Patriarge en Profete

65/75

Hoofstuk 63—Dawid en Goliat

(Hierdie hoofstuk berus op 1 Samuel 16:14-23;17) PeP 627.1

TOE koning Saul besef dat God hom verwerp het en toe hy die krag van die woorde van bestraffing ervaar wat deur die profeet aan hom gerig is, was hy vol bittere opstand en wanhoop. Dit was nie ware berou wat die trotse hoof van die koning laat neerbuig het nie. Hy het geen duidelike begrip van die afstootlike karakter van sy sonde gehad nie en dit nie oorweeg om sy lewe te hervorm nie, maar hy het gedink oor die vermeende onreg wat God hom aangedoen het deur hom van die troon van Israel te ontneem en die troon van sy nakomelinge af te neem. Hy was voortdurend gemoeid met die verwagting van ondergang wat oor sy huis gebring is. Hy het gevoel dat die dapperheid waarmee hy sy vyande die hoof gebied het, vir sy sonde van ongehoorsaamheid behoort te vergoed. Hy het nie met nederigheid die straf van die Here aanvaar nie; maar sy hovaardige gees het wanhopig geword totdat hy op die punt was om sy rede te verloor. Sy raadgewers het hom aangeraai om die dienste van ‘n bekwame musikant te soek in die hoop dat die kalmerende note van ‘n lieflike instrument sy onrustige gees sou kalmeer. In die voorsienigheid van God is Dawid, as ‘n bekwame kunstenaar op die harp, voor die koning gebring. Sy verhewe, hemels geïnspireerde snare het die gewenste uitwerking gehad. Die broeiende swartgalligheid wat soos ‘n donker wolk oor die gemoed van Saul gehang het, is verdryf. PeP 627.2

Wanneer sy dienste nie by die hof van Saul benodig was nie, het Dawid na sy kuddes tussen die heuwels teruggekeer en voortgegaan om sy eenvoud van gees en gedrag te handhaaf. Telkens wanneer dit nodig was, is hy teruggeroep om voor die koning te dien, om die gedagtes van die ontstelde monarg te kalmeer, totdat die bose gees hom verlaat het. Maar hoewel Saul sy behae in Dawid en sy musiek uitgespreek het, het die jong herder met ‘n gevoel van verligting en vreugde na die veld en heuwels van sy weivelde teruggekeer. PeP 627.3

Dawid het by God en die mens in guns toegeneem. Hy is in die weg van die Here onderrig en hy het hom nou meer daarop toegelê om die wil van God as voorheen uit te voer. Hy het PeP 627.4

nuwe temas tot nadenke gehad. Hy was in die hof van die koning en het die verantwoordelikhede van die koninklikes gesien. Hy het sommige van die versoekings wat die siel van Saul beset het, ontdek en het insae in ‘n paar verborgenhede in die karakter en omgang van Israel se eerste koning gehad. Hy het die heerlikheid van koninklikes, wat deur ‘n donker wolk van smart oorskadu is aanskou en hy het geweet dat die huisgesin van Saul in hul privaat lewe ver van gelukkig was. Al hierdie dinge het daartoe bygedra dat kwelgedagtes, by hom wat gesalf was om koning oor Israel te wees, laat ontstaan. Maar terwyl hy in diepe bepeinsing was en deur angs gedagtes geteister was, het hy sy harp opgeneem en melodieë voortgebring wat sy gedagtes opgehef het na die Outeur van alles wat goed is en die donker wolke wat geblyk het die horison van die toekoms te oorskadu, is verdryf. PeP 628.1

God het Dawid lesse van vertroue geleer. Soos Moses vir sy werk opgelei is, so het die Here die seun van Isaï toegerus om die heerser van Sy uitverkore volk te word. In sy wakende sorg vir sy kuddes, het hy ‘n waardering gekry vir die sorg wat die Groot Herder vir die skape van Sy weiding het. PeP 628.2

