Patriarge en Profete
Hoofstuk 54—Simson
(Hierdie hoofstuk berus op Rigters 13 tot 16) PeP 541.1
Te midde van die wyd verspreide afvalligheid het die getroue aanbidders van God voortgegaan om by Hom te pleit vir die verlossing van Israel. Al was daar blykbaar geen reaksie nie en al het die mag van die onderdrukker jaar na jaar voortgegaan om swaarder op die land te rus, het God se voorsienigheid gereed gemaak om hulle te hulp te kom. Reeds in die beginjare van die verdrukking van die Filistyne, is ‘n kind gebore deur wie God beplan het om die mag van hierdie magtige vyande te verbreek. PeP 541.2
Op die grens van die gebergtes, met ‘n uitsig oor die vlakte van die Filistyne, was die klein dorpie Sorea. Hier het die gesin van Manoag, van die stam van Dan gewoon, een van die min huishoudings wat, te midde van die algemene afvalligheid, getrou aan Jehova gebly het. Aan die kinderlose vrou van Manoag het “...die Engel van die Here...” verskyn met die boodskap dat sy ‘n seun sou baar deur wie God sou begin om Israel te verlos. In die lig hiervan, het die Engel aan haar opdrag aangaande haar eie gewoontes en ook vir die versorging van haar kind gegee: “Neem jou dan nou tog in ag en drink geen wyn of sterk drank nie en eet niks wat onrein is nie.” En dieselfde beperkinge moes van die begin af op die kind van toepassing wees met die toevoeging dat sy hare nie gesny moes word nie; want hy moes van sy geboorte af, as ‘n nasireër, aan God gewy word. PeP 541.3
Die vrou het haar man opgesoek en nadat sy die Engel aan hom beskryf het, het sy sy boodskap herhaal. Daarna, bevrees dat hulle ‘n fout sou begaan in die belangrike werk wat aan hulle toevertrou is, het die man gebid: “Laat tog die man van God wat U gestuur het, nog ‘n keer na ons toe kom, dat hy ons kan leer hoe ons moet maak met die seun wat gebore sal word.” PeP 541.4
Toe die Engel weer verskyn, het Manoag angstig verneem: “Wat moet die leefwyse en die werk van die seun wees?” Die vorige opdrag is herhaal: “Vir alles wat Ek aan die vrou gesê het, moet sy haar in ag neem. Van alles wat van die wingerdstok afkomstig is, mag sy nie eet nie; en geen wyn of sterk drank PeP 541.5
moet sy drink nie en niks eet wat onrein is nie; alles wat Ek haar beveel het, moet sy onderhou.” PeP 542.1
God het ‘n belangrike taak vir die beloofde kind van Manoag gehad om te verrig en om hom toe te rus met die bevoegdhede wat vir hierdie werk nodig was, was dit nodig dat die gewoontes van beide die moeder en die kind versigtig gereguleer moes word. Aangaande Manoag se vrou het die Engel beveel: “Geen wyn of sterk drank moet sy drink nie en niks eet wat onrein is nie; alles wat Ek haar beveel het, moet sy onderhou.” Die kind sal, ten goede of ten kwade, deur die moeder se gewoontes beïnvloed word. Sy moet self deur beginsel beheer word en moet selfbeheersing en selfonthouding toepas indien sy strewe vir die welsyn van haar kind. Onkundige raadgewers sal by die moeder aandring om elke wens en impuls te bevredig, maar sulke raad is vals en skadelik. Die moeder is, op bevel van God Self, onder die mees plegtige verpligting geplaas om selfbeheer toe te pas. PeP 542.2
En vaders, sowel as moeders is by hierdie verantwoordelikheid betrokke. Beide ouers dra hulle eie karaktertrekke, geestelik en fisies, hulle geneigdhede en belustigheid, oor op hulle kinders. As gevolg van ouerlike oordadigheid lei kinders dikwels aan ‘n tekort aan fisiese, geestelike en morele krag. Verbruikers van alkoholiese drank en tabak kan en sal hulle onversadigbare drang, hulle ontsteekte bloed en prikkelbare senuwees, op hulle kinders oordra. Die losbandiges bemaak dikwels hulle onheilige begeertes en selfs hulle afstootlike siektes as nalatenskap aan hulle kinders. En omdat die kinders minder krag as hulle ouers het om versoeking te weerstaan, is die neiging vir elke geslag, om laer as die vorige te daal. Ouers is in ‘n groot mate verantwoordelik, nie net vir die gewelddadige drifte en verwronge luste van hulle kinders nie, maar ook vir die swakhede van duisende wat doof, blind, sieklik en verstandelik gestrem gebore word. PeP 542.3
