Patriarge en Profete
Hoofstuk 47—Verdrag met die Gibeoniete
(Hierdie hoofstuk berus op Josua 9 en 10) PeP 481.1
Van Sigem het die Israeliete na hulle laer by Gilgal teruggekeer. Kort daarna is hulle deur ‘n vreemde afvaardiging besoek wat met hulle ‘n verdrag wou sluit. Die gesante het vertel dat hulle van ‘n verafgeleë land kom en hulle voorkoms het geblyk dit ook te bevestig. Hulle klere was oud en verslyt, hulle skoene was gelap, hulle voorrade was gemuf en die velle wat as wynsakke gedien het, was geskeur en toegebind asof dit haastig op die reis herstel was. PeP 481.2
Hulle het gesê dat in hulle verafgeleë land, oënskynlik buite die grense van Palestina, hulle landgenote gehoor het van die wonderwerke wat God vir Sy mense gedoen het en hulle gestuur om ‘n verdrag met Israel te sluit. Die Hebreërs is spesifiek gewaarsku teen enige verdrag met die heidene van Kanaan en twyfel het in hulle gedagtes ontstaan aangaande die waarheid van hierdie vreemdelinge se woorde. “Miskien woon julle onder ons...” het hulle gesê. Hierop het die gesante net geantwoord: “Ons is u dienaars!” Maar toe Josua hulle reguit vra: “Wie is julle en waar kom julle vandaan?” het hulle hul eerste stelling beklemtoon en as bewys van hulle opregtheid bygevoeg: “Ons brood hier-warm het ons dit as padkos uit ons huise geneem, die dag toe ons uitgetrek het om na julle te gaan kyk maar, nou het dit droog en verkrummeld geword. En die wynsakke hier wat ons as nuwes volgemaak het-kyk maar, hulle is geskeur; en ons klere hier en ons skoene-hulle is verslyt deur die baie lang reis.” PeP 481.3
Hierdie vertoë het die oorhand verkry. Die Hebreërs het “...die mond van die Here ... nie geraadpleeg nie.” “En Josua het met hulle vrede gemaak en met hulle ‘n verbond gesluit, dat hy hulle sou laat lewe; en die owerstes van die vergadering het hulle dit met ‘n eed beloof.” So is die verdrag dan gesluit. Drie dae daarna het hulle die waarheid ontdek. Toe “...hoor die volk dat hulle in hul nabyheid en tussen hulle in woon.” Omdat hulle geweet het dat dit vir hulle onmoontlik was om die Hebreërs te weerstaan, het die Gibeoniete van strategie gebruik gemaak om hulle lewens te behou. PeP 481.4
Die Israeliete was baie verontwaardig toe hulle ontdek wat se bedrog teen hulle gepleeg is. En dit het vererger toe hulle na drie dae se reis by die stede van die Gibeoniete naby die middel van die land uitkom. “Die hele vergadering het toe teen die owerstes gemurmureer...” maar laasgenoemdes het geweier om die verdrag te verbreek al is dit deur middel van bedrog gesluit, want hulle “...het self vir hulle gesweer by die Here, die God van Israel.'‘ “Maar die kinders van Israel het hulle nie verslaan nie.” Die Gibeoniete het hulself verbind om die afgodediens af te sweer en Jehova te aanbid; en die behoud van hulle lewe was nie ‘n oortreding van God se bevel om die afgodiese Kanaaniete uit te delg nie. Die Hebreërs het hulle dus nie deur hierdie eed verbind om te sondig nie. En al was die eed deur middel van bedrog afgelê, kon dit nie verontagsaam word nie. Die verpligting waaronder iemand ‘n belofte aflê, indien dit hom nie verbind om ‘n verkeerde daad te pleeg nie, moet geheilig word. Geen oorweging van wins of wraak of eiebelang mag op enige wyse die onaantasbaarheid van ‘n eed of ‘n belofte affekteer nie. “Valse lippe is vir die Here ‘n gruwel.” (Spreuke 12:22). Hy wat “...mag klim op die berg van die Here...” en “...mag staan in sy heilige plek..” is hy wat “...al het hy gesweer tot sy skade, hy verander nie.” (psalm 24:3;15:4). PeP 482.1
Die Gibeoniete is toegelaat om te lewe, maar hulle is as slawe aan die heiligdom verbind om diensbaar te wees met allerlei minderwaardige dienste. “So het Josua dan op die dag houtkappers en waterputters van hulle gemaak vir die vergadering en vir die altaar van die Here.” Hulle het daardie voorwaardes met dankbaarheid aanvaar omdat hulle bewus was van die feit dat hulle verkeerd opgetree het en bly was om hulle lewe teen enige prys te koop. Hulle het aan Josua gesê: “Hier is ons nou in u hand: doen soos dit goed en reg is in u oë om met ons te handel.'‘ Vir honderde jare was hulle nageslag in die diens van die heiligdom betrokke. PeP 482.2
