Patriarge en Profete

8/75

Hoofstuk 6—Set en Henog

(Hierdie hoofstuk berus op Genesis 4:25 tot 6:2) PeP 52.1

“n Ander seun is aan Abraham gegee om die erfgenaam van die Goddelike belofte te word, die erfgenaam van die geestelike geboortereg. Die naam Set, wat aan hierdie seun gegee is, beteken “aangestel” of” vergoeding;” “want...” het die moeder gesê, “...God het my ‘n ander kind geskenk in die plek van Abel, omdat Kain hom doodgeslaan het.” Set was van statuur meer edel as Kain of Abel en het meer na Adam getrek as sy ander seuns. Hy was ‘n waardige karakter, wat in die voetstappe van Abel gevolg het. Tog het hy nie méér natuurlike deugde as Kain geërf nie. Aangaande die skepping van Adam staan daar geskryf: “Na die beeld van God het Hy hom geskape...” “...maar na die sondeval het die mens ‘n seun verwek na sy gelykenis, na sy ewebeeld.” Ofskoon Adam sondeloos geskape is, na die gelykenis van God, het Set, soos Kain, die gevalle natuur van sy ouers geërf. Maar hy is ook in die kennis van die Verlosser en in geregtigheid onderrig. Deur die genade van God het hy God gedien en vereer en het hy hom beywer, soos Abel sou gedoen het indien hy geleef het, om die gedagtes van sondige mense na hul Skepper te draai, om Hom te vereer en te gehoorsaam. PeP 52.2

“En ook vir Set is ‘n seun gebore, wat hy Enos genoem het. Toe het hulle die Naam van die Here begin aanroep.” Die getroues het God voorheen aanbid, maar soos die mensdom begin aanwas het, het die verskil tussen die twee klasse meer merkbaar geword. Aan die een kant was daar ‘n openlike belydenis van getrouheid aan God en aan die ander kant, veragting en ongehoorsaamheid. PeP 52.3

Voor die sondeval het ons stamouers die Sabbat, wat in Eden ingestel was, onderhou en na hulle verbanning uit die Paradys het hulle daarmee volgehou. Hulle het die wrange vrugte van ongehoorsaamheid gesmaak en hulle het geleer, wat elke oortreder wat God se gebooie vertrap vroeër of later sal leer, dat die Goddelike voorskrifte heilig en onveranderlik is en dat die straf vir oortreding gewis sal volg. Al die kinders van Adam wat aan God getrou gebly het, het die Sabbat eerbiedig. PeP 52.4

Maar Kain en sy nakomelinge het nie die dag waarop God gerus het eerbiedig nie. Hulle het hul eie tyd vir arbeid en vir rus gekies ongeag Jehova se uitdruklike bevel. PeP 53.1

Toe Kain die vloek van God ontvang het, het hy hom van sy vader se huishouding onttrek. Hy het eers ‘n beroep as landbouer gekies, maar toe het hy ‘n stad gestig en dit na sy oudste seun vernoem. Hy het uit die teenwoordigheid van die Here beweeg en die belofte van ‘n herstelde Paradys verwerp, om sy besittings en genot in ‘n wêreld, onder die vloek van sonde, te soek en sodoende aan die hoof te staan van ‘n klas van mense wat die god van hierdie wêreld dien. Sy nakomelinge is gekenmerk in die dinge wat betrekking het op blote aardse en materiële vooruitgang. Maar hulle het God nie in aanmerking geneem nie en was in opposisie teen Sy doel vir die mensdom. By die misdaad van moord, waarin Kain die voorloper was, het Lameg, die vyfde geslag van sy nakomelinge, veelwywery bygevoeg en trots uitdagend het hy God erken, slegs om uit die bestraffing van Kain, die versekering van sy eie veiligheid te verkry. Abel het in tente of hutte, die lewe van ‘n herder gelei en Set se nakomelinge het dieselfde koers gevolg en hulself as “...vreemdelinge en bywoners op aarde...” beskou, wat na “...'n beter land verlang, dit is, ‘n hemelse.” (Hebreërs 11:13,16). PeP 53.2

