Patriarge en Profete

60/75

Hoofstuk 58—Die Skole van die Profete

DIE Here self het die opvoeding van Israel gerig. Sy sorg was nie beperk tot hulle godsdienstige belange nie; wat ook hul geestelike of liggaamlike welstand beïnvloed het, was ook onderworpe aan Goddelike Voorsienigheid en het binne die sfeer van die Wet van God geval. PeP 577.1

God het die Hebreërs beveel om hulle kinders aangaande Sy vereistes te leer en hulle vertroud te maak met al Sy omgang met hul vaders. Dit was een van die spesiale pligte van elke ouer- een wat nie aan ‘n ander oorgelaat moes word nie. In die plek van ‘n vreemdeling se lippe, moes die liefdevolle harte van die vader en moeder hul kinders onderrig. Gedagtes aan God moes met al die gebeure in die daaglikse lewe geassosieer word. Die kragtige werke van God in die bevryding van Sy volk en die beloftes van die Verlosser wat sou kom is dikwels in die huise van Israel oorvertel; en die gebruik van figure en simbole het gehelp om die lesse wat gegee is in die geheue vas te pen. Die groot waarhede aangaande God se voorsienigheid en die toekomstige lewe is op die jong verstand ingeprent. Hulle is opgelei om God in die natuurskoon, asook in die woorde van openbaring te sien. Die sterre van die hemel, die bome en die blomme van die veld, die hoë berge en die kabbelende strome- alles het van die Skepper getuig. Die plegtige offer-en aanbiddingsdienste by die heiligdom en die uitsprake van die profete was ‘n openbaring van God. PeP 577.2

Sodanig was die opleiding van Moses in die nederige huisie in Gosen; van Samuel deur die getroue Hanna; van Dawid op die heuwel in Betlehem; en van Daniël voordat die ballingskap hom van sy ouerhuis geskei het. Sodanig was ook die vroeë lewe van Christus in Nasaret; so het Timotheus uit die lippe van sy grootmoeder, Loïs en sy moeder, Eunice (2 Timotheus 1:5;3:15), die waarhede van die Heilige Skrif geleer. PeP 577.3

Verdere voorsiening vir die onderrig van die jeug is deur die vestiging van profete-skole gemaak. Indien ‘n jongeling die waarheid in die Woord van God wou ondersoek en wysheid van bo verlang het, sodat hy ‘n leraar in Israel kon word, was hierdie skole oop vir hom. Die profete-skole is deur Samuel gestig om PeP 577.4

te dien as verskansing teen die wydverspreide korrupsie, om voorsiening vir die morele en geestelike welstand van die jeug te maak en om voorsiening vir die toekomstige welvaart van die land, deur mense wat in die vrees van God as leiers en raadgewers in die land moes optree, te maak. Om hierdie doel te bereik, het Samuel groepe van jong manne wat vroom, intelligent en leergierig was byeengebring. Hulle is die seuns van profete genoem. Terwyl hulle met God gemeenskap gehou en Sy Woord en Sy werke bestudeer het, is hulle natuurlike gawes met wysheid van omhoog aangevul. Die instrukteurs was manne wat nie net goed met die Goddelike waarhede vertroud was nie, maar wat self ook gemeenskap met God gehad het en die spesiale gawe van Sy Gees ontvang het. Hulle het die agting en vertroue van die volk geniet, beide vir hulle leer en vroomheid. PeP 578.1

In die dae van Samuel was daar twee van hierdie skole-een in Rama, die huis van die profeet en die ander in Kirjat-Jearim, waar die ark destyds was. Ander is in latere tye gevestig. PeP 578.2

