Patriarge en Profete

57/75

Hoofstuk 55—Die Kind Samuel

(Hierdie hoofstuk berus op 1 Samuel 1;2:1-11) PeP 551.1

Elkana, ‘n Leviet uit die gebergte van Efraim, was ‘n man van rykdom en invloed en het die Here liefgehad en gevrees. Sy vrou Hanna was ‘n vrou van diepe vroomheid. Haar karakter was sag en onopvallend, met ‘n diepe erns en ‘n verhewe geloof. PeP 551.2

Die seën wat deur elke Hebreër so vuriglik begeer is, is van hierdie godvresende egpaar weerhou; geen geklank van ‘n kinderstem het hulle huis opgevrolik nie; en die begeerte om sy naam te laat voortbestaan, het die man, soos baie ander, gelei om ‘n tweede huwelik aan te gaan. Maar hierdie stap, wat as gevolg van ‘n gebrek aan geloof in God veroorsaak is, het geen geluk gebring nie. Seuns en dogters is by die huishouding gevoeg, maar die vreugde en skoonheid van God se heilige instelling is geskend en die vrede van die huisgesin is versteur. Peninna, die nuwe vrou, was jaloers en kleingeestig en haar gedrag het getuig van hoogmoedigheid en uittarting. Vir Hanna het dit gelyk asof alle hoop verydel is en die lewe was ‘n swaar las, maar sy het elke beproewing met berustende sagmoedigheid aanvaar. PeP 551.3

Elkana het die verordeninge van God getrou nagekom. Die aanbidding by Silo is steeds onderhou, maar weens die ongerymdhede in die bediening, was sy dienste by die heiligdom, waaraan hy as ‘n Leviet aandag moes gee, nie benodig nie. Maar hy het steeds saam met sy huisgesin na die vasgestelde byeenkomste gegaan om te aanbid en te offer. PeP 551.4

Maar die bose gees wat sy huislike lewe vervloek het, het selfs te midde van die heilige feestelikhede ingedring. Nadat die dankoffers aangebied was, het die hele familie, volgens die vasgestelde gebruik, in ‘n plegtige, dog vreugdevolle fees saamgekom. Tydens hierdie geleenthede het Elkana aan die moeder van sy kinders en aan elkeen van haar seuns en dogters ‘n porsie gegee; en as ‘n gebaar van liefde vir Hanna, was haar porsie dieselfde asof sy ‘n seun gehad het. Dit het die tweede vrou met jaloesie aangevuur om die voorkeur wat haar, as hoogs begunstigde van God toegekom het, op te eis en sy het Hanna oor haar kinderlose toestand, dat dit ‘n bewys was dat sy PeP 551.5

God mishaag het, uitgetart. Dit het jaar na jaar gebeur, totdat Hanna dit nie meer kon verduur nie. Omdat sy haar droefheid nie meer kon beteuel nie, het sy onbeheers geween en haar van die fees onttrek. Haar man het haar tevergeefs probeer troos. “Waarom ween jy? en waarom eet jy nie? en waarom is jou hart bedroef?” het hy gevra. “Is ek vir jou nie beter as tien seuns nie?” PeP 552.1

Hanna het geen verwyt geuiter nie. Die las wat sy met geen aardse vriend kon deel nie, het sy aan God opgedra. Sy het ernstig gepleit dat Hy haar smaad moes verwyder en ook aan haar die kosbare geskenk van ‘n seun moes gee, om vir Hom te versorg en op te lei. En sy het ‘n plegtige eed afgelê dat indien haar versoek toegestaan word, sy haar kind van sy geboorte af aan God sal wy. Hanna het tot naby die ingang van die tabernakel gekom en in haar sielefoltering “...gebid en bitterlik geween.” Sy het in stilte gebid en geen woord geuiter nie. In daardie bose tye was sulke tonele van aanbidding selde gesien. Oneerbiedige feestelikheid en selfs dronkenskap was nie ongewoon nie, selfs by die godsdienstige feeste; en toe Eli, die hoëpriester, haar gedrag waarneem, het hy gedink sy is deur te veel wyn aangetas. Met die bedoeling om haar te bestraf, het hy streng gesê: “Hoe lank wil jy jou soos ‘n dronk mens gedra? Sit jou wyn van jou af weg.” PeP 552.2