“n Tyd lank was die twee klasse verwyder van mekaar. Kain se nageslag, wat van hulle eerste nedersetting begin wegtrek het, het oor die vlaktes en valleie waar die nakomelinge van Set gewoon het versprei. En laasgenoemde, om van die besmetlike invloed te ontsnap, het na die berge onttrek en hulle tuiste daar gemaak. Vir solank as wat hierdie skeiding voortgeduur het, het hulle ‘n suiwer aanbidding van God gehandhaaf. Maar met verloop van tyd het hulle dit geleidelik gewaag om met die bewoners van die valleie om te gaan. Hierdie omgang het die ergste gevolge geproduseer. “Toe sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was.” Die kinders van Set, aangetrokke tot die skoonheid van die dogters van Kain se geslag, het die Here mishaag deur met hulle te trou. Baie van die aanbidders van God is tot sonde verlei deur die aanloklikhede waaraan hulle nou gedurig blootgestel was en hulle het hulle besondere, heilige karakters verloor. Deur met die verdorwenes te meng het hulle in gees en in dade soos hulle geword. Die beperkinge van die sewende gebod is PeP 53.3

verontagsaam, “...en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het.” Die kinders van Set “...het die weg van Kain bewandel.” (Judas 11). Hulle was ingestel op aardse voorspoed en genot en het die gebooie van die Here verwaarloos. “En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie...” (Romeine 1:28), het “...hulle dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister”. (Romeine 1:21). Daarom “...het God hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid,” (vers 28). Die sonde het soos ‘n dodelike melaatsheid oor die aarde versprei. PeP 54.1

Byna duisend jaar lank het Adam onder die mense as getuie van die gevolge van sonde geleef. Hy het getrou daarna gestrewe om die vloedgolf van boosheid te keer. Hy is beveel om sy nakomelinge te leer aangaande die weg van die Here; en hy het alles wat God aan hom toevertrou het, sorgvuldig bewaar en dit aan die daaropvolgende geslagte herhaal. Aan sy kinders en kindskinders tot in die negende geslag het hy die mens se heilige en gelukkige toestand in die Paradys beskryf en die geskiedenis van sy val herhaal. Hy het hulle vertel van die lyding, waardeur God hom geleer het dat dit noodsaaklik is om Sy wet streng na te kom en aan hulle die genadige voorsiening van hul verlossing verduidelik. Daar was egter min wat op sy woorde ag geslaan het. Dikwels het hy bitterlike selfverwyt oor die sonde wat sulke ellende oor sy nageslagte gebring het, ervaar. PeP 54.2

Adam se lewe was een van verdriet, nederigheid en berou. Toe hy Eden verlaat het, het die gedagte aan die dood hom met afsku gevul. Sy eerste kennismaking met die werklikheid van die dood van die mens was toe Kain, sy eersgeborene, die moordenaar van sy broer geword het. Gevul met die diepste berou oor sy eie sonde en sy dubbele verlies in die dood van Abel en die verwerping van Kain, was Adam neergeboë met smart. Hy het die toenemende korrupsie wat uiteindelik tot die verwoesting van die wêreld deur ‘n sondvloed gelei het, aanskou; en alhoewel die doodsvonnis wat Sy Maker oor hom uitgespreek het eers vir hom skrikwekkend voorgekom het, het hy, nadat hy vir byna ‘n duisend jaar die gevolge van sonde aanskou het, gevoel dat God genade betoon het deur ‘n einde aan ‘n lewe van lyding en smart te maak. PeP 54.3

Nieteenstaande die goddeloosheid van die wêreld voor die sondvloed, was daardie eeu nie, soos dikwels veronderstel is, ‘n tydperk van onkunde en barbaarsheid nie. Aan die mense is die geleentheid gegee om ‘n hoë standaard van morele en intellektuele vermoëns te bereik. Hulle het oor groot fisiese en geestelike krag beskik en hul voorregte om beide godsdienstige en wetenskaplike kennis op te doen, was ongeëwenaar. Dit is ‘n fout om te veronderstel dat, omdat hulle ‘n hoë ouderdom bereik het, hulle verstand eers laat ontwikkel het. Hulle geestelike vermoëns is reeds vroeg ontwikkel en diegene wat die vrees van God bewaar en in harmonie met Sy wil geleef het, het hulle lewe lank aangehou om kennis en wysheid te bekom. As roemryke geleerdes van ons tyd vergelyk kon word met manne van dieselfde ouderdom wat voor die Vloed geleef het, sou hulle grootliks minderwaardig in geestelike en fisiese krag vertoon. Namate die mens se lewensjare verminder en sy liggaamskragte afgeneem het, het ook sy geestelike vermoëns afgeneem. Daar is tans mense wat vanaf hul twintigste tot vyftigste jaar aan studie wy en die wêreld is gevul met bewondering vir hul prestasies. Maar hoe beperk is die prestasies van hierdie mense in vergelyking met dié van mense wie se geestelike en liggaamlike vermoëns oor eeue heen ontwikkel het! PeP 55.1

