Patriarge en Profete

50/75

Hoofstuk 48—Verdeling van Kanaan

(Hierdie hoofstuk berus op Josua 10:40-43;11;14 tot 22) PeP 487.1

Die oorwinning by Bet-Horon is spoedig gevolg deur die verowering van die hele suidelike Kanaan. “So het Josua dan die hele land verslaan, die Gebergte en die Suidland en die Laeveld ... En al hierdie konings met hulle land het Josua in een slag geneem, omdat die Here, die God van Israel, vir Israel gestry het. Daarna het Josua en die hele Israel met hom saam na die laer van Gilgal teruggegaan.” PeP 487.2

Die stamme van Noord-Palestina, vreesbevange vir die welslae van die Israeliete, het ‘n sameswering teen hulle gesluit. Aan die hoof van hierdie sameswering was Jabin, koning van Hasor, ‘n gebied wes van die meer Merom. “Hulle het dan uitgetrek en al hulle leërs saam met hulle.” Hierdie leërmag was baie groter as enige wat die Israeliete tot dusver in Kanaan teëgekom het. “...“n volk talryk soos die sand wat aan die seestrand is in menigte, met ‘n groot getal perde en strydwaens; en al hierdie konings het volgens afspraak byeengekom en saam laer opgeslaan by die waters van Merom, om met Israel oorlog te voer.” Weereens is ‘n bemoedigende boodskap aan Josua gegee: “Wees vir hulle nie bevrees nie; want more omtrent sulke tyd sal Ek hulle, almal verslaan, aan Israel oorgee.” PeP 487.3

Naby die meer Merom het hy die kamp van die bondgenote aangeval en hulle magte totaal verslaan. “Die Here het hulle in die hand van Israel gegee, sodat dié hulle verslaan en hulle agtervolg het ... totdat daar niemand van hulle was wat vrygeraak het nie.” Die perde en die strydwaens waarop die Kanaaniete geroem het, is nie deur Israel gebuit nie. Op bevel van God is die strydwaens verbrand en die perde verlam sodat hulle ongeskik was vir krygsdiens. Die Israeliete moes nie op strydwaens en perde staatmaak nie, maar op die Naam van die Here hulle God. PeP 487.4

Die stede is een vir een verower en Hasor, die vesting van die bondgenootskap, is verbrand. Die oorlog het ‘n aantal jare PeP 487.5

geduur, maar aan die einde daarvan was Josua in besit van die hele Kanaan, “...en die land het gerus van oorlog.” PeP 488.1

Maar hoewel die mag van die Kanaaniete gebreek was, is hulle nog nie volkome verdryf nie. Aan die weste was die Filistyne steeds in besit van die vrugbare vlaktes langs die kus en noord van hulle was die gebied van die Sidoniërs. Laasgenoemde was nog in besit van die Libanon; en in die suide, in die rigting van Egipte, was die grond nog in die besit van die vyande van Israel. PeP 488.2

Josua moes egter nie die oorlog voortsit nie. Daar was ‘n ander taak wat die groot leier eers moes verrig voordat hy sy leierskap oor Israel sou neerlê. Die hele land, beide die dele wat reeds oorwin was en die wat nog nie aan hulle onderwerp was nie, moes onder die stamme verdeel word. En dit was die plig van elke stam om sy eie erfnis aan homself te onderwerp. As die volk aan God getrou sou bly, sou Hy hulle vyande voor hulle uitdryf; en Hy het beloof om nog groter besittings aan hulle te gee solank hulle getrou aan Sy verbond sou bly. PeP 488.3

Die verdeling van die land is aan Josua, tesame met Eleasar die hoëpriester en die stamhoofde opgedra en die ligging van elke stam sou deur die lot beslis word. Moses het self die grense van die land, waarvolgens dit onder die stamme verdeel moes word wanneer hulle die land Kanaan in besit sou neem, vasgestel en hy het uit elke stam ‘n vors aangestel om na die verdeling om te sien. Omdat die stam Levi aan die dienste van die heiligdom gewy was, is hulle nie by hierdie toekenning ingereken nie; maar agt-en-veertig stede in verskillende dele van die land is as erfnis aan die Leviete toegesê. PeP 488.4

