Patriarge en Profete
Hoofstuk 44—Deur die Jordaan
(Hierdie hoofstuk berus op Joshua 1 tot 5:12) PeP 460.1
Die Israeliete was diep bedroef oor die heengaan van hulle leier en het dertig dae lank spesiale dienste ter ere van sy nagedagtenis gehou. Nog nooit vantevore, totdat hy van hulle weggeneem was, het hulle die waarde van sy wyse raad, sy vaderlike teerheid en sy onwankelbare geloof ten volle besef nie. Met nuwe en dieper waardering het hulle die kosbare lesse wat hy hulle, terwyl hy nog met hulle was, geleer het, onthou. PeP 460.2
Moses was dood, maar sy invloed het nie saam met hom gesterf nie. Dit sou voortleef en in die harte van sy volk voortgeplant word. Vir lank sou die herinnering aan daardie heilige, onselfsugtige lewe, wat met stille, oortuigende krag die lewens van selfs diegene wat sy lewende woorde geminag het gevorm het, gekoester word. Soos die strale van die ondergaande son die bergpieke, lank nadat die son agter die heuwels gesak het verlig, so werp die dade van die opregtes, die heiliges en die goeies lig op die wêreld, lank nadat die daders self van die toneel verdwyn het. Hulle werke, hulle woorde, hulle voorbeeld, sal vir ewig voortleef. “Die regverdige sal in ewige gedagtenis wees.” (Psalm 112:6). PeP 460.3
Hoewel hulle diep bedroef oor hulle verlies was, het die volk geweet dat hulle nie alleen gelaat is nie. Die wolkkolom het bedags op die tabernakel gerus en snags was die vuurkolom daar as versekering dat, indien hulle die weg van Sy gebooie bewandel, God steeds hulle Leidsman en Helper sou wees. PeP 460.4
Josua was nou die erkende leier van Israel. Voorheen was hy hoofsaaklik geken as ‘n krygsman en sy gawes en deugde was veral op hierdie stadium van die geskiedenis van sy volk, waardevol. Dapper, vasberade en volhardend, stiptelik, onomkoopbaar en onbaatsugtig in sy sorg vir hulle wat onder sy toesig geplaas is en bo alles, besiel deur ‘n lewende geloof in God-was die karakter van die man wat deur God gekies is om die leërmagte van Israel, met hulle inname van die beloofde land aan te voer. Tydens hulle verblyf in die woestyn het hy as eerste minister vir Moses opgetree en sy stille, beskeie getrouheid, sy vasberadenheid wanneer ander geweifel het, sy PeP 460.5
standvastigheid om die waarheid te midde van gevare te handhaaf, het getuig van sy geskiktheid om Moses op te volg, selfs voordat die stem van God hom daartoe geroep het. PeP 461.1
Dit was met groot angstigheid en min selfvertroue, dat Josua vooruitgesien het na die werk wat vir hom voorgelê het; maar sy vrese is deur die versekering van God gestil: “Soos Ek met Moses gewees het, sal Ek met jou wees; Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie ly sal hierdie volk die land laat erwe wat Ek hulle vaders met ‘n eed beloof het om aan hulle te gee.” “Elke plek waar julle voetsool op sal trap, dit gee Ek aan julle, soos Ek met Moses gespreek het.” Tot op die hoogtes van Libanon in die verte, tot by die strand van die Groot See en ver weg, tot op die oewers van die Eufraat in die ooste-die hele gebied sou aan hulle behoort. PeP 461.2
'n Opdrag is by die belofte gevoeg: “Wees net baie sterk en vol moed, om nougeset te handel volgens die hele wet wat Moses, my kneg, jou beveel het.” Die opdrag van die Here was: “Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag,” “...wyk daarvan nie regs of links af nie, want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees en dan sal jy met goeie gevolg handel.” PeP 461.3
Die Israeliete het nog aan die oostekant van die Jordaan, wat die eerste struikelblok in die besetting van Kanaan was, gekampeer. Die eerste boodskap wat God aan Josua gegee het, was: “Maak jou dan nou klaar, trek deur hierdie Jordaan, jy en hierdie hele volk, na die land wat Ek aan hulle sal gee.” Daar was geen opdrag oor hoe hulle deur die Jordaan moes trek nie. Josua het egter geweet dat wat God ook al gebied, Hy ‘n weg vir Sy volk sou berei om dit deur te voer en met hierdie geloof het die onverskrokke leier onmiddellik sy reëlings vir die aantog begin tref. PeP 461.4
“n Paar kilometers oorkant die rivier, reg teenoor die plek waar die Israeliete gekampeer het, was die groot en sterk verskanste stad, Jerigo. Daardie stad was feitlik die sleutel tot die hele land en dit sou ‘n gedugte struikelblok vir die sukses van Israel wees. Daarom het Josua twee jongmanne as spioene na die stad gestuur om iets van sy bevolking, sy bronne en die sterkte van sy vestings vas te stel. Die inwoners van die stad, vreesbevange en agterdogtig, was voortdurend waaksaam en PeP 461.5
