Patriarge en Profete

67/75

Hoofstuk 65—Grootmoedigheid van Dawid

(Hierdie hoofstuk berus op 1 Samuel 22:20-23;23 tot 27) PeP 646.1

Na die gruwelike slagting van die priesters van die Here deur Saul, het “...een van die seuns van Ahimeleg, die seun van Ahitub, vrygeraak en sy naam was Abjatar; hy het agter Dawid aan gevlug. Toe Abjatar aan Dawid vertel dat Saul die priesters van die Here vermoor het, sê Dawid aan Abjatar: Ek het daardie dag toe Doëg, die Edomiet, daar was, geweet dat hy dit sekerlik aan Saul sou vertel, Ek is die oorsaak van die dood van al die lede van u familie. Bly by my, wees nie bevrees nie; want die wat my lewe soek, soek u lewe ook; want u is by my in goeie bewaring.” PeP 646.2

Nog steeds deur die koning gejag, kon Dawid geen rusplek of sekuriteit vind nie. By Kehila het sy dapper bende die stad van oorname deur die Filistyne gered, maar hulle was steeds nie veilig nie, selfs nie onder die mense wat hulle gered het nie. Van Kehila het hulle na die woestyn van Sif gegaan. PeP 646.3

Op hierdie stadium, toe daar so min lig op Dawid se pad was, was hy verheug oor ‘n onverwagse besoek van Jonathan, wat uitgevind het waar hy hom skuilhou. Die paar oomblikke wat hierdie twee vriende in mekaar se geselskap deurgebring het was kosbaar. Hulle het hulle uiteenlopende ervarings gedeel en Jonathan het die hart van Dawid versterk en gesê: “Vrees nie, want die hand van Saul, my vader, sal jou nie vind nie, maar jy sal koning word oor Israel en ek sal die tweede onder jou wees; en my vader Saul weet dit ook goed.” Terwyl hulle so oor die wonderlike handelinge van God teenoor Dawid gepraat het, is die gejagte vlugteling grootliks bemoedig. “Toe sluit hulle twee ‘n verbond voor die aangesig van die Here; en Dawid het in Hores gebly, maar Jonatan het na sy huis gegaan.” PeP 646.4

Na die besoek van Jonathan het Dawid sy siel met lofliedere bemoedig, terwyl hy sy stem met sy harp begelei en gesing het: PeP 646.5

“By die Here skuil ek. PeP 646.6

Hoe kan julle dan vir my sê: PeP 646.7

Vlug na julle berg soos “n voël! PeP 646.8

Want kyk, die goddelose span die boog; PeP 646.9

hulle het hul pyl op die snaar reggesit PeP 647.1

om in die donker te skiet na die opregtes van hart. PeP 647.2

As die fondamente omgegooi word, PeP 647.3

wat kan die regverdige doen? PeP 647.4

Die Here is in sy heilige paleis; PeP 647.5

die troon van die Here is in die hemel; PeP 647.6

sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders. PeP 647.7

Die Here toets die regverdige; PeP 647.8

maar sy siel haat die goddelose PeP 647.9

en die wat geweld liefhet. ” PeP 647.10

(Psalm11:1-5) PeP 647.11

Die Sifiete na wie se wilde streke Dawid uit Kehila af weg is, het aan Saul in Gibea gesê dat hulle weet waar Dawid hom skuilhou en dat hulle die koning na sy skuilplek sou lei. Maar Dawid, gewaarsku oor hul voornemens, het van skuilplek verander en in die berge tussen Maon en die Dooie See skuiling gaan soek. PeP 647.12

Daar is weer woord aan Saul gestuur: “Kyk, Dawid is in die woestyn van Engedi. Daarop het Saul drieduisend uitgesoekte manne uit die hele Israel geneem en heengegaan om Dawid en sy manne te soek teenoor die Steenbokrotse.” Dawid het slegs seshonderd manskappe in sy geselskap gehad, terwyl Saul met ‘n leër van drieduisend man teen hom opgetrek het. In ‘n afgesonderde spelonk het die seun van Isaï en sy manne gewag op leiding van God oor wat hulle te doen staan. Terwyl Saul teen die berg uitgeklim het, het hy uitgedraai en alleen in die grot waar Dawid en sy manne geskuil het, ingegaan. Toe die manne van Dawid dit sien, het hulle hul leier versoek om Saul dood te maak. Die feit dat die koning nou in hul mag was, is deur hulle vertolk as ‘n sekere bewys dat God self die vyand in hul hand oorgegee het sodat hulle hom kon vernietig. Dawid was in die versoeking om dit te doen, maar die stem van sy gewete het met hom gespreek en gesê: “Raak my gesalfde nie aan nie.” PeP 647.13