Die eensame heuwels en die ruwe klowe waar Dawid met sy kuddes rondgedwaal het, was die skuilplek van roofdiere. Leeus het dikwels uit die ruigtes langs die Jordaan, of ‘n beer uit sy skuilplek vanuit die heuwels gekom en, rasend van honger, sy kudde aangeval. Volgens die gebruik van sy tyd, was Dawid slegs gewapen met sy slinger en ‘n herderstaf; tog het hy vroeg bewys van sy krag en moed gelewer in die beskerming van sy kudde. Agterna het hy hierdie gebeure soos volg beskryf: “As daar ‘n leeu of ‘n beer kom en ‘n stuk kleinvee uit die trop wegdra, dan gaan ek uit agter hom aan en verslaan hom en ruk dit uit sy bek uit; en as hy my aanval, gryp ek hom aan sy baard en verslaan hom en maak hom dood” (1 Samuel 17:34,35). Sy ervarings in hierdie gevalle het die hart van Dawid getoon en het moed, krag en geloof in hom ontwikkel. PeP 628.3

Nog voordat hy na die hof van Saul ontbied is, het Dawid homself deur dade van dapperheid onderskei. Die offisier wat hom onder die aandag van die koning gebring het, het verklaar: “Hy is ‘n dapper held en ‘n krygsman en wel ter tale ... en die Here is met hom.” PeP 628.4

Toe Israel oorlog teen die Filistyne verklaar het, het drie van die seuns van Isaï by die leër van Saul aangesluit; maar Dawid het tuis gebly. Later het hy egter besoek aan die leër van Saul gebring. Op sy vader se versoek moes hy ‘n boodskap en ‘n geskenk aan sy ouer broers bring en na hulle welstand en gesondheid verneem. Maar onbekend aan Isaï, is die jeugdige herder met ‘n hoër missie toevertrou. Die leërs van Israel was in gevaar en Dawid is deur ‘n engel opdrag gegee om sy volk te red. PeP 629.1

Toe Dawid die leër nader, hoor hy ‘n lawaai van oproer, asof ‘n geveg gaan uitbreek. “Die leërmag wat na die vegterrein uittrek...” het “...juis die krygsgeskreeu...” aangehef. Israel en die Filistyne het hulle leërs in slagorde gestel. Dawid het na die leër gehardloop en sy broers gegroet. Terwyl hy met hulle gepraat het, het Goliat, die Filistyne se kampvegter, na vore gekom en Israel met beledigende taal uitgedaag om een man onder hulle geledere te kies om in ‘n enkelgeveg met hom kragte te meet. Hy het sy uitdaging herhaal en toe Dawid sien dat die hele Israel met vrees gevul was en hy verneem dat die uitdaging dag na dag teen hulle gewerp is, sonder om ‘n kampvegter op te wek om die grootprater stil te maak, is sy gees diep ontroer. Hy is met ywer aangevuur om die eer van die lewende God en die roem van sy volk te verdedig. PeP 629.2

Die leërs van Israel se leër se moraal was laag. Hulle moed het hulle begeef. Hulle het aan mekaar gesê: “Het julle die man gesien wat daar opkom? Want hy kom op om Israel uit te daag.” In skaamte en verontwaardiging het Dawid uitgeroep: “Wie is hierdie onbesnede Filistyn, dat hy die slagordes van die lewende God durf uitdaag?” PeP 629.3

Toe Eliab, Dawid se oudste broer, hierdie woorde hoor, het hy deeglik besef wat in die jongman se siel omgaan. Selfs as ‘n herder, het Dawid durf, moed en krag geopenbaar soos selde gesien is; en die geheimsinnige besoek van Samuel aan die huis van hulle vader en sy stille vertrek, het in die gedagtes van die broers agterdog verwek oor die ware doel van sy besoek. Hulle jaloesie was opgewek toe hulle sien dat Dawid bo hulle vereer word en het hom nie met die respek en liefde wat sy eerbaarheid en broederlike teerheid toekom bejeën nie. Hulle het hom bloot as ‘n opgeskote skaapwagter beskou en die vraag wat hy nou gevra het is deur Eliab as ‘n veroordeling oor sy eie PeP 629.4

lafhartigheid, om geen poging aan te wend om hierdie reus van die Filistyne stil te maak nie, beskou. Die ouer broer het kwaad uitgeroep: “Waarom het jy eintlik afgekom en aan wie het jy daardie klompie kleinvee in die woestyn afgegee? Ek ken jou vermetelheid en die boosheid van jou hart, want jy het afgekom om die geveg te sien.” Dawid se antwoord was eerbiedig maar beslis: “Wat het ek nou gedoen? Ek vra maar net.” PeP 630.1

