Patriarge en Profete
Hoofstuk 59—Die Eerste Koning van Israel
(Hierdie hoofstuk berus op 1 Samuel 8 tot 12) PeP 587.1
Die regering van Israel is in die Naam en deur die gesag van God beheer. Die werk van Moses, die sewentig oudstes, die heersers en regters, was bloot om die wette wat God gegee het, af te dwing; hulle het geen gesag gehad om vir die volk wetgewing te gee nie. Dit was en het die voorwaarde gebly vir die voortbestaan van Israel as ‘n nasie. Van eeu tot eeu is manne wat deur God geïnspireer was, gestuur om die mense te onderrig en om die wette te handhaaf. PeP 587.2
Die Here het voorsien dat Israel ‘n koning sou begeer, maar Hy het nie toegestem tot ‘n verandering in die beginsels waarop die staat gegrond was nie. Die koning sou die verteenwoordiger van die Allerhoogste wees. God moes as Hoof van die nasie erken word en Sy wet moes as die hoogste wet van die land afgedwing word.* PeP 587.3
Toe die Israeliete hulle die eerste keer in Kanaan gevestig het, het hulle die beginsels van die teokrasie erken en die volk was voorspoedig onder Josua se leiding. Maar die aanwas van die bevolking en omgang met ander nasies het ‘n verandering meegebring. Die volk het baie van die gebruike van hulle heidense bure aangeneem en sodoende het hulle ‘n groot mate van hul eie besondere heilige karakter opgeoffer. Geleidelik het hulle hul eerbied vir God verloor en opgehou om die besondere eer, as Sy uitverkore volk, te waardeer. Aangetrokke tot die praal en vertoon van heidense monarge, het hulle moeg geword vir hul eie eenvoud. Jaloesie en afguns het tussen die stamme ontstaan. Interne verdeeldheid het hulle swak gemaak; hulle is voortdurend blootgestel aan die inval van hul heidense vyande en die volk het geglo dat die stamme onder ‘n sterk sentrale regering moet verenig om hulle stand onder die nasies te handhaaf. Namate hulle van gehoorsaamheid aan God se wet afgewyk het, het hulle begeer om die heerskappy van hul PeP 587.4
------------------------------------------------------------------------ PeP 587.5
* Sien aanhangsel, opmerking 8 PeP 587.6
Goddelike Soewerein bevry te word; en gevolglik het die vraag na ‘n monargie wydverspreid in Israel geword. PeP 588.1
Sedert die dae van Josua, was die regering nog nooit met soveel wysheid en sukses gelei soos onder Samuel se bestuur nie. Goddelik bedeeld met die drievoudige amp van regter, profeet en priester, het hy met onvermoeide en onwrikbare ywer vir die welstand van sy volk gewerk en die nasie was voorspoedig onder sy wyse bewind. Die orde is herstel en godvrugtigheid bevorder en die gees van ontevredenheid was vir ‘n tyd onder beheer. Maar namate die jare toegeneem het, is die profeet gedwing om die sorge van die regering met ander te deel en hy het sy twee seuns aangestel om as sy assistente op te tree. Terwyl Samuel voortgegaan het met die pligte van sy amp in Rama, was die jong mans in Berséba gestasioneer om geregtigheid onder die mense naby die suidelike grens van die land te laat geskied. PeP 588.2
Dit was met die volle instemming van die volk dat Samuel sy seuns in die amp aangestel het, maar hulle het hulself as onwaardig van hul vader se keuse bewys. Die Here het deur middel van Moses spesiale opdragte aan sy volk gegee, dat die heersers van Israel regverdig moes oordeel, regmatig met die weduwee en die wese moes omgaan en geen omkoopgeld moes ontvang nie. Maar die seuns van Samuel “...het onregverdige wins agternageloop en omkoopgeskenke aangeneem en die reg verdraai.” Die profeet se seuns het nie gelet op die bevele wat hy hulle aan die verstand wou bring nie. Hulle het die onselfsugtige lewe van hul vader nie nageboots nie. Die waarskuwing aan Eli het nie die invloed op Samuel gehad wat dit moes nie. Hy was tot ‘n mate te toegeeflik teenoor sy seuns en die resultaat was duidelik in hul karakter en lewe te sien. PeP 588.3
