Patriarge en Profete
Hoofstuk 45—Die Val van Jerigo
(Hierdie hoofstuk berus op Josua 5:13-15;6;7) PeP 466.1
Die Hebreërs het Kanaan binnegetrek, maar hulle het dit nog nie onderwerp nie en menslik gesproke sou die stryd om dit in besit te neem lank en moeilik wees. Die land is deur ‘n magtige volk, wat gereed gestaan het om die inval op hulle gebied te verdedig, bewoon. Die verskeie stamme is uit vrees vir ‘n gemeenskaplike gevaar, saamgebind. Hulle perde en yster strydwaens, hulle kennis van die land en hulle krygsopleiding sou grootliks in hulle guns wees. Verder is die land deur vestings versterk “...stede wat groot en tot aan die hemel versterk is...” (Deuteronomium 9:1). Slegs met die versekering dat hulle hul op ‘n Krag buite hulleself kon beroep, kon die Israeliete hoop om in die komende stryd te seëvier. PeP 466.2
Een van die sterkste vestings van die land, die groot en magtige Jerigo, het reg voor hulle gelê, slegs ‘n kort afstand van hulle laer te Gilgal. Op die grens van ‘n vrugbare vlakte, oorvloedig met ‘n ryk verskeidenheid van tropiese produkte, die paleise en tempels ‘n woonplek van weelde en ondeug, het hierdie trotse stad agter sy verskansings, die God van Israel uitgetart. Jerigo was een van die belangrikste setels van afgodediens, veral toegewy aan Astarot, die godin van die maan. Dit was die middelpunt van Kanaan se verfoeilikste en mees verlagende bygelowe. Die volk Israel, wat nog terdeë bewus van hulle sonde te Bet-Peor was, kon hierdie heidense stad slegs met veragting en afsku bejeën. PeP 466.3
Om Jerigo te onderwerp, het Josua as die eerste stap in die verowering van Kanaan beskou. Maar eerstens het hy na die versekering van die leiding van God gesoek dit is aan hom verleen. Terwyl hy homself buite die kamp afgesonder het om te mediteer en te bid dat die God van Israel voor Sy volk uit moes trek, het hy ‘n gewapende krygsman, ‘n groot, verhewe Persoon “...met ‘n ontblote swaard in sy hand...” gesien. Op Josua se vraag: “Behoort u by ons of by ons vyande?” het hy geantwoord: “Ek is die Leërowerste van die Here; Ek het nou gekom.” Dieselfde bevel wat Moses by Horeb ontvang het, is nou weer gegee: “Trek jou skoene van jou voete af, want die PeP 466.4
plek waar jy op staan, is heilig.” Dit het die ware aard van die geheimsinnige Besoeker geopenbaar. Dit was Christus, die Verhewe Een, wat voor die leier van Israel gestaan het. Met ontsag gevul, het Josua in aanbidding op sy aangesig neergeval en die versekering gehoor: “Ek gee Jerigo met sy koning en dapper helde in jou hand...'‘ en hy het opdrag ontvang vir die verowering van die stad. PeP 467.1
Gehoorsaam aan die Bevel van God het Josua die leërs van Israel aangevoer. Geen aanval moes uitgevoer word nie. Hulle moes eenvoudig met die ark rondom die stad marsjeer en die trompette blaas. In die voorhoede was die krygsmanne, ‘n afdeling van uitgesoekte manne, maar nie om hierdie keer deur hul eie vernuf en dapperheid te oorwin nie, maar deur gehoorsaamheid aan die bevele wat God aan hulle gegee het. Sewe priesters met trompette het gevolg. Agter hulle het die priesters, in die gewaad van hulle heilige amp, die verbondsark, omring met ‘n stralekrans van Goddelike Heerlikheid, gedra. Die leër van Israel het gevolg, elke stam onder sy eie vaandel. Dit was die optog wat rondom die gedoemde stad gemarsjeer het. Daar was geen ander geluid as die voetstappe van daardie groot menigte en die plegtige geluid van die trompette wat van die heuwels af in die strate van Jerigo weerklink het nie. Nadat die optog voltooi was, het die leër in stilte na hulle tente teruggekeer en is die verbondsark op sy plek in die tabernakel gesit. PeP 467.2
