Patriarge en Profete
Hoofstuk 57—Die Ark Deur die Filistyne Weggeneem
(Hierdie hoofstuk berus op 1 Samuel 3 tot 7) PeP 565.1
'n Verdere waarskuwing is aan die huis van Eli gerig. God kon nie met die hoëpriester en sy seuns kommunikeer nie; hulle sonde het soos ‘n dik wolk die teenwoordigheid van Sy Heilige Gees uitgesluit. Maar te midde van al hierdie boosheid, het die kind Samuel aan die Hemel getrou gebly en die boodskap van veroordeling aan die huis van Eli was aan Samuel, as profeet van die Allerhoogste, opgedra. PeP 565.2
“Die woord van die Here was skaars in die dae: gesigte was daar nie baie nie. In dié tyd dan, terwyl Eli op sy plek lê en slaap-sy oë het al begin swak word, sodat hy nie kon sien-toe die lamp van God nog nie doodgegaan het nie en Samuel lê en slaap in die tempel van die Here waar die ark van God was, het die Here na Samuel geroep.” Met die veronderstelling dat dit die stem van Eli was, het die kind hom na Eli se bed gehaas en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.” Die antwoord was: “Ek het nie geroep nie; gaan slaap maar weer.” Drie keer is Samuel geroep en drie keer het hy op dieselfde manier geantwoord. Toe was Eli oortuig dat die geheimsinnige oproep die stem van God was. Die Here het Sy uitverkore dienskneg, die grysaard, oor die hoof gesien om met ‘n kind te kommunikeer. Dit was opsigself reeds ‘n bittere, dog verdiende bestraffing vir Eli en sy huishouding. PeP 565.3
Daar was egter geen afgunstigheid of jaloesie in Eli se hart nie. Hy het Samuel aangesê om, indien hy weer geroep word, te antwoord: “Spreek, Here, want u kneg hoor.” Die stem is weer ‘n keer gehoor en die kind het geantwoord: “Spreek, want u kneg hoor.” Hy is met soveel ontsag gevul deur die gedagte dat die grote God met hom spreek, dat hy nie die presiese woorde wat Eli hom voorgesê het kon onthou nie. PeP 565.4
“Toe het die Here aan Samuel gesê: Kyk, Ek gaan ‘n ding doen in Israel waarvan elkeen wat dit hoor, se twee ore sal tuit. Dié dag sal Ek aan Eli vervul alles wat Ek oor sy huis het, van begin tot end. En Ek sal hom te kenne gee dat Ek sy huis gaan oordeel tot in ewigheid oor die ongeregtigheid wat hy geweet PeP 565.5
het; want toe sy seuns skande oor hulleself gebring het, het hy hulle nie streng bestraf nie. En daarom sweer Ek aangaande die huis van Eli: Waarlik die ongeregtigheid van die huis van Eli sal tot in ewigheid nie deur slagoffer of spysoffer versoen word nie.” PeP 566.1
Voordat hy hierdie boodskap van God ontvang het, het Samuel “...die Here nog nie geken nie; ook was die woord van die Here nog nie aan hom geopenbaar nie;” want hy was nie bekend met sulke regstreekse openbaringe soos wat aan die profete gegun was nie. Dit was die Here se doel om Homself op ‘n onverwagse wyse te openbaar, sodat Eli deur die verbasing en navraag van die jongeling daarvan te hore kon kom. PeP 566.2
Samuel was met vrees en verbasing gevul aan die gedagte van hierdie verskriklike boodskap wat aan hom opgedra is. Die volgende oggend het hy sy take soos gewoonlik verrig, maar daar was ‘n swaar las op sy jong hart. Die Here het hom nie beveel om die vreeslike veroordeling openbaar te maak nie en dus het hy geswyg en die teenwoordigheid van Eli sover moontlik vermy. Hy het gevrees dat een of ander vraag hom moontlik sou dwing om die Goddelike uitsprake teen die een wat hy liefgehad en eerbiedig het, te verduidelik. Eli was seker dat die boodskap ‘n groot ramp vir hom en vir sy huisgesin voorspel het. Hy het Samuel geroep en hom beveel om aan hom getrou te vertel wat die Here aan hom geopenbaar het. Die jongeling het gehoorsaam en die bejaarde man het in nederige onderwerping aan die verskriklike vonnis gekniel. Hy het gesê: “Hy is die Here; laat Hom doen wat goed is in sy oë.” PeP 566.3