Voordat daar met die verdeling van die land begin is, het Kaleb, vergesel van die hoofde van sy stam, met ‘n spesiale versoek vorendag gekom. Naas Josua was Kaleb nou die oudste man in Israel. Kaleb en Josua was die enigste manne onder die tien spioene wat ‘n gunstige verslag aangaande die Beloofde Land gebring en die volk aangemoedig het om op te trek en dit in die Naam van die Here te verower. Kaleb het Josua nou herinner aan die belofte wat destyds, as beloning van hulle getrouheid, aan hulle gemaak is: “Die land wat jou voet betree het, sal aan jou en aan jou kinders in ewigheid as ‘n erfdeel behoort, omdat jy volgehou het om die Here my God te volg.” PeP 488.5

Daarom het hy ‘n versoek gerig dat Hebron aan hom as erfdeel gegee word. Dit was vir ‘n lank tydperk die woonplek van Abraham, Isak en Jakob; en hier, in die spelonk van Magpela, is hulle begrawe. Hebron was die woonplek van die gevreesde Enakiete wie se gedugte voorkoms die verkenners so vreesbevange gemaak het, dat Israel se moed deur hulle verbreek is. Dit, bo al die ander, was die plek wat Kaleb, met vertroue in die krag van God, vir sy erfenis gekies het. PeP 489.1

“Kyk, die Here het my laat lewe...” het hy gesê “...nou al vyf-en-veertig jaar sedert die Here hierdie woord met Moses gespreek het ... en kyk nou, ek is vandag vyf-en-tagtig jaar oud; ek is vandag nog so sterk soos die dag toe Moses my uitgestuur het; soos my krag toe was, so is my krag nou nog, om te veg en om uit te gaan en in te gaan. Gee my dan nou hierdie bergland waarvan die Here daardie dag gespreek het; want u self het die dag gehoor dat daar Enakiete is en groot versterkte stede; miskien sal die Here met my wees, sodat ek hulle kan verdrywe, soos die Here gespreek het.” Hierdie versoek is deur die hoofmanne van Juda ondersteun. Kaleb self, die een wat deur sy stam aangestel is om die land te verdeel, het besluit om hierdie manne met hom te verenig wanneer hy sy versoek bring, sodat daar geen blyke kon wees van dat hy sy gesag tot sy eie voordeel aangewend het nie. PeP 489.2

Sy versoek is onmiddellik toegestaan. Aan niemand anders kon die verowering van hierdie vesting van die reuse met meer veiligheid toevertrou word nie. “Toe het Josua hom geseën en aan Kaleb, die seun van Jefunne, Hebron as erfdeel gegee...” “...omdat hy volgehou het om die Here, die God van Israel, te volg.” Kaleb se geloof was nou nog net so sterk soos toe sy getuienis die ongunstige verslag van die ander spioene weerspreek het. Hy het die belofte van God, dat Hy Sy volk in besit van Kanaan sou bring geglo en hierin het hy die Here volkome gevolg. Hy het saam met sy volk die lang omswerwinge in die woestyn verduur en in die teleurstellings en laste van die skuldiges gedeel; tog het hy nooit hieroor gekla nie, maar het die genade van God wat hom in die woestyn bewaar het toe sy broeders omgekom het, geloof. Te midde van al die moeilikhede, gevare en plae van die omswerwinge in die woestyn en gedurende die jare van oorlog sedert hulle in Kanaan aangekom het, het die Here hom bewaar; en noudat hy PeP 489.3

oor die tagtig jaar oud was, het sy krag nie afgeneem nie. Hy het nie grond vir homself gevra wat reeds verower was nie, maar die plek wat deur die verkenners, bo alle ander, as onmoontlik om te onderwerp beskou het. Deur die hulp van God sou hy hierdie vesting met geweld van dieselfde reuse, wie se krag die Israeliete se geloof laat wankel het, afneem. Dit was nie ‘n begeerte vir eer of selfverheerliking wat aanleiding gegee het tot Kaleb se versoek nie. Die dapper ou krygsman het begeer om aan die volk van God ‘n voorbeeld te stel wat God sou vereer en die ander stamme sou aanmoedig om die land, wat deur hulle vaders as onoorwinlik beskou is, volkome te verower. PeP 490.1

Kaleb het die erfnis waarop hy veertig jaar lank sy hart gesit het, ontvang en “...die drie seuns van Enak daaruit verdrywe.” Sy ywer het egter nie getaan nadat hy op hierdie wyse besitreg vir hom en sy huishouding verseker het nie; hy het nie gaan stilsit om sy erfdeel te geniet nie, maar voortbeweeg na verdere oorwinnings tot voordeel van die volk en die heerlikheid van God. PeP 490.2