Dawid se manne was steeds onwillig om Saul in vrede te laat gaan en het hulle aanvoerder aan die woorde van die Here herinner: “Nou gee Ek jou vyand in jou hand en maak met hom soos goed is in jou oë. Toe staan Dawid op en sny stilletjies die PeP 647.14

slip van Saul se mantel af.” Maar later het sy gewete hom aangekla omdat hy selfs die kleed van die koning geskend het. PeP 648.1

Saul het opgestaan en uit die grot gegaan om sy soektog voort te sit, toe ‘n stem op sy verskrikte ore val: “My heer die koning!” Hy het omgedraai om te sien wie hom aanspreek en kyk! dit was die seun van Isaï, die man wat hy so lank begeer het om in sy mag te kry om hom dood te maak. Dawid het voor die koning gebuig en hom as sy heer erken. Toe spreek hy met die woorde aan: “Waarom luister u na die woorde van mense wat sê: Kyk, Dawid soek u onheil? Kyk, vandag sien u eie oë dat die Here u vandag in die spelonk in my hand gegee het; en hulle het gesê ek moet u doodmaak, maar ek het u verskoon en gesê: Ek sal my hand nie uitsteek teen my heer nie, want hy is die gesalfde van die Here. En kyk, my vader, ja, kyk die slip van u mantel in my hand! Want toe ek die slip van u mantel afgesny het, het ek u nie gedood nie. Erken en sien dat daar by my geen kwaad of oortreding is en ek nie teen u gesondig het nie, alhoewel u op my lewe loer om dit weg te neem. ” PeP 648.2

Toe Saul die woorde van Dawid hoor, is hy verneder en kon hy nie anders as om die waarheid daarvan te erken nie. Sy gevoelens was diep ontroer toe hy besef hoe volledig hy in die mag van die man, wie se lewe hy gesoek het, was. Dawid het met bewuste onskuld voor hom gestaan. Met ‘n versagtende gees: “Is dit jou stem, my seun Dawid? En Saul het sy stem verhef en geween.” Toe sê hy aan Dawid: “Jy is regverdiger as ek, want jy het aan my goed gedoen terwyl ek aan jou kwaad gedoen het ... Want as iemand sy vyand aantref, sal hy hom op ‘n goeie pad laat gaan? Maar die Here sal jou die goeie vergelde vir wat jy vandag aan my gedoen het. En nou, kyk, ek weet jy sal sekerlik koning word en die koningskap oor Israel sal in jou hand standhou.” En Dawid met Saul ‘n verbond gesluit dat, indien dit sou plaasvind, hy die huis van Saul sou begunstig en nie sy naam sou uitroei nie. PeP 648.3

Maar bekend met Saul se vorige optrede, kon Dawid geen vertroue in die versekering van die koning stel nie en het ook nie hoop gehad dat sy berou lank sou duur nie. Dus, toe Saul na sy huis teruggekeer het, het Dawid in die bergvestings gebly. PeP 648.4

Die vyandskap wat teenoor die diensknegte van God gekoester word deur diegene wat aan die mag van Satan PeP 648.5

oorgegee is, verander soms in ‘n gevoel van versoening en guns, maar die verandering blyk nie altyd blywend te wees nie. Nadat kwaadwillige mense die dienaars van God kwaad aangedoen het, neem die oortuiging dat hulle verkeerd opgetree het soms diep besit van hulle. Die Gees van die Here streef daarna dat hulle hul harte voor God en voor diegene wie se invloed hulle probeer vernietig het verootmoedig en moontlik van optrede teenoor hulle verander. Maar sodra hulle hul weer oopstel vir die influisteringe van die bose, herleef die ou twyfel, ontwaak die ou vyandskap en keer hulle terug tot dieselfde optrede waaroor hulle berou gehad het en wat hulle tydelik laat vaar het. Hulle belaster, beskuldig en veroordeel opnuut op die bitterste wyse, dieselfde mense teenoor wie hulle die nederigste bekentenis gedoen het. Satan kan sulke mense na hierdie optrede met veel groter kragdadigheid as voorheen gebruik, omdat hulle teen groter lig gesondig het. PeP 649.1