Maar Eli het nie die vrugte van ware berou geopenbaar nie. Hy het sy skuld erken, maar het nie die sonde verloën nie. Jaar na jaar het die Here Sy dreigende oordele uitgestel. Gedurende daardie jare kon hy baie gedoen het om te vergoed vir die mislukkings van die verlede, maar die bejaarde priester het geen daadwerklike maatreëls getref om die euwels wat die heiligdom van die Here besoedel het en duisende Israeliete na die verderf gelei het, reg te stel nie. Die verdraagsaamheid van die Here het veroorsaak dat Hofni en Pinehas hulle harte verhard en meer vermetel in hulle oortreding geword het. Die boodskappe van waarskuwing en teregwysing aan sy huishouding, is deur Eli aan die hele volk bekend gemaak. Hierdeur het hy gehoop om die slegte invloed van sy vorige PeP 566.4
verwaarlosing tot ‘n sekere mate teen te werk. Maar die waarskuwings is deur die mense, net soos deur die priesters, verontagsaam. Die mense van die naburige nasies, wat nie onkundig was aangaande die ongeregtighede wat so openlik in Israel bedryf is nie, het ook meer vermetel in hulle afgodediens en misdade geword. Hulle het geen sin van berou oor hulle sonde gehad, soos wat hulle sou ervaar het indien die Israeliete hulle integriteit bewaar het nie. Maar die dag van vergelding het nader gekom. God se gesag is tersyde gestel en Sy aanbidding verwaarloos en verag en dit het vir Hom nodig geword om in te gryp sodat die eer van Sy Naam gehandhaaf kon word. PeP 567.1
“En Israel het uitgetrek vir die geveg, die Filistyne tegemoet en hulle het laer opgeslaan by Ebenhaeser; maar die Filistyne het laer opgeslaan by Afek.” Hierdie ekspedisie is deur die Israeliete onderneem sonder die raad van God en sonder oorleg met ‘n hoëpriester of profeet. “Toe die Filistyne hulle opstel om Israel te ontmoet en die geveg ontwikkel, is Israel voor die Filistyne verslaan; en hulle het op die vegterrein in die veld omtrent vierduisend man doodgeslaan.” Toe die verslane, mismoedige mag na die laer terugkeer, “...sê die oudstes van Israel: Waarom het die Here ons vandag voor die Filistyne verslaan?” Die volk was ryp vir die oordele van God en tog kon hulle nie insien dat hulle eie sondes die oorsaak van hierdie vreeslike ramp was nie. En hulle het gesê: “Laat ons die verbondsark van die Here uit Silo na ons toe bring, dat dit onder ons inkom en ons verlos uit die hand van ons vyande.” Die Here het geen opdrag of toestemming gegee dat die ark in hulle midde gebring moes word nie; tog was die Israeliete vol vertroue dat hulle die oorwinning sou behaal en het luid gejuig toe dit deur die seuns van Eli in die kamp gebring is. PeP 567.2
Die Filistyne het die ark vir die God van Israel aangesien. Al die magtige werke wat Jehova vir Sy volk gedoen het, is aan die krag daarvan toegeskryf. Toe hulle die gejuig hoor toe dit naderkom, het hulle gesê: “Watter geluid van ‘n groot krygsgeskreeu is dit in die laer van die Hebreërs? Toe verneem hulle dat die ark van die Here in die laer gekom het. En die Filistyne het bang geword, want hulle het gesê: God het in die laer gekom! En hulle het gesê: Wee ons, want so iets het gister en eergister nie gebeur nie. Wee ons! Wie sal ons red uit die hand van hierdie geweldige gode? Dit is dieselfde gode wat die PeP 567.3