Met verwondering en paniekbevange het die wagte van die stad elke beweging dopgehou en verslag aan die owerheid gelewer. Hulle het nie geweet wat al hierdie vertoon beteken nie, maar toe hulle daardie magtige menigte, wat elke dag een keer om die stad met die heilige verbondsark, vergesel van die priesters sien marsjeer, het die geheimsinnigheid van die toneel hulle priesters en mense vreesbevange gemaak. Hulle het dan weer ‘n keer die sterk vestings ondersoek om seker te maak dat hulle die sterkste aanslag sou kon weerstaan. Baie van hulle het die idee, dat hulle enige skade deur hierdie enkele vertonings kon opdoen, belaglik gevind. Ander was met ontsag gevul wanneer hulle elke dag die optog rondom die stad sien marsjeer. Hulle het onthou dat die Rooi See eenkeer voor hierdie volk oopgegaan het en dat daar kort gelede ‘n pad deur PeP 467.3
die Jordaanrivier vir hulle oopgemaak is. Hulle wis nie watter verdere wonderwerke God nog vir hulle mag verrig nie. PeP 468.1
Ses dae lank het die vergadering van Israel rondom die stad marsjeer. Die sewende dag het aangebreek en met die eerste 490 lig van dagbreek het Josua die leërs van die Here aangevoer. Hulle is nou beveel om sewe keer rondom Jerigo te marsjeer en met ‘n magtige klank van die trompette, moes hulle met ‘n luide stem skreeu, want God het die stad aan hulle oorgegee. PeP 468.2
Die groot leër het plegtig rondom die gedoemde mure gemarsjeer. Alles was stil behalwe die afgemete treë van baie voete en af en toe die geluid van ‘n trompet wat die oggend stilte verbreek. Dit het voorgekom asof die massiewe mure van soliede klip die beleg van mense uitdaag. Met toenemende vrees het die wagters op die muur gekyk hoe die eerste kringloop eindig en die tweede begin, gevolg deur die derde, die vierde, die vyfde en die sesde. Wat was die doel van hierdie geheimsinnige bewegings? Wat se magtige gebeurtenis sou volg? Hulle het nie lank gehad om te wag nie. Nadat die sewende rondte voltooi was, het die optog gaan stilstaan. Die trompette, wat vir ‘n wyle stil was, het nou met ‘n oorverdowende klank uitgebasuin wat die aarde laat skud het. Die mure van soliede klip, met die massiewe torings en die kantele, het gekantel, uit hulle fondasies geskud en met ‘n slag in puin op die grond neergestort. Die inwoners van Jerigo is verlam van vrees en die menigtes van Israel het in gemarsjeer en die stad in besit geneem. PeP 468.3
Die Israeliete het nie deur hulle eie mag die oorwinning behaal nie; dit het geheel en al van die Here gekom; en as eerste vrugte van die land moes die stad, met alles wat daarin was, aan die Here geoffer word. Die Israeliete moes duidelik verstaan dat hulle met die verowering van Kanaan nie vir hulleself sou veg nie, maar dat hulle eenvoudig werktuie sou wees om die wil van God uit te voer; hulle moes nie na rykdom of selfverheffing streef nie, maar na die heerlikheid van Jehova, hulle Koning. Voordat hulle die stad ingeneem het, het hulle die bevel gekry: “Die stad met al wat daarin is, moet ‘n banoffer aan die Here wees.” “Neem julle net in ag vir die ban, dat julle nie ... van die bangoed neem en die laer van Israel onder die ban bring en dit in die ongeluk stort nie.” PeP 468.4
