Patriarge en Profete
Hoofstuk 5—Kain en Abel Getoets
(Hierdie Hoofstuk berus op Genesis 4:1-15). PeP 44.1
Adam se twee seuns, Kain en Abel het grootliks in karakter verskil. Abel het ‘n gees van getrouheid aan God gehad; hy het genade en regverdigheid in die Skepper se omgang met die gevalle mensdom gewaar en het die hoop op verlossing met dankbaarheid aanvaar. Maar Kain, het ‘n opstandige gees gekoester en hy het teen God gekla omdat, weens Adam se sonde, daar ‘n vloek oor die aarde en oor die mensdom uitgespreek is. Hy het sy gedagtes in dieselfde kanale laat gaan wat tot Satan se val gelei het; hy het ‘n begeerte vir selfverheffing gekoester en die regverdigheid en gesag van God in twyfel getrek. PeP 44.2
Soos Adam voor hulle, is hierdie twee seuns beproef om vas te stel of hulle die woord van God sou glo en gehoorsaam. Hulle was bekend met die voorsiening wat vir die verlossing van die mens gemaak is en het die offerstelsel wat God georden het, verstaan. Hulle het geweet dat deur hierdie offerandes, hulle hul geloof in die Verlosser, waarvan die offerandes ‘n tipe was, moes betuig; terselfdertyd moes hulle erken dat hulle geheel en al van Hom afhanklik was vir kwytskelding; en hulle het geweet dat deur op hierdie wyse te voldoen aan die Goddelike verlossingsplan, hulle bewys gelewer het van hul gehoorsaamheid aan die wil van God. Sonder bloedvergieting kon daar geen vergifnis van sonde plaasvind nie; en hulle moes hul geloof in die bloed van Christus as die beloofde versoening bewys, deur die eerstelinge van die kudde as offergawe te offer. Bo en behalwe dit, moes die eerste vrugte van die aarde as dankoffer aan die Here gebied word. PeP 44.3
Die twee broers het eenderse altare gebou en elk het sy offer gebring. Abel het ‘n offer uit sy kudde, ooreenkomstig die bevel van God, gebring. “En die Here het Abel en sy offer genadig aangesien.” Vuur het uit die hemel neergedaal en die offer verteer. Maar Kain het die regstreekse en uitdruklike bevel van God verontagsaam en het slegs ‘n offer van vrugte gebring. Daar was geen teken vanuit die hemel dat dit aanvaar is nie. Abel het by sy broer gepleit om God op die voorgeskrewe wyse te nader, PeP 44.4
maar sy smekinge het Kain net meer vasberade gemaak om sy eie wil te laat geld. As die oudste, het hy homself bo die teregwysing van sy broer geag en sy raad geminag. PeP 45.1
Kain het voor God verskyn met murmurering en ongeloof in sy hart met betrekking tot die beloofde offer en die noodsaaklikheid van die offerandes. Sy gawe het van geen berou oor sonde getuig nie. Net soos baie mense deesdae, het hy gevoel dat dit ‘n swakheid sou verraai om die presiese plan wat God voorgeskryf het na te kom, deur sy saligheid geheel en al aan die versoening van die beloofde Verlosser toe te vertrou. Hy het die weg van onafhanklikheid gekies. Hy sou op sy eie meriete staatmaak. Hy sou nie ‘n lam bring en sy bloed met die offer meng nie, maar sou sy vrugte, die opbrengs van sy arbeid, aanbied. Hy het sy offer aangebied asof hy God ‘n guns bewys en het verwag dat hy daardeur Goddelike goedkeuring sou verkry. Kain was gehoorsaam om ‘n altaar te bou, gehoorsaam om ‘n offer te bring, maar hy was net gedeeltelik gehoorsaam. Die noodsaaklike deel, die erkenning van sy behoefte aan ‘n Verlosser, is weggelaat. PeP 45.2
Sover dit geboorte en godsdiensonderrig aangaan, was die twee broers gelyk. Albei was sondaars en albei het die vereistes van eerbied en aanbidding vir God erken. Op die oog af was hulle godsdiens dieselfde, tot op ‘n sekere punt, maar daarbenewens was daar ‘n groot verskil tussen die twee. PeP 45.3
“Deur die geloof het Abel ‘n beter offer aan God gebring as Kain.” (Hebreërs 11:4). Abel het die belangrike beginsels van verlossing begryp. Hy het homself as ‘n sondaar gesien en hy het ingesien dat sonde en die straf daarop, naamlik die dood, tussen sy siel en gemeenskap met God staan. Hy het die geslagte offer gebring, die opgeofferde lewe en daardeur die vereistes van die wet wat oortree is, erken. Deur die vergote bloed het hy vooruitgesien na die toekomstige offer, naamlik Christus wat aan die kruis van Golgota sou sterf; en met vertroue in die versoening wat daar gedoen sou word, het hy die versekering dat hy regverdig was en dat sy offer aanvaar is, gehad. PeP 45.4