Die lafaards en die rebelle het in die woestyn omgekom, maar die regverdige spioene het van die druiwe van Eskol geëet. Aan elkeen is volgens sy geloof uitgedeel. Die ongelowiges het hulle vrese vervul gesien. Nieteenstaande God se belofte, het hulle verklaar dat dit onmoontlik was om Kanaan te beërwe en daarom het dit nie in hulle besit gekom nie. Maar diegene wat op God vertrou het en nie teen die moeilikhede wat oor hulle pad gekom het vasgekyk het nie, maar na die krag van hulle Almagtige Helper, het in die goeie land ingegaan. Dit was deur geloof dat die helde van ouds “...koninkryke oorweldig het, die skerpte van die swaard ontvlug, krag uit swakheid ontvang het, dapper gewees het in die oorlog, leërs van vreemdes op die vlug gedryf het.” (Hebreërs 11:33, 34). “...dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.” (1 Johannes 5:4). PeP 490.3

“n Ander eis aangaande die verdeling van die land, het ‘n heel ander gees as die van Kaleb openbaar. Dit is deur die kinders Josef gebring, die stam van Efraim met die halwe stam van Manasse. In oorweging van hulle groot getalle, het hierdie stamme ‘n dubbele porsie van die grond geëis. Die lot wat aan hulle toegesê is, was die rykste in die land en het die vrugbare dal van Saron ingesluit; maar baie van die vernaamste stede in PeP 490.4

die dal was nog in die hande van die Kanaaniete en die stamme het teruggedeins vir die moeite en die gevaar om hulle erfnis te verower en het ‘n bykomende porsie van die gebied wat reeds onderwerp was, begeer. Die stam Efraim was een van die grootste in Israel en was boonop die stam waaraan Josua self behoort het en die lede van die stam het hulleself as geregtig op besondere oorweging beskou: “Waarom het u my as erfdeel net een lot en een aandeel gegee terwyl ek tog ‘n groot volk is?” Maar geen afwyking van streng geregtigheid kon van die onbuigbare leier gewen word nie. PeP 491.1

Hy het geantwoord: “As jy ‘n groot volk is, trek dan op na die boswêreld en kap vir jou daar ‘n plek skoon in die land van die Feresiete en Refaïete, ingeval die gebergte van Efraim vir jou te nou is.” PeP 491.2

Hulle antwoord het die ware rede vir hulle klagte geopenbaar. Hulle het nie die geloof en die moed gehad om die Kanaaniete uit te dryf nie. Hulle het geantwoord: “Die gebergte sal nie vir ons genoeg wees nie en al die Kanaaniete wat in die lae streke woon, het ysterwaens.” PeP 491.3

Die krag van die God van Israel is aan Sy volk belowe en indien die Efraimiete die moed en die geloof van Kaleb gehad het, sou geen vyand voor hulle kon staande bly nie. Hulle duidelike begeerte om swaarkry en gevaar te vermy, is met vasberadenheid deur Josua teëgestaan. Hy het gesê: “Jy is ‘n groot volk en jy het groot krag: ...jy moet die Kanaaniet verdrywe, al het hy ysterwaens, al is hy sterk.” So is hulle eie argumente teen hulle gebruik. Aangesien hulle, soos hulle geëis het, ‘n groot volk was, was hulle ten volle in staat om, soos hulle broeders, hulle eie pad oop te veg. Met die hulp van God was dit nie nodig om die strydwaens van yster te vrees nie. PeP 491.4

Tot dusver was Gilgal die hoofkwartier van die volk en die setel van die tabernakel. Maar nou moes die tabernakel verskuif word na die permanente plek wat daarvoor gekies is. Dit was Silo, ‘n klein dorpie in die erfdeel van Efraim. Dit was naby die middelpunt van die land en maklik bereikbaar vir al die stamme. Hier was ‘n deel van die land wat totaal onderwerp was, sodat die aanbidders nie gesteur sou word nie. “Daarop het die hele vergadering van die kinders van Israel in Silo byeengekom en daar die tent van samekoms opgeslaan.” Die stamme wat nog PeP 491.5

gekampeer het toe die tabernakel van Gilgal verwyder is, het gevolg en naby Silo kamp opgeslaan. Daar het die stamme gebly totdat hulle na hulle besittings uiteengegaan het. PeP 492.1

