Patriarge en Profete

63/75

Hoofstuk 61—Saul Verwerp

(Hierdie hoofstuk berus op 1 Samuel 15) PeP 610.1

SAUL het nie die toets van geloof in moeilike omstandighede by Gilgal deurstaan nie en het oneer aan die diens van God gebring; maar sy foute was nog nie onherstelbaar nie en die Here sou hom nog ‘n geleentheid bied om die les van onwankelbare geloof in Sy woord en gehoorsaamheid aan Sy opdragte te leer. PeP 610.2

Toe hy deur die profeet in Gilgal bestraf is, kon Saul geen fout sien in die weg wat hy gevolg het nie. Hy het gevoel dat hy onregverdig behandel is en het probeer om sy optrede te regverdig en verskonings vir sy oortreding te bied. Van toe af het hy min omgang met die profeet gehad. Samuel het Saul soos sy eie seun liefgehad, terwyl Saul, met sy vrypostige en vurige humeur hoë agting vir die profeet gehad het, maar hy was gekrenk deur die ‘n belediging en het hom daarna sover moontlik vermy. PeP 610.3

Maar die Here het Sy dienskneg met nog ‘n boodskap na Saul gestuur. Deur gehoorsaamheid kon hy nog steeds sy getrouheid aan God bewys en sy waardigheid om Israel te lei. Samuel het na die koning gekom en die woord van die Here aan hom gebring. Sodat die koning die belangrikheid van gehoorsaamheid aan die opdrag moes besef, het Samuel verklaar dat hy onder die leiding van God gepraat het, dieselfde Gesag wat Saul op die troon geplaas het. Die profeet het gesê: “So sê die Here van die leërskare: Ek het terdeë gelet op wat Amalek Israel aangedoen het, dat hy hom in die weg gestaan het by sy optog uit Egipte. Gaan nou en verslaan Amalek en julle moet met die banvloek tref alles wat hy het; en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en esel.” Die Amalekiete was die eerste om Israel in die woestyn aan te val en omrede daardie sonde, tesame met hulle verset teen God en hulle aftakelende afgodery, het die Here deur middel van Moses ‘n vonnis oor hulle uitgespreek. Deur Die leiding van God is die geskiedenis van hul wreedheid teenoor Israel opgeteken met die opdrag: “Dan moet jy die gedagtenis van Amalek onder die PeP 610.4

hemel uitdelg; vergeet dit nie.” (Deuteronomium 25:19). Die voltrekking van hierdie vonnis was nou reeds vir vierhonderd jaar uitgestel, maar die Amalekiete het nie van hulle sondes weggedraai nie. Die Here het geweet dat hierdie goddelose volk, indien dit moontlik was, Sy volk en Sy aanbidding van die aarde sou uitwis. Nou het die tyd aangebreek dat die vonnis wat so lank uitgestel is, voltrek moes word. PeP 611.1

Die verdraagsaamheid wat God teenoor die goddeloses getoon het, het mense in hulle oortreding meer sondig gemaak; maar hulle straf sal nietemin gewis en vreeslik wees omdat dit vir lank uitgestel is. “Die Here sal Hom gereed maak soos by die berg Perasim; Hy sal aanstorm soos in die dal by Gibeon om sy werk te doen-vreemd is sy werk! En om sy daad te verrig ongehoord is sy daad!” (Jesaja 28:21). Vir ons barmhartige God is dit ‘n vreemde daad om te straf. “So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe.” (Esegiël 33:11). Die Here is ‘n “...barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie.” (Exodus 34:6,7). Alhoewel Hy geen behae in wraak het nie, sal Hy die vonnis op die oortreders van Sy wet voltrek. Hy word daartoe gedwing om die bewoners van die aarde teen die uiterste verdorwenheid en ondergang te red. Om sommige te red, moet Hy diegene wat in die sonde verhard is, uitroei. “Die Here is lankmoedig, maar groot van krag; en nooit laat die Here ongestraf bly nie.” (Nahum 1:3). Deur verskriklike dinge sal Hy die gesag van Sy vertrapte wet in geregtigheid handhaaf. En die feit van Sy onwilligheid om geregtigheid uit te voer, getuig van die erns van die sonde wat Sy oordele ontlok en die erns van die vergelding wat op die oortreder wag. PeP 611.2