Elke vader en elke moeder behoort te verneem: “Hoe moet ons die kind grootmaak wat vir ons gebore sal word?” Die effek van voorgeboortelike invloede word deur baie ligtelik afgemaak; maar die opdrag van die hemel wat aan daardie Hebreeuse ouers gestuur is en twee keer duidelik en plegtig herhaal is, toon hoe hierdie saak deur die Skepper beskou word. PeP 542.4
Dit was nie voldoende dat die beloofde kind ‘n goeie nalatenskap van sy ouers ontvang nie. Dit moes opgevolg word deur versigtige opleiding en vorming van korrekte gewoontes. God het opdrag gegee dat die toekomstige rigter en verlosser van Israel van kleins af die reëls van streng selfbeheersing geleer moes word. Hy moes van geboorte af ‘n nasireër wees en dus is ‘n lewenslange verbod op hom geplaas teen die gebruik van wyn of sterk drank. Die lesse van matigheid, selfverloëning en selfbeheersing behoort aan kinders, selfs vanaf die baba-stadium geleer te word. PeP 543.1
Die Engel het haar ook belet om iets te eet wat “onrein is.” Die onderskeiding tussen rein en onrein voedsel was nie slegs ‘n seremoniële en arbitrêre regulasie nie, maar was op higiëniese beginsels gegrond. Hierdie onderskeid kan tot ‘n groot mate nagespeur word in die wonderbaarlike lewenskrag wat die Joodse volk vir duisende jare onderskei het. Die beginsels van matigheid moet verder gevoer word as slegs die gebruik van alkoholiese drank. Die gebruik van stimulerende en onverteerbare voedsel, is dikwels net so nadelig vir die gesondheid en saai dikwels die sade van dronkenskap. Ware matigheid leer ons om heeltemal af te sien van alles wat skadelik is en om dit wat gesond is, oordeelkundig te gebruik. Daar is min mense wat besef, soos hulle hoort, watter invloed hulle eetgewoontes op hulle gesondheid, karakter, bruikbaarheid in hierdie wêreld en hulle ewige bestemming het. Die belustigheid moet altyd onderworpe wees aan die sedelike en intellektuele vermoëns. Die liggaam moet die slaaf van die verstand wees en nie die verstand van die liggaam nie. PeP 543.2
Die Belofte van God aan Manoag is mettertyd vervul met die geboorte van ‘n seun aan wie hy die naam Simson gegee het. Namate die seun grootgeword het, was dit duidelik dat hy fisies uitsonderlik sterk was. Dit was egter nie, soos Simson en sy ouers goed geweet het, te danke aan sy sterk spiere nie, maar aan die feit dat hy ‘n nasireër was, waarvan sy ongeskeerde hare ‘n simbool was. Indien Simson die opdragte van God net so getrou soos sy ouers gehoorsaam het, sou sy eindbestemming veel edeler en gelukkiger gewees het. Maar omgang met afgodsdienaars het hom gekorrupteer. Omdat die dorpie Sorea naby die land van die Filistyne was, het Simson op vriendelike voet met hulle verkeer. So het daar in sy jeug ‘n intimiteit PeP 543.3
ontstaan wat sy hele latere lewe beïnvloed en verdonker het. Hy het verlief geraak op ‘n jong vrou in die Filistynse dorp Timna en besluit om met haar te trou. Aan sy godvresende ouers wat hom probeer afraai het, het hy net geantwoord: “Sy geval my.” Sy ouers het uiteindelik maar aan sy begeerte toegegee en die huwelik het plaasgevind. PeP 544.1