Die leerlinge aan hierdie skole het in hulle eie behoeftes voorsien deur die grond te bewerk of een of ander meganiese arbeid. In Israel was dit nie as vreemd of vernederend beskou nie; inteendeel, dit was as ‘n misdaad beskou om kinders toe te laat om in onkunde aangaande nuttige arbeid groot te word. Op bevel van God is elke kind een of ander ambag geleer, al was hy in die heilige amp opgelei. Baie godsdienstige leraars het met handearbeid in hulle eie behoeftes voorsien. Selfs in die dae van die apostels is Paulus en Aquila nie minder vereer omdat hulle met hul tentmaker ‘n bestaan gemaak het nie. PeP 578.3

Die belangrikste vakke in hierdie skole was die wet van God, tesame met die instruksies wat aan Moses gegee is, heilige geskiedenis, gewyde musiek en poësie. Die metode van onderwys was baie anders as in die teologiese skole van vandag, waaruit baie studente met minder werklike kennis van God en godsdienstige waarheid, as toe hulle ingetree het, gradueer. In daardie skole van die ou tyd was die grootste doelwit van alle studie, om die wil van God en die plig van die mens teenoor Hom te leer. In die rekord van die heilige geskiedenis, is die voetspore van Jehova nagespeur. Die groot waarhede wat deur die tipes uitgebeeld is, het duidelik na vore gekom en geloof het die sentrale doel van daardie hele stelsel PeP 578.4

- die Lam van God wat die sonde van die wêreld sou wegneem PeP 579.1

- aangegryp. PeP 579.2

“n Gees van toewyding is gekoester. Studente het nie net die plig van gebed geleer nie, maar is ook geleer hoe om te bid, hoe om tot hulle Skepper te nader, hoe om geloof in Hom uit te oefen en hoe om die leringe van Sy Gees te verstaan en te gehoorsaam. Geheiligde intellektuele, het nuwe en ou dinge uit die skatkis van God voortgebring en die Gees van God is in die profesieë en in die gewyde sang geopenbaar. PeP 579.3

Musiek is gebruik om ‘n heilige doel te dien, om die gedagtes op te hef na dit wat suiwer, edel en verhewe is en om die siel tot toewyding en dankbaarheid aan God aan te wakker. Wat ‘n kontras tussen die ou gebruike en die gebruike waaraan musiek deesdae te dikwels gewy word! Hoeveel gebruik vandag hierdie gawe om homself te verhef, in stede daarvan om dit aan te wend om God te verheerlik! ‘n Liefde vir musiek lei die onkundiges om met liefhebbers van die wêreld te verenig in plesier byeenkomste waarheen God Sy kinders verbied het om te gaan. Sodoende word dit, wat ‘n groot seën is indien dit reg aangewend word, een van die suksesvolste agentskappe waarmee Satan die verstand weglok van plig en die bepeinsing van ewige dinge. PeP 579.4

Musiek vorm deel van die aanbidding van God in die hemelhowe en ons moet streef om ons lofliedere so na as moontlik in harmonie met die hemelse kore te bring. Behoorlike opleiding van die stem is ‘n belangrike eienskap in die onderwys en moet nie verwaarloos word nie. Sang, as deel van die godsdienstige diens, vorm net so deel van aanbidding as gebed. Die hart moet die gees van die lied ervaar om die regte uitdrukking daaraan te gee. PeP 579.5

Hoe groot is die verskil tussen die skole van die profete van God en ons moderne leerinstellings! Hoe min skole is daar wat nie deur die voorskrifte en gebruike van die wêreld beheer word nie! Daar is ‘n betreurenswaardige gebrek aan behoorlike selfbeheersing en oordeelkundige dissipline. Die bestaande onkunde aangaande die woord van God onder sogenaamde Christene, is kommerwekkend. Oppervlakkige gesprekke, blote sentimentalisme, gaan deur vir onderrig in sedes en godsdiens. Die geregtigheid en genade van God, die skoonheid van PeP 579.6

heiligheid en die sekere beloning van regverdigheid, die afskuwelike karakter van sonde en die sekerheid van die verskriklike gevolge daarvan, word nie in die gedagtes van die jeug beïndruk nie. Bose assosiasies leer die jeug aangaande misdadige praktyke en losbandigheid, PeP 580.1