Al die inwoners van die stad, met elke lewende ding daarin “...man sowel as vrou, jonk sowel as oud, tot bees, skaap en esel...” is met die swaard gedood. Net die getroue Ragab en haar huisgesin is gered ter vervulling van die belofte van die verkenners. Die stad self is verbrand; die paleise en tempels, die pragtige woonhuise met al die weelderige meubels, die ryk gordyne en duur klere, is in die vlamme gegooi. Wat nie deur die vuur vernietig kon word nie, “...die silwer en die goud en die koper en ystervoorwerpe...” is aan die diens van die tabernakel gewy. Selfs die plek waar die stad gestaan het, is vervloek; Jerigo moes nooit weer as vesting herbou word nie; ‘n vloek is uitgespreek oor elkeen wat dit sou waag om daardie mure wat deur die krag van God neergewerp is, weer op te bou. Die plegtige verklaring is in die teenwoordigheid van die ganse Israel uitgespreek: “Vervloek is die man voor die aangesig van die Here wat sal opstaan om hierdie stad Jerigo op te bou: ten koste van sy eersgeborene sal hy sy fondamente lê en ten koste van sy jongste sal hy sy poorte insit.” PeP 469.1
Die algehele uitwissing van die inwoners van Jerigo was die eintlike vervulling van die bevel wat voorheen deur Moses aangaande die bewoners van Kanaan gegee is: “Dan moet jy hulle geheel en al met die banvloek tref.” (Deuteronomium 7:2). “Van die stede van hierdie volke ... moet jy niks wat asem het, laat lewe nie” (Deuteronomium 20:16). Vir baie mense lyk dit asof hierdie bevele teenstrydig is met die gees van liefde wat in ander dele van die Bybel beveel word, maar dit was in werklikheid die voorskrifte van oneindige wysheid en goedheid. God het op die punt gestaan om Israel in Kanaan te vestig om tussen hulle ‘n volk en ‘n regering te ontwikkel wat ‘n openbaring sou wees van Sy koninkryk op aarde. Hulle sou nie net erfgename van die ware geloof wees nie, maar moes die beginsels daarvan deur die wêreld versprei. Die Kanaaniete het hulle aan die vuilste en mees verlagende heidenisme oorgegee en dit was nodig dat die land gereinig moes word van dit wat gewis die vervulling van God se genadige planne sou verhinder. PeP 469.2
Daar is meer as genoeg geleentheid aan die inwoners van Kanaan gegun om hulle te bekeer. Veertig jaar vantevore het die opening van die Skelfsee en die oordele wat die Egiptenare getref het van die oppermag van die God van Israel getuig. En nou het die verowering van die konings van Midian, van Gilead PeP 469.3
en van Basan verder getuig dat Jehova bo alle ander gode was. Sy heilige karakter en Sy afkeer van onreinheid is bewys deur die oordele wat Israel getref het toe hulle aan die afskuwelike plegtighede van Baal-Peor deelgeneem het. Al hierdie gebeure was aan die inwoners van Jerigo bekend en daar was baie wat, soos Ragab, van die oortuiging was, hoewel hulle geweier het om dit te gehoorsaam, dat Jehova, die God van Israel, “...God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder...” is. Soos die mense voor die sondvloed, het die Kanaaniete net geleef om die Hemel te belaster en die aarde te besoedel. En beide liefde en regverdigheid het geëis dat die rebelle teen God en die vyande van die mense dadelik tereggestel moes word. PeP 470.1
Hoe maklik het die leërs van die hemel die mure van Jerigo, die trotse stad waarvan die vestings die harte van die ongelowige verkenners veertig jaar vantevore met vrees gevul het, in duie laat stort! Die Magtige van Israel het gesê: “Ek gee Jerigo ... in jou hand.” Menslike mag was magteloos teen daardie woord. PeP 470.2
