Patriarge en Profete
Hoofstuk 66—Die Dood van Saul
(Hierdie hoofstuk berus op 1 Samuel 28;31) PeP 660.1
Daar is weer oorlog tussen Israel en die Filistyne verklaar. “Die Filistyne het bymekaargekom en ingetrek en laer opgeslaan in Sunem...” aan die noordelike grens van die vlakte van Jisreël; terwyl Saul en sy magte ‘n paar kilometer ver aan die voet van die berg Gilboa, aan die suidelike grens van die vlakte, laer opgeslaan het. Dit was op hierdie vlakte wat Gideon met driehonderd man die leërskare van die Midianiete laat vlug het. Maar die gees wat die bevryder van Israel geïnspireer het, was baie verskillend van die gees in die hart van die koning. Gideon het, sterk in die geloof in die magtige God van Jakob, opgetrek; maar Saul het gevoel hy is alleen en weerloos omdat God hom verlaat het. Toe hy die leër van die Filistyne aanskou, “...het hy bevrees geword en sy hart het baie gebewe.” PeP 660.2
Saul het verneem dat Dawid en sy mag saam met die Filistyne was en hy het verwag dat die seun van Isaï hierdie geleentheid sou benut om hom te wreek oor die onreg wat hy gely het. Die koning het in groot angs verkeer. Dit was sy eie onredelike hartstog, wat hom aangespoor het om die uitverkorene van God te vernietig, wat die volk in hierdie groot gevaar laat verkeer het. Terwyl hy besig was om Dawid te agtervolg, het hy die verdediging van sy koninkryk verwaarloos. Die Filistyne, wat die onbewaakte toestand uitgebuit het, het die land binnegedring. Terwyl die Satan Saul dus aangespoor het om al sy kragte in te span om Dawid te soek sodat hy hom kon vernietig, het dieselfde kwaadaardige gees die Filistyne aangehits om van die geleentheid gebruik te maak om Saul se ondergang te bewerk en die volk van God omver te werp. Hoe gereeld word dieselfde beleid nog steeds deur die aartsvyand toegepas! Hy beweeg een of ander ongewyde hart om afguns en onmin in die kerk te saai en dan maak hy gebruik van die verdeelde toestand van God se mense om sy agente aan te hits om hulle ondergang te bewerk. PeP 660.3
Die volgende dag moes Saul teen die Filistyne veg. Dreigende onheilswolke het donker om hom saamgepak; hy het na hulp en leiding verlang, maar hy het tevergeefs by God raad PeP 660.4
gesoek. “Die Here het hom nie geantwoord nie-nie deur drome en nie deur die Urim en nie deur die profete nie.” Die Here het nooit ‘n siel wat in opregtheid en nederigheid na Hom toe gekom het, afgewys nie. Waarom het Hy Saul dan sonder antwoord weggewys? Die koning het deur sy eie daad die voordele van elke wyse waarop hy by God navraag kon doen, verbeur. Hy het die raad van die profeet Samuel verwerp; hy het Dawid, die uitverkorene van God, verban; hy het die priesters van die Here gedood. Sou hy dan nog kon verwag dat hy deur God geantwoord sou word, nadat hy al die kommunikasiekanale wat die Hemel beskikbaar gemaak het, afgesny het? Hy het die Gees van genade met sy sonde verdryf en kon hy dus verwag om deur drome en openbaringe van die Here beantwoord te word? Saul het hom nie met nederigheid en berou na God gedraai nie. Dit was nie vergifnis van sonde en versoening met God wat hy gesoek het nie, maar verlossing van sy vyande. Deur sy eie hardkoppigheid en rebellie het hy homself van God afgesny. Daar kon geen terugkeer, behalwe deur boetvaardigheid en berou wees nie; maar die trotse monarg het in sy angs en wanhoop besluit om hulp van ‘n ander bron te soek. PeP 661.1