Die onregverdigheid van hierdie regters het tot groot ontevredenheid gelei en ‘n voorwendsel vir die verandering wat reeds lankal ‘n geheime begeerte was, het hom voorgedoen. “Toe kom al die oudstes van Israel bymekaar en hulle gaan na Samuel in Rama en sê vir hom: Kyk, u is oud en u seuns wandel nie in u weë nie; stel nou ‘n koning oor ons aan om ons te rig soos by al die nasies.” Die voorvalle van mishandeling onder die mense is nie na Samuel verwys nie. As die slegte weë van sy seuns aan hom bekend was, sou hy hulle dadelik verwyder het; PeP 588.4
maar dit was nie wat die versoekers wou hê nie. Samuel het besef dat hul werklike motief ontevredenheid en trots was en dat hul eis die resultaat van ‘n doelbewuste en vasberade doelwit was. Geen klag is teen Samuel self gemik nie. Almal het die integriteit en wysheid van sy administrasie erken; maar die bejaarde profeet het die versoek as ‘n veroordeling van homself en ‘n direkte poging om hom ter syde te stel, beskou. Hy het egter nie sy gevoelens verraai nie en het geen verwyt uitgespreek nie, maar die saak in gebed na die Here geneem en van Hom alleen raad gevra. PeP 589.1
En die Here het vir Samuel gesê: “Luister na die volk in alles wat hulle aan jou sê, want nie jou het hulle verwerp nie, maar My het hulle verwerp om nie Koning oor hulle te wees nie. Soos al die werke wat hulle gedoen het, van die dag af dat Ek hulle uit Egipte laat optrek het tot vandag toe, dat hulle My verlaat en ander gode gedien het-so doen hulle ook met jou” Die profeet is bestraf omdat hy bedroef was oor die volk se optrede teenoor hom as individu. Hulle het nie disrespek teenoor hom openbaar nie, maar vir die gesag van God wat die heersers oor Sy volk aangestel het. Diegene wat die getroue dienskneg van God verag en verwerp, toon minagting nie net teenoor ‘n mens nie, maar teenoor die Meester wat hom gestuur het. Dit is die woorde van God, Sy teregwysing en raad wat geminag word en Sy gesag wat verwerp word. PeP 589.2
Die dae van Israel se grootste welvaart was die dae waarin hulle Jehova as hul Koning erken het-toe die wette en die regering wat Hy gevestig het, bo die van alle ander nasies geag is. Moses het aangaande die gebooie van die Here aan Israel gesê: “Dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is ‘n wyse en verstandige volk.” (Deuteronomium 4:6). Maar toe hulle van die wet van God afgewyk het, het die Hebreërs nie daarin geslaag om die volk te word wat God van hulle wou maak nie en agterna het hulle al die euwels wat die gevolg van hul eie sonde en dwaasheid was, aan die regering van God toegeskryf. So volkome was hulle verblind deur sonde. PeP 589.3
Die Here het deur sy profete voorspel dat Israel deur ‘n koning regeer sou word; maar dit was nie te sê dat hierdie vorm van regering die beste vir hulle was, of volgens Sy wil nie. Hy het die mense toegelaat om hul eie keuse te volg, omdat hulle PeP 589.4
geweier het om deur Sy raad gelei te word. Hosea verklaar dat God hulle in Sy toorn ‘n koning gegee het (Hosea 13:11). Wanneer mense kies om hulle eie weg te volg, sonder om raad by God te soek, of teenstrydig met Sy geopenbaarde wil optree, gee Hy dikwels toe aan hulle begeertes, sodat hulle deur die bittere ervaring wat daarop volg, hulle dwaasheid kan insien en berou kry oor hulle sonde. Menslike trots en wysheid sal bewys lewer van ‘n gevaarlike gids te wees. Dit wat die hart teenstrydig met die wil van God begeer, sal uiteindelik gevind word ‘n vloek eerder as ‘n seën te wees. PeP 590.1
God wou hê dat Sy volk na Hom alleen as hulle Wetgewer en hulle Bron van krag moes opsien. As hulle hul afhanklikheid van God besef het, sou hulle voortdurend nader aan Hom gekom het. Hulle sou verhewe en veredel word, geskik vir die groot bestemming waartoe Hy hulle as sy uitverkore volk geroep het. Maar as ‘n mens op die troon geplaas word, sou dit die mense se gedagtes van God afwend. Hulle sou meer op menslike krag vertrou en minder op Goddelike Mag en die foute van hulle koning sou hulle tot sonde lei en die volk van God skei. PeP 590.2
