Patriarge en Profete
Hoofstuk 60—Die Vermetelheid van Saul
(Hierdie hoofstuk berus op 1 Samuel 13;14) PeP 601.1
Na die vergadering in Gilgal, het Saul die leër wat opgeroep was om die Ammoniete omver te werp ontbind en slegs twee duisend manne teruggehou en onder sy bevel by Migmas gestasioneer en een duisend om sy seun Jonathan in Gibea by te staan. Dit was ‘n ernstige fout. Sy leër is met hoop en moed gevul deur die onlangse oorwinning en indien hy dit dadelik opgevolg het en teen die ander vyande van Israel opgetree het, sou dit ‘n opspraakwekkende slag vir die vryheid van die volk tot gevolg gehad het. PeP 601.2
Intussen was hul oorlogsugtige bure, die Filistyne, aktief. Na die nederlaag by Ebenezer het hulle nog steeds ‘n paar heuwel vestings in die land van Israel behou en nou het hulle hulself in die hart van die land gevestig. Wat fasiliteite, wapens en toerusting betref, het die Filistyne ‘n groot voorsprong op Israel gehad. Gedurende die lang tydperk van Israel se onderdrukking, het hulle gepoog om hul mag te versterk deur die Israeliete te verbied om smede te beoefen, sodat hulle nie oorlogswapens kon vervaardig nie. Na die sluiting van die vrede, het die Hebreërs hulle nog steeds tot die Filistynse garnisoene gewend vir werk wat nodig was. Onder beheer van gemaksugtigheid en ‘n kruiperige gees wat deur lang onderdrukking veroorsaak is, het die manne van Israel in ‘n groot mate versuim om hulleself van oorlogswapens te voorsien. Boë en slingers is in oorlogvoering gebruik en die Israeliete kon dit bekom; maar geeneen van hulle, behalwe Saul en Jonatan het ‘n spies of ‘n swaard besit nie. PeP 601.3
Dit was eers in die tweede jaar van Saul se regering dat ‘n poging aangewend is om die Filistyne te onderwerp. Die eerste slag is deur Jonathan, die seun van die koning geslaan, wat hul garnisoen by Geba aangeval en oorwin het. Die Filistyne, woedend oor hierdie nederlaag het hulle gereed gemaak vir ‘n spoedige teenaanval op Israel. Saul het deur die basuin oorlog in die hele land aangekondig en hy het al die krygsmanne, ook die stamme oorkant die Jordaan, opgeroep om by Gilgal te vergader. Hierdie oproep is gehoorsaam. PeP 601.4
Die Filistyne het in ‘n geweldige mag by Migmas saamgetrek-“drieduisend strydwaens en sesduisend perderuiters en voetgangers soos die sand wat op die seestrand is in menigte.” Toe die tydig Saul en sy leër by Gilgal bereik, was die mense verskrik oor die geweldige strydmag wat hulle sou moes aandurf. Hulle was nie voorbereid om die vyand te ontmoet nie en baie van hulle was so bang dat hulle nie die moed gehad het om die toets van die stryd te deurstaan nie. Sommige het die Jordaan oorgesteek, terwyl ander het hulself in grotte en kuile tussen die rotse, wat in daardie streek oorvloedig was, versteek. Namate die tyd vir die stryd nader gekom het, was daar ‘n toename in die wat gedros het en diegene wat hulle nie uit die geledere onttrek het nie, was met voorbode en vrees gevul. PeP 602.1
Toe Saul die eerste keer as koning van Israel gesalf is, het hy van Samuel eksplisiete opdragte ontvang oor die koers wat op hierdie stadium gevolg moes word. “Jy moet voor my uit na Gilgal afgaan...” het die profeet gesê, “...ek sal na jou afkom om brandoffers te offer, om dankoffers te slag; sewe dae lank moet jy wag, totdat ek by jou kom en jou bekend maak wat jy moet doen.” (1 Samuel 10:8). PeP 602.2
