Patriarge en Profete

55/75

Hoofstuk 53—Die Vroeër Rigters

(Hierdie hoofstuk berus op Rigters 6 tot 8;10) PeP 525.1

Na die vestiging in Kanaan, het die stamme geen ernstige poging aangewend vir die volkome verowering van die land nie. Tevrede met die terrein wat hulle reeds verower het, het hulle ywer spoedig afgeneem en die oorlog is gestaak. “Toe Israel sterk word, het hy die Kanaaniete dienspligtig gemaak; hy het hulle egter nie heeltemal verdrywe nie.” (Rigters 1:28). PeP 525.2

Die Here het, getrou aan Sy kant, die beloftes aan Israel vervul; Josua het die mag van die Kanaaniete gebreek en die land onder die stamme verdeel. Al wat hulle nog te doen gestaan het, was om met vertroue in Goddelike hulp, die werk om die bewoners van die land te onteien, te voltooi. Maar hulle het versuim om dit te doen. Deur met die Kanaaniete ‘n verbintenis aan te gaan, het hulle die bevel van God direk oortree en sodoende het hulle misluk om die voorwaardes waarop Hy beloof het om die land aan hulle te gee, na te kom. PeP 525.3

Vanaf die heel eerste kommunikasie van God met hulle by Sinai, het Hy hulle teen afgodery gewaarsku. Onmiddellik na die verkondiging van die wet, is die boodskap deur Moses aan hulle gestuur aangaande die nasies van Kanaan: “Jy mag jou voor hulle gode nie neerbuig en hulle nie dien nie, ook mag jy nie doen na hulle werke nie; maar jy moet hulle heeltemal afbreek en hulle klippilare kort en klein slaan. En julle moet die Here julle God dien; dan sal Hy jou brood en jou water seën en Ek sal siektes uit jou midde verwyder.” (Exodus 23:24,25.) Die versekering is gegee dat terwyl hulle gehoorsaam gebly het, God hulle vyande voor hulle sal onderwerp. “Ek sal my skrik voor jou uit stuur en elke volk waarby jy kom, in verwarring bring. En Ek sal al jou vyande vir jou laat vlug. Ook sal Ek perdebye voor jou uit stuur; dié sal die Hewiete Kanaaniete en Hetiete voor jou uit verdrywe. Ek sal hulle nie in een jaar voor jou uit verdrywe nie, dat die land nie woes word en die ongediertes nie teen jou te veel word nie. Ek sal hulle so langsamerhand voor jou uit verdrywe, totdat jy vrugbaar word en die land beërwe ... Ek sal die inwoners van die land in julle hand gee en jy sal hulle voor jou uit verdrywe. Jy mag met hulle of met hulle gode geen PeP 525.4

verbond maak nie. Hulle mag in jou land nie woon nie, dat hulle jou nie verlei om teen My te sondig nie. Want jy sal hulle gode dien, ja, dit sal vir jou ‘n strik wees.” (Exodus 23:27-33). Moses het hierdie bevele voor sy dood baie plegtig beklemtoon en Josua het dit herhaal. PeP 526.1

God het Sy volk in Kanaan geplaas om ‘n magtige borswering te wees, om die vloedgolf van sedelike verderf te keer, sodat dit die wêreld nie sou oorstroom nie. Indien hulle getrou aan Hom was, was dit God se bedoeling dat Israel sou voortgaan om te oorwin. Hy sou nasies wat baie groter en magtiger as die Kanaaniete was in hulle hande oorgee. Die belofte was: “As julle ywerig al hierdie gebooie hou wat Ek julle beveel,...dan sal die Here al hierdie nasies voor julle uit verdrywe en julle sal groter en magtiger nasies as julle uit hulle besitting verdrywe. Elke plek waar julle voetsool op trap, sal aan julle behoort; van die woestyn en die Libanon, van die rivier, die Eufraat rivier, tot by die Westelike See sal julle grondgebied wees. Niemand sal teen julle standhou nie; die Here julle God sal die skrik en vrees vir julle oor die hele land laat kom waarop julle sal loop, soos Hy julle beloof het.” (Deuteronomium 11:22-25). PeP 526.2

Maar ongeag hulle hoë eindbestemming, het hulle die weg van gemak en selfbevrediging gekies; hulle het die geleenthede om die verowering van die land te voltooi deur hulle vingers laat glip; en vir baie geslagte was hulle deur die oorblyfsels van daardie afgodiese nasies geteister, wat, soos die profeet voorspel het, “dorings” in hulle oë en “angels” in hulle sye was. (Numeri 33:55). PeP 526.3

Die Israeliete het “...hul met die heidene vermeng en hulle werke geleer.” (Psalm 106:35). Hulle het met die Kanaaniete ondertrou en afgodery het soos ‘n plaag deur die land getrek. “Hulle het hulle afgode gedien en dit het vir hulle ‘n strik geword. Bowendien het hulle hul seuns en hul dogters aan die duiwels geoffer ... sodat die land deur bloedskuld ontheilig is...Toe het die toorn van die Here ontvlam teen sy volk en Hy het ‘n afsku gekry van sy erfdeel.” (Psalm 106:36-40). PeP 526.4