Samuel het die opdrag ontvang om aan die volk se versoek te voldoen, maar om hulle ook te waarsku oor die ontevredenheid van die Here en om die gevolge van hulle optrede aan hulle bekend te maak. “Samuel het toe al die woorde van die Here oorgebring aan die volk wat ‘n koning van hom gevra het.” Hy het getrou die laste wat op hulle gelê sou word en die kontras tussen so ‘n toestand van onderdrukking en hul huidige relatief vrye en welvarende toestand, aan hulle voorgelê. Hulle koning sou die praal en luuksheid van ander monargieë naboots en om dit handhaaf, sou hy hulle en hulle besittings swaar belas. Hy sou die keur van hulle jongmanne vir sy diens opeis. Hulle sou as strydwa-ruiters, perderuiters en hardlopers voor hom aangestel word. Hy sal die range van sy leërmag moet vul en daar sal van hulle verwag word om sy landerye te bewerk, sy oeste in te samel en werktuie vir sy diens te vervaardig. Die dogters van Israel sal as kokke en baksters vir die koninklike huisgesin dien. Om sy koninklike staat te ondersteun, sal hy op die beste van hul grond, wat deur Jehova Self aan die volk toegeken is, beslag lê. Hy sou ook hulle beste diensknegte en vee “...vir sy werk gebruik.” Buiten dit alles, sou die koning ‘n tiende van al hulle inkomste, die wins op hulle PeP 590.3
arbeid, of die grond produkte benodig. En die profeet het afgesluit: “Self sal julle sy slawe wees. En in dié dag sal julle roep vanweë jul koning wat julle vir jul verkies het en die Here sal julle in dié dag nie verhoor nie.” Hoe swaar die eise ook op hulle sou druk, as hulle eenmaal ‘n monargie gevestig het, kon hulle dit nie na willekeur ter syde stel nie. PeP 591.1
Maar die volk het geantwoord: “Nee, maar daar moet ‘n koning oor ons wees, dat ons ook kan wees soos al die nasies-dat ons koning ons kan rig en voor ons uit trek en ons oorloë voer.” PeP 591.2
“Soos al die nasies...” Die Israeliete het nie besef dat dit ‘n besondere voorreg en ‘n seën was om in hierdie opsig anders te wees as ander nasies nie. God het die Israeliete van elke ander volk geskei om hulle Sy besondere skat te maak. Maar hulle wou, sonder in agneming van hierdie hoë eer, graag die voorbeeld van die heidene navolg. En die begeerte na wêreldse praktyke en gebruike onder die belydende mense van God bestaan nog steeds. Namate hulle van die Here afwyk, raak hulle ambisieus vir die winste en eerbewyse van die wêreld. Christene probeer voortdurend om die praktyke van diegene wat die god van hierdie wêreld aanbid, na te boots. Baie mense beweer dat hulle ‘n sterker invloed op die goddeloses kan uitoefen deur met wêreldlinge te verenig en aan hul gebruike te voldoen. Maar almal wat hierdie weg inslaan, skei hulle daardeur van die Bron van hulle krag. Deur vriende van die wêreld te word, word hulle vyande van God. Ter wille van aardse onderskeiding, verbeur hulle die onuitspreeklike eer waartoe God hulle geroep het, om lof aan Hom, wat ons uit die duisternis tot Sy wonderbaarlike lig geroep het, te betoon. (1 Petrus 2:9). PeP 591.3
Met diep hartseer het Samuel na die volk se woorde geluister; maar die Here het aan hom gesê: “Luister na hulle en stel ‘n koning oor hulle aan.” Die profeet het sy plig gedoen. Hy het hulle getrou gewaarsku en sy waarskuwing is verwerp. Met ‘n beswaarde hart het hy die volk ontslaan en self vertrek om voorbereidings vir die groot verandering in die regering te tref. PeP 591.4
Samuel se lewe van reinheid en onbaatsugtige toewyding was ‘n ewigdurende teregwysing vir beide selfdienende priesters en oudstes en vir die trotse, sensuele gemeente van Israel. Hoewel hy geen praal en vertoon openbaar het nie, het sy werk PeP 591.5
die seël van die hemel gedra. Hy is vereer deur die Verlosser van die wêreld, onder Wie se leiding hy die Hebreeuse volk regeer het. Maar die volk het moeg vir sy vroomheid en toewyding geword; hulle het sy nederige gesag verag en hom verwerp. PeP 592.1