Die verbondsark het driehonderd jaar lank in Silo gebly totdat dit, as gevolg van die sonde van Eli se huis, in die hande van die Filistyne geval en Silo ‘n vernietig is. Die ark is nooit daarna hier na die tabernakel teruggebring nie; die diens van die heiligdom is uiteindelik na die tempel in Jerusalem oorgeplaas en Silo het onbeduidend geword. Daar is net ruïnes om die plek aan te dui waar dit eens gestaan het. Lank daarna is die lot van Silo gebruik as waarskuwing aan Jerusalem. “Gaan tog na my plek wat in Silo was...” het die Here deur die profeet Jeremia verklaar, “...waar Ek my Naam vroeër laat woon het en kyk wat Ek daaraan gedoen het weens die boosheid van my volk Israel ... daarom sal Ek aan die huis waaroor my Naam uitgeroep is, waar julle op vertrou en aan die plek wat Ek aan julle en julle vaders gegee het, doen soos Ek aan Silo gedoen het.” (Jeremia 7:12-14.) PeP 492.2

“Toe hulle die land volgens sy grenslyne as erfenis geheel verdeel het...” en al die stamme hulle erfdeel ontvang het, het Josua sy eis ingedien. Soos aan Kaleb, is daar ook aan hom ‘n besondere erfnis belowe; nogtans het hy nie vir ‘n groot grondgebied gevra nie, maar slegs een stad. “Op bevel van die Here het hulle hom die stad gegee wat hy gevra het en hy het die stad opgebou en daarin gaan woon.” Die naam wat aan die stad gegee is, was Timnat-Serag “...die stukkie wat oorbly...”-'n blywende getuienis van die edel karakter en onselfsugtige gees van die oorwinnaar wat, in stede daarvan dat hy eerste aanspraak op die buit gemaak het, sy eise teruggehou het totdat die nederigste van sy volk bedien was. PeP 492.3

Ses van die stede wat aan die Leviete toegesê is-drie weerskante van die Jordaan-is as vrystede aangewys, waarheen iemand wat ‘n man gedood het vir veiligheid kon vlug. Die aanwysing van hierdie stede is deur Moses beveel sodat “...een wat per ongeluk ‘n mens doodgeslaan het, daarheen kan vlug. En...” het hy gesê, “...die stede moet vir julle as toevlug dien, sodat hy wat ‘n doodslag begaan het, nie sterwe voordat hy voor die vergadering gestaan het om geoordeel te word nie.” (Numeri 35:11,12). Hierdie genadige voorsorg was genoodsaak as gevolg van die antieke gebruik van persoonlike wraak, PeP 492.4

waardeur die straf van die moordenaar op die naaste bloedverwant of erfgenaam berus het. In gevalle waar die skuld duidelik bewys was, was dit onnodig om te wag totdat die saak deur die regsdienaars verhoor word. Die bloed-wreker kon die misdadiger oral agtervolg en hom dood net waar hy hom aantref. Die Here het dit nie op daardie stadium, goed geag om hierdie gewoonte af te skaf nie, maar Hy het voorsiening gemaak vir die beskerming van diegene wat iemand onopsetlik gedood het. PeP 493.1

Die vrystede is so wyse oor die land versprei, dat dit binne ‘n halfdag se reis vanaf enige deel van die land bereik kon word. Die paaie daarheen moes altyd in ‘n goeie toestand gehou word; oral langs die pad was duidelike aanwysingsborde met die woord “toevlugsoord” in gewone, vet letters, sodat die voortvlugtige nie vir ‘n oomblik vertraag sou word nie. Enigiemand, Hebreër, vreemdeling, of bywoner, kon van hierdie voorsiening gebruik maak. Maar, terwyl die onskuldige nie oorhaastig gestraf moes word nie, moes die skuldige ook nie ongestraf bly nie. Die voortvlugtige se saak moes regverdig voor die owerhede verhoor word en alleenlik wanneer iemand onskuldig aan doelbewuste moord gevind word, moes hy in die vrystad beskerm word. Die skuldige is aan die bloed-wreker oorhandig. En diegene wat op beskerming geregtig was, kon dit slegs ontvang op voorwaarde dat hulle in die aangewese vrystad bly. As hy buite die voorgeskrewe perke weggedwaal het en deur die bloed-wreker gevind is, sou die verlies van sy lewe die boete vir die verontagsaming van die Here se voorsiening wees. Maar met die dood van die hoëpriester, was almal wat in die vrystede geskuil het, egter vry om na hulle besittings terug te keer. PeP 493.2