Gepynig en verskrik het sy sag geantwoord: “Nee, my heer, ek is ‘n vrou, beswaard in my gemoed: wyn of sterk drank het ek nie gedrink nie, maar ek het my siel voor die aangesig van die Here uitgestort. Hou tog nie u dienares vir ‘n deugniet nie, want vanweë my baie sorge en verdriet het ek tot nou toe gespreek.” PeP 552.3

Die hoëpriester was diep getref, want hy was ‘n Godsman en in stede van haar te bestraf, het hy haar geseën: “Gaan in vrede en mag die God van Israel jou bede gee wat jy van Hom gebid het.” PeP 552.4

Hanna se gebed is toegestaan; sy het die geskenk ontvang waarvoor sy so ernstige gepleit het. Toe sy die kindjie sien, het sy hom Samuel “van God gevra” genoem. Toe die seun oud genoeg was om van sy moeder geskei te word, het sy haar gelofte nagekom. Sy het haar kind met al die toewyding van ‘n moederhart liefgehad; dag vir dag, terwyl sy sy toenemende krag opgemerk het en na sy kinderlike gebabbel geluister het, het sy hom meer en meer met haar liefde omvou. Hy was haar PeP 552.5

enigste seun, die besondere geskenk van God; maar sy het hom as ‘n skat wat aan God gewy is, ontvang en sy wou nie van die Gewer terughou wat aan Hom behoort het nie. PeP 553.1

Weereens het Hanna saam met haar man na Silo gereis en daar het sy haar kosbare gawe in die Naam van God aan die priester oorhandig met die woorde: “Om hierdie seun het ek gebid en die Here het my bede aan my gegee wat ek van Hom gebid het. So staan ek hom dan ook af aan die Here al die dae wat hy leef; hy is aan die Here afgestaan.” Die geloof en toewyding van hierdie vrou van Israel het ‘n groot indruk op Eli gemaak. Hyself, ‘n toegeeflike vader, was met ontsag gevul toe hy hierdie moeder se groot opoffering om van haar enigste kind te skei, sodat sy hom aan die diens van God kon wy, aanskou het. Hy het tereggewys gevoel vir sy eie selfsugtige liefde en met ootmoed en eerbied het hy voor die Here gekniel en aanbid. PeP 553.2

Die moederhart was vol vreugde en lof en sy het verlang om haar dankbaarheid teenoor God uit te stort. Die Gees van Inspirasie het op haar gerus. “Toe het Hanna gebid en gesê: PeP 553.3