Totdat die geslag wat onderrig van Josua ontvang het uitgesterf het, het afgodery min vordering gemaak; maar die ouers het die weg vir die afvalligheid van hulle kinders voorberei. Die verontagsaming van die Here se beperkings deur diegene PeP 526.5

wat in besit van Kanaan gekom het, het die saad van boosheid gesaai wat voortgeduur het om bitter vrugte vir baie generasies voort te bring. Die eenvoudige gewoontes van die Hebreërs het hulle van fisiese gesondheid verseker; maar hulle omgang met die heidene het gelei na die toegee aan belustigheid en drange, wat geleidelik fisiese krag laat afneem het en die geestelike en morele kragte verswak het. Deur hulle sonde is die Israeliete van God geskei; Sy krag het van hulle gewyk en hulle kon hulle vyande nie meer teëstaan nie. Daarom is hulle aan die einste nasies wat hulle aan hulself, deur God sou onderwerp het, onderwerp. PeP 527.1

Hulle het “...die Here, die God van hulle vaders, verlaat wat hulle uit Egipteland uitgelei het...” en hulle gelei het “...soos ‘n kudde in die woestyn.” “Hulle het Hom geterg deur hul hoogtes en deur hul gesnede beelde sy jaloersheid gewek.” Daarom het die Here “...die tabernakel in Silo prysgegee, die tent wat Hy opgeslaan het onder die mense. En Hy het Sy sterkte oorgegee in gevangeskap en Sy heerlikheid in die hand van die teëstander.” (Rigters 2:12; Psalm 78:52,58,60,61.) Nogtans het Hy Sy volk nie heeltemal versaak nie. Daar was altyd ‘n oorblyfsel wat aan Jehova getrou was; en van tyd tot tyd het die Here getroue en dapper manne opgewek om afgodery te onderwerp en die Israeliete van hulle vyande te red. Maar sodra die verlosser gesterf en die volk vry van sy gesag was, het hulle geleidelik na hulle afgode teruggekeer. En so is die verhaal van afvalligheid en bestraffing, belydenis en verlossing, oor en oor herhaal. PeP 527.2

Die koning van Mesopotamië, die koning van Moab en ná hulle die Filistyne en die Kanaaniete van Hasor onder aanvoering van Sisera, het elk op hulle beurt die onderdrukkers van Israel geword. Otniël, Samgar en Ehud, Debora en Barak, is opgewek om hulle volk te verlos. Maar die kinders van Israel het weer gedoen wat “...verkeerd was in die oë van die Here...” en die Here het hulle “...oorgegee in die hand van die Midianiete.” Tot op hede het die hand van die verdrukkers liggies op die stamme aan die oostekant van die Jordaan gedruk, maar in die huidige rampe was hulle die eerstes wat gely het. PeP 527.3

Die Amalekiete aan die suide van Kanaan en die Midianiete aan sy oosgrens en die woestyne daaragter, was steeds die onverbiddelike vyande van Israel. Laasgenoemde nasie is byna deur die Israeliete in die dae van Moses vernietig, maar sedertdien het hulle grootliks aangewas en het hulle talryk en magtig geword. Hulle het gedors na wraak; en noudat die beskermende hand van God onttrek is, het die geleentheid aangebreek. Nie alleenlik die stamme oos van die Jordaan nie, maar die hele land het onder hulle plundering gely. Die wilde, boosaardige bewoners van die woestyn het, “...soos sprinkane in menigte...” (Rigters 6:5) die land binnegestroom met hulle kleinvee en kuddes. Soos ‘n verterende plaag het hulle deur die land versprei, van die Jordaan tot by die vlakte van die Filistyne. Hulle het, sodra die oeste begin ryp word, gekom en daar gebly totdat die laaste vrugte van die veld ingesamel was. Hulle het die landerye van hulle opbrengs gestroop en die bewoners beroof en mishandel en daarna na die woestyn teruggekeer. So is die Israeliete wat op die oop veld gewoon het, gedwing om hulle wonings te verlaat en in ommuurde stede te vergader, om skuiling in vestings te soek, of selfs skuiling in grotte en rotsagtige vestings tussen die berge te vind. Vir sewe jaar het die verdrukking voortgeduur en toe, soos die mense in hulle ellende aandag geskenk het aan die Here se teregwysing en hulle sondes bely het, het God weer vir hulle ‘n helper opgewek. PeP 528.1

Gideon was die seun van Joas van die stam van Manasse. Die afdeling waaraan sy familie behoort het was nie mense van aansien nie, maar Joas se gesin was bekend vir hulle moed en eerbaarheid. Van sy dapper seuns word daar gesê dat “...elkeen van gestalte koninklike seuns...” was. Almal behalwe een het in die stryd teen die Midianiete gesneuwel en hy het die aanvallers rede gegee om sy naam te vrees. Gideon het die Goddelike oproep ontvang om sy volk te verlos. Op daardie stadium was hy besig om koring te dors. ‘n Klein hoeveelheid graan is verberg omdat hy nie wou waag om dit op die gewone dorsvloer te dors nie en het hy op ‘n plek naby die wynpers gaan werk; omdat die wynoes nog lank nie ryp was nie, is daar min notisie van die wingerde geneem. Terwyl Gideon in die geheim en stilweg gewerk het, het hy met hartseer nagedink oor die toestand van Israel en oorweeg hoe hy sy volk van die onderdrukkende juk van hulle vyande kon verlos. PeP 528.2