Egiptenaars met allerhande plae getref het in die woestyn. Wees dapper en gedra julle soos manne, Filistyne, dat julle nie miskien die Hebreërs dien soos hulle julle gedien het nie; gedra julle dan soos manne en veg.” PeP 568.1
Die Filistyne het ‘n heftige aanval geloods wat ‘n nederlaag vir Israel met ‘n groot slagting tot gevolg gehad het. Dertigduisend man het dood in die veld gelê en die ark van God is weggeneem, nadat die twee seuns van Eli, in hulle stryd om dit te beskerm, gesneuwel het. So is daar weer op die bladsye van die geskiedenis, ‘n getuienis vir alle toekomstige eeue opgeteken; dat die ongeregtigheid van belydende mense van God nie ongestraf sal bly nie. Hoe groter die kennis van God se wil, hoe groter is die sonde van diegene wat dit verontagsaam. PeP 568.2
Die mees vreesaanjaendste ramp wat kon plaasvind het Israel getref. Die ark van God was weggeneem en in besit van die vyand. Die heerlikheid het inderdaad van Israel gewyk toe die simbool van die blywende teenwoordigheid en krag van Jehova uit hulle midde verwyder is. Die wonderbaarlikste openbarings van God se waarheid en krag is met hierdie kis geassosieer. In vorige jare is wonderlike oorwinnings behaal wanneer dit ook al verskyn het. Dit is deur die vlerke van die goue gerubs oorskadu en die onuitspreeklike heerlikheid van die Sjekina, die sigbare simbool van die allerhoogste God, het in die Allerheiligste daarop gerus. Maar nou het dit geen oorwinning gebring nie. Dit het by hierdie geleentheid geen beskerming gebied nie en daar was rou in die hele Israel. PeP 568.3
Hulle het nie besef dat hulle geloof slegs ‘n geloof in naam was nie en het die mag verloor het om saam met God te seëvier. Die wet van God wat in die ark was, was ook ‘n simbool van Sy teenwoordigheid; maar hulle het die gebooie versmaai, die vereistes daarvan verag en die Gees van die Here bedroef sodat Hy Hom uit hulle midde onttrek het. Toe die volk die heilige insettinge gehoorsaam het, was die Here saam met hulle om deur Sy oneindige krag vir hulle te werk, maar wanneer hulle na die ark gekyk het en dit nie met God geassosieer het nie en ook nie Sy geopenbaarde wil gehoorsaam het deur gehoorsaamheid aan Sy wet nie, kon dit hulle net so min help as ‘n gewone kis. Hulle het na die ark op dieselfde manier gekyk as wat die afgodsdienstige volke na hulle gode gekyk het, asof dit opsigself PeP 568.4
die elemente van krag en verlossing besit het. Hulle het die wet wat dit bevat, oortree; want hulle aanbidding van die ark het gelei tot vormgodsdiens, skynheiligheid en afgodery. Hulle sonde het hulle van God geskei en Hy kon nie aan hulle die oorwinning gee voordat hulle berou gehad het en hulle ongeregtigheid versaak het nie. PeP 569.1
Dit was nie genoeg dat die ark en die heiligdom in Israel se midde was nie. Dit was nie genoeg dat die priesters offerandes geoffer het en dat die volk die kinders van God genoem is nie. Die Here gee nie ag op die versoeke van diegene wat sonde in hulle harte koester nie; daar staan geskryf: “Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is ‘n gruwel.” (Spreuke 28:9). PeP 569.2