Toe hy egter die ouderdom van manlikheid bereik het, die tyd toe hy sy Goddelike roeping moes uitvoer, die tyd toe hy bo alles getrou aan God moes wees, het Simson hom aan die vyande van Israel verbind. Hy het nie verneem of hy God meer sou kon verheerlik wanneer hy met die voorwerp van sy keuse verenig was nie en of hy homself in ‘n posisie geplaas het waarin hy sy lewensdoel sou kon vervul het nie. Aan almal wat eers daarna strewe om Hom te vereer, het God wysheid belowe; maar daar is geen belofte aan diegene wat daarop ingestel is om hulleself te behaag nie. PeP 544.2
Hoeveel volg dieselfde koers as Simson! Hoe dikwels vind daar huwelike tussen gelowiges en ongelowiges plaas, omdat ‘n geneigdheid die keuse van ‘n man of vrou beheer. Die partye vra nie na die raad van God nie en hou ook nie Sy heerlikheid voor oë nie. Christenskap behoort ‘n beherende invloed op die huweliksverhouding te hê, maar dit is dikwels die geval dat die beweegredes wat tot hierdie verhouding aanleiding gegee het, nie in lyn met die Christelike beginsels is nie. Die Satan is voortdurend daarop uit om sy mag oor die volk van God, deur hulle oor te haal om ‘n alliansie met sy onderdane te sluit, te verstewig; en om dit te vermag, strewe hy daarna om onheilige drange in die hart op te wek. Maar die Here het in Sy woord duidelike instruksies aan Sy volk gegee, om nie hulleself met diegene wat nie met Sy liefde gevul is, te verbind nie. “Watter ooreenstemming het Christus met Belial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode?” (2 Korinthiërs 6:15,16). PeP 544.3
Tydens sy huweliksfees het Simson in ‘n vertrouensverhouding met diegene wat die God van Israel gehaat het, verkeer. Wie ook vrywilliglik by sulke verhoudings betrokke raak, sal genoodsaak voel om tot ‘n sekere mate, aan te pas by die gewoontes en gebruike van sy metgeselle. Tyd wat op hierdie wyse deurgebring word, is meer as verspil. Gedagtes PeP 544.4
word gekoester en woorde word geuiter wat neig om die vestings van beginsels af te breek en die siel te verswak. PeP 545.1
Die vrou wat Simson gekry het, wat die oorsaak was dat hy die gebod van God te oortree, het nog voor die einde van die huweliksfees van ontrouheid aan haar man getuig. Woedend oor hierdie verraad, het Simson haar verlaat en vir ‘n tyd alleen na sy huis in Sorea gegaan. Toe hy egter later toegeefliker word en sy bruid weer gaan opsoek, het hy ontdek dat sy met ‘n ander man getrou het. Om wraak te neem, het hy die Filistyne se landerye en wingerde verwoes, maar dit het hulle beweeg om haar te vermoor, hoewel dit as gevolg van hulle dreigemente was dat sy gedwing was om die verraad, wat die moeilikheid begin het, te pleeg. Simson het reeds sy buitengewone krag bewys deur eiehandig ‘n leeu dood te maak en dertig manne van Askelon om die lewe te bring. Nou, woedend oor die barbaarse moord op sy vrou, het hy die Filistyne aangeval en “...in ‘n groot slagting...” verslaan. En daarna met ‘n behoefte aan ‘n veilige skuilplek van sy vyande, het hy “...in die rotskloof van Etam...” in die stam Juda gaan skuil. PeP 545.2
“n Sterk mag het hom daarheen agtervolg en die bewoners van Juda, in groot alarm, het op ‘n gemene wyse ingewillig om hom aan sy vyande uit te lewer. Drieduisend manne van Juda het gevolglik na hom gegaan. Maar selfs met sulke getalle sou hulle nie gewaag het om hom te nader as hulle nie seker was dat hy sy eie landgenote nie skade sou aandoen nie. Simson het ingestem dat hulle hom kon vasbind en aan die Filistyne uitlewer, maar hy het hulle eers laat belowe dat hulle hom nie self sou aanval, in welke geval hy gedwing sou om hulle te vernietig nie. Hy het hulle toegelaat om hom met twee nuwe toue te bind en hy is in die kamp van sy vyande te midde van groot vreugde ingebring. Maar terwyl hulle gejuig in die heuwels opgeklink het, het die Gees van Jehova met mag oor hom gekom. Hy het die nuwe toue uitmekaar gebreek asof dit vlas wat in vuur verbrand het. Toe gryp hy die eerste wapen wat hy in die hande kon kry, wat, hoewel dit slegs die kakebeen van ‘n esel was, baie doeltreffend as ‘n swaard of ‘n spies in sy hand was en hy het die Filistyne verslaan totdat hulle vreesbevange op die vlug geslaan en duisend man dood in die veld agtergelaat het. PeP 545.3