Skielik het “...die Engel van die Here...” verskyn en hom met die volgende woorde aangespreek: “Die Here is met jou, dapper held!” PeP 529.1

“Ag, my heer...,” het Gideon geantwoord, “...as die Here met ons is, waarom het al hierdie dinge ons dan oorgekom? En waar is al sy wonders waar ons vaders ons van vertel het, deur te sê: Het die Here ons nie uit Egipte laat optrek nie? Maar nou het die Here ons verwerp en ons oorgegee in die hand van die Midianiete.” PeP 529.2

Die Boodskapper van die hemel het geantwoord: “Gaan in hierdie krag van jou en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Is dit nie Ek wat jou stuur nie?” PeP 529.3

Gideon wou ‘n bewys hê dat die een wat hom aanspreek, die Verbondsengel was wat in die verlede vir Israel gewerk het. Engele van God wat met Abraham gemeenskap gehou het, het eenkeer vertoef en sy gasvryheid geniet; en nou het Gideon die boodskapper van God versoek om ook as gas by hom te vertoef. Hy het na sy tent gehaas en van sy skamele voorrade ‘n boklam en ongesuurde koeke voorberei en dit aan Hom voorgesit. Maar die Engel het hom beveel: “Neem die vleis en die ongesuurde koeke en sit dit op hierdie rots neer en gooi die sous daaroor uit.” Gideon het dit gedoen en toe is die teken wat hy verlang het gegee: Met die staf in sy hand het die Engel die vleis en die ongesuurde koeke aangeraak en ‘n vlam het uit die rots opgeskiet en die offer verteer. Toe het die Engel uit sy sig verdwyn. PeP 529.4

Gideon se vader, Joas, wat deel gevorm het van die afvalligheid van sy landgenote, het by Ofra, waar hy gewoon het, ‘n groot altaar vir Baal opgerig waar die mense van die dorp aanbid het. Gideon is beveel om daardie altaar te vernietig en ‘n altaar vir Jehova op die klip waarop sy offer verteer was op te rig en om daar ‘n offer aan die Here te bring. Dit was uitsluitlik aan die priesters opgedra om te offer en is tot die altaar te Silo beperk; maar Hy wat hierdie rituele diens ingestel het en na wie al die offerandes gewys het, het die mag gehad om die vereistes daarvan te verander. Die verlossing van Israel moes deur ‘n plegtige beswaar teen die aanbidding van Baal voorafgegaan PeP 529.5

word. Gideon moes oorlog teen afgodery verklaar voordat hy uitgegaan het om teen die vyande van sy volk te veg. PeP 530.1

Die opdrag van God is getrou uitgevoer. Omdat hy geweet het dat indien dit openlik gedoen word hy teëstand sal teëkom, het Gideon die werk in die geheim verrig en met behulp van sy diensknegte alles in een nag vermag. Die woede van die manne van Ofra was geweldig toe hulle die volgende oggend kom om Baal te aanbid. Hulle sou Gideon om die lewe gebring het as Joas-wat ingelig was oor die Engel se besoek-sy seun nie verdedig het nie. “Wil julle vir Baal veg?” het Joas gevra. “Of wil julle hom help? Die wat vir hom veg, sal vanmore nog gedood word. As hy ‘n god is, laat hy vir homself veg, omdat hy sy altaar omgegooi het.” As Baal nie sy eie altaar kon beskerm nie, hoe kon hy vertrou word om sy aanbidders te beskerm? PeP 530.2

Alle gedagtes aan geweld teenoor Gideon is laat vaar; en toe hy die trompet vir oorlog blaas, was die manne van Ofra van die eerstes om hulle onder sy vaandel te skaar. Boodskappers is na sy eie stam, die stam van Manasse en ook na Aser, Sebulon en Naftali uitgestuur en almal het aan die oproep gehoor gegee. PeP 530.3

Gideon het nie gewaag om bevel oor die leër oor te neem sonder verdere bewyse dat God hom vir hierdie werk geroep het en dat Hy met hom sal wees nie. Hy het gebid: “As U werklik deur my hand Israel wil verlos soos U gespreek het-ek sal die wolvlies op die dorsvloer neerlê: as daar net op die vlies dou is, terwyl die grond oral droog is, dan sal ek weet dat U deur my hand Israel wil verlos soos U gespreek het.” In die oggend was die vlies nat terwyl die grond droog was. Maar nou het daar twyfel by hom opgekom, aangesien wol van nature die vog wat in die lug is absorbeer; die toets was dalk moontlik nie beslissend nie. Daarom het hy gevra dat die teken omgekeer moet word en aangevoer dat hy uiters versigtig wou wees om die Here nie te mishaag nie. Sy versoek is toegestaan. PeP 530.4