“Deur die geloof het die mure van Jerigo geval.” (Hebreërs 11:30). Die Leërowerste van die Here se skare het met niemand anders as Josua gepraat nie; Hy het Hom nie aan die vergadering geopenbaar nie en dit is aan hulle oorgelaat om die woorde van Josua te glo of te betwyfel; om die bevel wat in die naam van die Here aan hom gegee is te gehoorsaam, of sy gesag te ontken. Hulle kon nie die engeleskare wat hulle onder leiding van die Seun van God bygestaan het, sien nie. Hulle kon geredeneer het: “Hierdie bewegings het geen betekenis nie en dis heeltemal onsinnig om rondom die stad te marsjeer en op ramshorings te blaas. Dit kan op hierdie reusagtige vesting geen uitwerking hê nie.” Maar juis omdat hierdie plegtigheid so lank moes voortduur voordat die muur uiteindelik geval het, het aan die Israeliete die geleentheid gegee om hulle geloof te ontwikkel. Hulle moes daarvan bewus word dat hulle krag nie in die wysheid of in die mag van mense skuil nie, maar net in die God van hulle heil. So moes hulle gewoond raak om geheel en al op hulle Goddelike Leier staat te maak. PeP 470.3
God sal groot dinge doen vir diegene wat op Hom vertrou. Die rede waarom Sy belydende mense nie groter krag het nie, is omdat hulle te veel op hulle eie wysheid staatmaak en die Here nie die geleentheid gee om Sy krag namens hulle te PeP 470.4
openbaar nie. Hy sal Sy gelowige kinders in elke noodgeval bystaan as hulle hul volle vertroue in Hom wil stel en Hom getrou gehoorsaam. PeP 471.1
Kort na die val van Jerigo, het Josua besluit om Ai, ‘n klein dorpie tussen die klowe ‘n paar kilometer wes van die Jordaanvlakte, aan te val. Spioene wat daarheen gestuur is, het berig dat dit min inwoners het en dat slegs ‘n klein leër nodig sou wees om dit te verower. PeP 471.2
Die groot oorwinning wat God vir hulle behaal het, het die Israeliete met selfvertroue gevul. Omdat Hy die land Kanaan aan hulle beloof het, het hulle veilig gevoel en nie besef dat net Goddelike Hulp aan hulle die oorwinning kon besorg nie. Selfs Josua het sy planne vir die verowering van Ai beraam sonder om God daaroor te raadpleeg. PeP 471.3
Die Israeliete het hulle eie krag begin oorskat en het met veragting op hulle vyande neergesien. Hulle het ‘n maklike oorwinning verwag en gemeen drieduisend man sou genoeg wees om die stad in te neem. Hulle het oorhaastig tot die aanval oorgegaan, sonder die versekering dat God met hulle sou wees. Hulle het byna tot by die poorte van die stad gevorder, toe hulle vasberade weerstand teëgekom het. Paniekbevange oor die getalle en deeglike voorbereiding van hulle vyande, het hulle in verwarring teen die steilte af gevlug. Die Kanaaniete was kort op hulle hakke en het “...hulle agtervolg van die poort af... en hulle verslaan op die afdraand.” Hoewel hulle verlies gering in getal was-slegs ses-en-dertig manne wat gedood is-was die nederlaag ontmoedigend vir die hele vergadering. “Die volk se hart het versmelt en soos water geword.” Dit was die eerste keer dat hulle werklik teen die Kanaaniete geveg het en as die verdedigers van so ‘n klein dorpie hulle op die vlug gejaag het, hoe sou hulle in die groter gevegte voor hulle vaar? Josua het hulle nederlaag as ‘n bewys van God se misnoeë gesien en in nood en met vrees het hy “...sy klere geskeur en met sy aangesig op die grond geval voor die ark van die Here, tot die aand toe, hy en die oudstes van Israel en hulle het stof op hulle hoofde gegooi.” PeP 471.4
Josua het gebid: “Ag, Here HERE, waarom het U hierdie volk ooit deur die Jordaan laat trek om ons oor te gee in die hand van die Amoriete, sodat hulle ons kan vernietig? ... Ag, Here, wat sal PeP 471.5
ek sê nadat Israel vir sy vyande die rug gegee het? En as die Kanaaniete en al die inwoners van die land dit hoor, sal hulle ons omsingel en ons naam van die aarde af uitroei; wat sal U dan vir u grote Naam doen?” PeP 472.1