Dawid se woorde is aan die koning herhaal en hy het die jongeling na hom laat roep. Saul het met verbasing na die woorde van die skaapwagter geluister toe hy sê: “Laat die manne se moed tog nie ter wille van hom sink nie. U dienaar sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.” Saul het probeer om die jongman van sy plan te laat afsien, maar hy was onversetlik. Hy het op ‘n eenvoudige en beskeie manier van sy ervarings, terwyl hy oor sy vader se kudde gewaak het, vertel en gesê: “Die Here wat my gered het uit die klou van die leeu en uit die klou van die beer, Hy sal my red uit die hand van hierdie Filistyn. Toe sê Saul vir Dawid: Gaan en mag die Here met jou wees!” PeP 630.2

Veertig dae lank het die leër van Israel voor die hoogmoedige uitdaging van die Filistynse reus gebewe. Hulle moed het hulle begewe wanneer hulle na sy massiewe gestalte kyk, met ‘n hoogte van ses el en een spanwydte. Op sy hoof was ‘n koper helm en sy pantser het vyfduisend sikkels geweeg en sy bene is met skeenplate van koper bedek. Sy harnas was van koperplate wat soos ‘n vis se skubbe, die een oor die ander gelê het en hulle was so dig dat geen pyl dit kon penetreer nie. Op sy rug het die reus ‘n groot werpspies of lans gedra. “Die steel van sy spies was soos ‘n wewersbalk en die lem van sy spies was van seshonderd sikkels yster en die skilddraer het voor hom uit geloop.” PeP 630.3

Soggens en saans het Goliat die laer van Israel genader en met ‘n luide stem uitgeroep: “Waarom trek julle uit om jul in slagorde op te stel? Is ek nie die Filistyn en julle dienaars van Saul nie? Kies vir julle ‘n man uit, dat hy na my toe afkom. As hy teen my kan veg en my verslaan, sal ons julle slawe wees; maar as ek hom oorwin en hom verslaan, moet julle ons slawe wees en ons dien. Verder sê die Filistyn: Ek daag die slagordes van Israel vandag uit! Gee my ‘n man, dat ons saam kan veg. PeP 630.4

Hoewel Saul vir Dawid toestemming gegee het om Goliat se uitdaging te aanvaar, het die koning geen hoop gekoester dat Dawid in sy dapper onderneming sou slaag nie. Die koning het opdrag gegee dat sy wapenrusting vir Dawid aangetrek moes word. Die swaar koper helm is op sy hoof gesit en die harnas is vir hom aangetrek. Die koning se swaard was aan sy sy. Aldus toegerus, het hy sy sending onderneem, maar eerlank het hy teruggekeer. Die eerste gedagte wat in die gedagtes van die angstige toeskouers opgekom het, was dat Dawid besluit het om nie sy lewe in die ongelyke stryd met sy uitdager te waag nie. Maar dit was ver van die gedagtes van die dapper jongman. Toe hy by Saul terugkom, smeek hy vir toestemming om die swaar wapenrusting uit te trek en gesê: “Ek kan nie hierin loop nie, want ek het dit nooit probeer nie.” Hy het die wapenrusting van die koning uitgetrek en net sy staf, met sy eenvoudige slinger in sy hand geneem. Hy het vyf gladde klippe uit die spruit gekies, dit in sy sak gesit en met sy slinger in sy hand die Filistyn genader. Die reus het onverskrokke vorentoe getree en verwag om die magtigste van die krygsmanne van Israel te ontmoet. Sy wapendraer het voor hom uit geloop en dit het gelyk asof niks hom kon weerstaan nie. Toe hy Dawid nader, sien hy net ‘n jong man wat, as gevolg van sy jeug, na verwys is as ‘n seun. Dawid se gelaat was blosend van gesondheid en sy gespierde liggaam, wat nie deur ‘n pantser bedek was nie, het goed vertoon; nogtans was daar ‘n baie duidelike kontras tussen sy jeugdige voorkoms en die reusegestalte van die Filistyn. PeP 631.1

