Patriarge en Profete
Hoofstuk 64—Dawid “n Voortvlugtige
(Hierdie hoofstuk berus op 1 Samuel 18 tot 22) PeP 634.1
Na die dood van Goliat, het Saul Dawid by hom gehou en om hom nie toegelaat om na die huis van sy vader terug te keer nie. En dit het gekom dat “...die siel van Jonatan verkleef geraak het aan die siel van Dawid en Jonatan het hom liefgekry soos sy eie siel.” Jonatan en Dawid het ‘n verbond gesluit om as broers verenig te word en die seun van die Koning het sy kleed van hom afgehaal en dit aan Dawid gegee, “...ook sy klere, ja, selfs sy swaard en sy boog en sy gordel.” Belangrike verantwoordelikhede is aan Dawid toevertrou, maar hy het steeds beskeie gebly en die toegeneentheid van die volk, sowel as die koninklike huishouding gewen. PeP 634.2
“Oral waar Saul hom gestuur het, was hy voorspoedig, sodat Saul hom oor die krygsmanne aangestel het.” Dawid was verstandig en getrou en dit was duidelik dat die seën van God met hom was. Saul het soms besef dat hy nie geskik was om Israel te regeer nie en hy het gevoel dat die koninkryk veiliger sou wees indien iemand wat bevele van die Here ontvang het, saam met hom kon wees. Saul het ook gehoop dat sy verbintenis met Dawid ‘n beskerming vir homself sou wees. Aangesien Dawid deur die Here begunstig en beskerm was, kon sy teenwoordigheid vir Saul ‘n beskerming wees, wanneer hy hom na die oorlog vergesel het. PeP 634.3
Dit was die voorsienigheid van God wat Dawid met Saul verbind het. Dawid se posisie by die hof sou hom kennis laat opdoen oor sake ter voorbereiding op sy toekomstige majesteit. Dit sou hom in staat stel om die vertroue van die nasie te wen. Die wisselinge en swaarkry wat hom deur die vyandskap van Saul sou tref, sou daartoe lei dat hy sy afhanklikheid van God besef en sy vertroue in Hom sou plaas. En die geneentheid van Jonathan vir Dawid was ook as gevolg van God se voorsienigheid om die lewe van die toekomstige heerser van Israel te bewaar. In al hierdie dinge het God Sy genadige doelwitte vir sowel Dawid as vir die volk Israel uitgewerk. PeP 634.4
Saul het egter nie lank vriendelik teenoor Dawid gebly nie. Toe Saul en Dawid terugkeer van die stryd met die Filistyne, PeP 634.5
“...het die vroue uitgegaan uit al die stede van Israel met sang en koordanse, met tamboeryne, met vreugde geroep en met triangels koning Saul tegemoet.” Een groep het gesing: “Saul het sy duisende verslaan...” en ‘n ander groep het geantwoord: “...maar Dawid sy tienduisende.” Die bose gees van jaloesie het in die hart van die koning ingevaar. Hy was kwaad omdat Dawid, in die sang van die vrouens van Israel, bo hom vereer is. In stede daarvan dat hy hierdie afgunstige gevoelens onderdruk het, het hy die swakheid van sy karakter bewys en uitgeroep: “Hulle het Dawid die tienduisende gegee, maar my die duisende gegee; hy moet nou nog net die koningskap kry!” PeP 635.1
Een groot swakheid in die karakter van Saul, was sy liefde vir goedkeuring. Hierdie eienskap het ‘n beherende invloed op sy optrede en gedagtes gehad; alles was gekenmerk deur sy begeerte na lof en selfverheffing. Sy maatstaf vir reg en verkeerd was die lae maatstaf van gewilde applous. Niemand wat leef om mense te behaag en nie eerstens na God se goedkeuring soek nie, is veilig nie. Dit was Saul se ambisie om eerste in die agting van mense te wees; en toe hierdie loflied gesing word, was die koning vas oortuig dat Dawid die hart van die volk sou wen en in sy plek sou regeer. PeP 635.2
Saul het sy hart oopgestel vir die gees van jaloesie wat sy siel vergiftig het. Ondanks die lesse wat hy van die profeet Samuel ontvang het, naamlik dat God Sy keuse sou uitvoer en dat niemand dit kon verhinder nie, het die koning duidelik gemaak dat hy geen kennis van die planne of mag van God gehad het nie. Die monarg van Israel het sy wil teen die wil van die Oneindige Een gestel. Saul het nie geleer, terwyl hy oor die koninkryk van Israel regeer het, dat hy ook sy eie gees moes regeer nie. Hy het skielike uitbarstings van woede gekry, wanneer hy gereed was om die lewe van enigeen wat teen sy wil gaan, se lewe te neem. Vanuit hierdie waansin het hy oorgegaan in ‘n toestand van terneergedruktheid en selfveragting en berou het sy siel oorweldig. PeP 635.3