die boodskappers het in groot gevaar verkeer. Hulle is egter deur Ragab, ‘n vrou van Jerigo, met gevaar vir haar eie lewe, beskerm. Om haar vir haar weldaad te beloon, het hulle beloof om haar te beskerm wanneer die stad ingeneem sou word. PeP 462.1
Die verkenners het veilig teruggekeer met die tyding: “Sekerlik gee die Here die hele land in ons hand, ja, al die inwoners van die land bewe selfs vir ons.” In Jerigo is aan hulle gesê: “Ons het gehoor dat die Here die water van die Skelfsee voor julle by jul uittog uit Egipte laat opdroog het en wat julle die twee konings van die Amoriete, Sihon en Og, oorkant die Jordaan aangedoen het, dat julle hulle met die banvloek getref het. Toe ons dit hoor, het ons hart gesmelt, sodat daar by niemand enige moed meer oorgebly het teenoor julle nie; want die Here julle God, Hy is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder.” PeP 462.2
Bevele is nou uitgereik om gereed te maak vir ‘n opmars. Die volk moes voedsel vir drie dae voorberei en die leër moes slaggereed gemaak word. Almal het met die planne van hul leier ingestem en het hom van hulle vertroue en ondersteuning verseker: “Alles wat u ons beveel het, sal ons doen en oral waarheen u ons stuur, sal ons gaan. Net soos ons na Moses geluister het, so sal ons na u luister; mag die Here u God net met u wees soos Hy met Moses gewees het.” PeP 462.3
Die menigte het hul kampplek by die akasia-bosse van Sittim agtergelaat en na die oewer van die Jordaan afgedaal. Almal het egter geweet dat sonder Goddelike hulp, hulle nooit deur die rivier sou kom nie. Hierdie tyd van die jaar, naamlik die lenteseisoen, het die sneeu in die berge gesmelt en die vlak van die Jordaan tot so mate laat styg, dat die water oor sy walle gestroom het, sodat dit onmoontlik was om by die gewone driwwe deur te kom. God het bewillig dat die deurgang van Israel deur die Jordaan, deur middel van ‘n wonderwerk sou geskied. Joshua het op Die bevel van God die volk aangesê om hulleself te heilig; hulle moes hulle sondes aflê en hulleself reinig van alle uiterlike onreinheid “...want...” het hy gesê, “...more sal die Here wonders onder julle doen.” Die “verbondsark” moes voor die volk uitgaan. Wanneer hulle die teken van Jehova se Teenwoordigheid, wat deur die priesters gedra was sien wegbeweeg vanaf die plek daarvan in die middel van die kamp PeP 462.4
en na die rivier beweeg, moes hulle van hulle plekke af wegtrek en “...agter hom aan trek.” Die omstandighede van die deurtog is vooruit haarfyn beskryf en Josua het gesê: “Hieraan sal julle erken dat daar ‘n lewende God tussen julle is en dat Hy sekerlik die Kanaaniete voor julle uit sal verdrywe: Kyk, die verbondsark van die Here van die hele aarde trek voor julle uit die Jordaan in.” PeP 463.1
Op die bepaalde tyd het die trek begin, met die ark, op die skouers van die priesters, wat aan die voorpunt lei. Die volk is aangesê om terug te val sodat daar ‘n oop ruimte van byna ‘n kilometer rondom die ark was. Almal het met groot belang-stelling toegekyk terwyl die priesters met die verbondsark die Jordaan nader. Hulle het gesien hoe hulle met die heilige ark die verwoede, bruisende stroom geleidelik nader, totdat die draers se voete in die water gedoop is. Toe, skielik, is die gety teruggestoot, terwyl die stroom ondertoe weggevloei het en die bedding van die rivier drooggelê is. PeP 463.2
Op die Bevel van God het die priesters tot in die middel van die rivier beweeg en daar gaan staan terwyl die hele menigte af beweeg en na die anderkant deurgetrek het. So is daar op die verstand van Israel ingeprent, dat die Mag wat die water van die Jordaan gekeer het, dieselfde Mag was wat die water van die Rooi See geskei het sodat hulle vaders kon deurgaan. Nadat die hele volk deurgetrek het, is die ark self na die westelike oewer deurgedra. Nouliks was dit op ‘n veilige plek en “...het die priesters hulle voetsole gelig en die droë grond bereik...” of die water wat teruggehou is, het afgestorm in ‘n onkeerbare vloed, in die natuurlike kanaal van die stroom. PeP 463.3