Die gebied van die Gibeoniete het vier stede behels. Hulle is nie deur ‘n koning regeer nie, maar was onder die regering van oudstes of senatore. Gibeon, die belangrikste van die stede, was “...“n groot stad...” “...soos een van die koningstede...” “...en al sy manne was helde.” Dit is ‘n treffende bewys van die vrees wat die Israeliete by die inwoners van Kanaan ingeboesem het, PeP 482.3
dat bewoners van ‘n stad soos daardie van sulke vernederende metodes gebruik moes maak om hulle lewens te red. PeP 483.1
Maar dit sou beter met die Gibeoniete gegaan het as hulle eerlik met Israel gehandel het. Hoewel hulle onderwerping aan Jehova hulle lewens gespaar het, het hulle bedrog vir hulle net skande en knegskap meegebring. God het voorsiening gemaak dat almal wat die heidendom sou afsweer en hulle met Israel verbind, ook in die seëninge van die verbond sou deel. Hulle is ingesluit in die woorde “...die vreemdeling wat onder hulle vertoef....” en met geringe uitsonderings moes hierdie klas dieselfde gunste en voorregte as Israel geniet. Die bevel van die Here was: “As ‘n vreemdeling by jou in julle land vertoef, mag julle hom nie verdruk nie. Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos ‘n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself.” (Levitikus 19:33,34). Die bevel aangaande die Pasga en die sondoffers was: “Een en dieselfde insetting geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef, ... Soos julle, so moet die vreemdeling voor die aangesig van die Here wees. ” (Numeri 15:5). PeP 483.2
Die Gibeoniete kon op hierdie grondslag aanvaar gewees het as dit nie vir die misleiding was waartoe hulle hulle gewend het nie. Dit was geen geringe vernedering vir hierdie burgers van ‘n “koningstad” waarvan al die manne “helde” was om deur al hulle geslagte heen houtkappers en waterputters te wees nie. Maar hulle het die gewaad van armoede aangeneem om te bedrieg en dit is aan hulle as ‘n kenteken van voortdurende knegskap vasgespeld. So sou hulle knegskap deur al hulle geslagte heen getuig dat God bedrog haat. PeP 483.3
Die onderwerping van Gibeon aan die Israeliete, het die konings van Kanaan met ontsteltenis gevul. Stappe is dadelik geneem om wraak te neem op diegene wat vrede met die indringers gesluit het. Onder die leierskap van Adoniesedek, koning van Jerusalem, het vyf Kanaanitiese konings ‘n sameswering teen die Gibeoniete gesmee. Hulle het vinnig opgetree. Die Gibeoniete was onvoorbereid om hulle te verdedig en het ‘n boodskap aan Josua by Gilgal gestuur: “Trek u hande nie af van u dienaars nie, kom gou op na ons toe en verlos ons en help ons; want al die Konings van die Amoriete wat die Gebergte bewoon, het hulle teen ons verenig.” Die PeP 483.4
gevaar het sowel Israel as die Gibeoniete bedreig. Hierdie stad was in beheer van die poorte na sentraal-en Suid-Palestina en dit moes behoue bly indien die land verower sou word. PeP 484.1
Josua het hom onmiddellik gereed gemaak om die Gibeoniete te hulp te snel. Die inwoners van die beleërde stad het gevrees dat hy hulle versoek van die hand sou wys omdat hulle hom bedrieg het, maar aangesien hulle hul aan Israel onderwerp en die aanbidding van God aanvaar het, het hy homself verplig gevoel om hulle te beskerm. Hierdie keer het hy nie sonder Goddelike raad opgetree nie en die Here het hom in sy onderneming bemoedig. “Wees nie bevrees vir hulle nie, want Ek gee hulle in jou hand; niemand van hulle sal voor jou stand hou nie.” “Daarop het Josua opgetrek uit Gilgal, hy en al die weerbare manskappe en al die dapper helde met hom saam.” PeP 484.2