“En Samuel het gesterwe en die hele Israel het saamgekom en oor hom gerouklaag en hom begrawe in sy huis in Rama.” Die volk van Israel het Samuel se dood as ‘n onherstelbare verlies beskou. ‘n Groot en goeie profeet en ‘n uitstaande regter het in die dood neergedaal en die rou van die volk was diep en opreg. Van sy jeug af het Samuel in opregtheid van hart voor Israel gewandel; hoewel Saul die erkende koning was, het Samuel meer gesag en invloed as hy uitgeoefen omdat sy rekord een van getrouheid, gehoorsaamheid en toegewydheid was. Ons lees dat hy Israel al die dae van sy lewe gerig het. PeP 649.2

Terwyl die volk Saul se gedrag met die van Samuel vergelyk het, het hulle besef watter fout hulle begaan het deur ‘n koning te verlang sodat hulle nie anders as die nasies rondom hulle sou wees nie. Baie van hulle was verontrus oor die toestand van die gemeenskap, wat vinnig op pad was om deur ongodsdienstigheid en goddeloosheid deursuur te word. Die voorbeeld van hulle heerser het ‘n wye invloed gehad en Israel het rede gehad om te treur oor die dood van die profeet van die Here. PeP 649.3

Die volk het die stigter en hoof van sy heilige skole verloor, maar dit was nie al nie. Hulle het ook die man verloor tot wie hulle hul met hul groot probleme gewend het-hy wat voortdurend in belang van die volk tot God gebid het. Die voorbidding van Samuel het ‘n gevoel van veiligheid PeP 649.4

meegebring. “Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.” (Jakobus 5:16). Die mense het nou van God verlate gevoel. Dit het geblyk dat die koning weinig minder as ‘n besetene was. Die reg is verdraai en orde is in wanorde verander. PeP 650.1

Dit was terwyl die nasie deur interne twis verskeur was, toe die rustige, godvresende raad van Samuel die nodigste geblyk het, dat God Sy bejaarde dienskneg rus gegee het. Bitter was die besinning van die mense toe hulle sy rustige rusplek aanskou en hulle dwaasheid onthou toe hulle hom as hul heerser verwerp het; want sy omgang met God was so innig dat dit geskyn het asof hy die hele Israel met die troon van Jehova in verbinding gebring het. Dit was Samuel wat hulle geleer het om God lief te hê en te gehoorsaam; maar noudat hy dood was, het die volk gevoel dat hulle aan die genade van ‘n koning wat met Satan ‘n verbond aangegaan het oorgelaat was en die mense van die God van die hemel sou skei. PeP 650.2

Dawid kon nie by Samuel se begrafnis teenwoordig wees nie, maar hy het so diep en teer oor hom gerou, soos wat ‘n getroue seun oor ‘n toegewyde vader treur. Hy het geweet dat Samuel se dood nog ‘n band van selfbeheersing in die optrede van Saul gebreek het en hy het minder veilig gevoel as toe die profeet geleef het. Terwyl Saul se aandag in beslag geneem is met die rou betoon oor Samuel, het Dawid van die geleentheid gebruik gemaak om na ‘n plek van groter veiligheid te soek; en hy het gevlug na die woestyn van Paran. Dit was hier wat hy psalm eenhonderd-en-twintig en psalm een-en-twintig gekomponeer het. In hierdie verlate wildernis, met die besef dat die profeet dood was en die koning sy vyand was, het hy gesing: PeP 650.3

“My hulp is van die Here PeP 650.4

wat hemel en aarde gemaak het. PeP 650.5

Hy kan jou voet nie laat wankel nie; PeP 650.6

jou Bewaarder kan nie sluimer nie. PeP 650.7

Kyk, die Bewaarder van Israel PeP 650.8

sluimer of slaap nie ... PeP 650.9

Die Here sal jou bewaar vir elke onheil; PeP 650.10

jou siel sal Hy bewaar. PeP 650.11

Die Here sal jou uitgang en jou ingang bewaar, PeP 650.12

van nou af tot in ewigheid.” PeP 650.13

(Psalm 121:2-8) PeP 650.14

Terwyl Dawid en sy manskappe in die woestyn Paran was, het hulle die kuddes en beeste van ‘n welgestelde man genaamd Nabal, wat groot besittings in daardie streek gehad het, beskerm teen die plundering van stropers in daardie omgewing. Nabal was ‘n afstammeling van Kaleb, maar hy was onbeskof en inhalig van geaardheid. PeP 651.1