Saul het dag na dag gewag, maar sonder om enige vaste pogings aan te wend om die volk te bemoedig en vertroue in God by hulle in te boesem. Voordat die tyd wat deur die profeet bepaal is ten volle verstryk het, het hy ongeduldig geword oor die vertraging en homself toegelaat om mismoedig te word deur die moeilike omstandighede wat hom omring het. In plaas daarvan om die volk ten volle te probeer voorberei vir die diens wat Samuel sou waarneem, het hy toegegee aan ongeloof en voorbodes. Die werk om offers aan God te bring was ‘n baie plegtige en belangrike werk; en God het vereis dat Sy volk hulle harte moes deurgrond en hulle van hul sondes moes bekeer, sodat die offer vir Hom aanneemlik kon wees en dat Sy seën in hulle pogings om die vyand te verower, met hulle sou wees. Maar Saul het rusteloos geword; en die volk het, in stede van op die hulp van God te vertrou, na die koning opgesien om hulle te lei en te rig. PeP 602.3
Nogtans het die Here steeds vir hulle gesorg en hulle nie aan die rampe wat oor hulle sou kom indien die verswakte arm van vlees hul enigste steun sou word, oorgegee nie. Hy het hulle in benoude omstandighede laat beland, sodat hulle van hul PeP 602.4
dwaasheid om op ‘n mens te vertrou, oortuig kon word en hulle na Hom sou wend as hul enigste hulp. Die tyd vir Saul om homself te bewys het aangebreek. Hy moes nou bewys of hy op God sou vertrou en geduldig op Sy bevele wag en so bewys dat hy iemand was wat God onder moeilike omstandighede as heerser oor Sy volk kon vertrou en of hy wankelmoedig en onwaardig vir die heilige verantwoordelikheid wat op hom gerus het sou wees. Sou die koning wat Israel gekies het, na die Heerser van die konings luister? Sou hy die aandag van sy wankelmoedige krygsmanne op die Een in wie ewige krag en bevryding is, vestig? PeP 603.1
Met toenemende ongeduld het hy die koms van Samuel afgewag en die verwarring en benoudheid en gedros van sy leër, aan die afwesigheid van die profeet toegeskryf. Die vasgestelde tyd het aangebreek, maar die man van God het nie dadelik opgedaag nie. God se voorsienigheid het Sy dienskneg vertraag. Maar die rustelose, impulsiewe gees van Saul kon nie langer beheer word nie. Hy het gevoel dat iets gedoen moes word om die vrees van die volk tot bedaring te bring en het besluit om ‘n godsdienstige byeenkoms te belê en deur ‘n offerande, om Goddelike hulp te pleit. God het opdrag gegee dat slegs diegene wat tot die amp georden was, offers voor Hom moes bring. Maar Saul het beveel: “Bring na my die brandoffer...” en toegerus met sy pantser en wapens, het hy die altaar genader en ‘n offer aan God gebring. PeP 603.2
“En toe hy net gereed was om die brandoffer te bring, kom Samuel meteens daar aan; en Saul het uitgegaan hom tegemoet om hom te groet.” Samuel het dadelik besef dat Saul teenstrydig met die opdragte wat aan hom gegee was, opgetree het. Die Here het deur Sy profeet gesê dat hy op hierdie tyd sou openbaar wat Israel in die krisis te doen staan. As Saul die voorwaardes nagekom het waarvolgens Goddelike hulp beloof is, sou die Here, deur middel van die paar wat aan die koning getrou gebly het, ‘n wonderbaarlike bevryding vir Israel teweeggebring het. Maar Saul was so selfvoldaan met wat hy gedoen het, dat hy die profeet tegemoetgegaan het soos iemand wat lof in plaas van bestraffing verdien het. PeP 603.3
Samuel se aangesig was vol angs en kommer, maar op sy vraag: “Wat het jy gedoen?” het Saul sy vermetele daad probeer verontskuldig. Hy het gesê: “Ek het gesien dat die manskappe PeP 603.4