Indien die Israeliete op daardie stadium bereid was om met Simson te verenig en die oorwinning op te volg, kon hulle hulself van die mag van hulle verdrukkers bevry het. Maar hulle het moedeloos en lafhartig geword. Hulle het die werk wat God hulle beveel het, om die heidene te verdryf, verwaarloos en het met hulle in hul aftakelende praktyke verenig, hulle wreedheid verduur en, solank dit nie teen hulle gemik was nie, selfs hulle ongeregtigheid goedgekeur. Toe hulle self onder die mag van die verdrukker gebring is, het hulle hulself gedwee aan die aftakeling, waarvan hulle moontlik sou ontsnap het indien hulle God gehoorsaam het, onderwerp. Selfs toe die Here vir hulle ‘n verlosser opgewek het, het hulle hom dikwels in die steek gelaat en hulself saam met sy vyande geskaar. PeP 546.1
Na hierdie oorwinning het die Israeliete Simson as hulle rigter aangestel en hy het twintig jaar geregeer. Maar een misstap berei die weg vir ‘n verdere misstap voor. Simson het die bevel van God oortree deur vir hom ‘n vrou uit die Filistyne te neem en nou het hy dit weer tussen hulle, sy dodelike vyande, gewaag deur toe te gee aan ontoelaatbare wellus. Met vertroue in sy groot krag wat sulke vrees by die Filistyne ingeboesem het, het hy met vrypostigheid na Gasa gegaan om ‘n hoer van daardie plek te besoek. Die inwoners van die stad het gehoor dat hy daar was en hulle was gretig om wraak te neem. Hulle vyand was veilig vasgekeer binne die mure van een van die stede wat die sterkste van al hulle stede verskans was; hulle was verseker van hulle prooi en het net tot die oggend gewag om hulle oorwinning te voltooi. Om middernag het Simson wakker geword. Die beskuldigende stem van sy gewete het hom met berou gevul toe hy onthou het dat hy sy gelofte as nasireër verbreek het. Maar ondanks sy sonde het die genade van God hom nie versaak nie. Sy geweldige krag het weer gedien om hom te verlos. Hy het die hek van die stadspoort uit sy plek geruk en dit met die pale en stawe, na die kruin van die heuwel op pad na Hebron gedra. PeP 546.2
Maar selfs hierdie noue ontkoming het nie ‘n einde aan sy sondige weë gebring nie. Hy het dit nie weer tussen die Filistyne gewaag nie, maar het voortgegaan om toe te gee aan daardie sensuele plesiere wat tot sy ondergang sou lei. “Daarna het hy ‘n vrou in die dal Sorek...” nie ver van sy geboorteplek af nie, liefgekry. Haar naam was Delila, “die vernietiger.” Die dal Sorek PeP 546.3
was bekend vir sy wingerde; dit het ook ‘n versoeking vir die onstandvastige Nasireër geword, wat reeds begin wyn drink het en sodoende nog ‘n band wat hom aan reinheid en aan God verbind het, verbreek. Die Filistyne het ‘n waaksame oog oor die bewegings van hulle vyand gehou en toe hy hom met hierdie nuwe verhouding verlaag, het hulle besluit om hom, deur Delila, tot ‘n val te bring. PeP 547.1
“n Afvaardiging wat uit een elk van die vooraanstaande manne vanuit die Filistynse provinsies bestaan het, is na Sorek gestuur. Hulle kon dit nie waag om hom te vang terwyl hy nog sy groot krag besit het nie, maar hulle wou, indien moontlik, uitvind wat die geheim daarvan was. Daarom het hulle Delila omgekoop om dit te ontdek en aan hulle te verklap. PeP 547.2