Hy het graag geluister na Dawid wat sy harp bespeel en dan was dit asof die bose gees tydelik verdryf is; maar op ‘n dag, terwyl die jongeling voor hom bedien en lieflike musiek uit sy instrument voortgebring het en sy stem hom begelei het terwyl hy lofprysings tot God sing, het Saul die musikant skielik met sy spies gegooi met die doel om sy lewe te beëindig. Dawid het, as PeP 635.4
gevolg van die tussentrede van God behoue gebly en sonder besering van die woede van die koning af weggevlug. PeP 636.1
Namate Saul se haat teenoor Dawid toegeneem het, het hy al hoe meer gewaak vir ‘n geleentheid om sy lewe te neem; maar geeneen van sy planne teen die gesalfde van die Here was suksesvol nie. Saul het hom oorgegee aan die beheer van die bose gees wat oor hom geheers het; terwyl Dawid op Hom, wat wys in raad en magtig is om te verlos, vertrou het. “Die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here.” (Spreuke 9:10) en Dawid het gedurig tot die Here gebid dat hy opreg voor Hom mag wandel. PeP 636.2
Met die begeerte om ontslae van die teenwoordigheid van sy mededinger te raak, het die koning “...hom aangestel as sy owerste oor duisend... Maar die hele Israel en Juda het Dawid liefgehad.” Dit het die volk nie lank geneem om op te merk dat Dawid ‘n bekwame persoon was nie en dat hy die sake wat aan hom toevertrou is met wysheid en vaardigheid bestuur het nie. Die raadgewings van die jong man het getuig van ‘n wyse en verstandige karakter en was veilig om te volg; terwyl Saul se oordeel soms onbetroubaar was en sy beslissings nie van wysheid getuig het nie. PeP 636.3
Alhoewel Saul voortdurend op die uitkyk was vir ‘n geleentheid om Dawid om die lewe te bring, het hy hom gevrees, omdat dit duidelik was dat die Here met hom was. Dawid se onberispelike karakter het vir hom die toorn van die koning opgewek; hy was van die oortuiging dat selfs die lewe en teenwoordigheid van Dawid ‘n smaad op hom werp, omdat dit, in teenstelling met sy eie karakter hom sterk benadeel het. Dit was afguns wat Saul ellendig laat voel het en die nederige onderdaan van sy troon se lewe in gevaar gestel het. Watter ongekende onheil het hierdie bose karaktertrek al in ons wêreld veroorsaak! Dieselfde vyandskap, wat die hart van Kain teen sy broer laat ontvlam het, het in die hart van Saul bestaan en sy eie werke was boos; en die Here kon hom nie seën nie. Nydigheid is die gevolg van hoogmoed en as dit in die hart gekoester word, sal dit lei tot haat en uiteindelik tot wraak en moord. Satan het sy eie karakter getoon deur die woede van Saul teen hom, wat hom nog nooit enige leed aangedoen het nie, op te sweep. PeP 636.4
Die koning het Dawid streng dopgehou in die hoop dat hy een of ander geleentheid van onkreukbaarheid of onbedagsaamheid sou vind wat as voorwendsel gebruik kon word om hom in die skande te bring. Hy het gevoel dat hy nie tevrede sou wees voordat hy die lewe van die jongman kon neem en steeds in die oë van sy volk sy bose daad regverdig nie. Hy het ‘n strik vir Dawid se voete gestel en hom aangemoedig om die oorlog teen die Filistyne met groter ywer te voer en belowe om, as ‘n beloning vir sy dapperheid, die oudste dogter van die koningsgesin as vrou aan hom te gee. Op hierdie voorstel was Dawid se beskeie geantwoord: “Wie is ek en wat is my familie, die geslag van my vader in Israel, dat ek ‘n skoonseun van die koning sou word?” Die monarg het sy onopregtheid geopenbaar deur die prinses aan ‘n ander in die huwelik te gee. PeP 637.1
