Patriarge en Profete
Hoofstuk 62—Die Salwing van Dawid
(Hierdie hoofstuk berus op 1 Samuel 16:1-13) PeP 622.1
“n PAAR kilometers suid van Jerusalem, “die stad van die groot Koning,” lê Betlehem, waar Dawid, die seun van Isaï, gebore is-meer as duisend jaar voordat die Baba Jesus in die krip gelê het en deur die Wyse Manne uit die Ooste aanbid is. Honderde jare voor die koms van die Verlosser het Dawid in die varsheid van sy jeug wag gehou oor sy kudde, terwyl hulle op die heuwels rondom Betlehem gewei het. Die eenvoudige herder seun het liedere van sy eie komposisie gesing en die musiek van sy harp was ‘n lieflike begeleiding vir sy vars jong stem. Die Here het Dawid gekies en het hom, in sy eensame herderslewe voorberei vir die werk wat Hy in toekomstige jare aan hom sou toevertrou. PeP 622.2
Terwyl Dawid so in die afsondering van sy nederige herderslewe geleef het, het die Here God aangaande hom met die profeet Samuel gespreek. “Daarna sê die Here aan Samuel: Hoe lank sal jy treur oor Saul, terwyl Ek hom verwerp het om koning te wees oor Israel? Vul jou horing met olie en gaan heen: Ek stuur jou na Isaï, die Bethlehemiet, want Ek het onder sy seuns vir My ‘n koning uitgesoek...Neem ‘n jong koei met jou saam en sê: Ek kom om aan die Here te offer. Nooi Isaï dan na die offermaaltyd en Ek sal jou bekend maak wat jy moet doen en jy moet die een vir My salf wat Ek jou sal noem. En Samuel het gedoen wat die Here gespreek het; en toe hy by Betlehem aankom, het die oudstes van die stad hom bewend tegemoetgegaan en gevra: Is u koms vrede? En hy sê: Vrede!” Die oudstes het die uitnodiging na die offerdiens aanvaar en Samuel het Isaï en sy seuns ook genooi. Die altaar is opgerig en die offer was gereed. Isaï met sy hele gesin was teenwoordig, met die uitsondering van Dawid, die jongste seun, wat oor die skape moes waak, want dit was nie veilig om die troppe onbewaak te laat nie. PeP 622.3
Nadat die offerdiens verby is en voordat hy by die offermaal aangesit het, het Samuel sy profetiese ondersoek van Isaï se indrukwekkende seuns begin. Eliab was die oudste en in gestalte en voorkoms het hy ‘n sterk ooreenkoms met Saul PeP 622.4
getoon. Sy aantreklike gelaatstrekke en fyn ontwikkelde vorm het die aandag van die profeet getrek. Terwyl Samuel sy vorstelike gestalte aanskou, het hy gedink: “Dit is gewis die man wat God as Saul se opvolger gekies het...” en hy het gewag op die Goddelike bevestiging om hom te salf. Maar Jehova het nie na die uiterlike voorkoms gekyk nie. Eliab het die Here nie gevrees nie. Indien hy op die troon geplaas was, sou hy ‘n hoogmoedige en veeleisende heerser gewees het. Die woord van die Here aan Samuel was: “Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die mens sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan.” Geen uiterlike skoonheid kan die siel by God aanbeveel nie. Die wysheid en uitnemendheid wat in die karakter en gedrag geopenbaar word, gee uitdrukking aan die ware skoonheid van die mens; en dit is hierdie innerlike waarde, die voortreflikheid van die hart, wat ons aanvaarding by die Here van die leërskare bepaal. Hoe diep behoort ons hierdie waarheid te oorweeg in die oordeel van onsself en ander. Ons kan uit Samuel se fout leer hoe tevergeefs die beraming is wat berus op die skoonheid van gesig of edele gestalte. Ons kan sien hoe onbevoeg die mens se wysheid is om die geheime van die hart of die raad van God te verstaan, sonder spesiale lig uit die hemel. Die gedagtes en weë van God met betrekking tot Sy skepsels is bo ons menslike begrip; maar ons kan die versekering hê dat Sy kinders op die plek waarvoor hulle gekwalifiseerd is gebring sal word en dat hulle in staat gestel sal word om die werk wat aan hulle hande toevertrou is te verrig, indien hulle hul wil aan God onderwerp, sodat sy goedbedoelde planne nie deur die perversiteit van die mens verydel mag word nie. PeP 623.1
Eliab was reeds deur Samuel se inspeksie en die ses broers wat die diens bygewoon het, het agtereenvolgens gevolg om deur die profeet waargeneem te word; maar die Here het nie enigeen van hulle as Sy keuse aangedui nie. Met pynlike gespannenheid het Samuel die laaste van die jongmanne onder oë geneem; die profeet was bekommerd en verward. Hy het van Isaï verneem: “Is dit al die seuns?” Die vader het geantwoord: “Die kleinste is nog oor en kyk, hy pas skape op.” Samuel het opdrag gegee dat hy ontbied moes word en gesê: “Ons mag nie om die tafel gaan sit voordat hy hier kom nie.” PeP 623.2