Is daar nie lesse wat die opvoeders van ons tyd, tot voordeel, uit die ou skole van die Hebreërs kan leer nie? Hy wat die mens geskape het, het voorsiening gemaak vir die ontwikkeling van liggaam, gees en siel. Werklike sukses hang dus af van die getrouheid waarmee mense die Skepper se plan uitvoer. PeP 580.2

Die ware doel van opvoeding is om die beeld van God in die siel te herstel. In die begin het God die mens na Sy eie beeld geskape. Hy het hom met edele eienskappe bedeel. Sy verstand was goed gebalanseerd en al die kragte van sy wese was in harmonie. Maar die sondeval en die gevolge daarvan het hierdie gawes verdraai. Die sonde het die beeld van God in die mens geskend en byna heeltemal uitgewis. Dit was om dit te herstel dat die plan van verlossing bedink is en ‘n proeftydperk aan die mens toegestaan is. Die grootste doel van die lewe-die doel wat onderliggend aan alle ander is-is om hom terug te bring na die volmaaktheid waarin hy geskape is, is. Dit is die werk van ouers en onderwysers in die opvoeding van die jeug om met die Goddelike doel saam te werk; en sodoende is hulle “...medewerkers van God.” (1 Korinthiërs 3:9). PeP 580.3

Al die verskillende vermoëns waaroor die mens beskik-van verstand, siel en liggaam-word deur God verleen om só ingespan te word, dat hulle die hoogste moontlike uitnemendheid bereik. Maar dit kan nie ‘n selfsugtige, eksklusiewe kultuur wees nie; want die karakter van God, na Wie se beeld ons strewe, is welwillendheid en liefde. Elke fakulteit, elke kenmerk waarmee die Skepper ons bedeel het, moet tot Sy eer en die opheffing van ons medemens aangewend word. En sodoende, word dit op die suiwerste, edelste en gelukkigste wyse aangewend. PeP 580.4

Indien die aandag aan hierdie beginsel geskenk word, soos die belangrikheid daarvan vereis , sou daar ‘n radikale verandering in sommige van die huidige onderwysmetodes wees. In stede van ‘n beroep op trots en selfsugtige ambisie te doen en ‘n gees van wedywering aan te kweek, sal onderwysers PeP 580.5

poog om liefde vir goedheid, waarheid en skoonheid aan te wakker, om ‘n begeerte na uitnemendheid te wek. Die student sou streef om die gawes van God in homself te ontwikkel, nie sodat hy beter as ander kan presteer nie, maar om die doel van die Skepper te verwesenlik en na Sy beeld gevorm te word. In stede daarvan dat dit op blote aardse standaarde gerig, of deur ‘n begeerte na selfverheffing gedryf word, wat op sigself verdwerg en verkleineer, sal die gedagtes na die Skepper gerig word, om Hom te ken en soos Hy te word. PeP 581.1

“Die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here en kennis van die Heilige is verstand.” (Spreuke 9:10). Die grootste lewenstaak is karakterbou en ‘n kennis van God is die fondasie van alle ware opvoeding. Om hierdie kennis oor te dra en die karakter dienooreenkomstig te vorm, moet die doelwit van die onderwyser se werk wees. Die wet van God is ‘n weerspieëling van Sy karakter. Daarom sê die psalmdigter: “Al u gebooie is geregtigheid;” en “...uit u bevele kry ek verstand.” (Psalm 119:172,104). God het Homself aan ons geopenbaar in Sy Woord en in die skeppingswerk. Deur die volume van inspirasie en die boek van die natuur moet ons kennis van God opdoen. PeP 581.2