“My hart jubel in die Here, PeP 553.4

my horing is hoog in die Here; PeP 553.5

my mond is wyd oop oor my vyande, PeP 553.6

want ek verheug my in u verlossing. PeP 553.7

Niemand is heilig soos die Here nie; PeP 553.8

ja, daar is niemand buiten U, PeP 553.9

en daar is geen rots soos onse God nie. PeP 553.10

Spreek nie voortdurend alte hoog nie, PeP 553.11

laat vermetele taal nie uit julle mond uitgaan nie; PeP 553.12

want die Here is ‘n God van diepe kennis, PeP 553.13

en deur Hom word die dade beproef... PeP 553.14

Die Here maak dood en maak lewend; PeP 553.15

Hy laat neerdaal in die doderyk en laat daaruit opkom. PeP 553.16

Die Here maak arm en maak ryk; PeP 553.17

Hy verneder, ook verhoog Hy. PeP 553.18

Hy rig die geringe op uit die stof, PeP 553.19

uit die ashoop verhef Hy die behoeftige, PeP 553.20

om hulle te laat sit by die vorste PeP 553.21

en hulle ‘n erestoel te laat beërwe. PeP 553.22

Want aan die Here behoort die pilare van die aarde, PeP 553.23

en Hy het die wêreld daarop gevestig. PeP 554.1

Die voete van sy gunsgenote bewaar Hy, PeP 554.2

maar die goddelose mense kom om in duisternis; PeP 554.3

want “n mens oorwin nie deur krag nie. PeP 554.4

Die wat met die Here twis, word verpletter; PeP 554.5

oor hulle donder Hy in die hemel; PeP 554.6

die Here oordeel die eindes van die aarde, PeP 554.7

en Hy gee sterkte aan sy koning PeP 554.8

en verhef die horing van sy gesalfde.” PeP 554.9

Hanna se woorde was profeties, beide van Dawid wat as koning oor Israel sou regeer en van die Messias, die Gesalfde van die Here. Aan die begin verwys die lied na die roem van ‘n astrante en omstrede vrou, maar uiteindelik wys die lied op die verdelging van die vyande van God en die laaste oorwinning van Sy verloste volk. PeP 554.10

Van Silo het Hanna stilweg na haar woning in Rama teruggekeer en die kind Samuel agtergelaat om vir diens in die huis van God, onder leiding van die hoëpriester, opgelei te word. Vanaf sy vroegste intellektuele ontwikkeling, het sy haar seun geleer om God lief te hê en te vereer en homself as God se eiendom te beskou. Deur elke bekende voorwerp rondom hom het sy sy aandag op die Skepper gevestig. Nadat sy van haar kind geskei was, het die getroue moeder se besorgdheid nie afgeneem nie. Hy was elke dag die onderwerp van haar gebede. Elke jaar het sy eiehandig vir hom ‘n dienskleed gemaak; en wanneer sy saam met haar man na Silo gegaan het, het sy hom hierdie herinnering aan haar liefde gegee. Elke draad van die kleedjie is met ‘n gebed dat hy rein, edel en opreg mag wees, geweef. Sy het geen wêreldse beroemdheid vir haar seun begeer nie, maar sy het ernstig gesmeek dat hy daardie grootsheid, wat deur die Hemele waardeer word, mag bereik; dat hy God mag vereer en sy medemens mag seën. PeP 554.11

Hoe ruimskoots is Hanna beloon! en wat ‘n bemoediging vir getrouheid is haar voorbeeld! Daar is geleenthede van onskatbare waarde en oneindig kosbare belangstellings aan elke moeder toegewy. Die nederige pligte wat elke vrou as ‘n moeisame taak beskou, behoort as ‘n wonderlike en edele werk beskou te word. Die moeder is bevoorreg om die wêreld deur PeP 554.12

haar invloed te seën en so vreugde in haar eie hart skep. Sy kan die paaie vir die voete van haar kinders, deur sonskyn en skaduwee, na heerlike hoogtes, gelyk maak. Maar dit is slegs wanneer sy in haar eie lewe daarna strewe om die leringe van Christus te volg, dat die moeder kan hoop om die karakter van haar kinders volgens die Goddelike Patroon te vorm. Die wêreld wemel van verderflike invloede. Modes en gewoontes het ‘n sterk invloed op jongmense. As die moeder nie haar plig nakom om te onderrig, te lei en te beteuel nie, sal die kinders van nature na die bose neig en wegdraai van die goeie. Laat elke moeder gereeld na haar Verlosser gaan met die gebed: “Leer ons wat die leefwyse en die werk van die kind moet wees.” Laat sy ag slaan op die onderrig wat God in Sy Woord gegee het en sy sal, wanneer sy dit benodig, wysheid ontvang. PeP 555.1

“Die seun Samuel het toegeneem in grootte en in guns by die Here sowel as by die mense.” Hoewel Samuel se jeugjare by die tabernakel aan die aanbidding van God gewy was, was hy nie vry van bose invloede of sondige voorbeelde nie. Die seuns van Eli het God nie gevrees nie en ook nie ontsag vir hulle vader gehad nie; maar Samuel het nie hulle geselskap opgesoek of in hulle bose weë gewandel nie. Hy het hom voortdurend daarop toegelê om te word wie God bedoel het hy moet wees. Hierdie voorreg is vir elke jeugdige bedoel. God word behaag wanneer selfs klein kindertjies hulleself aan Sy diens wy. PeP 555.2