verstrooid raak van my af; en toe u nie kom op die afgesproke tyd nie, terwyl die Filistyne in Migmas bymekaarkom, het ek gesê: Nou sal die Filistyne na my toe aftrek in Gilgal en ek het die aangesig van die Here nie om genade gesmeek nie; daarom het ek myself sterk gehou en die brandoffer gebring.” PeP 604.1
“Toe sê Samuel vir Saul: Jy het dwaas gehandel, jy het die gebod van die Here jou God wat Hy jou beveel het, nie gehou nie; want anders sou die Here jou koningskap oor Israel vir goed bevestig het. Maar nou sal jou koningskap nie bestaan nie. Die Here het vir Hom ‘n man na sy hart gesoek; en die Here het hom as vors oor sy volk aangestel...Toe het Samuel klaargemaak en opgegaan van Gilgal na Gibea in Benjamin.” PeP 604.2
Óf Israel moes of afsien om die volk van God te wees, óf die beginsel waarop die koningskap gegrond is, moes gehandhaaf word en die volk deur die gesag van God beheer word. Indien Israel geheel en al aan die Here behoort het, indien die menslike en aardse wil aan die wil van God onderwerp was, sou Hy voortgaan om die Heerser van Israel te wees. So lank as wat die koning en die volk hulself as ondergeskik aan God gedra het, sou Hy hulle verdediging wees. Maar in Israel kon geen monargie wat nie die hoogste gesag van Gord erken het, voorspoedig wees nie. PeP 604.3
As Saul in hierdie tyd van beproewing ag geslaan het op die vereistes van God, sou God Sy wil deur hom volbring het. Sy mislukking het hom nou onbevoeg bewys om die verteenwoordiger van God vir sy volk te wees. Hy sou Israel mislei. Sy wil, eerder as die wil van God, sou die beherende mag wees. As Saul getrou was, sou sy koninkryk vir ewig gevestig gewees het; maar aangesien hy misluk het, moes die doel van God deur iemand anders bereik word. Die regering van Israel moes aan iemand wat die volk volgens die wil van die hemel sou regeer, toegewy word. PeP 604.4
Ons weet nie watter groot belange op die spel is in die beproewinge van God nie. Daar is geen veiligheid behalwe in streng gehoorsaamheid aan die woord van God nie. Al Sy beloftes word gemaak op voorwaarde van geloof en gehoorsaamheid en ‘n versuim om Sy opdragte na te kom, ontneem ons van die van die ryke voorsiening van die Skrifte. Ons moet nie ons impulse volg, of op die oordeel van mense PeP 604.5
vertrou nie; ons moet na die geopenbaarde wil van God opkyk en volgens Sy besliste gebod optree, ongeag die omstandighede wat ons omring. God sal vir die gevolge sorg; deur getrouheid aan sy woord, kan ons in tye van beproewing, voor mense en engele getuig dat die Here in moeilike omstandighede op ons kan vertrou om Sy wil uit te voer, Sy naam te eer en Sy volk te seën. PeP 605.1
Saul was in onguns by God, maar steeds onwillig om sy hart in berou te verootmoedig. Wat hy in ware vroomheid ontbreek het, wou hy in sy ywer met vormgodsdiens vergoed. Saul was nie onkundig aangaande Israel se nederlaag toe die ark van God deur Hofni en Pinehas in die kamp gebring is nie; en tog, terwyl hy dit geweet het, het hy besluit om die heilige kis en die priester wat dit vergesel het, te laat haal. Sou hy op hierdie wyse vertroue in sy volk kon inspireer, het hy gehoop om weer sy verstrooide leër bymekaar te bring en oorlog teen die Filistyne te voer. Hy sou voortaan sonder die teenwoordigheid en ondersteuning van Samuel klaarkom en homself bevry van die onwelkome kritiek en teregwysing van die profeet. PeP 605.2