Dit was skaap skeertyd, ‘n seisoen van gasvryheid. Dawid en sy manskappe het lewensmiddels dringend benodig; en ooreenkomstig die gebruike van die tyd, het die seun van Isaï tien jongmanne na Nabal gestuur met die opdrag om hom in die naam van hul leier te groet en bygevoeg: “So moet julle aan die welvarende sê: Mag dit goed gaan met u sowel as met u huis en goed gaan met alles wat u besit. En nou, ek het gehoor dat u skeerders het; nou ja, u wagters was met ons saam; ons het hulle nie beledig nie en hulle het ook niks vermis al die dae wat hulle in Karmel* was nie. Vra u dienaars en hulle sal u dit te kenne gee; laat dus die jongmanne guns vind in u oë, want ons het op ‘n vrolike dag gekom; gee tog wat u byderhand het aan u dienaars en aan u seun Dawid.” PeP 651.2

Dawid en sy manskappe was soos ‘n muur van beskerming vir die herders en kuddes van Nabal; en nou het hulle hierdie ryk man gevra om uit sy oorvloed in die behoeftes van die manne wat aan hom so ‘n waardevolle diens bewys het, te voorsien. Dawid en sy manskappe kon hulself aan sy kuddes gehelp het, maar hulle het nie. Hulle het op ‘n eerlike wyse opgetree. Hulle vriendelikheid het egter by Nabal verbygegaan. Sy antwoord aan Dawid het van sy karakter getuig: “Wie is Dawid? En wie is die seun van Isaï? Daar is vandag baie dienaars wat hulle losskeur, elkeen van sy heer af. Sou ek dan my brood en my water en my slaggoed wat ek vir my skeerders geslag het, neem en aan manne gee van wie ek nie weet waar hulle vandaan kom nie?” PeP 651.3

Toe die manne met leë hande terugkeer en die verloop aan Dawid vertel, is hy met verontwaardiging gevul. Hy het sy manne beveel om hulself slaggereed vir ‘n aanval te kry, want hy het besluit om die man wat geweier het om hom te voorsien PeP 651.4

------------------------------------------------------------------------- PeP 651.5

* Nie die berg Karmel nie, maar “n plek in Juda naby die stad Maon. PeP 651.6

van dit waarop hy geregtig was en hom boonop beledig het, te straf. Hierdie impulsiewe optrede was meer in harmonie met die karakter van Saul as die van Dawid, maar die seun van Isaï moes nog lesse van geduld in die skool van beproewing leer. PeP 652.1

Een van die dienaars van Nabal het hom na Abigail, die vrou van Nabal, gehaas nadat hy die jong mans van Dawid ontslaan het en haar vertel wat gebeur het: “Kyk, Dawid het boodskappers uit die woestyn gestuur om ons heer te begroet, maar hy het teen hulle uitgevaar. Tog was die manne vir ons baie goed; ook is ons nie beledig nie en ons het niks vermis al die dae wat ons saam met hulle rondgetrek het toe ons in die veld was nie. Hulle was ‘n muur om ons, snags sowel as bedags, al die dae wat ons die skape by hulle opgepas het. En nou moet u self ondersoek en kyk wat u moet doen; want die onheil is vas besluit oor ons heer en oor sy hele huis.” PeP 652.2

Sonder om haar man te raadpleeg of hom van haar voorneme te vertel, het Abigail ‘n groot hoeveelheid voorraad, op esels geplaas en onder die sorg van diensknegte vooruit gestuur en sy het self gevolg om die bende van Dawid tegemoet te gaan. Sy het hulle onder die helling van ‘n heuwel ontmoet. “Toe Abigail Dawid sien, het sy gou van die esel afgeklim en voor Dawid op haar aangesig neergeval en na die aarde toe gebuig. En sy het voor sy voete neergeval en gesê: Op my, my heer, rus die skuld, maar laat u dienares tog voor u ore mag spreek en luister na die woorde van u dienares.” Abigail het Dawid met die eerbied wat ‘n gekroonde monarg toekom aangespreek. Nabal het met minagting gevra: “Wie is Dawid?” maar Abigail het hom “my heer” genoem. Met vriendelike woorde het sy probeer om sy vertoornde gemoed te kalmeer en sy het namens haar man by hom gepleit. Abigail het die krag van haar toewyding aan haar huisgesin getoon sonder enige vertoon, of hoogmoed, maar vol van die wysheid en liefde van God en sy het dit duidelik aan Dawid gemaak, dat die onvriendelike optrede van haar man op geen wyse as ‘n persoonlike belediging teenoor hom bedoel was nie, maar bloot die uitbarsting van ‘n ongelukkige en selfsugtige karakter. PeP 652.3