“En Saul sê aan sy dienaars: Soek julle vir my ‘n vrou wat ‘n dodebesweerster is, dat ek na haar kan gaan en haar raadpleeg.” Saul het ‘n volledige kennis van die karakter van dodebeswering gehad. Die Here het dit uitdruklik verbied en die doodsvonnis is oor almal wat hierdie onheilige praktyk beoefen het uitgespreek. In Samuel se leeftyd het Saul beveel dat alle towenaars en waarsêers en dodebesweerders doodgemaak moes word; maar nou het hy, in die onbesonnenheid van sy wanhoop, juis van hierdie orakel wat hy as ‘n gruwel veroordeel het, gebruik gemaak. PeP 661.2
Daar is aan die koning vertel dat ‘n vrou met ‘n bekende gees te Endor versteek was. Hierdie vrou het ‘n verbond met Satan gesluit om haarself aan sy beheer oor te gee om sy doel te bereik; en in ruil daarvoor het die vors van die bose wonders vir haar verrig en geheime dinge aan haar geopenbaar. PeP 661.3
Saul het hom vermom en in die nag met net twee dienaars uitgegaan om die towenares in haar skuilplek op te soek. Wat ‘n jammerlike toneel! Die koning van Israel, na willekeur deur Satan gevange geneem! Is daar ooit ‘n pad wat so donker vir PeP 661.4
menslike voete is om op te loop, soos iemand wat sy eie weg volg en die heilige invloede van die Gees van God weerstaan! Watter slawerny is erger as dié van hom wat oorgegee word aan die beheer van die ergste tiran-homself! Vertroue in God en gehoorsaamheid aan Sy wil was al voorwaardes waarop Saul koning van Israel kon wees. Indien hy deurgaans gedurende sy regeringstyd aan hierdie voorwaardes voldoen het, sou sy koninkryk veilig gewees het; God sou sy leidsman gewees het, die Almagtige sy skild. God was lankmoedig met Saul; en alhoewel sy opstandigheid en hardkoppigheid die Goddelike Stem in sy binneste stilgemaak het, was daar steeds ‘n geleentheid vir beskerming. Maar toe hy in gevaar van God afgewyk het om van ‘n bondgenoot van Satan lig te verkry, het hy die laaste band wat hom met sy Skepper verbind het afgesny; hy het homself ten volle onder die beheer van die demoniese mag geplaas wat jare lank oor hom geheers het en wat hom op die rand van vernietiging gebring het. PeP 662.1
Onder die dekmantel van die nag, het Saul en sy dienaars hulle pad oor die vlakte gebaan, veiling verby die Filistynse leër beweeg en oor die bergrif geklim na die eensame tuiste van die heks van Endor. Hier het die vrou met die bekende gees haarself versteek sodat sy in die geheim met haar onheilspellende towerspreuke kon voortgaan. Alhoewel hy vermom was, het Saul se verhewe gestalte en koninklike houding verklaar dat hy geen gewone soldaat was nie. Die vrou het vermoed dat haar besoeker Saul was en sy duur geskenke het die vermoede verstewig. Op sy versoek: “Voorspel tog vir my deur die gees van ‘n afgestorwene en laat vir my opkom die een wat ek jou sal noem,” het die vrou geantwoord: “Jy weet tog self wat Saul gedoen het; hoe hy die dodebesweerders en waarsêers uit die land uitgeroei het. Waarom stel jy dan ‘n val vir my op om my dood te maak? Toe sweer Saul vir haar by die Here en sê: So waar as die Here leef, geen straf sal jou ter wille hiervan tref nie!” En toe sy vra: “Wie moet ek vir jou laat opkom?” antwoord hy, “Samuel.” PeP 662.2
Nadat sy haar towerspreuke uitgespreek het, het sy gesê sy: “Ek sien ‘n bonatuurlike wese uit die aarde opkom ... ‘n Ou man kom op met ‘n mantel om. Toe Saul begryp dat dit Samuel is, buig hy met sy aangesig na die aarde toe en val neer.” PeP 662.3
Dit was nie die heilige profeet van God wat op bevel van ‘n dodebesweerdser se towerspreuk verskyn het nie. Samuel was nie teenwoordig in daardie woonplek van bose geeste nie. Die bonatuurlike verskynsel is alleenlik deur die mag van Satan voortgebring. Hy kon net so maklik die gedaante van Samuel aanneem soos wat hy die gedaante van die engel van lig wat Christus in die woestyn versoek het, kon aanneem. PeP 663.1