Saul se jongste dogter se verliefdheid op Dawid het aan die koning die geleentheid gegee om ‘n plot teen sy mededinger te smee. Hy het Migal aan hom beloof op voorwaarde dat bewyse van die verowering en slagting van ‘n bepaalde aantal van hul volksvyande gelewer word. “Saul het naamlik daarop gereken om Dawid te laat val deur die hand van die Filistyne...” maar God het Sy dienskneg beskerm. Dawid het as oorwinnaar uit die geveg teruggekeer en die koning se skoonseun geword. “Migal, die dogter van Saul...” het hom liefgehad en die woedende monarg het gesien dat sy plot slegs gelei het tot die verheffing van hom wie hy probeer vernietig het. Hy was nou nog meer oortuig dat dit die man was wat die Here gesê het hy is beter as hyself en wat in sy plek op die troon van Israel moes regeer. Hy het alle voorgee opsy gesit en ‘n bevel aan Jonathan en die offisiere van die hof uitgereik, om die lewe van die een wat hy gehaat het, te neem. PeP 637.2
Jonatan het die koning se voorneme aan Dawid onthul en gesê dat hy homself moet versteek terwyl hy sy vader sou smeek om die lewe van die verlosser van Israel te spaar. Hy het die koning gewys op wat Dawid gedoen het om die eer en selfs die lewe van die nasie te red en watter verskriklike skuld sou rus op die moordenaar van die een wat God gebruik het om hulle vyande te verstrooi. Dit het die koning se gewete aangeraak en sy hart is versag. “En Saul het gesweer: So waar as die Here PeP 637.3
leef, hy sal nie gedood word nie!” Dawid is na Saul gebring en hy het soos voorheen in sy teenwoordigheid gedien. PeP 638.1
Daar is weer oorlog tussen die Israeliete en die Filistyne verklaar en Dawid het die leër teen hulle vyande aangevoer. Die Hebreërs het ‘n groot oorwinning behaal en die volk het sy wysheid en sy dapperheid geloof. Dit het daartoe gelei dat die vorige bitterheid van Saul weer opgevlam het. Terwyl die jongman voor die koning gespeel en die paleis met soet harmonie vervul het, het Saul se passie hom oorweldig en hy het die spies na Dawid gewerp met die doel om hom teen die muur vas te pen; maar die engel van die Here het die dodelike wapen opsy gestuur. Dawid het ontsnap en na sy eie huis gevlug. Saul het spioene gestuur om hom te vang sodra hy die oggend uit sy huis sou kom en ‘n einde aan sy lewe te maak. PeP 638.2
Migal het Dawid ingelig oor haar vader se plan. Sy het by hom aangedring om vir sy lewe te vlug en het hom deur die venster neergelaat sodat hy kon vlug. Hy het na Samuel in Rama gevlug en die profeet het die vlugteling verwelkom. Samuel se huis was ‘n vreedsame plek in teenstelling met die koninklike paleis. Dit was hier, te midde van die heuwels, dat die geërde dienskneg van die Here sy werk voortgesit het. Daar was ‘n groep sieners by hom en saam het hulle die wil van God noukeurig bestudeer en eerbiedig geluister na die woorde van wysheid wat uit die mond van Samuel gespreek is. Dit was kosbare lesse wat Dawid van die leraar van Israel geleer het. Dawid het geglo dat Saul sy troepe nie sou beveel om hierdie heilige plek aan te val nie, maar skynbaar was geen plek heilig vir die verduisterde gemoed van die desperate koning nie. Dawid se verbintenis met Samuel het die jaloesie van die koning meer opgewek, omdat hy gevrees het dat hy wat in die hele Israel as profeet van die Here eerbiedig was, sy invloed sou gebruik om Saul se mededinger te bevorder. Toe die koning verneem waar Dawid was, het hy offisiere gestuur om hom na Gibea te bring, waar hy van plan was om sy moorddadige plan uit te voer. PeP 638.3
Die boodskappers het, met die doel om Dawid se lewe te neem, vertrek; maar Een groter as Saul het hulle beheer. Net soos Bileam toe hy op pad was om Israel te vervloek, is hulle deur onsigbare engele ontmoet. Hulle het profetiese uitsprake begin uitspreek oor wat in die toekoms sou gebeur en die PeP 638.4
