gestraf deur hom in sy benoudheid en verwarring aan homself oor te laat nie; want alhoewel Dawid sy greep op Goddelike mag verloor het, gewankel en weggedraai het van die pad van streng eerbaarheid, was dit steeds sy hartsbegeerte om getrou aan God te wees. Terwyl Satan en sy trawante besig was om die teenstanders van God en van Israel te help om te beplan teen ‘n koning wat God verlaat het, het die engele van God gewerk om Dawid uit die gevaar waarin hy beland het te red. Hemelse boodskappers het die Filistynse vorste beweeg om beswaar teen die teenwoordigheid van Dawid en sy manskappe in die komende stryd te maak. PeP 674.3

“Wat soek hierdie Hebreërs?” het die owerstes van die Filistyne uitgeroep terwyl hulle om Agis saamdrom. Laasgenoemde was onwillig om so ‘n belangrike bondgenoot te verloor en het geantwoord: “Dit is mos Dawid, die onderdaan PeP 674.4

van Saul, die koning van Israel, wat nou al dae of al jare by my is sonder dat ek iets in hom gevind het van die dag af dat hy oorgeloop het, tot vandag toe.” PeP 675.1

Maar die vorste het grimmig aangedring: “Stuur die man terug, dat hy kan teruggaan na die plek wat u hom aangewys het en laat hom nie met ons saam in die geveg aftrek, dat hy nie vir ons in die geveg ‘n teëstander word nie. Want waarmee kan hierdie man hom aangenaam maak by sy heer? Is dit nie met die hoofde van hierdie manne nie? Is dit nie dié Dawid nie, van wie hulle in die koordanse gesing en gesê het: Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende?” Die dood van hulle kampvegter en die oorwinning van Israel wat daarop gevolg het was nog vars in die geheue van die Filistynse vorste. Hulle het nie geglo dat Dawid teen sy eie volk sou veg nie; en indien hy, in die hitte van die stryd, na die kant van die Israeliete toe sou oorloop, kon hy die Filistyne groter skade berokken as Saul se hele leër. PeP 675.2

Agis was dus gedwing om toe te gee en het Dawid opsy geroep en aan hom gesê: “So waar as die Here leef, sekerlik, jy is opreg en jou uitgang en jou ingang in die leër met my saam is goed in my oë; want ek het geen kwaad in jou gevind van die dag af dat jy na my gekom het tot vandag toe nie. Maar in die oë van die vorste is jy nie goed nie. Draai dan nou om en gaan in vrede en doen niks wat verkeerd is in die oë van die vorste van die Filistyne nie.” PeP 675.3

Bevrees om sy ware gevoelens te verraai het Dawid verneem: “Maar wat het ek gedoen? Of wat het u in u dienaar gevind van die dag af dat ek voor u gewees het tot vandag toe, dat ek nie mag gaan veg teen die vyande van my heer die koning nie?” PeP 675.4

Agis se antwoord moes sekerlik ‘n siddering van skaamte en berou deur die hart van Dawid gestuur het, toe hy daaraan dink hoe onwaardig dit vir ‘n dienskneg van Jehova was om tot sulke misleidings neer te daal. “Ek weet dat jy goed is in my oë soos ‘n engel van God...” het die koning geantwoord “Maar die owerstes van die Filistyne sê: Hy mag nie met ons saam optrek in die geveg nie. Maak jou dan nou more vroeg klaar met die dienaars van jou heer wat met jou saamgekom het. Julle moet dus more vroeg klaarmaak en as dit vir julle lig word, trek dan PeP 675.5

weg.” So is die strik waarin Dawid verstrengel was verbreek en is hy vrygestel. PeP 676.1

Na drie dae se reis, het Dawid en sy groep van seshonderd man by Siklag, hulle woonplek onder die Filistyne, aangekom. Daar het ‘n toneel van verwoesting hulle begroet. Die Amalekiete het van Dawid en sy krygsmanne se afwesigheid gebruik gemaak om hulle te wreek oor sy strooptogte in hulle gebied. Hulle het die onbewaakte stad oorrompel en nadat hulle dit geplunder en verbrand het, vertrek en die vroue en kinders as gevangenes, saam met die buit, weggevoer. PeP 676.2