Toe die verleidster Simson met haar vrae bestook het, het hy haar bedrieg deur te verklaar dat hy net so swak soos die ander manne sou word indien sekere prosesse gevolg word. Toe sy dit op die proef stel, is die bedrog ontdek. Toe het sy hom van leuens beskuldig en gesê: “Hoe kan jy sê: Ek het jou lief! terwyl jou hart nie met my is nie? Drie maal het jy my nou al bedrieg en my nie meegedeel waardeur jou krag so groot is nie.” Drie keer het Simson die duidelikste bewys ontvang dat die Filistyne met sy verleidster saamgesweer het om hom te vernietig; maar toe sy nie in haar doel kon slaag nie, het sy die saak as ‘n grap afgemaak en hy het die vrees blindelings verban. PeP 547.3
Dag na dag het Delila by hom aangedring, totdat hy “...so ongeduldig geword...” het “...dat hy kon sterf;” maar steeds het ‘n subtiele mag hom aan haar sy gehou. Eindelik het Simson geswig en sy geheim aan haar bekend gemaak. “Daar het nooit ‘n skeermes oor my hoof gekom nie, want ek is ‘n nasireër van God van my moeder se skoot af: as ek geskeer sou word, sou my krag van my wyk en ek swak word en wees soos al die mense.” Sy het dadelik ‘n bode na die vorste van die Filistyne gestuur met ‘n boodskap dat hulle onmiddellik na haar toe moes kom. Terwyl die krygsman geslaap het, is die swaar haarlokke afgeskeer. En toe roep sy, soos sy reeds drie keer vantevore gedoen het: “Die Filistyne is op jou, Simson!” Hy het skielik wakker geskrik en gedink hy sou sy krag soos voorheen gebruik en hulle vernietig; maar sy kragtelose arms het geweier om sy bevele uit te voer en hy het geweet “...dat die Here van hom gewyk het.” Toe sy hare afgeskeer is, het Delila begin om hom PeP 547.4
kwaad te maak en te pynig om sy krag op die proef te stel, want die Filistyne was nie gewillig om naby hom te kom tensy hulle verseker was dat sy krag werklik gewyk het nie. Toe het hulle hom gegryp en nadat hulle altwee sy oë uitgesteek het, het hulle hom na Gasa geneem. Daar is hy met kettings gebind en in hulle gevangenis aan dwangarbeid onderwerp. PeP 548.1
Wat ‘n verandering vir die man wat die rigter en kampioen van Israel was! Nou was hy swak, blind, ‘n gevangene en tot die mees vernederendste diens verlaag. Hy het geleidelik die voorwaardes van sy heilige roeping geskend. God was lankmoedig teenoor hom; maar toe hy hom so aan die mag van die sonde oorgegee het dat hy sy geheim verraai het, het die Here van hom gewyk. Daar was egter geen deug in sy lang hare nie, maar dit was ‘n teken van sy getrouheid aan God; en toe hierdie simbool aan die genot van wellus opgeoffer is, is die seëninge waarvan dit getuig het ook verbeur. PeP 548.2
In sy lyding en vernedering, ‘n spot vir die Filistyne, het Simson meer aangaande sy eie swakheid geleer as waarvan hy ooit tevore bewus was; en sy beproewings het hom tot inkeer gebring. Namate sy hare gegroei het, het sy krag ook geleidelik teruggekeer; maar omdat sy vyande hom vir ‘n geboeide en weerlose gevangene aangesien het, het hulle geen vrees gehad nie. PeP 548.3
Die Filistyne het hulle oorwinning aan hulle gode toegeskryf en uitgelate het hulle die God van Israel uitgedaag. ‘n Fees is ter ere van Dagon, die visgod, “...die beskermer van die see...” gereël. Uit die stede en van die platteland, oral in die vlakte van die Filistyne het die volk en hulle vorste saamgekom. ‘n Groot menigte aanbidders het die tempel gevul en op die galerye rondom die dak saamgedrom. Dit was ‘n toneel van feestelikheid en joligheid. Daar was die praal van die offerdiens, gevolg deur musiek en feesviering. Daarna, as die kroon trofee van Dagon se mag, is Simson onder groot gejuig binne gebring. Volk en vorste het met sy ellende die spot gedryf en die god aanbid wat “...die rinneweerder van ons land...” verneder het. Na ‘n tyd, het Simson voorgegee dat hy uitgeput was en verlof gevra om teen die twee middelste pilare te leun wat die tempel dak ondersteun het. Toe het hy in stilte gebid: “Here, Here, dink tog aan my en versterk my tog net hierdie keer, O God, dat ek my oor een van PeP 548.4
