Patriarge en Profete

6/75

Hoofstuk 4—Die Plan van Verlossing

DIE ganse hemel was bedroef oor die sondeval van die mens. Die wêreld wat God gemaak het, is deur die vloek van die sonde geskend en sy bewoners is tot ellende en die dood gedoem. Dit het geblyk dat daar geen uitweg was vir hulle wat die wet oortree het nie. Die engele het hulle lofliedere gestaak. Die hemelhowe het gerou oor die verwoesting wat die sonde aangerig het. PeP 35.1

Die Seun van God, roemryke Bevelvoerder van die hemel, was aangeraak met jammerte vir die gevalle ras. Sy hart is met oneindige deernis gevul toe die ellende van die verlore wêreld voor Hom opdoem. Maar die Liefde van God het reeds ‘n plan bedink waardeur die mens gered kon word. Oortreding van God se wet het die lewe van die sondaar geëis. In die ganse heelal was daar slegs Een wat namens die mens aan die eise daarvan kon voldoen. Omdat die wet van God net so heilig is soos God self, kon slegs een wat aan God gelyk is, versoening vir die oortreding doen. Niemand behalwe Christus kon die gevalle mensdom van die vloek van die wet verlos en hom weer in harmonie met die Hemel bring nie. Christus sou die skuld en die skande van die sonde op Hom neem, sonde wat vir ‘n heilige God so aanstootlik is, dat dit die Vader en Sy Seun moes skei. Christus sou tot die diepte van ellende reik om die verlore mensdom te red. PeP 35.2

Hy het die saak van die sondaar voor die Vader bepleit terwyl die hemelskare die gevolge met onuitspreeklike intensiteit en belangstelling, afgewag het. Die geheimsinnige gemeenskap-“die raad van vrede” (Sagaria 6:13) vir die gevalle mensekinders-het lank aangehou. Die verlossingsplan is lank voor die skepping van die aarde neergelê, want Christus is “...die Lam wat geslag is ... van die grondlegging van die wêreld af...” (Openbaring 13:18); nogtans was dit selfs vir die Koning van die heelal ‘n stryd om Sy Seun oor te gee om vir die skuldige mensdom te sterf. Maar “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3:16). O, hoe ondeurgrondelik is die verlossing! die liefde van God vir ‘n wêreld wat Hom nie liefgehad het nie! Wie PeP 35.3

kan die liefde, wat “die kennis oortref” peil? Tot in alle ewigheid sal onsterflike wesens die verborgenheid van daardie onbegryplike liefde in verwondering en aanbidding probeer deurgrond. PeP 36.1

God sou Hom openbaar deur “...in Christus die wêreld met Homself te versoen...” (2 Korinthiërs 5:19). Die mens is só deur sonde afgetakel, dat dit vir hom onmoontlik was om uit sy eie in harmonie met Hom, Wie se aard rein en goed is, te kom. Maar Christus, nadat Hy die mensdom van die verdoemenis van die wet verlos het, kon Die krag van God oordra om met die menslike poging te verenig. Op hierdie wyse kon die gevalle seuns van Adam, deur bekering tot God en geloof in Christus weer “kinders van God” word. (1 Johannes 3:2). PeP 36.2

Die enigste plan waardeur die mens verlossing kon verkry, het die ganse hemel by die oneindige offer betrek. Die engele kon nie juig toe Christus die verlossingsplan voor hulle ontvou nie, want hulle het besef dat die saligheid van die mens ten koste van onbeskryflike ellende vir hulle geliefde Aanvoerder sou wees. Bedroef en verwonderd het hulle na Sy woorde geluister toe Hy hulle vertel hoe Hy van die reinheid en vrede, die geluk, die heerlikheid en die onsterflikheid van die hemel moes neerdaal en in kontak moes kom met die verval van die aarde om sy droefheid, skande en dood te verduur. Hy sou tussen die sondaar en die straf van die sonde staan; tog sou min Hom as die Seun van God aanvaar. Hy sou Sy verhewe posisie as Majesteit van die hemel verlaat, Hom as mens op aarde verneder en deur eie ervaring bekend raak met die droefheid en versoekings wat die mens moes verduur. Dit was alles nodig om Hom in staat te stel om “...dié te help wat versoek word...” (Hebreërs 2:18). Nadat Hy Sy sending as Leermeester voltooi het, moes Hy in die hande van goddelose mense oorgelewer en aan elke denkbare belediging en marteling waarmee Satan hulle kon inspireer om Hom mee te teister, onderwerp word. As skuldige sondaar, opgehef tussen hemel en aarde, moes Hy die wreedste dood sterf. Hy moes lang ure van foltering verduur wat so erg was dat engele dit nie kon aanskou nie, maar hulle aangesigte vir die toneel sou verberg. Hy moes sielefoltering, die aangesig van Sy Vader vir hom verberg, verduur terwyl die PeP 36.3