Maar terwyl Hy die oordeel voltrek het, het God ook genade in gedagte gehou. Die Amalekiete moes vernietig word, maar die Keniete wat onder hulle gewoon het, is gespaar. Alhoewel hierdie volk nie volkome vry van afgodery was nie, was hulle aanbidders van God en het op ‘n vriendskaplike voet met Israel verkeer. Van hierdie stam was die swaer van Moses, Hobab, wat die Israeliete in hulle omswerwinge deur die woestyn vergesel en deur sy kennis van die land waardevolle hulp aan hulle verleen het. PeP 611.3

Sedert die nederlaag van die Filistyne by Migmas, het Saul teen Moab, Ammon en Edom oorlog gevoer en ook teen die Amalekiete en die Filistyne; en oral waar hy die wapen opgeneem het, het hy vars oorwinnings behaal. Nadat hy die opdrag teen die Amalekiete omvang het, het hy oorlog verklaar. Sy gesag is deur dié van die profeet gerugsteun en toe hy die manne van Israel tot die stryd oproep, het hulle na sy vaandel gestroom. Die doel van die onderneming was nie selfverheffing nie; die Israeliete sou nie die eer van die oorwinning en ook nie die buit van hulle vyande ontvang nie. Hulle moes slegs uit gehoorsaamheid aan God oorlog voer met die doel om Sy oordeel oor die Amalekiete te voltrek. God se doel was dat alle nasies die lot van die volk wat Sy koningskap verontagsaam het moes aanskou en dat hulle moes bemerk dat hulle juis deur dié mense wat hulle verag het verdelg is. PeP 612.1

“Saul het die Amalekiete verslaan van Hawila af in die rigting van Sur wat oos van Egipte lê. En Agag, die koning van Amalek, het hy lewendig gevang, maar die hele volk deur die skerpte van die swaard met die banvloek getref. Maar Saul en die manskappe het Agag gespaar en die beste van die kleinvee en beeste en die naasbestes en die lammers en alles wat van waarde was-dit wou hulle nie met die banvloek tref nie; maar al die goed wat veragtelik en vervalle was, dit het hulle met die banvloek getref.” PeP 612.2

Hierdie oorwinning oor die Amalekiete was die briljantste oorwinning wat Saul nog ooit behaal het en dit het daartoe gelei dat die trots van sy hart in die grootste gevaar verkeer het. Die bevel van God dat die vyande van God geheel en al uitgewis moes word, is net gedeeltelik vervul. Saul was ambisieus om die eer van sy triomfantlike terugkeer deur die teenwoordigheid van ‘n koninklike gevangene te verhoog, om die gebruike van die nasies rondom hom na te boots en het Agag, die gewelddadige en oorlogsugtige koning van die Amalekiete gespaar. Die volk het vir hulle die beste van die kleinvee, beeste en lasdiere uitgehou en hulle het hul sonde verskoon op grond daarvan dat die beeste gereserveer moet word om as offers aan die Here te dien. Dit was egter slegs hulle doel om dit as plaasvervangers vir hul eie vee te gebruik. PeP 612.3

Maar Saul was nou aan die finale toets onderwerp. Sy vermetele verontagsaming van die wil van God, wat sy vasberadenheid om as ‘n onafhanklike monarg te regeer getoon het, het daarvan getuig dat hy nie met die koninklike mag, as verteenwoordiger van die Here, vertrou kon word nie. Terwyl Saul en sy leër in die glorie van die oorwinning huis toe marsjeer het, was daar groot ontsteltenis in die huis van die profeet Samuel. Hy het ‘n boodskap van die Here ontvang waarin Hy die koning se optrede afgekeur het: “Ek het berou gekry dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My afvallig geword en my woorde nie uitgevoer nie.” Die profeet was diep bedroef oor die optrede van die opstandige koning en hy het hele nag geween en gebid om die verskriklike vonnis af te weer. PeP 613.1