Toe die leër uitgetrek het om te veg, het Eli, wat blind en oud was, in Silo agtergebly. Met ‘n angstige voorbode het hy op die resultaat van die konflik gewag “...want hy was besorg oor die ark van God.” Terwyl hy buite die poort van die tabernakel sy plek ingeneem het, het hy dag na dag langs die grootpad gesit en angstig op die koms van ‘n boodskapper wat van die slagveld af kom, gewag. PeP 569.3
Uiteindelik het ‘n Benjaminiet “...met geskeurde klere en grond op sy hoof ...” van die slagveld af teen die opdraande wat na die stad toe lei, aangekom. Hy het verby die bejaarde man, sonder om hom op te merk, na die dorp gehaas en die berig van neerlaag en verlies aan die gretige skare meegedeel. PeP 569.4
Die klank van geween en klaagliedere het die wagter langs die tabernakel bereik. Die boodskapper is na hom toe geneem. En die man het aan Eli gesê: “Israel het voor die Filistyne gevlug en daar was ook ‘n groot neerlaag onder die manskappe en u twee seuns, Hofni en Pinehas, het ook gesterwe. ” So verskriklik soos dit was, kon Eli dit nog verdra, maar toe die boodskapper byvoeg: “En die ark van God is geneem...” het daar ‘n uitdrukking van onuitspreeklike smart oor sy aangesig gekom. Die gedagte dat sy sonde God tot so ‘n mate onteer het en die oorsaak was dat God Hom aan Israel onttrek het, was meer as wat hy kon verduur; sy krag het gewyk en hy het agteroor geval “...sodat hy sy nek gebreek en gesterf het.” PeP 569.5
Die vrou van Pinehas, nieteenstaande die goddeloosheid van haar haar man, was ‘n vrou wat die Here gevrees het. Die dood van haar skoonvader en haar eggenoot en bo alles, die vreeslike tyding dat die ark van God geneem is, het haar dood veroorsaak. Sy het gevoel dat Israel se laaste hoop verlore was en aan die kind wat in hierdie haglike uur gebore is, het sy die naam Ikabod, “geen heerlikheid,” gegee. Met haar sterwende asem het sy treurig die woorde herhaal: “Weggevoer is die eer uit Israel, omdat die ark van God geneem is.” PeP 570.1
Maar die Here het nie Sy volk volkome verwerp nie en sou ook nie die gejuig van die heidene vir lank verduur nie. Hy het die Filistyne as instrument om Israel te straf gebruik en Hy het die ark gebruik om die Filistyne te straf. In die verlede het die Teenwoordigheid van God dit vergesel om die krag en glorie van Sy gehoorsame volk te wees. Daardie onsigbare Teenwoordigheid sou dit steeds vergesel om vrees en vernietiging oor die oortreders van Sy heilige wet te bring. Die Here gebruik dikwels Sy bitterste vyande om die troueloosheid van Sy belydende volk te straf. Die goddeloses mag vir ‘n tyd seëvier wanneer hulle die straf van Israel aanskou, maar die tyd sou aanbreek wanneer hulle ook die vonnis van ‘n heilige God wat sonde haat, sou moes teëkom. Oral waar sonde gekoester word, sal die Goddelike oordele, vinnig en onfeilbaar volg. PeP 570.2
Die Filistyne het die ark juigend na Asdod, een van hulle vyf vernaamste stede geneem en daar het hulle dit in die huis van hulle god Dagon gesit. Hulle het hulle verbeel dat hulle nou die krag wat tot dusver die ark vergesel het besit en dat dit, met die mag van Dagon verenig, hulle onoorwinlik sou maak. Maar toe hulle die volgende dag in die tempel kom, sien hulle ‘n gesig wat hulle met ontsetting gevul het. Dagon het op sy gesig, op die grond voor die ark van Jehova neergeval. Die priesters het die afgodsbeeld eerbiediglik opgelig en terug op sy plek gesit. Maar die volgende oggend het hulle dit, vreemd vermink, weer op die grond voor die ark aangetref. Die boonste gedeelte van hierdie afgod was soos ‘n mens en die onderste gedeelte soos ‘n vis. Hierdie keer was elke deel wat ooreengestem het met die vorm van ‘n mens afgebreek en net die deel van die vis het oorgebly. Priesters en volk was verskrik; hulle het die geheimsinnige gebeurtenis vir ‘n onheilsteken aangesien, wat die vernietiging van hulle volk en hulle afgode deur die God van die Hebreërs PeP 570.3