Aangemoedig hierdeur, het Gideon sy leër uitgelei om oorlog teen die indringers aan te voer. “Die Midianiete en Amalekiete en al die kinders van die Ooste het in die laagte gelê soos sprinkane in menigte.” Die totale weermag onder Gideon se bevel het slegs twee-en-dertigduisend manne beloop; maar met die ontsaglike bende van die vyand voor hom uitgesprei het die Here se woord tot hom gekom: “Die manskappe by jou is te veel PeP 530.5

vir My om die Midianiete in hulle hand te gee; anders kan Israel hom teen My beroem deur te sê: My eie hand het my verlos. Roep dan nou tog uit voor die ore van die manskappe en sê: Die wat bang is en bewe, kan teruggaan en wegdraai van die gebergte van Gilead af.” Diegene wat onwillig was om gevaar en ontberings tegemoet te gaan, of wie se wêreldse belange hulle harte van die werk van God sou weglei, sou geen krag aan die leër van Israel toevoeg nie. Hulle teenwoordigheid sou slegs ‘n verswakkende invloed hê. PeP 531.1

Daar was wetgewing in Israel dat, voordat hulle uitgaan om oorlog te voer, moes die volgende aankondiging regdeur die hele leër gemaak word: “Wie is die man wat ‘n nuwe huis gebou en dit nie ingewy het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders dit inwy nie. En wie is die man wat ‘n wingerd geplant en dit nie in gebruik geneem het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders dit in gebruik neem nie. En wie is die man wat hom met ‘n vrou verloof en haar nie geneem het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders haar neem nie.” En die offisiere moes verder aan die volk sê: “Wie is die man wat bevrees en week van hart is? Hy kan teruggaan huis toe, dat die hart van sy broers nie smelt soos sy hart nie.” (Deuteronomium 20:5-8). PeP 531.2

Omdat sy leër so klein in vergelyking met die van sy vyande was, het Gideon nie die gewone aankondiging gedoen nie. Hy was verstom toe hy hoor dat sy leër te groot is. Maar die Here het die hoogmoed en die ongeloof wat in Sy volk se harte was, gesien. Opgewek deur Gideon se roerende oproep, het hulle geredelik vir diens aangemeld; maar baie van hulle was vreesbevange toe hulle die groot menigtes van die Midianiete sien. En, indien Israel geseëvier het, sou daardie einste manne die eer vir hulleself toegeëien het in stede daarvan om die oorwinning aan God toe te skryf. PeP 531.3

Gideon het die bevel van die Here gehoorsaam en met ‘n beswaarde gemoed gesien hoe twee-en-twintigduisend, of meer as twee-derdes van sy totale leër na hulle huise vertrek. Weer het die woord van die Here tot hom gekom: “Die manskappe is nog te veel; bring hulle af na die water, dan sal Ek hulle daar vir jou uitsoek; en van wie Ek aan jou sê: Hierdie PeP 531.4

een mag met jou saamgaan-dié mag met jou saamgaan; maar elkeen van wie Ek aan jou sê: Hierdie een mag nie met jou saamgaan nie-dié mag nie gaan nie.” Die mense is na die water gelei en het verwag om ‘n onmiddellike aanval teen die vyand te loods. ‘n Paar het haastig ‘n bietjie water in die hand geneem en dit opgesuig terwyl hulle verder gegaan het; maar byna almal het gekniel en tydsaam van die oppervlakte van die stroom gedrink. Die wat die water met hulle hande geskep het, was net driehonderd van tienduisend; maar hulle is gekies; al die ander is toegelaat om na hulle huise terug te keer. PeP 532.1

Die karakter word dikwels op die eenvoudigste manier getoets. Diegene wat in die tyd van nood ingestel was om in hulle eie behoeftes te voorsien, was nie manne wat in ‘n noodsituasie vertrou kon word nie. Die Here het geen plek in Sy werk vir die wat traag of selfvoldaan is nie. Die manne van sy keuse, was die etlikes wat nie die uitvoer van hulle plig vertraag het deur toe te gee aan hulle eie behoeftes nie. Die driehonderd gekose manne was nie net dapper manne met selfbeheersing nie, maar hulle was ook manne van geloof. Hulle het hulle nie met afgodery besoedel nie. God kon hulle lei en deur hulle kon Hy vir die verlossing van Israel werk. Sukses hang nie van getalle af nie. God kan dieselfde met slegs ‘n minderheid, as met ‘n meerderheid verlos. Hy word nie soseer deur groot getalle vereer as deur die karakters van die wat Hom dien nie. PeP 532.2