Wanneer iemand weens moord aangekla was, kon hy nie op die getuienis van slegs een getuie skuldig bevind word nie, al was die getuienis teen hom ook hoe oortuigend. Die Here het beveel: “As iemand ‘n mens doodslaan, moet die moordenaar op verklaring van getuies gedood word; maar een getuie is nie genoegsaam om iemand tot die dood te veroordeel nie” (Numeri 35:30). Dit is Christus wat aan Moses hierdie opdragte vir Israel gegee het; en toe Hy persoonlik met Sy dissipels op aarde was, soos hy hulle geleer het hoe om die dwalendes te behandel, het die Groot Leermeester die les herhaal dat die getuienis van een PeP 493.3

mens nie genoeg is om vry te spreek of te veroordeel nie. Een mens se siening en menings moet nooit twisvrae beslis nie. In al hierdie sake moet daar twee of meer wees wat saamstem en saam die verantwoordelikheid dra, dat “...in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan.” (Mattheus 18:16). PeP 494.1

As iemand vir moord verhoor en skuldig bevind was, kon geen versoening of losprys hom red nie. “Hy wat die bloed van ‘n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word.” (Genesis 9:6). “Julle mag geen losgeld aanneem vir die lewe van ‘n moordenaar wat skuldig is om te sterwe nie, want hy moet sekerlik gedood word.” “Jy (moet) hom van my altaar af wegneem, om te sterwe...” was die bevel van God, “...vir die land word geen versoening gedoen vir die bloed wat daarin vergiet is nie, as net deur die bloed van hom wat dit vergiet het.” (Numeri 35:31; Exodus 21:14; Numeri 35:33). Die veiligheid en reinheid van die volk het vereis dat die sonde van moord swaar gestraf moes word. Die lewe van ‘n mens, wat net God kon gee, moet heilig bewaak word. PeP 494.2

Die vrystede wat vir God se volk van ouds aangewys is, was ‘n simbool van die toevlug wat in Christus voorsien word. Dieselfde genadige Verlosser wat hierdie aardse vrystede voorsien het, het, deur Sy eie bloed te stort, vir die oortreders van God se wet ‘n veilige vesting, waarheen hulle kan vlug vir veiligheid teen die tweede dood voorsien. Geen mag kan die siele wat na Hom gaan vir vergifnis, uit Sy hande neem nie. “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie.” “Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree...” sodat ons “...kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê.” (Romeine 8:1,34; Hebreërs 6:18). PeP 494.3

Hy wat na die vrystad gevlug het, kon nie talm nie. Sy familie en sy werk is agtergelaat. Daar was geen tyd om bemindes te groet nie. Sy lewe was op die spel en alle ander belange moes vir die een doel, om ‘n plek van veiligheid te bereik, opgeoffer word. Moegheid was vergete en probleme verontagsaam. Die voortvlugtige kon dit nie waag om vir een oomblik sy pas te verslap totdat hy binne die stadsmuur was nie. PeP 494.4

Die sondaar word, totdat hy ‘n skuilplek in Christus gevind het, aan die ewige dood blootgestel; en aangesien huiwering en sorgeloosheid die voortvlugtige van sy enigste kans op lewe kon beroof, so kan vertragings en onverskilligheid die ondergang van die siel beteken. Die Satan, die groot teenstander, is op die spoor van elke oortreder van God se heilige wet en hy wat nie sensitief vir die gevaar is nie en nie met erns skuiling in die ewige Vesting soek nie, sal die verwoester ten prooi val. PeP 495.1

Die gevangene wat op enige stadium buite die vrystad beweeg het, is aan die bloed-wreker oorgelaat. So is die mense geleer om die metodes wat oneindige Wysheid vir hulle veiligheid beskik het, te handhaaf. Maar selfs vir die sondaar om net vir die vergifnis van sonde in Christus te glo, is nie voldoende nie; deur geloof en gehoorsaamheid moet hy in Hom bly. “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer nie, maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer.” (Hebreërs 10:26,27). PeP 495.2