voorspel het. Hulle het nou die ark uit hulle tempel verwyder en dit in ‘n afsonderlike gebou geplaas. PeP 571.1
“n Ontstellende en dodelike siekte het die inwoners van Asdod getref. Gedagtig aan die plae waarmee die God van Israel Egipte getref het, het die mense hulle siekte aan die ark in hulle midde toegeskryf. Hulle het besluit om dit na Gat te stuur. Maar die plaag het kort op die hakke daarvan gevolg en die mense van daardie stad het besluit om dit na Ekron te stuur. Hier het die mense dit met vrees begroet en uitgeroep: “Hulle het die ark van die God van Israel na my toe oorgebring om my en my volk dood te maak.” Hulle het, soos die mense van Gat en Asdod, na hulle gode vir beskerming gedraai; maar die werk van die verderwer het voortgegaan en “...die hulpgeroep van die stad het na die hemel opgeklim”. Bevrees om die ark langer tussen die mense se wonings te hou, het die mense dit vervolgens in die oop veld gesit. Daarop het ‘n plaag van muise, wat die land besmet en die grond produkte vernietig het, beide in die pakhuis en in die veld gevolg. Totale vernietiging deur siekte of hongersnood het die nasie nou bedreig. PeP 571.2
Vir sewe maande het die ark in die land van die Filistyne gebly en gedurende hierdie hele tyd het die Israeliete geen poging aangewend om dit terug te kry nie. Maar die Filistyne was nou net so gretig om van die teenwoordigheid daarvan ontslae te raak as wat hulle voorheen was om dit in die hande te kry. In stede van ‘n bron van krag vir hulle te wees, was dit ‘n groot las en swaar vervloeking. Maar hulle het nie geweet watter koers hulle moet volg nie; want oral waar dit gegaan het, het die oordele van God gevolg. Die volk het die owerstes, saam met die priesters en waarsêers versoek en gretig verneem: “Wat moet ons met die ark van die Here doen? Gee ons te kenne waarmee ons dit na sy plek kan wegstuur.” Hulle is aangeraai om dit met ‘n duur skuldoffer terug te stuur. “Dan...” het die priesters gesê, “...sal julle gesond word en dit sal julle bekend word waarom sy hand nie van julle wyk nie.” PeP 571.3
Om ‘n plaag af te weer of te verwyder, was dit eertyds die gewoonte onder die heidene om ‘n beeld van goud, silwer of ander materiaal te maak, van dit wat die vernietiging veroorsaak het, of die voorwerp, of ‘n deel van die liggaam wat spesifiek geraak is. Dit was op ‘n pilaar of op ‘n opvallende plek gesit wat PeP 571.4
veronderstel was om effektiewe beskerming teen die euwels wat aldus voorgestel word te bied. Dieselfde praktyk bestaan steeds onder sommige heidense nasies. Wanneer iemand wat aan ‘n siekte ly na die tempel van sy afgod gaan om genees te word, neem hy ‘n beeldjie van die liggaamsdeel wat aangetas is saam met hom, as ‘n offer aan sy afgod. PeP 572.1
Dit was ooreenkomstig hierdie heersende bygeloof dat die owerstes van die Filistyne die mense beveel het om voorstellings van die plae waardeur hulle geteister is te maak-“vyf goue geswelle en vyf goue muise, want...” het hulle gesê, “...dit is een plaag oor hulle almal en oor julle vorste.” PeP 572.2