Dit is ‘n wet van die verstand dat dit homself geleidelik aanpas by die onderwerpe waarin hy opgelei is om te fokus. As dit slegs met algemene sake besig gehou word, raak dit verdwerg en swak. As dit nooit nodig is om met moeilike probleme te worstel nie, sal dit mettertyd amper alle groeikrag verloor. As ‘n opvoedende krag is die Bybel sonder weerga. In die Woord van God vind die verstand onderwerpe vir die diepste denke en die hoogste strewe. Die Bybel is die mees leersame geskiedenisboek wat mense kan besit. Dit het vars uit die fontein van ewige waarheid gekom en ‘n Goddelike Hand het die suiwerheid daarvan deur al die eeue bewaar. Dit verlig die verre verlede wat menslike navorsing tevergeefs poog om te deurgrond. In God se Woord sien ons die krag wat die grondslag van die aarde gelê het en die hemele uitgestrek het. Dit is die enigste plek waar ons die geskiedenis van ons geslag onbesoedel deur menslike vooroordeel of hoogmoed sal aantref. Hierin is worstelinge, nederlae en die oorwinnings van die grootste manne wat die wêreld nog ooit geken het opgeteken. Hierin word die groot vraagstukke oor plig en lotsbestemming ontvou. Die gordyn wat die sigbare wêreld van PeP 581.3

die onsigbare wêreld skei word gelig en ons aanskou die konflik van die opponerende magte, van goed en kwaad, vanaf die eerste toetrede van sonde tot die finale oorwinning van geregtigheid en waarheid; en dit is alles net ‘n openbaring van die karakter van God. In eerbiedige nadenke oor die waarhede wat in Sy Woord aangebied word, word die denke van die student in gemeenskap met die Oneindige Verstand gebring. Hierdie studie sal nie net die karakter verfyn en veredel nie, maar kan nie misluk om ook die geestelike kragte te versterk nie. PeP 582.1

Die leer van die Bybel het ‘n belangrike invloed op die welvaart van die mens in alle opsigte van hierdie lewe. Dit ontvou die beginsels wat die hoeksteen van die land se welvaart is-beginsels wat met die welstand van die samelewing verbind word en wat die beskerming van die gesin is-beginsels waarsonder niemand nuttigheid, geluk en eer in hierdie lewe kan bereik, of kan hoop om die toekomstige, onsterflike lewe te verseker nie. Daar is geen posisie in die lewe, geen fase in menslike ervaring waarvan die leer van die Bybel nie ‘n noodsaaklike voorbereiding is nie. Die woorde van God wat bestudeer en gehoorsaam word, sal mense met sterker en meer aktiewe intellek aan die wêreld voorsien as wat die beste toepassing van al die onderwerpe van menslike filosofie behels. Dit sal aan manne van krag ‘n standvastige karakter, skerp waarneming en ‘n gesonde oordeel voorsien, wat ‘n eer vir God en ‘n seën vir die wêreld sal wees. PeP 582.2

In die bestudering van die wetenskappe sal ons ook ‘n kennis van die Skepper opdoen. Alle ware wetenskap is slegs ‘n interpretasie van die handskrif van God in die materiële wêreld. Die wetenskap bring deur navorsing, slegs nuwe getuienis van die wysheid en mag van God na vore. As ons die natuurwetenskap sowel as die geskrewe woord reg verstaan, maak dit ons vertroud met God en sal ons iets te leer van die wyse en weldadige wette waardeur Hy werk. PeP 582.3

Die leerling moet gelei word om God in al die werke van die skepping te sien. Onderwysers moet die voorbeeld van die Groot Leermeester volg, wat illustrasies uit die bekende natuurskoon geskilder het, wat Sy leerstellings vereenvoudig het en hulle dieper op die verstand van Sy hoorders ingeprent PeP 582.4

het. Die voëls wat in die takke lofliedere sing, die blomme van die veld, die majestueuse bome, die vrugbare landerye, die groeiende graan, die barre aarde, die ondergaande son wat die hemel met sy strale verguld-alles dien as leermiddel. Hy het die sigbare werke van die Skepper met die woorde van lewe wat Hy gespreek het verbind, sodat elke keer wanneer hierdie voorwerpe voor die oë van Sy hoorders ontvou word, hulle gedagtes sal terugkeer na die lesse van die waarheid wat hy daaraan gekoppel het. PeP 583.1