Die berou van God is nie soos die bekering van ‘n mens nie. “En ook lieg die Roem van Israel nie en Hy ken geen berou nie; want Hy is geen mens, dat Hy berou sou hê nie.” Die bekering van die mens impliseer ‘n gedaanteverwisseling. God se berou impliseer ‘n verandering van omstandighede en verhoudings. Die mens kan sy verhouding met God verander deur te voldoen aan die voorwaardes waarop hy in die Goddelike guns gebring kan word, of hy kan homself buite hierdie gunstige voorwaardes plaas; maar die Here is “...gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8). Saul se ongehoorsaamheid het sy verhouding met God verander, maar die voorwaardes vir aanvaarding by God was onveranderd-God se vereistes was nog steeds dieselfde, want by Hom is daar “...geen verandering of skaduwee van omkering nie” (Jakobus 1:17). PeP 613.2

Met ‘n hart vol pyn het die profeet die volgende oggend vertrek om die dwalende koning te ontmoet. Samuel het die hoop gekoester dat Saul, na oordenking, van sy sonde bewus sou word en deur berou en vernedering, weer in die Goddelike guns herstel sou word. Maar wanneer die eerste stap in die weg van oortreding geneem word, raak dit makliker. Saul wat reeds deur sy ongehoorsaamheid afgetakel is, het Samuel met ‘n leuen op sy lippe tegemoet gegaan. Hy het uitgeroep: “Mag u geseënd wees deur die Here: ek het die woord van die Here uitgevoer.” PeP 613.3

Die geluide wat op die profeet se ore geval het, het die verklaring van die ongehoorsame koning weerlê. Op die reguit vraag: “Maar wat vir ‘n geblêr van kleinvee is dit in my ore en ‘n PeP 613.4

gebulk van beeste wat ek hoor?” het Saul geantwoord: “Van die Amalekiete het hulle dit gebring, want die manskappe het die beste kleinvee en beeste gespaar om aan die Here u God te offer; maar die ander het ons met die banvloek getref.” Die mense het Saul se opdragte gehoorsaam, maar om homself te beskerm, was hy bereid om die sonde van sy ongehoorsaamheid op hulle te laai. PeP 614.1

Die boodskap van Saul se verwerping, het vir Samuel onuitspreeklike hartseer meegebring. Dit moes ten aanhore van die hele leër van Israel afgelewer word, terwyl hulle nog met trots gevul en triomfantlik was oor die oorwinning wat aan die dapperheid en leierskap van hulle koning toegeskryf is, want Saul het God nie met die sukses van Israel in hierdie konflik geassosieer nie; maar toe die profeet die getuienis van Saul se opstand sien, was hy verontwaardig dat hy, wie so grootliks deur God bevoordeel was, die gebod van die hemel oortree het en Israel in sonde gelei het. Samuel is nie deur die koning se voorwendsel mislei nie. Met gemengde hartseer en verontwaardiging het hy verklaar: “Hou op, dat ek jou kan meedeel wat die Here vannag met my gespreek het. Is jy, hoewel jy klein was in jou eie oë, nie tog die hoof van die stamme van Israel nie? En die Here het jou as koning oor Israel gesalf.” Hy het die opdrag van die Here aangaande Amalek herhaal en rede vir die ongehoorsaamheid van die koning geëis. PeP 614.2

Saul het volgehou met sy selfregverdiging: “Ek het na die stem van die Here geluister en gegaan op die pad waar die Here my op gestuur het en Agag, die koning van Amalek, gebring; maar die Amalekiete het ek met die banvloek getref. Maar die manskappe het van die buit kleinvee en beeste geneem, die beste van die bangoed, om aan die Here u God in Gilgal te offer.” PeP 614.3