Goliat was met verbasing en woede gevul en het uitgeroep: “Is ek ‘n hond dat jy met stokke na my toe kom?” Daarna het hy Dawid met die verskriklikste vloeke by al die gode wat hy geken het vervloek. Hy het met veragting uitgeroep: “Kom na my toe, dat ek jou vlees aan die voëls van die hemel en die diere van die veld kan gee.” PeP 631.2

Dawid het hom nie deur die kampvegter van die Filistyne laat afskrik nie, maar het aan sy uitdager gesê: “Jy kom na my met ‘n swaard en met ‘n spies en met ‘n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die Here van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het. Vandag sal die Here jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde PeP 631.3

kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel ‘n God het. Dan sal hierdie hele menigte moet erken dat die Here nie deur swaard en deur spies verlos nie; want die stryd behoort aan die Here en Hy sal julle in ons hand gee.” PeP 632.1

Daar was ‘n klank van vreesloosheid in sy stem en op sy gelaat was oorwinning en blydskap te sien. Sy toespraak, wat in ‘n duidelike, musikale stem gespreek is, het in die lug opgeklink en kon duidelik deur die duisende slaggereed soldate gehoor word. Goliat is tot rasende woede aangevuur. In sy woede het hy die helm wat sy voorhoof beskerm het weggestoot en vorentoe gestorm om hom op sy teenstander te wreek. Isaï se seun het hom op sy vyand voorberei. “Toe die Filistyn hom dan klaarmaak en aldeur nader kom om Dawid te ontmoet, loop Dawid gou na die vegterrein om die Filistyn te ontmoet; en Dawid steek sy hand in die tas en neem ‘n klip daaruit en slinger en hy tref die Filistyn in sy voorhoof, sodat die klip in sy voorhoof indring en hy op sy gesig teen die grond val.” PeP 632.2

Verbasing het deur die twee leërs getrek. Hulle het vas geglo dat Dawid gedood sou word; maar toe die klip deur die lug reguit op sy doelwit trek, sien hulle die magtige krygsman bewe en sy hande uitsteek asof hy met skielike blindheid geslaan is. Die reus het omgetol, gesteier en soos ‘n eik wat afgekap is, op die grond neergeslaan. Dawid het geen oomblik geaarsel nie. Hy het die gevalle Filistyn bespring en met albei hande die swaard van Goliat gegryp. ‘n Oomblik tevore het die reus gespog dat hy die jongeling se kop daarmee van sy skouers sou afkap en dat hy sy liggaam aan die voëls van die hemel sou gee. Nou is die swaard hoog in die lug opgelig, die grootprater se kop het van sy liggaam af weggerol en toe gaan daar ‘n groot gejuig uit die kamp van Israel op. PeP 632.3

Die Filistyne was skrik bevange en die verwarring wat daaruit voortgespruit het, het in ‘n haastige terugval ontaard. Die oorwinningskreet van die triomfantlike Hebreërs het op die bergtoppe weerklink terwyl hulle hul vlugtende vyande agtervolg het. En hulle het “...die Filistyne agtervolg tot by die ingang na Gat en tot by die poorte van Ekron, sodat die gesneuweldes van die Filistyne gelê het op die pad van Saaraim en tot by Gat en tot by Ekron. Daarna het die kinders van Israel teruggekeer van die hewige agtervolging van die Filistyne en hulle laer PeP 632.4

geplunder. En Dawid het die hoof van die Filistyn geneem en dit na Jerusalem gebring, maar sy wapens in sy tent neergesit.” PeP 633.1