Hierdie wyse manne het erken dat ‘n geheimsinnige krag die ark vergesel-'n krag wat hulle nie die wysheid gehad het om teen te staan nie. Nogtans het hulle nie die mense aangeraai om weg te draai van hulle afgodery en die Here te dien nie. Hulle het steeds die God van Israel gehaat alhoewel hulle deur oorweldigende oordele gedwing is om hulle aan Sy gesag te onderwerp. So kan sondaars deur die oordele van God oortuig word dat dit nutteloos is om teen Hom te stry. Hulle kan selfs gedwing word om hulle aan Sy krag te onderwerp terwyl hulle steeds in hulle harte teen Sy beheer rebelleer. Sulke onderdanigheid kan die sondaar nie red nie. Die hart moet aan God oorgegee word-moet deur Die genade van God onderdanig wees-voordat die berou van die mens aanvaar kan word. PeP 572.3
Hoe groot is die lankmoedigheid van God teenoor die goddeloses! Die afgodiese Filistyne en die afvallige Israel het albei die gawes van Sy voorsienigheid geniet. Tienduisende weldade het stilweg op die pad van die ondankbare, rebelliese mense geval. Elke seën het met hulle oor die Gewer gespreek, maar hulle was onverskillig teenoor Sy liefde. Die verdraagsaamheid van God was baie groot teenoor die mensekinders, maar toe hulle hardnekkig volgehou het met hulle onboetvaardigheid, het Hy Sy beskermende hand oor hulle onttrek. Hulle het geweier om na die stem van God in Sy geskape werke te luister en in die waarskuwings, raad en teregwysing van Sy Woord en daarom is Hy gedwing om met hulle deur oordele te spreek. PeP 572.4
Daar was sommige van die Filistyne wat gereed was om die terugkeer van die ark na sy eie land teë te gaan. So ‘n erkenning van die krag van Israel se God sou vernederend vir die trots van Filistia wees. Maar “...die priesters en die waarsêers...” het die volk vermaan om nie die hardkoppigheid van Farao en die Egiptenare na te boots nie en sodoende nog groter verdrukking oor hulle te bring nie. ‘n Plan wat almal se goedkeuring weggedra het, is toe voorgestel en onmiddellik tot uitvoer gebring. Die ark, met die goue skuldoffer, is op ‘n nuwe wa, wat die gevaar van besoedeling uitgesluit het, geplaas; aan hierdie wa, is twee koeie ingespan op wie se nek daar nog nooit ‘n juk geplaas is nie. Die kalwers is tuis opgesluit en die koeie is losgelaat om te gaan waar hulle wou. Indien die ark dan via Bet-Semes, die naaste stad van die Leviete, na die Israeliete sou terugkeer, sou die Filistyne dit as bewys dat die God van Israel hierdie groot onheil oor hulle gebring het aanvaar, “...maar so nie...” het hulle gesê, “...dan weet ons dat sy hand ons nie getref het nie: dit het toevallig oor ons gekom.” PeP 573.1
Toe hulle losgelaat is, het die koeie hulle kalwers verlaat en al bulkende direk die pad na Bet-Semes gevolg. Deur geen menslik hand gelei nie, het die geduldige diere op hulle koers gebly. Die Teenwoordigheid van God het die ark vergesel en dit het veilig voortbeweeg na die plek wat daarvoor aangewys is. PeP 573.2
Dit was nou die tyd van die koringoes en die manne van Bet-Semes het in die vallei die oes ingesamel. “Toe hulle dan hul oë opslaan en die ark gewaar, was hulle bly om dit te sien. En die wa het by die land van Josua van Bet-Semes gekom en daar gaan staan; daar was ‘n groot klip en hulle het die hout van die wa gekloof en die koeie as ‘n brandoffer aan die Here geoffer.” Die vorste van die Filistyne wat die ark “...tot by die grens van Bet-Semes...” gevolg het en getuie van die ontvangs daarvan was, is nou terug na Ekron. Die plaag het opgehou en hulle was oortuig dat die onheil wat hulle getref die oordeel van die God van Israel was. PeP 573.3