Met streng, plegtige woorde het die profeet die toevlug na leuens verontagsaam en die onherroeplike vonnis uitgespreek: “Het die Here behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die Here? Kyk, om gehoorsaam te wees, is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme. Want wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat PeP 614.4

jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.” PeP 615.1

Toe die koning hierdie vreesaanjaende vonnis aanhoor, het hy uitgeroep: “Ek het gesondig, omdat ek die bevel van die Here en u woorde oortree het, want ek was bevrees vir die manskappe en het na hulle geluister.” Verskrik oor die veroordeling van die profeet, het Saul sy skuld, wat hy voorheen hardnekkig ontken het erken, maar hy het steeds volgehou om die volk die skuld te gee en te verklaar dat hy gesondig het uit vrees vir hulle. PeP 615.2

Dit was nie droefheid oor die sonde nie, maar die vrees vir die straf daarvan wat die koning van Israel aangespoor het, toe hy Samuel gesmeek het: “Vergeef dan nou tog my sonde en kom met my saam terug, dat ek die Here kan aanbid.” As Saul ware berou gehad het, sou hy sy sonde in die openbaar bely het; maar sy grootste beweegrede was om sy gesag te handhaaf en die getrouheid van die mense te behou. Hy het die eer van Samuel se teenwoordigheid begeer om sy eie invloed oor die volk te verstewig. PeP 615.3

Die profeet het geantwoord: “Ek sal nie met jou saam teruggaan nie, omdat jy die woord van die Here verwerp het en nou het die Here jou verwerp om koning oor Israel te wees.” Toe Samuel omdraai om weg te gaan, het die koning in angstige vrees sy mantel vasgegryp om hom terug te hou, maar dit het in sy hande geskeur. Hierop sê Samuel aan hom: “Vandag het die Here die koningskap oor Israel van jou afgeskeur en dit aan jou naaste gegee wat beter is as jy.” PeP 615.4

Saul was meer gesteur deur die vervreemding van Samuel as deur die misnoeë van God. Hy het geweet dat die volk groter vertroue in die profeet gehad het as in homself. Indien ‘n ander, deur die bevel van God, as koning gesalf word, het Saul besef dit sou onmoontlik wees om sy eie gesag te handhaaf. Hy het gevrees vir ‘n onmiddellike opstand indien Samuel hom heeltemal sou verlaat. Saul het die profeet gesmeek om hom voor die oudstes en die mense te vereer, deur in die openbaar met hom te verenig in ‘n godsdienstige diens. Deur die leiding van God het Samuel aan die koning se versoek toegegee, sodat PeP 615.5

daar geen geleentheid vir ‘n opstand gegee kon word nie. Maar hy het slegs as stille getuie van die diens gebly. PeP 616.1

“n Daad van geregtigheid, streng en vreeslik, moes nog verrig word. Samuel moes die eer van God in die openbaar bevestig en die verloop van Saul se optrede bestraf. Hy het beveel dat die koning van die Amalekiete voor hom gebring moes word. Bo almal wat deur die swaard van Israel geval het, was Agag die skuldigste en mees genadeloos; een wat die volk van God gehaat en probeer het om hulle te vernietig en wie se invloed die sterkste was om afgodediens te bevorder. Hy het in opdrag van die profeet gekom en homself gevlei dat die gevaar van die dood verby was. Samuel het verklaar: “Soos jou swaard vroue kinderloos gemaak het, so sal jou moeder onder die vroue kinderloos wees. Daarop het Samuel Agag in stukke gekap voor die aangesig van die Here in Gilgal.” Nadat dit gedoen is, het Samuel na sy huis in Rama teruggekeer en Saul na sy huis in Gibea. Daarna het die profeet en die koning mekaar slegs een keer weer ontmoet. PeP 616.2