Jehova het geantwoord: “Staan op; waarom tog lê jy op jou aangesig? Israel het ... my verbond oortree wat Ek hulle opgelê het.” Dit was tyd vir daadwerklike en besliste optrede en nie vir wanhoop en klaagliedere nie. Daar was geheime sonde in die kamp en dit moes ontdek en verban word voordat die teenwoordigheid en die seën van God met Sy volk kon wees. “Ek sal nie meer met julle wees tensy julle die ban onder julle uit verdelg nie.” PeP 472.2
God se bevel is deur iemand van diegene wat aangestel was om Sy oordele uit te voer, verontagsaam. En die hele volk is verantwoordelik gehou vir die skuld van die oortreder. “Israel het geneem van die bangoed en ook gesteel en dit selfs heimlik by hulle goed gevoeg.” Josua het opdrag ontvang om uit te vind wie die misdadiger is en om hom te straf. Die lot sou gebruik word om die skuldige aan te wys. Die sondaar is nie dadelik aangewys nie, maar die saak is vir ‘n tyd in twyfel gelaat, sodat die volk hulle verantwoordelikheid vir die sondes onder hulle kon besef en tot selfondersoek en vernedering voor God gelei kon word. PeP 472.3
Vroeg in die oggend het Josua die volk volgens hulle stamme laat byeenkom en die plegtige en indrukwekkende seremonie het begin. Die ondersoek het stap vir stap gevorder. Die angswekkende toets het nader en nader beweeg. Eers die stam, toe die familie, daarna die gesin en uiteindelik is die man Agan, die seun van Karmi van die stam van Juda deur die vinger van God uitgewys as die beroerder van Israel. PeP 472.4
Om sy skuld bo alle twyfel te bepaal sodat daar geen rede sou wees om te beweer dat hy onregverdig gevonnis is nie, het Josua Agan plegtig besweer om die waarheid te erken. Die ongelukkige man het ‘n volle verklaring van sy misdaad afgelê: “Waarlik, ek het gesondig teen die Here, die God van Israel ... Ek het naamlik een mooi mantel uit Sinear by die buitgoed gesien en tweehonderd sikkels silwer en een goudstaaf van vyftig sikkels in gewig en ek het dit begeer en dit geneem; en kyk, daar lê dit begrawe in die grond binne in my tent.” PeP 472.5
Boodskappers is dadelik na sy tent gestuur waar hulle die grond op die gespesifiseerde plek oopgegrawe en dit daar gevind het “...en die silwer daaronder. En hulle het dit uit die tent uitgehaal en dit na Josua ... gebring en dit voor die aangesig van die Here uitgeskud.” PeP 473.1
Die vonnis is gevel en dadelik voltrek. “Hoe het jy ons in die ongeluk gestort!” het Josua gesê. “Die Here sal jou vandag in die ongeluk stort!” Aangesien die volk verantwoordelik gehou is vir Agan se sonde en onder die gevolge daarvan gely het, moes hulle, deur hulle verteenwoordigers, aan die straf deelneem. “Daarop het die hele Israel hom gestenig.” PeP 473.2
Daarna is ‘n groot hoop klippe bo op hom gestapel as getuienis van die sonde en die straf. “Daarom noem hulle daardie plek Dal Agor,” dit wil sê, die dal van ongeluk. In die boek Kronieke staan daar aangaande hom geskryf. “Agar, wat Israel in die ongeluk gestort het” (1 Kronieke 2:7). PeP 473.3
Agan se sonde is in weerwil van die mees direkte en plegtigste waarskuwings en die magtigste openbaringe van die krag van God, gepleeg. “Neem julle net in ag vir die ban, dat julle nie die laer van Israel onder die ban bring nie...” was die bevel aan die hele Israel. Die bevel is onmiddellik na die wonderbaarlike deurtog deur die Jordaan gegee en die erkenning van God se verbond deur die besnydenis, ná die viering van die Pasga en die verskyning van die Engel van die verbond, die Leërowerste van die Here. Dit was opgevolg deur die omverwerping van Jerigo om te bewys dat die vernietiging van alle oortreders van God se wet, hulle beslis sal inhaal. Die feit dat alleenlik die Goddelike Mag aan Israel die oorwinning besorg het, dat hulle Jerigo nie deur hulle eie krag in besit geneem het nie, het plegtige gewig verleen aan die bevel wat hulle belet het om van die buit te neem. God het, deur die mag van Sy eie woord die vesting omvergewerp; die oorwinning het aan Hom behoort en aan Hom alleenlik moes die stad met alles daarin aan Hom gewy word. PeP 473.4