In die karakter van Samuel sien ons die beeld van Christus weerspieël. Dit was die reinheid van ons Verlosser se lewe wat die toorn van Satan ontlok het. Daardie lewe was die lig van die wêreld en het die verborge verdorwenheid in die harte van mense geopenbaar. Dit was die heiligheid van Christus wat die felste hartstogte van die valse belyers van godsaligheid teen hom laat opvlam het. Christus het nie met die rykdom en die eerbewyse van die aarde gekom nie, maar die werke wat Hy gedoen het, het getoon dat Hy oor ‘n krag beskik het wat groter as die van enige menslike vors was. Die Jode het na die Messias uitgesien om die juk van die onderdrukker te verbreek, maar tog het hulle die sondes wat hy op hul nekke gelê het, gekoester. As Christus hulle sondes bedek en hulle vroomheid goedgekeur het, sou hulle Hom as hul koning aanvaar het; maar hulle was nie gewillig om Sy vreeslose teregwysing van hulle ondeugde te verdra nie. Die skoonheid van ‘n karakter waarin welwillendheid, reinheid en heiligheid geheers het, wat niks behalwe sonde gehaat het nie, het hulle verag. So was dit in elke eeu van die wêreld. Die lig uit die hemel bring veroordeling vir almal wat weier om daarin te wandel. As hulle bestraf word deur die voorbeeld van diegene wat die sonde haat, sal die skynheiliges agente van Satan word om die gelowiges te teister en te vervolg. “Almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.” (2 Timotheus 3:12). PeP 592.2
Alhoewel ‘n monargiese regeringsvorm vir Israel in die profesieë voorspel is, het God die reg voorbehou om hul koning te kies. Die Hebreërs het die gesag van God gerespekteer deur die keuse aan Hom oor te laat. Die keuse het op Saul, ‘n seun van Kis, uit die stam van Benjamin geval. PeP 592.3
Die persoonlike eienskappe van die toekomstige koning was sodanig dat dit aan die hoogmoed van die hart wat die begeerte na ‘n koning aangespoor het, voldoen het. “Daar was onder die kinders van Israel geeneen mooier as hy nie.” (1 Samuel 9:2). Met ‘n edele en waardige houding, in die fleur van sy lewe, PeP 592.4
aantreklik en lank, het hy soos een wat gebore is om te heers voorgekom. Maar, met al hierdie uiterlike aantreklikhede, het Saul tekort geskiet aan die hoër eienskappe wat ware wysheid behels. Hy het in sy jeug nog nie geleer om sy impulsiewe, onstuimige hartstogte onder beheer te bring nie; hy het nooit die vernuwende krag van die genade van God ervaar nie. PeP 593.1
Saul was die seun van ‘n magtige en welgestelde owerste, maar was nogtans, in ooreenstemming met die eenvoud van die tyd, saam met sy vader in die nederige pligte van ‘n landbouer betrokke. Van die diere van sy vader het op die berge verdwaal, en Saul het saam met een van sy diensknegte gegaan om na hulle te soek. Drie dae lank het hulle tevergeefs gesoek en toe hulle nie ver van Rama af was nie,* stel die dienskneg voor dat hulle by die huis van die profeet Samuel na die vermiste esels gaan verneem. Hy het gesê: “Ek het nog ‘n kwart sikkel silwer by my; dit sal ek aan die man van God gee, dat hy ons kan inlig oor ons tog.” Dit was in ooreenstemming met die gebruik van die tyd. Wanneer iemand ‘n persoon met ‘n hoër rang of amp as hy genader het, het hy hom ‘n klein geskenk gegee as uitdrukking van respek. PeP 593.2
Toe hulle die stad nader, ontmoet hulle ‘n paar jong meisies wat uitgekom het om water te gaan haal en verneem by hulle na die siener. Hulle het geantwoord dat ‘n godsdienstige plegtigheid op die punt was om plaas te vind, dat die profeet alreeds opgedaag het en dat daar ‘n offer “...op die hoogte...” geoffer sou word en daarna sou dit deur ‘n fees offermaal opgevolg word. Onder Samuel se bewind het daar ‘n groot verandering plaasgevind. Toe God hom die eerste keer geroep het, het mense die dienste van die heiligdom verag. “Die mense het die offer aan die Here verag.” (1 Samuel 2:17). Maar nou is die aanbidding van God deur die hele land gehandhaaf en die mense het ‘n belangstelling in godsdienstige dienste geopenbaar. Aangesien daar geen bediening in die tabernakel was nie, is daar tydelik elders anders offers gebring; en die stede van die priesters en die Leviete, waar die volk onderrig ontvang het, is vir hierdie doel gekies. Daar is gewoonlik op die PeP 593.3
------------------------------------------------------------------------------------- PeP 593.4
* Sien aanhangsel, opmerking 9 PeP 593.5
hoogste plekke in die stede geoffer en daarom is dit “die hoogte” genoem. PeP 594.1