Toe hy tot die troon geroep is, het Saul ‘n nederige besef van sy eie vermoëns gehad en was bereid om hom te laat leer. Hy het ‘n gebrek aan kennis en ervaring gehad en het ernstige karakter gebreke gehad. Maar die Here het die Heilige Gees as Leidsman en Helper aan hom gegee en hom in die posisie geplaas om die eienskappe te ontwikkel wat nodig is om oor Israel te regeer. As hy nederig gebly het en voortdurend daarna gestreef het om deur Goddelike wysheid gelei te word, sou hy die sukses van sy hoë posisie met sukses en eer kon bereik. Onder die invloed van die genade van God sou elke goeie kwaliteit in krag toegeneem het, terwyl bose neigings hul krag sou verloor het. Dit is die werk wat die Here vir almal wat hulself aan Hom wy beoog. Daar is baie mense wat Hy vir Sy werk opgeroep het, omdat hulle ‘n nederige en leerbare gees het. In Sy voorsienigheid plaas Hy hulle waar hulle van Hom kan leer. Hy sal die tekortkominge in hul karakter aan hulle openbaar en aan almal wat Sy hulp verlang, sal Hy krag gee om hul foute reg te stel. PeP 616.3

Maar Saul het op sy verhoogde posisie staatgemaak en God oneer aangedoen deur ongeloof en ongehoorsaamheid. Hoewel hy, toe hy die eerste keer op die troon geplaas is, nederig was en min selfvertroue gehad het, het sukses hom selfvoldaan PeP 616.4

gemaak. Die heel eerste oorwinning van sy bewind het die hoogmoed, wat sy grootste gevaar was, laat ontvlam. Die dapperheid en militêre vaardigheid wat in die verlossing van Jabes-Gilead aan die dag gelê is, het die geesdrif van die hele volk gewek. Die volk het hulle koning vereer en vergeet dat hy net ‘n agent was deur wie die Here gewerk het; en hoewel Saul die eer aan die begin aan God gegee het, het hy dit later vir homself toegeëien. Hy het sy afhanklikheid van God uit die oog verloor en in sy hart het hy van die Here afgedwaal. So is die weg berei vir sy vermetelheid en heilig skending by Gilgal. Dieselfde blinde selfvertroue het daartoe gelei dat hy die teregwysing van Samuel verwerp het. Saul het erken dat Samuel ‘n profeet was wat deur God gestuur is; daarom moes hy die teregwysing aanvaar het, al kon hy nie self insien dat hy gesondig het nie. As hy bereid was om sy dwaling in te sien en te bely, sou hierdie bittere ervaring ‘n voorsorgmaatreël vir die toekoms gewees het. PeP 617.1

As die Here Hom toe reeds heeltemal van Saul geskei het, sou Hy nie weer deur Sy profeet met hom gespreek en ‘n bepaalde werk aan hom opgedra het sodat hy sy foute van die verlede kon uitwis nie. Wanneer iemand, wat bely dat hy ‘n kind van God is, nalatig word met die uitvoer van Sy wil en ander daardeur beïnvloed om oneerbiedig en onverskillig te wees aangaande die bevele van die Here, is dit steeds moontlik om sy mislukkings in oorwinnings te omskep, indien hy met ware ootmoed die bestraffings aanvaar en met ware nederigheid en geloof na God terugkeer. Die vernedering van ‘n nederlaag, is dikwels ‘n seën deur ons te wys op ons onvermoë om die wil van God sonder Sy hulp uit te voer. PeP 617.2

Toe Saul wegdraai van die teregwysing wat deur God se Heilige Gees aan hom gestuur is en volhard het in sy hardkoppige selfregverdiging, het hy die enigste wyse waarop God kon werk om hom van homself te red, verwerp. Hy het hom opsetlik van God geskei. Hy kon geen Goddelike hulp of leiding ontvang voordat hy deur die belydenis van sy sonde na God teruggekeer het nie. PeP 617.3