Die eerste woorde wat die vrou onder die betowering van haar towerspreuke aan die koning gerig het was: “Waarom het u my bedrieg? Want u is Saul self.” Die eerste daad van die bose gees wat die profeet verpersoonlik het, was dus om in die geheim met hierdie goddelose vrou te kommunikeer, om haar te waarsku teen die misleiding wat teenoor haar gepleeg is. Die boodskap aan Saul van die sogenaamde profeet was: “Waarom verontrus jy my deur my te laat opkom? En Saul antwoord: Ek is baie benoud, want die Filistyne voer teen my oorlog en God het van my gewyk en antwoord my nie langer deur die diens van die profete en ook nie deur drome nie; daarom het ek u geroep om my bekend te maak wat ek moet doen.” PeP 663.2
Terwyl Samuel nog geleef het, het Saul sy raad verag en was gebelg deur sy teregwysings. Maar nou, in die uur van sy nood en rampspoed, wanneer hy gevoel dat die profeet se leiding sy enigste hoop was om met die Hemelse ambassadeur te kon kommunikeer, het hy hom tevergeefs na die boodskapper van die hel gewend! Saul het homself ten volle in die mag van die Satan geplaas; en nou het hy, wie se grootste genot dit is om ellende en vernietiging te veroorsaak, dit die beste benut om die ongelukkige koning se ondergang te bewerkstellig. In antwoord op die wanhopige smeking van Saul, het die vreesaanjaende boodskap van die lippe van die sogenaamde Samuel gekom: “Waarom raadpleeg jy my terwyl die Here van jou gewyk en jou vyand geword het? Die Here het dan vir Homself gedoen soos Hy deur my diens gespreek het en die Here het die koningskap uit jou hand geskeur en dit aan jou naaste, aan Dawid, gegee. Omdat jy nie na die stem van die Here geluister en die gloed van sy toorn teen Amalek nie uitgevoer het nie, daarom het die Here jou vandag hierdie ding aangedoen. En die Here sal Israel ook saam met jou in die hand van die Filistyne gee.” PeP 663.3
Regdeur die verloop van sy rebellie, is Saul deur Satan gevlei en bedrieg. Dit is die werk van die versoeker om sonde PeP 663.4
gering te maak, om die weg van die oortreder maklik en aanloklik te maak, om die gees te verblind vir die waarskuwings en dreigemente van die Here. Deur sy towerkrag het Satan Saul beïnvloed om hom teen Samuel se vermanings en bestraffings te regverdig. Maar noudat Saul sy uiterste perke bereik het, het hy teen hom gedraai en die omvang van sy sonde en die hopeloosheid van vergifnis aan hom voorgehou, om hom tot wanhoop te dryf. Daar was niks wat sy moed meer kon breek en sy oordeel verwar, of hom meer tot wanhoop en selfvernietiging kon dryf nie. PeP 664.1
Saul was flou van moegheid en vas; hy was verskrik en sy gewete het hom gepla. Toe hy die vreesaanjaende voorspelling hoor, het hy soos ‘n eikeboom in ‘n storm rondgeswaai totdat hy plat hy op die aarde neergeslaan het. PeP 664.2
Die heks is met angs gevul; Die koning van Israel het soos ‘n dooie voor haar gelê. Wat sou die gevolge vir haar wees indien hy in haar skuilplek sou sterf? Sy het hom gesmeek om op te staan en iets te eet en daarop aangedring dat, aangesien hy haar lewe in gevaar gestel het toe sy aan sy versoek voldoen het, hy na haar moes luister om sy eie lewe te red. Toe sy diensknegte ook by hom aandring, het Saul uiteindelik ingestem en die vrou het ‘n gemeste kalf saam met ongesuurde brood, wat sy haastig voorberei het, aan hom voorgesit. Wat ‘n toneel! In die ruwe spelonk van die towenares, waar die woorde van doem kort tevore weerklink het-in die teenwoordigheid van die Satan se boodskapper-het hy, wat deur die Here as koning oor Israel gesalf was, aangesit om te eet ter voorbereiding vir die dag se dodelike stryd. PeP 664.3