By die stadspoort is Saul deur die profeet self ontmoet. God het aan Samuel geopenbaar dat die uitverkore koning van Israel hom op daardie tydstip sou kom aanmeld. Terwyl hulle van aangesig tot aangesig gestaan het, sê die Here aan Samuel: “Hier is die man van wie Ek jou gesê het: Hy sal oor my volk heers.” PeP 594.2
Op Saul se versoek: “Wys my tog waar die huis van die siener is,” het Samuel geantwoord: “Ek is die siener!” Hy het hom ook verseker dat die verlore diere gevind was en by hom aangedring dat hy die fees moes bywoon, terwyl hy terselfdertyd te kenne gegee het dat daar ‘n groot bestemming op hom wag: “Aan wie behoort al wat begeerlik is in Israel? Is dit nie aan jou en jou hele familie nie?” Die luisteraar se hart was opgewonde oor die profeet se woorde. Hy kon nie anders as om die betekenis daarvan te snap nie, want die hele nasie was ingestel op die vraag na ‘n koning. Saul het egter met beskeie minderwaardigheid geantwoord: “Is ek nie ‘n Benjaminiet uit een van die kleinste stamme van Israel en my geslag die geringste uit al die geslagte van die stam van Benjamin nie? Waarom spreek u dan so met my?” PeP 594.3
Samuel het die vreemdeling na die plek van samekoms gebring waar die hoofmanne van die stad vergader het. Onder leiding van die profeet is die ereplek onder hulle aan Saul gegee en met die fees is die beste porsie aan hom voorgesit. Na die diens het Samuel sy gas na sy eie huis geneem en op die dak het hy met hom gesels en die groot beginsels waarop die regering van Israel gevestig was uiteengesit, om hom tot ‘n sekere mate op sy hoë posisie voor te berei. PeP 594.4
Toe Saul vroeg die volgende oggend vertrek, het die profeet saam met hom uitgegaan. Buite die stad het hy die dienskneg beveel om alleen verder te gaan. Toe beveel hy Saul om stil te staan om ‘n boodskap van God wat aan hom gestuur is, te ontvang: “Samuel het die kruik met olie geneem en dit op sy hoof uitgegiet en hom gesoen en gesê: Het die Here jou nie gesalf as vors oor sy erfdeel nie?” As bewys dat dit deur Gesag van God gedoen is, het hy die voorvalle wat op sy terugreis sou plaasvind, voorspel en Saul verseker dat hy deur die Gees van PeP 594.5
God toegerus sou word vir die posisie wat op hom wag: “Die Gees van die Here sal oor jou vaardig word...” het die profeet gesê, “...sodat jy in ‘n ander mens verander word. En as hierdie tekens vir jou uitkom, doen dan wat jou hand vind om te doen, want God is met jou.” PeP 595.1
Terwyl Saul op pad was, het alles gebeur soos die profeet gesê het. Naby die grens van Benjamin is hy meegedeel dat die verlore diere gevind is. In die vlakte van Tabor het hy drie mans ontmoet wat op pad was om God in Bet-El te gaan aanbid. Een het drie boklammers vir die offer gedra, ‘n ander drie brode en die derde ‘n sak wyn vir die offerfees. Hulle het Saul soos gewoonlik gegroet en twee van die drie brode aan hom gebied. In sy eie stad, Gibea, het ‘n groep profete van “die hoogte” teruggekeer, wat lofliedere tot God gesing het, begelei deur die musiek van die fluit en die harp, tamboeryne en siters. Toe Saul nader kom, het die Gees van die Here oor hom gekom en hy het saam met hulle gesing en geprofeteer. Hy het so vlot en met soveel wysheid gepraat en met soveel erns aan die diens deelgeneem, dat diegene wat hom geken het verbaas uitgeroep het: “Wat het tog gebeur met die seun van Kis? Is Saul ook onder die profete?” PeP 595.2
Terwyl Saul saam met die profete aanbid het, het die Heilige Gees ‘n groot verandering oor hom gebring. Die lig van Goddelike reinheid en heiligheid het in die duisternis van die natuurlike hart geskyn. Hy het homself gesien soos hy werklik voor God was. Hy het die skoonheid van heiligheid gesien. Hy is nou geroep om die stryd teen sonde en die Satan aan te knoop en hy het gevoel dat sy krag vir hierdie stryd geheel en al van God moes kom. Die plan van verlossing wat voorheen vir hom dof en onseker voorgekom het, is vir sy begrip oopgestel. Die Here het hom die moed en wysheid vir sy hoë pos gegee. Hy het die Bron van krag en genade aan hom geopenbaar en die Goddelike aansprake en sy eie plig uitgelig. PeP 595.3