Dit is waar dat die hedendaagse mense die voordeel van die prestasies van hulle voorgangers geniet. Die groot denkers wat beplan, gestudeer en geskryf het, het hulle werk aan hulle opvolgers oorgelaat. Maar hoeveel te meer was die voorsprong van die mense van daardie tyd, selfs in hierdie opsig en op die gebied van menslike kennis! Vir honderde jare het hulle hom by hulle gehad wat na die beeld van God gevorm was en wat die Skepper as “goed” bestempel het; die man wat deur God self in al die wysheid aangaande die materiële wêreld onderrig is. Adam het by die Skepper die geskiedenis van die skepping geleer; hy het persoonlik die gebeurtenisse van nege eeue aanskou en hy het sy kennis aan sy nakomelinge oorgedra. Voor die sondvloed het die mense geen boeke en geen geskrewe verslae gehad nie, maar met die hoë fisiese en geestelike lewenskragtigheid waaroor hulle beskik het, was hulle geheue besonder goed, in staat daartoe om te begryp en te onthou wat aan hulle meegedeel is en dit op hulle beurt weer PeP 55.2

onbelemmerd aan hulle nakomelinge oor te dra. En vir honderde jare het daar sewe geslagte gelyktydig op die aarde geleef en het hulle die geleentheid gehad om saam te raadpleeg en elkeen te bevoordeel met die kennis en ondervinding van almal. PeP 56.1

Die geleenthede wat die mense van daardie tyd gehad het om deur Sy werke ‘n kennis van God op te doen, is nooit sedertdien geëwenaar nie. En ver daarvan dat dit ‘n era van godsdienstige duisternis was, was dit ‘n era van groot lig. Die hele wêreld het die geleentheid gehad om onderrig van Adam te ontvang en dié wat die Here gevrees het, het ook Christus en die engele as onderwysers gehad. En in die tuin van God, wat vir soveel eeue tussen die mense bestaan het, het hulle het ‘n stille getuienis van die waarheid gehad. By die gerub-bewaakte poort van die Paradys, is die heerlikheid van God geopenbaar en hierheen het die eerste aanbidders gekom. Hier het hulle hul altare opgerig en hulle offers gebring. Dit is hier waar God neergedaal het om met hulle te kommunikeer. PeP 56.2

Skeptisisme kon nie die bestaan van Eden, terwyl dit sigbaar was, met die ingang deur wakende engele versper, ontken nie. Die orde van die skepping, die doel van die tuin, die geskiedenis van sy twee bome wat so ‘n noue verband met die noodlot van die mens gehad het, was onweerlegbare feite. Ook die bestaan en opperheerskappy van God, die verpligting van Sy wet, was waarhede wat mense gehuiwer het om te betwyfel terwyl Adam met hulle was. PeP 56.3

Ondanks die heersende goddeloosheid, was daar ‘n linie van heilige mense wie, verhewe en veredel deur hulle gemeenskap met God, geleef het soos die gemeenskap in die hemel. Hulle was mense van groot intellek en wonderbaarlike prestasies. Hulle het ‘n groot en heilige roeping, om ‘n karakter van geregtigheid te ontwikkel, ‘n les van godsaligheid te leer, nie alleenlik aan die mense van hulle tyd nie, maar ook toekomstige generasies, gehad. Slegs ‘n paar van die mees prominentste word in die Skrifte genoem; maar God het deur al die eeue getroue getuies en opregte aanbidders gehad. PeP 56.4

Van Henog staan daar geskrywe dat hy vyf-en-sestig jaar geleef het en toe ‘n seun verwek het. Daarna het hy driehonderd jaar met God gewandel. Gedurende hierdie vroeëre jare het Henog God gevrees en liefgehad en Sy gebooie onderhou. Hy PeP 56.5