“En nou, my heer, so waar as die Here leef en u siel leef, dit is die Here wat u teruggehou het om in bloedskuld te raak en u met eie hand te help; mag dan nou u vyande en die wat onheil soek teen my heer, soos Nabal word.” Abigail het nie die krediet PeP 652.4

vir hierdie redenasie om Dawid van sy oorhaastige optrede te keer vir haarself toegeëien nie, maar het die eer en die lof aan God gegee. Daarna het sy haar milde aanbod as dankoffer aan die manne van Dawid aangebied en steeds gepleit asof sy self die een was wat die wrok van die leier so opgewerk het. PeP 653.1

Sy het gesê: “Vergeef tog die oortreding van u dienares, want die Here sal sekerlik vir my heer ‘n bestendige huis stig, omdat my heer die oorloë van die Here voer en in u hele lewe in u geen kwaad gevind is nie.” Abigail het by implikasie aan Dawid die weg getoon wat hy moes inslaan. Hy moes die gevegte van die Here aanvoer. Hy moes nie wraak neem vir persoonlike onreg wat teen hom gepleeg is nie, selfs al was hy as ‘n verraaier vervolg. Sy het voortgegaan: “As ‘n mens opstaan om u te agtervolg en u lewe te soek, mag die siel van my heer dan saamgebind wees in die bondeltjie van die lewendes by die Here u God ... En as die Here aan my heer sal doen volgens al die goeie wat Hy aan u beloof het en u aanstel as vors oor Israel, dan sal daar vir u geen struikelblok en vir my heer geen gewetenswroeging wees dat u sonder oorsaak bloed vergiet het en my heer homself hulp verskaf het nie; en as die Here goed sal doen aan my heer, moet u aan u dienares dink.” (1 Samuel 25:29-31). PeP 653.2

Hierdie woorde kon slegs oor die lippe van iemand kom wat wysheid van Bo af ontvang het. Die godsdienstigheid van Abigail, soos die geur van ‘n blom, is onbewustelik uit haar aanskyn, woord en handeling uitgeadem. Die Gees van die Seun van God het in haar siel gewoon. Haar woorde, gevul met genade, vol vriendelikheid en vrede het ‘n hemelse invloed afgegee. Beter emosies het oor Dawid gekom en hy het gebewe by die gedagte aan wat die gevolge van sy oorhaastige besluit kon gewees het. “Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” (Mattheus 5:9). As daar tog baie meer soos hierdie vrou van Israel was, wat die gevoelens van irritasie weg streel, oorhaastige besluite verhoed en groot euwels verdryf deur kalm woorde en goed gerigte wysheid. PeP 653.3

Die lewe van ‘n toegewyde Christen straal voortdurend, vertroosting en vrede uit. Dit word gekenmerk deur reinheid, takt, eenvoud en bruikbaarheid. Dit word beheer deur daardie onselfsugtige liefde wat die invloed heilig. Dit is vol van Christus PeP 653.4

en versprei ‘n spoor van lig oral waar sy besitter mag gaan. Abigail was ‘n wyse bestrawwer en raadgewer. Dawid se woede het onder die krag van haar invloed en redenasie bedaar. Hy was oortuig dat hy onverstandig opgetree het en beheer oor homself verloor het. PeP 654.1

Met ‘n nederige hart het hy die bestraffing aanvaar, in ooreenstemming met sy eie woorde: “Laat die regverdige my met liefde slaan en my tugtig-hoofsalf sal my hoof nie weier nie” (Psalm 141:5). Hy het haar bedank en geseën omdat sy hom sulke wyse raad gegee het. Daar is baie wat, wanneer hulle tereggewys word, dit as prysenswaardig beskou indien hulle die teregwysing ontvang sonder om ongeduldig te word; maar hoe min neem bestraffing met ‘n dankbare hart aan en seën diegene wat poog om hulle te verhoed om ‘n verkeerde weg te volg. PeP 654.2