heerlikheid en majesteit van Jehova verkondig. So het God die toorn van die mens oorheers en Sy krag gemanifesteer om die bose in toom te hou, terwyl Hy sy dienskneg met ‘n wag van engele ommuur het. PeP 639.1
Die tyding het Saul bereik terwyl hy gretig gewag het om Dawid in sy mag te kry; maar in stede daarvan om die teregwysing van God te besef, was hy nog meer vertoornd en het ander boodskappers gestuur. Hulle is ook deur die Gees van God oorheers en het saam met die eerstes verenig en geprofeteer. Die derde afvaardiging is deur die koning gestuur, maar toe hulle by die profete kom, het die Goddelike invloed ook oor hulle gekom en hulle het geprofeteer. Saul het toe besluit dat hy self sou gaan, want sy heftige vyandigheid het buite beheer geraak. Hy was vasbeslote om nie op ‘n verdere geleentheid te wag om Dawid dood te maak nie; sodra hy binne sy bereik was sou hy hom met sy eie hand doodmaak, wat die gevolge ook al sou wees. PeP 639.2
Maar ‘n engel van die Here het hom onderweg ontmoet en hom beheer. Die Gees van God het hom in Sy mag gehou en hy het verder op sy pad gegaan en gebede tot God geprewel, afgewissel met voorspellings en heilige melodieë. Hy het oor die koms van die Messias as Verlosser van die wêreld geprofeteer. Toe hy by die profeet se huis in Rama aankom, het hy sy bokleed wat sy rang aangedui het uitgetrek en het die hele dag en die hele nag onder die invloed van die Goddelike Gees voor Samuel en sy leerlinge gelê. Die mense het bymekaar gekom om hierdie vreemde verskynsel te aanskou en die optrede van die koning is wyd en syd verkondig. Dus, weereens, naby die einde van sy bewind, het dit ‘n spreekwoord in Israel geword dat Saul ook tussen die profete was. PeP 639.3
Die vervolger se plan is weereens verydel. Hy het Dawid verseker dat hy met hom versoen was, maar Dawid het min vertroue in die koning se berou gehad. Hy het van hierdie geleentheid gebruik gemaak om te ontsnap, voordat die koning se gemoedstemming soos vroeër sou verander. Sy hart het gebloei en hy het verlang daarna om sy vriend Jonatan weer te sien. Bewus van sy onskuld, het hy die koning se seun opgesoek en ‘n aangrypende versoek tot hom gerig: “Wat het ek gedoen?” het hy gevra. “Wat is my misdaad en wat is my sonde PeP 639.4
voor jou vader, dat hy my lewe soek?” Jonatan het geglo dat sy vader van plan verander het en nie meer Dawid se lewe wou neem nie. En Jonatan het aan hom gesê: “Volstrek nie! Jy sal nie sterwe nie. Kyk, my vader doen geen ding, klein of groot, sonder om dit aan my te openbaar nie; waarom sou my vader dan hierdie saak vir my wegsteek? Dit is nie so nie.” Na die merkbare vertoning van die krag van God, kon Jonathan nie glo dat sy vader Dawid steeds skade sou berokken nie, aangesien dit ‘n duidelike opstand teen God sou wees. Maar Dawid was nie oortuig nie. Met intense erns het hy aan Jonathan gesê: “So waar as die Here leef en jou siel leef, daar is maar net een tree tussen my en die dood!” PeP 640.1
Ten tye van die nuwemaan is ‘n heilige fees in Israel gevier. Hierdie fees sou plaasvind op die dag na die onderhoud tussen Dawid en Jonathan. Op hierdie fees is daar verwag dat albei jongmanne tydens die fees aan die koning se tafel sou verskyn, maar Dawid was bevrees om teenwoordig te wees en daar is gereël dat hy sy broers in Betlehem sou besoek. Met sy terugkeer moes hy in die veld, nie ver van die banketsaal wegkruip nie en drie dae lank afwesig uit die teenwoordigheid van die koning wees; en Jonathan sou oplet wat die effek hiervan op Saul is. Indien daar navraag was oor die afwesigheid van die seun van Isaï, sou Jonathan sê dat hy na sy huis gegaan het om die offerfees van sy vader by te woon. As die koning as gevolg daarvan nie in ‘n woedebui uitgebreek het nie en sou antwoord: “Goed,” sou dit vir Dawid veilig wees om na die hof terug te keer. Maar as hy woedend oor sy afwesigheid was, dan moes Dawid vlug. PeP 640.2