Twee van die stamme van Israel, Gad en Ruben, met die halwe stam van Manasse, het hulle erfnis ontvang voordat hulle oor die Jordaan getrek het. Vir ‘n herdersvolk het die bolandse vlaktes en die ryk woude van Gilead en Basan, wat uitgebreide weiding vir hulle kleinvee en beeste gebied het, aantreklikhede gebied wat nie in Kanaan gevind kon word nie en die twee en ‘n halwe stamme wat begeer het om hulle daar te vestig, het ‘n eed afgelê om hulle deel van gewapende manne te voorsien om hulle broeders oor die Jordaan te begelei en in hulle gevegte te deel, totdat hulle ook hulle erfenis in besit kon neem. Hulle het hulle verpligting getrou nagekom. Toe die tien stamme in Kanaan ingetrek het, het veertigduisend van die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse “...wat vir oorlog gewapen was, voor die aangesig van die Here deurgetrek om te veg, na die vlaktes van Jerigo toe.” (Josua 4:12,13). Hulle het vir jare dapper aan die sy van hulle broeders geveg. Nou het die tyd aangebreek vir hulle om na die land van hulle besitting terug te keer. Namate hulle met hulle broeders in die konflikte verenig het, het hulle ook hulle deel van die buit ontvang; en hulle het “...met groot rykdomme en ‘n menigte van vee, met silwer en goud en koper en yster en baie klere...” PeP 495.3

teruggekeer, om dit met diegene te deel wat by hulle gesinne en kuddes agtergebly het. PeP 496.1

Hulle het nou ‘n hele afstand weg van die heiligdom van die Here gewoon en Josua was bekommerd toe hy hulle sien vertrek, want hy het geweet hoe groot die versoekings van hulle afgesonderde, swerwerslewe, om in die gebruike van die heidene aan hulle landsgrense te verval, sou wees. PeP 496.2

Terwyl die gedagtes van Josua en die ander leiers nog met angstige voorbodes gevul was, het vreemde gerugte hulle ore bereik. Langs die Jordaan, naby die plek waar Israel deur ‘n wonderwerk deur die Jordaan gelei is, het die twee en ‘n halwe stamme ‘n groot altaar, soortgelyk aan die brandofferaltaar te Silo, opgerig. Die wet van God het, op straf van die dood, die instelling van enige ander tipe van aanbidding as die by die heiligdom, belet. As dit die doel van die altaar was, sou dit, indien dit toegelaat word om te bly, die volk van die ware geloof weglei. PeP 496.3

Die verteenwoordigers van die volk het by Silo byeengekom en het, in die hitte van hulle opgewondenheid en verontwaardiging, hulle voorgeneem om teen die oortreders oorlog te voer. Maar deur die invloed van diegene met meer omsigtigheid, is daar egter besluit om eers ‘n afvaardiging te stuur om van die twee en ‘n halwe stamme ‘n verduideliking vir hulle optrede te verkry. Tien owerstes, een uit elke stam, is gekies. Aan hulle hoof was Pinehas wat hom by Peor onderskei het vir sy ywer vir die Here. PeP 496.4

Die twee en ‘n halwe stamme het ‘n fout begaan deur sonder verduideliking ‘n daad te begaan wat blootgestel was aan ernstige agterdog. Die afgevaardigdes, wat dit as vanselfsprekend aangeneem het dat hulle broeders skuldig was, het hulle skerp daaroor aangespreek. Hulle het hulle beskuldig dat hulle teen die Here gerebelleer het en hulle vermaan om te dink aan die oordele oor Israel toe hulle hul aan Baal-Peor verbind het. Namens die ganse Israel het Pinehas aan die kinders van Gad en Ruben gesê dat indien hulle onwillig was om sonder ‘n brandofferaltaar in hulle eie land te bly, hulle welkom sou wees om in die besittings en voorregte van hulle broeders oorkant die rivier te deel. PeP 496.5

In antwoord daarop het die beskuldigdes verduidelik dat die altaar nie vir brandoffers bedoel was nie, maar eenvoudig as ‘n getuienis dat, hoewel hulle deur die rivier geskei was, hulle nog aan dieselfde geloof behoort het as hulle broeders in Kanaan. Hulle het gevrees dat hulle kinders miskien in die toekomstige jare van die tabernakel uitgesluit kon word asof hulle geen deel aan Israel gehad het nie. Dan sou hierdie altaar, wat volgens die patroon van die altaar van die Here te Silo gebou is, getuig dat sy bouers ook aanbidders van die lewende God was. PeP 497.1

Die gesante het hierdie verklaring met groot vreugde aanvaar en dadelik die tyding na diegene wat hulle gestuur het teruggeneem. Alle gedagtes aan oorlog is onmiddellik versaak en die volk het met blydskap verenig en die Here geloof. PeP 497.2