Die beeld van die Godheid wat in die bladsye van openbaring gemanifesteer word, word op die hoë berge, in die vrugbare valleie en die wye, diep oseaan gesien. Die dinge van die natuur spreek tot die mens van sy Skepper se liefde. Hy het ons aan Homself verbind met tallose bewyse in die hemel en op aarde. Hierdie wêreld bestaan nie net uit verdriet en ellende nie. “God is liefde” staan op elke ontluikende knop, op die kroonblare van elke blom en op elke grasspriet geskryf. Alhoewel die vloek van die sonde veroorsaak het dat die aarde dorings en distels voortbring, is daar blomme aan die distels en word die dorings deur rose verberg. Alles in die natuur getuig van die tere, vaderlike versorging van onse God en van Sy begeerte om Sy kinders gelukkig te maak. Sy verbod en opdragte en die dinge wat Hy verbied het, is nie bloot bedoel om Sy gesag te af te dwing nie, maar in alles wat Hy doen, beoog Hy die welstand van Sy kinders. Hy eis nie dat hulle iets moet prysgee wat in hulle beste belang sou wees om te behou nie. PeP 583.2

Die mening wat in sommige kringe van die samelewing heers, dat godsdiens nie bevorderlik vir die gesondheid en geluk van hierdie lewe is nie, is een van die skadelikste dwalings. Die Skrifte sê: “Die vrees van die Here is tot die lewe; en versadig bring ‘n mens die nag deur.” (Spreuke 19:23). “Wie is die man wat lus het in die lewe, wat dae liefhet om die goeie te sien? Bewaar jou tong vir wat verkeerd is en jou lippe dat hulle nie bedrog spreek nie. Wyk af van wat verkeerd is en doen wat goed is; soek die vrede en jaag dit na.” (Psalm 34:13-15). Die woorde van wysheid “...is die lewe vir die wat hulle vind en ‘n genesing vir hulle hele liggaam.” (Spreuke 4:22). PeP 583.3

Ware godsdiens bring die mens in harmonie met die wette van God, liggaamlik, geestelik en moreel. Dit leer PeP 583.4

selfbeheersing, kalmte en matigheid. Godsdiens veredel die gees, verfyn die smaak en heilig die oordeel. Dit maak die siel deel van die reinheid van die hemel. Geloof in God se liefde en oorheersende voorsienigheid, verlig die laste van angs en sorg. Dit vul die hart met vreugde en vrede in die hoogste of die laagste lotsbestemming. Godsdiens neig om gesondheid te bevorder, om die lewe te verleng en ons genot in al Sy seëninge te verhoog. Dit laat vir die siel ‘n onfeilbare fontein van geluk ontspring. Sou almal wat Christus nie gekies het nie, nie maar besef dat Hy iets baie beter het om aan te bied as wat hulle vir hulself soek nie? Die mens doen sy eie siel die grootste letsel en onreg aan as hy in stryd met die wil van God dink en optree. Geen ware vreugde kan gevind word op die pad wat deur Hom verbied is, wat weet wat die beste is en wat Hy beplan vir die welsyn van Sy skepsele nie. Die weg van oortreding lei tot ellende en vernietiging, maar die weë van wysheid “...is lieflike weë en al sy paaie is vrede.” (Spreuke 3:17). PeP 584.1

Die fisiese, sowel as godsdienstige opleiding wat in die Hebreër-skole beoefen word, kan voordelig bestudeer word. Die waarde van sulke opleiding word nie na reg waardeer nie. Daar is ‘n intieme verhouding tussen die verstand en die liggaam en om ‘n hoë standaard van morele en intellektuele bekombaarheid te bereik, moet die wette wat ons liggaamlike wese beheer, nagekom word. Om ‘n sterk, gebalanseerde karakter te verseker, moet beide die geestelike en die fisieke kragte beoefen en ontwikkel word. Watter studie kan vir jongmense belangriker wees as dit wat handel oor hierdie wonderlike organisme wat God aan ons toevertrou het en van die wette waardeur dit genees kan word? PeP 584.2