Stom van afgryse en verbasing het Dawid en sy manne ‘n tyd lank na die swart, smeulende puin gekyk. Toe die besef van die verskriklike verwoesting hulle tref, het daardie oorloggeteisterde krygers “...hulle stem verhef en geween totdat daar geen krag meer in hulle was om te ween nie.” PeP 676.3

Ook hier is Dawid gekasty vir die gebrek aan geloof wat hom gelei het om homself tussen die Filistyne te plaas. Hy het die geleentheid gehad om te sien wat se veiligheid onder die vyande van God en Sy volk gevind kon word. Dawid se volgelinge het hom gekonfronteer as die oorsaak van die ramp wat hulle getref het. Hy het die wraak van die Amalekiete uitgelok deur sy aanval op hulle; tog, vol vertroue oor die veiligheid van die stad tussen sy vyande, het hy dit onbewaak gelaat. Rasend van verdriet en woede, was sy soldate nou in staat tot enige desperate maatreëls en hulle het gedreig om hulle leier te stenig. PeP 676.4

Dit het voorgekom asof Dawid van alle menslike ondersteuning afgesny is. Alles wat vir hom dierbaar op aarde was, is van hom weggeneem. Saul het hom uit sy land verdryf; die Filistyne het hom uit hulle kamp gejaag; die Amalekiete het sy stad geplunder; sy vroue en kinders is gevange geneem; en sy eie bekende vriende het teen hom saamgesnoer en hom met die dood gedreig. In hierdie uur van uiterste perke, in stede van sy gedagtes toe te laat om oor hierdie pynlike omstandighede te tob, het Dawid na God opgekyk vir hulp. Hy het “...homself versterk in die Here sy God.” Hy het aan sy veelbewoë lewe van die verlede gedink. Wanneer het die Here hom ooit verlaat? Sy siel is verkwik deur die herinneringe aan die vele bewyse van God se guns. Die volgelinge van Dawid, deur hulle PeP 676.5

ontevredenheid en ongeduld, het hulle beproewing dubbel soveel pynlik gemaak; maar die man van God, wat groter rede tot verdriet gehad het, het homself met standvastigheid gedra. “Die dag as ek vrees, sal ek op U vertrou...” (Psalm 56:4), was die taal van sy hart. Alhoewel hy self geen uitkoms uit die moeilikheid kon sien nie, kon God dit sien en Hy sou hom leer wat hy moes doen. PeP 677.1

Dawid het vir Abjatar die priester, die seun van Ahimeleg, gestuur en “...die Here geraadpleeg en gesê: Sal ek hierdie bende agternajaag? Sal ek dit inhaal?” en die antwoord was: “Agtervolg, want jy sal sekerlik inhaal en sekerlik uitred.” PeP 677.2

Met hierdie woorde het die storm in sy gemoed bedaar. Dawid en sy soldate het die vlugtende vyand dadelik agternagesit. Hulle het so vinnig marsjeer, dat tweehonderd van sy geselskap by die spruit Besor, wat naby Gasa in die Middellandse See inloop, weens uitputting moes agterbly. Maar Dawid en die oorblywende vierhonderd het onverskrokke voortgetrek. PeP 677.3

In hulle vordering het hulle op ‘n Egiptiese slaaf afgekom wat blykbaar op die punt was om van moegheid en honger te vergaan. Toe hulle aan hom voedsel en water gee, het hy egter bygekom en aan hulle vertel dat hy deur sy wrede heer, ‘n Amalekiet, by die invallende leër, agtergelaat is om te sterf. Hy het die verhaal van die aanval en die plundering vertel en nadat hy van hulle die belofte ontvang het dat hulle hom nie sou doodmaak of aan sy heer sou uitlewer nie, het hy ingewillig om Dawid en sy geselskap na die kamp van hulle vyande te lei. PeP 677.4

Toe hulle die laer nader, het ‘n toneel van joligheid hul oë ontmoet. Die seëvierende menigte het groot feesgevier. “Toe hy hom afgebring het, lê hulle daar verstrooid oor die oppervlakte van die hele land, besig om te eet en te drink en fees te vier met die ganse groot buit wat hulle uit die land van die Filistyne en uit die land Juda saamgeneem het.” ‘n Onmiddellike aanval is geloods en die agtervolgers het woedend op hulle prooi afgestorm. Die Amalekiete is verras en in verwarring gebring. Die stryd het die hele nag voortgeduur totdat die hele menigte uitgewis was. Net vierhonderd man wat op kamele was het daarin geslaag om te ontvlug. Die woord van die Here is vervul. “So het Dawid dan alles gered wat die Amalekiete saamgeneem PeP 677.5

het; ook sy twee vroue het Dawid bevry. Niks van hulle is vermis nie-klein of groot, seuns of dogters, of iets van die buit, niks van alles wat hulle vir hul saamgeneem het nie; Dawid het alles teruggebring.” PeP 678.1