Van die miljoene Israeliete was daar net een man wat in daardie plegtige uur van oorwinning en oordeel, dit gewaag het om die bevel van God te oortree. Agan se hebsug is deur daardie duur kleed van Sinear geprikkel. Selfs toe dit hom van aangesig tot aangesig met die dood gebring het, het hy dit PeP 473.5
“...een mooi mantel uit Sinear...'‘ genoem. Een sonde het aanleiding tot die volgende gegee en hy het ook die goud en die silwer wat aan die skatkis van die Here gewy is vir homself geneem. Hy het God van die eerstelinge van die land Kanaan beroof. PeP 474.1
Die dodelike sonde wat tot Agan se ondergang gelei het, het uit gierigheid, een van die mees algemeenste en geringste geskatte van alle sondes ontstaan. Terwyl ander oortredinge ontdek en gestraf word, gebeur dit selde dat die oortreding van die tiende gebod selfs bestraffing uitlok. Die enorme omvang van hierdie sonde en die verskriklike gevolge daarvan, is lesse uit Agan se geskiedenis. PeP 474.2
Begeerlikheid is ‘n boosheid wat stelselmatig ontwikkel. Agan het gierigheid gekoester, totdat dit ‘n gewoonte geraak het wat hom met byna onbreekbare boeie gebind het. Toe hy hierdie euwel begaan het, sou hy met afsku vervul gewees het aan die gedagte dat dit vir Israel ‘n ramp sou beteken; maar sy persepsies is deur sonde afgestomp en toe die versoeking kom, was hy ‘n maklike prooi. PeP 474.3
Word soortgelyke sondes nie steeds in die aangesig van waarskuwings wat net so plegtig en duidelik is, gepleeg nie? Ons word net so duidelik belet om gierigheid te koester, soos wat Agan was om nie die buit van Jerigo te neem nie. God het dit as afgodery verklaar. Ons word gewaarsku: “Julle kan nie God en Mammon dien nie!” (Mattheus 6:24). “Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug.” (Lukas 12:15). “Hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie,” (Efesiërs 5:3). Ons het voor ons die vreesagtige verdoemenis van Agan, van Judas, van Ananias en Saffira. Agter dit alles het ons die voorbeeld van Lucifer, die “...morester, seun van die dageraad...” wat ‘n hoër posisie begeer het en daarom vir ewig die lig en saligheid van die hemel verbeur het. En tog, nieteenstaande al hierdie waarskuwings heers die hebsug steeds. PeP 474.4
Die slymerige spoor word oral gesien. Dit skep ontevredenheid en verdeeldheid in gesinne; dit wek afguns en haat by die behoeftiges teenoor die rykes; dit spoor die rykes aan om die armes te verdruk. En hierdie euwel bestaan nie alleenlik in die wêreld nie, maar ook in die kerk. Dit is algemeen om selfs hier selfsug, gierigheid, kullery, verwaarlosing van PeP 474.5
liefdadigheid en berowing van God op die gebied van tiendes en offergawes aan te tref. Onder kerklidmate “...van onbesproke gedrag en wandel...” is daar, helaas, talle Agans! Menige mens kom gereeld kerk toe en sit by die tafel van die Here aan, terwyl daar onwettige wins onder sy besittings verberg is, dinge wat God vervloek het. Vir ‘n mooi Babiloniese mantel, sal menige die goedkeuring van hulle gewete en hulle hoop op die hemel versaak. Menige sal hulle eerbaarheid en bevoegdhede om diensbaar te wees, vir ‘n sak silwer verruil. Die noodroep van die lydende behoeftiges val op dowe ore; die lig van die evangelie word verhinder; die bespotting van wêreldlinge word aangevuur deur praktyke wat ‘n leuen aan die Christelike beroep verleen; en tog gaan die gierige belydende voort om vir hom skatte op te gaar. “Mag ‘n mens God beroof? Want julle beroof My” (Maleagi 3:8), sê die Here. PeP 475.1