Op die eerste dag van die fees het die koning nie verneem waar Dawid was nie, maar toe sy sitplek op die tweede dag nog leeg was, het hy verneem: “Waarom kom die seun van Isaï gister sowel as vandag nie na die maaltyd nie? En Jonatan het Saul geantwoord: Dawid het my dringend verlof gevra na Betlehem toe en gesê: Laat my tog gaan, want ons het ‘n familie offer in die stad en my broer self het my laat roep. As ek dan nou guns in jou oë gevind het, laat my tog heengaan om my broers te besoek. Daarom het hy nie aan die koning se tafel gekom nie.” Toe Saul hierdie woorde hoor, was sy woede buite beheer. Hy het verklaar dat, vir solank as wat Dawid geleef het, Jonathan nie die troon van Israel sou bestyg nie en het geëis PeP 640.3
dat daar dadelik na Dawid gestuur moes word en dat hy doodgemaak moes word. Jonatan het weer vir sy vriend tussenbeide getree en gesê: “Waarom moet hy gedood word, wat het hy gedoen?” Hierdie beroep op die koning het hom net meer satanies gemaak in sy woede en die spies wat hy vir Dawid bedoel het, het hy na sy seun gewerp. PeP 641.1
Die prins was gegrief en verontwaardig, het die koninklike teenwoordigheid verlaat en was nie meer ‘n gas by die fees nie. Sy siel was neergeboë met hartseer terwyl hy gereedgemaak het om na die afgespreekte plek te gaan waar Dawid sou verneem van die koning se voorneme aangaande hom. Hulle het mekaar omhels en bitterlik geween. Die donker gramskap van die koning het ‘n skaduwee op die lewe van die jongmanne gewerp en hulle droefheid was onuitspreeklik. Die laaste woorde van Jonathan toe hulle paaie in verskillende rigtings skei, was: “Gaan in vrede, omdat ons twee in die Naam van die Here gesweer en gesê het: Die Here sal tussen my en jou wees en tussen my nageslag en jou nageslag vir altyd.” PeP 641.2
Die koning se seun het na Gibea teruggekeer en Dawid het hom gehaas om Nob te bereik, ‘n stad wat net ‘n paar kilometer daarvandaan was en ook aan die stam van Benjamin behoort het. Die tabernakel is van Silo na hierdie plek gebring en hier het die hoëpriester Ahimeleg gedien. Dawid het nie geweet waarheen hy moes vlug nie, behalwe na die dienskneg van God. Die priester het hom verbaas aangekyk toe hy blykbaar haastig alleen daar aankom, met ‘n gesig wat getuig het van angs en hartseer. Hy het verneem wat hom daarheen gebring het. Die jong man was voortdurend bevrees vir ontdekking en het hom in sy vrees tot bedrog gewend. Dawid het aan die priester vertel dat hy op ‘n geheime sending vir die koning was wat uiters dringend was. Hierdeur het hy ‘n gebrek aan geloof in God openbaar en sy sonde het gelei tot die dood van die hoëpriester. Indien hy die ware feite duidelik gestel het, sou Ahimeleg geweet het watter koers om te volg om sy lewe te bewaar. God vereis dat Sy volk, selfs in die grootste gevaar, deur waarheid gekenmerk word. Dawid het die priester vir vyf brode gevra. Daar was niks anders as geheiligde brood in die man van God se besit nie, maar Dawid het daarin geslaag om sy besware uit die weg te ruim en die brood ontvang om sy honger te stil. PeP 641.3
'n Nuwe gevaar het homself nou voorgedoen. Doëg, die hoof van Saul se veewagters, wat die geloof van die Hebreërs bely het, was op hierdie stadium in die plek van aanbidding om sy geloftes te betaal. Toe Dawid hom opmerk, het hy besluit om so gou moontlik na ‘n ander skuilplek te vertrek en ‘n wapen te bekom waarmee hy homself sou kon verdedig indien nodig. Hy het Ahimeleg om ‘n swaard gevra, wat aan hom gesê het dat hy niks anders behalwe die swaard van Goliat, wat as aandenking in die tabernakel gehou is, het nie. Dawid het geantwoord: “Daar is nie nog so een nie, gee dit aan my.” Hy het weer moed geskep toe hy die swaard, wat hy een keer gebruik het om die kampvegter van die Filistyne mee dood te maak, in sy hande vashou. PeP 642.1