skuld van oortreding, die gewig van die sondes van die hele wêreld, op Hom sou rus. PeP 37.1

Die engele het hulle voor die voete van hulle Aanvoerder neergewerp en aangebied om ‘n offer vir die mensdom te word. Maar die lewe van ‘n engel kon nie die skuld betaal nie; net Hy wat die mens geskape het, het die mag gehad om hulle te verlos. Nogtans sou die engele ‘n rol in die verlossingswerk speel. Christus moes “...vir ‘n kort tydjie minder as die engele...” gemaak word “...vanweë die lyde van die dood...” (Hebreërs 2:9). PeP 37.2

Terwyl Hy die menslike natuur op Hom sou neem, sou Sy krag nie gelykstaande aan hulle krag wees nie en dan sou hulle Hom dien en versterk en Sy lyding versag. Hulle sou ook “...dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sou beërwe...” wees. (Hebreërs 1:14). Hulle sou oor die onderdane van genade waak teen die mag van bose engele en teen die duisternis waarmee Satan hulle gedurig sou omring. PeP 37.3

Wanneer die engele die smart en die vernedering van hulle Here sou aanskou, sou hulle bedroef en verontwaardig wees en hulle sou verlang om Hom van Sy moordenaars te red; maar hulle sou nie kon tussenbeide tree om enigiets wat hulle aanskou te verhoed nie. Dit was deel van die verlossingsplan dat Christus die veragting en mishandeling van goddelose mense moes ly en Hy het daartoe ingestem toe Hy die Verlosser van die mensdom geword het. PeP 37.4

Christus het die engele verseker dat Hy, deur Sy dood, baie sou red en hom sou vernietig wat mag oor die dood het. Die koninkryk wat die mensdom deur oortreding verbeur het, sou Hy herwin en die verlostes sou dit saam met Hom erf en vir ewig daarin woon. Sonde en sondaars sou verdelg word en nooit weer die vrede in die hemel of op die aarde versteur nie. Hy het die engele versoek om in te stem met die plan wat Sy Vader aanvaar het en hulle daarin te verheug dat die gevalle mensdom deur Sy dood met God versoen kon word. PeP 37.5

Daarop is die hemel met onuitspreeklike vreugde vervul. Die heerlikheid en die geluksaligheid van ‘n verloste wêreld het selfs die smart en die opoffering van die Prins van lewe oortref. Toe PeP 37.6

is daardie loflied wat oor die heuwels van Betlehem sou klink vir die eerste keer in die hemelhowe aangehef: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!” (Lukas 2:14). Met groter blydskap as die vreugde van die nuwe skepping, het “...die moresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig...” (Job 38:7). PeP 38.1

Die eerste aanduiding van verlossing is aan die mens oorgedra in die vonnis wat in die tuin oor die Satan uitgespreek is. Die Here het gesê: “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.” (Genesis 3:15). Hierdie vonnis, wat ten aanhore van ons stamouers uitgespreek is, was vir hulle ‘n belofte. Terwyl dit ‘n stryd tussen die mens en die Satan voorspel het, het dit verklaar dat die mag van die groot teenstander uiteindelik vernietig sou word. Soos misdadigers het Adam en Eva voor die regverdige Regter die vonnis op hulle oortreding afgewag; maar voordat hulle gehoor het van die lewe van moeite en verdriet waartoe hulle gedoem was, of van die dekreet dat hulle tot stof sou terugkeer, het hulle eers na woorde geluister wat nie anders kon as om hulle met hoop te vul nie. Hoewel hulle onder die mag van hulle magtige vyand moes ly, kon hulle uitsien na die uiteindelike oorwinning. PeP 38.2