En nou, soos in die dae van Israel, behoort elke jongeling in die pligte van die praktiese lewe onderrig te word. Elkeen behoort ‘n kennis van een of ander vorm van handearbeid te hê, waardeur hy, indien nodig, ‘n bestaan kan maak. Dit is noodsaaklik, nie net as beskerming teen die wisselvallighede van die lewe nie, maar ook as gevolg van die fisiese, geestelike en morele ontwikkeling. Selfs al sou dit seker wees dat ‘n mens nooit nodig sal hê om met handearbeid ‘n bestaan te maak nie, behoort hy nogtans geleer te word om fisiese arbeid te verrig. Sonder liggaamlike oefening kan niemand ‘n sterk gestel en kragtige gesondheid hê nie; en die dissipline van goed PeP 584.3

gereguleerde arbeid is nie minder noodsaaklik vir die versekering van ‘n sterk en aktiewe verstand en ‘n edele karakter nie. PeP 585.1

Elke student behoort ‘n gedeelte van elke dag aan aktiewe arbeid te bestee. So word gewoontes van vlytigheid gevorm en ‘n gees van selfvertroue aangemoedig, terwyl die jeug beskerm sal word teen baie bose en vernederende praktyke wat so dikwels die gevolg van ledigheid is. En dit is alles in ooreenstemming met die primêre doel van opvoeding, want deur die aanmoediging van aktiwiteit, ywer en reinheid, kom ons in harmonie met die Skepper. PeP 585.2

Laat die jeug gelei word om die doel van hul skepping te verstaan, om God te eer en hul medemens te seën; laat hulle die tere liefde sien wat die Vader in die hemel teenoor hulle openbaar het en die groot bestemming waarvoor die dissipline van hierdie lewe hulle moet voorberei, die waardigheid en eer waartoe hulle geroep word, selfs om kinders van God te word, en duisende sal hulle met minagting en afkeer van die lae en selfsugtige doelstellings en plesier wat hulle tot dusver betower het, wegdraai. Hulle sal leer om sonde te haat en dit te vermy, nie bloot uit die hoop op beloning of vrees vir straf nie, maar uit ‘n besef van die inherente laagheid daarvan, omdat dit ‘n verlaging van hul Godgegewe kragte sou wees, ‘n vlek op hul Goddelike manlikheid. PeP 585.3

God beveel nie die jeug om minder ambisieus te wees nie. Die elemente van die karakter wat ‘n mens suksesvol en geëerd onder mense maak-die onbedwingbare begeerte na groter welvaart, die onbuigbare wil, die veeleisende inspanning, die onvermoeide deursettingsvermoë-moenie onderdruk word nie. Deur die genade van God moet hulle so hoog bokant die selfsugtige en tydelike belange gerig word, as wat die hemele hoër as die aarde is. En die opleiding wat in hierdie lewe begin is, sal in die toekomstige lewe voortgesit word. Dag na dag sal die wonderlike werke van God, die bewyse van Sy wysheid en krag om die heelal te skep en te onderhou, die oneindige misterie van liefde en wysheid in die verlossingsplan, die verstand open in nuwe skoonheid. “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.” (1 Korinthiërs 2:9). Selfs in hierdie lewe kan ons ‘n blik van Sy teenwoordigheid PeP 585.4

kry en die vreugde van gemeenskap met die Hemel smaak, maar die volheid van die vreugde en die seën sal eers in die hiernamaals volkome bereik word. Die ewigheid alleen kan die glorieryke bestemming openbaar wat die mens, herstel na die beeld van God, kan bereik. PeP 586.1