By Gilgal het Saul ‘n groot vertoon van pligsgetrouheid aan die dag gelê toe hy in die teenwoordigheid van die leër van Israel gestaan het en ‘n offer aan God gebring het. Maar sy vroomheid PeP 617.4

was nie eg nie. ‘n Godsdienstige diens wat regstreeks teen die bevel van God uitgevoer is, het slegs gedien om Saul se hande te verswak en hom buite die bereik van die hulp van God, wat so gewillig was om dit aan hom te verleen, geplaas. PeP 618.1

In sy ekspedisie teen Amalek, het Saul gedink dat hy alles gedoen het wat nodig was om God se bevel uit te voer; maar die Here was nie tevrede met gedeeltelike gehoorsaamheid nie en ook nie bereid om wat deur sulke aanneemlike motiewe verwaarloos is, oor die hoof te sien nie. God het die mens geen verlof gegee om van Sy vereistes af te wyk nie. Die Here het aan Israel gesê: “Julle moet nie doen elkeen net maar wat reg is in sy eie oë nie;” “...maar julle moet doen wat goed en reg is in die oë van die Here jou God” (Deuteronomium 12:8,28). Wanneer ons enige besluit oor wat ons te doen staan moet neem, moet ons onsself nie afvra of enige kwaad daaruit kan voortspruit nie, maar of dit met die wil van God ooreenstem. “Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.” (Spreuke 14:12). PeP 618.2

“Om gehoorsaam te wees, is beter as slagoffer.” Die offerandes was op sigself van geen waarde vir God nie. Dit was bedoel om die aanbieder se berou oor sy sonde en geloof in Christus te toon en om toekomstige gehoorsaamheid aan die wet van God te beloof. Maar sonder boetedoening, geloof en ‘n gehoorsame hart was die offers waardeloos. Toe Saul, in direkte oortreding van die opdrag van God, voorgestel het dat dit wat God aan vernietiging oorgegee het aan Hom geoffer moes word, is daar openlike minagting vir die Gesag van God getoon. Die diens sou ‘n belediging vir die hemel gewees het. Maar selfs met die sonde van Saul en die resultaat daarvan voor ons, is daar baie wat ‘n soortgelyke koers volg. Terwyl hulle weier om die een of ander vereiste van die Here te glo en te gehoorsaam, volhard hulle daarin om formele godsdienstige dienste aan God te bied. Die Gees van God reageer nie op so ‘n diens nie. Ongeag hoe ywerig mense die godsdienstige seremonies nakom, die Here kan hulle nie aanvaar terwyl hulle volgehou het om een van Sy gebooie te oortree nie. PeP 618.3

“Wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens.” Opstand het by Satan ontstaan en alle rebellie teen God is regstreeks aan PeP 618.4

sataniese invloed te danke. Diegene wat hulself teen die regering van God opgestel het, het ‘n alliansie met die aartsvyand gesluit en hy sal sy mag en listigheid gebruik om die sintuie te betower en die begrip te mislei. Hy sal alles in ‘n valse lig laat skyn. Soos ons eerste voorouers, sien diegene wat onder sy betowerende spel verkeer, net die groot voordele wat oortreding hulle kan bied. PeP 619.1

Daar kan geen sterker getuienis van Satan se misleidende krag gelewer word, as dat baie wat deur hom mislei word, hulself bedrieg met die geloof dat hulle in diens van God staan nie. Toe Korag, Datan en Abiram teen die gesag van Moses in opstand gekom het, het hulle gedink dat hulle slegs ‘n menslike leier, ‘n man soos hulself, teenstaan; en hulle het geglo dat hulle waarlik ‘n guns aan God bewys het. Maar toe hulle die gekose instrument van God verwerp het, het hulle Christus verwerp; hulle het die Gees van God beledig. Net so het die Joodse skrifgeleerdes en ouderlinge in die dae van Christus, wat groot ywer vir die eer van God bely het, sy Seun gekruisig. Dieselfde gees heers nog steeds in die harte van diegene wat ingestel is om hul eie wil in teenstelling met die wil van God te volg. PeP 619.2