Toe die Satan verneem dat daar vyandskap tussen hom en die vrou en tussen sy saad en haar saad sou bestaan, het hy geweet dat sy werk vir die verval van die menslike natuur onderbreek sou word; dat die mens op die een of ander wyse in staat gestel sou word om sy mag te weerstaan. Nogtans het die Satan en sy handlangers hulle verheug namate die verlossingsplan vollediger ontvou is, omdat hy, deur die mens tot ‘n val te bring, ook daarin geslaag het om die Seun van God van Sy verhewe staat te laat neerdaal. Hy het beweer dat sy planne op aarde tot dusver geslaag het en dat wanneer Christus die menslike natuur sou aanneem, Hy ook moontlik oorrompel kon word en sodoende sou die verlossing van die menslike ras moontlik verhoed kon word. PeP 38.3

Hemelse engele het die plan wat vir hulle verlossing beraam is, vollediger aan ons stamouers oopgestel. Aan Adam en sy metgesel is die versekering gegee dat hulle, ondanks hul groot sonde, nie oorgegee sou word aan die beheer van Satan nie. Die Seun van God het aangebied om met Sy eie lewe PeP 38.4

versoening vir hulle sonde te doen. ‘n Proeftydperk sou aan hulle geskenk word en deur berou en geloof in Christus kon hulle weer kinders van God word. PeP 39.1

Die opoffering wat as gevolg van hulle oortreding vereis is, het die heilige aard van die wet van God aan Adam en Eva geopenbaar en hulle het, soos nooit tevore nie, die skuld en ernstige gevolge van sonde besef. In hulle berou en foltering het hulle gesmeek dat Hy, Wie se liefde die bron van al hulle vreugde was, nie gestraf moes word nie; dat dit eerder oor hulle en hulle nakomelinge moes kom. PeP 39.2

Daar is aan hulle verduidelik dat, aangesien die wet van Jehova die grondslag van Sy heerskappy in die hemel en op die aarde is, selfs die lewe van ‘n engel nie as offer vir die oortreding daarvan aanvaarbaar is nie. Nie een van die voorskrifte van die wet kon afgeskaf of verander word om die mens in sy gevalle toestand tegemoet te kom nie; maar die Seun van God wat die mens geskape het, kon vir hom versoening doen. Net soos Adam se oortreding ellende en die dood veroorsaak het, so sou Christus se offer lewe en onsterflikheid meebring. PeP 39.3

Nie alleenlik die mens nie, maar ook die aarde is deur sonde aan die mag van die bose onderwerp en sou deur die verlossingsplan herstel word. Toe Adam geskape is, is hy as heerser oor die aarde aangestel. Maar deur aan versoeking toe te gee, is hy onder die mag van Satan gebring, “...want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword.” (2 Petrus 2:19). Toe die mens ‘n gevangene van die Satan geword het, is sy heerskappy in die hande van sy oorwinnaar oorgegee. So het die Satan “...die god van hierdie wêreld...” geword (2 Korinthiërs 4:4). Hy het vir homself daardie heerskappy oor die aarde, wat oorspronklik aan Adam gegee is, toegeëien. Maar deur met Sy offer vir die sonde te boet, sou Christus nie net die mens verlos nie, maar ook die heerskappy wat verbeur is herwin. Alles wat deur die eerste Adam verlore is, sal deur die tweede Adam gerestoureer word. Die profeet sê: “En jy, Skaapstoring, Heuwel van die dogter van Sion, na jou sal dit kom, ja, die vroeëre heerskappy sal kom...” (Miga 4:8). En die apostel Paulus wys vooruit na die “...verlossing van Sy eiendom...” (Efesiërs 1:14). God het die aarde as woonplek vir heilige, gelukkige wesens geskape. Die Here het “...die aarde PeP 39.4

geformeer en dit gemaak ... Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word.” (Jesaja 45:18). Hierdie doelwit sal vervul word wanneer die aarde deur die krag van God vernuwe en van sonde en verdriet bevry, die ewige woning van die verlostes word. “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.” “En daar sal geen enkele vervloeking meer wees nie en die troon van God en van die Lam sal daarin wees en sy diensknegte sal Hom dien.” (Psalm 37:29; Openbaring 22:3). PeP 40.1

In sy onskuld het Adam openbare gemeenskap met sy Maker geniet; maar sonde het skeiding tussen God en die mens gebring en alleenlik die versoening van Christus kon die kloof oorbrug sodat die seëninge en die saligheid van die hemel na die aarde oorgedra kon word. Die mens was steeds afgesny van direkte toegang tot sy Skepper, maar God sou deur middel van Christus en die engele met hom kommunikeer. PeP 40.2