Die Israeliete was op die rand van ‘n heuwel wat oor die vallei waar die bendes van die indringers gekampeer was uitgekyk het, gestasioneer. “En die Midianiete en Amalekiete en al die kinders van die Ooste het in die laagte gelê soos sprinkane in menigte en hulle kamele was ontelbaar soos die sand aan die seestrand in menigte.” (Rigters 7:12). Gideon het gesidder toe hy aan die stryd wat die volgende dag voorgelê het, gedink het. Maar die Here het in die nag met hom gespreek en hom beveel om saam met sy dienskneg, Pura, af te gaan na die laer van die Midianiete toe en te kenne gegee dat hy daar iets sou hoor wat hom sou bemoedig. Hy het gegaan en in stilte in die donker gewag en gehoor hoe een soldaat aan sy makker vertel van ‘n droom wat hy gehad het: “Daar rol ‘n hard gebakte garsbrood in die laer van die Midianiete en kom tot by die tent en slaan dit dat dit omval en keer dit onderstebo en toe lê die tent daar!” Die ander het met woorde geantwoord wat die onsigbare luisteraar PeP 532.3

se hart geroer het: “Dit is niks anders nie as die swaard van Gideon, die seun van Joas, die Israeliet; God het die Midianiete en die hele laer in sy hand gegee.” Gideon het die stem van God, wat deur die Midianitiese vreemdelinge met hom gespreek het, herken. Hy het na die paar manskappe onder sy bevel teruggegaan en gesê: “Maak klaar, want die Here gee die laer van die Midianiete in julle hand.” PeP 533.1

Deur Die leiding van God, is ‘n aanvalsplan aan hom voorgelê, wat hy onmiddellik van plan was om uit te voer. Die driehonderd man is in drie kompanjies verdeel. Aan elke man is ‘n trompet en ‘n fakkel wat in ‘n erdekruik versteek was, gegee. Die manne is op so wyse gestasioneer, dat hulle die kamp van die Midianiete vanuit verskillende rigtings kon nader. In die middel van die nag, op ‘n sein van Gideon se oorlog trompet, het die drie kompanjies hulle trompette geblaas; en, terwyl hulle hul kruike breek en die brandende fakkels vertoon, het hulle op die vyand afgestorm met die vreesaanjaende oorlogskreet: “Vir die Here en vir Gideon!” PeP 533.2

Die slapende leër het skielik wakker geskrik. Aan alle kante het hulle die lig van brandende fakkels gesien. In elke rigting het hulle die geklank van trompette met die oorlogskreet van die aanvallers gehoor. Onder die indruk dat hulle aan die genade van ‘n oorweldigende mag uitgelewer is, was die Midianiete paniekbevange. Met wilde krete van alarm het hulle vir hulle lewe gevlug en, deur verkeerdelik hulle eie makkers vir die vyand aan te sien, het hulle mekaar gedood. Soos die nuus van hierdie oorwinning versprei het, het duisende van die manne van Israel wat na hul huise teruggestuur was, teruggekeer en aangesluit by die agtervolging van die vlugtende vyande. Die Midianiete het in die rigting van die Jordaan gevlug met die hoop om hulle eie grondgebied oorkant die rivier te bereik. Gideon het boodskappers na die stam van Efraim gestuur en hulle aangespoor om die vyand by die suidelike driwwe voor te lê. Intussen het Gideon met sy driehonderd manne, “...moeg en besig om te agtervolg...” by die Jordaan aangekom. Gideon het deur die stroom gegaan, hard op die spoor van diegene wat reeds die anderkant bereik het. Gideon het twee vorste, Seba en Salmuna, wat in bevel van die hele leër was en wat saam met vyftienduisend man ontvlug het, ingehaal, hulle leër totaal verstrooi en die leiers gevang en doodgemaak. PeP 533.3

In hierdie buitengewone neerlaag het niks minder as honderd-en-twintigduisend van die indringers gesterf. Die mag van die Midianiete was gebreek, sodat hulle nooit weer in staat sou wees om teen Israel oorlog te maak nie. Die gerugte dat die God van Israel weer vir Sy volk geveg het, het spoedig wyd en syd versprei. Geen woorde kan die verskrikking van die omliggende nasies beskryf toe hulle verneem van die eenvoudige middels wat gebruik is om die oorhand oor die mag van ‘n vermetele, oorlogsugtige volk te kry nie. PeP 534.1

Die leier wat God gekies het om die Midianiete te onderwerp, het geen prominente posisie in Israel beklee nie. Hy was nie ‘n heerser, ‘n priester, of ‘n Leviet nie. Hy het homself as die geringste in sy vader se huisgesin beskou. Maar God het in hom ‘n dapper en ‘n eerbare man gesien. Hy het homself gewantrou en was gewillig om die leiding van die Here te volg. God kies nie altyd die mense met die grootste talente vir Sy werk nie, maar Hy kies diegene wat Hy die beste kan gebruik. “Nederigheid gaan aan die eer vooraf.” (Spreuke 15:33). Die Here kan die mees effektiefste deur diegene werk wat sensitief vir hul eie tekortkominge is en wat op Hom as hul Leier en Bron van krag vertrou. Hy sal hulle versterk deur hulle swakheid met Sy krag te verenig en Hy sal hulle wys maak deur hulle onkunde met Sy wysheid te verbind. PeP 534.2

Indien hulle meer nederigheid koester, kan die Here baie vir Sy volk vermag; maar daar is min wat met enige groot mate van verantwoordelikheid of sukses vertrou kan word, sonder om selfvoldaan en vergeetagtig van hulle afhanklikheid van God te word. Dit is waarom die Here, wanneer Hy instrumente vir Sy werk kies, diegene wat deur die wêreld as talentvol en briljant beskou word, oor die hoof sien. Hulle is alte dikwels hoogmoedig en selfgenoegsaam. Hulle voel dat hulle bevoeg is om sonder die raad van God op te tree. PeP 534.3