was een van die heilige linie, die bewakers van die ware geloof, die voorsate van die beloofde saad. Uit die mond van Adam het hy die donker verhaal van die Sondeval en die bemoedigende verhaal van God se genade, soos in die belofte gesien, verneem; en hy het op die koms van die Verlosser gesteun. Maar na die geboorte van sy eerste seun, het Henog ‘n uitnemender belewenis opgedoen; hy is in ‘n nouer verwantskap met God betrek. Hy het ‘n vollediger begrip gehad van sy verpligtinge en verantwoordelikhede as ‘n seun van God. En soos hy die liefde van ‘n kind vir sy vader aanskou het, die eenvoudige vertroue in sy beskerming; soos hy die diepe, verlangende tederheid van sy eie hart vir sy eersteling ervaar het, het hy ‘n kosbare les geleer oor die wonderlike liefde van God vir die mens in die geskenk van Sy Seun en die vertroue wat die kinders van God in hulle hemelse Vader kan stel. Die oneindige, ondeurgrondelike liefde van God deur Christus, het voortaan, dag en nag, die onderwerp van sy bepeinsings geword; en met al die ywer van sy siel het hy gestreef om daardie liefde aan die mense onder wie hy gewoon het te toon. PeP 57.1

Henog het nie in verrukking of in ‘n gesig met God gewandel nie, maar in al die pligte van sy daaglikse bestaan. Hy het nie ‘n kluisenaar geword en homself geheel en al van die wêreld onttrek nie; want hy het ‘n werk wat hy in die wêreld vir God moes verrig, gehad. In sy omgang met sy gesin en in sy verkeer met die wêreld, as eggenoot en vader, as vriend en burger, was hy ‘n standvastige, onwankelbare dienskneg van die Here. PeP 57.2

Sy hart was in harmonie met die wil van God, want “...sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het?” (Amos 3:3). En hierdie heilige wandel het vir driehonderd jaar voortgeduur. Daar is min Christene wat, indien hulle kon weet dat hulle slegs ‘n kort tyd oor het om te leef, of dat die wederkoms van Christus binnekort sou plaasvind, nie meer ernstig en toegewyd sou wees nie. Maar met verloop van eeue het Henog se geloof sterker en sy liefde vuriger geword. PeP 57.3

Henog was ‘n man met wilskrag, ‘n hoogs gekultiveerde verstand en uitgebreide kennis; hy was met spesiale openbaringe vereer; tog, omdat hy voortdurend in gemeenskap met die hemel verkeer het, met ‘n sin vir die Goddelike Grootheid en Volmaaktheid altyd voor hom, was hy een van die nederigste PeP 57.4

van mense. Hoe nouer die verband met God, hoe dieper was hy onder die indruk van sy eie swakheid en onvolmaaktheid. PeP 58.1

Bedroef oor die toenemende boosheid van die goddelose en bevrees dat hulle ontrouheid sy eerbied vir God mag verminder, het Henog voortdurende omgang met hulle vermy en baie tyd in eensaamheid deurgebring en homself aan bepeinsing en gebed oorgegee. So het hy op die Here gewag en ‘n duideliker kennis van Sy wil gesoek sodat hy dit kon uitvoer. Gebed was vir hom soos die asem van die siel; hy het in die atmosfeer van die hemel self geleef. PeP 58.2

Deur heilige engele het God Sy voornemens om die wêreld deur middel van ‘n Vloed te verwoes aan Henog bekend gemaak en ook aan hom die verlossingsplan meer volledig geopenbaar. Deur die gees van profesie het Hy hom deur die generasies wat na die Vloed sou leef gevoer en die groot gebeurtenisse wat met die wederkoms en die einde van die wêreld gepaardgaan, aan hom getoon. PeP 58.3

Henog was bekommerd ten opsigte van die dode. Dit het vir hom voorgekom asof die regverdiges en die goddeloses saam tot stof sou terugkeer en dat dit hulle einde sou wees. Hy kon nie die lewe van die regverdiges anderkant die graf sien nie. Deur ‘n profetiese gesig is hy oor die dood van Christus ingelig en Sy koms in heerlikheid tesame met al die heilige engele om sy volk uit die graf te verlos, is aan hom getoon. Hy het ook die verdorwe toestand van die wêreld tydens Christus se wederkoms gesien-dat daar ‘n verwaande, aanmatigende, eiewillige geslag sou wees wat die enigste God en die Here Jesus Christus sou verloën, die wet vertrap en die versoening verag. Hy het gesien hoe die regverdiges met eer en heerlikheid gekroon word en die goddeloses uit die teenwoordigheid van die Here verban en met vuur uitgedelg word. PeP 58.4