Die Heilige Gees is aan Saul gegee om sy begrip te verlig en sy hart te versag. Hy het getroue opdragte en teregwysing van die profeet van God ontvang. En tog, hoe groot was sy perversiteit! Die geskiedenis van die eerste koning van Israel is ‘n droewige voorbeeld van die invloed van vroeëre verkeerde gewoontes. In sy jeug het Saul God nie liefgehad en gevrees nie; en daardie onstuimige gees, wat nie vroeg geleer is om hom te onderwerp nie, was altyd gereed om teen gesag van God te rebelleer. Diegene wat in hul jeug ‘n heilige ontsag vir die wil van God koester en wat getrou die pligte van hulle posisie nakom, sal gereed wees vir hoër diens in die lewe hierna. Maar mense kan nie jare lank die kragte wat God aan hulle geskenk het verdraai en dan, wanneer hulle besluit om te verander, hierdie kragte vars en vry vind vir ‘n heeltemal teenoorgestelde rigting nie. PeP 605.3
Saul se pogings om die mense op te wek, was nutteloos. Hy het bevind dat sy leër tot seshonderd man gekrimp het en het Gilgal verlaat en teruggetrek na die vesting by Geba wat onlangs van die Filistyne afgeneem was. Hierdie vesting was aan die suidekant van ‘n diep, ruwe vallei of kloof, ‘n paar kilometers noord van die terrein van Jerusalem. Aan die PeP 605.4
noordekant van dieselfde vallei by Migmas, het die Filistynse leër kamp opgeslaan, terwyl afdelings van die troepe in verskillende rigtings gegaan het om die land te plunder. PeP 606.1
God het toegelaat dat hierdie krisis ontstaan sodat hy die perversiteit van Saul kon bestraf en Sy volk ‘n les in nederigheid en geloof kon leer. As gevolg van die sonde van Saul deur sy vermetele offer, sou die Here nie aan hom die eer skenk om die Filistyne te verslaan nie. Jonatan, die koning se seun, ‘n man wat die Here vrees, is gekies as die instrument om Israel te verlos. Beweeg deur ‘n Goddelike impuls, het hy aan sy wapendraer voorgestel dat hulle ‘n geheime aanval op die kamp van die vyand moes loods. “Miskien...” het hy aangedring, “...sal die Here vir ons optree, want by die Here is daar geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie.” PeP 606.2
Die wapendraer, wat ook ‘n man van geloof en gebed was, het hom aangemoedig en hulle het saam in die geheim uit die kamp vertrek, sodat niemand hulle in hul doel sou teëstaan nie. Met ‘n ernstige gebed tot die Gids van hulle vaders, het hulle ooreengekom op ‘n teken waarvolgens hulle kon bepaal hoe om voort te gaan. Toe het hulle in die kloof, wat die twee leërs van mekaar geskei het, afgegaan en onder die skaduwee van die krans en gedeeltelik deur die heuwels en rante van die vallei verberg, hulle weg gebaan. Toe hulle die vesting van die Filistyne nader, het die vyand hulle opgemerk en tartend gesê: “Kyk, daar kom Hebreërs uit die gate uit waar hulle weggekruip het...” en toe daag hulle, hulle uit: “Klim op na ons toe, dan sal ons julle ‘n les leer!” met die bedoeling dat hulle die twee Israeliete vir hulle waaghalsigheid sou straf. Hierdie uitdaging was die teken waarop Jonathan en sy kameraad ooreengekom het dat dit ‘n bewys sou wees dat die Here hulle onderneming voorspoedig sou maak. Op ‘n plek waar die Filistyne hulle nie kon sien nie, het die twee krygsmanne met ‘n geheime, moeilike weg na die spits van ‘n krans wat as onmoontlik beskou was om te bereik geklim en nie baie goed bewaak was nie. So het hulle die vyand se kamp binnegedring en die wagte doodgeslaan, wat verras en met vrees gevul, geen weerstand gebied het nie. PeP 606.3