Die eenvoudige daad deur die leër van Josua om op die trompet te blaas terwyl hulle om Jerigo marsjeer en deur Gideon se klein groep rondom die menigtes van Midian, is deur die krag van God effektief gemaak om die mag van Sy vyande omver te werp. Die mees volledige stelsel wat mense ooit uitgedink is, sal, sonder die wysheid van God, ‘n mislukking wees, terwyl die mees onbelowende metodes sal slaag wanneer dit goddelik PeP 534.4

ingestel is en met nederigheid en geloof aangepak word. Vertroue in God en gehoorsaamheid aan Sy wil is net so noodsaaklik vir die Christen in die geestelike oorlog, soos dit vir Gideon en Josua in hulle stryd teen die Kanaaniete was. Deur die herhaalde openbaring van Sy krag namens Israel, sal God hulle lei om geloof in Hom te hê-met vertroue om Sy hulp in elke noodsituasie te soek. Hy is tans net so gewillig om saam met die pogings van Sy volk te werk en groot dinge deur swak instrumente te vermag. Die ganse hemel wag op ons aanspraak vir wysheid en krag. God is in staat “...om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk.” (Efesiërs 3:20). PeP 535.1

Met Gideon se terugkeer nadat hy die vyande van sy volk agtervolg het, is hy met berisping en beskuldigings deur sy eie landgenote begroet. Toe die manne van Israel op sy oproep teen die Midianiete saamgetrek het, het die stam van Efraim agtergebly. Hulle het die poging as ‘n gevaarlike onderneming beskou; en omdat Gideon hulle nie spesifiek opgeroep het nie, het hulle dit as verskoning gebruik om nie by hulle broeders aan te sluit nie. Maar toe die nuus van Israel se oorwinning hulle bereik, was die Efraimiete afgunstig omdat hulle nie deel daarvan was nie. Na die wilde vlug van die Midianiete, het die manne van Efraim, deur Gideon se leiding, beslag gelê op die driwwe van die Jordaan en so die ontsnapping van die voortvlugtiges gestuit. Op hierdie manier is ‘n groot aantal van die vyand gedood, onder wie die twee konings, Oreb en Seëb was. So het die manne van Efraim die stryd opgevolg en gehelp om die oorwinning volkome te maak. Desnieteenstaande, was hulle jaloers en kwaad, asof Gideon deur sy eie wil en oordeel gelei is. Hulle het nie die hand van God in die oorwinning van Israel onderskei nie en het nie Sy krag en genade in hulle verlossing waardeer nie; en as gevolg van hierdie einste feit was hulle onwaardig om as Sy spesiale instrumente gekies te word. PeP 535.2

Met hulle terugkeer met die trofeë van oorwinning, het hulle Gideon woedend verwyt: “Wat is dit wat u ons aangedoen het, dat u ons nie geroep het toe u weggetrek het om teen die Midianiete te veg nie?” PeP 535.3

“Wat het ek nou gedoen in vergelyking met julle?” het Gideon gevra. “Is die na-oes van Efraim nie beter as die wynoes van Abiëser nie? God het die vorste van Midian, Oreb en Seëb in PeP 535.4

julle hand gegee, maar wat kon ek doen in vergelyking met julle?” PeP 536.1

Die gees van afguns kon maklik tot onenigheid aangeblaas gewees het wat struweling en bloedvergieting sou veroorsaak het, maar Gideon se beskeie antwoord het die woede van die manne van Efraim laat afkoel en hulle het in vrede teruggekeer na hulle huise. Ferm en ontoegeeflik sover dit beginsels aangaan en in oorlog ‘n dapper held, het Gideon ook ‘n gees van hoflikheid wat selde gesien word, geopenbaar. PeP 536.2

Die mense van Israel het in hulle dankbaarheid en verlossing van die Midianiete, voorgestel dat Gideon hulle koning moes word en dat die troon aan sy nakomelinge bevestig moes word. Hierdie voorstel was ‘n direkte oortreding van die beginsels van die teokrasie. God was die koning van Israel en vir hulle om ‘n mens op die troon te plaas, sou ‘n verwerping wees van hulle Goddelike Koning. Gideon het hierdie feit besef; sy antwoord toon hoe opreg en edel sy motiewe was. Hy het verklaar: “Ek wil nie oor julle heers nie en ook my seun mag nie oor julle heers nie: die Here sal oor julle heers.” PeP 536.3

Maar Gideon is tot ‘n ander dwaling mislei, wat rampspoedig vir sy huisgesin en vir Israel was. Die tydperk van onaktiwiteit wat op ‘n groot stryd gevolg het, is dikwels gelaai met groter gevaar as gedurende die tydperk van stryd. Gideon is nou aan hierdie gevaar blootgestel. Hy was met ‘n onrustige gees besiel. Tot op hede was hy tevrede om die leiding wat hy van God ontvang het te vervul; maar nou, in stede om te wag vir die leiding van God, het hy begin om self te planne te beraam. Sodra die leërmagte van die Here ‘n merkwaardige oorwinning behaal het, sal die Satan sy pogings om God se werk omver te werp, verdubbel. Gevolglik is gedagtes en planne in Gideon se gedagtes gesuggereer, waardeur die volk van Israel gelei sou word om af te dwaal. PeP 536.4