Agan se sonde het ‘n ramp oor die hele volk gebring. Vir een mense se sonde sal die misnoeë van God op Sy kerk rus totdat die oortreding opgespoor en verwyder is. Die invloed wat die meeste deur die kerk gevrees moet word, is nie dié van openlike teenstanders, ongelowiges en lasteraars nie, maar teenstrydige belydende Christene. Dit is hulle wat die seën van die God van Israel terughou en swakheid onder Sy volk veroorsaak. PeP 475.2
Wanneer die kerk hom in die moeilikheid bevind, wanneer koudheid en geestelike agteruitgang, wat aan die vyande van God die oorwinning gee bestaan, dan moet die lede nie hulle hande vou en oor hulle ongelukkige toestand kla nie, maar eerder verneem of daar ‘n Agan in die kamp is. Met nederigheid en selfondersoek moet elkeen die verborge sondes ontdek wat die teenwoordigheid van God uitsluit. PeP 475.3
Agan het sy misdaad bely, maar eers nadat dit te laat vir hom was om daarby te baat. Hy het gesien hoe die leërs van Israel verslaan en ontmoedig van Ai terugkeer; maar hy het nie te voorskyn gekom en sy sonde bely nie. Hy het gesien hoedat Josua en die oudstes in onbeskryflike droefheid met hulle aangesigte op die aarde lê. As hy toe sy sonde bely het, sou dit ‘n bewys gewees het van ware berou; maar hy het steeds geswyg. Hy het na die aankondiging dat ‘n groot misdaad gepleeg was geluister en selfs die aard daarvan, wat duidelik uiteengesit is. Maar sy lippe was verseël. Toe kom die plegtige PeP 475.4
ondersoek. Hoe was sy siel nie met angs gevul toe hy sien hoe sy stam uitgewys is en toe sy familie en sy huisgesin! Maar steeds het hy geen belydenis geuiter nie, totdat die vinger van God op hom gelê is. Eers toe sy sonde nie meer bedek kon word nie, het hy die waarheid erken. Hoe dikwels word soortgelyke belydenisse gedoen. Daar is ‘n groot verskil tussen die erkenning van feite nadat hulle bewys is en die belydenis van sondes wat net aan ons en aan God bekend is. Agan sou sy sonde nie bely het as hy nie die hoop gekoester het dat hy moontlik die gevolge van sy misdaad sou vryspring nie. Maar sy belydenis het slegs gedien om te bewys dat sy straf regverdig was. Daar was geen ware berou oor sonde nie, geen skuldgevoel nie, geen afsku vir boosheid nie. PeP 476.1
So sal die skuldiges hulle sonde bely wanneer hulle voor die regterstoel van God staan nadat elke geval vir die lewe of vir die dood beslis is. Die gevolge wat hyself sal moet ly, sal van elkeen ‘n erkentenis van sy sonde afdwing. Dit sal deur ‘n verskriklike gevoel van veroordeling en angswekkende afwagting van oordeel uit die siel gedwing word. Maar sulke belydenisse kan die sondaar nie red nie. PeP 476.2
Vir solank hulle hul oortredings vir hulle medemens kan verberg, voel baie, soos Agan, veilig en vlei hulself dat God nie streng sal wees om hulle ongeregtigheid op te merk nie. Heeltemal te laat sal hulle sondes op daardie dag wanneer hulle vir ewig nie meer deur ‘n soenoffer gereinig kan word nie, hulle inhaal. Wanneer die boeke van die hemel oopgemaak word, sal die Regter nie die mens se oortreding met woorde aan hom verklaar nie, maar sal een deurdringende, veroordelende blik op elke daad werp en elke daad, elke transaksie van die lewe sal op die geheue van die misdadiger afgedruk word. Dit sal nie, soos in die dae van Josua, nodig wees om die persoon deur elke stam, familie en gesin op te spoor nie; sy eie lippe sal sy skande bely. Die sondes wat vir die kennis van mense verberg word, sal dan aan die hele wêreld verkondig word. PeP 476.3