Engele van die hemel het Jonatan en sy wapendraer beskerm, engele het aan hulle sy geveg en hulle het die Filistyne verslaan. Die aarde het gebewe asof ‘n groot menigte met ruiters en strydwaens naderkom. Jonatan het die tekens van Goddelike PeP 606.4
hulp herken en selfs Israel het geweet dat God besig was om Israel te verlos. ‘n Groot vrees het oor beide die leër in die veld en die garnisoen gekom. In die verwarring het die Filistyne hulle eie soldate vir vyande aangesien en mekaar begin doodmaak. PeP 607.1
Kort voor lank is die lawaai van die geveg in die kamp van Israel gehoor. Volgens die wagte van die koning, was daar groot verwarring onder die Filistyne en dat hulle getalle aan die afneem is. Tog was dit nie bekend dat enige deel van die Hebreeuse leër die kamp verlaat het nie. By nadere ondersoek is daar gevind dat niemand, behalwe Jonathan en sy wapendraer afwesig was nie. Maar toe Saul opmerk dat die Filistyne teruggedryf word, het Saul sy leër aangevoer om by die aanval aan te sluit. Die Hebreërs wat na die vyand gedros het, het nou teen hulle gedraai; groot getalle het ook uit hul skuilplekke gekom en toe die Filistyne in verydeling vlug, het Saul se leër groot verwoesting onder die vlugtelinge gesaai. PeP 607.2
Vasbeslote om hierdie voordeel ten beste te benut, het die koning oorhaasting sy soldate verbied om die hele dag geen voedsel in te neem nie en het hierdie bevel afgedwing met die plegtige vervloeking: “Vervloek is die man wat iets eet tot vanaand, sodat ek my op my vyande kan wreek.” Die oorwinning is reeds sonder Saul se wete of samewerking behaal, maar hy het gehoop om homself te onderskei deur die volkome vernietiging van die oorwonne leër. Die bevel om geen voedsel in te neem nie, is deur selfsugtige ambisie aangevuur en dit het getoon dat die koning onverskillig teenoor die behoeftes van sy mense gestaan het wanneer dit in stryd met sy begeerte vir selfverheerliking was. Deur die verbod met ‘n plegtige eed te bevestig, het Saul getoon dat hy onbedagsaam en oneerbiedig was. Die woorde van vervloeking getuig dat Saul vir homself geywer het en nie vir die eer van God nie. Hy het sy doel verklaar deur te sê: “...sodat ek my op my vyande kan wreek...” nie “...sodat die Here Hom op Sy vyande kan wreek...” nie. PeP 607.3
Die verbod het daartoe gelei dat die volk die opdrag van God oortree het. Hulle het die hele dag geveg en was swak weens gebrek aan voedsel; en nadat die ure van die beperking verstreke was, het hulle hul aan die buit vergryp en die vleis met die bloed verslind en sodoende die wet wat die eet van bloed verbied het, oortree. PeP 607.4
Gedurende die dag se geveg, het Jonatan, wat nog nie van die bevel van die koning gehoor het nie, onwetend aanstoot gegee deur ‘n bietjie heuning te eet terwyl hy deur ‘n bos beweeg het. Saul het daardie aand daarvan te hore gekom. Hy het verklaar dat die oortreder van sy bevel met die dood gestraf moes word; en alhoewel Jonatan nie aan ‘n opsetlike oortreding skuldig was nie, hoewel God sy lewe wonderbaarlik gered en deur hom bevryding gebring het, het die koning verklaar dat die vonnis voltrek moes word. Om die lewe van sy seun te spaar, sou ‘n erkenning van Saul se kant af gewees het dat hy, deur so ‘n verbod af te dwing, gesondig het. Dit sou ‘n vernedering vir sy trots gewees het. Sy vreeslike vonnis was: “Mag God aan my so doen en so daaraan toedoen, jy moet sekerlik sterwe, Jonatan!” PeP 608.1