Toe Abigail terugkeer huis toe, vind sy Nabal en sy gaste besig om ‘n groot feesmaal te geniet wat hulle in ‘n toneel van dronkenskap omskep het. Sy het eers die volgende oggend haar man ingelig oor wat plaasgevind het met die onderhoud met Dawid. Nabal was ‘n lafaard en toe hy besef hoe naby sy dwaasheid hom aan ‘n skielike dood gebring het, het dit geblyk asof ‘n skielike verlamming oor hom kom. Bevrees dat Dawid steeds met sy doel om wraak te neem sou voortgaan, is hy met afgryse gevul en het in ‘n toestand van hulpelose gevoel loosheid weggesink. Na tien dae is hy oorlede. Die lewe wat God hom gegee het, was net ‘n vloek vir die wêreld. Te midde van sy joligheid en gefuif het God aan hom gesê, soos aan die ryk man van die gelykenis: “Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis.” (Lukas 12:20). PeP 654.3

Dawid is daarna met Abigail getroud. Hy was reeds die man van een vrou, maar die gebruike van die nasies van sy tyd het sy oordeel verdraai en sy dade beïnvloed. Selfs groot en goeie mense het foute begaan deur die praktyke van die wêreld te volg. Die bitter gevolge van Dawid se baie vrouens, is regdeur sy lewe ervaar. PeP 654.4

Na die dood van Samuel is Dawid vir ‘n paar maande in vrede gelaat. Hy is weer terug na die eensaamheid van die Sifiete; maar hierdie vyande, in die hoop om die koning se guns te verseker, het hom ingelig oor die skuilplek van Dawid. Hierdie berig het die gees van bose drifte wat in Saul gesluimer het, laat PeP 654.5

herontwaak. Weereens het hy sy manne opgeroep om Dawid te agtervolg. Maar goedgesinde spioene het die seun van Isaï in kennis gestel dat Saul hom weer agtervolg en met ‘n paar van sy manne het Dawid uitgegaan om vas te stel waar sy vyand hom bevind. Dit was gedurende die nag, terwyl hulle versigtig nadergekom het, dat hulle op die laer afkom en die tente van die koning en sy dienaars voor hulle sien. Niemand het hulle gewaar nie, want die hele laer het geslaap. Dawid het sy vriende gevra om saam met hom in die kamp in te gaan. In antwoord op die vraag: “Wie sal met my saam afgaan na Saul, na die laer toe?” het Abisaï gesê: “Ek sal met u saam afgaan.” PeP 655.1

Verberg deur die donker skaduwees van die heuwels, het Dawid en sy metgesel die kamp van die vyand binnegegaan. Terwyl hulle die getal van hul vyande probeer vasstel het, het hulle op Saul afgekom, sy spies in die grond gesteek en ‘n kruik water langs sy kop. Langs hom het Abner, sy hoofbevelvoerder gelê en hy en die soldate rondom hulle was vas aan die slaap. Abisaï het sy spies gelig en aan Dawid gesê: “Vandag het God u vyand in u hand oorgelewer; laat ek hom tog nou met sy spies in een slag teen die grond vassteek sonder om dit ‘n tweede keer te doen.” Hy het vir toestemming gewag, maar die gefluisterde woorde het sy ore bereik: “Bring hom nie om nie, want wie slaan sy hand aan die gesalfde van die Here en bly ongestraf?...So waar as die Here leef, sekerlik sal die Here hom slaan, of sy dag sal kom dat hy sterwe, of hy sal aftrek in die geveg en omkom! Mag die Here my bewaar dat ek my hand aan die gesalfde van die Here sou slaan! Maar neem nou tog die spies wat aan sy koppenent is en die waterkruik en laat ons weggaan. Toe neem Dawid die spies en die waterkruik van Saul se koppenent weg en hulle het heengegaan sonder dat iemand dit sien of merk of wakker word; want hulle was almal aan die slaap, omdat ‘n diepe slaap van die Here op hulle geval het.” Hoe maklik kan die Here die sterkste verswak, die omsigtigheid van die verstandiges wegneem en die vaardigheid van die waaksaamste verwar! PeP 655.2