Daarna het die kinders van Gad en Ruben ‘n inskripsie aan die altaar aangebring wat die doel waarvoor dit opgerig is aandui; en hulle het gesê: “Hy is getuie tussen ons dat die Here God is.” So het hulle gepoog om enige toekomstige misverstand uit die weg te ruim en om alle aanleiding tot versoeking te verwyder. PeP 497.3

Hoe dikwels ontstaan daar ernstige probleme as gevolg van ‘n eenvoudige misverstand, selfs tussen die wat deur die mees verdienstelike beweegredes aangedryf word; en as daar nie hoflikheid en verdraagsaamheid aan die dag gelê word nie, kan daar ernstige en selfs dodelike, gevolge wees. Die tien stamme het onthou hoe, in die geval van Agan, God hulle bestraf het as gevolg van ‘n gebrek aan waaksaamheid om sonde wat in hulle midde bestaan het te ontdek. Nou het hulle hulle voorgeneem om sonder versuim en ernstig op te tree; maar in hulle voorneme om hulle eerste fout te vermy het hulle tot die ander uiterste oorgegaan. In stede daarvan dat hulle beleefd navraag gedoen het om die feite van die saak te wete te kom, het hulle hul broeders bestraf en veroordeel. As die manne van Gad en Ruben in dieselfde gees geantwoord het, sou daar oorlog gevolg het. Hoewel dit aan die een kant belangrik is om nie laks te wees in die optrede teen sonde nie, is dit net so belangrik om harde oordeel en ongegronde agterdog te vermy. PeP 497.4

Hoewel hulle baie sensitief vir die geringste blaam ten opsigte van hulleself is, is baie veels te streng in hulle optrede teenoor diegene wat hulle van dwaling verdink. Niemand is ooit PeP 497.5

deur bestraffing en verwyt van ‘n dwaalweg herwin nie; maar talle word op hierdie wyse verder van die regte pad verdryf en die gevolg is dat hulle hul harte teen oortuiging verhard. ‘n Gees van barmhartigheid en ‘n hoflike, verdraagsame houding kan die dwalendes red en ‘n menigte van sondes bedek. PeP 498.1

Die wysheid wat die Rubeniete en hulle metgeselle aan die dag gelê het is navolgenswaardig. Terwyl hulle waarlik gestreef het om die saak van ware godsdiens te bevorder, is hulle verkeerd veroordeel en streng bestraf; nogtans het hulle geen weersin geopenbaar nie. Hulle het met hoflikheid en geduld na hulle broeders geluister voordat hulle hulself probeer verdedig het en daarna hulle beweegredes ten volle verduidelik en hulle onskuld bewys. So is dan die moeilikheid wat sulke ernstige gevolge kon gehad het, vreedsaam opgelos. PeP 498.2

Selfs wanneer hulle vals beskuldig word, kan diegene wat die reg aan hulle kant het, dit bekostig om kalm en bedagsaam te bly. God is met alles wat mense misverstaan en mis vertolk bekend en ons kan ons saak met veiligheid in Sy hande laat. Hy sal net so seker die saak van diegene wat hulle vertroue in Hom plaas verdedig, soos wat hy die skuld van Agan uitgewys het. Diegene wat deur die gees van Christus beweeg word, sal daardie liefdadigheid besit wat lankmoedig en vriendelik is. PeP 498.3

Dit is die wil van God dat daar eenheid en broederliefde tussen Sy volk moet bestaan. Die gebed van Christus, net voor Sy kruisiging, was dat Sy dissipels een moet wees net soos Hy en die Vader een is, sodat die wêreld kan glo dat God Hom gestuur het. Hierdie uiters roerende en wonderlike gebed reik deur die eeue, selfs tot in ons tyd, want Sy woorde was: “Maar ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo.” (Johannes 17:20). Terwyl ons geen enkele beginsel van die waarheid moet prysgee nie, behoort dit ons voortdurende mikpunt te wees om hierdie toestand van eenheid te bereik. Dit is die bewys van ons dissipelskap. Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” (Johannes 13:35). Die apostel Petrus vermaan die kerk: “Wees almal eensgesind, medelydend, vol broederliefde en ontferming, vriendelik. Vergeld geen kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën PeP 498.4

inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is, sodat julle seën kan beërwe.” (1 Petrus 3:8,9). PeP 499.1