Saul kon nie die eer vir die oorwinning vir homself toeëien nie, maar hy het gehoop om vir sy ywer om die heiligheid van sy eed te beskerm, vereer te word. Selfs met die opoffering sy seun, sou hy sy onderdane beïndruk met die feit dat die koninklike gesag gehandhaaf moes word. Kort tevore het Saul by Gilgal homself aangematig om teen die bevel van God as priester op te tree. Toe Samuel hom bestraf het, het hy homself hardnekkig regverdig. Noudat sy eie bevel oortree was, ondanks die feit dat die bevel onredelik was en in onkunde oortree is, het die koning en vader sy seun ter dood veroordeel. PeP 608.2
Die volk het geweier om toe te laat dat die vonnis voltrek word. Hulle het die woede van die koning getrotseer en gesê: “Moet Jonatan sterwe wat hierdie groot verlossing in Israel bewerk het? Volstrek nie! So waar as die Here leef, geen haar van sy hoof sal op die aarde val nie! Want met God het hy dit vandag gedoen.” Die trotse koning het nie die eenparige uitspraak durf ignoreer nie en die lewe van Jonathan het behoue gebly. PeP 608.3
Saul kon nie anders as om te besef dat sy seun, deur beide die volk en die Here, bo hom verkies is. Jonathan se bevryding was ‘n ernstige bestraffing vir die koning se onbedagsaamheid. Hy het ‘n voorgevoel gehad dat sy vloeke op sy eie hoof sou terugkeer. Hy het nie die oorlog teen die Filistyne voortgesit nie, maar het humeurig en ontevrede na sy huis teruggekeer. PeP 608.4
Diegene wat die meeste bereid is om hulself in sonde te verskoon of te regverdig, is gewoonlik ook die strengste in hulle PeP 608.5
veroordeling van ander. Baie, soos Saul, bring die misnoeë van God oor hulself, maar hulle verwerp raad en teregwysing. Selfs wanneer hulle oortuig is dat die Here nie met hulle is nie, weier hulle om te erken dat hulle die oorsaak van die moeilikheid is. Hulle koester ‘n trotse, grootpraterige gees, terwyl hulle toegee aan wrede veroordeling of ernstige teregwysing teenoor ander wat beter as hulle is. Dit sal sulke selfaangestelde regters goed doen om na te dink oor Christus se woorde: “Met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word” (Mattheus 7:2). PeP 609.1
Dikwels word diegene wat selfverheffing nastreef, in posisies geplaas waar hulle ware karakter geopenbaar word. So was dit in die geval van Saul. Sy eie gedrag het die volk oortuig dat koninklike eer en gesag vir hom kosbaarder was as regverdigheid, genade of welwillendheid. So het die volk besef dat hulle gefouteer het toe hulle die regering van God verwerp het. Hulle het die godvresende profeet, wie se gebede vir hulle seëninge gebring het, verruil vir ‘n koning wat in sy blinde ywer ‘n vloek oor hulle gebid het. PeP 609.2
As die manne van Israel nie ingetree het om die lewe van Jonatan te red nie, sou hulle verlosser op bevel van die koning gesterf het. Met hoeveel wantroue moes daardie volk Saul se leiding daarna gevolg het! Hoe bitter die gedagte dat hy deur hulle eie daad op die troon geplaas is! Die Here is lankmoedig met die mens se eiesinnigheid en Hy gun aan almal die geleentheid om hulle sondes in te sien en te versaak; maar terwyl dit wil voorkom asof Hy diegene wat Sy wil verontagsaam en Sy waarskuwings voorspoedig maak, sal Hy hulle dwaasheid op Sy eie tyd sekerlik openbaar maak. PeP 609.3