my twee oë op die Filistyne kan wreek!” Met hierdie woorde het hy die pilare met sy sterk arms omvou en uitgeroep: “Laat my sterwe saam met die Filistyne!” Hy het gebuk en die dak het ingestort en die hele groot skare op een slag vernietig. “So was dan die dooies wat hy met sy sterfte gedood het, meer as die wat hy in sy lewe gedood het. ” PeP 549.1
Die afgod en sy aanbidders, priester en boer, krygsman en vors is saam onder die puin van Dagon se tempel begrawe. En tussen hulle was die reuse liggaam van hom wat deur God gekies was om Sy volk te verlos. Die berig van die vreeslike nederlaag is na Israel oorgedra en Simson se bloedverwante het van die heuwels afgekom en die liggaam van hulle gevalle held sonder teenstand verwyder. En hulle het “...hom opgeneem en opwaarts gebring en hom begrawe tussen Sorea en Estaol in die graf van sy vader Manoag.” PeP 549.2
Die belofte van God dat Hy deur Simson sou begin om Israel uit die hande van die Filistyne te verlos, is vervul; maar hoe donker en skrikwekkend was die rekord van daardie lewe wat ‘n loflied tot God en ‘n eer vir die nasie kon gewees het! As Simson getrou aan sy Goddelike roeping was, sou die doel van God, tot Sy eer en verheffing, volbring gewees het. Maar hy het aan versoeking toegegee en was onbetroubaar in die vertroue wat in hom geplaas is en die vervulling van sy sending het op ‘n nederlaag, gevangeskap en sy eie dood uitgeloop. PeP 549.3
Fisies was Simson die sterkste mens op aarde; maar wat selfbeheersing, eerbaarheid en vasberadenheid betref, was hy een van die swakste van die mensdom. Baie mense sien sterk drange verkeerdelik vir ‘n sterk karakter aan, maar die waarheid is dat hy wat deur sy hartstogte bemeester word, ‘n swak mens is. Die werklike grootsheid van die mens word aan die krag van die beheer oor sy gevoelens gemeet, nie deur dit wat hom beheer nie. PeP 549.4
God se voorsorg was oor Simson, sodat hy gereed kon wees om die werk waartoe hy geroep is uit te voer. Van die begin van sy lewe af, was hy met gunstige omstandighede omring vir fisiese krag, intellektuele ywer en sedelike reinheid. Maar onder die invloed van bose metgeselle, het hy sy greep op God, die mens se enigste beskerming, laat vaar en is hy deur ‘n stroom van boosheid meegesleur. Diegene wat in die uitvoer van hulle PeP 549.5
plig beproef word, kan seker wees dat God hulle sal beskerm; maar as mense hulle moedswillig onder die mag van versoekings bring, sal hulle vroeër of later tot ‘n val kom. PeP 550.1
Die Satan lê hom veral daarop toe om juis die mense wat God as instrumente vir ‘n bepaalde werk wil gebruik, te verlei om te dwaal. Hy val ons op ons swakste punte aan en werk deur die swakhede van die karakter om beheer oor die hele mens te verkry; en hy weet dat indien hierdie swakhede gekoester word, hy sal slaag. Maar dit is vir niemand nodig om oorweldig te word nie. Die mens word nie aan homself oorgelaat om die mag van boosheid deur sy eie flou pogings te oorwin nie. Hulp is op hande en sal aan elke siel wat dit waarlik begeer gegee word. Engele van God wat Jakob in sy droom op die leer gesien op-en afklim het, sal elke begerige siel help om tot in die hoogste hemele op te klim. PeP 550.2