Deur die hele nag te marsjeer, het hy sy magte vroeg in die oggend voor Gibeon gebring. Die vorste van die sameswering het nouliks hulle leërs rondom die stad opgestel toe Josua hulle oorval het. Die aanval het volkome verwarring vir die aanvallers tot volg gehad. Die enorme menigte het voor Josua bergop na Bet-Horon gevlug; en nadat hulle die spits bereik het, het hulle aan die anderkant teen die steilte af gehaas. Hier het ‘n kwaai haelbui oor hulle losgebreek. “Die Here (het) groot hael stene uit die hemel op hulle gewerp ... daar het meer gesterf deur die hael stene as wat die kinders van Israel met die swaard dood geslaan het.” PeP 484.3
Terwyl die Amoriete in wanorde gevlug het om in die bergvestings te skuil, het Josua, wat vanaf ‘n hoë berg op hulle neergekyk het, besef dat die dag te kort sou wees om hulle werk af te handel. Indien hulle nie heeltemal verslaan word nie, sou hulle vyande weer byeenkom en die stryd opnuut aanknoop. “Toe het Josua met die Here gespreek, ... en voor die oë van Israel gesê: Son, staan stil in Gibeon en maan, in die dal van Ajalon! Toe staan die son stil en bly die maan staan totdat die volk hulle gewreek het op hulle vyande ... en die son het bly staan in die middel van die hemel en hom nie gehaas om onder te gaan nie, omtrent ‘n volle dag.” PeP 484.4
Voordat dit aand geword het is God se belofte aan Josua vervul. Die hele leër van die vyand is in sy hand oorgegee. Israel PeP 484.5
sou die gebeurtenisse van daardie dag lank onthou. “Daar was geen dag soos hierdie een, voor hom en na hom, dat die Here na die stem van ‘n man geluister het nie; want die Here het vir Israel gestry.” “Die son, die maan bly in hulle woonplek by die lig by U pyle wat verby flits, by die glans van U flikkerende spies. In grimmigheid betree U die aarde, in toorn dors u die nasies. U trek uit tot redding van u volk.” (Habakuk 3:11-13). PeP 485.1
Josua se gebed is deur die Gees van God besiel, sodat daar weer ‘n bewys kon wees van die krag van Israel se God. Die versoek was dus geen aanmatiging aan die kant van die groot leier nie. Josua het die belofte ontvang dat God hierdie vyande van Israel gewis sou uitdelg, maar nogtans het hy ernstige pogings aangewend asof die sukses alleenlik van die weermag van Israel afgehang het. Hy het alles gedoen wat menslike krag kon doen, en daarna om Goddelike Hulp gevra. Die geheim van sukses is ‘n kombinasie van Die krag van God en menslike poging. Die wat die beste resultate verkry, is die wat onvoorwaardelik op die Almagtige Arm leun. Die man wat beveel het: “Son, staan stil in Gibeon en maan, in die dal van Ajalon,” is die man wat ure lank in die laer by Gilgal op die grond in gebed uitgestrek was. Die mense van gebed is die mense met krag. PeP 485.2
Hierdie magtige wonderwerk getuig dat die skepping onder beheer van die Skepper is. Die Satan streef om die Goddelike werking in die fisiese wêreld vir mense te verberg-om die onvermoeide werking van die eerste groot beweegrede buite sig te hou. Hierdie wonderwerk is ‘n bestraffing vir almal wat die natuur bo die God van die natuur verhef. PeP 485.3
Volgens Sy eie wil roep God die magte van die natuur op om die mag van Sy vyande omver te werp “...vuur en hael, sneeu en damp, stormwind wat sy woord volbring...” (Psalm 148:8). Toe die heidense Amoriete hulleself voorgeneem het om Sy doelwitte te weerstaan, het God tussenbeide getree en die “...groot haelstene uit die hemel...” op die vyande van Israel neergewerp. Ons word vertel van ‘n groter stryd wat in die eindtonele van die aarde se geskiedenis gaan plaasvind, wanneer “...die Here sy skatkamer oopgemaak en die werktuie van sy grimmigheid uitgebring...” het. (Jeremia 50:25). “Het jy...” verneem Hy, “...gekom by die skatkamers van die sneeu? En het jy die skatkamers van die hael gesien, wat Ek opgespaar het PeP 485.4
vir die tyd van benoudheid, vir die dag van stryd en oorlog?” (Job 38:22,23). PeP 486.1
Die openbaarder beskryf die verwoesting wat sal plaasvind wanneer “...“n groot stem...” uit die tempel van die hemel aankondig: “Dit is verby!” Hy sê: “En groot hael, omtrent ‘n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval.” (Openbaring 16:17,21). PeP 486.2