Toe Dawid die gebied van die Amalekiete binnegeval het, het hy al die bewoners van die land wat hy in die hande gekry het, met die swaard gedood. Was dit nie vir God se beskermende mag nie, sou die Amalekiete hulle gewreek het deur die mense van Siklag dood te maak. Hulle het besluit om die gevangenes te spaar en die eer van hulle oorwinning te verhoog, deur ‘n groot hoeveelheid gevangenes huis toe te neem en hulle agterna as slawe te verkoop. So het hulle, onbewustelik, die doel van God vervul deur die gevangenes ongedeerd te bewaar, sodat hulle aan hulle eggenote en vaders terugbesorg kon word. PeP 678.2

Alle aardse magte is onder beheer van die Oneindige. Aan die magtigste heerser, tot die wreedste verdrukker sê Hy: “Tot hiertoe mag jy kom en nie verder nie” (Job 38:11). God se mag is voortdurend aan die werk om die agente van die bose teen te werk; Hy werk onophoudelik onder mense, nie om hulle te vernietig nie, maar om hulle te korrigeer en te bewaar. PeP 678.3

Met groot vreugde het die oorwinnaars huiswaarts gekeer. Toe hulle by hulle metgeselle wat agtergebly het kom, het die meer selfsugtiges en weerbarstiges van die vierhonderd daarop aangedring dat diegene wat nie aan die geveg deelgeneem het nie, nie in die buit moes deel nie; dat dit vir hulle genoeg moes wees dat elkeen hulle vroue en kinders teruggekry het. Maar Dawid kon nie so ‘n reëling toelaat nie. Hy het gesê: “Julle mag nie so maak nie, my broers, met wat die Here ons gegee het... Soos die deel van die wat in die geveg aftrek, so is ook die deel van die wat by die pakgoed bly; gelykop moet hulle deel.” So is die saak geskik en dit het later ‘n wet in Israel geword dat almal wat eerbaar aan ‘n veldtog verbonde was, die buit gelykop met diegene wat in die werklike stryd betrokke was, moes deel. PeP 678.4

Benewens die herwinning van al die buit wat van Siklag geneem is, het Dawid en sy groep groot troppe vee en kleinvee gebuit. Dit is “Dawid se buit” genoem en toe hy in Siklag terugkom, het hy hierdie buit as geskenke aan die oudstes in sy eie stam, Juda, uitgestuur. In hierdie verspreiding het hy niemand vergeet wat vriendskap teenoor hom en sy volgelinge PeP 678.5

bewys het, toe hulle in die berge van plek tot plek vir hulle lewe moes vlug nie. So is erkenning aan hulle, wie se goedhartigheid en meegevoel so kosbaar vir die voortvlugtige was, met dankbaarheid beloon. PeP 679.1

Dit was die derde dag sedert Dawid en sy krygsmanne na Siklag teruggekeer het. Terwyl hulle gewerk het om hulle verwoeste huise te herstel, het hulle met angstige harte uitgekyk vir tyding oor die slag tussen Israel en die Filistyne wat volgens hulle wete, reeds moes plaasgevind het. Skielik het ‘n boodskapper die stad binnegekom “...met geskeurde klere en grond op sy hoof.” Hy is dadelik na Dawid gebring en het eerbiedig voor hom neergebuig om aan hom erkenning te gee as ‘n magtige vors wie se guns hy verlang. Dawid het gretig verneem hoe dit in die stryd gegaan het. Die vlugteling het hom meegedeel dat Saul verslaan en gedood is en dat Jonatan ook omgekom het. Maar hy het verder gegaan as ‘n eenvoudige feite verklaring. Hy was onder die indruk dat Dawid vyandskap teen sy meedoënlose vervolger gekoester het en die vreemdeling het gehoop om meer eer vir homself, as die moordenaar van die koning, te verkry. Die man het gespog dat hy die koning van Israel gedurende die geveg gewond en deur sy vyande agtervolg, aangetref het en die koning, op sy eie versoek, doodgemaak het. Hy het die kroon van sy hoof en die goue armbande wat hy aangehad het na Dawid gebring. Hy was vol vertroue dat hierdie berig met groot vreugde begroet sou word en dat hy ryklik beloon sou word vir sy aandeel in die gebeurtenis. PeP 679.2