Omdat hy beveel was om ‘n offer op die rots waar die Engel aan hom verskyn het te bring, het Gideon tot die gevolgtrekking gekom dat hy aangestel is om as priester op te tree. Sonder om op die goedkeuring van God te wag, het hy besluit om ‘n geskikte plek te voorsien en ‘n stelsel van aanbidding, soortgelyk aan die by die tabernakel, in te stel. Met ‘n sterk, gewilde mening in sy guns, het hy geen probleem ondervind om sy plan uit te voer PeP 536.5

nie. Op sy versoek is al die goue oorringe wat van die Midianiete afgeneem is aan hom gegee as sy aandeel van die buit. Die volk het ook baie ander duursame stowwe versamel, saam met ryklik versierde kledingstukke van die prinses van Midian. Van die materiaal wat hy ontvang het, het Gideon ‘n efod en ‘n borsplaat, ‘n nabootsing van dit wat deur die hoëpriester gedra is, gekonstrueer. Sy optrede was ‘n strik vir homself, sy familie, asook die hele Israel. Die ongemagtigde aanbidding het baie van die mense uiteindelik daartoe gelei om die Here totaal en al te versaak en afgode te aanbid. Na Gideon se dood het groot getalle, onder andere sy eie huisgesin, hulle by hierdie afvalligheid aangesluit. Die volk is van God weggelei deur dieselfde man wat eens hulle afgodery omvergewerp het. PeP 537.1

Min mense besef hoe verreikend die invloed van hulle woorde en dade is. Hoe dikwels veroorsaak ouers se foute ‘n rampspoedige uitwerking op hulle kinders en hulle kindskinders, lank nadat die oorspronklike akteurs in hulle grafte lê. Elkeen oefen ‘n invloed op ander uit en sal aanspreeklik gehou word vir die gevolge van daardie invloed. Woorde en dade het ‘n sprekende mag en die lang hiernamaals sal die uiteinde van ons lewe hier toon. Die indruk wat deur ons woorde en dade gemaak word, sal gewis ‘n seën of ‘n vloek op ons lewe hê. Hierdie gedagte verleen ‘n ontsagwekkende plegtigheid aan die lewe en behoort ons in nederige gebed na God te trek, dat Hy ons met Sy wysheid sal lei. PeP 537.2

Die wat die hoogste posisies beklee, mag ander mislei. Die mees wyse begaan foute; die sterkstes kan struikel en val. Daar is ‘n behoefte vir die voortdurende uitstraling van lig op ons pad. Ons enigste veiligheid berus daarop om ons weg onvoorwaardelik aan Hom wat gesê het: “Volg My...” toe te vertrou. PeP 537.3

Na die dood van Gideon het die kinders van Israel nie gedink “...aan die Here hulle God wat hulle uit die hand van al hul vyande rondom gered het nie. En hulle het geen guns bewys aan die huis van Jerubbaal, dit is Gideon, vir al die goed wat hy aan Israel gedoen het nie.” Israel het alles vergeet wat hulle aan Gideon, hulle rigter en verlosser, verskuldig was en hulle het sy seun, Abimeleg, van lae geboorte, as hulle koning aangeneem wie, om sy gesag te handhaaf, al Gideon se wettige kinders PeP 537.4

behalwe een vermoor het. ‘n Waardering van die Here se genade, sal lei tot ‘n waardering van diegene wie, soos Gideon, aangestel is as instrumente om Sy volk te seën. Die wrede optrede van Israel teenoor die huis van Gideon, is wat verwag kon word van mense wat sulke groot ondankbaarheid teenoor God openbaar het. PeP 538.1

Na die dood van Abimeleg, het die bewind van die rigters wat God gevrees het, afgodery ‘n tyd lank onder bedwang gehou; maar eerlank het die volk na die praktyke van die heidense gemeenskappe rondom hulle teruggekeer. Onder die noordelike stamme, het die gode van Sirië en Sidon baie aanbidders gehad. In die suid-weste was dit die afgode van die Filistyne en in die ooste dié van Moab en Ammon wat die harte van Israel van die God van hulle vaders weggedraai het. Maar die straf het spoedig op die afvalligheid gevolg. Die Ammoniete het die oostelike stamme onderwerp, die Jordaan oorgesteek en die grondgebied van Juda en Efraim binnegeval. Aan die weste het die Filistyne van hulle vlakte langs die see opgetrek en wyd en syd verbrand en geplunder. Weereens het dit voorgekom asof Israel aan die mag van onverbiddelike vyande oorgelaat was. PeP 538.2

Die volk het opnuut hulp by Hom wie hulle verlaat en beledig het, gaan soek. “Toe roep die kinders van Israel die Here aan en sê: Ons het teen U gesondig, want ons het onse God verlaat en die Baals gedien.” Maar droefheid het geen ware bekering meegebring nie. Die mense het berou gehad omdat hulle sondes vir hulle lyding meegebring het, maar nie omdat hulle God deur die oortreding van Sy heilige wet oneer aangedoen het nie. Ware bekering is meer as droefheid oor sonde. Dit is vasberadenheid om weg te draai van boosheid. PeP 538.3