Kain het dieselfde geleentheid as Abel gehad om hierdie waarhede te leer en aan te neem. Hy was nie die slagoffer van ‘n willekeurige voorbeskikking nie. Die een broer was nie PeP 45.5
uitverkore om deur God aangeneem te word en die ander om verwerp te word nie. Abel het geloof en gehoorsaamheid gekies; Kain, ongeloof en opstand. Hierop het die hele saak berus. PeP 46.1
Kain en Abel verteenwoordig twee klasse wat tot die einde van tyd in die wêreld sal bestaan. Die een klas sal gebruik maak van die geskikte offer vir sonde; die ander sal onderneem om op hul eie meriete te vertrou. Hulle offer is sonder die deugde van Goddelike Bemiddeling en daarom kan dit die mens nie in die guns van God bring nie. Ons oortreding kan alleenlik deur die meriete van Jesus vergewe word. Diegene wat geen behoefte aan die bloed van Christus ondervind nie, wat meen dat hulle sonder Die genade van God, deur hul eie werke die goedkeuring van God kan verkry, begaan dieselfde fout as Kain. As hulle nie die reinigende bloed aanvaar nie, is hulle gedoem. Daar is geen ander voorsiening gemaak waardeur hulle van die slawerny van sonde verlos kan word nie. PeP 46.2
Die klas van aanbidders wat Kain se voorbeeld volg, sluit die grootste gedeelte van die wêreld in, want byna elke valse geloof is op dieselfde beginsel gegrond, naamlik dat die mens deur sy eie werke salig kan word. Sommige beweer dat die mensdom nie verlossing nie, maar ontwikkeling nodig het, dat hy hom self kan veredel, verhef en herskep. Net soos Kain gedink het dat hy die guns van God deur ‘n offer sonder bloed kon verwerf, so dink hulle, kan hulle die mensdom sonder die versoening, tot ‘n Goddelike standaard verhef. Die gevolge hiervan is in Kain se geskiedenis uitgebeeld. Dit toon aan wat die mens sonder Christus sal word. Die mens kan hom nie self herskep nie. Hy neig nie opwaarts na die Goddelike nie, maar afwaarts na die sataniese. Christus is ons enigste hoop. “Daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” “En die saligheid is in niemand anders nie.” (Handelinge 4:12). PeP 46.3
Ware geloof wat geheel en al op Christus vertrou, sal openbaar word in gehoorsaamheid aan al die vereistes van God. Van Adam se tyd af tot die hede, het die groot stryd steeds oor gehoorsaamheid aan God se wet gegaan. Daar was nog altyd mense wat aanspraak gemaak het op die guns van God, ondanks die feit dat hulle sommige van Sy gebooie verontagsaam het. Maar die Skrif sê dat die geloof deur die werke volkome word en dat geloof sonder werke van PeP 46.4
gehoorsaamheid, dood is (Jakobus 2:22, 17). Hy wat voorgee dat hy God ken “...en sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie” (1 Johannes 2:4). PeP 47.1
Toe Kain sien dat sy offer verwerp is, was hy kwaad vir die Here en vir Abel; hy was kwaad omdat God nie gewillig was om ‘n mens se plaasvervanger in die plek van die offer wat Hy self georden het te aanvaar nie en hy was kwaad vir sy broer omdat hy eerder verkies het om God te gehoorsaam, as om saam met hom in opstand teen God te kom. Ten spyte van die feit dat Kain die Bevel van God verontagsaam het, het God hom nie aan homself oorgelaat nie; Hy was bereid om met die mens, wat homself so onredelik getoon het, te redeneer. Die Here het aan Kain gesê: “Waarom is jy kwaad en waarom laat jy jou hoof hang?” Die waarskuwing van God is deur ‘n engel oorgedra: “Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie die sonde lê en loer voor die deur.” Die keuse het by Kain gelê. As hy hom op die verdienstelikheid van die beloofde Verlosser sou verlaat en die vereistes van God gehoorsaam, sou hy in Sy guns deel. Maar indien hy in ongeloof en oortreding volhard, sou hy geen rede hê om te kla omdat die Here hom verwerp het nie. PeP 47.2