Voor dagbreek het hy saam met sy dienaars na die kamp van Israel teruggekeer om hom gereed te maak vir die stryd. Deur die gees van duisternis te raadpleeg, het Saul homself vernietig. Onderdruk deur die afgryse van wanhoop, was dit vir hom onmoontlik om sy leër moed in te praat. Geskei van die Bron van krag, kon hy nie die gedagtes van Israel lei om na God as hul Helper op te sien nie. Die voorspelling van onheil sou dus sy eie vervulling bewerk. PeP 664.4
Op die vlakte van Sunem en teen die helling van die berg Gilboa het die leër van Israel en die magte van die Filistyne ‘n dodelike stryd aangeknoop. Alhoewel die skrikwekkende toneel PeP 664.5
in die spelonk van Endor Saul van alle hoop ontneem het, het hy steeds met wanhopige dapperheid vir sy troon en sy koninkryk geveg. Maar dit was tevergeefs. Die manne van Israel het “...vir die Filistyne weggevlug en gesneuweldes het op die gebergte Gilboa gelê.” Drie dapper seuns van die koning het aan sy, sy gesterf. Die boogskutters het op Saul aangelê. Hy het gesien hoe sy soldate rondom hom val en sy vorstelike seuns langs hom deur die swaard neergevel word. Hy was self gewond en kon nie veg of vlug nie. Vir ontvlugting was daar geen hoop nie en hy wou hom nie lewend deur die Filistyne laat vang nie en het sy wapendraer beveel: “Trek jou swaard uit en deurboor my daarmee.” Toe die man weier om sy hand teen die gesalfde van die Here op te lig, het Saul self sy eie lewe geneem deur op sy swaard te val. PeP 665.1
So het die eerste koning van Israel gesterf met die skuld van selfmoord op sy siel. Sy lewe was ‘n mislukking en hy het in oneer en wanhoop gesterf omdat hy sy eie verkeerde wil teenoor die wil van God gestel het. PeP 665.2
Die berig van hierdie nederlaag het wyd en syd versprei en die hele Israel was verskrik. Die mense het uit die stede gevlug en die Filistyne het dit onverhinderd in besit geneem. Saul se regering, onafhanklik van God, het so te sê die ondergang van sy volk veroorsaak. PeP 665.3
Die dag na die veldslag, terwyl die Filistyne besig was om die lyke op die slagveld te beroof, kom hulle op die lyke van Saul en sy drie seuns af. Om die kroon op hulle oorwinning te span, het hulle Saul se kop afgekap en sy wapenrusting uitgetrek; daarna het hulle sy bebloede hoof en wapenrusting as ‘n trofee van oorwinning, na die land van die Filistyne geneem “...om die blye boodskap te bring in die tempels van hulle afgode en aan die volk.” Die wapenrusting is uiteindelik “...in die Astarte tempel neergelê..” en sy hoof het hulle in die tempel van Dagon opgehang. So is die heerlikheid van daardie oorwinning aan die mag van daardie valse gode toegeskryf en die Naam van Jehova onteer. PeP 665.4
Die lyke van Saul en sy drie seuns het hulle na Bet San, ‘n stad naby Gilboa en nie te ver van die Jordaan af nie, gesleep. Daar is hulle met kettings opgehang om deur roofvoëls verslind PeP 665.5
te word. Maar die dapper manne van Jabes in Gilead, wat onthou het van Saul se verlossing van hul stad in sy vroeëre en gelukkiger jare, het nou hul dank betuig deur die liggame van die koning en vorste te red en aan hulle ‘n eerbare begrafnis te gee. Hulle het die Jordaan in die nag oorgesteek... “en hulle het die lyk van Saul en die lyke van sy seuns van die muur van Bet-San afgehaal en by Jabes gekom en hulle daar verbrand. En hulle het hul gebeente geneem en onder die tamarisk in Jabes begrawe en sewe dae lank gevas.” So het die edele daad van veertig jaar tevore, vir Saul en sy seuns in die uur van hulle skande en neerlaag, ‘n eerbare begrafnis deur sagte, medelydende hande, meegebring. PeP 666.1