Die salwing van Saul as koning is nie aan die volk bekend gemaak nie. Die keuse van God moes deur middel van die lot openbaar gemaak word. Hiervoor het Samuel die mense in Mizpa laat saamkom. Daar is gebid vir Die leiding van God; daarna het die plegtige seremonie om die lot te werp gevolg. In stilte het die vergaderde menigte op die uitslag gewag. Die PeP 595.4
stam, die familie en die huisgesin is een na die nader aangedui en toe is Saul, die seun van Kis as die gekose persoon uitgewys. Maar Saul was nie in die vergadering teenwoordig nie. Belas met ‘n sin van die groot verantwoordelikheid wat binnekort op hom sou rus, het hy stilletjies weggesluip. Hy is na die vergadering teruggebring, wat met trots en tevredenheid opgemerk het dat hy ‘n koninklike houding gehad het en edel van gestalte was “...van sy skouers af boontoe hoër as die hele volk.” Selfs Samuel, toe hy hom aan die volk voorstel, het uitgeroep: “Sien julle hom wat die Here uitgekies het? Want daar is nie een onder die hele volk soos hy nie.” Daarop het die groot skare met een lang, harde juigkreet uitgeroep: “Mag die koning lewe!” PeP 596.1
“Daarna het Samuel die reg van die koningskap voor die volk afgekondig...” waarin hy die beginsels vermeld het waarop die monargale regering gebaseer is en waardeur dit beheer moes word. Die koning sou nie absolute mag besit nie, maar sy gesag moes onderdanig aan die wil van die Allerhoogste wees. Hierdie rede is in ‘n boek opgeteken waarin die regte van die vors en die regte en voorregte van die volk uiteengesit is. Alhoewel die volk die waarskuwing van Samuel verag het, het die getroue profeet, hoewel hy gedwing was om aan hulle begeertes te voldoen, steeds gepoog om hul vryhede sover moontlik te beskerm. PeP 596.2
Alhoewel die volk in die algemeen gewillig was om Saul as hulle koning te erken, was daar ‘n sterk party wat in opposisie was. Dat die koning uit die stam van Benjamin, die kleinste stam van Israel gekies was, terwyl Juda en Efraim, die grootste en sterkste stamme, oor die hoof gesien is, was ‘n belediging wat hulle nie kon aanvaar nie. Hulle het geweier om aan Saul trou te sweer of om die gebruiklike geskenke aan hom te gee. Dit was juis diegene wat die sterkste op ‘n koning aangedring het, wat geweier het om met dankbaarheid die man van God se aanstelling te aanvaar. Die lede van elke faksie het hul eie gunsteling gehad wat hulle graag op die troon wou sien en verskeie van die leiers het hierdie eer vir hulleself begeer. Afguns en jaloesie het in baie harte gebrand. Hulle hoogmoedige en eersugtige pogings het op teleurstelling en ontevredenheid uitgeloop. PeP 596.3
Onder hierdie omstandighede het Saul nie kans gesien om die koninklike waardigheid te aanvaar nie. Hy het Samuel gelaat PeP 596.4
om die land soos voorheen te regeer en na Gibea teruggekeer. Hy is eerbaar deur ‘n groep mense, wat die Goddelike keuse van sy uitverkiesing besef het en vasberade was om hom te ondersteun, daarheen begelei. Maar hy het geen poging aangewend om sy reg op die troon met geweld te handhaaf nie. In sy huis in die hoogliggende gebied van Benjamin, het hy homself rustig besig gehou met die pligte van ‘n landbouer en die vestiging van sy gesag aan God oorgelaat. PeP 597.1
Kort ná die aanstelling van Saul, het die Ammoniete, onder leiding van hulle koning, Nahas, die gebied van die stamme oos van die Jordaan binnegeval en die stad Jabes in Gilead bedreig. Die inwoners van die stad het probeer om ‘n vredesooreenkoms te sluit, deur aan te bied om onderdanig aan hulle te word. Die wrede koning wou nie hieraan toegee nie, maar het die voorwaarde gestel dat hy die regter oog van elkeen sou uitsteek en hulle sodoende getuies van sy mag te maak. PeP 597.2