So is belangrike gebeurtenisse in die geskiedenis van die mensdom, vanaf die tyd toe die Goddelike vonnis in Eden uitgespreek is, tot die tyd van die sondvloed en daarna en tot die eerste koms van die Seun van God, aan Adam geopenbaar. Daar is aan hom getoon dat hoewel die offer van Christus voldoende sou wees om die hele wêreld te red, baie ‘n lewe van sonde, eerder as berou en gehoorsaamheid sou verkies. PeP 40.3

Misdaad sou deur daaropvolgende geslagte toeneem en die vloek van die sonde sou swaarder en swaarder op die mens, die diere en die aarde weeg. Die mens se lewensduur sou deur sy eie sondige lewenswyse verkort word; hy sal in fisiese gestalte, uithouvermoë en sedelike en verstandelike vermoëns agteruitgaan totdat die wêreld vol van elke soort ellende sou wees. Omdat mense aan hulle luste en drange toegee, sal hulle nie in staat wees om die groot waarhede van die verlossingsplan in te sien nie. Tog sou Christus, getrou aan die doel waarvoor Hy die hemel verlaat het, steeds Sy belangstelling in die mens voortsit en hulle nooi om hul swakhede en tekortkominge in Hom te verberg. Hy sal in die behoeftes van elkeen wat in geloof na Hom toe kom, voorsien. En daar sal altyd ‘n paar oorbly wat die kennis van God bewaar en te midde van die heersende ongeregtigheid ongeskonde bly. PeP 40.4

Die offerstelsel is deur God ingestel om vir die mens ‘n voortdurende herinnering en berouvolle erkenning van sy sonde te wees en om as belydenis van sy geloof in die beloofde Verlosser te dien. Dit was bedoel om die sondige geslag duidelik onder die indruk te bring dat dit sonde was wat die dood veroorsaak het. Vir Adam was dit ‘n uiters pynlike plegtigheid om die eerste dier te offer. Sy hand moes die lewe neem wat net God kon gee. Dit was die eerste keer dat hy ooit die dood aanskou het en hy het geweet dat indien hy aan God gehoorsaam was, geen mens of dier ooit sou gesterf het nie. Toe hy die onskuldige offerdier slag, het hy gesidder aan die gedagte dat die bloed van die vlekkelose Lam van God weens sy sonde gestort moes word. Hierdie toneel het hom ‘n dieper en meer duidelike indruk van die grootheid van sy oortreding gegee, wat deur niks anders as die dood van die beminde Seun van God versoen kon word nie. Hy was verwonderd oor die oneindige goedertierenheid wat so ‘n losprys sou betaal om die skuldige te red. ‘n Ster van hoop het die duistere en skrikwekkende toekoms verlig en dit verlos van die algehele wanhoop daarvan. PeP 41.1

Maar die plan van verlossing het ‘n nog breër en dieper doel as die redding van die mens ingehou. Dit was nie hiervoor alleenlik wat Christus na die aarde toe gekom het nie; dit was ook nie slegs sodat die inwoners van hierdie nietige wêreld sou ag slaan op die wet soos hulle veronderstel was nie; dit was om die karakter van God voor die heelal te regverdig. Dit was na die gevolge van Sy groot opoffering-die invloed daarvan op intelligente wesens van ander wêrelde, sowel as op die mens-wat die Verlosser vooruitgesien het toe Hy, pas voor Sy kruisiging, gesê het: “Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word. En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.” (Johannes 12:31,32). Christus se sterwensdaad vir die verlossing van die mens, sou nie alleenlik die hemel vir die mens bereikbaar maak nie, maar dit sou die wyse waarop God en Sy Seun die opstand van die Satan hanteer het, ten aanskoue van die ganse heelal, regverdig. Dit sou die onverganklikheid van die wet van God bevestig en die aard en die gevolge van die sonde blootlê. PeP 41.2

Die groot stryd het van die begin af oor die wet van God gegaan. Satan het daarna gestrewe om te bewys dat God onregverdig is, dat Sy wet gebrekkig is en dat die welsyn van die heelal vereis dat dit verander moet word. Deur die wet aan te val het hy daarna gestrewe om die gesag van die Outeur daarvan omver te werp. Die stryd sou toon of die insettinge van God gebrekkig en onderworpe aan verandering is, of volmaak en onveranderlik. PeP 42.1