Dawid het na Agis, die koning van Gat, gevlug, want hy het gevoel dat daar meer veiligheid onder die vyande van sy volk was as onder die heerskappy van Saul. Maar Agis het verslag ontvang dat Dawid die man was wat die Filistynse kampvegter jare tevore doodgemaak het; en noudat hy by die vyande van Israel skuiling gesoek het, het hy in groot gevaar verkeer. Maar hy het voorgegee dat hy waansinnig was en het sodoende sy vyande bedrieg en ontsnap. PeP 642.2
Dawid se eerste dwaling was sy wantroue in God by Nob en sy tweede fout was sy bedrog voor Agis. Dawid het edele karaktertrekke getoon en sy morele waardes het vir hom die guns van die volk gewen; maar toe beproewing hom oorval, het sy geloof gewankel en menslike swakheid het ingetree. Hy het in elke mens ‘n spioen en verraaier gesien. Tydens ‘n groot noodgeval het Dawid met ‘n onwrikbare oog van geloof na God opgesien en die Filistynse reus oorwin. Hy het in God geglo en het in Sy naam opgetree. Maar toe hy gejag en vervolg word, het verwarring en benoudheid hom byna sy hemelse Vader uit die oog laat verloor. PeP 642.3
Maar hierdie ervaring het gedien om Dawid wysheid te leer, want dit het daartoe gelei dat hy sy swakheid en die noodsaaklikheid van voortdurende afhanklikheid van God besef. O, hoe kosbaar is die lieflike invloed van die Gees van God as dit kom by depressiewe of wanhopige siele, moedeloosheid, aanmoediging, om swakhede te versterk en moed en hulp te verleen aan die beproefde knegte van die Here! PeP 642.4
O, wat ‘n God het ons, wat saggies met die dwalendes omgaan en Sy geduld en deernis in teenspoed openbaar en wanneer ons met groot verdriet oorweldig word! PeP 643.1
Elke mislukking van die kinders van God is aan hul gebrek aan geloof te wyte. Wanneer skaduwees die siel omring, wanneer ons lig en leiding verlang, moet ons opkyk; daar is lig agter die duisternis. Dawid moes God vir geen oomblik gewantrou het nie. Hy het genoeg rede gehad om Hom te vertrou; hy was die gesalfde van die Here en te midde van gevaar is hy deur die engele van God beskerm; hy was met moed bewapen om wondere te verrig en indien hy eerder sy gedagtes weggelei het van die situasie waarin hy verkeer en God se mag en majesteit in gedagte gehou het, sou hy selfs in die skaduwees van die dood vrede ervaar het; hy sou met vertroue die belofte van die Here kon herhaal: “Berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou nie wyk en my vredesverbond nie wankel nie.” (Jesaja 54:10). PeP 643.2
Tussen die berge van Judea het Dawid skuiling teen die agtervolging van Saul gesoek. Hy het na die spelonk van Adullam gevlug, ‘n plek wat met min manskappe teen ‘n groot leër verdedig kon word. “En toe sy broers en sy hele familie dit hoor, het hulle daarheen afgetrek na hom.” Dawid se familie kon nie veilig voel in die wete dat die onredelike suspisies van Saul teen hulle gerig kon word as gevolg van die feit dat hulle familie van Dawid was nie. Hulle het nou uitgevind-wat besig was om algemeen in Israel bekend te word-dat God Dawid as die toekomstige heerser van Sy volk gekies het; en hulle het geglo dat hulle veiliger by hom sou wees, al was hy ‘n vlugteling in ‘n eensame grot, as wat hulle sou wees terwyl hulle aan die kranksinnige waansin van ‘n jaloerse koning blootgestel was. PeP 643.3
In die spelonk van Adullam is die gesin in simpatie en toegeneentheid saamgebind. Die seun van Isaï kon met sy stem en met sy harp musiek maak terwyl hy gesing het: “Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon!” (Psalm 133:1). Hy het die bitterheid van wantroue deur sy eie broers gesmaak en die harmonie wat die plek van onenigheid ingeneem het, het vreugde in die hart van die voortvlugtige gebring. Dit was hier waar Dawid die vyftigste psalm gekomponeer het. PeP 643.4