Die inwoners van die beleërde stad het om sewe dae uitstel gevra. Hierop het die Ammoniete toegestem en gedink dat hulle hierdeur die eer van hul verwagte oorwinning sou verhoog. Boodskappers is dadelik uit Jabes gestuur om hulp te soek by die stamme wes van die Jordaan. Hulle het die tyding na Gibea gebring en wydverspreide verskrikking geskep. Toe Saul die aand terugkeer, van waar hy agter die beeste in die veld aangeloop het, hoor hy die luide geween wat van ‘n groot ramp getuig het. Hy het gevra: “Wat is dit met die volk dat hulle ween?” Toe die skandelike verhaal aan hom oorvertel is, het al sy sluimerende kragte ontwaak. “Die Gees van God het oor Saul vaardig geword...En hy het ‘n paar beeste geneem en hulle stukkend gesny en met boodskappers deur die hele gebied van Israel gestuur om te sê: Wie nie agter Saul en agter Samuel aan uittrek nie, so sal met sy beeste gedoen word.” PeP 597.3
Driehonderd-en-dertigduisend man het op bevel van Saul op die vlakte van Besek saamgekom. Boodskappers is onmiddellik na die beleërde stad gestuur om hulle te verseker dat hulle die volgende dag hulp kon verwag, dieselfde dag waarop hulle hul aan die Ammoniete sou moes onderwerp. Met ‘n vinnige mars deur die nag, het Saul en sy leër die Jordaan oorgesteek en “...met die morewag...” by Jabes aangekom. Soos Gideon, het hy sy leër in drie groepe verdeel en die laer van die Ammoniete in die vroeë oggend aangeval toe hulle geen gevaar vermoed PeP 597.4
het nie en totaal kwesbaar was. In die paniek wat gevolg het, is hulle met ‘n groot slagting verslaan “...en die ander het so verstrooid geraak dat nie twee onder hulle bymekaar gebly het nie.” PeP 598.1
Saul se snelle en dapper optrede, gepaard met die krygskuns wat deur die hoof van so ‘n groot leër aan die dag gelê is, was presies die eienskappe wat die Israeliete in ‘n koning begeer het om hulle in staat te stel om ander nasies die hoof te bied. Nou het hulle hom as koning verwelkom, al die eer van die oorwinning aan menslike eienskappe toegeskryf en vergeet dat hulle pogings, sonder die spesiale seën van God, tevergeefs sou wees. In hulle ywer het sommige voorgestel dat diegene wat Saul se gesag eers nie wou aanvaar nie, gedood moes word. Maar die koning het ingetree en gesê: “Op hierdie dag mag geen man gedood word nie, want vandag het die Here ‘n verlossing in Israel bewerk.” Hierdeur het Saul getuig van die groot verandering wat in sy karakter plaasgevind het. In stede van die eer vir homself toe te eien, het hy al die heerlikheid aan God gegee. In stede van wraak te neem, het hy ‘n gees van deernis en vergifnis geopenbaar. Dit is ‘n onmiskenbare bewys dat die genade van God in die hart woon. PeP 598.2
Samuel het nou voorgestel dat ‘n nasionale vergadering by Gilgal byeengebring moes word, sodat die koningskap daar in die openbaar aan Saul bevestig kon word. Dit is gedoen “...en hulle het daar dankoffers voor die aangesig van die Here geslag en Saul met al die manne van Israel was daar uitermate vrolik.” PeP 598.3
Gilgal was die plek van Israel se eerste kampering in die Beloofde Land. Hier het Josua, deur Die leiding van God, die pilaar van twaalf klippe opgerig om hulle deurtog deur die Jordaan te herdenk. Hier is die besnydenis weer ingestel. Hier het hulle vir die eerste keer, na die sonde van Kades en hulle omswerwinge in die woestyn, die Pasga gevier. Hier het die manna opgehou. Hier het die Leërowerste van die Here Hom as opperbevelvoerder van die leërs van Israel geopenbaar. Van hierdie plek af het hulle vertrek om Jerigo te vernietig en Ai te verower. Hier is Agan weens sy sonde gestraf en is daar ‘n verdrag met die Gibeoniete aangegaan, waarvoor Israel gestraf was omdat hulle nagelaat het om God eers te raadpleeg. Op hierdie vlakte wat so baie opwindende herinneringe ingehou het, PeP 598.4
het Samuel en Saul gestaan. En nadat die volk opgehou het om die koning toe te juig, het die bejaarde profeet sy afskeidswoorde as heerser oor die volk gespreek. PeP 599.1
Hy het gesê: “Kyk, ek het na julle geluister in alles wat julle aan my gesê het en ‘n koning oor julle aangestel. En kyk nou, die koning sal voor julle uit wandel en ek het oud en grys geword. En ek het voor julle uit gewandel van my jeug af tot vandag toe. Hier is ek; getuig teen my voor die Here en voor sy gesalfde: wie se bees ek geneem het en wie se esel ek geneem het en wie ek verdruk of hard behandel het; en uit wie se hand ek omkoopgeld aangeneem het om my oë daarmee toe te maak-dan sal ek dit aan julle teruggee.” PeP 599.2