Toe die Satan uit die hemel gewerp is, het hy hom voorgeneem om sy koninkryk op die aarde te vestig. Toe hy Adam en Eva verlei en oorwin het, het hy gedink dat hy ook besit van hierdie wêreld verkry het; “...want...” het hy gesê, “...hulle het my as hulle leier verkies.” Hy het aanspraak daarop gemaak dat dit onmoontlik was om vergifnis aan sondaars te skenk en daarom was die gevalle ras sy regmatige onderdane en het die wêreld aan hom behoort. Maar God het Sy dierbare Seun, Een gelykstaande aan Hom, gegee om die straf vir die sonde te dra en sodoende het Hy die weg voorsien waardeur hulle in Sy guns herstel kon word en terug na hulle Eden woning gebring kon word. Christus het onderneem om die mens te verlos en om die wêreld uit die greep van Satan te red. Die groot stryd wat in die hemel begin het, sou in dieselfde wêreld, op dieselfde slagveld wat die Satan vir homself toegeëien het, besleg word. PeP 42.2

Dit was die wonder van die ganse heelal dat Christus Hom sou verneder om die gevalle mens te red. Dat Hy, wat van ster tot ster en van wêreld tot wêreld beweeg en toesig oor alles gehou het en deur Sy voorsienigheid in die behoeftes van elke bestaande wese in Sy uitgestrekte skepping voorsien het; dat Hy bereid sou wees om Sy heerlikheid te verlaat en die menslike natuur aan te neem, was ‘n verborgenheid wat die sondelose wesens van ander wêrelde begeer het om te verstaan. Toe Christus as mens na ons wêreld gekom het, het almal Hom met die grootste belangstelling stap vir stap op die bloedbevlekte weg vanaf die krip na Golgota gevolg. Die hemelinge het kennis geneem van die hoon en bespotting wat Hy moes verduur en hulle het geweet dat Satan dit alles aangehits het. Hulle het ook kennis geneem van die teenmiddels wat aangewend is; hoe Satan die mens voortdurend deur duisternis, verdriet en lyding verdruk het en hoe Christus dit teengewerk het. Hulle het aanskou hoe die stryd tussen lig en duisternis al feller word. En PeP 42.3

toe Christus in Sy doodsangs aan die kruis uitroep: “Dit is volbring!” (Johannes 19:30), het daar in elke wêreld en in die hemel self ‘n oorwinningskreet opgegaan. Die groot stryd wat vir so lank in die wêreld voortgewoed het, was uiteindelik beslis en Christus was die oorwinnaar. Sy dood was die antwoord op die vraag of die Vader en die Seun die mensdom lief genoeg gehad het om selfverloëning en ‘n gees van opoffering uit te oefen. Satan het sy ware karakter as leuenaar en moordenaar geopenbaar. Dit was nou duidelik dat dieselfde gees waarmee hy die oor die mensekinders wat onder sy mag was regeer het, hy ook oor die hemelinge, indien hy toegelaat was, sou manifesteer. Met een stem het die getroue heelal verenig en die Goddelike bewind toegejuig. PeP 43.1

indien die wet verander kon word, sou die mens moontlik sonder die offer van Christus verlos kon gewees het, maar die feit dat dit nodig was vir Christus om Sy lewe te skenk vir die gevalle mensdom, bewys dat die wet van God nie die sondaar van die eise daarvan op hom sal vrystel nie. Dit demonstreer dat die loon van die sonde die dood is. Toe Christus gesterf het, was die vernietiging van Satan ‘n uitgemaakte saak. Maar indien die wet, soos baie beweer, by die kruis afgeskaf is, sou die lyding en dood van die dierbare Seun van God presies aan Satan dít gegee het waarvoor hy gevra het; dan het die prins van boosheid geseëvier en was sy aantygings teen die regering van God onderskraag. Juis die feit dat Christus die boete vir die mens se gedra het, is ‘n magtige betoog teenoor alle geskape wesens dat die wet onveranderlik is, dat God regverdig, genadig en onbaatsugtig is en dat oneindige regverdigheid en genade verenig word in die administrasie van Sy regering. PeP 43.2