Patriarge en Profete
Hoofstuk 46—Die Seëninge en die Vloeke
(Hierdie hoofstuk berus op Josua 8) PeP 477.1
Nadat die vonnis op Agan voltrek was, het die Here Josua beveel om al die krygsmanne van Israel aan te voer en weer teen Ai op te trek. Die krag van God was met Sy volk en hulle sou spoedig in besit van die stad wees. PeP 477.2
Militêre optredes is vir eers opgehef, sodat Israel aan ‘n plegtige godsdienstige diens kon deelneem. Die volk was gretig om vir hulle ‘n vaste woonplek in Kanaan te bekom aangesien hulle nog nie huise of lande vir hulle families gehad het nie en om dit te verkry moes hulle die Kanaaniete verdryf. Maar hierdie belangrike werk moes uitgestel word, want ‘n hoër plig het eers hulle aandag vereis. PeP 477.3
Voordat hulle besit van hul erfnis kon neem, moes hulle eers hulle verbond van trou teenoor God hernu. In Moses se laaste opdragte aan Israel het hy twee keer die opdrag gegee vir ‘n samekoms van die stamme op die berge Ebal en Gerisim, vir die plegtige erkenning van die wet van God. Gehoorsaam aan hierdie opdragte, het die hele volk, nie net die manne nie, maar “...die vroue en die kinders en die vreemdeling wat onder hulle saamgetrek het...” hulle kamp te Gilgal verlaat en deur die land van hulle vyande na die dal van Sigem, na aan die middel van die land, opgetrek. Hoewel hulle deur onoorwonne vyande omring was, was hulle veilig onder die beskerming van God solank as wat hulle aan Hom getrou was. Soos in die dae van Jakob, het daar nou “...“n skrik van God op die stede rondom hulle...” (Genesis 35:5) gekom en die Hebreërs is nie gemolesteer nie. PeP 477.4
Die plek wat vir hierdie plegtigheid aangewys was, was reeds heilig deur ‘n verbintenis met die geskiedenis van hulle voorvaders. Dit was hier wat Abraham sy eerste altaar in Kanaan vir Jehova opgerig het. Hier het beide Abraham en Jakob hulle tente opgeslaan. Hier het laasgenoemde die grond gekoop waar die stamme Josef se lyk moes begrawe. Hier was ook die put wat Jakob gegrawe het en die eikeboom waaronder hy sy huisgesin se afgodsbeelde begrawe het. PeP 477.5
Die plek wat gekies is, was een van die mooiste in die hele Palestina en waardig om die skou plek te wees waar hierdie grootse en indrukwekkende toneel afgespeel sou word. Die lieflike dal met sy groen velde en olyfboorde wat deur strome uit lewende fonteine besproei en met veldblomme versier is, het aanloklik tussen die kaal berge gelê. Ebal en Gerisim, weerskante van die vallei, se voetheuwels was so naby aan mekaar dat dit ‘n natuurlike preekstoel gevorm het, sodat elke woord wat op die een berg gespreek word duidelik op die ander een hoorbaar was, terwyl die hellings plek vir ‘n groot menigte gebied het. PeP 478.1
Ooreenkomstig die opdragte wat deur Moses gegee is, is ‘n monument van groot klippe op die berg Ebal opgerig. Op die klippe wat vooraf gepleister was, is die wet ingegraveer-nie net die Tien Gebooie wat van Sinai afgekondig en op kliptafels gegraveer is nie, maar ook die wette wat aan Moses gegee is en deur hom in ‘n boek geskryf is. Langs hierdie monument is ‘n altaar wat van ongekapte klippe gebou is, waarop slagoffers aan die Here geoffer is. Die feit dat die altaar op Ebal opgerig was, op die berg vanwaar die vloek uitgespreek is, was besonder betekenisvol, want dit het aangedui dat Israel, as gevolg van hulle oortredings, geregtelik Sy toorn vir hulle op die hals gehaal het en dat dit onmiddellik voltrek sou gewees het, indien dit nie was vir die versoening van Christus, soos deur die brandofferaltaar verteenwoordig nie. PeP 478.2
Ses van die stamme, almal afstammelinge van Lea en Ragel, is op die berg Gerisim gestasioneer; terwyl diegene wat van die twee diensmaagde afgestam het, saam met Ruben en Sebulon op Ebal stelling ingeneem het en die priesters met die ark hulle plek in die dal tussen hulle opgeneem het. Stilte is deur die klank van die hoof trompet aangekondig; en in die doodse stilte daarna en in die teenwoordigheid van hierdie groot saamtrek, het Josua, wat langs die heilige verbondsark gestaan het, die seëninge gelees wat op gehoorsaamheid aan God se wet sou volg. Al die stamme op Gerisim het met ‘n Amen geantwoord. Toe het hy die vloeke gelees en die stamme op Ebal het op dieselfde manier, met duisende der duisende stemme soos een stem, plegtig ingestem. Daarna het die lees van die wet van PeP 478.3
God, tesame met die insettinge en verordeninge wat deur Moses aan hulle gegee is, gevolg. PeP 479.1