Henog het ‘n prediker van geregtigheid geword en aan die mense bekend gemaak dit wat God aan hom geopenbaar het. Diegene wat die Here gevrees het, het hierdie heilige man opgesoek om te deel in sy lering en sy gebede. Hy het ook in die openbaar gewerk en aan almal wat wou luister, God se boodskappe en woorde van waarskuwing verkondig. Sy arbeid was nie beperk tot die nakomelinge van Set nie. In die land waarheen Kain van die Teenwoordigheid van God probeer PeP 58.5

ontvlug het, het die profeet van God die wonderbaarlike tonele wat hy in ‘n gesig gesien het, bekend gemaak. Hy het gesê: “Kyk, die Here het gekom met sy heilige tienduisendtalle, om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke” (Judas 14,15). PeP 59.1

Hy was ‘n vreeslose bestraffer van sonde. Onderwyl hy die liefde van God in Christus aan die mense van sy tyd verkondig het en gepleit het dat hulle moes afsien van hulle bose weë, het hy die heersende ongeregtigheid bestraf en die mense van sy geslag gewaarsku dat die oortreder gewis gestraf sou word. Dit was die Gees van Christus wat deur Henog gespreek het; daardie Gees word nie slegs in uitinge van liefde, barmhartigheid en smeking geopenbaar nie; dit is nie alleenlik strelende dinge wat deur heilige mense verkondig word nie. God lê soms op die hart en lippe van Sy boodskappers waarhede wat so skerp en snydend is soos ‘n tweesnydende swaard. PeP 59.2

Die krag van God wat deur Sy dienskneg gewerk het, is deur al sy toehoorders ervaar. Sommiges het ag geslaan op die waarskuwing en het hulle sondes versaak; maar die meerderheid het die plegtige boodskap bespot en met groter vermetelheid in hulle bose weë volhard. In die laaste dae moet die diensknegte van God ‘n soortgelyke boodskap aan die wêreld verkondig en dit sal met dieselfde ongeloof en bespotting ontvang word. Die antediluviaanse wêreld het die boodskap van hom wat met God gewandel het verwerp. So sal ook die laaste geslag die waarskuwings van die Here se boodskappers ligtelik afmaak. PeP 59.3

Te midde van sy lewe van aktiewe arbeid, het Henog onwrikbaar volhard in sy gemeenskap met God. Hoe meer en dringender sy arbeid, hoe meer konstant en ernstiger was sy gebede. Hy het voortgegaan om homself op sekere tye van die samelewing te onttrek. Nadat hy ‘n tydperk tussen die mense gebly en gearbei het om hulle met sy onderrig en voorbeeld te bevoordeel, het hy hom onttrek om ‘n tyd in afsondering deur te bring, honger en dors na die Goddelike kennis wat God alleen kan oordra. Deur op hierdie wyse met God te kommunikeer, het Henog die Goddelike Beeld meer en meer weerkaats. Sy gesig was stralend met ‘n heilige lig, dié lig wat uit die aangesig van Jesus skyn. Wanneer hy van hierdie tye van Goddelike PeP 59.4

kommunikasie teruggekeer het, het selfs die goddeloses met ontsag die afdruk van die hemel op sy aangesig aanskou. PeP 60.1

Die goddeloosheid van die mense het so ‘n hoë vlak bereik, dat uitdelging oor hulle uitgespreek is. Jaar na jaar het die vloed van menslike skuld gestyg en donkerder en donkerder het die wolke van die oordeel van God saamgepak. Nogtans het Henog, die geloofsgetuie, op sy weg gehou om te waarsku, te pleit, te smeek en gestreef om die vloed van skuld terug te draai en die slotte van wraak te keer. Ofskoon sy waarskuwings deur ‘n sondige, plesier-soekende mensdom verontagsaam is, het hy die getuienis gehad dat hy God behaag en het hy getrou in sy stryd teen die kwaad volhard totdat God hom van die sondige wêreld na die volmaakte vreugde van die hemel weggeneem het. PeP 60.2

Die mense van daardie geslag het gelag oor die dwaasheid van hom wat nie daarna gestrewe het om goud of silwer of ander besittings te versamel nie. Maar Henog het sy hart op die ewige skatte gevestig. Hy het die hemelse stad aanskou. Hy het die Koning in Sy heerlikheid, te midde van Sion, gesien. Sy gedagtes, sy hart, sy gesprek was in die hemel. Hoe groter die bestaande ongeregtighede, hoe ernstiger was sy verlange na die huis van God. Terwyl hy nog op aarde was, het hy deur die geloof in die koninkryk van lig gewoon. PeP 60.3

“Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.” (Mattheus 5:8). Driehonderd jaar lank het Henog reinheid van siel nagestreef sodat hy in harmonie met die hemel mag wees. Drie eeue lank het hy met God gewandel. Dag na dag het hy verlang na ‘n meer intieme verhouding; dieper en dieper het die verhouding geword totdat God hom na Homself opgeneem het. Hy het op die drumpel van die ewige wêreld gestaan; net ‘n tree tussen hom en die land van die saliges. En nou het die poorte oopgegaan; die wandel met God wat so lank op aarde geduur het, is voortgesit en as eersteling van die mensdom het hy deur die poorte gegaan. PeP 60.4

Sy verlies is op die aarde gevoel. Die stem wat dag na dag gewaarsku en onderrig gegee het, is gemis. Daar was sommiges, van beide die regverdiges en die goddeloses, wat sy vertrek gadegeslaan het; en met die hoop dat hy miskien na een van sy plekke van afsondering weggevoer is, het diegene wat PeP 60.5

hom liefgehad het, naarstiglik na hom gesoek, net soos die seuns van die profete later na Elia gesoek het, maar tevergeefs. Hulle het aangekondig dat hy nie daar was nie, want God het hom weggeneem. PeP 61.1

Die Here was van voorneme om ‘n belangrike les deur die wegneming van Henog te leer. Die gevaar het bestaan dat mense sou toegee aan moedeloosheid as gevolg van die vreesaanjaende gevolge van Adam se sonde. Baie was gereed om uit te roep: “Wat help dit dat ons die Here gevrees en Sy insettinge bewaar het aangesien daar so ‘n swaar vloek op ons rus en die dood die lot van almal is?” Maar die onderrig wat God aan Adam gegee het, wat deur Set herhaal en deur Henog uitgebeeld is, het die somberheid en duisternis verdryf en aan die mensdom die hoop gegee dat, soos die dood deur Adam gekom het, so sou daar lewe en onsterflikheid deur die beloofde Verlosser wees. Satan het die mense laat glo dat daar geen beloning vir die regverdiges was nie en geen straf vir die goddeloses nie en dat dit vir die mens onmoontlik is om die Goddelike insettinge te gehoorsaam. Maar in die geval van Henog verklaar God “...dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.” (Hebreërs 11:6). Hy toon wat Hy vir diegene sal doen wat Sy gebooie gehoorsaam. Mense is geleer dat dit wel moontlik is om die wet van God te gehoorsaam; dat selfs terwyl hulle tussen die sondaars en bedorwenes geleef het, was hulle, deur die genade van God, in staat om versoeking te weerstaan en rein en heilig te word. Hulle het in sy voorbeeld die seëninge van so ‘n lewe gesien; en sy wegneming het getuig van die waarheid van sy profesie aangaande die hiernamaals, met die beloning van vreugde en heerlikheid en die ewige lewe vir die gehoorsame en ook van veroordeling, ellende en die dood vir die oortreders. PeP 61.2

“Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie; ...want voor sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het.” (Hebreërs 11:5). Te midde van ‘n wêreld wat weens sy ongeregtigheid tot verwoesting gedoem is, het Henog in sulke noue omgang met God geleef dat hy nie toegelaat is om onder die mag van die dood te kom nie. Die godvrugtige karakter van hierdie profeet verteenwoordig die heiligheid waarna almal wat “...van die aarde vrygekoop...” PeP 61.3

(Openbaring 14:3 ) sal word, moet reik wanneer Christus weer kom, wanneer, soos in die wêreld voor die Vloed, ongeregtigheid sal seëvier. Deur die ingewing van hulle korrupte harte te volg en die leringe van ‘n misleidende filosofie, sal mense in opstand teen die gesag van die Hemel kom. Maar, soos Henog, sal die volk van God reinheid van hart en ooreenstemming met Sy wil nastreef totdat hulle die beeld van Christus weerkaats. Soos Henog sal hulle die wêreld waarsku aangaande die wederkoms van die Here en die besoekinge wat oor die oortreders sal kom en deur hulle heilige gesprekke en voorbeeld sal hulle die sondes van die goddeloses veroordeel. Net soos Henog na die hemel weggeneem is voordat die aarde deur water verwoes is, so sal die lewende regverdiges van die aarde weggeneem word voordat dit deur vuur verwoes word. Die apostel Paulus sê: “Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin.” “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God.” “...die basuin sal weerklink en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.” “Die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.” (1 Korinthiërs 15:51,52; 1 Thessalonicense 4:16-18). PeP 62.1