Die mense van Bet-Semes het spoedig die tyding versprei dat die ark in hulle besit was en die mense van die omliggende landstreek het daarheen gestroom om die terugkeer daarvan te verwelkom. Die ark is op die klip wat voorheen as altaar gedien het geplaas en verdere offers is aan die Here geoffer. Indien die aanbidders hulle van hulle sondes bekeer het, sou die seën van PeP 573.4
die Here op hulle gerus het, maar hulle het nie Sy wet getrou gehoorsaam nie en terwyl hulle hul oor die terugkeer van die ark, as ‘n voorloper van iets goeds verheug het, het hulle geen besef van die heiligheid daarvan gehad nie. In stede dat hulle ‘n geskikte plek vir die ontvangs daarvan voorberei het, het hulle toegelaat dat dit in die oesland bly. Terwyl hulle aanhou om na die heilige kis te kyk en oor die wonderbaarlike terugkeer daarvan gepraat het, het hulle begin wonder waar die besondere krag daarvan skuil. Uiteindelik is hulle deur nuuskierigheid oormeester en het hulle die bedekkings verwyder en gewaag om dit oop te maak. PeP 574.1
Die hele Israel is geleer om die ark met ontsag en eerbied te bejeën. Wanneer dit nodig was om dit van plek tot plek te vervoer, was nie eers die Leviete toegelaat om daarna te kyk nie. Slegs een keer per jaar is die hoëpriester toegelaat om die ark van God te aanskou. Selfs die heidense Filistyne het dit nie gewaag om die bedekkings te verwyder nie. Engele van die hemel het dit ongesiens in al die omswerwinge begelei. Die oneerbiedige waaghalsigheid van die mense van Bet-Semes is spoedig gestraf. Baie van hulle is met ‘n skielike dood getref. PeP 574.2
Die oorlewendes is nie deur hierdie oordeel tot bekering van hulle sonde gelei nie, maar het die ark net met ‘n bygelowige vrees bejeën. Gretig om van die teenwoordigheid van die ark bevry te word, maar nie gewaag het om dit self te verwyder nie, het die inwoners van Bet-Semes ‘n boodskap na die inwoners van Kirjat-Jearim genooi om dit te kom wegneem. Met groot vreugde het die mense van hierdie plek dit verwelkom. Hulle het geweet dat dit die Belofte van God vir gehoorsame en getroue mense was. Met plegtige vreugde het hulle dit na hulle stad geneem en in die huis van Abinadab, ‘n Leviet, gesit. Hierdie man het sy seun Eleasar aangestel om dit onder sy sorg te neem en daar het dit vir baie jare gebly. PeP 574.3
Gedurende die jare sedert die Here Homself teenoor die seun van Hanna openbaar het, is Samuel se oproep tot die profetiese amp deur die hele nasie erken. Deur die waarskuwing van God aan die huis van Eli getrou te lewer, pynlik en onaangenaam soos die plig was, het Samuel getuig van sy getrouheid as boodskapper van Jehova; “...en die Here was met hom; en Hy het nie een van al sy woorde onvervuld laat bly nie. PeP 574.4
En die hele Israel van Dan tot Berséba het erken dat Samuel betroubaar was as ‘n profeet van die Here.” PeP 575.1