Dit was nie lank voordat ander, wat die koning se heffings wou vryspring, hulle by Dawid se geselskap aangesluit het nie. Daar was baie wat hulle vertroue in die heerser van Israel verloor het, omdat hulle kon sien dat hy nie meer deur die Gees van die Here gelei word nie. “Elkeen wat in benoudheid was en elkeen wat ‘n skuldeiser gehad het en elkeen wat verbitterd was...” het hom by Dawid geskaar, “...en hy het owerste oor hulle geword, sodat daar omtrent vierhonderd man met hom saam was.” Hier het Dawid ‘n klein koninkryk van sy eie gehad en daarin het orde en dissipline geheers. Maar selfs in sy skuilplek tussen die berge, het hy ver van veilig gevoel want hy het voortdurende getuienis ontvang dat die koning nie sy moorddadige planne laat vaar het nie. PeP 644.1
Hy het by die koning van Moab ‘n toevlugsoord vir sy ouers gevind en toe, met ‘n waarskuwing van gevaar van ‘n profeet van die Here, het hy van sy skuilplek na die bos van Heret gevlug. Die ervarings wat Dawid ondergaan het, was nie onnodig of vrugteloos nie. God het hom gedissiplineer om hom toe te rus om ‘n wyse generaal, asook ‘n regverdige en barmhartige koning te word. Met sy groep vlugtelinge was hy besig om voorbereidings te tref om die werk aan te pak wat Saul, weens sy moorddadige passie en blinde indiskresie, heeltemal onbevoeg was om te doen. ‘n Mens kan nie van die raad van God afwyk en steeds die kalmte en wysheid behou wat hulle in staat sal stel om met geregtigheid en diskresie op te tree nie. Daar is geen waansin so erg, so hopeloos, as om menslike wysheid, onbegeleid deur die wysheid van God, te volg nie. PeP 644.2
Saul het begin voorbereidings tref om Dawid in ‘n lokval, in die spelonk van Adullam te vang en toe dit ontdek is dat Dawid hierdie skuilplek verlaat het, was die koning woedend. Dawid se vlug was vir Saul ‘n raaisel. Hy kon dit slegs verklaar deur homself wys te maak dat daar verraaiers in sy kamp was wat die seun van Isaï oor sy nabyheid en planne ingelig het. PeP 644.3
Hy het aan sy raadgewers bevestig dat daar ‘n sameswering teen hom ontstaan het en met die aanbod van duur geskenke en ere posisies, het hy hulle omgekoop om te onthul wie onder sy volk met Dawid bevriend was. Doëg, die Edomiet, het ‘n verraaier geword. Hy is deur ambisie en gierigheid aangevuur en as gevolg van sy haat vir die priester wat sy sonde bestraf PeP 644.4
het, het hy Dawid se besoek aan Ahimeleg gerapporteer. Hy het die saak op so wyse oorgedra, dat Saul se woede teen die Godsman ontvlam het. Die woorde van daardie onheilspellende tong, deur vuur van die hel aangesteek, het die ergste passies in Saul se hart aangevuur. Verwoed het hy gesweer dat die priester se hele familie sou sterf en die afskuwelike bevel is uitgevoer. Nie net Ahimeleg nie, maar al die lede van die huis van sy vader, “...vyf-en-tagtig man wat die linne skouerkleed dra...” is op bevel van die koning deur die moorddadige hand van Doëg vermoor. PeP 645.1
“Ook die priester stad Nob het hy met die skerpte van die swaard verslaan, man sowel as vrou, kind sowel as suigling, ook die beeste en esels en skape.” Dit was wat Saul, onder beheer van Satan, kon vermag. Toe God gesê het dat die ongeregtigheid van die Amalekiete vol was en hom beveel het om hulle heeltemal te vernietig, het hy homself as te genadig beskou om die vonnis van God te voltrek en het hy gespaar wat aan vernietiging gewy was; maar nou, sonder opdrag van God, onder leiding van Satan, kon hy die priesters van die Here doodmaak en die inwoners van Nob uitdelg. Dit is die perversiteit van die menslike hart wat die leiding van God verwerp het. PeP 645.2
Hierdie daad het die hele Israel met afgryse gevul. Dit was die koning wat hulle gekies het wat hierdie gruweldaad begaan het en hy het, soos die konings van ander nasies wat God nie gevrees het nie, opgetree. Die verbondsark was by hulle, maar die priesters van wie hulle leiding ontvang het, is deur die swaard gedood. Wat sou volgende wees? PeP 645.3