Toe Dawid ‘n veilige afstand weg van die kamp was, het hy op die top van ‘n heuwel gestaan en met ‘n luide stem tot die manskappe en tot Abner uitgeroep en gesê: “Jy is tog ‘n man en wie is soos jy in Israel? Waarom het jy dan nie by jou heer die koning wag gehou nie? Want een uit die volk het ingekom om die koning, jou heer, om te bring. Hierdie ding is nie goed wat jy PeP 655.3

gedoen het nie! So waar as die Here leef, voorwaar, julle verdien die dood, omdat julle nie wag gehou het oor julle heer, oor die gesalfde van die Here nie. En kyk nou, waar is die spies van die koning en die waterkruik wat aan sy koppenent was? Toe herken Saul die stem van Dawid en vra: Is dit jou stem daar, my seun Dawid? En Dawid sê: My stem, my heer die koning! Verder sê hy: Waarom agtervolg my heer sy dienaar tog? Want wat het ek gedoen? Of watter kwaad is daar by my? Laat my heer die koning dan nou luister na die woorde van sy dienaar.” Weereens het die koning erken: “Ek het gesondig; kom terug, my seun Dawid, want ek sal jou geen kwaad meer doen nie, omdat my lewe vandag kosbaar was in jou oë; kyk, ek het dwaas gehandel en my grootliks misgaan. En Dawid antwoord en sê: Hier is die spies van die koning; laat dan een van die jongmanne deurkom om dit te haal.” Alhoewel Saul beloof het: “Ek sal jou geen kwaad meer doen nie,” het Dawid homself nie in sy mag geplaas nie. PeP 656.1

Hierdie tweede voorbeeld van Dawid se respek vir die lewe van sy soewerein, het ‘n dieper indruk op Saul gemaak en ‘n meer nederige erkenning van sy skuld meegebring. Hy was verbaas en onderdanig oor die openbaring van sulke goedgesindheid. Toe hy van Dawid afskeid neem, het Saul uitgeroep: “Geseënd is jy, my seun Dawid! Jy sal groot dinge doen en sekerlik die oorhand kry.” Maar die seun van Isaï het geen hoop gekoester dat die koning lank in hierdie gemoedstemming sou bly nie. PeP 656.2

Dawid het alle hoop vir ‘n versoening met Saul laat vaar. Dit het onvermydelik geblyk dat hy uiteindelik die slagoffer van die koning se nydigheid sou word en hy het weer besluit om sy toevlug in die land van die Filistyne te soek. Met seshonderd man onder sy bevel het hy oorgegaan na Agis, die koning van Gat. PeP 656.3

Dawid se gevolgtrekking dat Saul sy moorddadige doel sou bereik, is sonder die raad van God gevorm. Selfs terwyl Saul besig was om sy vernietiging te beplan en in werking te stel, het die Here gewerk om die koninkryk van Dawid te verseker. God voer Sy planne uit, al is dit vir die oë van mense verborge. Mense kan die weë van God nie peil nie; en deur na die uiterlike te kyk, vertolk hulle die beproewinge en toetse wat God toelaat om oor hulle te kom, as dinge wat teen hulle is en wat net hulle PeP 656.4

ondergang sal bewerkstellig. So het Dawid na die uiterlike geoordeel en nie volgens die beloftes van God nie. Hy het getwyfel of hy ooit die troon sou bestyg. Lang beproewinge het sy geloof verswak en sy geduld uitgeput. PeP 657.1

Die Here het Dawid nie vir beskerming na die Filistyne, die bitterste vyande van Israel, gestuur nie. Hierdie einste nasie sou tot die einde een van sy ergste vyande wees en tog het hy in sy tyd van nood na hulle vir hulp gevlug. Nadat hy alle vertroue in Saul en die wat hom gedien het verloor het, het hy homself op die barmhartigheid van die vyande van sy volk berus. Dawid was ‘n dapper generaal en het homself as ‘n wyse en suksesvolle krygsman bewys; maar hy het regstreeks teen sy eie belange gewerk toe hy na die Filistyne gegaan het. God het hom aangestel om sy vaandel in Judea op te rig en dit was ‘n gebrek aan geloof wat daartoe gelei het dat hy sy amp sonder opdrag van die Here verlaat het. PeP 657.2