Maar in stede daarvan dat hy sy sonde erken, het Kain steeds oor die onregverdigheid van God gekla en afguns en haat teenoor Abel gekoester. Woedend het hy sy broer verwyt en gepoog om hom in omstredenheid te betrek oor die wyse waarop God hulle behandel het. In sagmoedigheid maar nogtans onbevrees en beslis het Abel die regverdigheid en goedheid van God verdedig. Hy het Kain op sy dwaling gewys en probeer om hom te oortuig dat die kwaad in homself was. Hy het hom daarop gewys dat God hulle ouers met deernis gespaar het toe Hy hulle oombliklik kon gedood het en aangedring dat God hulle liefhet, anders sou Hy nie Sy Seun, onskuldig en heilig, gegee het om die straf wat hulle verdien het, te dra nie. Dit het Kain se toorn net meer laat opvlam. Sy rede en gewete het hom oortuig dat sy broer gelyk het; maar hy was woedend omdat een wat gewoond was om sy raad aan te neem, hom nou aangematig het om van hom te verskil en hom nie in sy opstand wou ondersteun nie. In sy woede het hy sy broer doodgeslaan. PeP 47.3
Kain het sy broer gehaat en gedood, nie omdat Abel kwaad gedoen het nie, maar “...omdat sy werke boos was en dié van sy broer regverdig.” (1 Johannes 3:12). Om dieselfde rede het die goddeloses deur al die eeue heen, diegene gehaat wat beter as hulself was. Abel se lewe van gehoorsaamheid en onwankelbare geloof was vir Kain ‘n voortdurende bestraffing. “Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie.” (Johannes 3:20). Hoe helderder die hemelse lig wat deur die karakter van God se getroue diensknegte gereflekteer word, hoe duideliker word die sonde van die goddeloses geopenbaar en hoe meer vasberade sal hulle poging wees om diegene wat hulle vrede verstoor, van kant te maak. PeP 48.1
Die moord op Abel was die eerste voorbeeld van die vyandskap wat God verklaar het, wat tussen die slang en die saad van die vrou sou bestaan-tussen Satan en sy onderdane en Christus en Sy onderdane. As gevolg van die mens se sonde het Satan die heerskappy oor die mensdom verkry, maar Christus sou hulle in staat stel om sy juk af te gooi. Wanneer ‘n siel ook al deur die geloof van die Lam van God, van sonde afsien, word Satan se toorn opgewek. Abel se heilige lewe het teen Satan se aanspraak, dat dit vir ‘n mens onmoontlik is om die wet van God te onderhou, getuig. Toe Kain, deur die gees van die bose aangevuur, besef dat hy Abel nie kon beheer nie, was hy so woedend dat hy sy lewe geneem het. En oral waar daar mense is wat die regverdigheid van die wet van God verdedig, sal dieselfde gees teen hulle gemanifesteer word. Dit is die gees wat deur al die eeue heen die brandstapels teen die dissipels van Christus opgestapel het. Maar die wreedhede wat teen die volgeling van Jesus opgehoop word, is deur Satan en sy leërskare aangehits omdat hulle hom nie kan dwing om hom aan hulle gesag te onderwerp nie. Dit is die woede van ‘n verslane vyand. Elke martelaar van Jesus het as oorwinnaar gesterf. Die profeet sê: “Hulle het hom [die ou slang wat genoem word duiwel en Satan] oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.” (Openbaring 12:11,9). PeP 48.2
Kain, die moordenaar, is spoedig tot verantwoording vir sy misdaad geroep: “Toe sê die Here vir Kain: Waar is jou broer Abel? En hy antwoord: Ek weet nie. Is ek my broer se wagter?” PeP 48.3
Kain het in so ‘n mate gesondig dat hy nie meer bewus was van die voortdurende teenwoordigheid van God en van Sy grootheid en alwetendheid nie. Daarom het hy hom tot valsheid gewend om sy misdaad te bedek. PeP 49.1
Weer het die Here aan Kain gesê: “Wat het jy gedoen? Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af.” God het aan Kain die geleentheid gegee om sy sonde te bely. Hy het tyd gehad om daaroor na te dink. Hy was bewus van die omvang van die daad wat hy gepleeg het en van die leuen wat hy geuiter het om dit te bedek; maar hy was steeds opstandig en die vonnis kon nie langer uitgestel word nie. Die Goddelike Stem wat hom vermaan en gesmeek het, het die volgende skrikwekkende woorde geuiter: “Daarom sal jy vervloek wees, ver van die grond wat sy mond oopgemaak het om die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang. As jy die grond bewerk, sal dit sy vermoë aan jou nie meer gee nie; ‘n swerwer en vlugteling sal jy wees op die aarde.” PeP 49.2