Die Here het hulle deur een van Sy profete geantwoord: “Het Ek julle nie van die Egiptenaars en van die Amoriete, van die kinders van Ammon en van die Filistyne-en toe die Sidoniërs en Amalekiete en Maoniete julle verdruk en julle My aangeroep het-julle uit hulle hand verlos nie? Maar julle het My verlaat en ander gode gedien; daarom sal Ek julle nie meer verlos nie. Gaan heen en roep die gode aan wat julle verkies het; laat dié julle verlos in die tyd van julle benoudheid.” PeP 538.4

Hierdie plegtige en angswekkende woorde herinner ons aan ‘n ander groot toneel-die groot dag van finale oordeel - PeP 538.5

wanneer die verwerpers van God se goedertierenheid en die veragters van Sy genade van aangesig tot aangesig voor Sy oordeel sal verskyn. Voor daardie tribunaal sal diegene wat hulle Godgegewe talente van tyd, van middele, of van intellek aan die diens van die gode van hierdie wêreld gewy het, rekenskap moet gee. Hulle het hulle ware en liefdevolle Vriend versaak om die weg van gerief en wêreldse plesier te volg. Hulle het hulle voorgeneem om een of ander tyd na God terug te keer; maar die wêreld met sy dwaashede en misleidings het hulle aandag in beslag geneem. Ligsinnige vermaaklikhede, pronkerigheid van kleredrag en die toegee aan belustigheid, het die hart verhard en die gewete gekniehalter sodat die stem van die waarheid nie gehoor is nie. Plig is verontagsaam. Die dinge van ewige waarde, is ligtelik opgeneem, totdat die hart alle begeerte verloor het om vir Hom, wat soveel vir die mensdom gedoen het, opofferings te maak. Maar in die oestyd sal hulle maai wat hulle gesaai het. PeP 539.1

Die Here sê: “Omdat ek geroep en julle geweier het, ek my hand uitgestrek en niemand geluister het nie en julle al my raad nie opgevolg en van my teregwysing nie wou geweet het nie ... as julle verskrikking kom soos ‘n onweer en julle ondergang soos ‘n stormwind aankom, as benoudheid en angs julle oorval. Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie. Omdat hulle die kennis gehaat en die vrees van die Here nie verkies het nie, van my raad nie wou weet nie, al my teregwysinge verag het, daarom sal hulle eet van die vrug van hulle wandel en versadig word van hulle planne.” “Maar die wat na my luister, sal veilig woon en gerus wees teen die skrik vir die onheil.” (Spreuke 1:24-31,33). PeP 539.2

Die Israeliete het hulle nou voor die Here verootmoedig. “En hulle het die vreemde gode uit hul midde verwyder en die Here gedien.” En die liefdevolle hart van die Here was gegrief-“...het ongeduldig geword oor die moeite van Israel.” O, die lankmoedigheid van ons God! Toe Sy volk weggedraai het van die sondes wat Sy teenwoordigheid uitgesluit het, het Hy hulle gebede verhoor en dadelik vir hulle begin werk. PeP 539.3

“n Verlosser in die persoon van Jefta, die Gileadiet, wat teen die Ammoniete geveg en hulle mag effektief verbreek het, is opgewek. Teen hierdie tyd het Israel al vir agtien jaar onder die PeP 539.4

verdrukking van hulle vyande gely, maar weereens is die les wat deur lyding geleer is, vergeet. PeP 540.1

Toe die volk na hulle bose weë teruggekeer het, het die Here toegelaat dat hulle steeds deur hulle magtige vyande, die Filistyne, verdruk word. Vir baie jare is hulle voortdurend geteister en soms heeltemal onderwerp deur hierdie wrede, oorlogsugtige nasie. Hulle het met hierdie afgodsdienaars gemeng en met hulle verenig in genot en aanbidding, totdat hulle skynbaar een met hulle was in gees en belange. Toe word hierdie sogenaamde vriende van Israel hulle bitterste vyande en het op allerlei maniere gepoog om hulle vernietiging te bewerkstellig. PeP 540.2

Soos Israel, swig die Christene alte dikwels voor die invloed van die wêreld en ten einde die vriendskap van die goddeloses te wen, voldoen hulle aan die beginsels en gebruike daarvan; maar uiteindelik sal daar gevind word dat hierdie sogenaamde vriende die gevaarlikste vyande is. Die Bybel leer duidelik dat daar geen harmonie tussen die volk van God en die wêreld kan wees nie. “Verwonder julle nie, my broeders, as die wêreld julle haat nie.” (1 Johannes 3:13). Ons Verlosser sê: “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het.” (Johannes 15:18). Die Satan werk deur die goddeloses, onder die dekmantel van sogenaamde vriendskap, om God se volk tot sonde uit te lok, sodat hulle van Hom geskei kan word; en wanneer hulle beskerming verwyder is, sal hy sy agente lei om teen hulle te draai en daarna te strewe om hulle vernietiging te bewerkstellig. PeP 540.3