Saul het meer as genoeg bewyse gehad dat Samuel Goddelik geïnspireer was. Sy waagmoed om die opdrag van God deur die profeet te verontagsaam, was teen die voorskrifte van rede en gesonde oordeel. Sy noodlottige aanname moet aan sataniese betowering toegeskryf word. Saul het hom sterk beywer in die onderdrukking van afgodery en towery; tog is hy, in ongehoorsaamheid aan die opdrag van God, deur dieselfde gees van opposisie teen God aangevuur en is hy net so deur die Satan geïnspireer soos hulle wat towery beoefen; en toe hy bestraf is, het hy hardkoppigheid by opstand gevoeg. Hy kon die Gees van God geen groter belediging aangedoen het as wat hy sou as hy openlik by die afgodedienaars aangesluit het nie. PeP 619.3

Dit is ‘n gevaarlike stap om die teregwysings en waarskuwings van God se woord of van Sy Gees te minag. Baie, soos Saul, gee aan versoeking toe, totdat hulle verblind is vir die ware karakter van die sonde. Hulle vlei hulself dat hulle ‘n goeie doel voor oë het en niks verkeerd gedoen het deur van die Here se vereistes af te wyk nie. Hulle tree op hierdie wyse op, ondanks die Gees van genade, totdat die stem daarvan nie PeP 619.4

meer gehoor word nie en hulle oorgelaat word aan die dwalinge wat hulle gekies het. PeP 620.1

In Saul het God aan Israel ‘n koning na hulle hart gegee, soos Samuel gesê het toe die koningskap in Gilgal aan Saul bevestig is: “Hier is dan nou die koning wat julle uitgekies het, wat julle begeer het.” (1 Samuel 12:13). Hy was aanvallig van persoon, van edele statuur en vorstelik van gestalte met sy voorkoms van koninklike waardigheid; en sy persoonlike dapperheid en sy bekwaamheid om die leër aan te voer, was eienskappe wat hulle as die beste beskou het om respek en eer van ander nasies af te dwing. Hulle het minder omgegee vir die enigste hoër eienskappe waaroor hulle koning moes beskik wat hom geskik sou maak om te heers met geregtigheid en billikheid. Hulle het nie iemand begeer wat waarlik edel van karakter was, of wat die liefde en vrees vir God besit het nie. Hulle het God nie geraadpleeg oor die eienskappe wat ‘n heerser moes besit om die eiesoortige, heilige karakter van Sy uitverkore volk te bewaar nie. Hulle het nie God se weg gesoek nie, maar hulle eie weë. Daarom het God aan hulle die koning gegee wat hulle begeer het, een wie se karakter ‘n weerspieëling van hul eie was. Hulle harte was nie aan God onderdanig nie en hulle koning was ook nie, deur die genade van God, onderdanig nie. Onder die heerskappy van hierdie koning, sou hulle die nodige ondervinding opdoen om hul fout in te sien en terug te keer na hulle trou aan God. PeP 620.2

Tog het die Here die verantwoordelikheid van die koninkryk op Saul geplaas, maar hom nie aan homself oorgelaat nie. Hy het die Heilige Gees oor Saul uitgestort om aan hom sy eie swakheid en behoefte aan Die genade van God te openbaar; en indien Saul op God vertrou het, sou God met hom gewees het. Solank hy onderworpe aan die wil van God was, solank hy toegegee het aan die tug van Sy Gees, kon God sy pogings met sukses bekroon. Maar toe Saul verkies het om onafhanklik van God op te tree, kon die Here nie meer sy Leidsman wees nie en moes Hy hom ter syde te stel. Toe roep Hy na die troon “...'n man na sy hart.” (1 Samuel 13:14)-nie iemand wat foutloos van karakter was nie, maar wat, in plaas van op homself te vertrou, op God sou vertrou en deur Sy Gees gelei sou word; PeP 620.3

wat, toe hy gesondig het, hom aan teregwysing en regstelling onderwerp het. PeP 621.1