Ten spyte van die feit dat Kain deur sy misdade die doodsvonnis verdien het, het ‘n genadige Skepper sy lewe gespaar en hom nog ‘n geleentheid vir berou geskenk. Maar Kain het gelewe om sy hart te verhard, opstand teen die gesag van God aan te moedig en die hoof geword van ‘n lyn van vermetele, losbandige sondaars. Hierdie een afvallige, onder die leiding van Satan, het ‘n verleier vir ander geword; en sy voorbeeld en invloed het hul demoraliserende mag uitgeoefen totdat die aarde so korrup en vol geweld was, dat dit vernietig moes word. PeP 49.3
Deur die lewe van die eerste moordenaar te spaar, het God aan die ganse heelal ‘n les ten opsigte van die groot stryd, geleer. Die donker geskiedenis van Kain en sy nakomelinge was ‘n illustrasie van wat die gevolge sou wees deur die sondaar toe te laat om vir ewig te lewe en sy rebellie teen God voort te sit. Die verdraagsaamheid van God het die goddeloses net meer vermetel en uitdagend in hul ongeregtigheid gemaak. Vyftienhonderd jaar nadat die vonnis oor Kain uitgespreek is, het die heelal die vrug van sy invloed en voorbeeld aanskou in die misdadigheid en besoedeling wat die aarde oorstroom het. Dit was duidelik dat die doodsvonnis wat oor die gevalle mensdom, as gevolg van oortreding van God se wet uitgespreek is, beide PeP 49.4
regverdig en genadig was. Hoe langer die mensdom in sonde voortgeleef het, hoe meer losbandig het hulle geword. Die Goddelike vonnis wat ‘n lewe van onbeteuelde ongeregtigheid kortgeknip het en die wêreld bevry het van diegene wat in hulle opstand verhard was, was eerder ‘n seën as ‘n vloek. PeP 50.1
Satan is voortdurend, met intense energie en agter ‘n duisend vermommings, aan die werk om die karakter en heerskappy van God te verdraai. Deur middel van uitgebreide, weldeurdagte planne en wonderbare mag, werk hy om die bewoners van die aarde onder sy misleidings te hou. God, die Een Oneindige en Alwetende, in Sy hantering van boosheid, se planne was verreikend en omvattend. Sy doel was nie alleenlik om die rebellie te onderdruk nie, maar om die aard daarvan aan die heelal te demonstreer. Die plan van God het ontvou en het sowel Sy genade as Sy regverdigheid geopenbaar en dat Sy wysheid en geregtigheid in Sy hantering van sonde ten volle geregverdig is. PeP 50.2
Die heilige bewoners van ander wêrelde het die gebeurtenisse op aarde met die diepste belangstelling aanskou. In die toestand van die wêreld wat voor die sondvloed bestaan het, het hulle ‘n illustrasie van die gevolge van die bewind wat Lucifer gepoog het om in die hemel te vestig deur die gesag van Christus te verwerp en die wet van God ter syde te stel, gesien. In daardie eiegeregtige sondaars wat voor die sondvloed geleef het, het hulle die onderdane waaroor Satan sy heerskappy gevoer het, gesien. Die versinsels wat die mens in sy hart bedink het, was altyddeur net sleg. (Genesis 6:5). Elke emosie, elke impuls en gedagte was teenstrydig met die Goddelike beginsels van reinheid en vrede en liefde. Dit was ‘n voorbeeld van die verskriklike verdorwenheid wat die gevolg is van Satan se beleid om die beperkinge van die heilige wet van God van Sy skepsels te verwyder. PeP 50.3
Deur die feite wat met die verloop van die groot stryd aan die lig gebring word, sal God die beginsels van Sy heerskappy demonstreer, beginsels wat deur die Satan en almal wat hy mislei het, verdraai word. Die hele wêreld sal Sy regverdigheid uiteindelik erken, alhoewel daardie erkenning te laat sal wees om die opstandiges te red. God dra met Hom saam, die ondersteuning en goedkeuring van die ganse heelal soos Sy grootse plan stap vir stap voortgaan tot volkome vervulling. Hy PeP 50.4
sal dit met Hom saamdra in die finale uitwissing van rebellie. Daar sal gesien word dat almal wat die Goddelike voorskrifte versaak het, hulself aan die kant van Satan in die oorlog teen Christus geplaas het. Wanneer die owerste van hierdie wêreld geoordeel word en almal wat met hom verenig het in sy lot deel, sal die ganse heelal al as getuienis van die vonnis verklaar: “Regverdig en waaragtig is u weë, O Koning van die heiliges!” (Openbaring 15:3). PeP 51.1