Toekomstige geslagte moes egter nie sonder ‘n getuienis van hierdie groot wonderwerk wees nie. Terwyl die priesters met die ark nog in die middel van die Jordaan gestaan het, het twaalf manne, wat reeds vantevore “...een uit elke stam...” gekies is, elk ‘n klip uit die rivierbedding waar die priesters gestaan het, geneem en dit na die wes-oewer gedra. Hierdie klippe sou in die eerste kamp oorkant die rivier, as ‘n monument opgerig word. Die volk is beveel om die verhaal van die verlossing wat God vir hulle bewerk het aan hulle kinders en kindskinders oor te vertel, soos Josua gesê het: “Dat al die volke van die aarde kan weet PeP 463.4
dat die hand van die Here sterk is, sodat julle die Here julle God altyd mag vrees.'‘ PeP 464.1
Die invloed van hierdie wonderwerk op sowel die Hebreërs as op hulle vyande, was van uiterste belang. Dit was vir Israel ‘n versekering van die voortgesette teenwoordigheid en beskerming van God-'n bewys dat Hy deur Josua vir hulle sou werk net soos Hy deur Moses gewerk het. Hierdie versekering was nodig om hulle harte te versterk wanneer hulle die land in besit sou neem-die geweldige taak wat die geloof van hulle voorvaders veertig jaar vantevore laat wankel het. Voor die deurtog het die Here aan Josua verklaar: “Vandag sal Ek begin om jou groot te maak voor die oë van die hele Israel, sodat hulle kan weet dat Ek met jou sal wees soos Ek met Moses gewees het.” En die uitslag was ‘n vervulling van hierdie belofte: “Dié dag het die Here Josua groot gemaak voor die oë van die hele Israel, sodat hulle hom gevrees het soos hulle Moses gevrees het al die dae van sy lewe. ” PeP 464.2
Hierdie uitoefening van Goddelike Mag namens Israel, was beplan om ook die vrees waarmee hulle deur die omliggende nasies beskou is te verhoog en sodoende die weg vir ‘n makliker en algehele oorwinning vir hulle voor te berei. Toe die konings van die Amoriete en die Kanaaniete die tyding dat God die water van die Jordaan voor die kinders van Israel teruggehou het hoor, het hulle harte met vrees gesmelt. Die Hebreërs het reeds die vyf konings van Midian, die magtige Sihon van die Amoriete en Og van Basan gedood en nou het hulle deurtog deur die vol en onstuimige Jordaan die omliggende nasies met vrees gevul. Aan die Kanaaniete, aan die hele Israel en aan Josua self, is daar onmiskenbare bewys gelewer dat die lewende God, die Koning van hemel en aarde, met Sy volk was en dat Hy hulle nooit sou begeef of verlaat nie. PeP 464.3
Die Hebreërs het hulle eerste kamp in Kanaan ‘n kort afstand van die Jordaan opgeslaan. Daar het Josua “...die kinders van Israel besny...” en “...terwyl die kinders van Israel by Gilgal gelaer was, het hulle die Pasga gehou.” Die opheffing van die besnydenis sedert die opstand by Kades, wat ‘n simbool van hulle verbond met God was, was vir Israel ‘n voortdurende getuienis dat hulle verbond met God verbreek was. En die opheffing van die Pasga, die gedenkteken van hulle verlossing PeP 464.4
uit Egipte, was ‘n bewys van die Here se misnoeë oor hulle begeerte om na die land van hulle slawerny terug te keer. Maar nou was die jare van daardie verwerping egter verby. God het weer eens Israel as Sy volk erken en die teken van die verbond is herstel. Die besnyding is op al die mense wat in die woestyn gebore is toegepas. En die Here het aan Josua gesê: “Vandag het Ek die smaad van Egipte van julle afgewentel” en met verwysing daarna, is die plek van hulle laer “Gilgal” (Afwenteling), genoem. PeP 465.1
Heidense volke het die Here en Sy volk gelaster omdat die Israeliete misluk het om Kanaan spoedig na hulle vertrek uit Egipte, in te neem soos hulle verwag het. Hulle vyande het geseëvier omdat Israel so lank in die woestyn rondgedwaal het en hulle het spottend verklaar dat die God van die Hebreërs nie in staat was om hulle in die Beloofde Land in te bring nie. Maar nou het die Here Sy krag en Sy guns duidelik gemanifesteer deur die Jordaan voor Sy volk te open en hulle vyande kon hulle nie langer beskuldig nie. PeP 465.2
“Op die veertiende dag van die maand in die aand... ” is die Pasga op die vlaktes van Jerigo gevier. “En hulle het die dag na die Pasga van die opbrings van die land geëet: ongesuurde brood en gebraaide koring, daardie selfde dag. En die dag nadat hulle van die opbrings van die land geëet het, het die manna opgehou, sodat die kinders van Israel verder geen manna gehad het nie; maar hulle het geëet van die opbrings van die land Kanaan in daardie jaar.” Die lang jare van hulle omswerwinge in die woestyn was verby. Israel het uiteindelik die Beloofde Land betree. PeP 465.3