Maar “...toe gryp Dawid sy klere en skeur dit; net so al die manne wat by hom was. En hulle het gerouklaag en geween en gevas tot die aand toe oor Saul en oor sy seun Jonatan en oor die volk van die Here en oor die huis van Israel, omdat hulle deur die swaard geval het.” PeP 679.3

Nadat die eerste skok van die verskriklike tyding verby was, het Dawid weer aan die vreemdeling gedink en aan die misdaad waaraan hy, volgens sy eie verklaring, skuldig was. Die leier vra die jongman toe: “Waar kom jy vandaan?” en hy antwoord: “Ek is die seun van ‘n vreemde man, ‘n Amalekiet. En Dawid sê vir hom: Hoe? Jy was nie bevrees om jou hand uit te steek om die gesalfde van die Here om te bring nie?” Dawid het Saul twee keer in sy mag gehad; maar toe hy aangeraai was om hom dood PeP 679.4

te maak, het hy geweier om sy hand op te lig teen hom, wat deur die opdrag van God om oor Israel te heers, ingewy was. Tog het die Amalekiet nie gevrees om te spog dat hy die koning van Israel gedood het nie. Hy het homself aangekla as een wat die dood verdien en die straf is dadelik voltrek. Dawid het gesê: “Jou bloed is op jou hoof, want jou mond getuig teen jou, omdat jy sê: Ek het die gesalfde van die Here gedood.” PeP 680.1

Dawid se droefheid oor die dood van Saul was opreg en diep en spreek van die vrygewigheid van sy edelmoedige karakter. Hy het hom nie verheug oor die heengaan van sy vyand nie. Die hindernis wat hom van die troon van Israel weggehou het, was verwyder, maar hy het hom nie daaroor verheug nie. Die dood het die herinnering aan Saul se wantroue en wreedheid uitgewis en nou was daar aan niks anders in sy geskiedenis, as dit wat edel en die koning waardig was, gedink nie. Saul se naam is met dié van Jonatan gekoppel wie se vriendskap so opreg en onselfsugtig was. Die lied waarin Dawid uiting aan die gevoelens van sy hart gegee het, het vir sy volk en vir die kinders van God in alle daaropvolgende geslagte ‘n kleinood geword: PeP 680.2

“Die sieraad, O Israel op jou hoogtes lê dit verslaan. PeP 680.3

Hoe het die helde geval! Vertel dit nie in Gat, PeP 680.4

verkondig dit nie op die strate van Askelon nie, PeP 680.5

sodat die dogters van die Filistyne hulle nie verheug, PeP 680.6

die dogters van die onbesnedenes nie jubel nie! PeP 680.7

Berge van Gilboa. PeP 680.8

mag op julle geen dou en geen reën PeP 680.9

en geen velde van offergawes wees nie! PeP 680.10

Want daar is die skild van die helde weggegooi, PeP 680.11

Die skild van Saul, sonder dat dit met olie gesalf is ... PeP 680.12

Saul en Jonatan , die bemindes en lieflikes, PeP 680.13

is in hulle lewe en in hulle dood nie geskeie nie. PeP 680.14

Vinniger as arende was hulle, PeP 680.15

sterker as leeus. PeP 680.16

Dogters van Israel, ween oor Saul, PeP 680.17

wat julle weelderig beklee het met skarlaken, PeP 680.18

wat goue versiersels aangebring het op julle gewaad. PeP 680.19

Hoe het die helde geval diep in die geveg! PeP 680.20

Jonatan lê verslaan op jou hoogtes. PeP 680.21

Ek is benoud om jou ontwil, my broer Jonatan! PeP 681.1

Jy was vir my baie lieflik; PeP 681.2

jou liefde was vir my wonderliker PeP 681.3

as die liefde van vroue. PeP 681.4

Hoe het die helde geval PeP 681.5

en die oorlogswapens verlore gegaan!” PeP 681.6

(2 Samuel 1:19-27) PeP 681.7