As volk het die Israeliete steeds in ‘n staat van ongodsdienstigheid en afgodery voortgegaan en as straf is hulle aan die Filistyne onderwerp. Gedurende hierdie tyd het Samuel die stede en dorpe van die hele land besoek en probeer om die harte van die mense tot die God van hulle vaders te wend; en sy pogings was nie sonder goeie resultate nie. Nadat hulle vyande hulle twintig jaar lank onderwerp het, het die Israeliete “...agter die Here aan geweeklaag.” Samuel het hulle aangeraai: “As julle met jul hele hart julle tot die Here bekeer, verwyder dan die vreemde gode en die Astartes onder julle uit en rig julle hart op die Here en dien Hom alleen.” Hieruit sien ons dat praktiese vroomheid en godsdiens van die hart in die dae van Samuel, op dieselfde wyse soos deur Christus toe Hy op aarde was geleer is. Sonder die genade van Christus was die uiterlike vorms van godsdiens vir antieke Israel waardeloos. Dieselfde geld vir die moderne Israel. PeP 575.2
Daar bestaan tans ‘n behoefte vir dieselfde herlewing van ware hartsgodsdiens soos wat deur antieke Israel ervaar is. Berou is die eerste stap vir elkeen wat na God wil terugkeer. Niemand kan hierdie werk namens ‘n ander verrig nie. Ons moet ons siele persoonlik voor God verootmoedig en ons afgode verwyder. As ons alles in ons vermoë gedoen het, sal die Here Sy verlossing aan ons openbaar. PeP 575.3
Met die samewerking van die hoofde van die stamme is ‘n groot vergadering Mispa by byeengebring. Hier is plegtig gevas. Met diepe vernedering het die volk hulle sondes bely; en as bewys van hulle vasberadenheid om die opdragte wat hulle ontvang het te gehoorsaam, het hulle Samuel met die gesag van ‘n rigter beklee. PeP 575.4
Die Filistyne het hierdie vergadering as ‘n krygsraad beskou en met ‘n sterk mag beplan om die Israeliete uitmekaar te jaag voordat hulle planne volbring kon word. Die tyding van hulle aantog, het groot verskrikking in Israel veroorsaak. Die volk het Samuel gevra: “Laat nie na om die Here onse God vir ons aan te roep nie, dat Hy ons uit die hand van die Filistyne verlos.” PeP 575.5
Terwyl Samuel besig was om ‘n lam as brandoffer aan te bied, het die Filistyne nader gekom vir die geveg. Toe het die Magtige Een wat met vuur, rook en donder op Sinai neergedaal het en wat die Rooi See oopgekloof en vir die kinders van Israel ‘n weg deur die Jordaan gebaan het, weer Sy krag openbaar. ‘n Verskriklike storm het bokant die naderende menigte losgebars en die aarde was besaai met die lyke van sterk krygers. PeP 576.1
Die Israeliete het met stille ontsag gestaan en bewe van hoop en vrees. Toe hulle die slagting van hulle vyande sien, het hulle geweet dat God hulle berou aanvaar het. Alhoewel hulle nie op ‘n oorlog voorbereid was nie, het hulle die wapens van die gevalle Filistyne gegryp en die vlugtende leër tot by Bet-Kar agtervolg. Hierdie betekenisvolle oorwinning is behaal op dieselfde slagveld waar die Filistyne hulle twintig jaar vantevore verslaan, die priesters gedood en die ark van God gebuit het. Vir sowel nasies as individue, is die weg van gehoorsaamheid aan God die weg van veiligheid en geluk, terwyl die oortreding slegs tot rampe en nederlae lei. Die Filistyne was nou so deeglik verslaan dat hulle die vestings wat hulle van die Israeliete afgeneem het, teruggegee het en jare lank geen vyandelikhede meer voortgesit het nie. Ander nasies het hulle voorbeeld gevolg en die Israeliete het vrede geniet totdat Samuel se alleen-leierskap tot ‘n einde gekom het. PeP 576.2
Sodat die gebeurtenis nooit vergeet moes word nie, het Samuel tussen Mispa en Sen ‘n groot klip as gedenkteken opgerig. Hy het dit Ebenhaeser “die steen van hulp” genoem en aan die volk gesê: “Tot hiertoe het die Here ons gehelp.” PeP 576.3