Samuel is onder die sorg van Eli geplaas en die lieflikheid van sy karakter het die hartlike liefde van die bejaarde priester na vore gebring. Hy was vriendelik, vrygewig, gehoorsaam en respekvol. Eli, gepynig deur die afvalligheid van sy eie seuns, het rus en vertroosting en seën in die teenwoordigheid van sy leerling ervaar. Samuel was hulpvaardig en liefdevol en geen vader kon sy kind met meer teerheid liefgehad het as wat Eli hierdie jongeling gehad het nie. Dit was uitsonderlik dat daar tussen die hoogste gesaghebbende van die nasie en die eenvoudige kind sulke warm toegeneentheid kon bestaan. Namate die gebreke van die ouderdom Eli oorval het en hy gevul was met kommer en berou oor die losbandige gedrag van sy eie seuns, het hy hom na Samuel vir vertroosting gewend. PeP 555.3

Dit was nie gebruiklik vir die Leviete om hulle besondere dienste aan te bied voordat hulle die ouderdom van vyf-en- PeP 555.4

twintig jaar bereik het nie, maar Samuel was ‘n uitsondering op hierdie reël. Elke jaar is meer belangriker opdragte aan hom toevertrou; en terwyl hy nog ‘n kind was, is ‘n linne skouerkleed op hom geplaas as ‘n teken van sy toewyding aan die werk van die heiligdom. So jonk soos wat hy was toe hy na die tabernakel gebring is vir diens, het Samuel selfs toe al, volgens sy vermoë, pligte in die diens van God verrig. Aan die begin was hierdie pligte eers baie nederig en nie altyd aangenaam nie; maar dit is na die beste van sy vermoë en met ‘n gewillige hart uitgevoer. Sy godsdiens is by elke lewensplig ingedra. Hy het homself as die dienskneg van God beskou en sy werk as die werk van God. Sy pogings was aanneemlik omdat hy dit uit liefde vir God en ‘n opregte begeerte om Sy wil te doen, verrig het. Dit was op hierdie wyse dat Samuel ‘n medewerker van die Here van hemel en aarde geword het. En God het hom toegerus om ‘n groot werk vir Israel te verrig. PeP 556.1

Indien kinders geleer word om die nederigste daaglikse pligte as ‘n plig wat God op hulle gelê het te beskou en as ‘n skool waarin hulle geleer word om getrou en doeltreffend te dien, hoeveel aangenamer en eerbaarder sou hulle werk nie gewees het nie. Om elke plig na te kom asof vir die Here, maak die nederigste werk aangenaam en verbind die werkers op aarde met die heilige wesens wat God se wil in die hemel uitvoer. PeP 556.2

Sukses in hierdie lewe en sukses in die verkryging van die toekomstige lewe, hang van pligsgetroue, nougesette aandag aan die klein dingetjies af. Volmaaktheid word in die geringste en nie minder as in die grootste werke van God gesien. Die Hand wat die wêrelde in die uitspansel gehang het, is ook die Hand wat met delikate vaardigheid die lelies van die veld gemaak het. En soos God in Sy sfeer volmaak is, so moet ons in ons sfeer volmaak wees. Die simmetriese struktuur van ‘n sterk, en mooi karakter, word deur individuele pligte opgebou. En getrouheid in die kleinste, sowel as in die grootste dinge, moet ons lewe kenmerk. Betroubaarheid in klein dingetjies, die uitvoer van geringe dade van getrouheid en welwillendheid, sal die weg van die lewe verbly; en wanneer ons werk op aarde beëindig is, sal daar gevind word dat elkeen van PeP 556.3

die geringste pligte wat getrou uitgevoer is, ‘n invloed ten goede gehad het-'n invloed wat nooit kan vergaan nie. PeP 557.1

Die jeug van ons tyd kan in die oë van God net so kosbaar soos Samuel word. Deur hulle Christelike eerbaarheid met getrouheid te handhaaf, kan hulle ‘n sterk invloed in die werk van hervorming uitoefen. Sulke manne word nou benodig. God het ‘n werk vir elkeen van hulle. Mense het nog nooit groter resultate vir God en die mensdom behaal, as wat in hierdie tyd deur diegene wat getrou aan hulle Godgegewe vertroue bly, bereik kan word nie. PeP 557.2