Dawid se ongeloof het God onteer. Die Filistyne het Dawid meer gevrees as wat hulle Saul en sy leërs gevrees het; en deur hom onder die beskerming van die Filistyne te plaas, het Dawid die swakheid van sy eie volk aan hulle verraai. So het hy hierdie onverbiddelike vyande aangemoedig om Israel te onderdruk. Dawid is gesalf om die volk van God te verdedig; en die Here wil nie hê dat Sy diensknegte die goddeloses moet aanmoedig deur die swakheid van sy eie volk te openbaar of deur onverskilligheid teenoor hulle welstand te openbaar nie. Verder het sy broeders die indruk gekry dat hy na die heidene oorgegaan het om hulle gode te dien. Deur hierdie daad het hy aan hulle die geleentheid verskaf om sy motiewe verkeerd te interpreteer en baie het bevooroordeeld teenoor hom geraak. Hy het presies gedoen wat die Satan wou hê hy moes doen; want deur na die Filistyne oor te gaan, het hy aan die vyande van God en Sy volk rede tot groot vreugde gegee. Dawid het nie van sy aanbidding van God afgesien of in die toewyding aan Sy saak verslap nie; maar hy het sy vertroue in Hom vir sy eie veiligheid opgeoffer en sodoende het hy die opregte en getroue karakter wat God van Sy diensknegte verwag, onteer. PeP 657.3

Dawid is hartlik deur die koning van die Filistyne ontvang. Die warmte van hierdie onthaal was deels te wyte aan die feit dat die koning hom bewonder het en deels omdat dit vleiend vir sy ego was om ‘n Hebreër te beskerm. Dawid het veilig teen PeP 657.4

verraad onder die heerskappy van Agis gevoel. Hy het ook sy familie, sy huisgesin en sy besittings, soos ook sy manne, gebring; en hy het na alle waarskynlikheid gekom om hom permanent in die land van Filistia te vestig. Dit was vir Agis verblydend, wat belowe het om die vlugtende Israeliete te beskerm. PeP 658.1

Op versoek van Dawid vir ‘n woonplek in die land, weg van die koninklike stad, het die koning goedgunstiglik die stad Siklag as besitting aan hom toegestaan. Dawid het besef dat dit vir hom en sy manne gevaarlik sou wees om onder die invloed van afgodedienaars te verkeer. In ‘n stad wat geheel en al vir hulle gebruik afgesonder is, kon hulle God met meer vryheid aanbid as wat die geval sou wees as hulle in Gat gebly het waar die heidense rituele net ‘n bron van boosheid en ergernis sou wees. PeP 658.2

Terwyl Dawid in hierdie afgeleë dorp gewoon het, het hy teen die Gesuriete en die Girsiete en die Amalekiete oorlog gevoer en hy het niemand laat oorleef om die verhaal in Gat te gaan vertel nie. Wanneer hy van so ‘n oorlog teruggekeer het, het hy Agis laat verstaan dat hy teen sy eie mense, naamlik die manne van Juda, geveg het. Deur hierdie blufspel het hy die hand van die Filistyne versterk, want die koning het gesê: “Hy het homself vir goed by sy volk, by Israel, gehaat gemaak en sal vir altyd my onderdaan wees.” Dawid het geweet dat dit die wil van God was dat daardie heidense stamme uitgewis moes word en hy het geweet dat hy aangestel was om hierdie werk te doen; maar hy het nie volgens die raad van God gehandel toe hy bedrog gepleeg het nie. PeP 658.3

“En toe die Filistyne in dié dae hulle leër versamel vir oorlog om teen Israel te veg, sê Agis vir Dawid: Jy moet goed verstaan dat jy met my saam in die leër moet uittrek, jy en jou manne.” Dawid was nie van plan om sy hand teen sy volk te lig nie; maar hy was nie seker watter koers hy moes volg nie, totdat die omstandighede sy plig aangedui het. Hy het die koning ontwykend geantwoord: “Goed, u weet wel wat u dienaar moet doen.” Agis het hierdie woorde verstaan as ‘n belofte van hulp in die naderende oorlog en het ‘n belofte afgelê om Dawid grootliks te vereer en hom ‘n hoë posisie in die Filistynse hof te gee. PeP 658.4

Maar alhoewel die geloof van Dawid ietwat gewankel het in die beloftes van God, het hy steeds onthou dat Samuel hom as koning van Israel gesalf het. Hy het die oorwinnings wat God in die verlede oor sy vyande aan hom gegee het, onthou. Hy het die genade van God deur hom uit die hand van Saul te bewaar weer in herinnering geroep en hom voorgeneem om nie die heilige vertroue te verraai nie. Al het die koning van Israel sy lewe gesoek, sou hy nie sy kragte saam met die vyande van sy volk inspan nie. PeP 659.1