Israel het die wet regstreeks uit die mond van God by Sinaï ontvang; en die heilige voorskrifte, met Sy eie hand geskryf, was steeds in die ark bewaar. Nou was dit geskryf waar almal dit kon lees. Almal moes hulle aanvaarding met die terme van die verbond aandui en instem met die seëninge of vloeke vir die onderhouding of verwaarlosing daarvan. Die wet is nie net op die gedenkstene geskryf nie, maar is ook deur Josua self hardop ten aanhore van die hele Israel gelees. Dit was nie baie weke vandat Moses die hele boek van Deuteronomium in verhandelings aan die volk deurgegee het nie, nogtans het Josua die wet nou weer voorgelees. PeP 479.2
Nie alleen die manne van Israel nie, maar al “...die vroue en die kinders...” het geluister terwyl die wet voorgelees word; want dit was belangrik dat hulle dit ook moes ken en hulle plig nakom. God het Israel aangaande Sy insettinge beveel: “Lê dan hierdie woorde van My weg in julle hart en in julle siel en bind dit as ‘n teken op julle hand en laat dit as ‘n voorhoofband tussen julle oë wees en leer dit aan julle kinders ... sodat julle dae en die dae van julle kinders in die land wat die Here aan julle vaders met ‘n eed beloof het om aan hulle te gee, kan vermenigvuldig soos die dae van die hemel bo-oor die aarde.” (Deuteronomium 11:18-21). PeP 479.3
Elke sewende jaar moes die hele wet in die teenwoordigheid van die vergadering van Israel gelees word, soos Moses beveel het: “Aan die einde van sewe jaar, op die bepaalde tyd van die jaar van kwytskelding, op die huttefees, as die hele Israel kom om te verskyn voor die aangesig van die Here jou God op die plek wat Hy sal uitkies, moet jy hierdie wet voor die hele Israel, voor hulle ore lees. Laat die volk byeenkom, die manne en die vroue en die kinders en jou vreemdeling wat in jou poorte is, dat hulle kan hoor en dat hulle kan leer om die Here julle God te vrees en sorgvuldig al die woorde van hierdie wet te hou. En hulle kinders wat dit nie ken nie, moet hoor en leer om die Here julle God te vrees, al die dae wat julle lewe in die land waarheen julle deur die Jordaan trek om dit in besit te neem.” (Deuteronomium 31:10-13). PeP 479.4
Die Satan is ewig aan die werk om te poog om wat God gespreek het, te verdraai, om die verstand te verblind en die begrip te benewel en die mens sodoende tot sonde te lei. Dis die rede waarom die Here so uitdruklik is en Sy vereistes so duidelik stel dat niemand hoef te dwaal nie. God streef voortdurend om mense onder Sy beskerming te bring sodat Satan nie sy wrede, misleidende mag oor hulle kan uitoefen nie. Hy het neergedaal om met Sy eie stem tot hulle te spreek, om die lewende woorde met Sy eie hand te skryf. En hierdie geseënde woorde, so met lewe besiel en met waarheid verlig, is as volmaakte gids aan die mensdom deurgegee. Omdat die Satan so gereed staan om die gedagtes gevange te neem en die geneenthede van die Here se beloftes en vereistes weg te lei, moet daar groter ywer aan die dag gelê word om dit in die verstand vas te lê en op die hart af te druk. PeP 480.1
Meer aandag behoort deur godsdienstige leraars geskenk te word om mense aangaande die feite en lesse van Bybel-geskiedenis en die waarskuwings en vereistes van die Here te onderrig. Dit moet in eenvoudige taal gestel en aangepas word sodat kinders dit kan begryp. Dit behoort deel van die werk van beide ouers en leraars te wees om toe te sien dat jongmense in die Skrifte onderrig word. PeP 480.2
Ouers kan en behoort hulle kinders se belangstelling in die verskeidenheid van kennis wat in die heilige bladsye gevind word te prikkel. Maar indien hulle verlang dat hul seuns en dogters in die Woord van God moet belangstel, moet hulle self ook daarin belangstel. Hulle moet bekend wees met die leringe daarvan en, soos God Israel beveel het, “...daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.”(Deuteronomium 11:19). Diegene wat begeer dat hulle kinders die Here moet liefhê en eerbiedig, moet van Sy goedheid, Sy majesteit en Sy krag praat soos in Sy Woord en in die werke van die skepping geopenbaar. PeP 480.3
Elke vers en elke hoofstuk van die Bybel is ‘n mededeling van God aan die mensdom. Ons moet die voorskrifte as ‘n teken op ons hande en as ‘n voorhoofband tussen ons oë bind. As ons dit bestudeer en gehoorsaam, sal dit God se volk lei soos die Israeliete gelei is, bedags deur ‘n wolkkolom en snags deur ‘n vuurkolom. PeP 480.4