Met een stem het die volk geantwoord: “U het ons nie verdruk of ons hard behandel nie en uit niemand se hand iets aangeneem nie.” PeP 599.3
Samuel wou nie net sy eie weg regverdig nie. Hy het voorheen die beginsels, wat die koning sowel as die volk moes regeer, uiteengesit en hy wou die gewig van sy eie voorbeeld by sy woorde voeg. Hy was van kleins af verbonde aan die werk van God en gedurende sy lang lewe was daar net een doelwit voor hom-die heerlikheid van God en die welvaart van Israel. PeP 599.4
Voordat daar enige hoop op voorspoed vir Israel kon wees, moes hulle eers tot bekering voor God gelei word. As gevolg van sonde het hulle hul geloof in God en hul onderskeidingsvermoë in Sy mag en wysheid om die volk te regeer, verloor-hulle het vertroue in Sy vermoë om Sy saak te verdedig, verloor. Voordat hulle ware vrede kon vind, moes hulle gelei word om die sonde waaraan hulle skuldig was, in te sien en te bely. Hulle het die doel vir die eis om ‘n koning verklaar “...dat ons koning ons kan rig en voor ons uit trek en ons oorloë voer.” Samuel het die geskiedenis van Israel verhaal, vanaf die dag toe God hulle uit Egipte uitgelei het. Jehova, die Koning van die konings het voor hulle uitgegaan en hulle gevegte geveg. Dikwels het hulle sondes hulle aan die mag van hulle vyande uitverkoop, maar sodra hulle hul bose weë verlaat het, het die genade van God vir hulle ‘n verlosser opgewek. Die Here het Gideon en Barak “...en Jefta en Samuel gestuur en julle uit die hand van jul vyande rondom gered, sodat julle veilig gewoon het.” Nogtans het hulle, toe die gevaar dreig, uitgeroep: ““n Koning moet oor PeP 599.5
ons regeer...” terwyl, soos die profeet gesê het, die Here hulle God hulle koning was. PeP 600.1
Toe vervolg Samuel: “Gaan dus staan en kyk na hierdie groot saak wat die Here voor julle oë gaan doen. Is dit nie koring oestyd vandag nie? Ek sal die Here aanroep, dat Hy donderslae en reën gee: weet dan en sien dit in dat julle kwaad groot is wat julle in die oë van die Here gedoen het deur ‘n koning vir julle te begeer. Toe het Samuel die Here aangeroep en die Here het donderslae en reën op dié dag gegee.” Ten tye van die koringoes in Mei en Junie, het geen reën in die Ooste geval nie. Die hemel was wolkloos en die lug matig. ‘n Storm van sulke afmetings in hierdie tyd, het alle harte met vrees gevul. In ootmoed het die volk nou hulle sonde bely-die juiste sonde waaraan hulle skuldig was: “Bid tot die Here u God vir u knegte, dat ons nie sterf nie, omdat ons by al ons sondes nog kwaad gedoen het deur ‘n koning vir ons te begeer.” PeP 600.2
Samuel het die volk nie in ‘n staat van mismoedigheid gelaat nie, want dit sou alle pogings vir ‘n beter lewe verhoed het. Satan sou hulle daartoe gelei het om hulle God as streng en onvergewensgesind te beskou en dit sou hulle aan vele versoekings blootgestel het. God is barmhartig en vergewensgesind en begeer om aan Sy volk guns te bewys as hulle Sy stem gehoorsaam. “Wees nie bevrees nie...” was die boodskap van God deur Sy dienskneg. “Julle het al hierdie kwaad gedoen; maar wyk nie van die Here af nie en dien die Here met julle hele hart. En julle mag nie afwyk nie, want dan gaan julle agter nietige afgode aan wat nie kan help of red nie, omdat hulle nietighede is. Want die Here sal sy volk nie verwerp nie.” PeP 600.3
Samuel het niks van die belediging teenoor homself gerep nie; hy het Israel nie verwyt oor die ondankbaarheid waarmee hulle sy lewenslange toewyding vergeld het nie; maar hy het hulle verseker van sy onophoudelike belangstelling in hulle: “Dit is ver van my dat ek teen die Here sou sondig, dat ek sou ophou om vir julle te bid; maar ek sal julle in die goeie en regte weg onderrig. Vrees net die Here en dien Hom getrou met julle hele hart; want kyk watter groot dinge Hy by julle gedoen het. Maar as julle ooit verkeerd handel, sal julle self sowel as julle koning omkom.” PeP 600.4