Die eensame skaapwagter was onthuts deur die onverwagte oproep van die boodskapper, wat aangekondig het dat die profeet na Betlehem gekom het en vir hom gestuur het. Met verbasing het hy gevra waarom die profeet en regter van Israel begeer het om hom te sien; maar hy het sonder versuim die oproep gehoorsaam. “En hy was rooierig, met mooi oë en ‘n mooi voorkoms.” Toe Samuel met genoeë die aantreklike, manlike, beskeie skaapwagter aanskou, het die stem van die Here met die profeet gespreek en gesê: “Staan op, salf hom, want dit is hy.” Dawid het, In die nederige posisie as herder, homself as dapper en getrou bewys en nou het God hom gekies om die heerser van Sy volk te wees. “Samuel neem toe die horing met olie en salf hom te midde van sy broers en die Gees van die Here het van dié dag af en verder oor Dawid vaardig geword.” Die profeet het sy aangewese werk verrig en met groot verligting na Rama teruggekeer. PeP 624.1
Samuel het nie sy opdrag aan die familie van Isaï bekend gemaak nie en die plegtigheid van die salwing van Dawid is in die geheim uitgevoer. Dit was ‘n aanduiding aan die jongeling van die hoë roeping wat op hom gewag het, sodat hierdie kennis hom, te midde van al die wedervaringe en gevare van sy toekomstige jare, sou besiel om getrou te bly aan die doel wat God deur sy lewe wou bereik. PeP 624.2
Die groot eer wat Dawid te beurt geval het, het hom nie selfvoldaan gemaak nie. Ondanks die hoë posisie wat hy sou vul, het hy stilweg sy werk voortgesit, tevrede om te wag vir die Here om Sy planne op Sy eie tyd en Sy eie manier uit te voer. Net so nederig en beskeie soos voor sy salwing, het die skaapwagter na die heuwels teruggekeer en sy kudde met dieselfde teerheid bewaak en beskerm. Maar met nuwe inspirasie het hy sy melodieë gekomponeer en op sy harp gespeel. Voor hom het die landskap met ‘n ryke verskeidenheid van natuurskoon uitgesprei. Die wingerde met hulle trosse vrugte het in die sonskyn geglinster. Die bome van die woud met hulle groen lower het in die bries gewieg. Hy het gesien hoe die son die hemel met lig bestraal, soos ‘n bruidegom wat uit sy kamer kom en soos ‘n sterk man met blydskap gevul is om die wedloop te voltooi. Daar was die pieke van die heuwels wat na die hemel uitgetroon het; in die verte het die ruwe kranse van die bergwand van Moab uitgestyg; bo alles het die sagte blou PeP 624.3
van die oorkoepelende hemele gehang. En daaragter was God. Hy kon Hom nie sien nie, maar Sy werke was vol van Sy lof. Die lig van die dag wat oerwoud en berge, vlakte, veld en stroom verguld het, het die gedagtes na die Vader van lig, die Outeur van elke goeie volmaakte gawe opgehef. Daaglikse openbarings van die karakter en majesteit van sy Skepper het die jong digter se hart met aanbidding en vreugde gevul. Deur bepeinsing van God en Sy werke is Dawid se verstand en hart ontwikkel en versterk vir die werk van sy latere lewe. Hy het daagliks meer intieme gemeenskap met God gehad. Sy gedagtes het voortdurend nuwe dieptes nagespeur vir vars temas om sy liedere te inspireer en musiek vir sy harp op te wek. Die ryk melodie van sy stem het die lug gevul en vanaf die heuwels weerklink, asof in reaksie op die vreugde van die engele se liedere in die hemel. PeP 625.1
Wie kan die invloed van daardie jare van arbeid en omswerwing tussen die eensame heuwels meet? Die gemeenskap met die natuur en met God, die versorging van sy kuddes, die gevare en bevrydings, die verdriet en vreugdes van sy nederige lot, was nie net om Dawid se karakter te vorm en sy toekomstige lewe te beïnvloed nie, maar deur die psalms van Israel se lieflike sanger, sou hulle in die toekomstige eeue liefde en geloof in die harte van God se mense kweek en hulle nader bring aan die immer liefdevolle hart van Hom waarin al sy skepsels leef. PeP 625.2
In die skoonheid en ywer van sy jong manlikheid, het Dawid hom voorberei om ‘n hoë posisie in te neem met die edelstes van die aarde. Sy talente, as kosbare geskenke van God, is gebruik om die eer van die Goddelike Gewer te verheerlik. Sy geleenthede vir oordenking en bepeinsing, het hom verryk met daardie wysheid en vroomheid wat hom geliefd by God en die engele gemaak het. Namate hy oor die volmaakthede van sy Skepper nagedink het, het duideliker opvattings van God voor sy siel geopen. Onduidelike temas is verlig, probleme is duidelik gemaak, kompleksiteite is geharmonieer en elke straal van nuwe lig het nuwe uitbarstings van vervoering en soeter lofliedere van aanbidding tot die eer van God en die Verlosser voortgebring. Die liefde wat hom ontroer het, die hartseer wat hom oorval het, die oorwinnings wat hy behaal het, was alles temas vir sy aktiewe denke; en terwyl hy die liefde van God in al PeP 625.3
sy lewenservaringe aanskou het en sy hart met vurige aanbidding en dankbaarheid geklop het, het hy sy stem in ‘n ryker melodie opgehef en sy harp met meer juigende vreugde bespeel; en die herder het van krag tot krag, van kennis tot kennis voortgegaan, want die Gees van die Here was vaardig oor hom. PeP 626.1